Versoeking in nooit God se skuld nie

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-12-01
Teks: 
Jakobus 1
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Jakobus 1:13-18

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet;
Psalm 132: 10,11; Lesing van die Wet; Psalm 89: 6,7; Skriflesing: 1 Kor 10: 1-13;
Gebed; Kollekte; SB 30; Teks: Jakobus 1: 13-18; Preek; Psalm 36: 2,3; Dankgebed;
Psalm 43: 3,4,5; Seën

PREEK

Broers en susters,
gemeente van ons Heiland Jesus Christus

Jakobus gebruik in vers 12
die beeld van ‘n atleet wat ‘n oorwinning behaal. As hy van die kroon van
die lewe praat, is dit in die eerste plek die oorwinningskrans wat ‘n atleet
gekry het as hy eerste verby die wenpaal was of as hy die verste gespring of
gegooi het.

Die Jode was met hierdie
sportwedstryde vertroud. Dit was nie net dinge wat in die Griekse en  Romeinse wêreld gebeur het nie.Veral in die tyd van die Here
Jesus en daarna het die Jode in Palestina ook met sportwedstryde vertroud geraak.
Dit was koning Herodes die Grote wat ‘n stadium laat bou het. Hierdie stadium
is o.a. gebruik om die Joodse Spele te hou. Dit was ‘n groot gebeurtenis en
die hoogtepunt vir die Joodse sportwêreld in die dae. Die belangstelling
daarvoor was groot.

Jakobus kan hierdie beeld
van die oorwinningskrans sonder enige toeligting gebruik omdat elkeen geweet het
wat hy daarmee bedoel. Sport was toe ook al baie populêr. Hierdie
oorwinningskrans ontvang elkeen wat die versoekings deurstaan waarvan Jakobus
vanaf vers 2 praat. As dit om die versoekings gaan en die verdra en deurstaan
daarvan, is dit baie belangrik om te besef waar hierdie versoekings vandaan kom
en waar jy krag moet soek om die moeilike omstandighede te kan verdra en
deurstaan. Dit wys die Heilige Gees in ons teks pragtig vir ons aan. Ek
verkondig die evangelie oor hierdie gedeelte van God se Woord onder die tema:

VERSOEKING IS NOOIT GOD SE SKULD NIE

1.   
Hy versoek nooit

2.   
Die mens bring homself in versoeking

3.   
God gee alles wat goed is.

Hy versoek nooit.

Jakobus spreek die mens
salig wat versoeking verdra. Wat beteken die woord salig? Dit beteken dat die
mens gelukkig is. Die mens wat dit doen, kan jy regtig gelukwens. Dis regtig
goed vir ‘n mens as hy versoeking deurstaan. Die versoeking is ‘n toets,
‘n toets waar jy sterker anderkant uitkom as jy in die moeilike en
verleidelike omstandighede aan Christus vashou. Jou verbondenheid aan Christus
het dan weer sterker geword. Jy kan regtig gelukgewens word as jy in alle moeite
in diepe afhanklikheid van die HERE bly lewe. ‘n Mens deurstaan die moeilike
in jou lewe nie vir niks nie. Wie in verbondenheid met Christus die moeites in
die lewe deurstaan, kry van God die krans, die kroon van die lewe. Jy ontvang
dit omdat jy deur God se krag die toets deurstaan het, jy Christus se merk van 
regverdiging ontvang het. Die Here is nie net ‘n God wat iets belowe
nie. Hy gee vir jou werklik wat Hy belowe, Hy maak Sy beloftes altyd waar! Wat
is nou die oorwinningskrans? Dit is die krans wat as inhoud die lewe het. Krans, kroon van die lewe beteken die
krans, die kroon wat die lewe, die ewige lewe sonder enige moeite en verleiding
is. Hy wat die Here Jesus liefhet, wat  in
liefde volgens God se goeie wil wil lewe en hom daarop rig, kry nadat hy die
versoekinge deurstaan het ‘n ewige lewe sonder enige moeilikheid en hartseer.
Hy ontvang ‘n lewe waarin blydskap en vrede en vreugde alles is. Dit is die
lewe waarin God se goedheid en genade alles in jou lewe is. Ons lees daarvan in
Psalm 103: “Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot
ewigheid vir die wat Hom vrees” (17).

Dit is God se heerlike
belofte, wat vir Sy kinders verseker waarheid word. Nogtans kan jou lewe nou so
moeilik wees of raak. Dit kan lyk asof hierdie heerlike belofte deur al die
verleidinge en moeilikhede in jou lewe oorskadu word. Dit lyk eintlik nog net na
mooi woorde. As ‘n mens dan deur ‘n versoeking gevang is en daaraan toegegee
het, kan hy sommer so reageer: “Dit is die HERE wat my in hierdie versoeking
gebring het. Hy regeer tog alles, dan is dit tog ook Hy wat my in hierdie
situasie gebring het.” So wys ‘n mens, wat in sonde geval het of daarin lewe, 
na God om sy eie verantwoordelikheid vir ‘n deel te ontken. Dan doen jy
of ek dieselfde as wat Adam en Eva gedoen het, toe hulle in die paradys van die
boom van kennis van goed en kwaad geëet het. Toe was dit Adam wat na die HERE
wys as hy vir die HERE sê: “Die vrou wat U
gegee het om by my te wees, sy het van die boom gegee, en ek het geëet”
(12).

Dit lyk so regsinnig om te sê: Die
HERE regeer alles en dus is dit die HERE wat my in die toestand van versoeking
gebring het. Nogtans is dit ‘n ernstige dwaling. Daarom skryf Jakobus in baie
heldere woorde: “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God
versoek nie.” Hy noem in die tweede helfte van hierdie vers ook 2 redes hoekom
jy en ek dit nooit mag sê nie.

a.    
“Want God kan
deur die kwaad nie versoek word nie.” Die HERE staan so ver van alles wat
kwaad is af, Hy haat elke kwaad tot in diepste van Sy hart. As die duiwel  probeer om die HERE met die kwaad te verlei, voel die HERE
geen enkele aantrekkingskrag van die kwaad op Hom uitgaan nie. Hy voel net
intense haat teen hierdie kwaad. Die kwaad roep by die HERE net die reaksie van
toorn en oordeel op. Hy is verder immuun teen elke versoeking. Ons lees van die
HERE in Hab 1:13: “U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die
onreg nie kan aanskou nie.” 1 Joh 1:5: “En dit is die verkondiging wat ons
van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in
Hom nie.”

b.   
Die tweede
rede wat Jakobus noem is: “en self versoek Hy niemand nie”. 
Omdat die HERE  immuun teen
alle kwaad is en dit wat goed is liefhet, mag ons ook nooit sê dat die HERE jou
versoek nie. Hy bring jou nooit in omstandighede met
die doel om jou tot sonde te bring nie. Dit doen die HERE nooit nie. Dit
grens aan Godslastering as ons dit  sê.
Dalk dink een van julle nou: Hoe is dit nou moontlik want ons lees in 2 Sam 24
tog duidelik dat dit die HERE is wat Dawid aanhits om die volk te tel, terwyl
dit ‘n verkeerde ding in God se oë was. Dit was tog ook die HERE wat vir Saul
‘n bose gees gestuur het?

Ons
moet hier mooi bedink dat die HERE ons in moeilike en verleidelike omstandighede
kan bring maar dat Hy dit dan doen om Sy kind in die moeilike omstandighede 
tot versterking van sy geloof te bring. As Dawid in hierdie omstandighede
kom, is dit nie om Dawid tot die tel van die volk te dwing nie maar om hom te
toets. Die HERE laat dit na hom toe kom om hom te toets, die duiwel maak daarvan
gebruik en wil Dawid daarmee tot sonde verlei. As die HERE ‘n bose gees vir
Saul stuur, is dit ‘n straf op Saul se volharding in sonde,  sy opstand teen die HERE. Die HERE  bring mense nie in moeilike omstandighede om hulle daarmee
tot sonde bring nie! Dit moet ons heeltemal uit ons kop sit. Die HERE sê van
Homself in Es 33:11: “Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie,
maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe.” As ‘n mens in
versoeking kom, moet hy die skuld daarvan by homself soek. Dit sien ons in die
tweede punt.

Die mens bring homself in versoeking

Wat is die oorsaak daarvan dat mense
in sonde lewe? Wat is die oorsaak daarvan dat jy en ek in ons lewe sondig? Ons
kan nie met ons vinger na die HERE wys nie. Dit is ook te maklik om net na die
duiwel te wys. Ons moet regtig onsself ondersoek en dit by onsself soek.

Wanneer
kom versoekinge, verleidinge met krag op jou af? Dit gebeur as jy dit opsoek, as
jy jouself daarvoor oopstel. Hoe gebeur dit in ‘n mens se lewe?

Dit
begin in jou hart. Dit begin daarmee as jy begin dink en voel dat jy ‘n sekere
ding sou wil doen. As jy voel en dink dat jy iets wil doen wat 
nie goed is nie. Die begin van die eerste sonde op aarde is as Eva in
reaksie op die woorde van die duiwel “sien dat die boom goed was om van te eet
en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om
verstand te kry” (Gen 3:6).

As
‘n mens die verlange na iets wat verkeerd is, bly vertroetel, as jy nie
probeer om dit in jou lewe af te breek nie, word die verlange al hoe groter. Wat
iewers in ‘n skuilhoekie van jou hart begin het, word dan groter en gaan al
hoe meer jou gedagtes en gevoelens beheers. Dan laat jy jou al hoe meer daardeur
saamneem. Dan word dit so groot dat hierdie verlange ‘n kind gaan voortbring.
Hierdie verlange waardeur ‘n mens homself laat wegsleep uit die nabyheid van
die HERE en hom laat verlok om al hoe meer na die sondige daad te beweeg, bring
dan die kind van die sonde voort. Die verlange gaan dan oor in die doen van dit
wat in die HERE se oë verkeerd is. Dan kom die sonde met die daad. Voorbeelde
in die Bybel hoe ‘n verkeerde verlange tot die sondige daad lei is, o.a. Dawid
wat na Batseba  wat bad 
kyk en wat dan die verlange na die mooi vrou in sy lewe begin koester. 
Judas wat na rykdom, na baie geld verlang en dan selfs sover kom dat hy
daarom die Here Jesus vir 30 silwerstukke verraai. Petrus wat deur ander mense
aanvaar wil word en vanuit die angs om verwerp of selfs gevangegeneem te word
die Here Jesus verloën.

As jy
‘n sondige verlange koester, speel jy met vuur. Jy kom al hoe nader aan die
sondige daad. Hoe gevaarlik is dit as jy tot die sondige daad kom. ‘n Mens kom
dan so moeilik uit die greep van daardie sonde. As ‘n mens ‘n sekere sonde
een keer gedoen het, doen hy dit so gou ‘n tweede, ‘n derde keer ens.
Dikwels is dit ook so dat die een sonde om die volgende roep. Dit kan wees om
die ander sonde te probeer wegsteek of omdat jy saam met ander iets gedoen het
en jy eintlik nie meer by die ander behoort as jy nie weer saamdoen nie. Die
sonde bring jou al hoe meer in die greep van die sonde, jou val in sonde word
‘n leef in sonde. As die verlange in jou hart een keer so ver gekom het,
beheers dit jou en dan is jy in die hande van die ewige dood. Dit bring die dood,
die hel vir jou voort. Paulus skryf in Rom 6:23: “Want die loon van die sonde
is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus,
onse Here.”

Hoe
belangrik is dit, broers en susters, seuns en dogters, om die sonde by die begin
te weerstaan en te bestry. Om daarvoor te sorg, met die hulp en krag van die
Heilige Gees, dat die sonde jou lewe nie so binnedring dat dit ‘n krag word
wat jou voortstu nie. Dat dit geen krag word wat jou so met die sonde verbind
dat jy as slaaf van die sonde begin lewe nie.

As jy
die verlange na die verkeerde in jou hart voel, as daar verkeerde gevoelens in
jou lewe is, gaan op jou knieë en bely dit, vra om krag om daarteen te stry.
Gaan nie daarheen waar hierdie verlangens en gevoelens weer gevoed word nie. Ons
sien by Kain wat gebeur as jy jou nou nie laat waarsku nie. As in Kain se lewe
sy hart verkeerde gevoelens en verlangens begin ontwikkel, is dit die HERE wat
vir hom waarsku. Ons lees dit in Genesis 4:7: 
“En as jy nie goed doen nie – die sonde lê en loer voor die deur, en
sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.” Ons weet wat met Kain
gebeur het. Hy het nie tot die HERE gegaan om krag te ontvang om oor die sonde,
oor die verlangens wat om konkrete sondes roep, te heers nie. Hy het daardeur
die eerste menslike moordenaar op aarde geword.

Jy en
ek moet nie na ‘n ander kyk nie maar na onsself. 
Jy moet selfs nie na die duiwel kyk en dan sê dat jy eintlik nie skuldig
is nie want die duiwel is sterker as jy nie. Jy mag ook nie sê dat jy eintlik
nie so skuldig is nie omdat jy nou eenmaal ‘n sondige mens is en dit eintlik
Adam en Eva se skuld is nie.

Dit
is heeltemal verkeerd om die HERE eintlik die skuld vir jou sondige gedrag te
gee. Die HERE is heilig en goed en het niks met die sonde uit te waai nie. Ook
niks met jou sondes nie. Wie so praat, dwaal. Die vorm van die werkwoord dwaal
wat Jakobus in vers 16 gebruik, wys daarop dat in die gemeentes waaraan
Jakobus skryf, al so gedink en gepraat word. Hulle moet verander en hierdie
dwaling agter hulle laat. Hulle moet raaksien dat die HERE juis die bron is van
alles wat goed is. Ons sien dit in die derde punt.

God gee alles wat goed is.

Die HERE is die teenoorgestelde van
die persoon wat ‘n mens in moeilike situasies bring om jou in die hande van
die duiwel, dood en sonde te bring. Hoe anders is dit. Alles wat goed is, kom
van Hom. Elke goeie gif en elke volmaakte gawe kom van die hemel na ons toe. Vir
alles wat goed is, moet Hy die dank en die lof ontvang. Dit kom van die Vader
van die ligte. Die ligte is hier die hemelliggame. Die son, die maan en die
sterre. Die lig wat ons vandag sien, kom van skepsele wat die HERE gemaak het.
Hy is die Vader, die Skepper van die hemelliggame. Dit is God se lig wat hierdie
skepsele in Sy diens oor die aarde laat kom. Die lig is vir ons goed. Die son,
maan en sterre kan sonder Hom geen lig versprei nie. Van Hom kom alle lig.
Daarin sal die HERE nooit verander nie. Hy bly altyd die enigste God, die
volkome betroubare wat die lig in hierdie wêreld versprei. Hy word nooit die
God wat  hom met die duisternis, met
die versoeking tot sonde sal verbind nie. Juis omdat Hy die betroubare is. “By
Hom is geen verandering of skaduwee van omkering nie.”  Dit wil sê dat Hy wat volkome goed en heilig is daarin nooit 
‘n tittel of ‘n jota, daarin nooit ‘n komma of ‘n punt sal
verander nie. Hy sal Hom nooit op enige manier aan die sonde of die verleiding
tot sonde verbind nie. Hy is juis die God wat mense uit die duisternis tot Sy
wonderbare lig wil lei. Hy is dit juis wat vir jou tot in die moeilikste
omstandighede die krag belowe om elke versoeking te kan deurstaan. Hy wil dit
vir jou gee. Ons lees daarvan in 1 Kor 10:13: “Geen versoeking het julle
aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat
julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook
die uitkoms gee, sodat julle dit sal verdra.”

Die Vader van die ligte het as Sy
grootste geskenk vir ons die Here Jesus, Sy eie Seun gegee. Hy wat die lig van
die wêreld is. In Hom skyn God se lig op hierdie aarde die heerlikste. Die lig
van Sy liefde wat jou roep: Kom tot My en leef tog in die lig! Ek roep jou uit
die duisternis van die sonde. Hy het die geskenk van Sy Seun gestuur wat die
helse duisternis deurstaan het, wat die donkerheid van die hel deurstaan het om
jou en my in die lig van die ewige lewe te bring. Dit doen Hy deur ons Sy Woord, 
die woord van die waarheid te laat hoor. Die woord van die waarheid is
die evangelie wat  in die prediking
tot jou en my kom. Hy gebruik die prediking om jou tot ‘n nuwe mens te maak.
Sien ook: 2 Kor 6:7; Ef 1:13; Kol 1:15; 2 Tim 2:15. Die HERE praat hier van
voortgebring, van gebore word. Hy het die gelowige deur die prediking van die
Woord  tot die wedergeboorte gebring.
Jy het dan ‘n nuwe mens geword, ‘n mens wat nie vir die sonde nie maar vir
Christus, vir Vader in die hemel wil lewe! Die ons
in vers 18 is die gelowiges.

Wat is die gevolg van hierdie
heerlike genadegif van die Vader van die ligte in ons lewe? Dit: “sodat ons as
eerstelinge van sy skepsele kan wees.”

Eerstelinge was in die Ou Testament
die eerste deel van die gewasse en die diere wat vir die HERE geoffer word.
Hierdie eerstelinge het die hele oes verteenwoordig. Wie die eerstelinge offer,
bely dat die hele oes aan die HERE behoort en aan Hom te danke is. Die gelowiges
word hier die eerstelinge van God se skepsele genoem. Die Vader is so goed dat
Hy mense tot nuwe mense maak. Hy doen dit nou al op hierdie aarde. Hierdie
geweldige verandering dat mense tot nuwe skepsele gemaak word (sien 2 Kor 5:17), 
wys daarop dat eendag alles nuut
gemaak sal word. Ons mag deur die wedergeboorte die eerstelinge wees.
Die oes sal groter as net die eerstelinge wees. Hoe groot is God se heerlike
werk van vernuwing, van wedergeboorte. Die vernuwing, die 
wedergeboorte van mense is die waarborg van die wedergeboorte van die
hele skepping waar die Here Jesus in Matt 19:28 van sê: “Voorwaar, voorwaar
Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in
die wedergeboorte  wanneer die
Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal
sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel.”

Jy en ek mag die waarborg vir so’n
heerlike toekoms in ons ronddra. Dit wil die HERE vir jou gee, deur alle
versoekinge heen. Sou jy dan nog na die HERE wys as die persoon wat jou tot
sonde wil bring?   Sou jy in
die donkerste oomblikke van jou lewe dan nie hulp en krag soek by die Vader wat
Christus as die lig van die wêreld gestuur het en wat Sy Gees gegee het om jou
te gee dat jy in alles aan Christus  kan
vashou?

Bedink dat dit God en Christus is wat
op die nuwe aarde die lig uitstraal wat elkeen op die nuwe aarde elke oomblik
van die ewigheid verlig. Die HERE is lig en in Hom is geen duisternis nie.
Halleluja!

AMEN 

Liturgie: 

(kyk in preek)