Christus vergader Sy kerk wat volkome vergifnis ontvang

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-12-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 21
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Sondag 21

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet

; Psalm 122;
Geloofsbelydenis – Nicea; Psalm 133

; Skriflesing: Johannes 10: 7-21; Viering van die Heilige Nagmaal; Terwyl die
tafel gereedgemaak word: Ps  87: 1,2;
Lees: Johannes 13:
1-20; Sing:  Ps 87: 3;
Terwyl ons van
tafel wegbeweeg:  Ps 87: 4,5; Kollekte

; Psalm 48: 4,5; Teks: Sondag 21; Preek; Psalm 119: 22,29; Dankgebed; SB 27: 4,5
; Seën

PREEK

Broers en susters,
geliefde gemeente van Jesus Christus

Elkeen persoonlik het bely:
Ek glo in die Heilige Gees. Die Apostoliese Geloofsbelydenis gaan nou met
hierdie woorde verder: “ek glo aan
‘n heilige algemene, christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.”

Drie keer het ons na “ek
glo” die woordjie in  gebruik. Die vierde keer dat ons die woorde “ek glo” in
die mond neem, volg nie die woordjie in  nie
maar die woordjie aan. Dit lyk na ‘n baie klein verskil, nogtans is die verskil hier
baie belangrik.

Ons glo in
God maar ons glo verseker nie in die
kerk nie. Die kerk, hoe belangrik ook, staan nie gelyk en verseker nie bo die
HERE nie. Die kerk mag nie aanbid word nie. God Drieënig moet aanbid en vereer
word. Ons kan die HERE nie toets nie want Hy is volkome heilig en goed. Die kerk
sal altyd weer getoets moet word. Dit moet gebeur vanuit God, vanuit wat Hy in
die Bybel van Homself sê en wat Hy vir ons as norme bekendmaak. Die HERE is
onfeilbaar, die kerk is dit verseker nie.

Die verskil tussen die
woordjies in en aan is vir die bestaan en die eenheid van die kerk juis baie
belangrik. ‘n Kerk wat homself steeds aan homself of aan sy eie verlede toets
en sê dat hy daarom ware kerk is, is dit verseker nie. So ’n gemeenskap het
afgodery met die woord kerk gepleeg. ‘n Ware kerk van Christus toets sy eie
bestaan steeds weer aan die HERE, aan Sy Woord en is daarom steeds in beweging.
Dit is die beweging, die krag van die Heilige Gees. Dan sien ‘n mens steeds
weer dat dit Christus is wat Sy kerk bymekaarmaak.Ons let hierop as ek vir julle
die evangelie van die Goeie Herder onder hierdie tema verkondig:

Christus vergader Sy kerk wat volkome vergifnis ontvang

1.   
Christus vergader

2.   
Sy skape volg  Hom

3.   
Elke skaap ontvang vergifnis

Christus vergader

Dis hier baie belangrik om daarop te
let dat nie die kerk onderwerp van die sin in antwoord 54 is nie. Nie die kerk
tree hier aktief op nie, maar die Seun van God, Jesus Christus. Die klem lê
hier nie op die kerk, op die mense wat by die kerk behoort nie, maar op Christus
wat die Koning van die kerk is, wat die Herder van die kerk is. Ons vind hier
‘n duidelike aansluiting by wat  die
Here Jesus self in Johannes 10 sê, as hy die gelykenis van die goeie Herder
vertel.

Sonder
Christus se aktiwiteit as die Herder sou die kerk vandag nêrens op hierdie
aarde bestaan nie. Dan kon ‘n mens nêrens op aarde mense vind wat in diepe
geloof die Nagmaal van die Here vier nie.

Dit
is Christus en nie ons nie wat vir die ontstaan, die bestaan en die voortbestaan van
die kerk sorg. Daarom is dit eintlik ook verkeerd om van ons kerk  te praat. Dit
is Christus se kerk en niemand anders s’n nie. Ons kan wel sê: die kerk van
Christus waar ons saamkom of waaraan ons behoort. Ons moet selfs in die manier
waarop ons praat daarvoor waak om by ander en ook by onsself 
die gedagte te laat posvat dat die kerk waaraan ons behoort deur ons werk
nog trou is, deur ons trou nog kerk van Christus is, deur ons trou nog bestaan
of gegroei het. Niks ons kerk nie, alles Christus se kerk en ons het alles aan
Sy werk in en deur ons te danke.

Ons
het alles te danke aan Christus wat die Koning is. Ek vra nou aandag vir
Christus en Sy Koninkryk omdat dit vir ons wys wat die kerk op aarde is. As ‘n
mens die Evangelies lees, lees ons baie keer van die Koninkryk, van die
Koninkryk van die hemele en ons lees net twee keer die woord gemeente of kerk.
As die Here Jesus gelykenisse vertel, lees ons steeds weer dat Hy die Koninkryk
of die Koninkryk van die hemele met iets vergelyk. Die Koninkryk is meer as die
Kerk. Die Kerk is die burgers van die Koninkryk, hulle is die mense wat Koning
Christus wil volg en gehoorsaam en volgens Christus se bevele die Koninkryk van
Christus op die aarde al hoe meer gestalte wil gee. Hulle werk vanuit die kerk,
vanuit die luister na die Woord van die Koninkryk 
wat in Christus se kerk verkondig word.

Wat beteken dit vir ons vandag? Dit
beteken dat ons ons lewe nie in die kerk mag opsluit nie. Die kerk is baie
belangrik en dis ons roeping om ‘n lewende lid van die ware kerk te wees maar
die kerk mag vir ons geen klooster word nie. Dit moet juis die plek wees waar
ons versorg word, waar ons as ons gewond is weer deur die Woord die goeie
medisyne ontvang om dan weer die wêreld in te gaan om daar Christus se
Koningskap uit te roep en te bevorder. As ons saam na die Woord luister en saam
Bybelstudie doen, is dit nie om net vir jouself te hou nie maar omrondom jou in
jou omgewing te gebruik en daarmee in die daaglikse lewe te werk. Dis die manier
waarop Christus deur jou en my, deur ons as gemeente Sy kerk wil vergader.

Wat
is die gebied, uit watter deel van die wêreldbevolking vergader Christus Sy
kerk? Die antwoord daarop is: “uit die hele menslike geslag.”

Deel
van God se volk wees is nie die voorreg van een of ander ras of 
volk nie. Dit was ook nie die voorreg van die volk Israel nie. Die Here
Jesus wys die Jode daarop as Hy in Joh 10 sê: “Ek het nog ander skape wat nie
aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem
luister, en dit sal wees een kudde, een herder” (vs 16). 
Ons sien hier hoe die bestaan van die kerk tot in ewigheid met God se
keuse, met Sy uitverkiesing te make het. Die Here Jesus weet verseker dat 
terwyl die mense nog glad nie glo nie, terwyl hierdie mense selfs nog
niks van Hom weet nie, dat hulle gaan glo en tot Sy gemeente gaan behoort.
Daarom kan ons in Sondag 21 bely dat Christus vir Hom ‘n gemeente wat tot die
ewige lewe uitverkies is, vergader,
beskerm en onderhou.

Christus
vergader uit die hele menslike geslag. Geen enkele volk, geen enkele ras is
beter as die ander nie. Daarom verdien geen volk en ras meer om God se volk te
wees as die ander nie. Ons is geen haar beter as swart, bruin of geel mense nie.
‘n Afrikaner, ‘n Nederlander of  ‘n
Brit verdien nie meer as ‘n Sotho, ‘n kleurling of ‘n Venda om by God se
volk te behoort nie.

Niemand
word op grond van ras of velkleur deur Christus buite Sy gemeente gehou nie. Die
belangrikste en die innigste eenheid wat op aarde bestaan, is die eenheid in die
geloof. Dit is die innigste band wat vanuit die band met Christus tussen mense
kan bestaan. Hoekom is dit die innigste en moet en kan dit die innigste band
wees? Omdat hierdie eenheid bo taal en kultuur uitstyg. Die eenheid van die
geloof vra ook nie om een kultuur en taal op aarde nie. Die Jood mag ‘n Jood
bly, die Griek mag ‘n Griek bly. As Paulus die wêreld rondgaan om in diens
van Christus die kerk te vergader,  skryf
hy oor hierdie verskeidenheid en eenheid van Christus se kerk ‘n paar
opvallende dinge.

Paulus
is by sy werk as evangelieverkondiger nie ‘n persoon wat sy Joodsheid
beklemtoon nie. Hy pas hom by die volk waaronder hy die evangelie verkondig
sover as moontlik aan. Die grens van die moontlike lê in die norm van die
evangelie. En dan skryf hy in 1 Kor 9: “Want alhoewel ek van almal vry was,
het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win. Vir
die Jode het ek soos ‘n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die
wet is,  soos een wat onder die wet
is, om die wat onder die wet is, te win. Vir die wat sonder die wet is, soos een
sonder wet – al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van
Christus – om die wat sonder wet is te win” (19-21).

Paulus
pas hom by elke volk opnuut aan om geen struikelblok vir mense te wees om tot
Christus, tot Sy kerk te kom nie. Hy sê dit in 10: 32,33 so: “Wees geen
oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie; net
soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar die van baie,
sodat hulle gered kan word.”

Elke
volk, elke nasie mag in sy eie taal,  met
sy eie kulturele agtergrond, met liefde vir sy volksgenote die Here aanbid. Hoe
goed is dit om juis so in liefde jou volksgenote te soek om vir hulle te leer om
Christus te ken en te aanbid. Nogtans mag dit nooit ten koste van die eenheid
van God se volk uit alle volke gaan nie. Jy en ek is deur die Gees se werk van
wedergeboorte, deur die Seun se werk van kerkvergadering 
inniger met my swart broer in Soshanguve en Mamelodi verbid as my
ongelowige familielid, as my ongelowige mede-Afrikaner of mede-Hollander. Hulle
wat Christus deur die eenheid van die geloof 
aanmekaar verbind, is jou egte familie. Hier het groot betekenis wat die
Here Jesus in  Lukas 14: 26 sê:
“as iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en sy moeder en vrou en
kinders en broers en susters, ja selfs sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie
wees nie.”

Hulle wat
Christus in die eenheid van die geloof vergader, behoort regtig bymekaar:
“Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of
Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge” (1 Kor
12: 13).

Hierdie
eenheid van die geloof deur die een Gees kry juis by die Nagmaal sy sigbare
gestalte. Hoe heerlik is dit om hierdie eenheid so saam te mag bely. Dit is ‘n
eenheid wat altyd bly bestaan en later nog duideliker gesien en gevoel word.
Want Christus gaan deur met Sy werk om Sy kerk te vergader. Selfs so dat 
jy persoonlik in die geloof mag bely dat jy van Christus se kerk ‘n
lewende lidmaat is en ewig  sal
bly.

Dis
Christus wat Sy skape roep en vergader. As hulle Sy stem hoor, volg hulle Hom.
Ons let daarop in die tweede plek.

 Sy skape volg Hom.

As 
Christus mense roep en vergader, beteken dit dat hulle bymekaar kom,
hulle vorm ‘n trop. ‘n Trop is ‘n groep wat bymekaar behoort. Hulle kan
net bymekaar bly as hulle na die goeie Herder se stem luister en vir Hom bly
volg. By die bly volg van Christus behoort ook dat hulle in liefde by mekaar
betrokke bly. By die hoor na Sy stem behoort ook dat die skape mekaar volgens
Christus se woord in liefde wil dien en help. Dat ons werklik as ‘n gemeenskap
van heiliges wil lewe.

Christus
gee daarvan as hoof  van die liggaam
in Sy eie lewe op aarde ‘n pragtige voorbeeld wat vir ons vandag ook ‘n
opdrag en bevel is. Dit is wat ons in Joh 13 gelees het: Jesus wat die voete van
Sy dissipels was, wat Homself tot die laagste werk en posisie verneder vir Sy
volgelinge. Hy doen die werk van die slaaf. Hy buig hom neer om Sy leerlinge se
voete, wat vuil is en stink, te was. ‘n Mens kan dit vir die gevoel van die
leerlinge daarmee vergelyk dat ons bediende siek is en iewers in Mamelodi of
waar ookal in ‘n swart voorstad woon en jy gaan daarnatoe en hierdie keer vat
jy ‘n emmer met water en ‘n lap en gaan op jou knieë om die vloer en alles
wat vuil is, skoon te maak. Jy sou jouself daarvoor tog nie te groot voel en dit
as ‘n skande ervaar nie?!

Die
Here Jesus leer Sy kerk, jou en my hier persoonlik hoe ons vanuit Sy liefde kan
en moet lewe. Ons het Nagmaal gevier. Ons is bly en dankbaar vir die Here Jesus
se offer vir ons. Sy liefde moet so in ons vloei dat dit vir ons ook bewerk dat
ons in liefde elke broer en suster in alles
wil help en dien. Die Here Jesus sê na die voetwassing vir Sy gemeente van
alle tye: “As Ek dan, die Here en Meester, julle voete gewas het, is julle ook
verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om,
net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir
julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ‘n gesant is ook nie
groter as die een wat hom gestuur het nie. As julle hierdie dinge weet, salig
is julle as julle dit doen” (Joh 13: 14-17).

Die
gemeenskap van die heiliges kan en mag nooit ‘n idee wees nie. Die gemeenskap
van die heiliges moet in jou en my lewe al hoe meer ‘n houding wees wat ons
elke dag uitleef. Christus se liefde vir jou moet deur die werk van God se Gees
in ons so werk dat dit vir ons nie ‘n las nie maar ‘n lus is om: “my gawes
gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.”

Dan
leer ‘n mens ook om onbekommerd  vir
‘n ander hulp te vra. Dan vra en deel jy en dan maak Christus se liefde, Sy
Gees ons saam tot ‘n gemeenskap wat vanuit Christus se liefde leef. Wat die
blydskap en die uitsig van die vergewing van die sondes ken. Ons let nou nog op
die vergewing van ons sondes.

Elke
skaap ontvang vergifnis

‘n
Skaap wat by die trop wegdwaal en hom nie deur die Herder laat terugroep nie,
staan nie net alleen nie. Hy bring homself nie alleen in gevaarlike
omstandighede nie. Hy is besig om sy ewige toekoms te verspeel. Elke skaap het
naamlik vergewing van sy sondes nodig om deur God vir ewig vrygespreek te word,
om vir ewig ‘n lidmaat van Christus se kerk te wees. Let daarop dat ons in
antwoord 54 bely dat die gelowige ewig ‘n lid van die kerk bly. Dit wys daarop dat die gelowige ook
na sy sterwe ‘n lid van die kerk is. ‘n Deel van die kerk is bo in die hemel
en die ander deel is op die aarde.

Om
in God se oë lidmaat van die kerk te wees, moet jy in die vergewing wat die
Here Jesus deur Sy lyding verdien het, deel. As jy met Hom lewe, in liefde Hom
volg, het Christus vir jou sondes voldoen, jou skuld betaal. Wat is vergewing?

Dit
is dat die HERE die skuld wat jy met jou sondes opgebou het, afskryf en ook
werklik nooit meer daarop terugkom nie.  Weg
is ook werklik weg. Ek wil julle op twee tekste in die Bybel wys waar dit so
duidelik gesê word:

Jes
38:17: “Kyk, tot heil het die bitter, ja bitter lyde my geword; maar U, U het
my siel liefgehad en getrek uit die kuil van vernietiging. Want
U het al my sondes agter U reg gewerp.”

Miga
7:19: “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal
al hulle sondes in die dieptes van die see werp.”

Wie
in geloof vandag Nagmaal gevier het of dit sien vier het, mag verseker weet dat
al jou sondes wat jy tot nou toe gedoen het, vir die HERE weg is. Hy kom nie
daarop terug nie! Jy kan die stryd teen die sondes in jou lewe weer met nuwe
krag en moed begin. Dit het jy nodig. Want die stryd, die oorlog in jou lewe
gaan voort. Jou lewe lank duur die stryd teen jou sondige natuur, jou sondige
self. Wie sê dat hy nie meer nodig het om te stry nie, ken Christus nie! 
Wie Christus ken, sien nog sy sondes en stry daarteen. Al is dit ‘n
lewenslange stryd, nogtans is dit geen uitsiglose stryd nie. Want wie stry en
van sy neerlae wil leer en so sy swak plekke ken en die deur God se krag weer
beveilig, ontvang vergifnis. Dan ontvang ook jy, vanweë Christus se liefde vir
God se kinders, by die oomblik van jou dood en op die dag van Christus se
terugkeer dat jy nooit in die strafgerig van God sal kom nie!

Halleluja!

AMEN   

 

     

    
  

Liturgie: 

(kyk in preek)