Wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-02-20
Teks: 
Romeine 12
Preek Inhoud: 

Romeine 12:9-13

Ds C Kleyn - Sondag 20 Februarie 2000

Lees:

1 Korinthiërs 13; Romeine 12:9-13.
Sing: Ps 136:1-3,20; Ps 26:1,2;7; Ps 116:1,9,10 (na kollekte); SB 27:4,5; Ps 28:6-8.

Tema: Wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde.

  1. Die karakter van die liefde
  2. Die uitwerking van die liefde
  3. Die motief van die liefde

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die voorgaande verse het Paulus geskryf oor die verskeidenheid in die gemeente. Nie almal het dieselfde gawes en funksies nie. In verband hiermee noem Paulus die spesiale gawes van profesie, bediening, lering, vermaning, uitdeling, voorganger wees en barmhartigheid. Paulus spoor die spesiaal begaafdes aan om in hul roeping trou te wees en die gawes goed te gebruik.

Skielik rig Paulus hom tot alle gelowiges en wys hy op die roeping wat hulle almal saam het. Skielik noem hy die liefde. Die woord liefde verbind die twee gedeeltes aan mekaar. Die woord wys terug na die voorgaande. ’n Mens kan die verskillende gawes en funksies slegs reg gebruik indien hy ware liefde het en deur die liefde beheers word. Daarom gaan Paulus, nadat hy die diens van die verskillende gawes genoem het, skryf oor die liefde en sy onderskeie betonings.

Die woord liefde wys ook op wat volg. ’n Mens kan verwag dat die nuwe gedeelte oor die lewensheiliging van alle gelowiges ingelei word deur die vermaan: "laat die liefde ongeveins wees." Die liefde is immers fundamenteel in ons lewe as gelowiges. Die liefde is hier die fontein of oorsprong waaruit al die volgende handelinge waartoe ons opgewek word voortvloei. Van die liefde sê Paulus op ander plekke heerlike dinge. Die liefde is die vervulling van die wet (Rom 13:8-10). Die mees besondere gawe is die liefde. "Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ’n klinkende metaal of ’n luidende simbaal geword." Al sou ek alles weet en al sou ek ’n baie sterk geloof hê en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie (1 Kor 13).

Die vernaamste vrug van die Gees is liefde (Gal 5:22). Sonder die liefde kan daar van ’n christelike lewe eenvoudig geen sprake wees nie. Die liefde soek homself nie, maar die heil van die naaste. Dit is lankmoedig en vriendelik, dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie ens. Dit bestaan tot in ewigheid. Dit is nie slegs ’n gevoel nie of ’n aandoening van die gemoed nie. Dit is ’n keuse van die wil en dring tot liefdedade. Daarom begin Paulus hierdie gedeelte oor ons houding en optrede onder mekaar met die woord liefde.

Ek wil die woorde van die teks aan u verkondig onder die tema: wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde.

  1. Die karakter van die liefde
  2. Die uitwerking van die liefde
  3. Die motief van die liefde

As soveel van die liefde afhang dan is dit begryplik dat Paulus oproep: laat die liefde ongeveins wees. Hou die liefde suiwer en mooi. Daarmee raak ons die hart van die gemeente, die liggaam van Christus. As dit hier fout gaan dan is die ellende nie te oorsien nie. Die liefde moet dus ongeveins wees. Die griekse woord wat Paulus gebruik is dieselfde as ons woord hipokriet dws ek doen my anders voor as wat ek is. Ek huigel, ek is skynheilig. Van buite bied ek myself aan met ’n lief en mooi masker, maar van binne is daar ’n koue berekening. Laat jou liefde daarom nie oneg wees, huigelagtig, ’n saak van leeg woorde of uiterlik vertoon nie, maar opreg, ’n saak van die hart. Denk maar aan die engelse uitdrukking: jou dade spreek so luid dat ek jou woorde nie kan hoor nie.

Daar is geen kwaad so laakbaar as huigelary nie. Dit tas ons integriteit aan want dit is in stryd met die waarheid, dis ’n leuen. Die Here Jesus het die duiwels karakter daarvan ontbloot toe Hy tot Judas gesê het "Judas verraai jy die Seun van die mens met ’n kus?" (Lk 22:48). Die liefde vat alle deuge saam. Huigelary is die samevatting van die kwaad. Wat ’n teenstelling om die twee by mekaar te bring. Geveinsde liefde!

Maar hoe is dit moontlik om ongeveinsde liefde te hê? Deur uit God se liefde te lewe. God se liefde is suiwer. Dit wat van God van die buitekant af na ons toekom weerspieël wat in God self lewe. Hy het sy Seun gestuur. In Hom kan ons God se liefde as ‘t ware met die hande tas. Dieselfde liefde sit in God se hart. God het in sy Seun, wat mens geword het, sy binneste na buite gekeer. En deur die Heilige Gees het Hy sy liefde in ons harte uitgestort (Rom 5:5). Daarop spreek die apostel ons nou aan. Nou ons harte volgestort is met God se liefde is daar geen ruimte oor vir haat nie. "Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê." 1 Joh 4:11. Hoe weersinwekkend ek ook was, deur God se liefde verander ek tot in die hart. Haat wat homself verteer, versterf en God se liefde straal van ons af. Dis die mooiste gawe, maar ook die moeilikste opdrag.

Gemeente, geen beter kriteria vir ons affiliasie is die teenstelling tussen wat sleg is en die goeie nie. Geen terme kan die totale verandering van ons houding beter weergee as ons afsku vir wat sleg is en ons wyding aan die goeie nie. Om te verafsku en om aan te hang is sterk uitdrukkings. Hulle wys enersyds op die hoogste graad van haat en andersyds op volkome toewyding. Die woord wat vir aanhang gebruik word is dieselfde woord as wat in Gen 2:24 gebruik word om die hegte band tussen ’n man en sy vrou aan te gee. Daar lees ons: "daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef." Letterlik beteken die woord dat hulle onlosmaaklik aan mekaar gekleef is. So moet ons gekleef wees aan die goeie.

Die liefde kan wel baie verdra maar wie regtig liefhet verafsku wat sleg is en kan dit ook in ander nie verdra nie. Die mantel van die liefde mag geen werklik slegte dinge bedek nie. Liefde is geen weekheid, wat alles goed vind, nie. Dit is fel teen die sonde in eie en ander se lewe. Die liefde moet duidelik nee sê teen dit wat verderflik is en moeite en leed veroorsaak en ja sê teen die goeie, wat seënryk of nuttig is.

Paulus vervolg: wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde. Paulus gebruik hier ’n woord wat spesiaal vir die natuurlike en teder liefde tussen ouers en kinders en broers en susters gebruik word. Die band tussen kinders en ouers trek, ook die band tussen kinders onderling. Bloed kruip waar dit nie kan loop nie.

Nou word die woord, afkomstig uit die gesin, deur Paulus toegepas op die kerk. In die kerk word wildvreemdes aan mekaar gebind. In die gemeente kan rusies ontstaan. Haat mag egter nie voorkom nie. Want die band van die bloed bly trek. Nou nie die bloed van pa en ma nie, maar die bloed van ons Here Jesus Christus. En die band van die bloed is ongelooflik sterk. Gesinsbande en huweliksbande word soms ontbind. Maar wat ookal gebeur, niks kan ons skei van die liefde van God, die Vader van die Here Jesus Christus nie. Die liefde bly tot in ewigheid.

Maar gemeente, hoe moet ons nou met mekaar omgaan? "Wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde." Laat ons mekaar met dieselfde opregtheid en tederheid liefhê asof ons die naaste familie van mekaar is. Saam behoort ons immers tot die een gesin van God. Ons is saam kinders van die een Vader. Die band wat ons as lede van die geestelike gesin verenig, is baie meer seker en blywend as die natuurlike band wat ons as lede van gewoon gesin bind. Dink maar aan wat Christus gesê het in Lukas 14:26: "As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie." En: Wie is my moeder? En wie is my broers? Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, die is my broer en suster en moeder (Mt 12:46-50).

As lede van hierdie geestelike gesin moet ons alles in ons vermoë doen om hartlik teenoor mekaar te wees met broederlike liefde. Dit wys hoe teer en tegelykertyd hoe taai die verhouding mag wees. Ons maak makliker die dinge stukkend deur mekaar lomp te behandel as wat ons teer en gevoelig mekaar warme toegeneentheid gee. Tog gaan die liefdesverhouding voort, ook as die ander dit laat vaar. Christus self het voortgesit tot die dood. Hy het hom nie geskaam om ons - haatelike mense - broeders te noem nie en vir ons te sterwe terwyl ons nog vyande was. By sy opstanding laat hy weet: gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader. As die liefde ons hart vul dan het ons ons hande vol, of nie soms?

Dit ly ons tot die tweede punt: die uitwerking van die liefde. Die broederliefde moet hom daarin wys dat ons mekaar voorgaan in eerbetoning. Laat ons mekaar daarin tot ’n voorbeeld wees. Moenie op ander wag om jou te prys nie. Wees die eerste om die ander die eer te gee wat hom of haar toekom. Besef dat ander nie dieselfde gawes en funksies van God ontvang het as jouself nie. Waardeer en eer elkaar se gawes. Probeer om mekaar daarin te oortref. Nie in die eerbetoon aan onsself nie, maar aan die ander. Dis ’n oproep tot nederigheid.

Nederigheid sien die verskeidenheid binne die gemeente nie oor die hoof nie. Dit kan dan ook nie as ’n verontskuldiging gebruik word om onverskillig of lui te wees nie. Paulus het homself as die geringste van al die heiliges beskou (Eph 3:8) maar hy het nie toegelaat dat die beoordeling van homself hom sou weerhou om sy hoë amp getrou te vervul nie.

Die oproep van Paulus in ons teks eis nie van my dat ek alle ander lidmate wyser en bekwamer in alles moet beskou nie. Dit eis egter wel van my dat ek in ootmoed die ander hoer ag as myself (Fil 2:3). As Christen weet ek dat my eie motiewe nie altyd suiwer en heilig is nie (1 Kor 11:28, 31). So kom ek tot die gebed van die tollenaar: O God, wees my sondaar genadig. Aan die ander kant, het ek as Christen geen reg om die motiewe van my broeders en susters as sleg te beskou nie. Tensy my medegelowiges voortdurend ’n slegte lewenspatroon wys, moet ek hulle uiterlike goeie werke toeskryf aan goeie en nie aan slegte motiewe nie. ’n Kind van God wat homself goed ken en so kom tot die uitroep van die tollenaar (Lk 18: 13) of van Paulus (ek ellendige mens! Rom 7:24) sal die ander hoer ag as homself. As ek altyd vol kritiek op ander is moet ek myself eerlik afvra of of ek myself wel goed ken, of ek wel eerlik met myself is. ’n Gelowige word immer gekenmerk deur ware broederlike liefde en ootmoed.

As uitwerking van die liefde waartoe Paulus ons in verse 9 en 10 oproep skryf Paulus in vers 13: "Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid." Letterlik staan daar: neem deel aan die behoeftes van die heiliges, beskou dit as die joune. En tref voorsiening deur ander te laat deel in dit wat jy ontvang het. Deur hul oorgang tot die geloof het baie christene in groot moeite en armoede gekom. Maar as gelowiges is ons tog deelgenote in alles? Ons is immers almal deel van die liggaam van Christus. Soos Paulus in 1 Kor 3:22 en 23 sê: "alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus." Die vreugde en verdriet van een lid is die vreugde en verdriet van ons almal. Die behoefte van een is, of behoort, ’n gesamentlike las te wees.

Gemeente, soos uit die volgende woorde van die teks blyk word hierby nie slegs aan die gee van geldelike ondersteuning gedink nie. Hier word ook gedink aan die verlening van ander hulp soos die opneming in jou huis. "Streef na gasvryheid." Om ’n goeie en veilige plek te vind vir die nag of vir ’n langer periode was nie maklik in daardie tyd nie. Christene is in daardie tyd reeds vervolg. Dit het gelei tot hul verdrywing van hul huise. Voedsel en onderdak het vir baie ’n dringende nood geword. Bowendien was daar broeders wat van plek tot plek gereis het om die evangelie te verkondig. Hulle het niks van die heidene ontvang nie. Daarom was hulle aangewese op die christene wie se huis hulle besoek het.

Paulus wil hê dat die christene gewillig en met vreugde gasvryheid betoon. Sonder om te murmureer nie (1 Petr 4:9) uit selfsug, gierigheid of slapheid. Nie met teensin of slegs noodgedwonge nie. Daarom skryf Paulus: streef na gasvryheid, jaag daarna. Maak jou deure oop. Wag nie of daar soms iemand is wat om gasvryheid vra nie, maar doen alles wat in jou vermoë lê om gasvryheid aan te bied. Soos vandag - wag nie tot mense hulself nooi, maar stel jou deur oop en nooi self mense. Onthou dat wat jy doen vir die broeder of suster in nood, jy dit doen vir Hom wat op die groot dag van oordeel sal sê: "Ek het honger gehad, en julle het my te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ’n vreemdeling, en julle het my herberg gegee." Wanneer het ons dit dan gedoen? Daarop antwoord Christus: "Voorwaar ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen." (Mt 25: 35,40).

Paulus vra in die teks baie van ons. Daarby voeg hy nog: wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees, dien die Here (vers 11). Die drie aansporings is nou aan mekaar verbind. Die eerste is negatief en is gerig teen moegheid, traagheid, vrees of slapheid in die betoning van liefde. Die tweede is die positiewe eweknie en roep ons op tot ywer waarmee ons geeste in brand moet staan. Slegs as ons gees deur die Heilige Gees besiel is kan ons vurig van gees wees. Die derde uitdrukking omskryf die diens waarin traagheid vermy en ywer beoefen moet word.

So kom ons by die derde punt: die motief van die liefde.

Die begeerte om die Here te dien beïnvloed ons in ons aktiwiteit en ywer. Dit omskryf die motief waaruit ywer moet voortkom. Dink maar aan die uitdrukkings wat Paulus in Eph 6: 5-8 gebruik om die diensknegte aan te spoor. Wees gehoorsaam aan julle here, soos aan Christus; soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie, omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy ’n slaaf is of ’n vryman." Wat ’n geweldige bemoediging en dryfveer om ywerig besig te bly ondanks teleurstelling en moeites. Die ywer wat die apostel aanbeveel is ywer vir die Here en nie vir ons eie belange en bevordering nie.

Die herinnering aan die doel van ons lewe is die beste teengif teen traagheid en aansporing tot ywer. Wanneer ek deur ontmoediging bevange word en as gevolg daarvan dof van gees is, dan is dit omdat die aansprake van die diens aan die Here nie meer voorop in my gedagte staan nie. Bly daarom by alles wat u doen op die Here gefokus wees. Laat u lewe voortdurend diens aan die Here Jesus wees. Laat u gees besiel word deur die Gees van God. So kan u verslapping en traagheid oorwin en ywerig voortgaan met die betoning van die liefde.

Om op die diens aan die Here gefokus te wees beskerm u ook teen verkeerde ywer. Dit wys die regte beginsel van die vurigheid van gees aan. Dit hou die brandende ywer op die regte spoor, na die regte doel.

Broeders en susters, wat in vers 11 beveel word is nie altyd maklik nie. Ons ervaar meermale druk van allerlei kante. Dit sou tot neerslagtigheid kan bring en ons laat beswyk. Daarteen waarsku Paulus in vers 12. Daarteen gee hy ons dan wapens in die hand. Hy skywe: verbly julle in die hoop; wees geduldig in verdrukking; volhard in gebed.

Hoe moeilik die omstandighede ook mag wees hoop, geduld en gebed is nie slegs ’n roeping nie, maar ook die rykste bron van troos en hulp. As ek weet dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan my openbaar sal word nie (Rom 8:18) dan sal dit nie moeilik wees om dit geduldig te dra nie. Die hoop op die toekoms beïnvloed my lewe van vandag. Dit geld reeds vir die algemeen menslike hoop. As ek geopereer moet word is dit op homself geen oorsaak van blydskap nie. Ek sien teen die pyn op en teen die tyd wat ek nie kan werk nie. Moontlik is ek besorg oor die koste. Maar as die dokter my goeie hoop gee, dat ek na die operasie sterker en gesonder sal wees as daarvoor, dan gee die hoop krag en geduld om die operasie te deurstaan. Ons weet ook almal hoe iets moois waarop ons hoop ons nou al bly kan maak.

Dit geld in die volle sin vir die christelike hoop. Die vooruitsig op die ewige heerlikheid gee nou reeds glans aan die lewe. Die sekerheid dat die Here Jesus opgestaan het en dat hy terugkom om ons op te neem in sy ewige heerlikheid, gee ons nou reeds krag om die lyding van die teenwoordige tyd te dra. Die lyding van hierdie bedeling is wel verskriklik, maar dit val weg in vergelyking met die heerlikheid wat kom.

Gemeente, vanweë die sonde oorkom ons nou nog menigerlei "kruis", maar die vooruitsig dat daar eens geen sonde of gevolge van die sonde sal wees nie, laat ons die kruis vrolik dra. Mense wat hul lewe lank gepla word deur een of ander siekte het ’n las te dra waarvan gesonde mense geen voorstelling kan maak nie. Maar die hoop op die ewige lewe, dus ook die ewige gesondheid, kan aan chronies sieke mense ’n blydskap gee, wat gesonde mense verbaas laat staan. Die herinnering aan sondes wat ons bedrywe het kan as ’n doring in ons vlees wees, wat tot ons dood toe ons bly steek. Die hoop dat eens die herinnering daar nie langer sal wees nie, gee krag om die stekende pyn geduldig te dra.

Die skerwe van gebroke ideale lê op die pad van baie mense. Maar dit kan die lewens moed nie breek vir hulle wat hoop op ’n lewe in volle gemeenskap met God, waar alle ideale vervul sal word. Vandaar dat Paulus skryf: verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking. Verdrukking tipeer die gelowiges tydens hul vreemdelingskap hier op aarde. Almal wat godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word (2 Tim 3:12). Ons sal saam met Christus ly sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word (Rom 8:17). En: ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan (Hand 14:22).

Die blydskap en geduld waartoe Paulus ons oproep is geen vrug van ons menslike wysheid en krag nie. Die ’n vrug van God se genade en Gees. Hoe kry ons dan God se genade en Gees? Deur gebed. Daarom vervolg Paulus: volhard in die gebed. Sonder die volhardend gebed sou sulke blydskap en geduld nie moontlik wees nie. Die teenstand van die kant van die wêreld en die twyfel binne in ons sou te sterk wees. Deur middel van die gebed stel God ons sy goddelike hulpbronne ter beskikking. So kan ons hartlik teenoor mekaar wees in broederlike liefde. So kan ons die liefde in die praktyk van die lewe wys. Die liefde van Christus en die hoop wat ons in Christus het, stimuleer ons daartoe. En die geestelik kragte wat ons in antwoord op die gebed ontvang bekwaam ons daartoe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)