Die koms van die Messias as ’n loot uit die stomp van Isai.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-11-30
Teks: 
Jesaja 11
Preek Inhoud: 

Jesaja 11:1

Ds. C. Kleijn - Sondag 30 November 2003

Lees: Jesaja 10:5-19, 28-11:10; Jesaja 11:1.
Sing: Ps. 75:1,2; Ps. 75:4,6; Ps. 105:5;
SB. 22:1,2,5; SB. 1:3,4,5; Ps. 37:23-25.

Tema: Die koms van die Messias as ’n loot uit die
stomp van Isai.

  1. Die vergane glorie van die huis van Dawid; en
  2. Die nuwe glorie van die huis van Dawid.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons lewe nou weer in wat bekend staan as die Adventstyd. Die
aandag word dan weer gerig op die eerste advent – koms
– van ons Here Jesus Christus. Dan is dit ook ryk om oor ons
verlosser te praat, soos Hy aan ons belowe is onder die ou
bedeling. Christus het nie sommer so te sê uit die lug geval nie.
Sy koms is voorafgegaan deur baie voorbereiding en aankondigings.
Die evangelies wys gereeld daarop dat Christus gekom het
ooreenkomstig die beloftes. In Hom is daardie beloftes vervul.
Luister net na die slot van Maria se lied: Die Here "het
deur sy arm kragtige dade gedoen. ... Hy het sy kneg Israel
bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink soos Hy tot
ons vaders gespreek het – aan Abraham en sy nageslag tot in
ewigheid" (Lk. 1:51-55). Luister ook vir die priester
Sagaria wat sing dat: Die Here "’n horing van heil vir
ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg – soos Hy
gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af"
(Lk. 1:69-70).

Die eerste koms van Christus het dus geskied soos die Here
gespreek het. Daar is dus in feite geen verassingselement nie:
alles is reeds voorspel. As jy die wet en die profete ken,
behoort jy geen moeite te hê met die koms van Christus soos dit
in die evangelies beskryf word nie. Dan behoort jy ook geen
moeite te hê met die nederige staat van die Heiland wat uitloop
op sy bittere kruisdood nie. God het alles reeds vantevore
aangekondig. In die lig hiervan is dit droewig dat baie Jode wel
wil lewe volgens die Ou Testament, maar weier om die Christus van
die Skrifte te sien en aanvaar. Elke keer "wanneer Moses
gelees word, lê daar 'n bedekking oor hulle hart", wat
volgens Paulus slegs weggeneem word "wanneer hulle tot die
Here bekeer is" (2 Kor. 3:15-16). Ten spyte van al
hul ywer vir die Ou Testamentiese geskrifte, blyk dit dat die
Jode die wet en die profete nie werklik ken nie. Anders sou hulle
Christus wel herken het as die vervulling van die wet en die
profete.

In ons teks vind ons ’n duidelike, bekende Messiaanse
profesieë. By so ’n bekende teks is die gevaar egter
aanwesig dat dit ’n onafhanklike bestaan kry. Elkeen weet
dat dit ’n Messiaanse profesie is, maar min weet in watter
verband Jesaja hierdie woorde geprofeteer het. Daarom wil ons
vanoggend stilstaan by hierdie teks binne sy historiese konteks.
En dan is dit ook belangrik dat ons nie mislei word deur die
indeling van die hoofstukke nie. Die feit dat die teks aan die
begin van ’n hoofstuk staan kan die skyn wek dat dit begin
met iets wat nuut is. Die teks sluit egter nou aan by die gebeure
wat daaraan voorafgaan. As jy dit onmiddellik na die vorige
gedeelte lees, ontdek jy dat daar ’n geweldige teenstelling
is tussen die slot van hoofstuk 10 en die begin van hoofstuk 11.
Magtige en hoë bome word afgekap, terwyl die skynbaar dooie
stomp van Ísaï weer uitspruit en vrug dra.

Gemeente, ek verkondig vir julle: die koms van die Messias as
’n loot uit die stomp van Isai.

  1. die vergane glorie van die huis van Dawid;
  2. die nuwe glorie van die huis van Dawid.

In die voorafgaande hoofstuk word beskrywe hoe Jerusalem, die
Godsstad, in groot nood verkeer, vanweë die optrekkende leërs
van die Assiriërs. Die onstuitbare opmars van die vyand vanuit
die Noorde na Jerusalem word lewendig beskryf.

In die dae van Jesaja en van koning Hiskia is Assirië die
vreeswekkende wêreldmag. Die swaarbewapende leërs, die waens en
die perde van Assirië oorspoel baie lande. Die een land na die
ander word onder hul voete vertrap. Met wrede geweld word leërs
vernietig en volke uitgeroei of weggevoer. Afgode word saam met
hul tempels afgebrand. Niemand kan red uit die hand van die
magtige wêreldryk Assur nie.

Die Assiriese ryk het God se oordeel oor Israel se
goddeloosheid ook voltooi. Die tienstammeryk is weggevoer in
ballingskap gedurende die sesde jaar van koning Hiskia. Nou gaan
Assur homself teen Egipte rig. Dit beteken dat Juda, die
oorgeblewe tweestammeryk, en Jerusalem, die Godsstad, in gevaar
is. Die profeet sien reeds die gewelddadige leërs in aantog. Met
ongelooflike vaart trek hulle teen Jerusalem op. Die paniek is
groot in die gebied ten noorde van Jerusalem. Verskrikte inwoners
vlug. Die angstige volk word steeds meer opgewonde. Die profeet
skets ’n aangrypende prentjie hiervan in die voorafgaande
hoofstuk. Jerusalem se beurt het nou gekom. Dit lyk of daar geen
ontkoming meer is nie.

Juda en Jerusalem kan op die oog af niks teen Assur beteken
nie. Juda se koningshuis is swak en nietig in vergelyking met die
oprukkende mag van Assur. In vergelyking met die grotes van die
aarde – die magtige bome van Assur – verdwyn die
koningshuis van Dawid. Van die ryk van Dawid wat eens so magtig
was, het slegs ’n nietige deel oorgebly. Juda is verwoes.
Slegs Jerusalem staan nog. Selfs daardie stad lyk in hierdie
opsig soos ’n omgekapte boom, ’n dooie stomp.

Maar, gemeente, God het tog vir Dawid ’n wêreldryk
belowe – van see tot see? Wat kan mens nou daarvan sien? Dit
lyk glad nie asof dit besig is om te gebeur nie. God het oor die
volk van Juda en oor Dawid se huis tye laat aanbreek soos daar
nog nooit was sedert die dag waarop Efraim hom van Juda afgeskei
het nie. Later sou dit nog erger word. Na die Assiriërs sal die
mag van Babel opkom. Dan sal Jerusalem ook val en die volk van
Juda in ballingskap weggevoer word. Die glorie van die huis van
Dawid het vergaan. Na die ballingskap kom daar nie meer ’n
koning van die Dawidshuis op die troon nie. Die volk bly dan
onderworpe aan wisselende magte. En wanneer Christus gebore word,
sit die Edomiet Herodus op die troon in Jerusalem. Terwyl Josef,
die wettige kroonprins van die huis van Dawid, ’n vergete en
onopgemerkte persoon is wat in die afgeleë stadjie Nasaret woon!
Mens sou jouself nie ’n dieper vernedering van die huis van
Dawid kon indink nie. Van Dawid se glorie en van sy ryk het niks
oorgebly nie. Die huis van Dawid het teruggesink na die
onaansienlikheid van sy oorsprong. Dit is die rede dat daar in
ons teks sprake is van die stómp van Ísaï. Daar het slegs
’n stomp oorgebly. Die boom het verdwyn – hy is afgekap.
Slegs die stomp het in die grond agtergebly. Niemand sou daar nog
iets van verwag nie. Op die oog af is die boom weg.

Dawid se naam word nie eers meer genoem in hierdie profesie
nie. Die stomp word genoem na Ísaï, die vader van Dawid. Die
glorie van die huis van Dawid het vergaan. Niks het oorgebly
behalwe die onaansienlike begin, toe Dawid nog by sy vader skape
opgepas het in Betlehem. Alle luister het verdwyn.

Broeders en susters, hoekom het daardie huis van Dawid so
ondergegaan, dat Jesaja praat van die stómp van Ísai? Dis
’n gevolg van die oordeel van die Here. Die konings van die
huis van Dawid het dit so laat word. Voor Hiskia het die
goddelose koning Agas geregeer. Daardie koning het onder andere
die altaar van die Here van sy plek verwyder en het later selfs
die tempel gesluit. In plaas daarvan om sy vertroue op die Here
te stel, het hy na die Assiriërs vir hulp geroep, het hy sy
vertroue gestel op sigbare, aardse sekerhede. Hiskia kon die
kwaad nie meer keer nie. Later was Hiskia self ook teleurstellend.
Jesaja moes hom ernstig bestraf nadat hy teenoor ’n klompie
afgevaardigdes van Babel gepronk het met al sy koninklike skatte.

Dawid se huis word omgekap vanweë die afval van sy konings.
Hulle het dit self verspeel. En dan hoef ons nie slegs aan die
laaste konings te dink nie. Dawid self het dit ook bederf. Sy
sondes word nie sonder rede eerlik in die Skrif beskryf nie.
Salomo het dit ook bederf, en alle opvolgers daarna het dit
bederf. Hulle kon nie die Messiaanse vrederyk bring nie. God se
gerig moet inderdaad kom. Van die begin af het alles uitgeloop op
onaansienlikheid. Hierdie koningshuis het teruggeval tot die
situasie van voor die Dawidiese koningskap. Slegs ’n stomp
het van Ísai oorgebly.

Gemeente, hierdie geskiedenis laat die diepte van ons ellende
sien. Ons sondige hart keer hom steeds weer van God af, ondanks
al God se weldade. Alles loop vas deur die ongehoorsaamheid en
onwil van ons mense. So is die mens. Steeds weer dink ons dat ons
onsself deur ons eie krag en deur ons eie wysheid kan red, net
soos die konings en volk van Israel. Dan loop alles dood.

Maar kyk! Uit daardie skynbare dor stomp kom nuwe lewe voort!
Dit bring ons by die tweede gedagte: die nuwe glorie van die huis
van Dawid.

Jesaja profeteer: "daar sal ’n takkie uitspruit uit
die stomp van Ísai, en ’n loot uit sy wortels sal vrugte
dra."

Die huis van Dawid het tot niet verval, soos ’n omgekapte
boom. Menslik gesproke kan daar niks meer van verwag word nie.
Dit lyk of die vervulling van die Messiaanse beloftes aan Dawid
nog nooit so ver weg was nie. Dit lyk of dit nou onmoontlik
geword het. Kan uit daardie stomp God se Messiaanse ryk nog
voortkom? Maar juis in daardie situasie waar dit menslik
onmoontlik lyk, juis daarin openbaar God sy krag. As alle
menslike paaie doodgeloop het, as die mens gekonfronteer word met
sy eie onmag, dan toon God sy Almag. Dit is alles slegs uit Hom
en deur Hom. Dit wat die mens nie kan bereik nie – hulle het
dit stuk-stuk verspeel – dit bereik God self. Hy gaan nuwe
lewe wek uit daardie afgekapte stomp. Daar sal ’n loot uit
voortspruit. ’n Klein begin. Onopvallend en onaansienlik.
Maar ’n begin wat wel ’n geweldig vervolg het. Hierdie
wonderloot sal vrugdra. Dit wil sê, dit sal uitgroei tot ’n
volledige boom, vol van lewe, vol van heerlikheid. Die glorie van
Dawid sal herstel word, ja meer as dit. Die mag van die wêreld
sal magteloos gemaak word.

Gemeente, die woorde van die teks vorm ’n wonderbaarlike
teenstelling tot die laaste woorde van die voorgaande hoofstuk.
Die hoë en magtige bome van Assirië was besig om op te ruk teen
die stomp van Juda met haar vervalle koninghuis. Die ondergang
van Jerusalem het onafwendbaar gelyk. Maar wat sien ons nou?
Skielik tree die Here in met verbasingwekkende krag. Die magtige
bome word in een klap omgeslaan. God maak ’n radikale einde
aan die Assiriese mag. Daarteenoor sien ons die stomp van Ísai
weer uitgroei tot ’n volledige boom. Maria verwys ook daarna
in haar lied as sy sing: "Hy (die Here) het deur sy arm
kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart
het Hy verstrooi. Maghebbers het Hy van trone afgeruk en
nederiges verhoog" (Lk. 1:51-52).

Ja, die Here was reeds in die tyd van Jesaja besig om die
hoogmoediges in die gedagtes van hulle harte te verstrooi, en die
maghebbers te verneder. God sal ’n einde maak aan Assirië
se mag en trots. Dis hoekom ons in die voorgaande profesie lees:
"Wee, Assur! Die roede van my toorn en ’n stok is hy."
Want Assur, wil nie erken dat hy niks meer as roede is nie –
die roede van God se toorn. Hy het homself as outonoom gereken,
sy eie meester, niemand se kneg nie.

Jesaja gee ’n pragtige beskrywing van dié wêreldmag.
Hoor hom spog: "Deur die krag van my hand het ek dit gedoen
en deur my wysheid, want ek is verstandig; en die grense van die
volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die
wat op trone sit, het ek soos ’n maghebber neergewerp. En my
hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na ’n voëlnes,
en ek het die hele aarde bymekaargeskraap soos ’n mens eiers
bymekaarskraap wat verlaat is; en daar was niemand wat ’n
vlerk verroer of ’n bek oopgemaak of gepiep het nie" (Jes. 10:13,14).
Wat ’n oormoed!

Maar nou gaan die Here ingryp. Hoogmoediges word in die
gedagtes van hulle harte verstrooi, magtiges van hul troon
gestort. Terwille van sy groot Naam. Assur se trots kon nog gaan
tot op ’n punt, maar dat hy God se volk as net nog ’n
volkie onder die ander volke beskou, dít is God se eer te na.
Ja, dat Assur Juda se God gelykstel met alle afgode van die ander
volke – soos die gedagte destyds dat as mens ’n volk
oorwin, jy dan daardie volk se god oorwin – dít veral laat
God se heiligheid ontbrand soos ’n vuur!

In hoofstuk 10:10,11 spog Assur: "Soos my hand die
koninkryke van die afgode bereik het, alhoewel hulle gesnede
beelde meer was as dié van Jerusalem en Samaría, sou ek nie,
soos ek aan Samaría en sy afgode gedoen het, net so aan
Jerusalem en sy afgode kan doen nie?"

Samaría, die afvallige kerk, het alreeds verdwyn. En Assur
spog nou in sy vermetelheid dat die Here sy volk van Jerusalem
ook nie meer sou kon red teen sy geweld nie.

Nou, dit sou hy dan wel moet ondervind. Daarom gaan die Here
van die leërskare, om sy groot Naam ontwil, Assirië se mag
verbreek. As Hy nie meer vir Assirië benodig as sy roede, as die
stok in sy hand nie, dan sal God daardie roede in die vuur werp.
Hoogmoediges word verneder. Maar die nederiges word verhoog. Die
stomp van Ísai herlewe. ’n Takkie sal uit die stomp
uitspruit en uitgroei tot ’n boom en vrugte dra.

Dis is, broeders en susters, ’n ryk troos vir die
getroues reeds in Jesaja se dae. God sal ’n einde maak aan
die magtiges in die wêreld. Maar Hy sal nie ’n einde maak
aan die koningshuis van Dawid nie. Ook al lyk dit of die
vervulling van God se beloftes aan die huis van Dawid ver weg, ja
selfs onmoontlik is. God sal sy beloftes laat uitkom. Via daardie
nietige oorblyfsel sal God sy Messiaanse ryk laat kom. Daar bly
’n toekoms vir die getroues, ook al het hulle alle skyn teen
hulle. God se werk gaan voort, dit kan nie gestuit word nie. Dít
gee moed, ook by alle vernedering en ellende van die teenwoordige
tyd.

Hier het ons, broeders en susters, ’n duidelike profesie
van Christus se koms. God se volk van die ou verbond word onder
benarde omstandighede getroos met die evangelie van Christus. Sy
koms word aangekondig. Die dor stomp van Ísai gaan nuwe lewe
voortbring. In die vervalle huis van Dawid word die Christus
gebore in ’n stal. Sy begin is klein en nietig. Dit lyk of
die hoë bome van die wêreld, die maghebbers soos die keiser in
Rome en Herodes die Edomiet, in beheer is. En daardie takkie uit
die stomp van Ísai, word uiteindelik aan ’n paal opgehang
ten aanskoue van die magtige bome van die wêreld.

Maar nou kom die verassing: juis langs daardie weg bot daardie
takkie, Jesus Christus, uit. So gaan daardie takkie begin om
vrugte te dra en word dit ’n volgroeide boom. Die kruis
beteken nie die einde nie. Uit die dood kom lewe voort. Want die
Here het opgestaan. En sy werk het begin vrugte dra dwars oor die
wêreld.

Reeds vir baie eeue groei die vrugte van kerkvergadering aan
die lewensboom Christus. Deur alle eeue en lande heen vertak die
boom en kom al hoe nader aan sy voltooiing. Maar nes die
wonderlike begin verborge was vir menslike oë, so bly die
wonderlike groei ook verborge. Die Kerkplanting van Jesus
Christus is nie ’n magtige grootheid volgens menslike
maatstawwe nie. Te midde van al die magtiges, word die lewensboom
nouliks opgemerk. In die groot geweld van hierdie wêreld, te
midde van die konings, presidente en diktators lyk die werk van
Jesus Christus klein en onaansienlik. Dit lyk nie of dit baie
groter is as ’n klein takkie nie. Vir die vlees is daar ook
nie iets om daarvan te verwag of iets wat daaraan aantreklik is
nie. Dit lyk nie belangrik vir die voortgang van die wêreldgeskiedenis
nie. Daardie takkie, Jesus, word as irrelevant geag deur daardie
magtige bome.

Maar broeders en susters, as jy glo en aan God se beloftes
vashou, dan sien jy die Seun van die mens aankom om die volke te
rig en om sy gekoopte volk tot sy volkome verlossing te bring.
Daardie nietige en veragte takkie sal vrugte dra, ja, sal tot
volle ontplooiing kom. Wanneer Christus sy kerkvergaderende werk
voltooi het, dan kom die dag van die toorn van die leeu van Juda!
Dan neem Hy die byl vir die laaste keer in sy hand, dan gaan alle
hoog uitgegroeides omgekap word. Vir ewig. Want dan word die
volle vrugte sigbaar: ’n aarde vól van die kennis van die
Here. Daarheen is Jesus Christus vandag op pad. Sy byl kom steeds
nader aan die wortels van die bome wat in eie krag staan. Maar
ook: die volkome verlossing van die wat lote mag wees aan die
wynstok – Christus – kom al hoe nader.

So mag ons, broeders en susters, die heilsfeit van Christus se
geboorte gedenk. Ons gedenk dan ’n klein begin: ’n
takkie uit die stomp van Ísai. Die huis van Dawid het omtrent
tot niet geraak – haar glorie het vergaan. Maar dit kom tot
nuwe glorie. En by ’n oop Bybel sien ons die voortgang van
daardie werk. En ons sien uit na die beloofde voltooiing daarvan:
die volle vrug daarvan sal dan geopenbaar word. Dit gee ons moed,
ook al het ons die skyn van dinge teen ons. Hy wat op die Here
wag, put nuwe krag. Sy koninkryk kom.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)