God laat geen leuen oor Sy gemeente toenie

Predikant: 
Ds E Viljoen
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-09-28
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 43
Preek Inhoud: 

Sondag 43

Ds. E. Viljoen - Sondag 28 September
2003

Lees: Numeri 23:1-24; Sondag 43.

Tema: GOD LAAT GEEN
LEUEN OOR SY GEMEENTE TOENIE

  1. HY IS SELF GEEN LEUENAAR NIE;
    en
  2. HY LAAT GEEN LEUENS TOE NIE.

 

Die groot leuen van ons tyd in ons land,
is dat daar geen onderskeid meer is tussen die werklik vromes (regverdiges)
en die goddeloses in die wêreld nie. In die wêreld van "godsdienstigheid"
bestaan vir talle net twee moontlikhede : óf ‘n mens is
‘n sondige tollenaar óf jy is ‘n skynheilige Fariseër.
As jy sondaar is beteken dit dat jy gewoon in en met jou sonde
leef - goddeloos. En dan is daar net een alternatief –
kerkmense wat skynheilig is. Mense vergeet gerieflikheidshalwe
dat die tollenaar kom bid het : "O God, wees my arme sondaar
genadig". Maar van hierdie tollenaar lees ons dat hy na sy
huis terugkeer as regverdige!! Hy blý nie ‘n
tollenaar en sondaar nie.

Oor hierdie derde "soort" mense, gaan
die negende gebod. Die negende gebod wil die reg van die
gemeente van die Here beskerm om iets anders te wees as of
sondaars of skynheiliges. Oor die regverdiges van die Here
mag daar geen valse getuienis gegee word nie. Die negende gebod
wil die reg van die Here beskerm om sy gemeente "regverdiges"
te noem en TE LAAT NOEM! Die wat Hý regverdig noem, mag
niemand goddeloos noem nie. Die Here sélf vertel geen
leuens oor sy volk nie. In die woorde van Bileam, die profeet-ten-spyte-van-homself
: "God is geen man dat Hy sou lieg nie". En God
laat óók nie toe dat leuens oor die volk vertel word nie :
"Want daar is geen towery teen Jakob of waarsêery teen
Israel nie. Nou sal van Jakob en Israel gesê word wat
God gedoen het" (Num. 23 : 19-23).

GOD LAAT GEEN LEUEN OOR SY GEMEENTE
TOENIE

  1. HY IS SELF GEEN LEUENAAR NIE
  2. HY LAAT GEEN LEUENS TOE NIE

Wat ’n geweldige warboel van leuens kom op
die kerk van Christus af in die laaste dae! Mense wat werklik
vroom en regverdig wil lewe se lewens gaan ten gronde as gevolg
van hierdie leuens. Die kerk kom onder swaar druk omdat mense die
leuens van die satan glo. Waarom is dit so? Het die
mensdom meer sondig geword as voorheen? Sekerlik nie. Ons is niks
minder sondig as Adam na die sondeval nie. Tog het daar werklik
iets verander. Sedert Christus se hemelvaart, is daar vir die
vader van die leuen, die satan, geen plek meer in die hemel nie (Openb.
12!!). In die hemel het ons Een wat vir die waarheid oor die
kinders van die Here getuig. Géén leuen word in die hemel meer
toegelaat nou dat Christus voor die troon van God vir ons optree
as Getuie nie. Voor die troon van God is daar nou geen
veroordeling meer vir dié wat in Christus Jesus is nie (Rom. 8:1ev.).
Die Satan wat die gelowiges dag en nag voor die Here aangekla het
met sy valse aanklagte, is uit die hemel uitgegooi. Dit verklaar
die vlaag van leuens waarmee ons vandag op aarde moet leef. Hiér
op aarde is die Satan sedert Christus se hemelvaart nou losgelaat.
Soos ‘n brullende leeu loop hy rond om met sy leuens te
verslind.

Die leuens van die satan het egter nie toe eers
begin nie. Sommer heel vroeg in die geskiedenis van die wêreld
hoor ons hom al aankla met sy leuens. Hy kom met ‘n aanklag
nogal teen God by Eva. "Kyk Eva, God wil eintlik nie vir
jou en jou man gun om net soos Hy te wees nie. Eet nou maar van
die vrug van die boom van kennis van goed en kwaad; julle sal nie
sterf nie". En dan word dit duidelik hoe vals hy getuig
het. Die satan ontken God se reg op Adam en Eva. Hy maak van God
‘n leuenaar.

Dikwels word ons verstaan van die negende gebod
beperk tot vrae oor die vertel van die volle waarheid aan ‘n
terminal siek pasiënt of die reg en verkeerd van Ragab wat
‘n leuen vertel het om die twee verspieders te help of
‘n noodleuen in tye van oorlog. Die negende gebod sê egter
nie "jy mag nie lieg nie". Die Here sê: "Jy mag
nie vals getuig nie". Die Here wil elkeen wat vanuit sy
Woord leef, beskerm. Die reg van die Here om sulke mense die lewe
te gee, word deur hierdie gebod beskerm. Hy laat daarom nie toe
dat enigiemand vals teen sy kinders getuig nie. Hy laat hulle nie
veroordeel of van hulle kwaadpraat nie.

In Egipte was die reg van die Here op sy
volk bedreig. Moses kom vra die Farao dat die volk van die Here
drie dagreise vêr die woestyn kan intrek om ‘n fees vir die
Here in die woestyn te hou (Ex. 5:1-3). Die Farao gee valse
getuies oor hulle: " Moses en Aäron hou die volk weg van
hulle werk. Die volk is net te lui om hulle werk te doen"
(Ex. 5:4-9). Hy ontken hulle reg om volk van God genoem te word.
Hy maak hulle sy slawe. Hy gee die drywers van die volk opdrag om
die Israeliete geen strooi meer te gee vir die maak van bakstene
nie, maar nog net soveel bakstene van hulle te eis. Hy noem die
woorde van Moses en Aäron wat van God gekom het "leuenagtige
woorde" –‘n klomp leues (Ex. 5:9). Net soos die
Duiwel wat vir Eva gelieg het.

Van al hierdie valse aanklagte, leuens en
slawerny wil die Here sy volk verlos. Hy wil hulle in die
beloofde land bring waar hulle kan leef onder die reg van die
Here om hulle sy volk te noem. Hulle moet weer kan lewe uit
die waarheid. Uit die Woord van God. Lewe met die God wat
betroubaar is. Hy wat sê: "Ek is wie ek is". Daarom
word hierdie gebod gegee: "Jy mag nie vals getuienis teenoor
jou naaste spreek nie." Jy moet jou naaste nie laat leef uit
enigiets anders as die waarheid van die Woord van die Here oor sy
volk nie. Enigiets naas die waarheid van die Here is uit die bose.
Leuenaars is kinders van die satan – hulle wat kom met
aanklagte oor die Woord van die Here. Mense wat sê die Woord van
die Here is onbetroubaar. Die Here wil sy gemeente laat weet :
"Jy kan van My Woord leef. My Woord is betroubaar.". Só
word ons lewens veilig gestel in hierdie wêreld.

Ons hoef daarom nie te kom met kunstige
argumente om Ragab in die reine te probeer bring nie. As sy
teenoor die boodskappers van die koning van Jerigo lieg oor die
verspieders van Israel in haar huis, gee sy geen valse getuienis
nie (Josh. 2:2 ev.). Sy neem juis die Woord van die Here baie
ernstig op!! Sy gee geen vals getuienis nie. Sy erken juis dat
die Here die land Kanaän aan die Israeliete gaan gee. Ragab, die
hoer, erken dat die God van Israel die God van die hemel daarbo
en die aarde hieronder is (Josh. 2:11). Sy erken die reg van die
Here op sy volk en sy reg om dit wat Hy vir hulle beloof het, te
gee. Ragab vertel geen "noodleuen" nie. Sy getuig van
die waarheid!! Daarom dat sy deel van hierdie volk wil wees
wanneer die Here in die land inbring. Die Woord van die waarheid
van die Here gee ook haar sekerheid. Nie sonder rede dat ook sy
by die lys van getuies (!!! Heb. 11:2) van Hebreërs 11 genoem word : "Deur
die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met met die
ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang
het" (Heb. 11:31). Ragab het geen valse getuienis gegee
nie. Sy lééf gehoorsaam aan die gebod van God!

Iemand wat egter nie gehuiwer het om valse
getuienis teen Israel te lewe nie, was die Moabiet, Balak (Num.
22:1-3). In plaas daarvan dat hy die reg van die Here op Israel
erken, kry hy uit vrees vir Israel, vir hom ‘n profeet om
valse getuiens ten Israel te gee. Bileam word ingeroep om Israel
te vervloek. Die volk wat uit Egipte se slawerny getrek het (Num.
22:11), wil Balak weer onder slawerny bring. Hy wil hulle wegdryf
van die erfenis wat die Here vir hulle beloof het. Hy gun hulle
nie die geleentheid om te leef uit die waarheid van die belofte
van die Here nie.

Wanneer Bileam die Here raadpleeg om te hoor
wat hy sal doen, kry hy die opdrag dat hy geen valse getuienis
teen Israel mag gee nie : "Jy mag nie saam met (die
Moabiete) trek nie, jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is
geseënd" (22:12). Wanneer Bileam wegtrek saam met die
vorste van Moab, gaan staan die Engel van die Here in sy pad (22:22).
Hy wat veg vir die verlossing van die gemeente van die Here,
dwarsboom vir Bileam. Uiteindelik val Bileam op sy gesig neer op
die grond en buig voor die Engel. Net wat die Verlosser van
Israel hom toelaat om te sê, sal hy kan getuig oor Israel.
Wanneer Bileam dan sy eerste spreuk aankondig, sê hy : "Hoe
sal ek vloek wie Gód nie vloek nie? En hoe sal ek verwens vir
wie die Here nie verwens nie?" (23:7-8). Israel is nie
sommer enige nasies nie. Hulle is ‘n volk wat afgesonderd
woon en nie tot die ander nasies gereken word nie (23:9). Hulle
is nie deel van die goddeloses nie. Hier is ‘n nasie wat God
self regverdig noem!! Oor hulle kan net gesê word wat God vir
Bileam in die mond lê (vs. 12). Hy mag nie vals teen hulle
getuig nie.

Waarom nie? In sy tweede spreuk hoor ons die
belangrikste rede : "God is geen man dat Hy sou lieg nie.
; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê
en dit nie waar maak nie? Kyk, ek het ontvang om te seën; en het
Hy geseën, dan kan ek dit nie keer nie" (23:19-20).
Daar waar die Here sy seën bevel, is daar geen oordeel uit te
spreek nie. Daar waar die Here vry spreek van sonde, is daar nie
te praat oor die sonde nie. Die oordeel van die Here oor sy
gemeente mag nie teëgestaan word nie. Tussen die sondaars en die
skynheiliges, is daar die ware vromes wat mag leef uit die Woord
van die Here wat nie lieg nie. Wat sal vergewe soos wat Hy beloof
het ; wat sal vernuwe volgens sy belofte. Wat sal versorg soos
‘n vader sy kinders.

Omdat die gemeente van die Here leef vanuit wat
die Here oor hulle te sê het, hoef hulle geen leuens oor hulself
te vertel nie. Hulle hoef geen leuens te vertel om hulle self te
red nie. Hulle hoef geen mooi verhale oor hulself te bedink en te
vertel om hulle lewe te red nie. Ons hoef nie te lieg en te sê
dat ons nie gesondig het nie. As ons sê dat ons geen sonde het
nie, mislei ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. As ons
sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot leuenaar
en is sy Woord nie in ons nie (1 Joh. 1:8-2:1). Die Here God kom
gee vir hulle op aarde ’n Getuie. Die Here Jesus het self na
die aarde gekom. En wanneer Hy verskyn dan sê Hy dat Hy gekom
het om van die waarheid te getuig. Dit is die evangelie van God
se genade wat mense se lewens eg raak en verander. Hierdie Getuie
(Voorspraak) het ons nou ook by die Vader. Hy is ‘n
versoening, nie alleen vir ons sondes nie, maar ook vir die van
die hele wêreld.

Jesus is self die weg die waarheid en die
lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie. By Hom
kry ons die waarheid. Tot die Vader bid Hy dat die Vader sy
dissipels sal heilig in die Waarheid ; die Woord van die waarheid
(Joh. 17:17). Christus kom maak die leuen tot niet!! Buite Hom is
daar net leuens. Oor die aarde, die hemel, oor God en oor mense.
Oor u en oor my. As ons die waarheid oor onsself wil weet, moet
ons na Christus wat die waarheid is.

Wat ‘n geweldige implikasie vir die manier
waarop ek getuienis teen oor my naaste moet gee. In die kerk,
maar ook daar buite!! Christus die ware getuie is ‘n
versoening nie alleen vir ons sonde nie, maar ook vir die van die
hele wêreld. Sal ons die tong wat so maklik vure van
vernietiging kan aansteek, nie eerder gebruik om mekaar te vertel
van die waarheid nie?!! ‘n Vuur aansteek van verligting en
verwarming vir ‘n wêreld wat nie kan leef sonder die
waarheid van God in Christus Jesus nie!!

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.

Liturgie: 

(kyk in preek)