Laat versoekinge vir ons vreugde wees

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-12-01
Teks: 
Jakobus 1
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Jakobus 1:1-8

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet;
Psalm 75: 1,4,6; Lesing van die Wet; Psalm 111: 1,4,5 ; Skriflesing: Jesaja 57:
14-21; 1 Petrus 1: 1-9; Gebed; Kollekte;
Psalm 42: 1,2,3,5; Teks: Jakobus 1:1-8 ; Preek; Psalm 146: 2,3; Dankgebed; Psalm
91: 1,6; Seën

PREEK

Broers en susters,  gemeente van ons geliefde Heiland Jesus Christus

Ons wil ons in die maande
wat kom met die brief van Jakobus besig hou. Daarom is dit nodig om te sien in
watter omstandighede die volgelinge van die Here Jesus hulle bevind as Jakobus
sy brief skryf.

As dit om die skrywer van
hierdie brief gaan, lyk dit die waarskynlikste dat hierdie Jakobus die man is
wat na die dood van die apostel Jakobus (Handelinge 12) die leier van die
gemeente van Jerusalem word. Hy was ‘n broer van die Here Jesus. Jakobus wat
die kerk van Jerusalem lei, skryf nou ‘n brief 
aan die Christene uit die Jode wat uit Jerusalem moes vlug.  Die twaalf stamme, die volk van God wat deur eie volkgenote
verdruk en vervolg is, moes Jerusalem en omgewing verlaat. Hulle moes vanweë
die vyandskap teen hulle vlug. Hierdie broers en susters ontvang nou van Jakobus
‘n brief. Ons lees in die boek Handelinge hoe juis ‘n belangrike deel van
die gemeente van Jerusalem moes vlug en in die verstrooiing moes gaan woon. Ons
lees daarvan in Hand  8 en 11 die
volgende:

“En Saulus het ook
Stefanus se vermoording goedgekeur. En daar het in die tyd ‘n groot vervolging
teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke
van Judea en Samaria, behalwe die apostels” (1).

 “Die
wat dan verstrooi was deur die verdrukking wat oor Stefanus ontstaan het, het
die land deurgegaan tot by Fenicië en Ciprus en Antiochië sonder om die woord
te spreek, behalwe tot die Jode” (19).

Om te moes vlug vanweë
die navolging van Christus was ‘n ellendige ding. Jakobus wys die vlugtelinge
daarop dat hulle die werklike kerk van Christus is. Hy noem die deel van die
Joodse volk wat die Here Jesus volg en ter wille van die navolging van Hom ly,
die “12 stamme”. Hulle is God se volk, al leef hulle nou in die verstrooiing.

Hierdie broers en susters
het  egte bemoediging nodig. Hulle
het gevlug, maar selfs dit is nog nie die einde nie. Die moeilikhede bly
opstapel. As ‘n mens die hele brief van Jakobus lees, sien jy dat hierdie
mense nog steeds deur allerhande moeites gepla word: werkgewers wat hulle
onregverdig behandel, verskillendes van hulle word voor die hof gedaag, sommiges
het selfs vanweë die geloof in Christus die doodsraf ontvang. ‘n Mens sou by
al die probleme moedeloos word en wonder of Jesus regtig 
die Verlosser is wat alle mag in hemel en op aarde het. Dit lyk asof
versoekinge hierdie Joodse broers en suster oorweldig. Jakobus gaan dadelik
daarop in. Die gemeente het dit so nodig. Ons let nou op die boodskap van die
Heilige Gees vir hierdie deel van Christus se kerk. Ek verkondig God se Word
onder hierdie tema:

LAAT VERSOEKINGE VIR ONS ‘N VREUGDE WEES

1.   
Omdat dit ons sterk maak

2.   
Dit kan nie sonder gebed nie

3.   
Dit kan nie sonder die gelowige gebed nie

Omdat dit ons sterk maak

Nadat Jakobus die lesers
van sy brief gegroet het, gaan hy dadelik op hulle moeilike omstandighede in. Hy
het ‘n hart vir God se kinders in moeite. Die moeites waarvan Jakobus praat,
is nie ‘n enkele probleempie nie. Dit gaan hier om  allerhande
 versoekinge. Die word val
 wys ook daarop dat die broers
en susters deur probleme omring word. Hulle het dit nie self gesoek nie maar
daarin geval, dit het oor hulle gekom.

Die kans is groot dat  broers en susters geen toekoms meer sien nie. Dat die
probleme vir hulle so groot word dat dit vir hulle ‘n 
versoeking word om die lewe met die HERE vaarwel te sê. Om hulle
vertroue op iemand of iets anders te stel. Probleme kan so groot word dat ‘n
mens op moedverloor se vlakte kom en as die ellende bly voortduur, jy oplossings
buite Christus begin soek. Dan kom die twyfelvrae: is dit so dat die HERE die
enigste God is en dat alles onder Sy beheer staan? ‘n Mens kan daaraan begin
twyfel as jy vanweë jou geloof  steeds
weer sleg behandel word. ‘n Mens kan daaraan begin twyfel as siekte, sterftes,
finansiële probleme, geweld, angs, depressie en ander ellendige dinge steeds
weer jou lewe teister. Die broers en susters wat daarmee worstel, kry nou die
antwoord dat hulle dit  louter
vreugde moet ag as hulle so deur moeite omring word.

Laat ons nou ook eerlik
wees. Hierdie antwoord lyk baie snaaks. As ek by een van julle op besoek kom as
die een ellende na die ander oor julle lewe kom en ek sê dan: my broer, dit
moet vir jou juis ‘n saak van blydskap wees dat jy so midde in die ellende
sit, is die kans groot dat julle vir my vol verontwaardiging sê: Hoe kan
dominee dit sê!

Ons moet mooi daarop let
dat Jakobus nie vir die gemeente sê dat hulle probleme en moeite moet soek nie.
Hy sê ook nie dat probleme en hartseer lekker dinge is nie. ‘n Kind van God 
mag nie iemand wees wat homself in verdriet verlekker en dit daarom sou
soek nie. Dit gaan daarom hoe jou en my innerlike houding is as die ellende oor
ons lewe kom. As die golwe van verdriet, onreg, geweld en siekte ons lewe
teister. Is dit dan rede om aan God te twyfel en opstand teen Hom in jou hart te
voed?

Die Heilige Gees wys jou
en my hier ‘n ander pad. Hy wys hier die pad om ook die versoekinge
met God, as die Vader wat jou liefhet, in verband te bring. Die woord
versoekinge klink vir ons negatief. Hierdie woord kan ook met beproewinge
vertaal word. Versoeking wys hier op die moeilike wat ‘n mens oorkom. Dit gaan
nie daarom dat God dit laat gebeur om jou by Hom weg te dryf nie. Verdriet,
moeites en ellende in jou lewe staan nie los van die HERE en Sy regering van jou
lewe nie. Die Here Jesus noem Vader in die hemel in Joh 15 die boer “wat elke
loot wat geen vrugte dra nie afsny, maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg,
sodat dit meer vrug dra.” (1,2)

Dit gaan by hierdie
versoekinge om die snoeiwerk wat Vader doen. Vader snoei juis in die lewens van
Sy kinders, juis in die lewens van hulle wat werklik vir Hom lewe. As jou lewe
teruggesnoei word, maak dit seer. Dit moet ons eerlik sê. Die HERE maak jou dan
seer maar Hy doen dit met ‘n goeie doel. Die doel is dat jy meer vrugte vir
Hom en Sy Koninkryk sal voortbring. Die doel moet by alle hartseer vir jou egte,
gelouterde vreugde gee.

Hoe leer ‘n mens om deur
moeites in die lewe meer vrug te dra?  Jakobus
wys dit in vers 3 en 4. As die HERE jou of my in moeilike omstandighede bring,
is hierdie versoeking  ‘n
beproewing, ‘n toets vir jou geloof.  Die
toets is nie daarop gerig dat jy die toets sal dop nie. Hierdie toets gee die
HERE om jou sterker in die lewe met Hom te maak. Hierdie moeites in jou lewe is
daarop gerig om die krag van die lewe met Christus in jou lewe al hoe meer te
ontwikkel. Hoekom moet jy leer om oor moeites in jou lewe bly te wees? “Omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.”
As die HERE probleme in jou lewe stuur, is Hy besig om jou te vorm. Hy is dan
besig om jou vir die toekoms in ‘n goeie kondisie te bring, om jou uithouvermoë
te vergroot. Dit gaan daarom dat jy vir die toekoms die fiksheidstoets 
kan slaag. Jakobus wys die lesers van sy brief op hulle eie ervaring.
Hulle het dit self al ervaar hoe beproewing, hoe moeite hulle lydsaamheid
bevorder. Hulle moes destyds uit Jerusalem vlug omdat hulle vanweë hulle
Christen wees met die dood bedreig is. Hulle het dit kon dra, hulle het daardeur
geleer om vir die pad vorentoe alles van Christus te verwag. As ‘n mens met
die oog van geloof na jou eie lewe kyk of na die kerkgeskiedenis kyk, sien ‘n
mens hoe waar dit is dat moeites God se kerk en Sy kinders sterker maak. Hoe dit
daarvoor sorg dat hulle leer om nie op hulleself nie, nie op ander nie maar op
die Here alleen hulle vertroue te stel.  Lydsaamheid
is dat ‘n mens al hoe meer kan verdra, dat hy in al moeiliker omstandighede
staande kan bly. Dat hy kan volhou. Hierdie gedagte lees ons ook in 1 Petrus 1:
6,7: “Daarin verheug julle jul, al word julle nou – as dit nodig is – ‘n
kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van
julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter
word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus
Christus.”

Die HERE stuur in die lewe
van Sy kinders siekte, onsekerheid of jy jou werk kan hou, 
finansiële probleme en onregverdige behandeling nie omdat Hy jou wil
teister nie. As dit gebeur, is Hy besig om jou al hoe meer ‘n volwasse
gelowige te maak.Die doel van moeites in jou lewe is om hierdie lydsaamheid tot volle
verwerkliking, tot volle ontplooiing te bring. God se krag in jou lewe moet  tot volle krag kom. ‘n Mens moet leer om in alles op die
HERE alleen te vertrou en om selfs in die grootste ellende te leer bely dat die
HERE goed is. Ek dink hier aan Job wat nadat hy alles verloor het, ook sy 10
kinders, nogtans die volgende kan sê: “Naak het ek uit my moeder se skoot
gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die HERE het gegee, die HERE het
geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!” (1:21).

As jy met groot probleme
worstel, mag jy as God se kind weet dat Vader met jou besig is om jou sterker te
maak. Jou vreugde mag in alle hartseer dan wees dat Vader in die hemel as die
liefdevolle Vader besig is om jou toe te rus. Hy doen dit omdat Christus ook dit
vir God se kinders aan die kruis verdien het. As Vader in jou lewe snoei, mag jy
seker weet dat jy Sy kind is. Die doel daarvan 
is “sodat julle volmaak en
sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”

As die HERE kinders van
Hom laat swaarkry, is dit daarop gerig dat jou geloof, jou lewe vol van Sy krag
word. Hy wil dan daarvoor sorg dat die gebreke uit jou lewe weggeneem word wat
jou vir altyd kan laat struikel, jou vir ewig van Christus as die Redder kan
skei. Hy wil jou so tot geestelike rypheid en volwassenheid bring. Dit gaan hier
nie daarom dat 'n mens sondeloos word nie. Niemand bereik in hierdie lewe ‘n
stadium van sondeloosheid nie. Jakobus weet dit baie goed. ‘n Voorbeeld
daarvan is wat ons in hoofstuk 3: 1,2 lees: “Moenie baie leermeesters wees nie,
my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan. Want ons almal struikel dikwels.”

Geestelike groei deurdat
die HERE jou en my lewe snoei, is wat ons so nodig het. Ons bereik nooit
sondeloosheid nie maar die HERE wil ons deur die geestelike groei tot mense maak
wat in die sondige wêreld  werklik
vrug dra. As jy sien dat die HERE daaraan in jou lewe werk, moet ons leer om dit
as net vreugde, as ‘n groot geskenk, as genade en liefde van die HERE te sien.
Dit kan baie moeilik wees. Ons is altyd weer geneig om anders te dink. Die HERE
weet dit en daarom wys die Gees in vers 5 op die weerstand daarteen in ons eie
hart. Daarom het ons die gebed daarvoor so nodig. Ons let daarop in die tweede
plek.

Dit kan nie sonder gebed nie.

Ons het nou by vers 5 gekom en hier
sien ons weer hoe belangrik dit is om ‘n teks in sy verband te lees. As ‘n
mens dit nie doen nie, kan hierdie teks heeltemal verkeerd gebruik word en dit
het ook baie keer gebeur. Dit gaan hier nie om wysheid in die algemeen en
verseker nie om intellektuele kennis in die algemeen nie. Dit gaan hier om die
wysheid om in moeites te kan sien dat die HERE in liefde met jou besig is. Dat
jy in daardie omstandighede werklik die blydskap, die vreugde in moeilik
omstandighede kan ervaar. Om dan werklik jou opstandigheid, jou twyfel agter jou
te kan laat. Om dan te kan besef en te ervaar dat die HERE in al die probleme
wat oor jou kom, met jou besig is en jou leer om op Hom alleen jou te rig en
alles van Hom te verwag.

Hoe
moeilik kan ons dit met  ellendige
dinge in ons lewe hê! Ons sê dikwels nog vir mekaar dat ons dit uit God se
hand moet aanvaar en daarin moet berus. Ons sê dan: ons weet nie wat die HERE
wil bereik nie maar dit dien een of ander doel. Ons sê dit maar nogtans kan ons
hart nog so opstandig wees en ons kom verseker nie so ver om daarin werklik iets
goeds van die HERE se kant te sien, om daarin Sy liefde te sien wat ons op ‘n
sekere manier bly maak nie. Die HERE wys ons nou op die pad van die gebed. As jy  by jouself opstandigheid en nie genoeg wysheid bemerk nie, is
die regte pad die gebed. Die indringende vraag dat God die wysheid gee om die
moeilike dinge in die lewe uit Sy Vaderhand te ontvang en daarin ook Vader se
liefde en vorming vir jou te sien. As jy daarom bid, as jy dit vanuit die
verbondenheid met Christus as jou Heiland doen, gee die HERE hierdie wysheid vir
jou. Die HERE gee dit vir jou eenvoudig
en sonder verwyt.

Hy
gee dit eenvoudig. Dit wil sê sonder
enige bybedoeling. Hy gee dit regtig uit liefde vir jou as Sy kind. Hy is oor
jou begaan. Hy wil jou in al jou moeite en by al jou trane Sy liefde laat voel.
Hy wil dit vir jou gee sonder verwyt.
Hier sien ons hoe groot Vader se liefde is, 
hoe anders Hy is as ek en jy. Ons het moeite, hartseer, probleme, siekte
en ander ellende aan onsself te wyte. Ons het gesondig en teen die HERE
opgestaan. By baie dinge kan ‘n mens sy eie ellende sien wat ‘n gevolg van
eie verkeerde woorde of dade is. As iemand 
homself in moeilikhede bring en hy vra om hulp, wil mense so iemand
somtyds glad nie help nie. Dan sê hulle: dis jou eie skuld. Jy moet maar vir
jouself sorg. As iemand tog wil help, sê mense dikwels: 
Jy het jouself in hierdie probleme gebring en nou belas jy my ook nog
daarmee. Ek hou niks hiervan nie maar ek sal jou tog maar help.

So is
die HERE nie. As jy in liefde vir Hom om wysheid bid, verwyt Hy jou nie. Sy hart
staan vir jou oop, Hy gee uit volle liefde vir jou die wysheid om in moeite Sy
liefde in jou lewe te sien en as bron van vreugde te mag hê. ‘n Mens mag weet
dat die HERE doen wat die Here Jesus in Matt 7:7 gesê het: “Bid, en vir jou
sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak
word.” Die HERE gee op die gelowige gebed alles wat Hy belowe het. By die
dinge wat Hy belowe het, behoort ook dat ‘n mens midde in moeilike
omstandighede die vreugde leer sien dat die HERE daarin aan jou werk. Dit gee
die HERE nie sonder die  gelowige  gebed
nie. Ons let daarop in die derde plek.

Dit kan nie sonder die gelowige gebed nie.

Dit kan wees dat ‘n mens om dinge
bid wat die HERE belowe het maar nogtans kry jy dit nie. Ons is dan geneig om te
sê: Die Here doen nie wat Hy belowe het nie. As dit in jou lewe gebeur moet jy
nie die fout by die HERE soek nie, maar by jouself. Hoe het ek gebid? Was dit
‘n gebed in en vanuit geloof?

‘n Gebed in geloof is ‘n gebed
sonder twyfel. Dit beteken nie dat die HERE net na jou luister as jou geloof
volmaak is nie. Sonder twyfel beteken nie dat jy nie meer met  sekere dinge en gevoelens in jou lewe mag worstel nie. Sonder
twyfel beteken dat jy jou eie probleem, jou eie moeite en worsteling, ook jou
worsteling met God se weg met jou lewe aan die HERE voorlê. Dat jy in jou
worsteling bid en dit ook werklik in jou hart meen: HERE, wil U vir my help, gee
my ondanks al die ellende in my lewe tog die vreugde dat 
ek sien dat U by my is en in my werk. Jy twyfel nie daaraan dat die HERE
dit vir jou op die gebed wil gee nie. Twyfel is as ‘n mens gaan bid en dink:
Ek weet nie of die HERE  na my wil luister nie, ek weet nie of Hy dit vir my kan gee
nie, ek weet nie of  Hy werklik in
beheer is nie. As ‘n mens bid omdat hy dink dat die HERE dalk  kan help, luister,
verhoor die HERE  nie jou gebed nie.

Dit
gaan daarom dat iemand in liefde vir die HERE, in al sy worsteling by die HERE
as sy Enigste Helper om hulp kom vra. ‘n Mens wat vir ‘n deel van sy lewe
met Christus wil lewe en vergifnis van Hom wil ontvang maar vir ‘n ander deel
van sy lewe homself soek, die wêreld soek, lyk soos die branders in die see.
Die een oomblik is Christus dit waarop jy vertrou, die volgende oomblik as die
deining van die see afdaal, vertrou jy op jouself, op jou eie sondige hart en
gevoel. Wie sy lewe in twee of meer dele verdeel, kan bid maar sal van die HERE
niks kry nie. Wie ‘n dubbele lewe ly, kan dalk pragtig bid maar sy gebed
beteken niks nie. Dit gaan daarom dat jy met jou hele lewe Christus as jou
Redder soek. Dat jy steeds weer op Hom wil bou. As jy dit doen, dan sien jy
baiekeer hoe klein en gebrekkig jou geloof is. Wie sy lewe tussen Christus en
iets of iemand anders verdeel, is eintlik ‘n goddelose. Hy wil nie in alles
God volg nie. Hy lewe los van God. Hy weet van die HERE maar wil ‘n sekere
deel van sy lewe sonder God lewe. Dan geld wat ons in Jes 57 gelees het: “Maar
die goddelose is soos ‘n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en
sy waters gooi slyk en modder op. Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie!”

Jy
mag rus vind tot in die ellendigste omstandighede as jy jou hele lewe met die
HERE wil verbind. As jy vanuit die liefde vir die HERE bid. Dan ontvang jy op
die gebed selfs rus in die moeilikste dinge van jou lewe. As jy deur God se
genade wil leer om jou lewe aan God te verloor, 
kan jou lewe geskud word maar dan mag jy weet dat Vader luister, dat Hy
in al die ellende jou vorm, dat Hy by jou is, dat Hy na jou gebed luister. Dit
is dan in alle ellende die vreugde in jou lewe. Dan luister en gee die Vader in
die hemel vir jou vreugde as jy met die vader van die maansieke seun uitroep: Ek
glo, Here, kom my ongeloof te hulp” (Mark 9:24).

Gaan tot God en Hy sal regtig op die
gelowige gebed tot jou in liefde nader. So naby jou wees dat jy in die grootste
ellende Sy liefde, Homself in jou lewe sien werk. Deur trane is daar dan ‘n
vreugde wat meer is as jou grootste verdriet. Die HERE is as Vader by jou.

AMEN

 

Liturgie: 

(kyk in preek)