Die betekenis van die aanhef: "onse Vader wat in die hemel is."

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-02-06
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 46
Preek Inhoud: 

Sondag 46
Ds C Kleyn - Sondag 6 Februarie
2000

Lees: Romeine 8:12-39; Sondag
46.
Sing: Ps 30:1-3; Ps 112:1-4; Ps
103:6,7; Ps 33:9-11; SB 33:1-3.

Tema: Die betekenis van die aanhef: "onse
Vader wat in die hemel is."

  1. As ’n voorreg
  2. As ’n verantwoordelikheid.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

"Onse Vader wat in die hemel is." Ons
is daaraan gewoond om God so aan te roep. Dit klink so normaal.
Tog is dit nie sommer so iets om God so aan te roep nie. Dis baie
besonder. Dis onvoorstelbaar! Geweldig! Dink maar eers daaroor na.
Sodat u gebed aan krag en diepgang kan wen. Wat beteken dit vir u,
vir jou om God as onse hemelse Vader aan te roep? Is ons bewus
van die voorreg wat dit behels en van die verantwoordelikheid wat
daarmee saamkom?

Vanoggend wil ek aan u verkondig die betekenis
van die aanhef: "onse Vader wat in die hemel is."

  1. As ’n voorreg
  2. As ’n verantwoordelikheid.

Besef u wel broeders en susters, hoe besonder
dit is om God as Vader aan te spreek? ’n Mens sou kan sê
dat die openbaring van God as Vader in sekere sin die klimaks van
die bybelse boodskap is. Let maar op die verskil tussen die Ou en
Nuwe Testament. Met watter naam het God Homself in die Ou
Testament bekendgemaak? Met watter naam mog die volk Hom aanroep?
Die naam Jahwe, vertaal met HERE, met hoofletters, Ek is wat ek
is. Ek sal wees wat ek belowe het te sal wees. Jahwe, dit is God
se verbondsnaam. Tog benadruk die naam wat God in Homself is
– Hy is die volkome betroubare wat heeltemal en
onveranderlik Homself is - en nie soseer wat Hy vir sy volk is
nie. Dit is die offisiële naam van Israel se koning. Dis ’n
naam wat veral ontsag en nederigheid moet inboesem.

In die Ou Testament val baie nadruk op God se
heiligheid. Dink maar aan die tempel met die Heilige en die
allerheiligste wat met ’n voorhangsel geskei is van die res
van die tempel kompleks. Dink maar aan al die seremoniële wette.
Die woord heiligheid laat veral dink aan skeiding of afsondering.
Mbt God sien dit op alles wat Hom van sy skepsels onderskei en
afsonder, sy grootheid en sy reinheid. Godsdiens word in die Ou
Testament bepaal deur die gedagte van God se heiligheid. Die
nadruk val voortdurend op die feit dat ons, vanweë ons swakheid
en sondigheid, ons voor God moet verootmoedig en ontsag vir Hom
moet hê. Herhaaldelik word dit beklemtoon dat ons in die
teenwoordigheid van die heilige God ons eie plek moet ken en
afstand moet hou.

In die Nuwe Testament het dit verander. God se
heiligheid bly. Dit word in die Nuwe Testament veronderstel. Ook
ons roeping om ons te verootmoedig voor Hom, bly staan. Tog het
die aksent verander. Die nadruk val nou meer op God se Vaderskap.
Ons roep God nou aan as Vader. God se verbondsnaam het nou as
‘t ware "Vader" geword. Gelowiges is sy kinders,
sy seuns en dogters, sy erfgename. Die Nuwe Testament benadruk
nie die moeite en gevaar om naby die heilige God te kom nie. Dit
het verskuif na die vrymoedigheid en vertroue waarmee ons God mag
nader. Die vrymoedigheid kom deur die geloof in Jesus Christus.
Dit is gegrond op die verlossingswerk wat Hy volbring het. So
lees ons in Ef 3:12: "in wie ons die vrymoedigheid en die
toegang het met vertroue deur die geloof in Hom." En in Hebr
10: 19 vv lees ons: "Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid
het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op
die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het …laat ons
toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid."
Vir u, wat aan Christus behoort, is die heilige God ’n
liefdevolle Vader. U behoort by sy gesin. U mag Hom nader sonder
vrees. U mag altyd seker wees van sy vaderlike sorg. Dit is die
hart van die evangelie.

Gemeente, wat beteken dit dan dat God ons Vader
is? God het die volle betekenis daarvan onthul deur sy Seun ons
Here Jesus Christus. Soos Hy Vader van ons Here Jesus is, so wil
Hy Vader vir ons wees. Ons leer dit veral uit Joh se evangelie en
uit sy briewe. Wat dink u van die uitspraak van Jesus by sy
eerste verskyning na sy opstanding: Ek vaar op na my Vader en
julle Vader, en my God en julle God. (Joh 20:17). Is dit nie
geweldig nie: God se eniggebore seun praat van my Vader en julle
Vader, my God en julle God. In sy eerste brief teken Joh ons kind
wees van God as die uitnemende gawe van God se liefde. "Kyk
wat ’n groot liefde die Vader aan ons gegee het, dat ons
kinders van God genoem kan word!" (1 Joh 3:1).

Laat ons enkele aspekte van God se vaderskap
noem.

Vaderskap beteken eerstens gesag. Die Vader
bepaal wat moet gebeur en Hy beskik oor dinge. So hoor ons die
Seun Jesus Christus sê: "Ek het uit die hemel neergedaal,
nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur
het." (Joh 6:38). "Die werk wat U My gegee het om te
doen, het Ek volbring." (Joh 17:4). Dit geld ook vir ons God
se aangenome kinders. Vader het gesag en wil hê dat ons sy wil
doen.

Vaderskap beteken ook toegeneentheid, liefde.
Ons hoor die Seun sê: "Die Vader het die Seun lief" en
"Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle liefgehad…As
julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek
die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly." (Joh 5:20;
15:9vv). Soos die Vader sy eniggebore Seun liefhet, so het Hy ons,
sy geadopteerde kinders, lief. Dink aan die bekende woorde van
Jesus: In daardie dag sal julle in my naam bid; en Ek sê nie vir
julle dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie; want die
Vader self het julle lief (Joh 16:26,27).

Die Nuwe Testament meet God se liefde aan twee
dinge: eerstens aan die kruis, tweedens aan die gawe van
aanneming tot kinders. "God bewys sy liefde tot ons daarin
dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was" (Rom
5:8) en "Kyk wat ’n groot liefde die Vader aan ons
bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word." (1 Joh
3:1). Van alle genade gawes is die gawe van aanneming die hoogste.
Die gawe van vergewing is reeds geweldig. Ek ’n verlore
sondaar, wat dood was deur die misdade en sondes, word
vrygespreek. Dis reeds onvoorstelbaar. Wanneer ek egter hoor dat
God my as ’n seun of dogter in sy huis opneem, dan besef ek
des te meer hoe geweldig en grenseloos God se liefde is.

In die antieke wêreld was dit normaalweg
kinderlose en ryk egpare wat aan adopsie gedink het. Hulle het
’n erfgenaam gesoek wat die familie naam sou kan voortdra.
Daarom het hulle meestal ’n ouere seun aangeneem, een wat
homself reeds bewys het, as ’n waardige kandidaat om die
familienaam voort te dra. Tov ons, sien ons egter dat God ons
aanneem, nie omdat ons karakter of reputasie ons sou wys as
waardig nie, maar uit vrye liefde. God neem my aan ondanks die
feit dat ek uit myself totaal onwaardig is. Ek is nie geskik vir
’n plek in God se gesin nie. Die idee dat God my, ’n
sondaar, liefhet en verhef soos Hy sy eie Seun liefgehad en
verhef het, klink dwaas en vergesog. Tog beteken die feit dat ek
Vader mag sê niks minder as dit nie. In sy grondelose liefde het
God my as sy kind aangeneem. Hy was nie verplig om dit te doen
nie. Hy het niks aangaande my sondes hoef doen nie, behalwe om my
daarvoor te straf. Maar Hy het my liefgehad; Hy het my verlos; Hy
het my vergewe; Hy het my as sy seun of dogter aangeneem en
Homself aan my gegee as Vader. Wat ’n genade, groot en skoon!

Gemeente, om God Vader te noem herinner ons nie
slegs aan sy liefde nie, maar ook aan sy gemeenskap. Christus het
gesê: "Tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is."
En "Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie
alleen gelaat nie, omdat ek altyd doen wat Hom welgevallig is."
(Joh 16:32; 8:29). Dieselfde geld ook vir ons God se aangenome
kinders. Ons lees in 1 Joh 1:3 "Ons gemeenskap is met die
Vader en met sy Seun, Jesus Christus."

Vader is met ons. Op ’n permanente basis.
Sielkundiges vertel ons hoe belangrik dit is dat ’n gesin
stabiel en veilig is. As daar iets makeer aan die ouer-kind
verhouding, dan kan dit nadelige gevolge het. By God is daar
egter absolute stabiliteit en veiligheid. Vader is ’n
hemelse Vader. Hy is volkome wys en goed. Ons posisie as kinders
is altyd gewaarborg. "Die doop is immers ’n seël en
volkome betroubare getuienis dat ons ’n ewige verbond met
God het." Miskien dat ek, soos die verlore seun van die
gelykenis, niks anders kan sê as: "Vader, ek het gesondig…
en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos
een van u huurlinge." (Lk 15:18vv). Maar God ontvang my as
seun of dogter en Hy het my lief soos Hy sy eniggebore Seun
liefhet. Daarom kan Paulus ook in Rom 8 triomfantelik uitroep:
"Ek is versekerd dat niks ons sal kan skei van die liefde
van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie." God
sal ons nooit vergeet nie. Hy sal nooit ophou om vir ons te sorg
nie. Hy bly onse Vader.

Dat ons Vader mag sê beteken ook dat ons
erfgename is. Waarom het mense in die ou tyd seuns aangeneem? Dit
was om ’n erfgenaam te hê, iemand wat die familienaam en
besit kon voortdra. Ons is ook geadopteer om erfgename te wees.
Paulus verwoord dit oa in Gal 4:7: "Daarom is jy nie meer
dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van
God deur Christus." Dit word bevestig in Rom 8: 16,17:
"Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van
God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van
God en mede-erfgename van Christus." Alle erfgoed behoort
aan die kinders. Daarom lees ons in 1 Kor 3: 21-23: "alles
behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus
aan God."

Gemeente, tot nou toe het ons gelet op die
geweldige voorreg om God as Vader te mag aanroep. As God ons
Vader is, dan wil dit sê dat ons sy kinders is. Die aanspraak
beteken dat God gesag het. Hy is uiteindelik Vader. Dit beteken
dat God ons liefhet soos Hy sy eniggebore Seun liefhet. Hy is
’n ware Vader. Dit beteken dat ons deel in sy gemeenskap.
Dit beteken dat ons erfgename is, erfgename van alles. Sien u dit
wel as u God as Vader aanroep? Dis ’n geweldige aanspraak.
Dit beteken alles vir ons. Ons is skatryk met so ’n Vader.
Ons is bevoorreg bo enige heerser of miljoenêr.

Nou wil ek let op die verhouding as ’n
verantwoordelikheid. God se gawe bevat ook vir ons ’n opgawe.

Broeders en susters, as God as Vader gesag het,
hoe moet ek my dan teenoor Hom opstel? Dan moet ek my aan Hom
onderwerp. Gehoorsaam wees aan sy wil. Ontsag vir Hom hê. Soos
ek ontsag vir my aardse vader het. Ja, nog meer as dit, want Hy
is my hemelse Vader. My aardse vader is maar beperk in sy
moontlikhede. Hy is sondig en sterflik. Somtyds gedra hy homself
onwaardig. My hemelse Vader is baie groter. Hy is nie begrens
deur enigiets nie. Hy weet perfek wat goed is. Hy doen alles
perfek. Daarom moet ek van sy hemelse majesteit nie aards dink
nie. Daar is alle rede om my gewillig en met vreugde aan sy gesag
te onderwerp. Nie slegs omdat dit moet nie, maar omdat Hy ’n
volmaakte Vader is. Aan wie kan ek myself beter onderwerp en
toevertrou as Hy?

Gemeente, as ons mag deel in die liefde en
gemeenskap van die Vader dan moet daar by ons ook kinderlike
vertroue wees. Vertroue in sy liefde en sorg. Jesus Christus kon
na die opwekking van Lasarus tot sy Vader sê: Ek het geweet dat
U My altyd verhoor. So wil God ons sy geadopteerde kinders ook
altyd verhoor. Die Vader is altyd bereikbaar. Hy is nooit te
besig om te luister na wat ons Hom voorhou nie. Daarop mag ons
vertrou.

Daarom as ek Vader sê dan mag ek in my gebed
vrymoedig wees. Deur Christus het ek die vrymoedigheid van ’n
kind. Soos ’n kind wat vryelik van sy vader enigiets durf
vra. "Bid, en vir julle sal gegee word; … elkeen wat
bid ontvang …As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes
aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in
die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!" (Mt 7:7-11).

Vertrou u daarop, broeders en susters, ook mbt
u fisiese en materiële behoeftes? Die Here Jesus herinner hulle
wat in hul geloofslewe beproef word aan die feit dat hulle
kinders van die Vader is. "Moenie julle kwel oor jul lewe"
sê Jesus, "wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of
oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie" (Mt 6:25).
Maar, sê miskien iemand, dis nie realisties nie. Hoe kan ek
anders as om bekommerd te wees wanneer ek dit of dat ervaar in my
lewe, wanneer ek bv geen werk kan vind nie of wanneer my inkomste
ontoereikend is, of as ek vanweë siekte geen inkomste kan
genereer nie? Hierop antwoord Jesus: julle geloof is te klein.
Het julle vergeet dat God jul Vader is? "Kyk na die voëls
van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring
nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle.
Is julle nie baie meer werd as hulle nie?" As God vir die voëls
sorg, terwyl hulle nie sy kinders is nie, dan sal Hy tog sekerlik
vir julle, sy kinders sorg? Dit word positief geformuleer in die
verse 31-33. "Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal
ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? …
julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.
Maar soek eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid, en al
hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word."

"Miskien kry ons motor ’n botsing"
sê die klein meisie bekommerd terwyl die familie motor sy weg
baan deur die besige verkeer. "Vertrou op pa, hy is ’n
bekwame bestuurder" sê ma. Die jong dogtertjie is
gerusgestel en ontspan. Vertrou u, vertrou jy ook so op jou
hemelse Vader? Indien nie, waarom nie? U bid tog: "onse
Vader wat in die hemel is"? Daarby behoort vertroue in Hom
as hemelse Vader.

Dis waar, Vader beantwoord nie altyd die gebede
van ons sy kinders op die manier waarop ons dit gevra het nie.
Soms vra ons vir verkeerde dinge. Dis God se reg om goeie dinge
te gee, dinge wat ons nodig het. As ons in ons onverstand vir
dinge vra wat nie goed of nodig is nie, dan behou God, soos elke
goeie ouer, die reg om te sê: Nee, nie dit nie; dit sou nie goed
vir jou wees nie; in plaas daarvan gee Ek iets anders."
Goeie ouers ignoreer nooit sommer wat hul kinders sê nie, nog
hul gevoelens nie. So ook God. Dikwels gee Hy ons egter wat ons
moes gevra het. Paulus het die Here gevra om die doring in sy
vlees te verwyder. Die Here het hom geantwoord deur die doring
daar te laat en deur Paulus te versterk om daarmee te lewe (2 Kor
12:7vv). Die Here weet wat die beste is. Om te suggereer dat die
Here nie Paulus se gebed verhoor het nie, omdat hy nie gekry het
wat hy gevra het nie, sou heeltemal verkeerd wees. Hierdie
voorbeeld uit Paulus se lewe gee ’n antwoord op die
sogenaamde probleem van onverhoorde gebed.

Gemeente, om God as ons hemelse Vader aan te
roep beteken vir ons ook dat ons in blye verwagting moet lewe. As
kinders van God is ons immers erfgename, erfgename van God en
mede-erfgename van Christus. Ons mag en moet vooruitsien. Die
beste is nog op koms. Aan die einde van ons lewenspad wag vir ons
’n ryke erfenis. Dis nie slegs ’n moontlikheid nie. Dis
’n gewaarborgde sekerheid. Vader het dit belowe. Die Seun
het dit verdien. En Vader is die waarheid self. Vader se eiendom
is onmeetlik. Ons gaan die hele vermoë erf.

Ons sal in die heerlikheid van Christus deel.
Ons sal wees soos ons groot broer. Die sonde en die dood wat
alles nou nog bederf sal dan vergoed tot die verlede behoort. Ons
is mede-erfgename met Christus …sodat ons ook saam met Hom
verheerlik kan word (Rom 8:17). "Nou is ons kinders van God,
en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet
dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees" (1 Joh 3:2).

Die gelykenis sal betrekking hê op ons
liggaamlike bestaan, asook op ons karakter en gees. Rom 8 noem
die liggaamlike aspek daarvan. "Ons wat die eerstelinge van
die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die
aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam."
So sal ons op die dag van die opstanding die hemelse lewe en
heerlikheid, wat ons groot broer reeds geniet ten volle ervaar.
Paulus verseker ons dat die hele skepping "wag met
reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van
God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe … in
die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die
slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die
heerlikheid van die kinders van God (Rom 8:19vv). Dit onderstreep
die oortreffende heerlikheid van dit wat ons wag volgens die
goeie plan van God ons Vader.

Ten slotte, ons roep God as onse Vader aan. Ons
bid nie as individualiste nie, maar as lede van sy groot gesin,
as broers en susters van mekaar. Die Onse Vader oefen ons om
voorbede te doen vir die behoeftes van God se gesin. "Onse
Vader … gee ons … vergeef ons …lei ons nie …
verlos ons." ‘Ons’ beteken meer as net ‘my’.
Vir my, God se kind, is die gebed geen vlug van die eenling tot
die groot Eenling nie. Dit is ’n familie saak. My nood is
hulle nood. Hulle nood is my nood. Ons wil mekaar opdra en
saamneem. Ons is saam op pad na die groot familie dag, wanneer
die ontelbare skare van verlostes voor God se troon verenig sal
wees. Wanneer die gemeenskap met die Vader en met ons groot broer
Jesus Christus ten volle geniet kan word en ons hulle van
aangesig tot aangesig sal sien. Wat ’n perspektief!

Wat ’n liefde en volheidslewe!
Waar ons bly ons in beroem,
Het die Vader ons gegewe
Dat Hy ons sy kinders noem.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)