Christus het ons siektes op Hom geneem en gedra.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-03-19
Teks: 
Matthéüs 8
Preek Inhoud: 

Matthéüs 8:17
Ds C Kleyn - Sondag 19 Maart
2000

Lees: Jesaja 52:13-53:12,
Matthéüs 8:1-17.
Sing: Ps 40:1,2; Ps 38:1,15,17;
Ps 147:1,2 (na kollekte); Ps 103:1-3; Ps 35:4,12.

Tema: Christus het ons siektes op Hom geneem
en gedra.

  1. Wat beteken dit?
  2. Waaruit blyk dit?
  3. Wat belowe dit?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In ons gebed lê ons ons node voor die Here
neer. Daar is nog baie node. Daar is siekte. Daar is belemmerings.
Watter lewe is nie geskend nie? U ervaar almal wel ’n stuk
gebrokenheid in u lewe. Daar is soveel dinge wat die feesvreugde
in die pad staan.

Wat sien ons Jesus doen in die gelese
Skrifgedeelte? Hy bekommer Hom oor die geskonde lewens. Hy verrig
genesings. Juis in ons hoofstuk begin Mt met die noem van die
wonders van genesing. Hy noem drie genesings: die genesing van
’n melaatse, die genesing van ’n kneg van die hoofman
van Kapernaüm, en die genesing van die skoonmoeder van Petrus.
Jesus Christus bevry van melaatsheid, van ’n pynlike
verlamming en van hoë koors.

In aansluiting daarop vertel Mt ons dat Jesus
baie wat van duiwels besete was van die geeste bevry het. ’n
Veelseggende vermelding. U mag effens agter die skerms kyk. Wat
is die agtergrond van die aantasting van die mens en die wêreld?
Daaragter staan die duiwel en sy trawante. Hulle moet nou vir
Christus se magswoord wyk. U sien die ryk van Christus met geweld
baanbreek. Satan word verdrywe. Hy moet sy greep loslaat. En
menselewens word herstel. Daarom lees ons ook verder dat Jesus
almal wat ongesteld was (letterlik: almal wat iets kwaads gehad
het) gesond gemaak het. Satan moet wyk en die kwaad word
weggeneem.

Mt verbind hierdie genesings aan die profesie
van Jesaja. Wat Jesus hier doen, dit is presies wat Jesaja eeue
gelede geprofeteer het van die Kneg van die Here. Jesus wys
homself as die Kneg van die Here. As die Kneg wat ons krankhede
op Hom neem en ons siektes dra.

Ek verkondig aan u: Christus het ons siektes op
Hom geneem en gedra.

  1. Wat beteken dit?
  2. Waaruit blyk dit?
  3. Wat belowe dit?

Eers dus die vraag: wat beteken dit? Wat wil
dit sê dat Christus ons krankhede op Hom neem en ons siektes dra?
Hier het u ’n beeld van iemand wat die las van ’n ander
oorneem en dit vir hulle dra.

Maar broeders en susters, wat dra Christus nou
vir ons? Die teks noem ons krankhede en siektes. Die twee woorde
vat saam die gebrokenheid van ons lewe: ons swakhede, siektes,
belemmerings, maar ook ons verdriet en beproewing.

Beteken dit dat Christus dan letterlik ons
krankhede en siektes oorneem? Dat Hy in ons plek siek word?

Wanneer ons Jesaja 53 lees dan sou ons dit op
die eerste gesig kan dink. Daar praat Jesaja van ’n man van
smarte en bekend met krankheid. En kort daarna noem Jesaja die
woorde van ons teks: "nogtans het Hy ons krankhede op Hom
geneem, en ons smarte die het Hy gedra." Moet ons dan tog
konkludeer dat Christus ons siektes gedra het deurdat hy in ons
plek siek geword het?

Dit kan nie die bedoeling wees nie. As dit wel
die geval was dan sou ’n Christen nie meer siek mag wees nie.
Immers, as Christus ons siektes letterlik gedra het, dan hoef ons
tog nie opnuut die las te dra nie?

Jesaja 53 wys in ’n ander rigting. Lees
maar verder by vers 5 en 6 "Maar Hy is ter wille van ons
oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy
verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom
en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het
gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die
Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom."
Wat het die Here dus op Christus se skouers laat neerkom? Nie in
die eerste plek ons siektes nie, maar ons ongeregtigheid. "Die
straf wat vir ons die vrede aanbring was op Hom" en "die
Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom."

Wat maak die menslike lyding so swaar? Dit is
die sonde en skuld. God se straf. Die menslike lyding is immers
’n gevolg van die sonde. Ons gemeenskaplike skuld. Wel,
Christus neem die menslike lyding op Hom. Dit wil sê: Hy neem
die werklike las daarvan op Hom. Die las wat ons nie kan dra nie.
Die las waaronder ons ewig sou beswyk. Die skuld neem Hy op Hom.
Die straf dra Hy. Die vloek. Hy stil God se toorn vir ons. "Die
straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom".

Dit is wat Christus op Hom neem. Dit word nie
teen sy wil op Hom gelê nie. Nee, heeltemal vrywillig neem Hy u
skuld en straf op Homself. Neem Hy dit vir sy rekening. Wat
’n liefde! Hy aanvaar in u plek die pad wat tot die dood aan
die kruis lei. Hy laat Hom as lam verbrysel. Om u te red. Hy kies
vrywillig die duisternis. Om u in die lig te plaas. Hy aanvaar
die helse verlatenheid. Sodat u nooit meer deur God verlaat sal
word nie. Ook nie in u siekbed of sterfbed nie.

Dit was dan die eerste punt, met die vraag: wat
beteken dit dat Christus ons siektes gedra het? Ons kan
konkludeer: dit beteken dat Hy ons skuld en straf gedra het.

Nou die tweede punt: waaruit blyk dit?

Gemeente, wanneer ons die evangelie volgens Mt
vergelyk met die ander evangelies dan blyk dat Mt die historiese
volgorde nie aangehou het nie. Mt bring die genesings saam in
’n eie volgorde. Met opset plaas hy die genesing van die
melaatse voorop. Ook al het dit plaasgevind na die genesing van
die skoonmoeder van Petrus. Mt skuif die genesing van die
melaatse na vore. So laat hy ’n bepaalde nadruk daarop val.
Juis in die genesing van die melaatse man wys Christus wat dit
beteken dat Hy ons siektes dra. Laat ek dit illustreer.

Ons lees "en daar het ’n melaatse man
gekom en voor Hom neergeval." In die wet geld ’n
melaatse as onrein. Wanneer daar mense in sy nabyheid kom dan
moet hy uitroep: onrein, onrein. Waarom? Nie slegs omdat daar die
gevaar van besmetting is nie. Ook om God se volk ter herinner aan
die onreinheid vanweë die sonde. Die melaatse moet as onrein
buite die gemeenskap gesluit word. Hy mag nie na God se huis
opgaan nie. Hy mag Hom nie voeg by die feesvierende gemeente nie.
God se huis en sy gemeente mag nie verontreinig word nie.

Hoe reageer Jesus wanneer die melaatse man na
Hom toegaan? Hou Jesus die melaatse op ’n afstand? Om te
sorg dat Hy self nie onrein sal word nie? Nee, Jesus laat Hom kom.
Jesus steek selfs sy hand na hom uit. Hy raak die melaatse man
aan. Christus gaan die onreinheid nie uit die pad nie. Inteendeel,
Hy soek die onreinheid op. Hy steek bewus sy hand na die onreine
man uit. Terwyl Hy weet dat hy daardeur Homself onrein maak.
Christus neem die onreinheid op Hom. Daarmee neem Hy ook die
straf vir sy rekening, die straf van die uitsluiting uit die
gemeenskap. Hy laat hom as ’n onreine verban word. In die
verlengde hiervan sien u die kruis duidelik word. Christus se
uitsluiting uit die tempelstad. Golgota, waar Hy deur God en
mense verlaat word.

As priester neem Christus eers die onreinheid
van die melaatse man op Hom. Daarna klink die koninklike woord:
Ek wil; word gereinig. En hy word dadelik gereinig. Die
melaatsheid is verby. Hy mag weer in God se huis verkeer, onder
die feesvierende gemeente.

Dis nie verniet dat Mt daardie wonder aan die
begin van Jesus se genesings plaas nie. Juis hier sien u dat
Christus as priester dit weer reg wil maak tussen God en sy
kinders. Om daarna as koning te kan verlos. Al Christus se
genesings het sy priesterlike werk ten grondslag, sy priesterlike
werk van die dra van ons skuld. Dit blyk ook uit Jesaja 52 &
53. Die begin en die einde van die Skrifgedeelte praat van
Christus se koninklike heerlikheid: "Kyk, my Kneg sal
voorspoedig wees, Hy sal hoog en verhewe, ja, baie hoog word."
(Jes 52:13) En: "Hy sal ’n nakroos sien…Daarom sal
Ek Hom ’n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy
die buit verdeel" (Jes 53: 10,12). Hoe word dit werklikheid?
Dmv sy priesterlike lyding waaroor die verse daartussen spreek.
Luister maar: "as sy siel ’n skuldoffer aangebied het,
sal Hy ’n nakroos sien" (vers 10) en "Daarom sal
Ek Hom ’n deel gee onder die grotes en met magtiges sal Hy
buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam
met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie
gedra het" (vers 12). Op grond van sy lyding en sterwe
ontvang Christus koninklike mag. Ontvang Hy mag oor siekte en
dood.

Wanneer u, broeders en susters, Jesus met
genesings besig sien, dan blyk daaruit dat Hy ook priesterlik die
skuld van ons lyding op Hom geneem het. Sonder die lyding vir ons
skuld sou die genesings nie moontlik wees nie. Sonder
priesterlike daad van versoening sou daar geen koninklike daad
van genesing plaas kan vind nie. As u genesing wil ontvang dan
moet tog eers die oorsaak van die siekte bestry word? As ek bevry
wil word van die gevolge van die sonde dan sal tog eers die sonde
self aangepak moet word? Die oorsaak van alle ellende en lyding?
Die genesings van Christus is daarom ’n gevolg van sy dra
van ons siektes, van sy dra van die skuldlas van die siektes.
Deurdat Christus die skuldlas op Hom neem kan Hy tewens mense
verlos van die gevolge van die sonde. "Deur sy wonde het
daar vir ons genesing gekom."

Wanneer ons vra waaruit dit blyk dat Christus
ons siektes op Hom geneem en gedra het dan kan ons antwoord wees:
dit blyk uit sy konkrete dade van genesing.

Nou die derde punt: wat dit belowe?

Sou die lyding van God se kinders nie tot die
verlede moet behoort nie? Christus het tog die oorsaak daarvan
oorwin? Tog ervaar ons nog daagliks die gevolge van die sonde. In
ons persoonlike lewe, maar ook in die gemeente. Menslike lyding
gaan ons nie verby nie. Hoeveel sorge is daar nie, spanning,
siekte en gebrokenheid? Ons is nog allermins van siekte en pyn
vrygestel. Dit is ook nie die bedoeling van die Here nie. U moet
daarop let dat Christus tydens sy omwandeling op aarde nie elkeen
genees het nie. En hulle wat Hy wel genees het, het Hy nog nie
heeltemal verlos van alle gebrokenheid en lyding nie. Hulle kon
opnuut siek word en hulle sou almal eendag nog moet sterwe.

Dat dit nie die bedoeling is dat ons nou al vry
sou wees van alle gevolge van die sonde blyk ook uit die
geskiedenis van Paulus. Paulus het te make gehad met ’n
doring in die vlees. Hy noem dit ’n engel van die satan wat
hom met die vuis slaan. Hieroor het hy die Here drie maal gebid
dat hy hom daarvan sou bevry. Dit gebeur egter nie. God sê vir
hom: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid
volbring. Juis in Paulus se swakheid word Christus se krag
sigbaar. So hou God Paulus klein om sy eie krag deur Paulus te
laat skitter. So hou God ook vandag ons voortdurend klein. Sodat
ons ons nie sou verhef nie. Maar sou roem in genade alleen.

Die gevolge van die sonde is vir ons dus nie
verby nie. Tog mag ek my reeds verheug in die bevryding van die
skuld van die sonde. Wanneer ek glo dan mag ek weet: Christus het
die oorsaak van my lyding, naamlik die sonde, weggedra. My skuld
is betaal. Ek hoef my by siekte of ander moeites nie te laat
neerdruk deur skuldgevoelens nie. Ek hoef meself nie te laat pla
deur die vraag: Het ek soms swaarder gesondig as ander dat God my
so swaar tref? Ek moet myself wel beproef en eerlik my skuld bely
as daar konkrete skuld sigbaar word. Elke beproewing is immers
’n geleentheid tot selfbeproewing en tot groei in die Here
Jesus Christus. God soek immers ons heiligmaking. Maar ek hoef
nie in die sonde en skuld te bly steek nie. Ek mag opstaan en tot
God gaan. Ek mag in geloof op Christus sien. En bely: Christus
het my skuld vereffen. Hy het God se toorn tot swye gebring. Aan
die kruis het Hy reeds uitgeroep: dit is volbring.

Daarom ontmoet ek in my lyding nie meer God se
toorn nie. Ek kom daardeur nie in die duisternis nie. God se lig
skyn ook by siekte en gebrokenheid. Want Christus het Hom laat
uitsluit uit God se gemeenskap sodat ons nooit meer deur God
verlaat sou word nie. In plaas van God se toornende en straffende
hand, mag ek by siekte sy liefdevolle Vaderhande besig sien.
"Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen
onheil vrees nie." Waarom nie? "Want U is met my: u
stok en u staf die vertroos my." Ek mag my verheug in God se
vriendelike aangesig. Dit gee elke dag weer vrolikheid en lig.

Christus het tydens sy omwandeling op aarde nie
slegs van die oorsaak van siektes bevry nie, maar ook van siektes
self. Kyk maar na Mt 8 waar ons hom besig sien met die genesing
van siektes. Hy het toe reeds laat sien waarop sy verlossingswerk
sal uitloop. Ek ontvang nou nog nie so ’n bevryding nie.
Daarvoor moet ek nog ’n rukkie wag. Maar wat ek in die
evangelie lees en sien, verseker my van iets geweldigs wat gaan
kom. Die volkome verlossing sal kom. Dit maak Christus duidelik
deur die tekens. Hulle vorm ’n voorproef op die ewig heil.
God gaan volkome heil bewerk. Christus se koninklike magswoord
sal eenmaal weer klink. En alle aantasting van ons menslike lewe
sal verdwyn. Die gevolge van die sonde sal definitief oorwin word.
Op Christus se bevel sal dan alle siektes en belemmerings verdwyn.
U sal dan genees word na liggaam en siel. In die nuwe paradys.

Joh op Patmos mog iets daarvan sien en hoor. Hy
het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: "Kyk, die
tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en
hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle
God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal
geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal
daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan."
(Openb 21:3,4).

Wat ’n vooruitsig! Danksy die feit dat
Christus ons siektes op Hom geneem en gedra het.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)