Vergeef ons ons skulde.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-03-12
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 51
Preek Inhoud: 

Sondag 51
Ds C Kleyn - Sondag 12 Maart
2000

Lees: Psalm 51; Matthéüs 18:21-35;
Sondag 51.
Sing: Ps 121:1,4; Ps 24:6,7; Ps
32:1,2; Ps 32:3-6; Ps 92:6,7 (na kollekte).

Tema: Vergeef ons ons skulde.

  1. die noodsaak van die bede;
  2. die oorsprong van die bede;
  3. die vrug van die bede.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die bede vir vergewing neem ’n belangrike
plek in ons gebedslewe in. Dalk is dit een van die mees gehoorde
gebede. In byna elke gebed kom dit voor. Die klein kinders leer
dit reeds in hul aandgebedjie. Die bede vir vergewing kom onder
ons dus dikwels voor. Dis nie so by alle mense wat hulself
christene noem nie. Veral in kringe waar die christendom tot
’n soort humanisme verword het, het die bede amper geheel
verdwyn.

Wat die frekwensie van die bede betref,
onderskei ons ons in gunstige sin. Maar is dit werklik ’n
pluspunt by ons? Dit hang daarvan af hoe ons om vergewing bid.
Bid ons die bede bewus of is dit slegs deel van ons gereformeerde
spraakgebruik? Woorde wat dikwels gebruik word slyt baie maklik
in betekenis. Dit kan so ’n cliché word wat weinig sê. So
kan die bede vir vergewing uit gewoonte maklik oor ons lippe kom
sonder dat ons goed bewus is van wat ons besig is om te doen. Ek
kan ook te maklik wees in my gebed vir vergewing. Ja, dit kan
wees dat daar te min uit die vergewing geleef word, omdat daar te
vinnig na vergewing gegryp word.

Laat ons onsself hierin beproef. Om te voorkom
dat die bede in enkel lippetaal ontaard, sal ons heel bewus moet
wees van die erns en diepte van die bede.

So wil ek aan u die 5e bede verkondig: vergeef
ons ons skulde

  1. die noodsaak van die bede
  2. die oorsprong van die bede
  3. die vrug van die bede.

Daar word soms gedink dat ons met die 5e bede
eers werklik met geestelike sake besig is. Na die 4e bede wat
praat oor brood – ’n natuurlike behoefte - kom hier die
bede vir vergifnis – ’n volop geestelike saak. Het ons
hier nie te doen met die kern van die evangelie nie? Is dit nie
die belangrikste bede nie?

Gemeente, al kan ons inderdaad stel dat die
kern van die evangelie hier geraak word, tog moet ons versigtig
wees met so ’n rangskikking. Deur die woordjie ‘en’
koppel Christus die bede vir vergewing aan die bede vir ons
daaglikse brood. Ons moet vir die een sowel as vir die ander vra.
Die gebed om vergewing is ewe noodsaaklik as die gebed vir ons
daaglikse brood. Daar is geen enkele aanwysing dat Christus
hierdie bede bo alle ander bedes sou verhef nie. Laat ons die
eenheid van die Onse Vader nie verbreek nie. Dit is tog die
volmaakte gebed? Volmaak ook in sy orde en samehang. Wat gee ons
dan die reg om een bede daaruit te lig en te sê: dit is die
belangrikste?

Bowendien, wie sê dat die bede vir brood slegs
oor ’n natuurlike en dus oor ’n onbelangrike saak gaan,
terwyl die 5e bede ’n geestelike saak betref? Die samehang
van die onse Vader leer ons anders. Na die drie eerste bedes wat
praat oor ons roeping teenoor die Here, kom in die 4e bede ons
voeding ter sprake. Die voeding is nodig om die roeping te kan
vervul. Ons bid vir ons daaglikse brood ter wille van die
heiliging van God se naam, die koms van sy koninkryk en die doen
van sy wil. Die daaglikse brood is dus heeltemal ’n
geestelike saak. Ek vra om brood om te kan dien.

Waarom volg dan die bede vir vergewing op die
bede vir brood? Dit is nodig omdat ek in die vervulling van my
roeping steeds weer faal. Ek is ’n slegte ampsdraer. Ek
staan voortdurend in die skuld by Vader. Maar, broeders en
susters, is dit nie wat oordrewe nie? Ek lewe tog oplettend en
probeer tog om slegte dinge te vermy? Wat is dan presies my skuld?

Om dit te verstaan is dit goed om te let op die
bybelse woord sonde. Dit mees voorkomende woord wat vir sonde
gebruik word, het as basiese betekenis: om die doel te mis, om
nie te bereik wat ons moes bereik nie. Om te sondig is dus om die
doel te mis. Watter doel mis ek dan? Die doel wat God by ons
skepping voor oë gehad het. Ons is geskep om God in volmaakte
liefde en toewyding te verteenwoordig. Ons is geskep om God se
heerlikheid te weerspieël. Daarvoor het God aan ons die nodig
gawes gegee.

Maar wat bring ons daarvan tereg? Wys ek
volmaakte liefde en toewyding aan die Here? Kom ek al my
goddelike verpligtings na? Bereik ek die gestelde doel van my
lewe?

Nee, ek faal voortdurend. As ek die goeie wil
doen, is die kwaad by my aanwesig (Rom 7:21). Daar is steeds weer
die verdorwenheid in my. Ek is tot in die wortel van my bestaan
sondig. Ek laat na om te doen wat ek kragtens my skepping-opdrag
sou moet doen. So staan ek skuldig teenoor die Here.

’n Voorbeeld kan dit miskien verduidelik.
Gestel dat ek van my ma geld kry om brood te koop. Ek loop na die
winkel en sien onderweg ’n winkel met lekkernye. Ek is baie
lief vir lekkernye. Die geur daarvan trek my in die winkel in. Ek
kan die verleiding nie weerstaan om met die geld wat ek van ma
gekry het, van die lekkernye te koop nie. So kom ek by die huis
sonder brood en sonder geld. Ek staan skuldig teenoor my ouers.
Ek het die geld wat hulle aan my gegee het, nie gebruik vir die
doel waartoe hulle dit gegee het nie.

So staan ons almal skuldig teenoor die Here.
Waarom? Omdat ons ons lewe en gawes dikwels nie gebruik vir die
doel waarvoor God dit aan ons gegee het. My gesonde liggaam,
gebruik ek dit daagliks tot verheerliking van my Skepper? My
hande en voete, my oë en ore, my mond en verstand, word hulle
almal so gebruik soos my Skepper dit bedoel het? Sodat ek in al
my doen en late sy heerlikheid daarmee weerspieël? Ek wens dat
dit waar was! Maar nee, te dikwels word die skone gawes vir
verkeerde doeleindes gebruik. Sien, daar my skulde!

Teenwoordig wil baie mense liewer nie praat van
skuld nie. Die kwaad, die verkeerde word dikwels gesien as iets
wat nou eenmaal by die lewe behoort. Ek kan ook niks daaraan doen
nie. So is ek nou eenmaal. So het ek grootgeword. In die
sielkunde soek die mens ’n verklaring vir menslike gedrag.
Daar praat hulle van erflike belasting, van ’n skeef groei.
Dit sou dan die oorsaak van my verkeerde gedrag wees. Op daardie
wyse kan ek mooi agter my verlede skuil om my daarmee te
verontskuldig. In die lig van my opvoeding, my moeilike
kinderjare, kan ek nie anders nie. So weier ek om die
verantwoordelikheid vir my dade te aanvaar en skuif ek die skuld
af op ander.

Maar gemeente, die kwaad, die sonde is en bly
skuld teenoor God, hoe verklaarbaar ’n bepaalde gedrag ook
mag wees. My opvoeding en agtergrond speel inderdaad ’n
groot rol in my ontwikkeling en gedrag. Dit kan my sterk in
sekere verkeerde neigings. Maar beteken dit dat ek sommer mag
toegee aan die verkeerde neigings asof ek niks daaraan kan doen
nie? Beteken dit dat ek die sonde waartoe ek ’n aanleg het,
rustig mag bedrywe sonder skuldig te wees? Elkeen het sy swak
plekke. As ek driftig van aard is, dan sal ek my lewe lank teen
die woede-buie moet stry. As ek toegee aan my driftige aard dan
kies ek vir die sonde en laai ek skuld op myself. As ek
gemaksugtig van aard is, dan sal ek my lewe lank, bv teen
slapheid of onverskilligheid moet stry. Niemand kan homself vir
sy sondige dade verontskuldig deur te wys op sy aanleg nie. Sonde
bly skuld, ongeag die faktore wat daarin ’n rol mag speel.

U moet, broeders en susters, let op wat Dawid
doen in Ps 51. Eers praat hy oor sy persoonlike oortredings:
"Want ek ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor
my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u
oë" (verse 5,6). Daarna praat hy oor die erfsonde. "Kyk
in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my
ontvang." (vers 7). Waarom wys Dawid op sy erfsonde? Om
homself te verskoon? Wil hy daarmee sê: Here ek het wel gesondig,
maar ek kon nie anders nie, ek is immers in sonde gebore? Nee,
Dawid praat juis oor sy erfsonde om die diepte van sy skuld aan
te wys. Vanweë die skuld wat reeds teruggaan tot die begin van
sy lewe is hy des te meer afhanklik van God se vergewende genade.
Die sonde kleef aan hom vanaf sy geboorte.

Sedert die sondeval is ons natuur verdorwe.
Niemand kom los van die lewensverbande wat verwoes is nie.
Niemand staan buite dit wat in die paradys gebeur het nie. Daar
het ons almal die grootste skuld op ons gelaai. Ons het dit so
gemaak dat God ons wel moes skuldig verklaar. Probeer uself nie
te verontskuldig nie. U is nie onskuldig nie, hoe swaar die skeef-groei
vanweë u opvoeding ook mag wees. U maak u skuld elke dag nog
groter. Aanvaar verantwoordelikheid vir u eie dade. Dan eers kan
u opreg bid: vergeef ons ons skulde.

So roep ook Dawid uit: wees my genadig, o God;
delg my oortredinge uit, skrap hulle uit u boek. Was my heeltemal
van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Ontsondig my met
hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as
sneeu.

Maar gemeente, hoe kom ons tot so ’n bede
om vergewing? Ons wil daarop let in die tweede punt: die
oorsprong van die bede vir vergewing.

Baie mense kom vandag nie meer daaraan toe om
vir vergewing te bid nie. Hoekom? Vanweë die gebrek aan
skuldbesef. En die skuldbesef verdwyn omdat daar geen ampsbesef
meer is nie. Mense ken hulself nie meer as beelde van God, as God
se verteenwoordigers nie. Mense ken hulself nie meer as God se
profete, priesters en konings nie.

Besef u wel u hoë amp? En het u as gevolg
daarvan ook ’n ware besef van u skuld? Hoekom het u dit? Het
u dit aan uself te danke? Is u beter as die ander by wie die bede
vir vergewe steeds meer verdwyn? Verbeel u maar niks nie. Die
bede vir vergewing kom nie uit uself omhoog nie. God wek die bede
in u hart. Alles is uit God, genade. Die oorsprong van die bede
moet u by God soek, by God wat deur sy Gees in u besig is. Sonder
sy Gees sou ek nie in staat wees en ook nie die wil hê om vir
vergewing te vra nie. Die opregte gebed vorm dus ’n bewys
dat God se Gees in my besig is. Die bede sal dus nie werklik deur
onbekeerde mense gebid kan word nie. Christus het die gebed aan
hulle gegee wat reeds uit sy genade lewe. Alleen die gelowige kan
sy roeping verstaan en so ook sy tekortkomings voortdurend erken.

Slegs gelowiges – mense wat eers deur God
gegryp is – kan vlug na God toe met die bede: vergeef ons
ons skulde. Dit blyk reeds uit die volgorde van die onse Vader.
Eers word daar gebid vir die heiliging van God se naam, vir die
koms van sy koninkryk en vir die doen van sy wil. Dit is
gelowiges wat aan die woord is. Gelowiges wat tot die diens van
God geroep is en hul ampsdiens aanvaar.

En gemeente, dat dit gelowiges is wat die Onse
Vader bid, blyk ook uit die slot van die 5e bede, uit die woorde:
soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Die Kat gee ’n
pragtige verklaring van die woorde wanneer dit sê: "Ons bid
dit van u omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind; dat
ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe."
Die vergewingsgesindheid, waar kom dit vandaan? Is dit u eie
prestasie? Hou u dan u eie dade aan die Here voor om Hom daardeur
te beweeg om u te vergewe? As dit so was, sou dit maar droewig
wees. Hoe onvolkome is immers ons vergewingsgesindheid. Hoe
moeilik is dit dikwels nie om iemand werklik te vergewe nie? Ons
behou maklik ons reserwes. Ons stel nie dus ons gedrag aan God
voor as ’n voorbeeld waarby ons God vra: doen aan ons, Vader,
soos ons aan ander doen nie. Nee, in die slot van die 5e bede
doen ons ’n beroep op die werk van God wat Hy reeds in ons
begin het. Vergeef ons ons skulde soos ons ook ’n bewys van
u genade in ons vind.

Die 5e bede pas dus nie op die lippe van hulle
wat die bewys van God se genade nie het nie. Hulle wat nie
vergewensgesind is nie, hulle wat nie bekeerd is nie, kan ook nie
bid om vergewing nie. Dis opvallend dat mense wat nie baie hoë
eise aan hulself stel nie, soms juis vir ander baie lastig kan
wees. Wie nie met eie sonde wil breek nie, het dikwels sy mond en
hart vol van die skuld van ander. Dit lyk teenstrydig: as ek
maklik oor my eie sondes heenstap, dan gaan ek my tog nie
bekommer oor die sondes van ’n ander nie. Tog gebeur dit
dikwels. En dit is eintlik ook nie so vreemd nie. Wie nie vir die
Here wil lewe nie, het vir die duisternis gekies, die duisternis
vir homself en vir die ander. Daarom die gebrek aan
vergewingsgesindheid, juis by hulle wat nie uit vergewing wil
lewe nie. Wie egter vergewingsgesindheid opmerk in sy lewe, die
mag ook met volle vrymoedigheid toetree tot die troon van God se
genade met die bede: vergeef ons ons skulde.

Dawid het sy boete-psalm in geloof opgehef. God
het hom tot ware selfkennis gebring. Dawid sê in vers 8 "Kyk,
U het ’n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die
verborgene maak U aan my wysheid bekend." Die Heilige Gees
het sy oë oopgemaak vir sy groot skuld en het hom tot ware
skuldbelydenis gebring. Hy bid ook: Verwerp my nie van u aangesig
nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Hy besef dus dat
God hom nog nie verwerp het nie en dat die Heilige Gees nog nie
van hom gewyk het nie. Dit het hy wel verdien, maar God het sy
genade aan hom bewys. Daarom bid hy vol vertroue – hy roem
immers in die grootheid van God se barmhartigheid. Hy ken en sien
God se trou. Maar hy weet ook dat die Here aangeroep wil word,
opreg en in ootmoed. Daarin het die Here ’n welbehae. Die
Here is bly met ’n ootmoedige gebed van sy kinders: "Die
offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en
verslae hart sal U, o God, nie verag nie!"(vers 19).

En gemeente in antwoord op die gebed wil God
ook ’n hernieude vreugde gee. Daarmee kom ons by die derde
punt: die vrug van die bede vir vergewing.

Die gebed in geloof gespreek plaas my opnuut in
die ruimte. Daar val ’n verhindering van my af. Die blydskap
kom in die plek van droefheid. Julle ken dit tog wel uit die
praktyk in die gesinne? Gestel dat ek iets gedoen het wat my
ouers verbied het. Dan pla dit my. Dan bly dit my pla solank as
ek dit nie eerlik aan pa of ma vertel nie. Die verhouding is
daardeur nie meer dieselfde nie. Daar sit iets tussenin. Wanneer
ek egter sover kom om eerlik my skuld te bely, dan val ’n
las van my skouers af. Ek voel my opgelug. En die verhouding met
my ouers is weer herstel. Daar is niks meer tussenin nie. Ek is
weer gelukkig met my ouers. En ek neem my voor om dit nie weer te
doen nie. So wil die Here hê dat ons met Hom omgaan. Bely aan
Hom u skuld. Solank ek swyg, kwyn ek weg. Maar sodra ek as ’n
kind my skuld aan Hom bely, dan mag ek sy groot liefde weer
ervaar, dan bloei my lewe weer op. Ek word ook daartoe gedring om
my dankbaarheid te toon. Daarom het Dawid ook gebid: Laat my tong
u geregtigheid uitjubel…dat my mond u lof kan verkondig.
Dawid noem die offer van sy lippe, maar ook die offer van sy hart:
"Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die
binneste van my ’n vaste gees."

Die lewe word vernuwe. Ek gaan God se groot
dade verkondig in woord en daad. My hele lewe wys dat God aan my
baie vergewe het. Ja, is dit so? Wys u lewe dat God baie vir u
vergewe het? Wys u dit deur ook baie vir ander te vergewe? In die
gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser is dit duidelik dat
die eerste dienskneg niks van vergewing verstaan het nie. Sy heer
het hom 10,000 talente kwytgeskeld. Maar wat doen hy? Hy soek
’n mededienskneg op wat hom slegs 100 pennings skuld en werp
hom in die gevangenis. Die groot ontferming van die Koning het
die dienskneg nie verander nie. Hy verstaan dit nie. Hy bly wreed
en hard. Liefde het hom nie tot liefde geprikkel nie. Daarom word
sy Heer boos op hom en gee hom oor aan die pynigers totdat hy sy
skuld volledig betaal het. Christus voeg daaraan toe: "So
sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy
broeder van harte sy oortredinge vergewe nie."

Gemeente, neem Christus se prediking ter harte.
God het u baie genade bewys. Hy het u tog ampsbesef bygebring? En
so ook skuldbesef? Hy bring u tog tot ’n ware skuldbelydenis?
Of nie? Hy laat u vra om vergewing. Sou hy dan nie, na sy belofte,
vergewing wil gee nie? En in antwoord op die gebed skenk God
hernude vreugde. Sy vergewing plaas u in die ruimte. Sy vergewing
lok ook by u vergewing uit.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)