Jesus Christus waarborg die toekoms van die Christelike kerk.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-03-26
Teks: 
Matthéüs 16
Preek Inhoud: 

Matthéüs 16:16-18
Ds C Kleyn - Sondag 26 Maart
2000

Lees: Matthéüs 16:13-20; Efésiërs
2:11-22.
Sing: Ps 122:1; Ps 122:2; Ps 100:2,4;
Ps 102:8,9; Ps 48:4,5; SB 45:1-4 (na kollekte).

Tema: Jesus Christus waarborg die toekoms van
die Christelike kerk.

  1. die ware belydenis van die christelike
    kerk;
  2. die goddelike oorsprong van die
    christelike kerk;
  3. die apostoliese fondament van die
    christelike kerk;
  4. die onoorwinlike krag van die christelike
    kerk.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wie is Jesus? Deur die eeue heen is daar baie
verskillende antwoorde op hierdie vraag gegee. Bv Jesus sou die
groot voorbeeld van ware humaniteit wees. Hy sou die groot
prediker van solidariteit en menslike gelykwaardigheid wees. Hy
sou die groot revolusionêr wees, die Bevryder. So het die
Marxiste Jesus selfs geannekseer. Baie mense wil Jesus dus nog
wel as ’n unieke persoon sien.

Maar gemeente, ken hulle en aanvaar hulle die
Jesus van die Skrifte? Hy word gesien as ’n unieke mens.
Maar is dit alles wat die Bybel oor Hom sê? Is Hy nie die
Christus die seun van die lewende God nie. God en mens in een
persoon. Die beloofde Verlosser van sonde en skuld?

Die kerk het altyd al te make gehad met die
ontkenning van Jesus as die Seun van God. Dink maar aan die stryd
van die vroeg christelike kerk teen Arius, ’n stryd wat tot
die bekende Geloofsbelydenis van Nicea gelei het. Die teenstand
teen Christus het al begin tydens sy omwandeling op aarde. Jesus
het tot sy volk gekom, maar sy eie mense het Hom nie aangeneem
nie. Dis ook duidelik in ons tekshoofstuk. By Mt 16:13 het ons
’n duidelike keerpunt in Jesus se bediening. Tot op daardie
oomblik het Jesus met sy evangelie die hele volk probeer bereik.
Hy het hulle almal voor die keuse gestel: vir of teen Hom. Daarna
onttrek Jesus Hom met sy dissipels. Hy wil hulle voorberei op sy
lyding en sterwe. Hy wil hulle voorberei op hul toekomstige taak
as sy getuies in die wêreld. Daarom is Jesus met sy dissipels in
die streke van Cesarea-Filippi, ’n rustige plek noord van
die See van Galilea.

Om die dissipels tot hul persoonlike
geloofsbelydenis te bring, vra Christus eers wat ander oor Hom
dink. "Wie sê die mense dat Ek die Seun van die mens, is?"
Let op die metode wat Christus gebruik om tot die belydenis van
die dissipels te kom. Hy vra nie onmiddellik: wie sê julle is Ek
nie? Nee, Hy vra eers wat hulle van ander mense oor Hom gehoor
het. Hy berei hulle eers voor op die persoonlike vraag. As ’n
mens eers nagedink het en vertel het wat ander oor Jesus dink,
dan word dit makliker om ’n meer persoonlike antwoord te gee.
Dis iets om oor na te dink wanneer ons met die evangelie na ander
uitreik. Ons kan dan beter die mense eers vra wat hulle van Jesus
gehoor het, voordat ons vra wat hulle self van Jesus dink.

In antwoord op Christus se vraag noem die
dissipels die oordeel van hulle wat positief teenoor Jesus staan.
Hulle sien hom as ’n profeet van God: Joh die Doper, Elia,
Jeremia of een van die profete. ’n Teleurstellende antwoord.
Waarom? Omdat hulle Jesus slegs as ’n voorloper sien en nie
as die messias self nie. Hulle verwag iets meer van die Christus.
Hulle verwag dat die Messias hulle sal bevry van die Romeinse
besetting en hul aardse mag en invloed sal herstel. Daarom wil
hulle Jesus nie erken as die Messias nie. Wel, so dink dan die
Jode oor Jesus, dws die beste onder hulle. Is dit nie
teleurstellend nie? Is Jesus se werk dan tevergeefs? Eindig dit
in ’n fiasko?

Laat ons die teks nader bekyk.

Ek verkondig aan u: Jesus Christus waarborg die
toekoms van die Christelike kerk.

  1. die ware belydenis van die christelike
    kerk
  2. die goddelike oorsprong van die
    christelike kerk
  3. die apostoliese fondament van die
    christelike kerk
  4. die onoorwinlike krag van die christelike
    kerk

Na die bedroewende opvattings oor Jesus, vra
Christus sy dissipels heel persoonlik: Maar julle, wie sê julle
is Ek? Dis wat ander mense sê, maar julle, wat sê julle self?
Nou kom die proef op die som. Kan Christus op sy dissipels
staatmaak? Aanvaar hulle Hom wel soos Hy is, ookal weier ander om
dit te doen? Christus het sy dissipels nodig om sy getuies in die
wêreld te wees. Maar dan moet hulle eers self hul geloof in Hom
bely. So vra Jesus na hul geloofsbelydenis.

Dan kom die pragtige antwoord van Petrus: U is
die Christus, die Seun van die lewende God. Dit moet as musiek in
Jesus se ore geklink het. Hy ontvang die eerste vrug van sy
arbeid. Vir die eerste keer hoor Hy die volle belydenis van Hom
as die Seun van God. Die dissipels het nou sover gekom om in
Jesus van Nasaret die beloofde Messias te sien. Die titel
Christus is dieselfde as die titel Messias. Die eerste is Grieks
en die tweede Hebreeus. Dit wys op Jesus as die Gesalfde koning
en kneg van die Here. Die dissipels sien Jesus as die vervulling
van al die ryke messiaanse beloftes.

In hul omgang met Jesus het hulle die lewende
God herken. So bely Petrus U is die Christus, die Seun van die
lewende God. Petrus bely dat Hy die Seun is, die enigste, unieke
Seun van God. Daarmee wys hy op die besondere verhouding wat
Jesus met God het. Hy alleen is die natuurlike Seun van God. Ja,
van die lewende God. Hier gebruik Petrus verbondstaal. So het die
heiliges uit die Ou Verbond ook oor God gepraat. So het Dawid
Goliat bestry: Wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die
slagordes van die lewende God durf uitdaag? In die Ou Testament
word die Here dikwels die lewende God genoem teenoor die dooie
afgode. Wat wil dit sê? Nie slegs dat God bestaan en dat die
afgode nie bestaan nie. Dit sê meer: naamlik, dat die Here
aktief is. Die gode kan niks nie en doen niks nie. Hulle is dood.
Die Here is egter almagtig en aktief. Hy is die Bevryder van sy
volk. Hy is diegene wat altyd aktief aanwesig is tot verlossing
van sy volk. Die Egiptenare, die Kanaäniete en die Filistyne het
dit tot hul skade ervaar.

Nou, eeue later herken die dissipels die
lewende God in Jesus. Hulle sien hoe Hy blindes weer laat sien en
dowes weer laat hoor. Kreupeles loop weer, dooies word opgewek en
aan armes word die evangelie verkondig. Jesus demonstreer die
heerlikheid van die komende eeu. Dit was almal so doods in die
kerk van die dae. Christus bring lewe en nuwe vooruitsigte.
Christus wys dat die God van Dawid lewe. In Hom is die lewende
God sigbaar.

Dit is wat Petrus bely. Hy staar hom nie blind
op die skynbare mislukking van sy Meester nie. Hy herken en bely
die aktiewe aanwesigheid van God. Gemeente, hierdie belydenis is
van groot belang vir ons as kerk. Op die basis van die belydenis
kan Christus sy dissipels verder voorberei op hul apostoliese
taak. Dmv sy dissipels wil God kom tot ’n groot skare van
belyders. So het Christus ook ons as kerk van Pretoria op die oog
by hierdie keerpunt in sy bediening. Menslikerwys gesproke hang
die belydenis van ons geloof af van die belydenis van die
dissipels. Daar in die streek van Cesarea Filippi was Christus
reeds besig om u geloofsbelydenis voor te berei. Want via hierdie
belyder wil God kom tot die skare van belyders.

Die openbare geloofsbelydenis te Cesarea
Filippi maak nie slegs ons belydenis moontlik nie. Dit roep ook
om ons belydenis. Die kort belydenis bied ’n program vir die
kerk van alle tye. Want die kort belydenis vat die hele leer van
die saligheid saam. Ook al het in die loop van die eeue verskeie
ander belydenisse ontstaan, hierdie eerste beknopte belydenis is
nooit opgehef nie. ’n Mens kan dit herken in alle latere
christelike belydenisskrifte. In feite is ons gereformeerde
belydenisskrifte niks anders as ’n verdere uitwerking van
hierdie fundamentele belydenis nie.

Maar geliefdes, hoe het Petrus tot so ’n
belydenis gekom. Dit bring ons by die tweede punt: die goddelike
oorsprong van die christelike kerk.

Petrus word deur die Here salig geprys vanweë
sy ryk antwoord. "Salig is jy, Simon Bar-Jona." Veels
geluk, want om die Seun van die lewende God te ken is die ewige
lewe. Petrus se belydenis wys dat hy ’n lewende gemeenskap
met God geniet. Daarom kan hy gelukkig geprys word.

Maar hoe het hy tot so ’n kennis gekom?
Nie uit eie vlees en bloed nie. "Vlees en bloed" is die
mens soos hy op aarde uit homself is, die sterflike mens met al
sy beperkthede en sonde. Uit myself kan ek nie die Seun van God
ken nie. Niemand kan via menslike redenasies of logika tot die
kennis kom nie. Menslike vermoëns skiet tekort. Ter
onderstreping van die natuurlike onmag om God te ken, noem Jesus
Petrus, Simon Bar-Jona. Dis sy naam van sy geboorte af en volgens
sy natuurlike afstamming. Daar het hy sy kennis nie vandaan nie.

Om in Jesus die Seun van die lewende God te
herken, het ek die openbaring van God nodig. Wat vir die
natuurlike oog verborge is, moet onthul word. Menslike oë en
harte moet vir die lig van die wêreld oopgemaak word. Wel, dit
het God, die Vader wat in die hemele is, gedoen. Het Christus nie
reeds gesê: niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader nie? Uit
homself ken niemand die geheim van Jesus nie. Alleen hulle aan
wie die Vader dit openbaar, sal dit sien en bely. Goddelike
openbaring is nodig. En Petrus mog dit ontvang. Daarom is hy
gelukkig te prys. Die Vader het hom tot so ’n ryke belydenis
gebring. Jesus prys die werk van sy Vader aan Petrus.

So ontvang die Here Jesus die eersteling van sy
christelike kerk. Die oorsprong van die belydende lidmaat van die
christelike kerk is God self. In sy verkiesende liefde het Hy
Petrus se oë en hart oopgemaak. Hy wil sy christelike gemeente
vergader. Hy wil ook u en my vergader. Daarom vorm hy dissipels
wat apostels moet word.

Die oorsprong van die kerk is dus in die hemel.
Alle eie roem is uitgesluit. Ons natuurlike vermoëns kan ons nie
help nie God moes tot ons neerdaal. Hy het ons natuurlike onmag
en onwil deurbreek. Hy het ons die geheim van sy Seun laat
verstaan. As jy jou geloof in Jesus Christus wil bely, prys dan
die Here vir sy ingryping. Dis nie iets wat op ’n natuurlike
wyse ontstaan nie. Dit kom van God. Hy het ingegryp om die geloof
te bewerk. Hy wek ook die begeerte om in die openbaar jou geloof
te bely.

Dit sluit natuurlik nie die gebruik van die
middele van genade uit nie. Soos God die woorde en dade van Jesus
gebruik het om Petrus tot geloof te bring, so gebruik Hy vandag
christelike onderrig en prediking om tot geloof te bring. Daarom
is die christelike opvoeding so belangrik. Ons is daaraan
herinner by die doop van Hannelie. Dis nie verniet dat die ouers
hul jawoord moes gee nie. God wil hulle as sy instrumente
inskakel. Deur hulle soek Hy die harte van hul kinders. Daarom
gee ons, waar moontlik, ons kinders gereformeerde onderwys.
Daarom gaan ons kinders na die katkisasie klasse.. Daarom lees en
bestudeer ons die Skrifte, persoonlik maar ook gesamentlik.
Daarom luister ons elke sondag na die prediking. In sy wysheid
wil God daardie middele gebruik om geloof te werk en te versterk.
God is dus die oorsaak van ons geloof. Ons is afhanklik van sy
werk, sy openbaring. Prys God daarvoor. Hy wil u tot lewende
stene van sy kerk maak. Hy was reeds daarmee besig te Cesarea
Filippi. Daar het Hy as ’t ware die eerste stene gelê. Die
eerste stene wat die fondament van sy christelike kerk sou vorm.

So kom ons by die derde punt: die apostoliese
fondament van die christelike kerk.

Die apostels, die eerste stene, neem ’n
besondere plek in. Luister maar: "En Ek sê vir jou: jy is
Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou." Hier
praat nie sommer ’n mens, wat ’n hoë posisie toeken
aan ’n vriend nie. Hier praat die Seun van God met goddelik
gesag, die koning van die kerk. Hy stel Petrus aan tot fondament
van die kerk.

In verband daarmee wys Jesus op die naam wat hy
hom al eerder gegee het: die naam Petrus. Nou verstaan ons waarom
Jesus aan hom die naam Petrus gegee het. Hy word Petrus genoem.
Hy sal ’n Petrus wees, ’n rotsman. Petra beteken immer
rots. Hy sal ’n rotsman wees, waarop Christus sy gemeente
gaan bou. Die woord Petra sien nie slegs op Petrus se belydenis
nie. Dit sien op die belydende Petrus, as verteenwoordiger van
die apostels.

Christus gaan sy christelike kerk fundeer op
die apostels en hul getuienis. Hulle sal straks moet getuig van
wat hulle van Hom gesien en gehoor het. Hulle sal die wêreld
moet oproep tot geloof. Deur hul prediking van die Christus sal
hulle die fondament vir die christelike kerk lê. So word hulle
ook self die fondament genoem. En ’n fondament is iets wat
’n mens maar een keer lê. Daarom is die amp van die
apostels eenmalig. Dit word nie oorgedra op ander soos die Roomse
kerk beweer nie. Die kerk is eens en vir altyd gefundeer op die
fondament van die apostels en profete. Ons het daarvan gelees in
Ef 2. Ons lees ook iets dergeliks in Openb 21. Daar staan dat die
mure van die nuwe Jerusalem twaalf fondamente het en daarop die
name van die twaalf apostels van die Lam (vers 14).

In ons teks kom die hele N.Testamentiese kerk
in sig. Vir die eerste keer hoor ons uit Jesus se mond die woord
kerk, ekklesia. Die woord herinner aan die O. Testamentiese volk
van God. Die volksvergadering van Israel word in die OT 'kerk'
genoem. Die naam word nou op die christelike gemeente toegepas.
Die gemeente sal die plek van die volk van Israel inneem. Via die
oorblyfsel van Israel lei Christus die O. Testamentiese kerk na
die N. Testamentiese bedeling. Die christelike gemeente is dus
die voortsetting van God se O.Testamentiese volk.

Wie is die bouer van die kerk? Christus wys
homself aan as die Bouer. "Op hierdie rots sal Ek my
gemeente bou." Alle roem van mense is uitgesluit. Jesus is
die Bouer. Hy alleen. Die apostels is slegs instrumente in sy
hand. Ons is slegs instrumente. Inderdaad word ons ook geroep om
te bou, om onsself en mekaar op te bou. Elkeen van u word by die
geestelike bouwerk betrek. U en ek. Ons bou op die liggaam van
Christus, altans dit behoort ons te doen. Maar uiteindelik is die
Jesus wat bou. Dit is slegs deur Hom dat ek kan groei en bou.
Christus bou sy gemeente. Dis ’n geweldige waarheid.
Uiteindelik is die werk nie myne nie, maar syne. Daarom is daar
hoop vir die kerk Jesus Christus waarborg die toekoms van die
christelike kerk. Hy sal ’n volk bly vergader, beskerm en
onderhou. Hy waarborg die afbou, die voltooiing van sy werk. Wat
’n geweldige bemoediging!

So kom ons by die laaste punt: die onoorwinlike
krag van die christelike kerk.

Die koning van die kerk is die Seun van die
lewende God. Daarom kan geen mag die kerk oorweldig nie, selfs
nie die mag van die doderyk nie.

Waarom word die mag van die doderyk hier genoem?
Omdat die volgelinge van Christus voortdurend in gevaar is. In
daardie tyd was daar die dreiging van Herodus en die aggressie
van die Fariseërs en Skrifgeleerdes. Dit lyk asof dit genoeg is
om die laaste troue volgelinge te oorweldig. Maar die
teenoorgestelde is waar. Die dissipels sal straks die
uitvalsbasis vorm vir die groot offensief van die evangelie. Die
dreigemente sal kragteloos wees. Dis wat Christus belowe.

Ons het te make met die mag van die dood en die
doderyk. Daaronder val ook die magte van die duisternis, die
magte van satan en sy volgelinge. Ondanks hul aktiewe aggressie
teen die kerk sal hulle dit nie kan oorwin nie. Waarom nie? Omdat
die Here Jesus die Bouer van die kerk is. Hy het die mag van die
dood en die doderyk oorwin. Hy is die Opgestane Heer, die lewende.
Hy het die sleutels van die doderyk en van die dood ontvang. Hy
het dus mag daaroor. Ook al sou ons gedood word terwille van
Christus, ons is dan nog steeds meer as oorwinnaars in Hom. Hy
sal ons dan opneem tot Homself in hemelse heerlikheid.

Gemeente, wat ’n geweldig uitsig ontvang
die dissipels en ook ons in die teks. Wanneer Christus se
bediening ’n fiasko lyk, waarborg Christus die toekoms van
die kerk. In Jesus herken ons die Lewende God wat altyd aktief
aanwesig is tot verlossing van sy volk. Daarom kan ons nooit
praat van ’n mislukking nie. Die Seun van die lewende God
het die lewende geword, die lewende wat alle mag in hemel en op
aarde ontvang het. In Hom besit die kerk ’n onoorwinlike
krag.

Wat ’n heerlikheid vir die christelike
kerk. Jesus moedig aan tot die ware belydenis van die kerk. Jesus
wys op haar goddelike oorsprong. Hy lê die eerste steen. En Hy
belowe onoorwinlike krag.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)