Laat u naam geheilig word.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-02-13
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 47
Preek Inhoud: 

Sondag 47
Ds C Kleyn - Sondag 13
Februarie 2000

Lees: Psalm 99; Sondag 47; by
Nagmaals Tafels: Psalm 96: 1-6; 7-13; Psalm 97; Psalm 98.
Sing: Ps 99:1,2; Ps 95:4; Ps 99:3,4
(na preek); Ps 106:1,2 (voor Heilige Nagmaal); Ps 96:1,2 (1e
tafel); Ps 96:5,6 (2e tafel); Ps 97:1,7 (3e
tafel); Ps 98:2 (4e tafel); Ps 148:5.

Tema: Laat u naam geheilig word.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons mag as kinders tot God gaan. Christus het
ons geleer om die gebed te begin met die woorde: onse Vader wat
in die hemel is. Daarmee wek Hy in ons ’n kinderlike ontsag
en vertroue op God. So ’n begin sal die verdere inhoud van
die gebed bepaal. As ek myself as kind van Vader ken, dan sal ek
my in my gebede tog ook as kind van Vader gedra? Wat dit beteken
leer Christus ons in die vervolg van die gebed wat Hy ons leer.
Onmiddellik na die aanspraak volg die bede: Laat u naam geheilig
word. Hier het u ons eerste lewensbehoefte. As kind van God moet
ek vol wees van die naam van God, ja, van God self. Die
verheerliking van God se naam is die hoogste doel in hemel en op
aarde. Sou dit dan nie voorang hê in die lewe van ons God se
kinders nie?

Laat u naam geheilig word, wat beteken dit? Dit
beteken natuurlik nie dat God se naam nog heilig gemaak moet word
nie. God is heilig. In Ps 99 lees ons driemaal die refrein:
Heilig is die Here. Die heiligheid van die Here is dit wat God
onderskei van alle skepsels. Dis sy verhewe Goddelikheid. Dit wat
God tot God maak. Dit wat God van Homself is, sy unieke wese. Dit
blyk dan uit sy werke. Tereg vestig die Kategismus die aandag op
die deugde van God. Die unieke God gaan ’n besondere pad met
sy volk, waarop Hy sy unieke deugde openbaar maak. Hy wys dat Hy
alleen God is.

Ons bid: laat u naam geheilig word. Daar word
nie gesê wie dit moet heilig nie. Dit kan God self wees en/of
ons sy skepsels. Siende op God beteken dit dan: Laat u heiligheid
geld hier op aarde. Laat u deugde skitter. Laat u naam bo alles
uitspring. Laat uself tog sien in die wêreld, in die volheid van
u deugde. Toon uself in u unieke heerlikheid en krag.

Ons bid dan in die eerste plek of God in aksie
wil kom. Dis nie ’n kleinigheid nie. As die heilige God in
aksie kom dan gebeur dinge. Die regverdige God laat hom geld. Wat
sy heiligheid nie kan verdra nie, word getref. Die mense en die wêreld
word gesuiwer van die sonde. Besef u wel wat u vra wanneer u bid:
laat u naam geheilig word? U bid God se oordele los, dat Hy wraak
oefen oor die sondige dade van mense.

Wanneer God sy naam heilig dan sien dit egter
nie slegs op gerig nie. Die Here het hom ook bekend gemaak en
gewys as ’n genadige God. God eis volkome gehoorsaamheid. Hy
is heilig en haat die sonde. Hy kan dit nie ongestraf laat bly
nie. Hy is regverdig, maar terselfdertyd ook ’n liefdevolle
en vergewende God. Luister maar na Ps 99:8 "Here onse God, U
het hulle verhoor, U was vir hulle ’n vergewende God en Een
wat wraak oefen oor hulle dade." Die twee hoort bymekaar.
God is liefde. Hy het die sondaar oneindig lief. Maar hy is ook
regverdig. Die twee is nie met mekaar in stryd nie. God se deugde
is een. God se toorn teen die sonde is immers so groot dat Hy
– eerder as om dit ongestraf te laat bly – sy geliefde
Seun Jesus Christus met die bittere en smadelike kruisdood
gestraf het. So is die toornende God ook die vergewende God. Hy
troon op die gerubs (Ps 99:1). Hy wou onder sy volk woon in die
tempel. Die Here is groot in Sion. Hy wys Homself aan sy volk as
groot en goed. Hy laat ook sy aanwesigheid voel. "U het reg
en geregtigheid gedoen in Jakob." Hy het sy wet gegee, maar
tegelykertyd het Hy gesorg vir die handhawing van sy wet.

God se heiligheid werk na twee kante toe. Dit
brand as ’n vuur om alle onheiligheid van hulle wat buite
Christus is te vernietig. God straf in sy toorn. Vir hulle wat
met belydenis van hul skuld tot Christus kom, sien ons egter dat
God se heiligheid hulle koester en louter. God is vir hulle
’n vergewende God. Dit is dus nie twee pole by God nie. Dit
is die heiligheid van die een ware God soos Hy Hom in die wêreld
openbaar.

Die Kategismus noem enkele deugde van God. In
al God se werke skitter God se almag, wysheid, goedheid,
geregtigheid, barmhartigheid en waarheid. Maar, broeders en
susters, herken u die heiligheid van God nog wel in die daaglikse
gebeurtenisse. Verstaan u nog wel die taal van die feite? Laat u
u nog onderrig deur God se werke van skepping en verlossing?
"Die hemele vertel die eer van God" lees ons in Ps 19
"en die uitspansel verkondig die werk van sy hande."
Hoor u dit nog? Sien u dit nog? Prys u God se deugde nog in al sy
werke, ja, ook in die gerigte, ook in die oorstromings van die
afgelope week? Volg u God se pad deur die geskiedenis? God se
werke in die politieke veranderings, in die ekonomiese krisisse
of groei, in die verval of reformasie van die kerk? Sien u u God
nog wel besig as die heilige? Die Kategismus gaan daarvan uit die
God se deugde skitter in al sy werke. En in feite bid ons
daarvoor wanneer ons bid : laat u naam geheilig word. Laat u
deugde skitter. Toon uself in u heerlikheid en krag. Wys uself
soos u is tot redding en suiwering van u volk en tot verderf van
u vyande.

Laat ons vinnig kyk na die verskillende deugde
van God wat die Kategismus noem. Vir God se almag is niks te
wonderlik nie. Hy het die hemel en aarde geskep. Hy onderhou nog
steeds alles deur sy almagtige krag. Ook in sy verlossingswerk
sien ons sy almag. In sy almag het Hy ons verlossing bewerk deur
sy Seun, gebore uit die maagd Maria. In sy almag verbind hy my
aan Christus, vernuwe Hy my hart, bevry Hy my van die slawerny
van die sonde, beweeg Hy my tot geloof en bekering, vernuwe Hy my
lewe, sodat ek met Christus opstaan tot ’n nuwe lewe. Dis
’n opwekking uit die dood. Sien tog sy almag.

In sy wysheid het God alles op ’n baie
wonderlike manier geskape en georden. In sy wysheid lei Hy die
geskiedenis na sy doel, die voltooiing van sy ryk. In sy wysheid
het Hy ons verlossing bedink, sodat Hy my, ’n verlore
sondaar, kon regverdig sonder onregverdig te wees.

God se goedheid is ook baie groot. In sy
goedheid laat Hy sy son oor alle mense skyn. In sy goedheid stel
hy ’n grens aan die gevolge van die sonde, aan die rampe wat
oor die aarde kom. In sy goedheid bekommer hy hom oor sy nietige
skepsels.

Sy geregtigheid waarborg die handhawing van sy
reg. Dit beteken oordeel vir die onregverdiges en verlossing vir
die regverdiges. Dit beteken ook dat Hy sy Seun as ons
plaasvervanger gestraf het met die oordeel wat ons sondes verdien
het.

God wys sy barmhartigheid daarin dat Hy ons
sondes vergewe in Jesus Christus. Sien God soos sy hart oopgaan
vir ons sondaars aan die Heilige Nagmaal.

Ten slotte noem die Kategismus God se waarheid.
God doen wat Hy sê. Sien ons dit nie in ons lewe en in die
geskiedenis van die wêreld nie. God vervul sy beloftes, ook sy
beloftes van vergewing en vernuwing. U ervaar dit tog in u lewe.
Uiteindelik sal geen woord van Hom onvervuld bly nie.

Ons bid: laat u naam geheilig word. Laat dit
deur U geheilig word sodat u deugde skitter vir alle mense. Maar
ook: laat u naam deur ons geheilig word. Gee dat ons u deugde
opmerk, erken en prys. Laat elkeen erken dat U alleen God is.
"Gee dat ons U reg ken en dat ons U heilig, roem en prys in
al u werke. Gee verder dat ons ons hele lewe, gedagtes, woorde en
werke daarop sal rig dat u Naam om ons ontwil nie gelaster nie,
maar geëer en geprys word." Dis soos die Psalmis dit
formuleer in Ps 99: "Die Here is Koning; laat die volke bewe!
Laat hulle u grote en gedugte Naam loof! Heilig is Hy! Verhef die
Here onse God en buig julle neer voor die voetbank van sy voete.
Heilig is Hy!"

Broeders en susters, is dit nie waaroor dit
gaan by die viering van die Heilige Nagmaal nie? Die Here is
heilig. As dit êrens blyk dan wel in sy werk van verlossing. Aan
die Heilige Nagmaal mag ons juis sy werk van verlossing vier. Aan
die tafel skitter sy deugde, sy almag, wysheid, goedheid,
geregtigheid, barmhartigheid en waarheid. U sien dit tog? Laat
ons dan sy Naam roem en prys. Aan die tafel. Maar ook daarna in u
daaglikse lewe. Die hoogste doel van ons lewe is immers: die
verheerliking van God.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)