Op bevel van God word die heiland van die wêreld te Betlehem gebore

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-12-25
Teks: 
Lukas 2
Preek Inhoud: 

Lukas 2:1-7

Ds C Kleyn - Saterdag 25
Desember 1999

Lees: Lukas 2:1-20.
Sing: Ps 98:1,2; SB 2:1,2; Ps 33:5,6;
Ps 2:4,5,6; Ps 150; Ere Aan God.

Tema: Op bevel van God word die heiland
van die wêreld te Betlehem gebore.

Hy word gebore

  1. As onderdaan van keiser Augustus
  2. As erfgenaam van koning Dawid
  3. As kind onder die kinders

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons vier die geboorte van ons Heiland. Ons sing
ons kersliedere. Jong en oud sing saam. Ja, juis die Kersfees is
by uitstek ’n blye fees. Dit gaan immers oor die goeie
tyding van groot blydskap. Die Heiland is gebore. God het
verlossing teweeggebring. Sy koninkryk het naby gekom. Wie sou
nie bly wees nie?

Maar gemeente, as ons let op wat hier op aarde
gebeur, om ons heen en in ons eie lewe, kan ons dan nog wel fees
vier? Daar gebeur soveel wat ons verbyster. Skrikbeelde van arm
en lydende mense. Berigte van onheil en rampe, terreur en geweld.
Ons leef ook in ’n samelewing waar God steeds meer en meer
verdring word. Ons leef onder ’n nie-christelike owerheid.
Het God verlossing teweeggebring? Kom die koninkryk van God
naderby? Dit lyk asof die ryk van satan sterker is as die ryk van
God. Dit lyk wel asof die toekoms aan satan se ryk behoort. Is
ons dan wel realisties om met blydskap kersfees te vier?

Gemeente, daar is niks nuuts onder die son nie.
As ons die begin van Lukas 2 lees wat sien ons? Die geskiedenis
van Jesus se geboorte, soos Lukas dit meld, begin so aards en
skynbaar so dor. Daar is geen kersvreugde en kersheerlikheid te
sien nie. Die eerste wat ons lees is nie oor koning Jesus nie,
maar oor keiser Augustus. "En in daardie dae het daar ’n
bevel uitgegaan van keiser Augustus." So ’n berig bring
ons in ’n ander stemming as wat ons op kersfees sou verwag.
Sou dit nie mooier gewees het as die kersfeit ingelei was met
’n verhewe loflied? Waarom is daar by die eerste berigte oor
Betlehem geen lofsange op God nie? Waarom lees ons inteendeel van
die keiserlike bevel en van die inskrywing van die wêreld voor
die magtige Romeinse ryk? Die teenstelling is so skerp: die
magtige keiser Augustus en die kindjie Jesus. Die verhaal word
beheers deur die bevel van die keiser. Moet die evangelie ons
bring tot die aanbidding van ons koning Jesus Christus. Ja, is
dit eintlik wel evangelie?

Ja seker, gemeente, want dit is die heerlikheid
van die kersevangelie dat God sy heilsplan tot werklikheid bring
in en deur die inskrywing van keiser Augustus. Hierin blink die
heerlikheid van u koning. Beslissend is nie die bevel van keiser
Augustus nie, maar daarbo die bevel van die Here onse God. Hy
vervul Sy heilsplan.

Ps 33 verwoord dit so pragtig met die woorde:

"Die Heer se raad word nooit gekeer
nie;
dit sal bestaan in ewigheid.
Teen sy besluit is geen verweer nie;
Bestendig duur dit vir altyd."

Volke en tiranne, smee dan wel hul planne, maar
God se werk en woord, gaan onherroeplik voort.

So wil ek aan u verkondig:

Op bevel van God word die heiland van die wêreld
te Betlehem gebore

Hy word gebore

  1. As onderdaan van keiser Augustus
  2. As erfgenaam van koning Dawid
  3. As kind onder die kinders

Die geskiedenis van die teks word beheers deur
die inskrywing op bevel van keiser Augustus. Die inskrywing word
vier keer genoem, as goue draad deur die verhaal, in die verse 1,2,3
en 5. Keiser Augustus staan op die hoogtepunt van sy mag. Hy is
’n man van wêreld-formaat. Toe hy begin optree, was die
groot romeinse ryk besig om uit mekaar te val. Op ’n baie
kundige manier het hy die saak gered. Hy het daarin geslaag om in
sy ryk vrede en rus te herstel. So het hy die naam Augustus
ontvang in plaas van sy eintlike naam Octavianus. Die mense het
hom vereer as die verhewene, as diegene wat lof verdien. Dis die
betekenis van die naam Augustus. Hy is ook geëer as vredevors en
as Heiland van die wêreld, ja, selfs as ’n god.

Wel, gemeente, dis juis die vergoddelikte
keiser, geëer as wêreld redder, wat die bevel tot die
inskrywing gegee het. Wat beteken die inskrywing? Wat wil hy
daarmee bereik? Die inskrywing het hierin bestaan dat alle
inwoners van die keiserryk hulle amptelik moes laat inskryf.
Daarby is al hul besittings en vermoëns geinventariseer en
getakseer. So wil die keiser weet hoe kapitaalkragtig sy
onderdane is. Daardeur wil hy meer greep kry op die verskillende
dele van sy ryk. So kan hy sê: dit alles behoort aan my en dit
is wat dit werd is. Sy vernaamste doel sal wel gewees het om van
al die besit belastings te kan hef wat hom en sy mag ten goede
kan kom. So skitter in die inskrywing die mag en die heerlikheid
van hierdie aardse vors wat as heiland van die wêreld aanbid
word.

Lukas meld dat die inskrywing die eerste
inskrywing was. Daar was vroeër ook wel tellings binne die
romeinse ryk, maar nou was dit vir die eerste keer dat die hele
ryk ingeskryf moes word sonder enige uitsondering. Geen land of
volk is van die registrasie plig vrygestel. So kry nou ook Israel
daarmee te make. En wel vir die eerste keer. U moet probeer
indink wat dit vir God se volk Israel beteken het. Die algemene
inskrywing beteken dat Israel nou gelykgestel word met al die
ander volke van die ryk. Tot nou toe het die Joodse volk nog
’n behoorlik selfstandige plek binne die romeinse ryk
ingeneem. Maar nou word Israel op een lyn met alle ander volke
gestel. God het Israel uit alle volke van die aarde uitgekies om
sy volk te wees. Daarmee het God hulle ’n
uitsonderingsposisie gegee. Die volk kom nou op een lys te staan
met die heidenvolke. Ja, God se volk word ingelyf in die ryk van
die heidene.

Die volk Israel moet hom ook laat inskryf. Die
volk word in ons teks nie eers afsonderlik genoem nie. Hulle kom
in die kersverhaal slegs voor as ’n onderdeel van die
geweste Sirië, waaroor Cirenius goewerneur is. En almal, alle
kinders van Abraham, gaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie
stad. Almal word vir die keiser getel en elkeen se besit word vir
Augustus beskrywe. Alle name kom op sy rol te staan.

Dit moet, gemeente, ’n swart dag vir die
Joodse volk gewees het. Wat ’n vernedering! Die profete het
gespreek van ’n inlywing van heidene in Israel. Maar nou
word Israel self ingelyf by die heidene. Die profete het gespreek
van die koms van die volke na Sion om die Here hul God te dien.
Nou moet die Sioniete in beweging kom deur die verlange van die
heidense keiser. Israel met sy ryke messiaanse beloftes word
ingelyf in die heidense romeinse ryk. ’n Groter belediging
van die Joodse nasionale religieuse besef is nie denkbaar nie. In
’n mate kan ’n mens dit vergelyk met die vernedering
van die boere na die 2e Boere oorlog ’n eeu
gelede. En wat van die vernedering wat baie blankes ervaar om nou
onderworpe te moet wees aan ’n ANC meerderheidsregering wat
in prinsipe anti-christlik is? Ons is in feite deel van ’n
heidense republiek pleks van dat heidene deel is van ’n
christelike republiek.

Dit is ook bekend dat die bevel van keiser
Augustus gelei het tot die vorming van ’n nasionale
versetbeweging - die bekende selote party.

Alle name van die kinders van Abraham kom op
die rolle van keiser Augustus te staan. Ook die name van Josef en
van Maria en via hulle van Jesus. Ja, ook van Jesus. Hy kom te
staan op die lyste van die onderdane van die magtige keiser. Die
heiland van die wêreld word gebore as onderdaan van keiser
Augustus, van hom wat juis as wêreld redder aanbid is. Sou ons
nie huiwer nie?

Nee, tog nie. Nasies en tiranne, smee inderdaad
hul planne, maar God se werk en woord gaan onherroeplik voort.
Die Heer se raad word nooit gekeer nie. God, wat in die hemel
woon, lag. Die Here spot met hulle. Keiser Augustus dink dat hy
alles in sy mag het. Maar in werklikheid doen hy niks anders nie
as om die besluit van God uit te voer. Die magtige keiser is nie
meer as dienaar van God nie. Soos ook ons huidige regering nie
anders as dienaar van God is nie. Dit mag lyk asof hy besig is om
God se planne te torpedeer. Hy is egter besig om God se planne
uit te voer. Jesus moet op bevel van God wêreldburger word. Sy
heil is nie slegs bestem vir die joodse volk nie. Hy moet heiland
van die wêreld word.

Daarom moet die grense tussen Israel en die
volke afgebreek word. Keiser Augustus verrig daarby die nodige
hulpdienste. Dit moet word een volk van God uit alle volke. God
is geïnteresseer in die hele wêreld. Hy trek sy grense nie
enger as die wêreldse keiser nie. Die hele aarde behoort aan Hom.
Uit alle geslagte en tale en nasies wil Hy mense hê wat tot
Jesus kom. Na die herders volg die wyse uit die ooste. Volgens Ps
87 word Rahab en Babel vermeld onder hulle wat die Here ken. Van
Filistyne, Tiriers en More sal gesê word dat hulle binne die
Godstad gebore is. Die Heer self skryf hul op, die duisendtalle,
een-een, gebore uit die volkeskaar. Hy skryf hul op die rolle van
sy stad en volk.

Gemeente, nadat ons gesien het dat die heiland
van die wêreld op God se bevel as onderdaan van keiser Augustus
gebore is, wil ons in die tweede plek sien dat hy as erfgenaam
van Dawid gebore is.

Die hulpdienste van keiser Augustus gaan nog
verder. Die magtige keiser werk daaraan saam dat die heiland van
die wêreld te Betlehem gebore word. Die wêreld geskiedenis is
ook hier onderworpe aan die heilsgeskiedenis. Die wêreld
politiek word beheers deur God se plan van verlossing. Dit geld
ook vandag, ook met betrekking tot die Suid Afrikaanse politiek.
Daarom moet ons die huidige situasie nie slegs as ’n
bedreiging sien, maar ook as ’n geleentheid wat God skep.
Die wêreld politiek is immers beheers deur God se plan van
verlossing.

Dit blyk reeds uit die eerste woorde van die
teks: "En in daardie dae het daar ’n bevel uitgegaan
van keiser Augustus." Let daarop, dit is nie so dat die
geboorte van Christus gedateer word na die regeringsjare van
Augustus nie. Nee, die teenoorgestelde is waar. Augustus se
maatreëls word gedateer volgens God se tyd van optrede. In die
dae het daar ’n bevel uitgegaan van keiser Augustus. In die
dae. Watter soort dae is dit? Dit is die dae wat in die eerste
hoofstuk van Lukas beskrywe word. Die dae van die verskyning van
Gabriel aan Sagaria en aan Maria. Die dae van die blye verwagting
van Elisabet en van Maria. Die dae van die lofsange van Maria en
van Sagaria. Die dae waarin God deur sy arm kragtige dade gedoen
het tot verlossing van sy volk. Die dae waarin God besig is om
’n radikale omkeer te bring in die geskiedenis.

In die dae gaan op bevel van God ’n bevel
uit van keiser Augustus. Nie sodat die keiser alle eer ontvang
nie. Maar sodat wat in die dae belowe is, werklikheid sal word.
Sodat God se plan van verlossing tot in die kleinste besonderhede
uitgevoer word. Wat staan immers in die plan? "En jy,
Betlehem Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda,
uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ’n Heerser in Israel
sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die
ewigheid." Miga 5:1. Hoe word die Heerser in Betlehem gebore?
Hoe kom Maria en Josef wat in Nasaret woon in Betlehem? Deur die
inskrywingsbevel van keiser Augustus. Dit gaan die keiser veral
om eiendomsbesit. In Israel was die eiendom familiebesit in die
eie stam en in die eie stad. Daarom moes elkeen optrek na die
plek waaruit die stam afkomstig was, na die plek waarin die
vaders hul erfdeel van God ontvang het.

So trek ook Josef op na Betlehem met Maria, die
vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was. Ook die
ongebore kind Jesus word dus op bevel van Augustus gelei van
Nasaret na Betlehem.

Gee egter aan God die eer. In Betlehem vind die
geboorte plaas. En terwyl hulle daar was het Maria haar
eersgebore Seun gebaar. God se belofte word vervul. "En jy
Betlehem Efrata, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ’n
Heerser in Israel sal wees." Keiser Augustus moet daarvoor
sorg dra dat die plan van God uitgevoer word.

Maar, gemeente, waarom Betlehem? Dawid is
gebore in Betlehem, maar sy stad het tog Jerusalem geword. Moet
die kroonprins Jesus dan nie in Jerusalem, die koningsstad,
gebore word? Waarom die vergete, onaansienlike Betlehem?

Die teks lê daarop die nadruk dat Josef na
Betlehem gegaan het omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was.
Die vermelding is van groot belang in verband met die posisie van
die kind wat gebore word. Voor die wet kom Jesus te staan op die
rolle van die huis van Dawid. Ook daar sorg keiser Augustus voor.
Jesus word nie gebore uit ’n willekeurige familie nie. Hy is
uit die stam van Juda, uit die geslag van Isai, uit die huis van
Dawid. ’n Kroonprins. Maria baar haar eersgebore Seun.
Eersgebore seun wil sê: die stamhouer, die erfgenaam van vader
Dawid.

Hierdie erfgenaam van Dawid word gebore te
Betlehem en nie te Jerusalem nie. Van ouds was die erflike besit
van Dawid in Betlehem. Daar het God aan die vaders hul erfdeel
toegewys. Wat Dawid later in besit geneem het, Jerusalem, dit het
almal verval. Herodus die Edomiet heers in Jerusalem. Die hele
huis van Dawid het verval tot die onaansienlikheid van die begin
toe Dawid nog in Betlehem die kudde van sy vader gewei het. Dawid
se heerlikheid het verdwyn. Van sy huis is niks oorgebly as die
stomp van Isai nie. Maar met die stomp gaan God nou verder werk,
na sy belofte. Die profeet Jesaja het immers geprofeteer: "Maar
daar sal ’n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en
’n loot uit sy wortels sal vrugte dra" (Jes 11:1).

Die Here gaan terug tot agter Dawid. Jerusalem
word gepasseer. Dit word Betlehem, erflik besit van die vaders.
Dawid en sy seuns het dit deur hul sonde verspeel. Hulle kon geen
redding bring nie. Nou laat God die redder van die wêreld te
Betlehem gebore word. Sodat aan Hom alle eer toekom. Hyself maak
’n nuwe begin. Daartoe word Josef opsy gesit vir wat die
verwekking van die kind betref. Hy kan en mag nie opnuut uit die
wil van die vlees of uit die wil van ’n man gebore word nie.
Dit sou opnuut ’n mislukking beteken. Dit moet nou uit die
wil van God wees. Die nuwe begin is heeltemal uit God en tot God.

So sien u broeders en susters in hierdie
geboorte te Betlehem die glorie van God skitter. God laat die
stomp van Isai opnuut uitspruit. Dit is uitsluitend sy werk. En
die takkie van goddelike oorsprong sal as erfgenaam van Dawid sy
koningshuis tot ongekende heerlikheid bring. Die erfgenaam van
Dawid is as eersgeborene van die Vader ook erfgenaam van alle
dinge. Sy heerskappy sal geen einde hê nie.

Tot slot die derde punt: die heiland van die wêreld
word ook as gewone kind gebore, as kind onder die kinders. Die
geboorteberig kon moeilik eenvoudiger en gewoner wees: "En
terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar."
Haar nege maande is om. En sy het haar eersgebore Seun gebaar.
Dit het gegaan soos dit gewoonlik onder die mense gaan. Daar is
niks opsienbarends nie. Die bevalling en geboorte het heel
normaal verloop. Daar is niks besonders te sien nie. Hy word
gebore as ’n kind onder die kinders.

Daar is na die geboorte ook niks besonders te
sien nie. Heel gewoon en eenvoudig. Maria draai haar kind toe in
doeke soos dit gewoon was onder oosterse vroue. En sy lê hom
neer in die krip. Die drukte vanweë die registrasieplig sal
moontlik die oorsaak daarvan wees dat daar vir hulle geen plek is
die herberg is nie. Hulle moet tevrede wees met ’n stal, die
plek waar ook die slawe in die reël moes bly. Op daardie oomblik
is die vee buite, dus dit is geen probleem nie. Wat is dan ook
beter geskik as wieg as die droë voerbak van die diere. Van die
krip maak hulle dan ’n bedjie. Die kind Jesus lê hulle
daarin neer. Niks besonders nie, baie eenvoudig.

Maar gemeente, moet die heiland van die wêreld
nou so die wêreld binnekom? Is hierdie gewone kind die heiland
van die wêreld?

Gemeente, juis die gewone, die alledaagse is
vir u vol van heerlikheid. Die heiland van die wêreld het een
met ons geword, ’n kind onder die kinders, ’n mens
onder die mense. God het nog nooit so naby gekom nie. Hy het mens
geword, ware mens, werklik een van ons, soos u en ek. Waarom so?
Om ons Heiland te wees, die redder van u en ek. Om ons skuld en
straf te dra en ons weer met God te versoen. Daarom was daar geen
plek vir Hom in die herberg. Alles moes hom ontneem word sodat
ons alles kan ontvang.

Gemeente, aanbid u koning, wat in nederigheid u
lewe binnegekom het. Hy was ryk. Hy het arm geword. Sodat u ryk
sou word. U koning het hom verneder en die gestalte van ’n
dienskneg aangeneem en het aan ons mense gelyk geword. So het hy
verlossing gebring. God se werk het voortgang gevind ondanks,
maar ook danksy, die bevel van die magtige keiser Augustus.

Op God se bevel is die heiland van die wêreld
te Betlehem gebore
As onderdaan van keiser Augustus
As erfgenaam van Dawid
As kind onder die kinders

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)