Die verskeidenheid moet die eenheid van Christus se liggaam dien.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-02-13
Teks: 
Romeine 12
Preek Inhoud: 

Romeine 12:3-8
Ds C Kleyn - Sondag 13
Februarie 2000

Lees: 1 Korinthiërs 12:12-31;
Romeine 12:1-8.
Sing: Apostoliese
Geloofsbelydenis; Ps 111:1,2; Ps 111:5; Ps 133:1,2; Ps 131:1-3 (na
kollekte).

Tema: Die verskeidenheid moet die eenheid van
Christus se liggaam dien.

  1. die eenheid - ons houding
  2. die verskeidenheid - die gebruik van ons
    gawes

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Aan die heilige nagmaal sien ons die eenheid
van die gemeente van Christus. Die tafel gemeenskap is ’n
geloofsgemeenskap. Wat is dit immers wat ons verenig aan die
tafel van die Here? Dis ons gemeenskaplike geloof in Jesus
Christus. Wanneer ons aan die tafel sit dan gee ons uiting aan
ons gemeenskaplike geloof. Jesus Christus staan in die middelpunt.
In Christus word ons aan mekaar verbind. In Christus vind ons ons
eenheid as volk van God.

Binne die gemeente is daar egter ook groot
verskille. Ons het verskillende agtergronde, verskillende
karakters, verskillende vermoëns en swakhede. Dit kan soms tot
groot frustrasies lei. Ons kom dan nie goed met mekaar klaar nie.
’n Mens sien dit soms reeds by die skool in bepaalde klasse.
Sommige kinders kan gewoon nie met mekaar klaarkom nie. Hulle
raak moeg van mekaar en onttrek hulle aan diegene wat hulle nie
waardeer nie. Hulle het dan omgang met mense wat dieselfde dink
en doen.

Iets dergeliks gebeur ook onder volwassenes.
Lidmate het die neiging om afstand te neem van mense wat anders
dink as hulself. Mense is geneig om om te gaan met hulle wat van
gelyke gedagtes is. Dit kan soms sigbaar word by die studie
verenigings. As ek nie goed inpas, dan los ek dit.

Broeders en susters, seun en dogters is ons op
die goeie pad hier? Is dit die manier op met die verskille om te
gaan? Wat wil God hê dat ons doen? Die woorde van die teks gee
ons rigting.

Ek verkondig aan u: die verskeidenheid moet die
eenheid van Christus se liggaam dien

  1. die eenheid - ons houding
  2. die verskeidenheid - die gebruik van ons
    gawes

Die verskeidenheid en die eenheid van die
gemeente word verduidelik met die beeld van die liggaam. Ons lees
in die verse 4,5: "Want soos ons in een liggaam baie lede
het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons
almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van
mekaar." Dis die basiese prinsipe wat u altyd in gedagte
moet hou wanneer u u plek en funksie in die gemeente oordink.

Deur die kerk met ’n liggaam te vergelyk
maak Paulus verskillende dinge duidelik. In die eerste plek blyk
daaruit dat die gemeente een geheel is. Geen enkele lid staan op
homself nie, afgeskei van die liggaam nie. Gestel dat daar ’n
been of arm is sonder die liggaam. So ’n losse lidmaat is
afgryslik, waardeloos. Ons is almal deel van die geheel.

Die beeld van die liggaam wys ook daarop dat
die gemeente ’n noodsaaklike verskeidenheid ken. Sonder die
verskeidenheid van lidmate en funksies is daar geen liggaam nie.
As daar niks anders as oë is nie, dan is dit nie ’n liggaam
nie. As daar slegs een orgaan is, waar is dan die liggaam? ’n
Liggaam bestaan nou eenmaal uit baie lede, wat onderskei is. Elke
lid het sy eie plek en funksie. As een daarvan ontbreek praat ons
van ’n verminkte liggaam.

Ten slotte wys die beeld van die liggaam ons
dat die lede slegs goed kan funksioneer wanneer hulle mekaar dien.
Los van die liggaam sterf die lidmate af. Hulle kan dan nie meer
funksioneer nie. Dit is ook so met die lidmate van die kerk. Ons
het verskillende gawes ontvang. As lidmate van die liggaam moet
ons daarom die liggaam dien. Gestel dat die voet sou dink dat hy
die belangrikste is en dat hy die oë sou verwaarloos. Dit sou
uiters gevaarlik wees, rampsalig. Elke lidmaat is nodig vir die
welsyn van die hele liggaam. So moet ek my gawes tot nut en
saligheid van die ander lidmate aanwend. Alleen so kan dit met
die lidmate en met die liggaam goed gaan.

Wel, gemeente, hierdie waarheid moet nou my
houding teenoor myself en ander bepaal. Daarom roep Paulus elkeen
op om nie van homself meer te dink as wat ’n mens behoort te
dink nie. Hoogmoed is ’n kwaal wat die eenheid dikwels
versteur. Ek dink dan teveel van myself. Ek oorskry die grense
wat God vir my gestel het. Dit kan op allerlei maniere gebeur.
Miskien dat ek my begin verhef bo die ander. Ek is die persoon
wat reg is, ek het baie kennis, ek is sterk, ek doen God se wil,
ek is ’n eerste klas christen. As gevolg daarvan gaan ek dan
neersien op ander. Hulle sien dinge nie reg nie, hulle is maar
dom of swak of slap. Hulle is minderwaardige christene, as hulle
tenminste christene is. Hoogmoed blyk ook uit die weiering om na
ander te luister. Ek weier om my te laat korrigeer. Ek aanvaar
geen kritiek nie.

Hier het ons ’n element van wêreldgelykvormigheid
waarteen Paulus ons reeds gewaarsku het in vers 2. So ’n
houding is in feite wêrelds – ook al gebeur dit onder
leidende figure in die kerk. Kenmerkend vir die wêreld is immers
dat die mense die skepsel eer en dien bo die Skepper. Hoogmoed
pas in die goddelose wêreld waar ’n mens geen rekening met
God hou nie en daarom eie posisie en vermoëns oorskat.

Broeders en susters, dis nie vanselfsprekend
dat ons van die wêreldse houding vry is nie. Daarom sê Paulus
vir elkeen dat hy nie van homself meer moet dink as wat ’n
mens behoort te dink nie. Gryp nie te hoog nie. Maar dink daaraan
om besadig te wees. Wees nugter in jou denke, verstandig,
realisties. Gebruik jou verstand goed. Nie jou verduisterde
verstand nie – wat die waarheid in ongeregtigheid onderdruk
nie – maar jou verligte verstand. Ja, wys dat jou verstand
inderdaad deur die Gees verlig is, deur anders na jouself en
ander te kyk. Deur God in sy voorsienigheid op te merk in jou en
hulle lewe. Ken jou plek voor God en teenoor mekaar. Oorskry nie
die grense wat God gestel het nie. Verbeel jou nie dat jy meneer
Groot of meneer Weetal is nie. Die ander persoon het ook sy gawes.
Meet jouself nie aan jou eie meetstok nie. Meet jouself aan God
se meetstok. Dan sal jy ontdek dat jy ook ’n beperkte en
afhanklike skepsel is.

Paulus wys waar die grens lê wanneer hy sê:
dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan
elkeen toebedeel het. Wanneer jy jouself en ander takseer, neem
dan in rekening die maat van geloof. In verband met wat volg sal
ons die geloof hier in ’n spesiale sin moet neem, as die
geloofswerkinge, as die spesiale gawes wat God aan die gelowiges
toebedeel het. Vers 4 sê : die lede het nie almal dieselfde
werking nie. Vers 6 voeg daaraan toe: Ons besit genadegawes wat
verskil volgens die genade wat aan ons gegee is. Die verse 6-8
noem dan die verskillende funksies en gawes. In die verband
verwys die "maat van geloof" waarskynlik dus op die
besondere gawes wat God sy gelowiges gegee het. Die gemeente is
’n ryk geskakeerde geselskap. Daar is nie een lid wat
presies dieselfde as die ander is nie. Elkeen het sy eie
onderskeie moontlikhede. Die maat van elkeen hang saam met elkeen
se natuurlike gawes, karakter en geskiedenis. Dinge wat God in sy
voorsienigheid bepaal. Een persoon kan ander dinge en moontlik
meer as ander. Ons het almal ons sterk en swak punte. Die een is
meer verstandelik aangelê. Die ander is meer prakties in sy
benadering. Daar is daarom onderskeie gawes onder die lidmate
verdeel. Elkeen ontvang wat die apostel sy maat noem.

Dit word die maat van geloof genoem. Nie omdat
elkeen ’n verskillende porsie van geloof kry nie. Nee, die
geloof word genoem omdat elke gawe in samehang met die geloof
gegee word. Dit is ’n geloofsmaat. Ek maak dit my eie deur
geloof. Wanneer ek die vermoë het om onderrig te gee dan gebruik
ek die gawe in geloof, vertrouend op God wat my die vermoë gegee
het. Wanneer ek my hande goed kan gebruik dan doen ek dit in
geloof, siende op God wat my so gemaak het. Ek sien my maat en ek
respekteer dit. Ek het nie slegs te doen met menslike vermoëns
en beperkings nie. Nee, dit gaan oor moontlikhede en beperkings
wat God stel. Daarom het ek geen reg om te roem oor my
moontlikhede nie. Wat besit ek wat ek nie eers ontvang het nie?
My gawe is ’n produk van God se genade. My vermoë om goed
te leer of goed te onderskei is ’n gawe van God. My
praktiese vaardighede kom ook van God. Ek het geen reg om myself
bo ander te verhef nie. Alle gawes is bewyse van God se liefde
vir mense wat dit nie verdien nie. Wanneer die Here in sy
voorsienigheid my sekere kennis, ervaring, talente gee, het ek
dan ’n rede om neer te sien op ander wat ’n ander
geskiedenis deurloop het en wat ander gawes gekry het?

Gemeente, om besadig te wees beteken ook dat ek
die gawes wat God aan my gegee het respekteer. Ook dat ek die
gawes van ander opmerk en aanvaar. Ek waardeer dan hul bydrae.
Ook al is dit miskien kritiek op my denke of doen. Ek weet dat ek
nie selfgenoegsaam is nie. Ek is ’n deel van Christus se
liggaam. Op my eie is ek onvolledig. Ek moet deur ander aangevul
word, soos die voet die oog nodig het om goed te funksioneer. So
is ook die korreksie of teregwysing van ander welkom, ook al maak
dit seer. Dit is vir my welsyn – dit is hoe ek des te beter
kan funksioneer. Ja, dis hoe die hele liggaam kan funksioneer
soos dit behoort.

Daarom is dit so droewig wanneer mense hulle
onttrek van mekaar, of wanneer groepe van mense hulle onttrek.
Dis waar, persoonlikhede akkordeer nie altyd ewe goed nie. Maar
besef u wat gebeur wanneer u u terug trek in u eie knusse groep?
U mis dan die interaksie wat u nodig het. Wees bly met ander
mense wat anders en selfs krities is. Dit hou my op my tone. Dit
help my om die belemmerings in my lewe te ontdek. Dit help my om
my gedagtes en dade te korrigeer. Dit help my om des te beter te
funksioneer tot eer van God. So lank as ek daaraan bly dink om
besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen
toebedeel het.

Gemeente, om besadig te wees beteken ook dat ek
valse skaamte aflê. God het elkeen van julle ’n sekere maat
gegee. Wanneer ek myself onderskat, dan weier ek in feite om God
se genade in my lewe te erken en om sy gawes te waardeer. So
beledig ek God wat my ’n eie plek en eie moontlikhede gegee
het. Dis geen skande om minder intellektueel en meer prakties te
wees nie. Dis ’n eer. Dis God se besondere gawe vir jou.
’n Gawe bestem vir die welsyn van die liggaam. Om hulle aan
te vul wat bv meer intellektueel is. So kan die verskillende
talente in die kerk en op die verenigings mekaar pragtig aanvul
tot wedersydse heil en vreugde.

Om besadig te wees na die maat van geloof
beteken dus dat elkeen van ons sy of haar eie plek en talente
aanvaar, dat elkeen sy onderlinge afhanklikheid erken en so ook
die ander met sy gawes respekteer.

Dis nie altyd maklik nie. Die verleiding is
daar om die grense te oorskry, om hoër te gryp as wat God aan
ons gegee het. Ons is geneig om ons moontlikhede aan onsself toe
te skrywe asof dit ons prestasie is. Ons vergeet maklik dat dit
God is wat in sy soewereine genade en voorsienigheid dit aan my
gegee het. Ons is geneig om neer te sien op hulle wat anders
handel as ons, of wat volgens ons dwaas handel. Daarby vergeet
ons God se beskikking in hul lewe. Daarom skryf Paulus vir elkeen
onder ons – nie een is immuun vir die kwaad – dat hy
nie van homself meer moet dink as wat ’n mens behoort te
dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die
maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het. Die
eenheid van die gemeente dwing ons daartoe. Hoe kan ’n
lidmaat anders doen? Dit sou rampsalig wees, destruktief.

Geliefdes, laat ons nou kortliks kyk na die
verskeidenheid van gawes wat Paulus noem en hoe die lidmate hulle
moet gebruik. Die gedeelte word gekenmerk deur ’n verkorte
spreekwyse. Sekere woorde word dikwels nie uitgespreek nie, maar
veronderstel.

Paulus begin: is dit profesie, na die maat van
die geloof. Met ander woorde: as jou gawe is om te profeteer dan
moet jy die gawe gebruik in ooreenstemming met die norm van die
geloof. Profesie is die deurgee van spesiale openbarings van God.
Die profeet is die mondstuk van God. Hierdie funksie is tipies
vir die begin periode van die Nuwe Testamentiese kerk. Dis ook
fundamenteel. Die kerk is gebou op die fondament van die apostels
en profete. Hierdie gawe moet uitgeoefen word na die maat van die
geloof. Dit beteken dat die profeet nooit iets mag sê wat in
stryd is met die inhoud van die geloof nie. Hy mag nooit homself
in vervoering laat bring en dinge sê wat God nie aan hom
geopenbaar het nie. Die toets is die geloof wat aan die heiliges
oorgelewer is. Die profeet moet betroubaar wees. Soos alle gawes
moet die gawe uitgeoefen word binne die grens van die geloof.

Nou God se openbaring vasgelê is in die
voltooide Skrifte is die gawe van profesie anders. Dit is vandag
die gawe om God se woord te spreek in die konkrete situasie van
die lewe. Die gawe om God se wil te vertolk in die kerke en in
die huise. Dit moet ooreenstem met die norm van God, met die
geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.

Die volgende gawe wat genoem word is bediening.
As ’n mens die gawe het om iemand op ’n praktiese wyse
te help, laat hy die gawe gebruik deur praktiese diensbetoon.
Hierby kan ons dink aan die taak van die diakens, maar dit is nie
tot hulle beperk nie. Dit sien op allerlei diensbetoon in die
gemeente. Die gemeente is immers ’n diakonale gemeente! Laat
ons die gawes om te dien en die geleenthede goed benut deur
mekaar gewoon te dien.

Paulus vervolg: of wie leer, in die lering. Met
ander woorde: as jy die gawe het om onderrig te gee, beoefen die
gawe in die lering. Dit sien op die onderrig uit en volgens die
Skrifte. Dan verklaar jy die Woord van God en pas jy dit toe. Ook
die eenvoudige verklaring van die Bybel vir die jong kinders by
die huis behoort by hierdie gawe. Dis ’n baie belangrike
gawe. Kennis van die Skrif is immers onmisbaar. Ook die
toepassing daarvan vir ons lewens. Laat ons wat die gawe ontvang,
ons daaraan wy tot opbou van die liggaam van Christus. Bv tydens
die bybelstudie maar ook wanneer ons met mekaar praat oor
lewensvrae en gedrag.

"Of wie vermaan, in die vermaning."
Die gawe van vermaan moet ons nie versmal tot wat ons vermaan
noem nie. Die griekse woord is baie ryker. Letterlik is dit
’n kwessie van naas iemand staan om hom in sy situasie toe
te spreek. Afhanklik van die situasie kan die woord dus dui op
vertroosting of vermaning. Daar is sommige mense wat ’n
spesiale gawe het op hierdie gebied. Hulle kan mense aanvoel en
maklik met mense gesels op ’n geestelike wyse. Hulle weet
hoe om die juiste woorde te vind op die juiste tyd. Laat hulle
die gawe gebruik tot opbou van ander.

"Wie uitdeel, in opregtheid". Wie
materieële gawes kan gee, laat hy dit doen in opregtheid. Nie
met verkeerde motiewe nie, bv nie om eie eergevoel te streel nie,
maar van harte in die besef dat hy self alles uit die hand van
God ontvang het.

"Wie ’n voorganger is, met ywer."
Wie geroepe is om te lei, in die gesin, die kerk of die
samelewing, laat hy dit doen met ywer. Dit kan soms moeilik wees,
daarom is die verleiding groot om die verantwoordelikheid te
ontduik. Daarom word ons opgeroep om dit met ywer te doen. Leiers
moet hulself volledig inset. Eendag sal ons teenoor God die Gewer
van die gawe en opdrag rekenskap moet gee.

Ten slotte "wie barmhartigheid bewys, met
blymoedigheid." Die siekes, eensames, bedroefdes en ander
wat swaarkry het besoek nodig van iemand wat weet hoe om ware
christelike meegevoel en begrip te toon, iemand wat ’n groot
hart het vir ander en dit met blydskap toon. Dis vir beproefdes
’n groot bemoediging om te sien dat mense van harte en met
vreugde hulle help. Ons lees in Spreuke 17:22 "’n
Vrolike hart bevorder die genesing, maar ’n verslae gees
laat die gebeente uitdroog."

Gemeente, wanneer ’n mens kyk na al die
gawes wat Paulus noem – en dis maar ’n seleksie –
dan is dit duidelik dat Paulus verwys na ons hart, hoof en hande.
Niks is minderwaardig nie. Om met jou hande te help is nie minder
belangrik as om met jou woorde te help nie. Om meer emosioneel as
intellektueel te wees is ook geen skande nie. Al die gawes is
waardevol as uitdrukkings van elkeen se geloofsmaat.

Wat ook duidelik is, is dat die gawes almal
gegee is om gebruik te word. Tot nut en heil van ander lidmate.
Wanneer God die gawes gee, het Hy die gesondheid van die hele
liggaam, Christus se liggaam, voor oë. Slegs deur die ander te
dien bereik die gawes hul doel. Daarom, broeders en susters, laat
ons ons nie terug trek in ons knusse groep van gelykgesinde mense
nie. Met u gawes het u almal ’n verantwoordelikheid vir die
hele liggaam van Christus. Bowendien, ek het ook hulle nodig wat
minder aangenaam en meer krities teenoor my is. Soos alle lede
moet ook ek gekorrigeer, geslyp word om goed te kan funksioneer.
Laat ons alle hindernisse wat daar is probeer opruim. Bou mekaar
op in ootmoed en laat uself opgebou word. Dan sal God se gawes
werklik tot hul reg kom. Dit sal dan goed gaan met die liggaam en
met die lidmate, met die gemeente en met u as lid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)