Jy mag nie doodslaan nie

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-12-26
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 40
Preek Inhoud: 

Sondag 40

Ds C Kleyn - Sondag 26
Desember 1999

Lees: Genesis 4:1-16; Mattheus
5:21-26; 1 Johannes 3:11-24; Sondag 40.
Sing: Ps 62: 4,5; Ps 62:6-8; Ps
16:1,4; Ps 139:1,2,13; Ps 73:11,12.

Tema: Jy mag nie doodslaan nie.

  1. doodslag is baie naby, in ons hart
  2. doodslag kan slegs deur geloof oorwin word.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

"Jy mag nie doodslaan nie." Wat het
hierdie gebod met ons te doen? Ons wil tog nie doodslaan nie? Dit
doen ons tog nie? Selfs die gedagte daaraan is weersinwekkend.

Ons lees en hoor dikwels van wrede moorde.
Kapers of inbrekers wat hul slagoffers vermoor. Ons lees van mans
wat hul vervreemde vroue vermoor of laat vermoor. Ons lees van
’n ma wat haar kind vermoor. Ons lees van plaas-moorde. Die
slagoffers van wrede moorde neem daagliks toe. Ons leef in ’n
land waarin die lewe goedkoop geword het. Maar, ons sou tog nooit
iets dergeliks doen nie?

Maar, gemeente, tot wie spreek die Here in die
eerste plek as Hy sy gebod gee: jy mag nie doodslaan nie? Nie tot
die moordenaars nie, maar tot u en ek, tot sy eie volk. As u dink
dat hierdie gebod niks met u te make het nie, dan moet u u wel
opnuut besin Dit het alles met u te make. Hierdie gebod word ook
in die kerk ernstig gebreek.

Laat ons daarop let wanneer ek u verkondig: jy
mag nie doodslaan nie.

  1. doodslag is baie naby, in ons hart
  2. doodslag kan slegs deur geloof oorwin word.

Wat n droewige verhaal het ons in Gen 4 gelees,
die verhaal van Kain en Abel. In Gen 3 lees ons van die val en
ongehoorsaamheid van Adam en Eva. Die volgende hoofstuk wys ons
dat die ongehoorsaamheid tot moord lei. Dit lei tot bloedskuld en
tot bedroefde ouers. Tot ’n man wat deur die lewe moet gaan
met die verskriklike skuld dat hy die lewe van ’n ander
geneem het. Hoe gou lei die sondeval van die mens tot bloed en
trane.

As u geneig is om te dink dat u die 6e gebod
nie nodig het nie, laat my u dan toon wat hier in geding is. Let
daarop dat Abel nie in ’n donker steeg deur ’n vreemde
vermoor word nie. Dis nie ’n bende of krimineel van die
onderwêreld wat hom vermoor nie. Hy word ook nie op die slagveld
gedood deur ’n onbekende soldaat nie.

Wie vermoor Abel? Diegene wat saam met hom
grootgeword het. Diegene wat die mees intiem met hom was. ’n
Broer slaan ’n broer dood. Seuns van dieselfde pa en ma.
Hulle het as kinders saam gespeel. Tog loop dit uit op ’n
broedermoord.

Dit is ’n vreeswekkende saak, so aan die
begin van ons menslike geskiedenis. Dit is ’n vreeswekkende
saak wat ons steeds weer raakloop in ons wêreld. Mense vermoor
dikwels diegene wat naby hulle is, hulle eie familie. Hier het
ons die droewige werklikheid van huislike geweld. Daarom moet ons
nie te gou se: dit sal ek nooit doen nie. Die tragedie is dat
dinge in die huis maklik kan ontaard. Dinge kan verkeerd gaan in
ons huwelik, in ons gesin. Sodat ’n mens nie meer so seker
is wat hy sal doen as dit of dat gebeur nie. Abel is deur sy eie
broer vermoor.

Let ook daarop dat Adam en Eva groot
verwagtings gehad het, nie van Abel nie, maar van Kain. God het
gesê dat die saad van die vrou die slang sou verpletter. Dat een
van Eva haar nakomelinge die werk van Satan sou tenietdoen.
Wanneer die eerste kind gebore word, dan is Adam en Eva in die
wolke. In groot blydskap gee Eva hom die naam Kain met die woorde:
"Ek het ’n man verkry met die hulp van die HERE."
Hulle het groot verwagtings van hom.

Wanneer die tweede seun gebore word, dan is die
optimisme nie so sterk nie. Adam en Eva gee hom die naam Abel,
wat ydelheid beteken, nietigheid. Dit lyk asof hulle meer onder
die indruk gekom het van die vloek van God op die aarde. Hul
verwagtings is nie meer so hooggespanne nie.

Wel, die seun van wie hulle sulke groot
verwagtings gehad het, word uiteindelik ’n moordenaar. In
plaas van hoë verwagtings is daar nou slegs verdriet en verlies.
Wat ’n skok! Hulle van wie ons dit die minste verwag, is in
staat om die mees verskriklike dinge te doen. As u dus dink dat u
vas staan, pas op dat u nie val nie.

Maar gemeente, daar is ’n ander rede
waarom ons nie moet se: dit alles geld nie vir my nie. In watter
verband het die moord plaasgevind? Kain se moord het plaasgevind
in die verband van die offers, die godsdiens. Godsdienstige mense,
kerkmense soos u en ek is in staat om doodslag te pleeg. Dink
maar aan die dood van Jesus Christus. Jesus was die ware saad van
die vrou. Hy het gekom om die werk van die bose teniet te doen.
Maar wie het Hom laat doodmaak? Nie goddelose heidene in die
eerste plek nie. Dit was in die eerste plek die baie
godsdienstige Skrifgeleerdes en Fariseërs, mense wat in die
verbond grootgeword het. Hulle het moordplanne bedink en die Seun
van God aan die kruis laat bring.

Broeders en susters, wat ek probeer duidelik
maak is dit: onderskat nie die verdorwenheid van die menslike
hart nie, die verdorwenheid ook van die godsdienstige hart, die
sonde binne in ons. Onderskat dit nooit nie. As ek werklik myself
ken, as ek weet wat die Bybel sê oor ons verdorwenheid, dan sal
ek wel versigtig wees. Ek sal dan nie te gou se: dit sal my nooit
oorkom nie, ek sal myself nooit aan doodslag skuldig maak nie.

Kyk maar na Dawid. Dawid was ’n man na God
se hart. Tog moes die profeet Natan tot hom sê: jy is die man,
die moordenaar. As ek eerlik met myself is, sal ek moet erken:
daar is slegs een rede waarom ek nie doodslag gepleeg het nie.
Dit is slegs deur die genade van God. Slegs deur sy genade het ek
die verskrikking van huislik geweld nagelaat. Of erger: doodslag
nagelaat. Soms skrik ek inderdaad van myself, byvoorbeeld na
’n woede uitbarsting. Ek besef weer waartoe ek van nature in
staat is.

Is ek dan onskuldig mbt die 6e gebod? Geld dit
tog nie vir my nie? Wel, wat was dit wat Kain daartoe gedryf het
om sy broer Abel dood te slaan? Jaloesie en haat. Omdat sy dade
boos was en die van sy broer regverdig. In die bergrede lê
Christus die wortel van moord bloot, soos haat, toorn, wraaksug.
Jesus wys dat Hy dit as moord beskou. "Ek se vir julle dat
elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording
moet doen voor die gereg." Is ek onskuldig aan doodslag? Het
ek nooit sonder rede kwaad geword op iemand nie? Het ek nooit
iemand dood gewens nie? Christus vervolg: "en elkeen wat vir
sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot
Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in
die helse vuur."

Met ons tong gee ons dikwels uitdrukking aan
die afguns en haat binne in ons. Ons tong kan ’n dodelike
wapen wees. Dit kan slaan en seer maak, diep verwond. Dit kan
iemand se gees verwoes. Dit kan die lewe van ander ellendig,
amper onmoontlik maak. Ons kan wel sê dat die noem van name nie
seer maak nie, maar dit is ’n leuen. Name maak dikwels meer
seer as ’n afranseling. Jesus plaas dit op een lyn met
doodslag. "Elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet
verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou
dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur."

Dit klink so onbeduidend om iemand ’n
leeghoof of ’n dwaas te noem. Maar hoe sien God dit? As
’n ernstige vergryp, as doodslag. Iets wat die vuur van die
hel verdien. Jesus wys hoe ernstig die saak is. Doodslag is nie
slegs ’n saak van iemand letterlik van die lewe berowe nie.
Dit omvat woede, skinder, laster. Dit omvat – vergelyk Mt 5:23-26
wrok teen iemand koester, ’n gebrek aan vergewingsgesindheid,
iemand se karakter stukkend maak. Wat God betref is dit net so
erg as moord.

Iemand name gee is ’n lelike simptoom van
’n begeerte om iemand te diskwalifiseer, om iemand uit die
weg te ruim. Met my gedagtes, met my blik, met my gebare, met my
woorde kan ek wys dat ek iemand dood wens. Ek kan op iemand
neersien, hom of haar verag, hom of haar behandel as lug, as
nikswerd – selfs in die naam van godsdiens. Ja, ek kan
daarin baie vroom en godsdienstig lyk. Dit is immers goddeloses
wat ek afwys? Maar dit is doodslag.

Durf u nog te suggereer dat die 6e gebod niks
met u te make het nie? Is u onskuldig? Is ek onskuldig? Kyk hoe
ernstig dit is. Christus sê, as ek iemand so behandel dan loop
ek nie soseer die kans dat ek voor die joodse raad gesleep word
of dat ek onder die kerklike tug kom nie. As ek so aangaan met my
woede, haat, laster en gebrek aan vergewingsgesindheid, sonder om
my daarvan te wil bekeer, dan lei dit na die hel, sê Jesus. Om
die lewe te verlaat met ’n hart vol woede, wrok, haat sal my
in God se oordeel bring, in die gevangenis van die hel waar ek
nooit sal uitkom nie. Dit is hoe ernstig die saak is, hoe
dringend dit is.

Die klein rusies van ons, die gebaklei van ons,
as dit voortgaan en ons ons nie daarvan bekeer nie, dan kan
daardie dinge ons in die hel bring. Dink u dat dit te kras gesê
is? Wel, wat sê Johannes met betrekking tot haat in 1 Johannes 3:15?
"Elkeen wat sy broeder haat, is ’n moordenaar; en julle
weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom
het nie." En as Paulus die werke van die sondige vlees soos
vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag,
partyskap, en moord noem, dan waarsku hy: "dat die wat sulke
dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie." Gal
5:21. Hulle het geen toegang nie. As ek voortgaan in die sonde,
sonder om my te bekeer nie - van die groot publieke sonde, maar
ook van die haat, afguns, gebrek aan vergewingsgesindheid, dan
sal ek die koninkryk van God nie beërwe nie. U besef tog wel die
erns hiervan?

Wat Christus in Mt 5 sê is: u en ek moet ons
teenoor God verantwoord. As u, as ek volhard in sonde, dan sal
God teen ons wees. Hy is die heilige God en sal die sonde straf
tot die laaste sent. Daarom, gaan nie deur die lewe met wrok in u
hart, met haatgevoelens, met afguns, met die gebrek aan
vergewensgesindheid, ja, met doodslag nie.

Wat moet ons dan wel doen? Daar wil ons op let
in die tweede punt: doodslag kan slegs deur geloof oorwin word.

Waarom het Kain Abel doodgeslaan? Vanweë
afguns, haat. Hoe kom hy aan die haat en afguns? Omdat sy hart
nie reg met God is nie. Dit is die kern van die saak, die
werklike probleem. Soos ons lees in 1 Joh 3:12: Kain was uit die
Bose en het sy broeder doodgeslaan. En waarom het hy hom
doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en die van sy broer
regverdig." Wel, daar kom dit op aan vir u en vir my. Is u
hart reg voor God? Van nature is elkeen van ons soos Kain. Van
nature is ons geneig om God en ons naaste te haat. Daarom is die
ware antwoord op geweld nie meer polisie en swaarder strawwe nie
– ook al kan dit nodig en nuttig wees. Die ware oplossing is
’n persoonlike relasie met God deur Jesus Christus, geloof.
Geloof in die evangelie van Jesus Christus. Vernude harte en
gedagtes. Wat vir elkeen van ons die meeste nodig is, is dat ons
wys dat ons ander mense is, bekeerde mense, gered deur die bloed
en Gees van Christus. Mense met ’n nuwe verhouding tot God.
Nuwe mense wat deur geloof in Jesus Christus lewe.

Dit is ook die antwoord vir ons samelewing. Wat
die mense om ons heen eers nodig het, is die evangelie. Die
evangelie dat God in Jesus Christus met ons haat vir mekaar
afgereken het. Dat daar in Jesus Christus vergewing en vernuwing
is vir almal wat glo. Ja, vergewing ook vir moordenaars. Vir
bekeerde moordenaars.

Selfs Kain was nie buite die bereik van die
vergewing van die Here God nie. Die enigste probleem was dat Kain
dit nie wou hê nie, hy was te arrogant daarvoor. "Is ek my
broer se wagter?" sê hy teen God. Kain bekeer hom nie. Hy
erken nie nederig sy skuld nie, en pleit nie vir vergewing nie.
Nee, die enigste vir wie hy belangstelling het, is homself, dat
die straf van God vir hom draaglik sal wees. Wanneer jy die
gesprek tussen die Here en Kain lees, dan val dit inderdaad op
dat Kain nêrens sy skuld bely en om vergewing vra nie. Hy vra
slegs vir n verligting van sy straf.

Die evangelie van Jesus Christus verkondig dat
daar vergiffenis is, ook vir berouvolle moordenaars, ook vir u en
ek wat in ons harte en deur ons gebare en woorde doodslag gepleeg
het. Jesus Christus het gekom om sondaars te red. Niemand kan sê:
my sonde kan nie vergewe word nie. Watter sonde dit ook mag wees,
dit kan deur Christus afgereken word. Jesus Christus het betaal
vir elkeen wat glo.

Sal u tot Hom gaan? Sal u in berou met Hom
pleit? Sal u op Hom vertrou, op sy offer? Daar is vergewing selfs
vir berouvolle moordenaars. Dink aan die man naas Jesus aan die
kruis. Waarskynlik was hy ’n moordenaar, n terroris. Hy
erken sy skuld. Hy se tot die ander misdadiger aan die kruis:
"Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? -
ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons
dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie." (Lk 23:41).
Daarna rig hy hom tot Jesus en se: "Dink aan my Here,
wanneer U in u koninkryk kom." En wat antwoord Christus aan
hom? "Voorwaar ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in
die Paradys wees." Vandag is jou sondes vergewe. Jy mag
sonder verskrikking ingaan in God se paradys, in God se nabyheid,
saam met my.

Dink ook aan Jesus gebed kort nadat hy
gekruisig is. "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat
hulle doen nie." Vir wie bid Jesus hier? Hy bid vir sy
moordenaars. Met Pinkster en daarna kom baie van hulle wat
medepligtig aan Jesus se kruisiging was tot geloof. Hulle is
gered. Ook baie priesters. Daar is dus vergewing vir moordenaars
wat hulle bekeer van die mees ernstige doodslag.

En u broeders en susters, wat sê dit vir u dat
u vergewing het, ook van die doodslag in u hart? Lei dit tot
liefde, vergewensgesindheid? Hom aan wie baie vergewe is, sal
self ook baie liefhê en vergewe.

Geloof beteken nie slegs vergewing nie. Dit lei
ook tot vernuwing. Ek begin dan meer en meer lief te hê. Ek soek
dan meer en meer die beste vir my naaste. Ek wil alles daarvoor
doen om met my naaste versoen te wees. Wanneer ek besef dat aan
my baie vergewe is, dan sal ek ook baie vergewe. Soos Joh dit
formuleer in 1 Joh 3:16: "Hierin het ons die liefde leer ken,
dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir
die broeders af te lê." Wanneer ek weet wat Christus vir my
gedoen het, sal ek dan nie alles vir die welsyn van my naaste
doen nie? Dan los ek die haat, die gee van name, die afguns, die
wrok, die gebrek aan vergewensgesindheid. Hulle behoort by die
sondige natuur. In plaas daarvan het ek my naaste lief soos
myself.

Dit is ook die rigting wat Christus wys in Mt 5:23-26.
Daar sê Hy: "As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit
jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe
daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder,
en kom dan en bring jou gawe." Gaan versoen jou eers met jou
broeder. Gaan nie God dien, terwyl jy in onmin met jou naaste
lewe nie, terwyl jy ander minag, terwyl jy weier om versoen te
wees nie. God het geen behae in sulke godsdiens nie. Gaan versoen
jou, soos God jou versoen het. Erken jou eie sondes en swakhede.
Vra vir vergewing en vergeef ook self.

Jesus vervolg: "Wees gou goedgesind
teenoor jou teëparty so lank as jy nog saam met hom op die pad
is, sodat die teëparty jou nie miskien oorgee aan die regter en
die regter jou oorgee aan die geregsdienaar en jy in die
gevangenis gewerp word nie." Gaan nie deur die lewe met
’n onbekeerde en liefdelose hart nie. Maak dit reg met jou
teenstander nou, terwyl dit nog ’n tyd van genade is. Maak
dit nou reg. Voordat dit te laat is, voordat jy sterwe, voor die
laaste oordeel. Doen dit in geloof.

Kyk wat Christus vir u gedoen het. Hy het sy
lewe vir u afgelê. Sal u dan nie alles in u vermoë doen om dit
reg te maak met u brs en srs, ja, met alle mense nie? U het
grootgeword met die wet. U weet dat dit gebied: jy mag nie
doodslaan nie. En doodslag is so naby, is dit nie so, in ons
harte, in die vorm van haat en veragting. Maar Jesus Christus het
gesterf vir moordenaars soos u en ek. Kom tot Hom. Glo en u sal
gered word. Glo en u sal vergewe word. Glo en u sal vernuwe word.
Glo en u sal groei in liefde vir God en u naaste.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)