Laat die ontferminge van God u dring om u lewe heeltemal aan God te wy

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-30
Teks: 
Romeine 12
Preek Inhoud: 

Romeine 12:1,2
Ds C Kleyn - Sondag 30 Januarie
2000

Lees: 1 Petrus 1:13-25;
Romeine 12:1,2.
Sing: Ps 18:1; Ps 53:1,4,7; Ps
100:2,4; Ps 18:14; Ps 19:4,6; Ps 16:3,4 (na kollekte).

Tema: Laat die ontferminge van God u dring om
u lewe heeltemal aan God te wy

  1. U nuwe lewenstyl
  2. U nuwe motief
  3. U nuwe norm

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die teks van vanoggend lei ’n nuwe
gedeelte van Paulus se brief aan die Romeine in. Die apostel gaan
oor na die lewenswandel. In die voorgaande het Hy veral die
aandag gerig op God se groot dade van verlossing, op die
regverdiging deur die geloof. Na die meer leerstellige gedeelte
kom ons nou by die voorskrifte mbt die christelike lewe. Sê maar,
na die leer kom die lewe. Hulle hoort by mekaar. Sonder die
christelike leer kan daar geen christelike lewe wees nie.

Dit blyk ook uit die inleidende woorde van Rom
12. Paulus gryp terug op die voorafgaande as hy skryf: "Ek
vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God." Ja,
die ontferminge van God, daaroor het dit gegaan in die voorgaande.
Daar het Paulus gewys hoe God se hart oopgegaan het vir sondaars,
die liefde van God in Christus Jesus ons Here. Dink maar aan die
teks uit Rom 5 wat gesiteer word by elke nagmaalsviering: "maar
God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf
het toe ons nog sondaars was." Ek, ’n verlore sondaar,
word gered deur Christus. Is dit nie geweldig nie?

Wel, die ontferminge van God vorm die
agtergrond en dryfveer van Rom 12 e.v. Wanneer Paulus tot ’n
christelike lewenswandel oproep dan doen hy dit op grond van die
bewyse van God se genade in Christus. Die genade-bewyse dwing my
as gelowige om my heeltemal aan God te wy.

Ek vermaan julle dan, broeders, by die
ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n
lewende, heilige en aan God welgevallige offer. Jou liggaam, dis
jouself soos jy hier op aarde lewe, met jou hele wese, met al jou
vermoëns, met jou hart en hande, met jou oë en ore, met jou
verstand en spraak. Stel jou hele persoon tot God se beskikking.
Gee jouself heeltemal aan die Here oor. Dit is die betekenis van
die woord "offer". ’n Offer is iets wat aan die
Here gegee word. In die Ou Testament het die offeraar iets van sy
besit aan God gegee. Hier word egter nie van my gevra dat ek iets
van myself aan God gee nie, maar dat ek myself aan Hom gee, my
hele persoon, met al my vermoëns.

Dit is julle redelike godsdiens. Die diens aan
die Here hou nie op sodra hierdie erediens verby is nie.
Inteendeel. ’n Mens kan sê: my diens aan God begin eers
goed na die kerkdiens. Die Here wil gedien wees in my daaglikse
lewe met my daaglikse moontlikhede. Die daaglikse diens word ons
redelike godsdiens genoem. Letterlik staan daar: woordelike
godsdiens. Dit is ’n godsdiens wat deur die Woord van God
bepaal word.

Ek verkondig aan u die boodskap van die teks
onder die volgende tema: laat die ontferminge van God u dring om
u lewe heeltemal aan God te wy

  1. U nuwe lewenstyl
  2. U nuwe motief
  3. U nuwe norm

Die positiewe gebod van vers 1 word in vers 2
eers uitgewerk as ’n verbod: "word nie aan hierdie wêreld
gelykvormig nie." Hier het u die bekende woord: wêreldgelykvormigheid.
’n Woord wat nie so in die smaak val nie. Durf u nog te
vermaan teen wêreldgelykvormigheid? U loop die gevaar om
ouderwets genoem te word, wêreldvreemd.

Daarom is dit belangrik dat ons luister na wat
God self ons sê oor wêreldgelykvormigheid. Die saak is des te
belangriker in ons huidige samelewing. Ons voel die druk van
’n publieke verwêreldliking van die lewe. Vroeër was die
aanvaarde moraal in die samelewing nog gebaseer op christelike
prinsipes. Vroeër was daar meer sosiale kontrole wat die
christelike sede op ’n bepaalde manier ondersteun het.
Vandag het dit weggeval. Ons lewe in ’n sogenoemde na-christelike
tydperk. Ons onchristelike samelewing plaas ons en ons kinders
onder druk. Dink maar aan die invloed van die moderne
kommunikasie middele, radio, televisie, internet, video en
allerlei blaaie en boeke. Jong en oud het vandag baie meer
moontlikhede om uit te gaan en om te proe wat die wêreld bied.
Voel u, voel jy nie die druk van ’n verwêreldlikte
samelewing nie?

Die woorde van Paulus raak ons almal. Paulus
rig hom nie tot die swakkeres nie. Hulle wat vermaan word om nie
wêreldgelykvormig te wees, is die geliefdes van God, geroepe
heiliges (Rom 1:7). Die vermaning geld dus vir elke gelowige, u
en ek.

Maar wat is wêreldgelykvormigheid? Letterlik
noem die teks die vorm, die skema, die patroon van die wêreld.
Neem nie die patroon, van die wêreld aan nie. Handel, dink en
praat nie soos die wêreld dit doen nie. Laat nie die styl van u
lewe presies so wees soos die styl van hierdie wêreld nie.

Maar wat word dan bedoel met die wêreld? Dit
is dit bedorwe, sondige wêreld wat geen rekening met God hou nie.
Die wêreld wat satan as sy heer en meester het.

Hoe lyk dan die skema, die patroon van die wêreld?
Rom 1 maak dit duidelik. Die kenmerke wat daar genoem word begin
ons samelewing meer en meer te tipeer. Luister maar: Hulle
onderdruk die waarheid in ongeregtigheid. Hulle het God nie as
God verheerlik en gedank nie. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys
is, het hulle dwaas geword. Hulle het die heerlikheid van die
onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld
van ’n verganklike mens. Daarom het God hulle ook in die
begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle
liggame onder mekaar te onteer. (Dink maar aan die seksuele
immoraliteit in ons permissiewe samelewing. Hoe word die liggaam
wat so pragtig geskape is nie onteer in die massamedia en in die
manier waarop mense praat oor seks en hulle hul seksueel gedra
nie.) Hulle het immers die waarheid van God verruil vir die leuen
en die skepsel vereer en gedien bo die Skepper. En omdat hulle
dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie,
het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen
wat nie betaam nie: Hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid,
hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis,
bedrog, kwaadaardigheid; nuusdraers, kwaadsprekers, haters van
God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van
slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; onverstandig, ontrou,
sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig.

Herken u dit in die huidige samelewing? Baie
dinge klink bekend, is dit nie so nie? Wanneer Joh in sy briewe
skryf dat ons die wêreld nie moet liefhê nie dan noem hy wat
die wêreld tipeer, naamlik die begeerlikheid van die vlees en
die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe. is
dit nie die grondtrekke van ons samelewing nie? Die bevrediging
van die begeertes is vir baie baie belangrik in ons samelewing.
Mense jaag na singenot. Niks kan hul daarvan weerhou nie. Hulle
volg die begeertes van hul sondig hart.

Wel, broeders en susters, word nie aan hierdie
wêreld gelykvormig nie. Neem nie hul lewenstyl en patroon aan
nie. Pas jou nie by hulle aan nie. Word nie wêrelds nie, in jou
gesprekke, in jou gedrag, in jou sake doen, in jou kleding, in
jou vermaak ens. Wys ’n ander styl, ’n christelike
lewenstyl. "Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie,
maar word verander. Dit wil sê: neem ’n ander vorm aan,
’n ander styl van lewe. Praat, lewe en handel anders.

Beteken dit dat ek dan nooit mag geniet van die
dinge van die aarde nie, dat ek dan altyd aan die kant moet staan?
Beteken dit dat ek altyd nee moet sê wanneer die wêreld ja sê?
So ’n reaksie houding is nie denkbeeldig nie. Wanneer ek
sien hoe die wêreld iets misbruik dan kan ek maklik uit reaksie
konkludeer dat ons dit heeltemal nie mag gebruik nie. Dis egter
nie die bedoeling van die Here tov sy geskape moontlikhede nie.
Die verkeerde gebruik van God se gawes verbied nie die regte
gebruik van die gawes nie. Dan sou ons die kind met die badwater
weggooi en dan sou God nie die eer en dank ontvang wat Hom as
Skepper toekom nie. Die vier van feeste, die genot van allerlei
skeppingsgawes word nie verbied nie. Beslissend is: hoe doen jy
dit? Hoe vier jy jou feeste? Hoe bring jy jou tyd deur? Waarna
kyk jy en hoe kyk jy daarna? Waarna luister jy en hoe luister jy?
Pas jy jou aan by wat normaal is in die godlose wêreld, waar God
en sy skepping onteer word? Of wys jy ’n christelike styl
wat God jou Skepper eer? Is jy gelykvormig of verander? Dieselfde
of anders?

Maar hoe kan jy anders wees? Dit is slegs
moontlik deur die vernuwing van jou gemoed. Dit bring ons by die
2e punt: u nuwe motief.

Die vernuwing van u gemoed is die oorsprong,
die bron van ’n christelike lewenstyl. In die eerste plek
moet jou gemoed verander word. Jou gemoed is jou innerlike wese,
jou gevoelens, jou denke, jou motief. Daarmee begin alles. Dit is
wat jou op gang bring om gelykvormig of anders te wees. Sonder
’n vernude gemoed sal ek nooit ’n christelike lewe kan
lei nie. Slegs wanneer my gemoed of denke vernuwe is sal ek
myself kan wys as ’n ander mens in hierdie goddelose wêreld.

Broeders en susters, seuns en dogters, is julle
gemoed vernuwe? Is julle denke verander? Is jy wedergebore? Laat
jy die Heilige Gees jou lei en vernuwe? Die vernuwing beteken dat
ek gegryp is deur Christus. Dat ek verwonderd is oor God se
onbegryplike liefde. Terwyl ek ’n sondaar was het Christus
vir my gesterwe. Wat ’n wonder van genade! Hier het u die
ontferminge van God waaroor vers 1 spreek. Wanneer ek die
ontferminge van God sien, dan gaan ek anders dink. Ek sien God se
wonderbare lig in teenstelling tot die duisternis van die sondige
wêreld. Dan begin ek te verstaan wat dit is om nie wêreldgelykvormig
te wees nie, maar om ’n ander lewenstyl aan te neem.

Gemeente, daar is mense wat hulle daaroor
vererg wanneer hulle gewaarsku word teen wêreldgelykvormigheid.
Hulle wil dit nie hoor nie. Hulle wil niemand hul plesier in die
lewe laat wegneem nie.

Maar hoekom so ’n reaksie? Dit kan ’n
reaksie wees op oordrewe gestrengheid, wat te ver gevoer is en
onbillik is. Maar sou so ’n reaksie nie dikwels voortkom uit
’n gebrek aan vernuwing van die gemoed nie? Ons denke is
immers van nature ydel, verduister, vervreemd van God. Dit
onderdruk die waarheid in ongeregtigheid. Uit myself het ek
’n verkeerde kyk op die werklikheid. Ek kyk vanuit ’n
verkeerde hoek na die dinge en met ’n beperkte blik. Daarom
gaan die waarskuwing teen wêreldgelykvormigheid teen my gevoel
in. As ek nie God se liefde in Christus sien nie, dan ervaar ek
outomaties die waarskuwings as negatief. Dit word dan vir my
gevoel ’n reël op reël. Ek moet my netjies daaraan hou en
dit wil ek uit myself nie. Daarom kan ek die waarskuwings nie
waardeer nie.

Dit gaan egter nie allereers hieroor: dit moet
jy doen en dat moet jy nalaat nie. Allereers gaan dit daaroor dat
ek gegryp is deur God se liefde. Dat ek stomverbaas is dat God
die wêreld so liefgehad het dat Hy sy eniggebore Seun gegee het,
sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige
lewe kan hê. Wanneer ons praat oor wêreld gelykvormigheid sal
ons ook daarmee moet begin. Dan voorkom ons die dikwels sinlose
debatte oor wat wel of nie mag nie.

My hele lewensgedrag moet voortkom uit ’n
vernude denke, uit ’n gegryp wees deur Christus. Ons sal
mekaar steeds moet voorhou: ken jy wel die liefde van Christus,
weet jy wel wat jou doop inhoud? Weet jy wel wat dit beteken om
duur gekoop te wees deur Christus se bloed? Raak dit jou ook?

As ek dit weet en die deurtog van die Gees via
christelike opvoeding en onderrig nie weerstaan nie, dan sal ek
alles met ander, vernude oë bekyk. Ek sien dan my Skepper en
Verlosser bo al die geskapene. Die wêreld gaan vir my oop as die
wêreld van Vader. Ek sien die rykdom van die skepping maar ook
die afgryslikheid van die sonde waardeur die skepping onteer word.
Ek wil dan nie anders as om die lewenstyl van die sondige wêreld
ontvlug en ek gaan alles weer rig op God. Die ontferminge van God
spoor my aan om my hele lewe aan Hom te wy. Dan is dit nie: dit
mag ek nie en dat mag ek nie, ek mag as gereformeerde gelowige
niks nie, maar dan is dit: Here, hier is ek om u wil te doen.
Aanvaar my dank.

Nou die derde punt: u nuwe norm.

Die teks sê ten slotte: "sodat julle kan
beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is."
Die beproewing of onderskeiding van die wil van God word hier
beskrywe as ’n gevolg van die vernuwing van my denke. Dit
kan snaaks lyk. ’n Mens sou die omgekeerde verwag het. Om
’n vernude denke te hê en om van daaruit verander te word
moet ’n mens tog eers die wil van die God ken. Dis ten dele
waar. Wanneer my gemoed vernuwe is dan moet daar ’n sekere
kennis van God se wil aanwesig wees. Die Heilige Gees vernuwe
immers deur die Woord van God. Tog noem die teks die kennis van
God se wil as ’n vrug van die vernuwing. Iemand wat vernuwe
is in sy denke sal steeds meer en meer die wil van God gaan
onderken. Dis ’n proses. Ek kan nooit sê: ek ken God en ek
is bekeerd, einde van verhaal nie. Die leer ken van die wil van
God is ’n proses waarmee ek my hele lewe besig is.

Die wil van God kry ek nie op ’n skinkbord
aangebied nie. Ek kan dit nie sommer ken nie. Die Bybel is geen
handboek waarin ek vir allerlei situasies pasklare antwoorde tref
nie. So gaan God nie met ons sy mondige gemeente om nie.

Om God se wil te ken moet ek in die skrifte
grawe. Dis geen eenvoudige taak om in alle situasie te onderskei
waar dit op aankom nie. Dit kos moeite en inspanning. Die moeite
sit nie in die sprekende God nie, maar in die luisterende mens.
God het sy wil wel duidelik geopenbaar, maar ons hart is
verduister en ons wil verdorwe. Daarom is die vernuwing van my
hart en wil nodig. As ek nie vernuwe is in my gemoed dan sal ek
God se wil nie verstaan nie. Maar daar sit, broeders en susters,
dikwels die moeite. Ons werk dikwels die voortgaande vernuwing
van ons hart teen. Ons is tevrede met onsself, met ons kennis.
Dit pas ons goed. Hoe meer ek weet hoe moeiliker dit word om as
christen in die wêreld te lewe.

Daarby word ook gewys op die verskille van
mening. Mense wat God se wil vir die konkrete situasies ywerig
probeer te ondersoek kom soms tot teenoorgestelde konklusies. Is
dit dan nie beter om jou afsydig te hou van die diepsinnige
studie van God se woord nie? Dan kan jy rustig jou gang gaan,
sonder jou te laat voorskryf deur die bekrompe gereformeerdes.

Maar broeders en susters, sien u wel wat agter
so ’n houding skuilgaan. Sit daaragter nie dikwels ’n
stuk wêreldgelykvormigheid nie. Ek wil die skema van die wêreld,
die bekoring daarvan nie prysgee nie. Ek bly liewer by my eie
gedagtes en by my eie lewenspatroon. Ek wil nie verander nie. Die
begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en
die grootsheid van die lewe is vir my te dierbaar. Ek wil nie
verander word deur die vernuwing van my denke nie. Dit sou ’n
te groot opoffering wees.

Slegs as ek in my hart breek met die skema van
hierdie wêreld en as ek my denke wil onderwerp aan Christus, sal
ek die wil van God kan verstaan. Ek sal dit dan verstaan en
goedkeur. Ek sal nie sê: eers sien of dit my pas nie, ek gaan
daarvoor opsy.

Wie eerlik bid dat hy vervul mag word met
kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig (Kol 1:9),
vir hom is die Skrif altyd ’n lamp wat helder brand. Dan is
die woord van God ’n lig op my pad. ’n Lamp wat my
beskyn in my vryetydsbesteding, as ek ’n fees organiseer of
vier, ’n lig wat helder brand op my huwelikspad, wat skyn
wanneer ek verhoudings aangaan of wanneer ek alleen deur die lewe
gaan.

Dan wil ek my nie meer laat lei deur die
onbeteuelde begeertes van vlees en bloed, deur die begeerlikheid
van die oë nie. Dan is die belangrikste vir my nie wat ek mooi
en aangenaam vind nie, maar wat my Here Jesus mooi en goed vind.
As ek gebreek het met die patroon van die wêreld dan sien ek die
diens van die Here nie as ’n las nie, maar as iets heerliks.
Die skeppingsgawes wat bevuil is deur die sonde kry weer ’n
heilige glans. Die skepping wat verwoes en onteer word –
dink maar aan die rampsalige immoraliteit wat lewens, huwelike en
gesinne verniel – word herstel en geheilig. Die
skeppingsgawes en die skepsel self kom weer tot sy reg. God se
wil is immers goed. Dit is werklik heilsaam. God se wil is
welgevallig. Dit is aangenaam vir liggaam en siel. Dit bring ware
lewensgeluk. God se wil is volmaak. Die lewe met sy moontlikhede
kom tot volle ontplooiing. Dit bereik sy einddoel. Ons word bevry
van verderf en kan weer ware mens wees in God se skone wêreld.

Broeders en susters, laat so die ontferminge
van God u daartoe dring om u lewe heeltemal aan God te wy. Sien
God se onbegryplike genade in u lewe. Laat die genade u aanvuur
tot ’n lewenswandel wat tot eer van God en tot heil van u
naaste is.

Ons kan sing:

Hoe word deur U vermaan,
my weg ’n helder baan,
En my verwagting skoon!
Hy wat u wet bemin,
die vind, o HEER, daarin
’n groot genadeloon.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)