Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-03-05
Teks: 
Matthéüs 4
Preek Inhoud: 

Matthéüs 4:4
Ds C Kleyn - Sondag 5 Maart
2000

Lees: Deuteronómium 8; Sondag
50; Matthéüs 4:4.
Sing: Ps 113:1,2; Ps 11:3-5; Ps
95:4,5; Ps 104:17-21; Ps 115: 8,9 (na kollekte).

Tema: Die mens sal nie van brood alleen lewe
nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

  1. Probeer nie uit jou eie hand te lewe nie;
  2. Leef uit die hande van God.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons bely ons totale afhanklikheid van God.
Sonder Hom kan ons niks doen nie. Ons moet alles uit sy hand
ontvang. Daarom bid ons: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Ons
vra of God sy hande vir ons wil oopmaak en ons alles wil gee wat
ons nodig het. Ons wil ons afhanklikheid van God bely.

Maar nou die praktyk, die harde werklikheid van
die lewe. Ek bely wel my afhanklikheid van God, maar belewe ek
dit ook so in die daaglikse praktyk van die lewe? Blyk dit uit
die manier waarop ek my werk doen? Is dit ’n werklikheid vir
my wanneer ek ’n bepaalde studie volg om vooruit te kom in
die lewe? Ervaar ek my afhanklikheid van God wanneer ek besig is
om my loopbaan op te bou. As ek my eie besigheid beheer? Wanneer
ek voor die klas staan? Wanneer ek by die huis of buite die huis
my werk doen? Blyk dit in die praktyk van my lewe dat ek in alles
bewus in afhanklikheid van God lewe, dat ek uit God se hande lewe?

Laat ons ons hieroor besin in verband met
Sondag 50 van die Heidelbergse Kategismus.

Ek verkondig aan u: die mens sal nie van brood
alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God
uitgaan.

  1. Probeer nie uit jou eie hand te lewe nie
  2. Leef uit die hande van God.

Die teks is ’n bietjie raaiselagtig.
Daarom sal ons eers goed moet kyk wat daar staan. "Die mens
sal nie van brood alleen lewe nie." Dis ’n uitdrukking
wat te pas en te onpas gebruik word. ’n Gesegde wat
suggereer dat daar meer as brood is, dat daar meer in die lewe is
as om te eet en te drink. Die lewe vind in brood en spele, in
welvaart en luukse nie sy uiteindelike bestemming nie. "Nie
van brood alleen" suggereer dat daar in die lewe ’n
dieper dimensie is. Die lewe is meer as wat die oppervlakkige
uitdrukking: "laat ons eet en drink en vrolik wees want more
sterf ons" suggereer. Dis begryplik dat in die verlede
daardie woorde van die teks selfs as ’n verkiesingsleuse
gebruik is. Die mens sal nie van brood alleen lewe nie. Die lewe
is meer as brood en spele.

Maar, broeders en susters, is dit wat die Here
Jesus met die woorde bedoel? Nee, ons moet meer sê. Want die
uitdrukking "nie van brood alleen" is nie volledig nie.
Christus laat die uitdrukking volg met die woorde: "maar van
elke woord wat deur die mond van God uitgaan." Juis dit mis
’n mens by so ’n verkiesingsprogam en in die hele
politieke lewe vandag. Terwyl dit juis daarop aankom. Die laaste
woorde van die teks raak die kern van die saak, ook vir vandag.

Let maar op die opbou van Christus se woorde.
’n Mens sou verwag dat Christus sou gesê het: die mens sal
nie van brood alleen lewe nie, maar ook van elke woord wat
deur die mond van God uitgaan. Maar die woordjie ‘ook’
ontbreek. Daar staan: nie van brood alleen, maar van elke woord
van God. Jesus Christus wys daarmee op die kern van die saak.
Daarop kom dit aan. Ek moet lewe van elke woord wat van God
uitgaan.

Beteken dit nou dat stoflike voedsel, dat brood
weinig waarde het? Nee, so bedoel die Here dit nie. Jesus sê nie:
die mens sal nie van brood lewe nie, maar die mens sal nie van
brood alleen lewe nie. Brood het sy eie waarde. Deut 8 speek ook
oor die tasbare, daaglikse lewensonderhoud. In die reël hou God
ons lewe dmv brood in stand. Dis nie verniet dat die Here Jesus
ons leer om te bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood nie. Die
stoflike voedsel is van groot waarde. Ek het brood nodig om te
kan lewe en om te kan werk. Om hier op aarde God se naam te
heilig en sy wil te doen het ek brood nodig. Dis die normale
middel waardeur God my lewe in stand hou. Daarom leer Christus
ons om te bid vir ons daaglikse brood.

Wat bedoel Christus dan met die woorde: nie van
brood alleen lewe, maar van elke woord wat deur die mond van God
uitgaan?

Laat ons let op die geskiedenis. Jesus Christus
haal die woorde uit Deut 8 aan. Daar in Deut 8 is Moses besig om
die Israeliete op die hart te bind om die hele woestynreis te
gedenk. Hulle moet die les van die woestyn ter harte neem. Laat
ook ons dit nie vergeet nie. Die geskiedenis het ook ons baie te
sê.

God het Israel in die woestyn opgevoed. Hy het
die volk eers honger laat ly. Die volk moes leer besef dat hy
volstrek van God afhanklik is. Die volk kan nie sorg vir sy eie
lewensonderhoud nie. In Egipte kon die volk nog altyd dink dat
hulle self deur hul inspanning hul lewensonderhoud veilig kon
stel. Maar in die troostelose woestyn word die vertroue op eie
werk en inkomste hulle uit hande geslaan. Israel moet leer om te
besef dat hulle heeltemal van God afhanklik is, dat Hy die
enigste Bron is van alles wat goed is. Hulle is op pad na Kanaän,
’n land waar mense sweer by die natuur en by die
natuurkragte. Die Here laat sy volk eers honger ly. Hy weerhou
die natuurlike brood. Vervolgens gee God manna. Die wonderbrood.
Dat wil sê God gee kos, ook in die dorre woestyn. Hy kan gee en
weerhou. Elke lewe is afhanklik van sy woord. As hy spreek dan is
daar manna in die woestyn. As hy swyg dan is daar selfs in ’n
land van melk en heuning, honger. Dit het Israel ervaar in die
dae van Elia. Elia het toe namens die Here gespreek: "daar
sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my
woord!" (1 Kon 17:1). En die vrugbare land het verdroog. Die
land het nie verander nie. Ook nie die natuur, waarby die mense
gesweer het nie. Maar God het nie meer gespreek nie. Pas as die
Here in sy genade weer spreek gaan die hemel oop. Dan pas kan die
aarde weer vrug voortbring.

Wel, Israel moet in die woestyn op pad na Kanaän
leer om te steun op die Here alleen. Dit gaan hier oor die basis
van ons natuurlike bestaan. Die Here toon in die woestyn sowel
deur die honger as deur die manna dat alle lewe van Hom afhanklik
is. Die gewone brood is geen waarborg vir die lewe nie, want die
Here kan dit weerhou of sy voedende krag daaraan onthou. Die
gebrek aan brood is daarom ook geen bedreiging nie, want God kan
daarvoor iets anders in die plek gee. Daarom kan die mens nie van
brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van
God uitgaan. Wil ek brood hê dan moet die Here spreek. Wanneer
die Here nie spreek nie, dan sal daar geen brood wees nie. Alles
hang van die woord van die Here af. Ons word hierby bepaal deur
die geweldige vloede wat ons land en ons buurlande getref het.
Alles wat ons opgebou het kan skielik verwoes word, uit ons
Handelinge weg geneem word. Wanneer die Here spreek dan gebeur
daar wat: ’n ryke oes of verwoesting.

Gemeente, teenoor Satan haal Christus die
woorde uit Deut 8 aan. Christus het pas sy amp openlik aanvaar,
by sy doop in die Jordaan (lees maar die slot van Mt 3). Hy is
toe as ‘t ware bevestig in die amp. Die Heilige Gees het as
’n duif op Hom neergedaal en die stem van Vader het uit die
hemel gesê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae
het.

Wel, onmiddellik na die publieke aanvaarding
van sy amp gaan Jesus na die woestyn om versoek te word deur die
duiwel. Hy gaan nie op eie inisiatief nie. Nee, Hy word gestuur.
Deur die Heilige Gees gedrewe. Sien Mt 4:1 "Toe is Jesus
deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die
duiwel." God stuur sy Seun na die woestyn, na die frontlinie,
na die strydperk met die duiwel.

Die eerste Adam het vir die verleiding van
die duiwel beswyk.
Die tweede Adam Jesus Christus moet die
duiwel nou oorwin.
Die eerste Adam het van die paradys ’n
woestyn gemaak.
Die tweede Adam moet van die woestyn
’n paradys maak.

Jesus Christus moet sy amptelike werk in die
woestyn begin. Veertig dae en veertig nagte eet hy niks nie. Op
die ou end kry hy honger. Sy liggaam skreeu om voedsel. Juis op
daardie oomblik kom satan – die versoeker – met sy
verleidende woord: As U die Seun van God is, sê dat hierdie
klippe brode word. Satan ag sy kans skoon. Dit is nou die regte
oomblik om Jesus aan te spreek op sy seunskap van God. Die
verleider gryp terug op die woorde wat die Vader uit die hemel by
Jesus se doop laat hoor het. "Het God nie gesê dat u sy
geliefde Seun is in wie Hy ’n welbehae het nie? Maar nou sit
u in die woestyn. Waar blyk God se welbehae? U het 40 dae lang
die liefdeblyke van Vader gemis. Selfs die daaglikse brood. U
liggaam skreeu om brood. Wel, u is tog die Seun van God. Wat
weerhou u om daarvoor te sorg dat u u honger kan stil? Een woord
is immers genoeg om u te voorsien van die nodige? Sê maar teen
hierdie klippe dat hulle brode word en u voedselprobleem is
opgelos."

Die verleider maak dit vir Christus nie maklik
nie. Hy raak Christus op die mees gevoelige plekke: op sy
waardigheid as die Seun van God en op sy skreeuende honger. Dit
sou vir Christus inderdaad geen enkele probleem wees om die
klippe in brode te verander nie. Hy het as seun van God mag
genoeg.

Maar Christus deursien die verleiding. Hy wys
Satan af met die woorde van die teks: daar is geskrywe: Die mens
sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur
die mond van God uitgaan.

Wat is dan presies die verleiding van satan?
Die verleiding is dat hy Christus daartoe wil beweeg om op eie
houtjie hom van voedsel te voorsien. Hy probeer Jesus daartoe te
bring om eiemagtig in te gryp, los van die wil van die Vader.
Satan sê in feite: maak vir uself ete. Vir u kos het u God nie
nodig nie. Leef uit u eie hande. Hiermee doen satan ’n
aanval op Christus se amp. By sy doop in die Jordaan het Jesus
immers sy amptelike taak aanvaar, dat sy hele lewe diens sou wees.
Hy het in feite gesê: Vader, hier is ek om u wil te doen. En die
Gees van die Here het Hom die woestyn ingestuur. God self bring
Hom op die dorre plek. En nou moet Christus die gevolge van die
verpligte verblyf in die woestyn aanvaar. As Vader Hom nie eens
die sprinkane van Johannes gee, dan mag Christus nie eet nie.
Want ’n stem het tot Hom gesê: eet wat Vader u gee, en dit
alleen. Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke
woord wat deur die mond van God uitgaan.

Satan wil dat Christus buite God se woord vir
ete sorg, dat Hy ten alle koste sy honger stil. Maar Christus wys
hom af. Hy bely sy afhanklikheid van die Vader. Hy onderwerp Hom
volkome aan die woord van Vader. Hy gaan hom nie eiemagtig
voorsien van kos nie. Hy wag op Vader se tyd. Dit is sy spyse om
die wil van sy Vader te doen.

Gemeente, ons herken satan se werkwyse ook vir
vandag. Nee, ek het nie die mag van Christus nie. Hy was werklik
die Seun van God en Hy kon sonder probleme van klippe brode maak.
Maar ook ons het vandag baie moontlikhede van God ontvang. En ons
word ook versoek. Nie so intensief as Christus toe in die woestyn
nie, 40 dae sonder kos terwyl Hy God se Seun is. Maar die
versoeking is daar ook nou. Alleen in die krag van Christus, wat
oorwin het, kan u oorwin. Hoe sterk is nie die verleiding om my
te vergryp aan God se gawes nie. Veral in ons hoogontwikkelde
kultuur met sy wetenskap en tegniek. Hoe sterk is nie die
verleiding om ons brood los van God se woord te maak.

Ja, ons bely wel dat ons afhanklik van die Here
is. Ook ons seuns en meisies bely dit. Maar hoe pas ons die
belydenis in die praktyk van die lewe? Daar word gesê: julle het
’n goeie verstand, wel seuns en meisies, gaan leer, so kom
jy vooruit, so verseker jy jouself van ’n goeie toekoms.
Asof jy dit self kan doen.

En wat kry jy dan? Alle nadruk gaan dan val op
jou studie. Want jy moet dit daarmee doen. Ten alle koste wil jy
jou kwalifikasies behaal. Dit kan gebeur dat die lees en
bestudeer van die Bybel daaraan opgeoffer word. Daarvoor is
eintlik geen tyd nie. Die lees van koerante is belangriker as die
lees van die Bybel. Selfs die sondag kan in gedrang kom. Jou
opleiding en jou loopbaan is alles.

Wat dink julle, wys so ’n houding dat ek
my volkome afhanklik van God voel? Dat ek my toekoms, my werk of
brood van Hom verwag? Is ek tog nie self besig nie? Wil ek tog
nie uit eie hand lewe nie? Op sigself is studie of ’n
loopbaan ’n pragtige saak as die Here daartoe moontlikhede
gee. Maar dan moet dit wel gesien en gedoen word in afhanklikheid
van die Here? Hoe sal dan die afhanklikheid van Hom moet blyk?
Deur sy wil te doen. Deur Hom met al my gawes te soek en te dien.
Dan sal ek skriflesing en gebed nie kan nalaat nie. Dis ’n
prioriteit.

As werker wil ek daarvoor sorg dat daar brood
op die tafel kom. ’n Goeie saak. God wil my daarby gebruik.
Alleen, vergeet nie: God self sorg vir brood. Alles is afhanklik
van sy woorde. Hy is die enigste Bron van alles wat goed is en al
my sorg en arbeid kan my sonder Sy seën nie baat nie. Werk dan
in afhanklikheid van en gehoorsaamheid aan jou hemelse
Opdraggewer. Dit kan wees dat jy daardeur in moeilikhede kom.
Mense kan soms dinge van jou vra wat nie toelaatbaar is nie.
Miskien dat jy bv sondag in sakeskou moet staan. Miskien dat jou
eerlikheid jou werk in gevaar bring. Dat mense jou daarom nie
langer daar by die werk wil hê nie. Laat jou nie verlei om deur
die knieë te gaan nie. Die mens sal nie van brood alleen lewe
nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. God
sorg vir jou. Om jou werk te behou is nie die allerbelangrikste
nie, maar om te lewe uit die hand van God. Brood wat ek eiemagtig
my toe-eien sal my nie baat nie.

As ondernemer kan ek vandag ook in ’n
moeilike situasie teregkom. Ek moet goed bybly om my mededinger
voor te bly. ’n Mens moet saaklik en slim wees, word dikwels
gesê. Maar dan kan die vra opkom: waar lê die grense? Waar werk
ek wel en waar werk ek nie mee saam nie? Is alles geoorloof wat
wins oplewer? Moet ek ten koste van alles my bedryf in stand hou?
Dit sal duidelik wees dat ons ook hier die verleiding van die
duiwel moet weerstaan, die verleiding om ons brood los te maak
van God se gebod. Die verleiding om eiemagtig my hoof bo water te
hou. Om eiemagtig myself te verryk. Daarom bly die Woord van
Christus baie aktueel ook vir vandag: die mens sal nie van brood
alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God
uitgaan.

Probeer nie om uit jou eie hand te lewe nie,
maar lewe uit God se hand. My lewe is nie afhanklik van brood nie,
maar van God se woorde. Laat ons eerlik wees: ondanks ons
pragtige belydenis sit die gedagte om dit self te moet doen tog
vasgeroes in baie harte. Die samelewing voed die gedagte. Alles
is tog afhanklik van die mens met sy wetenskap en tegniek, van
die landbou, van die industrie en handel?

Nee, sê die Here. Met al jou handel en tegniek
kan jy nie jou bestaan waarborg nie. Die lewe is volkome
afhanklik van my woord. Let maar op die vloede wat Ek gestuur het.
Een woord uit My mond en die stad van die mens tuimel in mekaar.
Sonder my woord ly julle honger in die rykste land. Met my woord
eet julle ook daar waar niks wil groei nie. As God spreek dan is
daar iets. Wanneer Hy nie spreek nie dan is daar niks nie. Beroem
jou nie in eie krag en vindingrykheid nie. God het sy volk in
Deut 8 daarvoor vantevore gewaarsku. Ons lees immers: "Neem
jou in ag dat jy die HERE jou God nie vergeet deur sy gebooie
… nie te hou nie; sodat jy nie miskien eet en versadig word
nie en mooi huise bou en bewoon, en jou beeste en jou kleinvee
vermeerder en jou silwer en goud vermeerder, ja, alles wat jy het,
vermeerder – en jou hart hom dan verhef, dat jy die HERE jou
God vergeet … - en jy in jou hart dink: My krag en die
sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe. Maar dink
aan die HERE jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te
verwerwe." (Deut 8:11-20).

In die politieke en ekonomiese lewe bly dit die
kern van die saak ook vandag: wil u volstrek van God afhanklik
wees of nie? God beproef u in ’n tyd van ekonomiese
onsekerheid. God beproef u in ’n tyd van toenemende
moontlikhede. Gryp u self na brood en welvaart of leef u uit God
se hande?

Christus leer u om die sake nie van mekaar los
te maak nie: jou geloof en jou daaglikse brood. Asof jy vir jou
geloof by God moet wees en self vir jou daaglikse brood moet sorg.
Ook jou brood en jou groentes is daar alleen by die grasie van
God se woorde. Maak daarom nie jou kos en drank, jou werk en
welvaart los van God nie. Juis in die daaglikse lewe kom dit
daarop aan om te lewe by die woord van God. Dit is vir jou ’n
lewenskwessie wat jy doen met God se woord. Sonder Hom loop ook
’n weelderige lewe hopeloos vas. Met Hom is u geseënd in
goeie en slegte dae. U lewe is immers nie afhanklik van brood nie,
maar van God se woord. Gaan daarom nie uit eie hand lewe nie,
maar leef uit die hande van die Here.

Soos die Psalmis dit in Ps 104 verwoord:

Wat leef in water en op land,
Verwag hul spyse uit u hand.
Ontsluit U dit, hul word verkwik;
Hou U dit toe, hul word verskrik.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)