Leef vanuit die Woord!

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-12-01
Teks: 
Jakobus 1
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Jakobus 1: 19-27

ORDE VAN DIENS

Opening;
Vrede/Seëngroet;
Psalm
87: 1,2; Lesing van die W.wet; Psalm 19: 4,7; Skriflesing: 
Mattheus 7: 21-29; Lukas 8: 4-15; Gebed; Kollekte; Psalm 1; Teks: Jakobus
1: 19-27; Preek; Psalm 119: 53,54,60; Dankgebed; Psalm 85: 3,4; Seën

PREEK

Broers
en susters, gemeente van ons geliefde Heiland Jesus Christus

Die
Christelike Kerk van die eerste eeue het ondanks vervolging en veragting midde
in die samelewing gestaan. Die gemeentes het hulle nie iewers as ‘n groepie
weggesteek nie maar hulle deur besondere aktiwiteite in die samelewing onderskei.

Steeds
weer lees ons hoe die gemeente opgeroep word om vir weduwees en wese in hulle
omgewing te sorg. Ons lees dit o.a. in ‘n brief van die apostel Johannes se
leerling Polycarpus. Hy roep die ouderlinge op om elke weduwee en wees, ook
hulle wat nie by die gemeente behoort nie, te versorg. Ignatius wat in dieselfde
tyd geleef het, skryf dat hulle wat Christus nie dien nie hulle nie oor 
weduwees en wese bekommer nie.

Ons
lees van die kerk van Rome omtrent 250 na Christus dat hierdie gemeente vir 1500
weduwees en wese sorg. As tydens ‘n swaar vervolging in daardie tyd vir diaken
Laurentius gevra word wat die skatte van die kerk is, is sy opvallende antwoord:
“Die enigste skatte wat ons besit, is die armes”.

Ons
sien hoe in die eerste Christelike gemeente die besef lewendig was, wat ons in
vers 27 van ons teks gelees het: “Reine en onbesmette godsdiens voor God en
die Vader is dit: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek.”

Ons
wil nou na die hele teks kyk en sien wat die HERE daarin vir ons sê.

Ek
verkondig aan julle God se Woord onder die tema:

LEEF VANUIT DIE WOORD!

1.    
Wees ‘n hoorder van die Woord

2.    
Wees
‘n dader van die Woord

3.    
Leef
in egte diens aan God

Wees
‘n hoorder van die Woord

Jakobus het die broers
en susters in moeilike omstandighede gewys hoe hulle staande kan bly. Hoe hulle
van die versoekinge wat in die wêreld na hulle toe kom af moet en kan wegbly.
Hy het daarop gewys dat die HERE volledig goed en heilig is. Hierdie enigste God
gebruik Sy Woord, 
die evangelie van Christus, om mense tot nuwe mense te maak. Om hulle tot
wedergeborenes te maak. Die gelowiges wys in hulle anders wees dat die hele
skepping eendag vernuwe sal word. Ons het dus die Woord, die evangelie nodig om
as nuwe mense te kan lewe.

Jakobus
gaan in hierdie brief nou daarop wys hoe jy en ek met die Woord, 
met die verkondiging van die evangelie moet omgaan. Hy wys daarop hoe
mense wat deur die Gees vernuwe is daarmee omgaan. Hy wys vir ons ook hoe groot
die teenstand teen die HERE se Woord 
in ons lewe dikwels is. Hy wys daarop hoe ons baiekeer sleg luister.

Jakobus
spreek die lesers van hierdie brief 
in vers 19 weer met klem aan. Hy wys daarop dat dit wat nou volg vir
hulle groot betekenis het. Hy wil hulle nie net verwyt nie maar hulle vanuit die
liefde van sy hart waarsku. Daarom noem hy hulle: My geliefde broeders.

Hy
wys hulle eers algemeen hoe hulle op dinge wat hulle van ander hoor, moet
reageer. “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om
toornig te word.”

Hoe
anders is dit baiekeer in ‘n mens se lewe. As ‘n ander iets vir jou sê, kan
dit gebeur dat jy die ander steeds wil onderbreek 
omdat jy iets wil sê. Omdat jy meen dat jy nou eers iets moet korrigeer.
Ons het dikwels nie die geduld om die ander alles te laat sê nie. Ons laat die
ander so moeilik uitpraat. As die ander klaargepraat het, het ons die neiging om
dadelik te reageer. Om dit nie eers ‘n ruk die tyd te gee om in ons in te sink 
en dit dan in alle rus te oorweeg nie. Ons neiging is om dadelik te
reageer. Verseker as mense vir ons dinge sê of skryf wat vir ons nie lekker is
nie. Die kans is dan groot dat ons in ons hart kwaad is, dat ons gekrenk voel,
onreg aangedoen voel en dan vanuit kwaadheid dadelik reageer. Die Heilige Gees sê
nou vir ons: Moenie so maak nie. Leer van My sagmoedigheid en selfbeheersing.
Leer om nie gou te praat nie. Leer juis om eers mooi na te dink en dan pas te
praat, laat jou nie deur jou kwaadheid saamsleep nie. Leer ook om nie gou kwaad
te word nie. Wie dadelik vanuit kwaadheid reageer, doen dit amper altyd verkeerd.
‘n Mens wat kwaad is en dan reageer, doen dit op ‘n manier wat in die HERE
se oë nie reg is nie. Hy doen dikwels ook kort aan dit wat die ander gesê het
omdat hy nie weloorwoë geluister het nie en sy emosie vir hom ‘n struikelblok
geword het om te hoor wat die ander werklik gesê het. Die regte perspektief
ontbreek dan.

Dit
wat onder mense geld, geld met nog meer krag as dit om die luister na die
verkondiging van die evangelie gaan.

Jakobus
wys daarop in vers 21. Hy roep ons op om van alle vuiligheid en oorvloed van
boosheid  ontslae
te raak as ons die ingeplante woord ontvang. Alles in ons wat 
nie met God se heiligheid ooreenstem nie, alles wat ons in die HERE se oë
vuil maak, daarvan moet ons afstand neem as ons luister na dit wat die HERE in
die prediking van die evangelie sê. Ons moet onder die luister ook daarop let
dat ons nie onnodig boos word nie. Dat 
boosheid nie ons hart begin beheers as ons na die preek luister nie. Dit
gaan hier in die eerste plek om die verkondiging van die Woord. Ons sien dit aan
twee dinge.

1.     
Ons
moet bedink dat mense in die tyd nog geen Bybel in hulle huise gehad het nie en
juis die verkondiging van die evangelie vir hulle die Woord, die Bybel oopgemaak
het.

2.     
Ons
lees hier van die ingeplante woord. Mense het die Woord 
gehoor, dit is op hierdie manier in hulle lewe gesaai. Ons moet hier dink
aan die gelykenis van die Here Jesus wat ons in Lukas 8 gelees het. Dit gaan in
die gelykenis om die hoorders van die Woord. Sien vers 12!! Hulle hoor
die verkondiging van die evangelie en dit gaan dan om die reaksie van die
hoorders. Wat doen die hoorders met die Woord 
wat deur die verkondiging in hulle lewe ingeplant is? Laat hulle die saad
groei of  trek
hulle die saad uit of laat hulle dit verstik?

Die groot vraag vir jou
en my  vandag
is:  hoe
luister jy as die evangelie aan jou verkondig word? Hoe reageer ons as iets vir
jou gesê word wat jou eintlik nie pas nie? Wat ‘n sekere ding in jou lewe
bestraf? Hoe reageer jy as ‘n sekere sonde baie konkreet 
in die prediking aangespreek word? Sê ons dan dat dit nie nodig is om so
konkreet te word nie, doen ons dit dan as moralisme af, 
sê ons dan dat dit nie goed is dat vanaf die preekstoel reëls gegee
word nie en dat elkeen sy eie toepassing as mondige Christen moet maak?

Jakobus
weet dat as die prediking konkreet word, ons dadelik geneig is om teen die
prikkels te skop. Ons is geneig 
om ons eie vuiligheid, ons eie sondes nie raak te sien nie. Ons is geneig
om opstandig te word, om boos te word omdat jou eie lewe aangetas word.
Dieselfde gebeur so gou as die broers ouderlinge tydens hulle besoeke vanuit die
Woord moet vermaan. Ons is geneig om dan nie na die Woord 
te luister nie maar te sê: wat het die ouderling, wat het die dominee
daarmee te doen, laat hulle na hulleself kyk. Ons sien dan net mense, selfs
swakke, sondige mense en nie die Woord, 
wat van God kom en wat hulle vir ons moet voorhou nie.

Jy
en ek moet leer om werklik te luister. Dit beteken dat ons met sagmoedigheid
die ingeplante woord ontvang. Sagmoedig luister beteken dat jy dit geduldig
doen. As jy ‘n sin hoor wat nie vir jou reg klink nie, begin jy nie om kwaad
te word nie, om jouself af te sluit nie maar luister jy met aandag verder om te
hoor in watter perspektief, in watter verband dit gesê word. Sagmoedig luister
beteken dat jy vanuit selfverloëning luister. Dit gaan nie om jou, dit gaan nie
daarom dat jou persoonlikheid gestreel word nie. Dit gaan daarom dat jy hoor wat
die HERE vir jou sê, hoe skerp en diep insnydend, en seer dit jou ook al maak.
As dit die HERE se woorde is, as dit woorde is wat in ooreenstemming met die
Skrif is, dan is die vermaan hoe skerp ook die heilsame Woord 
vir jou en my. Dan is dit nie ‘n woord van ‘n mens nie maar die HERE
se Woord. Dan  mag
boosheid en emosie ons nie tot verset teen die Woord bring nie. Die sagmoedige
luister dan, verloën homself, bely sy skuld en bekeer hom op die HERE se Woord.
Dit doen ‘n mens dan nie vir niks nie want die HERE se Woord 
is so kragtig dat dit mense, siele kan red. Die evangelie, die goeie
boodskap van die Verlosser Jesus Christus is ‘n krag van God tot redding vir
elkeen wat glo (Rom 1:16). Hy wat hierdie evangelie werklik hoor, wil nie net
die Woord  hoor
nie maar dit ook doen. So het ons by die tweede punt gekom.

 

Wees
‘n dader van die Woord

'n
Mens kan homself ook bedrieg as hy na die verkondiging van die evangelie in die
kerk luister. Jakobus praat in vers 22 van hoorders wat hulleself bedrieg. ‘n
Bedrieglike hoorder is ‘n mens wat in die kerk kom luister maar nie doen wat
die HERE in die prediking en in die Skrif vir hom sê nie.

So’n
hoorder, so‘n kerklidmaat word vergelyk met iemand wat vlugtig in ‘n spieël
kyk. Iemand kyk gou-gou in ‘n spieël, sien homself en loop weer weg sonder
dat die kyk in die spieël vir hom iets beteken. Die kyk in die spieël het geen
invloed op dit wat hy doen of sê nie. ‘n Mens kan dit daarmee vergelyk dat jy
in ‘n spieël kyk terwyl jou hare baie slordig is. Jy sien dit maar sodra jy
nie meer in die spieël kyk nie, vergeet jy dit en kam nie jou hare nie. Die kyk
in die spieël het geen invloed op jou lewe nie.

So
is die mens wat na die kerk kom, dalk nog sê dat die preek mooi was maar niks
daarmee doen nie. Hy is ‘n mens wat vlugtig luister en dan weer sy eie gang
gaan sonder dat die evangelie werklik invloed op sy lewe het. Hy laat eintlik sy
Bybel en sy Christelike gewete op die kerkbank agter as hy uit die kerk stap. Hy
is soos die lidmate van die kerk in die tyd van die ballingskap wat op Esegiël
se prediking reageer. Ons lees daarvan in 33:32: “En kyk, jy is vir hulle soos
‘n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel; hulle hoor
jou woorde, maar hulle doen dit nie.”

Hoe
anders reageer en leef ‘n egte hoorder van die Woord. Hy sien diep in in
die volmaakte wet van die vryheid. Die woord wat die Grieks hier vir diep
insien gebruik, beteken ook dat iemand hom vooroor buig om iets goed te kan sien
of hoor. Hy span hom werklik in om alles te sien of te hoor. ‘n Egte hoorder
span hom in om die Woord, 
om ook die prediking daarvan mooi te verstaan. Om alles op te vang, 
om jou werklik so goed as moontlik te konsentreer.

Die
kennis van die HERE se Woord 
kom nie sommerso in jou lewe nie. Daarvoor is inspanning nodig, ‘n
inspanning wat ‘n mens graag doen as hy God se liefde, Sy wonderlike genade
ken. Dan wil ‘n mens graag luister. Dan wil jy al hoe dieper insig in die wet
van die vryheid kry. God se wet is die wet van die vryheid. Hoekom? Omdat ‘n
lewe volgens hierdie evangeliese wet, die wet wat deur die evangelie gekenmerk
word, die vryheid gee om God en jou naaste te dien. Die dien van God en jou
naaste met vreugde is die doelwit van ‘n mens se lewe, dan is die lewe goed,
dan is jy werklik vry. Die wet bring jou in die vryheid van die kinders van God
wat deur Christus se lyding vergifnis ontvang en daarom met ‘n vrye gewete
voor God mag staan.

Jy
sien diep in hierdie wet, hierdie wet is of word vir jou al hoe meer ‘n
vreugde, hoe meer jy daarvan die diepte, die heerlikheid, die vryheid leer sien.
Jy leer al hoe meer wat ‘n lewe in vryheid is en jy wil al hoe meer met die
daad as ‘n vrye burger van God se Koninkryk lewe. Dit doen jy deur die wet,
die evangelie al hoe meer te wil verstaan en dan ook al hoe meer te doen wat
Christus vir jou sê. So lewe ‘n mens in wie se lewe die Woord 
in goeie aarde val. Ons lees van die mens in Lukas 8:15: “En wat in die
goeie grond val – dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n
edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.” Dis die mense wat hoor en
deur die doen van Christus se wil vrugte vir God en Sy koninkryk dra. Hy wys wat
‘n lewe in Christus se diens is.

Christen
wees is nie dat jy net luister wat gesê word en dan gaan jy weer jou eie gang
nie. Hoe bedrieg jy dan jouself. Die Here Jesus het dit vir elkeen wat na Hom
luister so helder en vol waarskuwing gesê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here,
Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil
doen van My Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê:
Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en
in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle
nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mat
7:21-24).

Wie
met erns na die HERE se Woord luister, werk daaraan om by die evangelie, naby
die Here te bly lewe. Hoe gelukkig is jy as jy so lewe! Dan staan jy in die egte
vryheid wat ewig jou deel is. Dan is jy deur God vanweë Christus se werk
vrygespreek en lei die Gees jou op die pad om al hoe meer vreugde in die lewe
volgens God se wil te vind. ‘n Mens is regtig salig as hy so lewe. Die Here
Jesus sê naamlik na die voetwassing: “As julle hierdie dinge weet, salig is
julle as julle dit doen” ( Joh 13:17).

Wie
geen vergeetagtige hoorder is nie maar ‘n dader van die Woord, lewe in egte
diens aan God. Ons let daarop in die derde plek.

Leef
in egte diens aan God.

‘n
Mens kan homself baie godsdienstig vind. Dit kan wees dat ook ander mense na jou
as ‘n baie godsdienstige mens wys. Jy kom getrou kerk toe, jy besoek getrou
een van die Bybelstudieverenigings. Jy kan baie goed oor die Bybel praat. Jy
praat dalk baie oor die preek. As ‘n mens met jou praat, kan jy allerhande
tekste aanhaal wat in die Bybel staan. As ‘n mens na jou kyk en ook as jy na
jouself kyk, lyk jy regtig na ‘n godsdienstige mens. As jy vir jouself so lyk
maar jy werk nie daaraan om jou tong in toom te hou nie, jy hoor dat die HERE in
Sy Woord sê dat jy nie mag skinder nie maar jy bly op hierdie punt ‘n
hoorder wat nie tot dade oorgaan nie; as jy dan sê: Ag, dit is nou ‘n foutjie
in my lewe maar verder is ek ‘n meelewende kerklid, ek het geen probleem nie,
ek deel in Christus se genade - as jy dan so praat, bedrieg jy jouself. As jy op
daardie punt God se Woord nie in dade wil omsit nie, is al jou godsdienstigheid,
al jou aktiwiteit, al jou geld wat jy vir die kerk gee in God se oë waardeloos.
As jy op ander maniere jou hart mislei en sekere dinge waarvan die HERE sê dat
dit nie reg is nie, nie wil los nie en daaraan nie werklik 
werk nie, is al jou godsdienstigheid waardeloos, dan staan jy buite die
verlossing deur Christus. Laat ons die erns van hierdie boodskap besef en tot
ons laat deurdring. As ek ‘n drankprobleem het maar dit nie werklik radikaal
aanpak nie en steeds weer aangaan, kan ek nog so aktief wees en getrou kerk toe
kom maar dan staan ek buite Christus as ek nie met die daad aan my bekering werk
nie. As ek  in
my besigheid nie heeltemal eerlik is nie en sê: ag, in besigheid kan alles nie
volgens God se norme gebeur nie, as ek 
my teenoor sekere mense onversoenlik gedra en daaraan niks wil doen nie
(en daar is nog so baie ander voorbeelde!) - as ek dan dink: ek is getrou in die
kerk, ek gee my deel, ‘n groot deel van my lewe wy ek aan Christus maar by
hierdie deel van my lewe bly ek my eie kop volg; as ek dan dink dat alles sal
regkom, bedrieg ek myself vir die ewigheid. Die HERE wil dat jy ‘n dader van
die Woord wees, dat jy in alles Hom deur Christus se krag wil volg. Wie nie
daaraan werk nie, lewe nog onder God se toorn en staan nie in die vryheid van
die kinders van God nie.

Egte
godsdiens is dat ‘n mens hom ook aan sy naaste wy. Lewe in diens aan Christus
kan nie sonder dat ‘n mens vanuit die diens aan God hom ook in liefde aan sy
naaste wy nie. Hoe het die profete in die Ou Testament in God se naam getoorn
teen ‘n volk wat netjies hulle offers en ander godsdienstige pligte vervul het
maar hulle naaste verdruk en sleg behandel het. Voorbeelde: Jes 1: 10-17; Jer 7:
21. ‘n Volk, ‘n persoon wat sy godsdienstige pligte vervul, dalk pynlik
noukeurig, maar nie in liefde vir sy naaste lewe nie en homself soek, moet weet
dat die HERE dan vir jou sê wat Hy deur Amos vir Israel gesê het: “Ek haat,
Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle aan julle feestye nie. Want al
bring julle vir My brandoffers, Ek het daar geen welbehae in nie, en die
dankoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie met welgevalle aan nie.
Verwyder van My die geraas van jou liedere! En na die geluid van jou harpe wil
ek nie luister nie. Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid
soos ‘n standhoudende stroom” (Amos 5:21-24).

Ware
godsdiens kan nie sonder die reg wat jou naaste eerbiedig en die swakkes in die
samelewing help en beskerm nie. Die swakkes in die samelewing was toe veral die
wese en die weduwees. Hulle het swaar gekry omdat hulle dikwels arm was en 
mense daardeur met hulle kon doen wat hulle wou. Ons moet juis hulle wat
die swakstes is, help en besoek sodat hulle volgens reg en in barmhartigheid
behandel word. God se kind mag hom nooit verryk ten koste van ‘n ander nie.
Ook nie ten koste van hom wat vanweë sy posisie nie terug kan veg nie.

Ware
godsdiens is ook dat jy nie met die sondige wêreld wil saamgaan nie. Dat jy jou
vlekkeloos van die wêreld bewaar. Dit is nodig dat ons op die woord vlekkeloos
let. Hierdie woord wys vir jou en my hoe verkeerd dit is om te sê: Ons moet nie
te streng wees nie, ons kan tog ‘n bietjie met die wêreld saamgaan. As ons
dit nie doen nie, raak ons so geïsoleerd, dan staan ons so alleen, dan lyk ‘n
mens so vreemd. ‘n Klein bietjie aanpas, al is dit nie heeltemal reg nie, is
nie so erg nie. Broers en susters, seuns en dogters, dis ‘n verkeerde, sondige
siening en gedrag. Die HERE wil dat ons ons vlekkeloos van die sondige
omgewing bewaar.  Dat
ons aan niks van dit wat sondig is, deelneem nie en daarvan ‘n goeie afstand
bewaar. Ook afstand hou van die groep, van die vriende wat jou daarmee in
aanraking bring. Die HERE vra van ons dat ons heilig lewe. Sien 1 Tess 4: 3; 2
Tim 2:19. Laat die liefde van Christus jou daartoe dring. Wees nie net ‘n
hoorder van die Woord nie maar regtig ‘n dader. Dan struikel jy en ek nog
dikwels maar dan wil ons deur die Gees weer opstaan en ‘n dader wees. Dan
vergewe die HERE al die kere dat jou godsdiens nie rein en onbesmet was nie.
Christus se bloed bedek dit dan. Wie so lewe, is nooit meer onverskillig nie en
wil in tere liefde vir die HERE lewe, niks anders as uit dankbaarheid in alles
‘n dader van die Woord wees!

 

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)