Die Heilige Gees en die voorbereiding op die Heilige Nagmaal

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-12-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 20
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Sondag 20

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet;
Psalm 116: 1,7; Lesing
van die Wet; SB 14; Skriflesing:  Psalm
139; Gal 5: 16-26; Gebed; Kollekte; SB 38 ; Teks: Sondag 20; Preek; Psalm 
139: 2,3,12; Dankgebed;
Psalm 43: 3,4; Seën

PREEK

Geliefde gemeente van ons
Here Jesus Christus, broers en susters

Voorbereiding op die
Heilige Nagmaal is vir ons bekende woorde. Ons ken in die kerke waarby ons
behoort die gewoonte om die Sondag voor die Heilige Nagmaal ons gesamentlik op
daardie viering voor te berei. Ons praat ook van ‘n voorbereidingspreek. As jy
nou in ons kerkorde kyk, sien jy nêrens ‘n verpligting om dit te doen nie.
Ons het mekaar as kerke nie verplig om ‘n voorbereidingsdiens of ‘n preek
ter voorbereiding op die viering van die Nagmaal te hê nie. ‘n Gemeente wat
dit nie op hierdie manier doen nie, is daardeur nie minder gereformeerd nie.

Hoe kom ons nou aan
hierdie gebruik, wat is die betekenis daarvan en wat is die nut en ook die
gevare daarvan? Hieroor maak ek nou ‘n enkele opmerking in die inleiding op
die preek.

Die gebruik van ‘n
voorbereidingspreek en diens stam uit die tyd van die Reformasie. Dit het in die
Suid-Weste van Duitsland begin. Later het kerke in ander dele van Europa hierdie
gebruik oorgeneem. Die eerste tyd was hierdie voorbereidingsdiens nie op die
Sondag voor die Sondag van die Nagmaalviering nie maar het die gemeente vir
hierdie doel op die Saterdagmiddag of aand saamgekom. Ook die eerste Nederlandse
Sinodes het hierdie gebruik aangemoedig, maar vanaf die Sinode van Middelburg
1581 was dit volledig die vryheid van elke gemeente om dit wel of nie te doen
nie.

Die Sinode van Middelburg
antwoord op die vraag of dit raadsaam is om dit te doen: “Dit kan nuttig wees
om te doen, maar elke gemeente sal op hierdie punt doen wat volgens hulle vir
hulle die beste is.”

Die ontstaan van ‘n
aparte voorbereiding op die Nagmaal hou in die tyd van die Reformasie ook
verband daarmee dat mense vanuit die Roomse kerk nie goed geweet het wat die
viering van die Nagmaal is en wat voorbereiding daarop beteken nie. Die
gesamentlike voorbereiding op die Nagmaal het die voordeel dat ons steeds weer
besef dat voorbereiding, dat selfbeproewing nodig is. Ons bely dit in art 35 van
die NGB so: “Daarom behoort niemand daarheen te gaan as hy homself nie eers
deeglik ondersoek het nie, sodat hy nie tot sy eie oordeel eet en drink as hy
van hierdie brood eet en uit hierdie beker drink nie (1 Kor 11:29).”

Nogtans dreig ook ‘n
sekere gevaar as ons baie aandag en klem op die voorbereiding op die Nagmaal lê.
Die gevaar is dat vir ons die Nagmaal, een keer in die drie maande, belangriker
word as die ontmoeting van die HERE en Sy gemeente elke week op die Sondag. Ook
dan is dit die Heilige Gees wat in ons midde is. Ons voorbereiding op elke
kerkdiens mag nie minder wees as op die viering van die Nagmaal nie. As daar in
ons lewe dinge is wat in die pad staan van ons omgang met die HERE moet ons
daarvan ontslae raak voordat ons Hom saam met Sy volk in die erediens ontmoet.
As iets met 'n broer of suster nie reg is nie mag ons nie tot die Nagmaal wag
nie. Ook dan geld dat ons voor die erediens doen wat die Here Jesus in Mat
5:23-25 sê: “as jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat
jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar en gaan
versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe. Wees gou
goedgesind teenoor jou teënparty so lank jy nog saam met hom op die pad is.”

Hoe belangrik is die
selfbeproewing! Hoe belangrik is dit met die oog op elke kerkdiens en ook met
die oog op die Nagmaal. Ons wil vanoggend in die besonder oor die werk van die
Heilige Gees nadink en sien wat dit vir die selfbeproewing met die oog op die
Nagmaal beteken.

Ek verkondig aan julle die
Woord van die Gees onder die volgende tema:

 

DIE HEILIGE GEES EN DIE VOORBEREIDING
OP DIE HEILIGE NAGMAAL

1.   
Die Heilige Gees is gegee

2.   
Die Heilige Gees is aan my gegee

3.   
Die Heilige Gees is vir ons gegee.

 Die
Heilige Gees is gegee

Die eerste
wat ons in Sondag 20 bely, is dat die Heilige Gees God is, nes die Vader en die
Seun. Die Gees is nie minder God as Vader en Seun nie.

Hy is die
enigste God. Hy staan bo alle dinge. Hy styg 
bo die hele skepping en dus ook bo elke mens uit. Die Gees weet selfs
beter as jyself wat in jou omgaan. Hy ken selfs die verborge dinge in jou hart
wat jy self nie goed onder woorde kan bring nie. Niks kan ek vir God se Gees
verberg nie: “HERE, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U
verstaan van ver my gedagte. …. Waar sou ek heengaan van U Gees en waarheen
vlug van U aangesig?” (Ps 139: 1,2,7).

Ons kan
onsself nie werklik ken as ons nie God se Gees ontvang nie.

Die mens
is ‘n skepsel en kan nie oor die Heilige Gees regeer nie. Die mens kan die
Heilige Gees nie beheer nie. Hy het juis die Heilige Gees se leiding nodig. ‘n
Mens sien dit net raak as Hy die Heilige Gees as God erken. As jy erken dat jy
vir ‘n goeie lewe, selfs vir elke tree wat jy op aarde neem van die Heilige
Gees afhanklik is. 

Die mens
wil na die sondeval nie meer die Gees se leiding aanvaar nie. ‘n Mens wil
onafhanklik wees, sy eie ding doen en nie in diens van HERE staan nie. Nogtans
weet ons dat ons nie ‘n goeie lewe sonder die Gees se leiding kan lei nie.
‘n Lewe met uitsig kan nie sonder die Gees se leiding geleef word nie. ‘n
Lewe wat uitsig het omdat jy met die Here Jesus as jou Redder verbind is, kan
nie sonder die Gees se leiding en werk in jou hart en lewe gebeur nie.

Jy het
nodig dat die Heilige Gees vir jou gegee word. Hoe is dit moontlik dat jy en ek
die Gees ontvang? Dit is deur jou en my sondes tog onmoontlik dat die Gees wat
volkome heilig is Hom met jou en my verbind? Hoe kan ek nou die Heilige
 Gees
ontvang?

Die
enigste waardeur hierdie heerlike wonder in jou lewe kan kom is die Here
Christus. Hy het die sondes wat  op
jou en my lewe lê op Hom geneem. Hy het die ellendige sondes van my lewe na die
kruis gebring en dit daaraan vasgenael. Hy het deur Sy onpeilbare diepe lyding
die mag van die sonde en van die bose geeste verbreek. Hy het so daarvoor gesorg
dat ook by jou doop deur die HERE vir jou belowe is dat die Heilige Gees ook in
jou wil werk en woon. Die Here Jesus het deur Sy lyding 
plek vir Sy Gees in jou en my lewe gemaak. Hy het daarvoor gesorg dat die
Bose, dat die bose geeste jou en my nie in hulle tronk ewig gevange kan hou nie.
So is dit die Here Jesus wat vir jou die pad van die gebed om die werk van die
Heilige Gees in ons oopgemaak het.

Nou sien
ons dat dit nie sonder geloof kan gebeur nie. Die HERE gee Sy Gees vir ons nie
sonder gebed nie. Ons bely dit met klem in vraag en antwoord 116:

“Waarom
is die gebed vir Christene nodig?

Omdat dit
die vernaamste deel van die dankbaarheid is 
wat God van ons eis, en omdat God sy genade en
Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder
ophou daarom bid en daarvoor dank.”

Dit gaan
daarom dat  jy steeds 
weer  bewus daarvan is dat jy
die Gees se hulp en leiding nodig het. Dat jy elke dag weer vanuit die diepe
besef dat jy in jou lewe nie die regte koers kan vashou nie, om die Heilige Gees
bid. As jy dit nie doen nie, as jy diep in jou hart op eie krag lewe, is die
Gees nie in jou lewe nie en het jy nie egte kontak, egte gemeenskap met die Here
Jesus nie. Dit gaan in die Nagmaal volgende week juis om die gemeenskap met
Christus, die Verlosser. Die ewige lewe, die vergifnis van sondes, die heerlike
lewe met die HERE wat ons in die Nagmaal selfs mag sien, ontvang 'n mens nie
sonder dat hy met Christus verbonde is nie, sonder dat hy die persoonlike
lewendige omgang met Christus ken nie. Ook dit bely ons in Sondag 20: “sodat
die Heilige Gees my deur ‘n ware geloof aan Christus en al sy weldade deel
laat kry”. Sonder geloof, sonder dat die Heilige Gees jou na Christus lei, kan
jy brood eet en wyn drink maar werk dit net tot jou nadeel, 
tot ‘n swaarder oordeel. Die gebed om die Heilige Gees is by die
voorbereiding op die Nagmaal baie belangrik. Wie die Heilige Gees op die gebed
ontvang, word in die Nagmaal sterker gemaak en inniger aan Christus verbind. Ons
bely dit in art 35 van NGB so: “Maar om die geestelike en hemelse lewe wat die
gelowiges besit, in stand te hou, het Hy vir hulle ‘n lewende brood gestuur
wat uit die hemel neergedaal het, naamlik Jesus Christus. Hy voed en onderhou
die geestelike lewe van die gelowiges wanneer Hy geëet,  dit wil sê deur die geloof geestelik toegeëien en ontvang
word.”

 ‘n
Mens kan sonder die Heilige Gees, sonder dat die Gees in jou woon nie werklik
Nagmaal vier nie. Sonder die Gees in jou het jy geen deel aan Christus nie. Dit
is die Gees wat Christus met die gelowige verbind. Jy het die Gees nodig wat
‘n mens lewend maak, wat jou uit die graf van die geestelike dood 
opwek en jou tot ‘n nuwe mens maak. Hier sien ons ook die persoonlike
selfbeproewing raak wat net deur die Gees se werk in jou op ‘n regte manier
gedoen kan word. Ons let daarop in die tweede plek.

Die Heilige Gees is aan my gegee.

Die
persoonlike wat die Kategismus hier aanwys, lees ons o.a. in Rom 8: “En die
wat in die vlees is, kan God nie behaag nie; julle is egter nie in die vlees nie,
maar in die gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die
Gees van Christus nie het nie, die behoort nie aan Hom nie” (8,9).

As
Christus se Gees in ‘n mens woon en werk, bly dit nie onsigbaar nie. ‘n Mens
wat in die vlees is, wat  in die
doen van sonde die plesier in sy lewe vind, is sonder God se Gees, hoe hy ook
oor die Heilige Gees praat.

Hier is
‘n belangrike element vir ons selfbeproewing. ‘n Selfbeproewing wat elke
week en dag in ons lewe ‘n plek moet hê. Lewe ek in die Gees, wil ek die
Heilige Gees in my laat werk of  wil
ek die Gees buite my lewe hou om my sondige gevoelens en gedagtes te kan bly
volg? Die Heilige Gees werk in die mens aan wie Hy gegee is. Selfs so dat dit
vir ander mense sigbaar word. Die werk van die Gees kan nie verborge bly nie.
Die Gees se werk wys wie die ware gelowiges, die ware lidmate van Christus se
kerk is. Ons sien dit baie mooi in art 29 van die NGB. Die eerste deel van
hierdie artikel  wys vir ons wat die
ware kerk is en wat die kenmerke is waardeur ons kan raaksien of ‘n kerk ‘n
egte kerk van Christus is.

Daarna wys
die belydenis daarop dat nie net kenmerke van die ware kerk bestaan nie maar ook 
kenmerke van die ware gelowiges. Nie elke lidmaat van die ware kerk is
‘n ware gelowige omdat hy lidmaat van die ware kerk is nie. Die werk van die
Gees in God se kinders is so duidelik dat ook deur ander gesien kan word wie
egte gelowiges is. Ons bely dit o.a. met hierdie woorde:

“Vervolgens
aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle
uitken aan die kenmerke van die Christene:
naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem
het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God
en hulle naaste liefhet, nie na regs en links afwyk nie en hulle sondige natuur
met sy werke kruisig.”

Dit gaan
hier nie net om kenmerke wat ‘n mens van homself ken nie. Dit gaan juis daarom
dat ook ander mense dit sien want dit gaan daarom dat ‘n ander jou as
Christen, as ware gelowige kan uitken. Dit wat as die kenmerke van die Christene
genoem word, is ‘n pragtige houvas om jou persoonlike lewe te beproef. Is dit
die rigting van jou lewe? Of  wil jy
eintlik glad nie so lewe nie? Ons het die laaste deel van Galasiërs 5 gelees.
Ons het daar gesien wat die kenmerke van die lewe volgens die vlees is en die
kenmerke van ‘n lewe volgens die Gees. Die groot vraag wat jy jouself moet vra,
is: Wat is die rigting van my lewe? Die groot vraag is: Soos jy 
nou lewe, behoort jy aan Christus? Die Heilige Gees sê in Gal 5: “Maar
die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede
gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel”
(24,25).

Dit gaan
hier om die rigting van jou lewe. Dit gaan nie om volmaaktheid en sondeloosheid
nie. ‘n Gelowige bereik op hierdie aarde nie die sondeloosheid nie. Hier is
die vervolg van art 29 baie belangrik:

“Hiermee
sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur
die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd
weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid
van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof vergewing van sondes
het."

Volmaaktheid
bereik ons nie, maar as die werklike stryd teen die sonde deur die Gees in ons
lewe ontbreek, moet die selfbeproewing ons bring tot radikale bekering want dan
staan jy nou buite Christus en Sy verlossing. Die Heilige Gees wil in jou
persoonlik woon en jou lei om op die regte manier jouself te beproef en daardeur
volgende week in geloof, in verbondenheid met Christus Nagmaal te vier. Die
persoonlike selfbeproewing staan nie los van die gemeente nie. Hieroor nou in
die derde punt nog ‘n enkele opmerking.

Die Heilige Gees is vir ons gegee.

Die
persoonlike is baie belangrik. Ons kan nie sonder persoonlike omgang met die
HERE nie. Sonder die persoonlike geloof staan jy of ek buite God se volk.
Nogtans is die persoonlike nie alles
nie. Die Heilige Gees verbind ‘n mens deur die geloof met Christus. Die
Heilige Gees doen meer want Hy is ook die Gees wat die gelowiges deur die geloof
in liefde aan mekaar verbind. Ons sien dit duidelik as die Heilige Gees met
Pinkster uitgestort word. Dan bewerk Hy eenheid tussen die gelowiges. Hulle wat
deur die Gees tot bekering gekom het, van hulle lees ons dan in Hand 2:42: “En
hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en die
breking van die brood en die gebede.”

Dit is nie
‘n feit wat net na die Pinksterdag raakgesien kan word nie, maar ook norm en
opdrag dat hulle wat deur die Gees na Christus gelei is ‘n eenheid in hartlike
liefde met mekaar vorm. Ek dink nou aan die eerste verse van Fil 2: “As daar
dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as
daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming
is, maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te
hê, een van siel, een van sin."

Die
Heilige Gees wil jou en my na die Nagmaaltafel bring om daar selfs sigbaar
vanuit Christus se liefde ons liefde vir mekaar te wys. Daar belowe jy en ek
steeds weer dat tussen ons geen haat nie maar liefde heers. Liefde heers vir
elke broer en suster. Dat ook vir jou die Nagmaal is wat ons daarvan lees in 1
Kor 10: “Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam
van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het
almal deel aan die een brood” (16,17).

Die Gees
verbind die gelowiges aan Christus, maak hulle een met Hom, maak hulle tot Sy
liggaam. Die liggaam waarin die eenheid van die Gees in liefde moet heers. Laat
die gelowige voorbereiding op die Nagmaal en op elke kerkdiens ons altyd weer in
liefde saamsnoer en probleme voor ons gesamentlike ontmoeting met die HERE in
liefde vir mekaar laat uitsorteer. Vir elkeen van ons geld die Gees se wysheid
wat ons in Ef 4 lees: “laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie.” Ons
het steeds weer die Heilige Gees nodig om dit vir ons te leer.

Beproef 
jouself, laat ons onsself beproef, laat ons dit op die gebed onder
leiding van die Gees doen. Dan is die viering van die Nagmaal vir ons volgende
week almal ‘n fees. ‘n Fees vanweë God se liefde wat ons dan almal in
hartlike liefde aan mekaar verbind.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)