Die beheerste haas van die Here

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-12-31
Teks: 
II Petrus 3
Preek Inhoud: 

2 Petrus 3:8,9

Ds C Kleyn - Vrydag 31
Desember 1999

Lees: 2 Petrus 3.
Sing: Ps 90:1,2,3; Ps 37:1-6; SB
27; SB 28.

Tema: Die beheerste haas van die Here.

  1. sy haas
  2. sy geduld

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Oor enkele ure sal die 2e millennium verby wees
en die 3e millennium begin. Die jaar 2000 het die gemoedere al
jare besig gehou. Allerlei voorspellings is gemaak en
voorbereidings is getref. In die rekenaar wêreld was hulle in
die afgelope jaar volop besig om allerlei probleme te probeer
voorkom. Die vraag is dikwels gestel: is jy gereed vir die jaar
2000? Die vraag wil ek ook vanaand aan u stel: is u gereed vir
die jaar 2000? Dan bedoel ek nie wat die massa daarmee bedoel nie.
Ons hoef nie angsvallig die jaar 2000 tegemoet te gaan nie. In
die lig van God se tydrekening sê die magiese getal 2000 niks
nie en kan ons al die eindtyd berekings negeer. Die dag van die
Here kom immers soos ’n dief in die nag. Of dit in ons
jaartelling nou 1999 of 2000 is, God gaan gewoon aan met sy werk
op pad na die groot dag van ons Here Jesus Christus. My vraag het
alles daarmee te doen. Is u gereed vir die jaar 2000 kan dan
vertaal word as: is u gereed om voort te gaan met u Here op pad
na die dag van sy wederkoms? Is u gereed om in die nuwe
millennium te bly werk aan die koms en voltooiing van God se
koninkryk?

Maar, gemeente, die vraag dring hom op: Kom die
ryk nog wel? Waar bly die vervulling van God se groot
heilsbeloftes? Waar bly die beloofde wederkoms? Sedert Christus
se eerste koms op aarde is uitgeroep: die koninkryk van God het
naby gekom. En in Openbaring 22 lees ons dat Christus sy bruid
herhaaldelik toeroep: Kyk, Ek kom gou. Maar wat merk ons daarvan?
Hoeveel jare het nie reeds verbygegaan nie? Dae, maande, jare
vlieg soos ’n skaduwee heen. Hulle bly mekaar opvolg. Die
lewe gaan gewoon aan. Die een geslag kom en die ander geslag gaan.
Geliefdes is deur die dood uit ons aardse lewe weggeneem. Dit bly
’n pynlike saak wanneer op daardie wyse hegte bande op aarde
verbreek word. Aan die ander kant is ook kinders gebore. God het
in verskeie gesinne groot blydskap gegee. Die lewe met sy vreugde
en met sy verdriet gaan sy gewone gang. Wat sien ons daarvan dat
Christus gou kom?

In die tyd van die apostel Petrus het mense
reeds met dieselfde vraag geworstel. Die gemeente word bedreig
deur ketters wat met hul toekomsverwagting die spot drywe. Die
spotters trag om die geloof van die jong gemeente te ondermyn.
Vandaar dat die Here die apostel stuur om hulle ’n riem
onder die hart te steek. Petrus spoor hulle aan om uit geloof te
lewe in verwagting van die koms van die Here. In hierdie verband
wys Petrus op die goddelike tempo. God het haas. Daar sit vaart
in al sy werk. Maar sy haas is ’n beheerste haas.

So verkondig ek aan u: die beheerste haas van
die Here

  1. sy haas
  2. sy geduld

Met verwysing na die woorde van die Here
beklemtoon Petrus dat ons aan die einde van die dae spotters kan
verwag. In hierdie fase van die geskiedenis wat reeds begin het
met Pinkster sal dwaalleer die kop uitsteek, ’n vervorming
van die christelike boodskap. In die vorige hoofstuk het Petrus
die ketters reeds beskrywe. Hulle wandel volgens hul eie
begeerlikhede. Hulle laat hul nie voorsê deur die Heer Jesus
Christus nie. Hulle verdraai die evangelie van God se genade.
Hulle maak dit tot ’n vrybrief om te sondig. U sien dit
vandag massaal gebeur. Dink maar aan die huidige seksuele etiek.
Met ’n beroep op die evangelie word byvoorbeeld homoseksuele
verhoudings goedgekeur. In ons hoofstuk word daaraan toegevoeg
dat hulle die spot drywe met die toekomsverwagting van die
gemeente.

Broeders en susters, die twee sake: ’n
losbandige lewe en die verloëning van Christus se wederkoms
staan nie los van mekaar nie. Dit sien ons vandag ook. Die
huidige verlating van die bybelse norme hang nou saam met die
verlating van die christelike toekomsverwagting. Baie mens hou
geen rekening met Christus se wederkoms as Rigter van die heelal
nie. Wat kan ’n mens weerhou van die sonde? Dit is die
geloof in die evangelie van Christus. Dat ek sy woorde ernstig
neem, sy woorde van liefde maar ook van toorn, sy woorde van heil
maar ook van gerig. Die geloof in sulke woorde van gerig pas
natuurlik nie by mense wat in alles vry wil wees en hul wil
uitlewe nie. Leer en lewe vloek met die erns van Christus se
woorde.

In hul spot gryp die ketters na die Bybel self.
Hulle het die skyn van die dinge aan hul kant. Sê die Bybel self
nie dat Christus gou sal kom nie? Maar wys die praktyk van die
lewe nie dat dit ’n groot leuen is nie? Hoe lank is dit nie
gelede dat Christus gesê het dat Hy gou sou kom nie. Wat kan
’n mens sien van die vervulling van die belofte? Elke nuwe
dag lyk soos die vorige dag. Die vaders wat Christus gesien en
gehoor het, het gesterf. Alles bly gewoon aangaan soos dit vanaf
die begin van die skepping aangegaan het. Die spotters sê dan:
mense waar hoop jy nog op? Maak jou nie so druk nie, die dag kom
tog nie en ook nie die laaste oordeel nie.

Maar nou waarsku Petrus die gemeente: laat jou
nie verwar deur die spotters nie. Want moedswillig negeer hulle
die feit dat die Here die bewoonde wêreld eenmaal reeds getref
het met ’n katastrofale oordeel. Julle ken die geskiedenis
van die sondvloed, duidelik beskryf in die Bybel. Wat daar by die
sondvloed gebeur het, moet ’n mens vandag waarsku. God neem
die sonde en goddeloosheid ernstig op. Sy gerig sal kom. Die
teenwoordige hemele en die aarde word as ’n skat weggelê en
vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf
van die goddelose mense. As jy die laaste oordeel verloën dan
hou jy jouself vir die gek. Jy is besig om die duidelike bewyse
van God se gerig uit die verlede te verdoesel.

Maar hoe sit dit dan met die belofte dat
Christus spoedig sal kom? Die jare, die eeue, die millennia
verstryk sonder dat iets gebeur. Petrus gaan daarop in in die
verse 8,9. "Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie,
geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en
duisend jaar soos een dag." Wanneer die Here sê dat Hy gou
kom, dan moet u die "gou" nie meet met u menslike maat
nie, maar met die van God. Ons menslike tydberekening kan nie op
God toegepas word nie. Ons mense ervaar een dag as kort. Dit
vlieg verby. Terwyl 1000 jaar vir ons ’n onvoorstelbare lang
tydperk is. Ons bekyk die tyd vanuit ons beperkte menslike
gesigspunt. Ons het maar ’n begrensde lewensduur op aarde,
hoogstens 80, 90 jaar. Daarom kan ons onmoontlik 1000 jaar
oorsien.

By die Here lê dit anders. Hy is die ewige,
van ewigheid tot ewigheid. Hy beskik oor eindelose tye. Maar ook
die kort tyd deursien Hy as geen mens nie. Een menslike dag is by
God soos 1000 jaar en omgekeerd het 1000 menslike jare by God die
duur van een dag. Dit mag u nie ontgaan nie. God se tydberekening
is anders as ons tydberekening. Dit maak elke berekening van die
dag van Christus se koms ’n onmoontlikheid, ja selfs
belaglik. Waar is die mens tog mee besig! Voor sy hemelvaart het
Christus reeds gewaarsku teen die berekening van die laaste dag.
Teenoor al sulke spekulasies sê die Here: sorg maar dat julle
trou julle werk doen. "Dit kom julle nie toe om die tye of
geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie;
maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle
kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die
hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde."
(Hand 1:7,8). Hier hoor u reeds van God se program deur die eeue
heen. Versprei die evangelie, tot aan die uiterste van die aarde.

In ons teks lees ons: een dag is by die Here
soos duisend jaar. Mense, dink maar nie dat God langsaam werk.
Dat Hy onnodig die tyd neem. Een dag is vir die Here soos 1000
jaar. Daar sit vaart in God se werk. Hy het groot haas. Hy wil
ook graag na die jongste dag, na die volle saligheid van sy volk,
die volkome heil in die nuwe hemel en aarde. Daarom is Hy so hard
aan die werk. Een dag, wat lyk dit kort. Maar vir Hom is dit soos
1000 jaar. ’n Hele periode. Op die een dag moet so baie
gebeur. Die Here doen op een dag wat vir ons besef 1000 jaar
nodig het. Hy druk in een dag saam die geskiedenis van 1000 jaar.
Elke dag loop oor van goddelike werke. As jy maar in geloof
rondkyk. Dan sien jy as ‘t ware deur ’n vergrootglas.
En wat sien jy dan? Magtige dinge. Roemryke dade van die Here.
Dinge wat jy anders nie sou sien nie.

Wat beteken die sekondes nog vir ons? Vir die
Here tel elke sekonde, elke besonderheid is vir Hom belangrik.
Ook alle kleinighede in u lewe. In ons huidige wêreld het mense
amper nommers geword. Die lewe van een mensekind word byna nie
opgemerk nie, laat staan nog opgevang. Maar God merk alles op. Ja,
nog meer as dit: Hy bestuur alles. Wat is daar op aarde baie te
doen. En wat gebeur daar baie dinge. Baie lewens moet radikaal
omgekeer word, bekeer word. Mense wat dood was deur die sondes
word lewend gemaak. Hulle word tot geloof gebring, hulle word
vergewe en vernuwe. Die Gees doen dit kragtig en vinnig, elke
oomblik van die dag en elke dag van die jaar. Durf iemand nog
praat van ’n trae God? As jy die geweld van God se koninkryk
sien dan leer jy wel om anders te praat. Die oogklappe val weg en
jy prys die Here vir sy dade van verlossing. Onvoorstelbaar! God
laat daar geen gras oor groei. Hy het haas.

Dit moet vir u, broeders en susters, ook ’n
sterk prikkel wees om gereed te wees. Laat die Here nie op u hoef
te wag nie. Petrus praat daaroor in die vervolg: "Terwyl al
hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in
heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die
dag van God verwag en verhaas…" Ja, julle wat die dag
verhaas. Daar sit vaart in God se werk. Daarom moet daar ook
vaart kom in jou lewe. Jy laat die Here nie wag op geloof en
bekering nie. Maar jy is ywerig in goeie werke, vol verlange na
die dag van die Here. Daar is geen tyd om te verloor, geen tyd
vir uitstel nie. Een dag is immers vir die Here soos 1000 jaar.

Die teks sê tewens dat 1000 jaar vir die Here
is soos een dag. Dit bring ons by die tweede gedagte van die teks:
die geduld van die Here. Is dit nie teenstrydig nie? Hoe kan
’n mens dit met mekaar rym: een dag is soos 1000 jaar en
1000 jaar is soos een dag? Die apostel gebruik die skynbare
teenstrydigheid om u te deurdring van beide aspekte van God se
tempo. Aan die een kant: die Here het haas. Hy talm nie. Maar aan
die ander kant: die Here is ook geduldig. Hy is vir niemand te
haastig nie. Hy beheers sy gang. Want 1000 jaar is vir Hom soos
een dag. Wat ons nie kan oorsien nie is vir God maar ’n
oomblik. Hy neem die tyd wat nodig is.

In sy spoed hardloop die Here die mens nie
verby nie. Dan sou niemand saam kan kom nie. Daarom vertraag Hy
as ‘t ware sy vaart ter wille van ons, sodat niemand sal
agterbly nie. Want Hy wil nie hê dat sommige verlore moet gaan
nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Nou kan almal saamkom.
As daar nou iemand agterbly, dan is dit duidelik sy eie skuld.
Dit lê nie aan God nie. Hy gun Homself alle tyd. Hy gun ons alle
tyd. Hy kyk nie op 1000 jaar nie. Vir Hom is dit maar soos ’n
enkele dag. As dit vir u redding nodig is dan wil Hy so te sê
wel 1000 jaar wag. So lief het hy die redding van ons almal.

In verband daarmee word die woord
lankmoedigheid gebruik. Dat die Here in die afgelope jaar, eeu of
millennium nie gekom het nie, is vanweë sy lankmoedigheid. God
is lank van gemoed. Hy beheers sy gemoed so dat dit lang duur
voordat hy sy gemoed ten volle openbaar. Teenoor die lankmoedige
staan die heethoofdige. Die lankmoedige beheers hom in sy liefde
en in sy toorn. Die heethoofdige daarenteen kan hom nie beheers
nie. Hy is toomloos in sy liefde en toomloos in sy haat. Hy vlieg
daarop af in opwellende liefde of in oplaaiende haat.

So is die Here nie. Hy maak nie in een vlaag
van toorn ’n einde aan die sondige mensheid nie. Dan sou
daar vir niemand meer ’n toekoms wees nie. Hy maak wel haas
met die volbringing van sy vloek, maar dit is geen onbeheerste
haas nie. Hy hou ook in sy toorn hom aan sy verlossingsplan met
die wêreld. So werk Hy ook in sy liefde. Hy stel sy kinders nie
in ’n vlaag van liefde skielik in sy volkome heerlikheid nie.
Dan sou daar geen mense meer wees om die evangelie uit te dra nie.
Ook nou haas Hy hom om sy belofte te vervul, maar dit is ’n
beheerste haas van die sterk God wat sy besluite uitvoer. Want Hy
wil al sy kinders vergader, ook hulle wat in Mamelodi, Soshanguve,
Pretoria is en waar Hy ookal Sy mense het. Hy wil nie hê dat
sommige van sy geliefdes vergaan nie, maar dat almal tot bekering
kom.

Gemeente, dat dit die bedoeling van die Here is
blyk uit die geskiedenis van die ou verbond. Die Here het aan die
vaders ryke beloftes gegee. Maar hulle het dit wat belowe is, nie
verkry nie. Hulle het die volle messiaanse heil nie verkry nie.
Dit het gebly ’n saak van geloof en nie van sien nie. Na hul
dood moes die vaders nog eeue wag op die vervulling van die
sentrale belofte, naamlik die koms van Jesus Christus. Tot vandag
toe moet ons nou wag op die volkome vervulling van God se
beloofde heil. Die belofte van die heerlike opstanding en van die
volmaakte heil bly nog onvervuld. Ook hulle wat in Christus
gesterf het leef nog in verwagting.

Waarom laat die Here hulle so lank in
verwagting. Waarom al die eeue geskiedenis sonder dat hulle die
belofte verkry? Hebreërs 11:40 gee ons ’n antwoord op die
vraag: Omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie
sonder ons volmaak sou word nie. Die lang wag op die vervulling
van die volkome heil lê aan die God se geweldige plan van
verlossing. God het nog iets mooier in gedagte as om die mense
onmiddellik die erfenis te gee. God het met die oog op ons, die
kerk van die nuwe bedeling, iets beters beskik, naamlik dat hulle
nie sonder ons volmaak sou word nie. Die Here wil naamlik dat
alle gelowiges van beide bedelings gelyktydig die volkome
heerlikheid ontvang. Hulle nie sonder ons nie, en ons nie sonder
hulle wat nog moet kom nie. Ons moet vir mekaar wag. God toon sy
lankmoedigheid.

Dit mag ons, broeders en susters, ook troos by
elke sterfbed. Ons ervaar die dood as ’n verskriklik iets en
vind dit moeilik om die verbreking van die aardse bande te
hanteer. Maar God gee ons sig op sy geweldige plan van verlossing.
Hy leer ons sien op die gemeenskap van die heiliges ook by die
sterfbed. Dat mense hier nog sterwe en begrawe word is in ’n
sekere sin ’n ryke saak. Dit wys dat God nog ander wil
toeroep. Hy soek die vermeerdering van die gemeenskap van die
heiliges. Die getal van sy kinders is nog nie kompleet nie. Ons
sien God se beheerste haas. Hy wil dat almal saamkom. Nie een mag
agterbly nie. Ag daarom die lankmoedigheid van die Here as
saligheid. Solank as mense nog sterwe, solank is daar nog ’n
hede van genade. God vertraag nie die belofte nie. Maar Hy is nog
druk besig om al sy kinders uit alle volke en tale te vergader,
ook om ons kinders en kleinkinders te vergader.

Daarom kan ons ook die Here dank dat Hy in die
afgelope millennium nie teruggekom het nie. Anders sou bv ons
kinders nie daarby behoort het nie of die gelowiges in die
sendingsgemeentes. Dit is enkel genade dat God sy vaart terwille
van ons en ons saligheid vertraag. Dit is sy liefde wat nie wil
dat een van ons verlore gaan nie.

Hierdie belydenis is nie altyd maklik nie. Ons
het ons stryd. Ons sou die volle heerlikheid onmiddellik wil hê.
Dit is soms moeilik om te wag. Of nie? Of het ons so ons aangepas
aan hierdie wêreld en gemaklik gemaak dat ons nie meer die
verlange na die dag ken nie? Dan moet ons ons vinnig bekeer. Vir
hulle wat toekomsgerig lewe kan dit egter moeilik wees om te wag.
Veral as ons swaar kry. Wanneer ons sien dat die ongelowige wêreld
homself groot en sterk maak terwyl ons self ook nog sondig en
weerloos is.

Maar gemeente, God skenk u die lewe nie sodat u
met die wêreld sal vergaan nie. Hy plaas u nie in ’n nuwe
jaar en millennium om u te terg nie. Hy verleng u lewe om aan u
sy liefde te wys en om u te gebruik as instrument van sy liefde.
U mag die nuwe millennium ingaan met die evangelie van God se
liefde en toorn. En hy roep u toe: dit is die weg van behoud. Ek
het geen lus in u dood nie, maar daarin dat u u bekeer en leef.
Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun
gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie,
maar die ewige lewe kan hê.

Is u gereed vir die jaar 2000? "Daarom,
geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat
julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in
vrede." (2 Pt 3:14). Gaan aan met julle werk in God se kerk
en koninkryk. Die Here kom gou. Een dag is vir die Here soos
’n duisend jaar. Nie een mag agterbly nie. Wat ’n
verantwoordelikheid. Maar ook: duisend jaar is vir Hom soos een
dag. Wat ’n geduld. Daar is nog ’n tyd van genade.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)