Ons verbondsgod eis die gebed van sy kinders

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-30
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 45
Preek Inhoud: 

Sondag 45
Ds C Kleyn - Sondag 30 Januarie
2000

Lees: Lukas 11:1-13; Jakobus 4:1-10;
Sondag 45.
Sing: Ps 27:1,2; Ps 9:7-10; Ps 62:4,5;
Ps 27:4,6; Ps 141:1-4 (na kollekte).

Tema: Ons verbondsgod eis die gebed van sy
kinders

  1. Waarom ons moet bid
  2. Hoe ons moet bid
  3. Wat ons moet bid

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Het dit wel nut om te bid? Merk u dit dat God u
hoor? Twee pasiënte lê langs mekaar in die hospitaal. Die een
bid. Die ander bid nie. Die proses van genesing is by beide
dieselfde. Ek het jare lank gebid dat God my verligting van
moeites sou gee. My situasie bly egter dieselfde of dit versleg.
Ek het geroep, gesmeek, maar vir my gevoel geen antwoord gekry
nie.

Het dit nog wel nut om te bid? Help dit wel?
Het Christus nie gesê: Bid en vir julle sal gegee word; soek en
julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word? En het Hy
nie daaraan toegevoeg: want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat
soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word? (Lk 11:9,10).
Dit is iets groots. Elkeen wat bid, ontvang. Daar is dus geen
uitsondering nie. Maar nou die praktyk, die ervaring van baie
mense. Ek het baie gebid en nie ontvang nie. Ek het baie gesoek
en nie gevind nie. Ek het baie geklop maar die deur het nie
oopgegaan nie.

Het dit dan nog wel nut om te bid? Kan ek nie
beter daarmee ophou nie? Broeders en susters, in so ’n wêreld
vol van gebedsmoeites kom God met sy heilsame evangelie. God kom
om ons uit die moeites te help deur middel van sy bevel om te bid:
bid sonder ophou. Vanaand wil ek aan u verkondig: Ons verbondsgod
eis die gebed van sy kinders

  1. Waarom ons moet bid
  2. Hoe ons moet bid
  3. Wat ons moet bid

Die Kategismus val met die deur in die huis.
Daar word nie eers gevra: wat is die gebed? nie, maar: waarom is
die gebed nodig? Dit is opvallend dat die Kategismus dan
herhaaldelik sê dat die gebed ’n bevel is. Die gebed word
genoem die vernaamste deel van die dankbaarheid wat God van ons
eis. Dit is dus ’n eis van God. Verder word daar gesê dat
ons God moet aanroep vir alles waarvoor Hy ons beveel het om te
bid. En dan opnuut in die derde vraag: wat het God ons beveel om
van Hom te bid? Om te bid is dus ’n bevel.

Maar, gemeente, ’n mens kan die gebed tog
nie dwing nie? Dit moet tog spontaan uit die hart opkom? Dit is
sekerlik waar: dit moet uit die hart kom. As ek slegs bid omdat
dit moet, dan het God niks daaraan nie. Hy wil my hart hê.

Maar hoe sou dit gaan sonder die bevel van God
en sonder vaste gebedstye? Hoe sou dit gaan as ek die gebed sou
laat afhang van my behoefte of van my innerlike drang om te bid?
Is ek reg om te sê dat daarvan waarskynlik min tereg sou kom nie?
My gebed sou verskraal of uitsterwe. Ek sou dan geneig wees om
slegs in noodsituasies te bid, as ek dit dan nog kan regkry.

Selfs met die bevel om te bid moet ek erken dat
die gebed voortdurend bedreig word. Bewus of onbewus verdring ek
maklik die gebed uit my lewe. In die haas van die lewe bly daar
byna geen ruimte oor nie. As ek maar weinig tyd het – en hoe
dikwels gebeur dit nie in ons gejaagde samelewing nie – dan
doen ek maar ’n haastig gebedjie.

Die Here kom my egter onmiddellik teen. Nee,
nie so nie. Jy moet bid. Dit is onmisbaar. Die gebed moet in jou
lewe voorrang kry. So wil God my met sy bevel om te bid teen
myself beskerm. Bid sonder ophou. Bid ter wille van jou lewe.

As ek dan aan die bevel om te bid gehoor gee,
dan moet ek dit natuurlik wel van harte doen. Gehoorsaamheid aan
God se gebod moet altyd saamgaan met ’n gewilligheid van
gees. Dit moet vir my ’n vreugde wees. Dit geld vir alle
godsdienstige verrigtinge. Dit is nie slegs ’n plig nie,
maar ook ’n voorreg. Ek moet dit, maar ek wil dit ook. Dan
is die vaste gebedstye geen slaafse dwang nie, maar ’n
heilsame reël. So word die kontak met die Here bewaak, so word
die kontak met God in stand gehou, lewend gehou.

Waarom is dit so nodig om reëlmatig te bid?
Omdat die gebed die hoogtepunt in my omgang met die Here is. In
die gebed hou ek kontak met die Here. In die gebed praat ek met
Hom. U weet self wel, broeders en susters, hoe belangrik dit is
om met mekaar te praat as ’n mens ’n verhouding wil
onderhou. As mense nie meer met mekaar praat nie, dan raak hulle
van mekaar vervreemd. Die verhouding verbreek. So is dit ook met
die verhouding met die Here. Ons moet die verhouding onderhou
deur met Hom te praat.

Die gebed word die vernaamste deel van die
dankbaarheid genoem. Deur God se gebooie te doen toon ek reeds my
dank aan God. Sonder gebed sou dit egter ’n koue, dooie saak
wees. Vergelyk die situasie in die gesin. Gestel dat my kinders
nooit n woord met my sou spreek nie, maar altyd stilswyend sou
doen wat ek hul opdra. Onder normale omstandighede sou dit maar
’n koue en droewige saak wees. Ek wil as ouer ook graag
verneem hoe my kinders voel en dink. Ek wil ook graag sien dat
hulle met my praat. Dit is altyd geweldige oomblikke in die gesin
wanneer die kind spontaan hom uit teenoor sy ouers, wanneer hy
met hulle gesels en hulle vertel wat hy beleef het en wat hom
besig hou. Deur na jou te kom en met jou te praat gee hulle
uiting aan hul vertroue in jou, laat hulle sien dat die
verhouding vir hulle iets beteken. Dit vorm ’n sekere
hoogtepunt in die verhouding tussen ouers en kinders.

So is die gebed ’n hoogtepunt in die
verhouding met my hemelse Vader. Vader bemerk dat ek met Hom bly
en dankbaar is, dat ek vertroue in Hom stel. Vader bemerk dat ek
Hom graag dien en dat dit nie ’n slaafse, formele
gehoorsaamheid is nie.

In die verbond besit ons geweldige beloftes.
Dink maar aan die doop van vanoggend. Die beloftes word egter nie
outomaties vervul nie. In die verbond is niks outomaties nie. God
wil sy gawes langs die pad van die gebed gee. God wil daarom
gebid word. Ons moet die vervulling van die beloftes los bid. So
wil God sy genade en Gees alleen aan hulle gee wat Hom met
hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.
God wil gee in antwoord op die gebed.

Hoe belangrik is die gebed. Dit is die kanaal
waarlangs nuwe kragte na my toestroom. Om my lewenstaak te kan
vervul het ek kragte van bo nodig. Om my moeites te kan hanteer
het ek God se genade en Gees nodig. God wil dit in antwoord op
die gebed gee. Ek het steeds weer nuwe brandstof nodig om die
vuur van die geloof in my brandende te hou. Die brandstof kom vry
in antwoord op die gebed. Die nuwe lewe word in stand gehou deur
die olietoevoer van bo.

Daarom, gemeente, as ek verslap in die gebed
dan bring ek die nuwe lewe deur die Gees in gevaar. Hoe besig ek
ook al mag wees, dit mag nooit so wees nie, dat ek geen tyd het
om te bid nie. As my haas in hierdie gejaagde tyd werklik geen
ruimte oorlaat vir die gebed nie, dan moet ek my ernstig afvra of
dit wel reg met my haas is. Kom dit wel ooreen met die haas van
God se koninkryk? Of laat ek die belange van my aardse lewe en my
aardse koninkrykie my tyd en tempo bepaal? Ken ek die haas van
die Heilige Gees wat die deurbraak van God se ryk soek of is daar
by my die haas van die vlees wat deur hebsug die deurbraak van
die ryk wil vertraag?

Broeders en susters, watter prioriteite stel u
in u lewe? Wanneer ek amper geen tyd vir die gebed het nie, dan
weet ek blykbaar nog nie wat die belangrikste in my lewe is nie.
Skep dan sorgvuldig tyd vir die gebed en bewaak dit. Sodat die
vuur van die Gees nie uitgeblus word nie, maar bly brand.

Satan weet baie goed hoe belangrik die gebed is,
hoe onmisbaar dit is. Daarom rig hy hom juis op die gebed. Hy kan
die lewende omgang met God nie verdra nie. Daarom probeer hy met
alle geweld die gebed te verhinder en in ’n krisis te bring.
Hy wil my as bidder ontwapen en kragteloos maak. Hy doen dit nie
slegs deur al my aandag na aardse en materiële dinge te trek nie,
maar ook deur my sig op die hemelse te verduister. Daar wil ek op
let in die tweede punt: Ons verbondsgod eis die gebed van sy
kinders. Hoe ons moet bid.

Hoekom het baie mense moeite met hul gebedslewe?
Waarom sou dit wees dat baie mense opgehou het om te bid? Waarom
sou baie bidders die gevoel hê dat dit tog nie help om te bid
nie?

Broeders en susters, kan dit wees omdat baie
mense verleer het om regtig te bid, omdat hulle nie meer weet hoe
hulle moet bid nie? Nie elke gebed is ’n ware gebed nie. Nie
elke gebed behaag God nie. Daar is gebede waarvan God ’n
afkeer het. God sal sulke gebede sekerlik nie verhoor nie. Sulke
sogenoemde gebede sal inderdaad nie help nie.

Laat ons probeer om na te gaan wat daar aan
sulke gebede kan makeer. Die eerste vraag wat ek by gebedsmoeites
sal moet vra is: wat verwag ek van die Here? Het ek wel die regte
voorstelling van Hom? Bid ek werklik tot die enige ware God soos
Hy Hom in sy woord geopenbaar het? Hoeveel gebedsmoeites het nie
ontstaan deurdat ons ’n verkeerde voorstelling van God
gemaak het nie. Ek maak eers self ’n voorstelling van God en
gaan Hom vervolgens daaraan meet. Dan raak ek teleurgestel. Ek
ontvang immers nie wat ek van die God van my voorstelling verwag
het nie. Ek vind dit vervolgens moeilik om te bly bid.

Gemeente, om goed te kan bid sal ek eers goed
moet luister. Ek sal eers noukeurig moet nagaan wat God oor
Homself sê en wat ek op grond daarvan van Hom mag verwag. Dit
kon weleens wees dat baie mense opgehou het om te bid vanweë
’n gebrek aan kennis van die Verbondsgod. Paulus skryf in
Rom 10: "Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie
geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie
gehoor het nie?" As ek nie van die ware God gehoor het nie,
dan kan ek Hom tog nie aanroep nie? Die moderne teoloë het hul
duisende mislei. Daardeur is baie mense vervreemd van die God van
die Skrifte. Baie het daardeur ongerymde dinge aan God toesgekryf.
Is dit dan vreemd dat die gebed in die krisis kom? Om te bid moet
ek die God van die Skrifte na waarheid ken. Dan sal ek nie in God
teleurgestel raak nie. Dan merk ek dat God trou bly aan Homself,
dat Hy Hom hou aan wat Hy belowe het – ook al gaan ek deur
dieptes heen. Hy het immers nie ’n lewe sonder hindernisse
belowe nie, maar wel ’n behoue tuiskoms. As ek my in God
teleurgestel voel dan lê dit dan nie aan God nie, maar dan lê
dit aan my gebrekkige kennis van Hom of aan my verkeerde
voorstelling van Hom. Ek het dan blykbaar nie mooi gelees wat
daar in die Bybel oor Hom geskrywe is nie. Ek het nie noukeurig
genoeg geluister nie. Ek het voor my beurt gepraat.

Gemeente, ’n Tweede oorsaak van
gebedsmoeites kan my houding wees. Hoe nader ek tot God, met
watter houding? Die teleurstelling kan lê aan ’n sondige
houding van my kant. Is ek werklik bereid om my voor Hom te
verootmoedig, voor Hom op my knieë te gaan. Of wil ek miskien
tog heimlik myself teenoor Hom handhaaf? Wil ek miskien tog my
eie gang bly gaan? Jakobus het hierop gewys in die gelese
skrifgedeelte. "Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle
verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring (Jak 3:3)."

As ek die Here smeek om my van bepaalde moeites
te bevry, dan moet ek wel eers bereid wees om met my sondes te
breek. As my haan altyd koning moet kraai, dan hoef ek nie te
verwag dat God my gebed sal verhoor nie. Jakobus skryf vervolgens
in die verse 6-10: "God weerstaan die hoogmoediges, maar aan
die nederiges gee Hy genade. Onderwerp julle dan aan God;
weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God,
en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en
suiwer die harte, julle dubbelhartiges! Weeklaag, treur en ween (in
berou en bekering vanweë u sondes). Verneder julle voor die Here,
en Hy sal julle verhoog."

Ja, gemeente, hoe sal God aan my kragte gee om
die moeites van my lewe te kan hanteer, as ek myself nie werklik
voor Hom verootmoedig? Hoe sal Hy my verhoor as ek die moeites
nie uit sy hand wil aanvaar nie? As ek opstandig bly. Probeer ek
dmv my gebed God dan nie te dwing nie. Ek kan dit nie aanvaar nie,
dus moet Hy maar sorg vir verandering. Wat dink u: sou God Hom
dinge laat afdwing deur veeleisende kinders? Nee, verneder u eers
maar voor die Here. Ken u afhanklike en nederige posisie. Bid ook
vir die verootmoediging. Ken u nood en ellende – u skuld
teenoor God. Alles is in prinsipe verdien – ja, ek het nog
baie erger verdien, naamlik die ewige dood. Ek kan God dus niks
verwyt nie. Inteendeel. Alles is genade. O God wees my sondaar
genadig. En God sal my verhoor. Hy weerstaan immers die
hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.

Broeders en susters, as derde oorsaak van
gebedsmoeilikhede kan ons noem die gebrek aan vertroue. Jakobus
wys daarop in die eerste hoofstuk van sy brief wanneer hy skryf
in die verse 5-8: "En as iemand van julle wysheid kortkom,
laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om
te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die
geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos
’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en
voortgesweep word. Want die mens moenie dink dat hy iets van die
Here sal ontvang nie – so ’n dubbelhartige man,
onbestendig in al sy weë."

Om te bid in die gees van: baat dit nie, dan
skaad dit ook nie, is nie aanvaarbaar nie. As ek my tot God rig
dan moet ek ook vertroue in Hom hê, dat Hy my sal hoor. Vertroue
deur Jesus Christus. Hy het immers die hemel vir ons oopgemaak.
Daarom sal God my verhoor wanneer in Christus se naam ek bid.
Christus self het ook gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle,
alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee (Joh
16:23). God gee wat ons in geloof vra om Christus ontwil. Dink
maar aan wat ons gelees het uit Lukas 11. "Vir watter vader
sal sy seun brood vra, en hy sal ’n klip gee; of ook ’n
vis en hy sal hom in plaas van ’n vis ’n slang gee; of
ook as hy ’n eier vra, hom ’n skerpioen gee? As julle
dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee,
hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan
die wat Hom bid?

Dit kom by die 3e gedagte: wat ons moet bid.

Die Kategismus antwoord op die vraag: Alle
geestelike en liggaamlike behoeftes. Dis baie breed. Kinders mag
aan hul Vader alles voorlê wat hulle nodig het, kleine en groot
dinge. Is dit nie, gemeente, waar die moeites dikwels begin nie.
Ek mag alles vra maar ek ontvang lank nie alles nie. Het u daarop
gelet wat daar presies staan in die antwoord van die Kategismus?
Daar staan nie sommer "alles" nie, maar "alle
geestelike en liggaamlike behoeftes wat Christus saamgevat het in
die gebed wat Hy self aan ons geleer het." Alle behoeftes,
alles wat nodig is. Dit is nie dieselfde as: alle wense nie. Ek
moet dit nodig hê. My behoefte word bepaal deur my diens. My
hele lewe staan in diens van die Here. Wat ek in die diens nodig
het, mag en moet ek aan die Here voorlê. Christus het ons geleer
om alles te plaas in die lig van God se koninkryk. Dit bepaal die
behoeftes. So kom ook die onderhouding van my liggaam ter sprake.
Ook die liggaamlike behoeftes mag ek aan die Vader voorlê. Nee,
nie om hier ’n maklik en ryk lewe te kan lei nie, maar om
God so goed as moontlik te kan dien.

In Lukas 1 val dit op dat juis die Heilige Gees
genoem word as gawe wat die hemelse Vader ons sal gee in antwoord
op ons gebed. Eers het ons gelees: bid en vir julle sal gegee
word; soek, en julle sal vind. Dit lyk so breed, so onbeperk.
Maar aan die slot van die gedeelte sê Jesus: Hoeveel te meer sal
die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?

Christus laat sien wat die mees urgent is. Wat
staan voorop? Wat is die belangrikste? Die gawe van God is die
Heilige Gees. Alle ander gawes is daaraan ondergeskik. Alle ander
gawes word deur die een gawe bepaal. Deur die Heilige Gees kyk
’n mens anders na die dinge. Deur die Gees leer ek my
verlanglys by te stel. Ek leer om die regte volgorde te sien. Ek
leer om Christus se urgensie lys oor te neem. En dan raak ek nie
ontstel wanneer ek nie onmiddellik alles ontvang nie. Vader weet
beter as ek wat werklik nodig is en wanneer dit nodig is. Ek leer
om alles te plaas in die regte verbande, in die geweldige verband
van die koninkryk van God.

Broeders en susters, gee dan vol vertroue
gehoor aan Vader se eis: bid sonder ophou. Ons kan nie sonder
gebed lewe nie. Dit is die hoogtepunt in die omgang met God die
Vader. Vader wil dat ons met Hom praat. Ons as kinders wil ook
alles uit die hande van Vader losbid. Weet dan tot wie u bid. Die
enige ware God. Ken U nood en ellende. En bid in vertroue. In die
naam van Jesus Christus.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)