Die enigste troos

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-03-26
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 1
Preek Inhoud: 

Sondag 1
Ds C Kleyn - Sondag 26 Maart
2000

Lees: Romeine 8:18-39; Sondag
1.
Sing: Ps 31:1,2; Ps 31:15-17; Ps
63:2,3,4; Ps 73:10-12; Ps 28:6-8 (na kollekte).

Tema: Die enigste troos.

  1. Wat is die enigste troos?
  2. Is die troos ook vir my?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanaand begin ons weer met die behandeling van
die Heidelbergse Kategismus. Soos ons dit reeds so dikwels gedoen
het. Is dit wel reg om die Kategismus as teks vir die preek te
neem? Moet ons nie God se Woord verkondig? As ons uit die
Kategismus preek dan bly dit bediening van die woord van God.
Hoekom? Omdat die Kategismus die inhoud van die Skrif vir ons
mooi weergee en saamvat. Let maar op die verwysings na die Skrif.
Aan die hand van die Kategismus kan ons nou op ’n
sistematiese wyse die gehele leer van die Skrif binne ongeveer
’n jaar behandel.

In die Heidelbergse Kategismus het ons te doen
met ’n ryp vrug van die Reformasie. Die komposisie rond die
drie temas: ellende, verlossing en dankbaarheid is uniek. En die
inset is geweldig. Ons kom onmiddellik agter dat die Kategismus
geen dor geskrif is nie. Die eerste vraag gee die toon aan. Dit
is werklik ’n troosboek.

Vanaand wil ons dan kyk na die inset van die
Kategismus.

Ek verkondig aan u die enigste troos.

  1. Wat is die enigste troos?
  2. Is die troos ook vir my?

Die Kategismus gaan daarvan uit dat elke mens
troos nodig het. Ons reserveer die woord troos gewoonlik vir
moeilike omstandighede. As ek baie seerkry dan moet ek getroos
word. Tog blyk die troos nodig te wees onder alle omstandighede,
in lewe en in sterwe, by gesondheid en siekte, by rykdom en
armoede. Is dit nie vreemd nie? As alles met my goed gaan, dan
hoef ek tog nie getroos te word nie?

Die Heilige Gees open ons oë om die volle
werklikheid te sien. Met al my rykdom en voorspoed bly my lewe
hier op aarde ’n voortdurend sterwe. Of nie soms? As ek goed
oplet dan sien ek niks anders as ’n stryd om te lewe nie. As
ek mooi luister dan hoor ek ’n voortdurend gesug. Die hele
skepping sug, sê Paulus vir ons. Diere en plante, die hele
skepping. Ons lees en hoor daarvan in die nuus: aardbewings,
vloede, droogtes, besoedeling, siektes, wanbestuur, ekonomiese
krisisse, die ineenstorting van magte en van bedrywe ens. Die
skepping is aan die nietigheid onderworpe. ’n Slaaf van
verganklikheid. Dis voortdurend ’n kwessie van opgaan, blink
en versink. Alles word deur die dood beheers. Nie gewillig nie,
maar God het dit aan die nietigheid onderwerp. Waarom tog? Vanweë
die mens. Vanweë ons sondes. Soos God na die sondeval gesê het:
"vervloek is die aarde om jou ontwil; Ook sal dit vir jou
dorings en distels voortbring" (Gen 3:17,18). Die mens het
die skepping in die verderf gestort. En nie slegs die skepping
nie, maar ook homself. "In die sweet van jou aangesig sal jy
brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy
geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer" (Gen
3:19).

Die mensheid sug en skree om lewe, om die
herstel van alle dinge. Selfs die kinders van God. Ons wat glo is
reeds kinders van God en ons verwag ’n pragtige erfenis.
Maar wat sien ons daarvan? Ons ervaar nog lyding en dood,
gebrokenheid en verganklikheid. Ons sien die sonde in ons lewe en
die verskriklike gevolge van die sonde. Daarom verlang ons na die
volheid van heil, die volle openbaring van die kinders van God,
ons verheerliking na liggaam en siel. Wanneer alle gebrokenheid
en lyding verby sal wees. Ons roep dus om die totale verlossing
van die sonde en sy gevolge.

Wat is jou enigste troos? In die gevalle wêreld
is daar maar een ware troos. Baie mense het geprobeer om iets
anders te bedink en te vind. Maar tevergeefs. Daar is geen ander
nie. Hou jouself dus nie vir die gek deur te suggereer dat jy
hierdie troos het soos ander hul troos het nie. Jy kan hierdie
troos nie gelykstel met ander troos nie. Buite die troos is daar
geen werklike houvas en sekerheid te vind nie. Mense dink dat
hulle elders vastheid kan vind bv in hul krag, rykdom, verstand,
in hul leiers of vriende, maar een woord van die Here en hul
houvas verdwyn soos sneeu vir die son. Alles blyk ydelheid te
wees.

Die kinders van God mag die enigste troos en
houvas besit. Daarom verwag hulle die volkome verlossing van die
sonde en sy gevolge. Ons sugtinge is nie ydel nie. Dis soos die
barensweë. Ons lewe in verwagting. In die hoop is ons gered, nie
slegs in die toekoms nie, maar ook hier en nou.

Wat is dan die enigste troos? Dat ek met
liggaam en siel aan my getroue verlosser, Jesus Christus, behoort.
My liggaam is onderworpe aan die verganklikheid. My liggaam moet
in hierdie lewe soms baie ly. Dit veroorsaak groot onsekerheid en
onrus. Maar nou mag ek rus vind in die wetenskap: die liggaam van
my is die eiendom van Christus.

My siel word voortdurend deur satan aangeval.
Tot die laaste asem trek hy aan my, probeer hy om my uit God se
hande te ruk. Maar in die aanhoudende stryd mag ek weet: my siel
behoort aan Christus, my Verlosser. Met liggaam en siel het
Christus my tot sy eiendom gemaak. Hy neem my heeltemal vir sy
rekening. Hy het die volle prys reeds betaal: sy eie bloed. God
kan my nie meer afwys nie. Christus het reeds die oorsaak van my
ewige honger en kommer, naamlik die sonde, weggeneem. En Hy het
my bevry uit al die heerskappy van die duiwel. Hoe aggressief en
aktief satan ook mag wees, hy het nie die seggenskap oor my lewe
nie. Christus het die laaste woord.

Nou weet ek ook dat Christus my sal bewaar. Kan
u voorstel dat hy die besit waarvoor hy so ’n prys betaal
het sou laat vaar? Dit kan tog nie? My lewe het vir Hom dierbaar
geword. Hy laat sy kosbaar besit nie uit sy hande ruk nie. "Hy
bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse
Vader, geen haar van my kop kan val nie." Selfs die klein
haartjie op my kop staat onder Vader se beskikking. Dis hoe ver
God in sy sorg gaan. My hele lewe is veilig in sy hande. "Hy
wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal
oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles
genadiglik skenk nie (Rom 8:32). Ons bewaring en versorging is
gewaarborg. As God aan ons die hoogste, sy geliefde Seun, gegee
het, dan sal Hy ons die mindere - alles wat ons nodig het - seker
nie onthou nie.

Maar hoe staan dit dan met die verdriet en
lyding wat nog in my lewe aanwesig is? Waar is dan God se sorg?
Met Paulus kan ons se: ons weet dat vir hulle wat God liefhet, Hy
alles ten goede laat meewerk (Rom 8:28). Daar het u God se sorg.
Hy laat alles ten goede meewerk. Hy verloor nooit die sig op sy
doel, die verheerliking van sy kinders. Hy lei alles na die doel
toe, of dit nou siekte, vervolging of dood is.

Dis dikwels moeilik om te verstaan. Hoe kan God
langs so ’n dal van doodskaduwee my heil bewerk? En satan
doen sy bes om my te laat twyfel en om die dal tot ’n dal
van die dood te maak, sonder God en sonder hoop. Soms kan ek
inderdaad die gevoel kry dat ek alleen staan sonder God. Maar God
bly my verseker dat Hy vir hulle wat Hom liefhet, alle dinge
– ook siekte, lyding en dood - ten goede laat meewerk. Ook
al gaan ek deur ’n angswekkende diepte deur Hy is werklik
daar om te sorg dat dit tot my heil meewerk.

Gemeente, Die enigste troos geld vir lewe en
sterwe. Met liggaam en siel behoort ek aan Jesus Christus, nou en
vir ewig. Wie sal ons skei van die liefde van Christus –
verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of
gevaar of swaard? Niks nie. Inteendeel! In al hierdie dinge is
ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Ons is
nie slegs aan die wenkant nie. Nee, ons is meer as oorwinnaars.
Ons oorwinning is glorieus en onbetwis. Ons sal nie beswyk nie.
Hoe moeilik die situasie ook mag wees. Ons sal daaruit te
voorskyn kom as oorwinnaars.

Is dit nie te gewaag, so ’n uitspraak nie?
Nee, want ons het goeie Vrydag gehad, Pase en Pinksterdag. Ons
het die liefde van God in Jesus Christus gesien. Sy vergewende
liefde. Sy reddende liefde. En sy onoorwinlike krag. Ek weet dat
Hy aan my kant is. Ook wanneer die lyding van die teenwoordige
tyd my herinner aan my sondes. Ook wanneer my gewete my aankla.
As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Wie kan ons dan
oormeester? Niemand tog. Ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat
ons liefgehad het. "Want ek is versekerd dat geen dood of
lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende
dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei
van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is
nie."

Niks sal ons kan skei van die liefde van God in
Christus Jesus nie. Selfs nie die dood nie. Of die aftakeling van
ons lewe of kragte. Selfs dit moet vir my ten goede meewerk.
Christus het my met liggaam en siel gekoop. Ek is en bly sy
onvervreembaar besit. Liggaam en siel sal beide verheerlik word.
Hoe verskriklik is die aftakeling en dood sonder Hom. Dan is daar
die ewige dood, die hel. Maar die liefde van Christus verander
die kwaad in goed vir hulle wat Hom liefhê. Die dood is dan
’n bevryding van sonde en ’n deurgang tot die ewig lewe.
Tydens sy omwandeling op aarde het die Here Jesus gesê: Ek is
die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook
gesterwe; en elkeen wat lewe en in my glo, sal nooit sterwe tot
in ewigheid nie (Johannes 11:25,26).

Is dit nie geweldig om sy eiendom te wees nie?

Maar geld dit ook vir my persoonlik? Is dit hoe
ek dit belewe? Daar wil ons na kyk in die tweede punt: is die
troos ook vir my?

Dis opvallend hoe persoonlik die Kategismus
spreek. Daar word nie gevra na die enigste troos nie, maar na jou
enigste troos. En die antwoord is heel direk in die eerste
persoon geformuleer: Dat ek nie aan myself nie, maar aan my
getroue Verlosser behoort ens. Niemand kan ’n antwoord
ontwyk nie. Elkeen word persoonlik aangespreek en persoonlik
opgeroep om ’n antwoord te gee.

U moet almal nou reeds ’n antwoord gee op
die vraag: wat is jou enigste troos? Daar is geen ruimte vir
uitstel nie. God wil hê dat ons vandag reeds klaar kom met die
vraag. Die enigste troos geld tog ook vir die lewe? Dit is nie
iets wat slegs later by die sterwe eers nodig sal wees nie. U het
dit nou net so hard nodig. En as ons tydens ons lewe nie aan die
troos toekom nie, wie sê dat ons daar wel aan toekom by die
sterwe? Miskien dat God ons dan heeltemal geen geleentheid gee om
daaroor na te dink nie. Nou is die tyd van genade, die tyd om die
troos aan te gryp.

Hoe kan ek weet dat dit vir my is? Nie deur te
fokus op myself, op my hart en ervarings nie. Miskien dat my hart
en gedagtes verward is, onrustig. Miskien dat dit my veroordeel.
Miskien dat my ervarings nie ooreenstem met wat ek van ’n
gelowige verwag nie. Om na myself te kyk kan my ontmoedig en my
moontlik laat wanhoop. Ondanks al God se sorg is ek nog sondig en
vuil van binne. Waardig om God se oordeel te ontvang. Die enigste
troos lyk meer vir ander as vir myself.

Hoe weet ek dan dat dit vir my is? Ek moet nie
fokus op myself nie, maar op Jesus Christus. Die troos lê nie in
wat ek is of in wat ek gedoen het nie. Ek kan slegs troos vind in
wat Christus vir my gedoen het. Let maar op die pragtige antwoord
van die Kategismus. My enigste troos is dat ek aan my getroue
Verlosser, Jesus Christus, behoort. Dis nie gegrond op my trou
nie. Gelukkig nie! Dit is gegrond op die trou van my Verlosser,
Jesus Christus. En hoe het ek sy besit geword? "Hy het met
sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle
heerskappy van die duiwel verlos." Hy het dit gedoen. Hy het
ten volle betaal, terwyl ek nie kon betaal nie. Hy het my verlos
terwyl ek besig was om myself meer en meer te verstrik in die
sonde. Daarmee begin dit. Dit is die nuwe dryfveer in my lewe. Ek
begin nie by myself nie. Dit lei slegs tot hoogmoed of
onsekerheid en uiteindelik tot die dood. Ek begin by Jesus
Christus. Dan kry ek weer vaste grond onder my voete. Dit is hoe
Rom 8 daaroor spreek. Die sekerheid van die geloof word gevind in
God se onbegryplike liefde. Hy het selfs sy eie Seun nie gespaar
nie, maar Hom vir ons almal oorgegee. Niks kan ons skei van die
liefde van God in Christus nie.

Hoe weet ek dan dit vir my is? Deur God op sy
woord te glo. Deur God se beloftes te glo. Deur alles vir waar te
aanvaar wat God in die Woord geopenbaar het. Wat het Hy dan aan
ons bekend gemaak? Ons het dit al genoem: God se onbegryplike
liefde vir sondaars. Vergewing van die sondes en die ewige lewe
in Jesus Christus. Ek kan daarvan seker wees op grond van God se
eie Woord. Vertrou uself toe aan die woord, ook al kan u dit nie
heeltemal verstaan nie. Glo!

Gemeente, dat dit die manier is om die
sekerheid te verkry word duidelik uitgebeeld by die kinderdoop
soos dit vanoggend plaasgevind het. Wanneer ’n kind gedoop
word dan is daar absoluut geen sprake van dat die kind eers self
iets moes doen of ervaar nie. Nee, God is die eerste wat optree.
Hy kom met sy beloftes. Hy verklaar sy liefde. Sonder dat Hy eers
iets vra. Die enigste wat Hy vra is ’n antwoord van geloof.
Dat die verbondskind sy liefde aanvaar. Dat die kind later sal sê:
ja, Here ek wil u kind wees, ek wil dat u my sondes vergewe, ek
wil dat u my lewe vernuwe. Hoe groot is u liefde!

Dit beteken nie dat ek altyd ewe sterk sal
staan in my vertroue nie, onwankelbaar. Daar kan twyfels wees,
aanvegtings. Dit kan soms selfs so moeilik word dat ek daardeur
verwar raak en dat ek in my verwarring dan nie meer reg weet wat
ek moet bid nie. My kontak met God kom in die krisis. ’n
Benoude situasie. Ek voel myself verlore. Maar dan is daar nog
die Gees van God. Hy kom tot my hulp. Hy neem oor waar ek faal.
Hy waarborg die kontak met God. Sodat ek nie verlore of alleen is
nie. Sodat ek deur die diepte kan kom.

Hy bid nie slegs vir my. Hy leer my ook om weer
te bid. Deur die Woord wat tot my gespreek of gepredik word. Ook
deur die sakramente. Hy leer my om al my aandag te rig op die een
offer van Christus aan die kruis. Daar lê my sekerheid, nou en
vir ewig.

Deur die middele van genade, woord en sakrament,
sien ek steeds skerper hoe groot my sonde en ellende is. Nie om
my neer te druk nie. Maar om my des te duideliker te laat sien
hoe nodig die offer van Christus is en hoe groot dit is. Ek het
die lewe heeltemal verspeel. Ek verdien niks anders as die ewige
dood nie. Christus het dit volmaak vir my vervul. Deur sy lewe
vir my te gee. Wat ’n liefde! Dit kan nie onbeantwoord bly
nie. Ek wil dan ook my dank aan God wys. Hoe om dit te doen wys
die Gees ook aan my. So leer die Bybel my die drie dinge: Hoe
groot my sonde en ellende is; hoe ek van al my sonde en ellende
verlos word en hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet
wees.

Op hierdie wyse kan ek werklik die enigste
troos in lewe en in sterwe geniet, steeds meer en meer bewus
ervaar. En met die troos waarmee ek getroos word kan ek nou ander
mense troos. Ja, gemeente, die beste troosters in die wêreld
moet Christene wees, hulle wat self die enigste troos besit.

Hoe vertroos u hulle wat in nood verkeer, hulle
wat siek en bedroef is? Doen u dit deur hul situasie te vergelyk
met dit van mense wat nog swaarder gekry het? Ons dink soms dat
dit verligting moet gee. Dit het baie erger kan wees.

Maar geliefdes, is dit die manier om ander te
troos? Besef u wel dat dit die situasie selfs erger kan maak. Die
bedroefde persoon word daardeur nie gehelp nie omdat die
werklikheid verdoesel word. Hy word in die kou gelaat. Wat is
immers lyding? Is dit nie die gevolg van die sonde nie? Deel van
die nietigheid waaraan die skepping onderworpe is nie. Daarom bly
die geskondenheid en verwoesting erg. ’n Herinnering aan ons
sonde. Dis nie hoe God dit oorspronklik wou hê nie. Hy het alles
perfek geskep. Maar ons sonde het die slawerny van die
verganklikheid veroorsaak. Die lyding bly dus iets verskrikliks.
Dit moet ons dan ook nie kleineer nie. Eers as die mense dit sien,
kan hulle na die enigste troos gelei word.

Hoe moet ons dan wel vertroos? Deur te wys op
die enigste troos in lewe en sterwe. Die lyding en dood bly
afskuwelik vanweë die sonde. Maar Gode sy dank ons mag in alles
meer as oorwinnaars wees deur Hom wat ons liefgehad het. God is
nie besig om my te straf nie. In lewe en sterwe behoort ek aan my
getroue Verlosser, Jesus Christus. My geskonde liggaam en my
geteisterde siel is van Hom. Hy het die volle prys betaal om dit
tot heerlikheid te bring. My lewenspad loop via lyding tot
heerlikheid. Niks kan blywende skade veroorsaak nie. Want ek
behoort aan my getroue verlosser Jesus Christus.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)