Die arme en ryke is in Christus se gemeente gelyk

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-12-01
Teks: 
Jakobus 1
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Jakobus 1:9-11

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet;
Psalm 49: 1,6; Lesing van die Wet; Genadeverkondiging; Psalm 
68: 2,3; Skriflesing:  Psalm
49; Gebed; Kollekte; Psalm 10: 4,7,8,9,10;
Teks: Jakobus 1: 9-11; Preek; Psalm 37: 10,11,12,13; Dankgebed; Psalm 103: 8,9; Seën

PREEK

Broers en susters,
gemeente van ons Verlosser Jesus Christus

Die meeste mense in en
rondom Palestina het in die tyd van die eerste Christelike gemeentes nie ‘n
maklike lewe gehad nie. ‘n Klein groepie van die inwoners was welvarend. As
‘n mens na die sosiale situasie van die mense destyds en in daardie deel van
die wêreld kyk, bestaan die samelewing uit drie groepe:

1.   
Mense wat in
die stede woon en ryk is. Dit is veral landeienaars wat ander mense vir hulle op
hulle plase laat werk, of wat grond verpag. Hulle bly nie meer op die platteland
nie maar geniet van alles wat in die stad gekoop en gedoen kan word. By hierdie
klein welvarende deel behoort ook die hoë regeringsamptenare en die tollenaars.

2.   
Die volgende
klein groep in die samelewing woon ook in die stad en dit is die handarbeiders,
die mense met ‘n klein besigheid en die ander amptenare. Hulle is die groep
wat ekonomies gesien die middelgroep vorm.

3.   
Die grootste
deel van die mense is die mense wat op die lande werk. Hulle woon veral op die
platteland en het ‘n ekonomies gesien moeilike bestaan.

Dit is in die kerkgeskiedenis ‘n
bekende feit dat  die eerste
Christelike kerke veral uit mense bestaan het wat 
arm of selfs baie arm was. Selfs in die stede was dit oor die algemeen
die armer mense wat lidmate van  Christus
se kerk was.

Dit
geld ook vir die kerke, vir die broers en susters waaraan Jakobus sy brief skryf.
Ons het in die vorige preek al gesien dat hierdie mense uit Jerusalem moes vlug
en toe alles kwytgeraak het. Die meeste van hulle is regtig arm. Ook nog op die
oomblik dat hulle Jakobus se brief ontvang. Dit is vir hulle moeilik om dit
steeds weer uit God se hand aanvaar. Daarom skryf Jakobus in die kader van
versoekinge, van moeilike dinge wat God se kinders teister, ook oor rykdom en
armoede.

DIE ARME EN DIE RYKE
IS IN CHRISTUS SE GEMEENTE GELYK

1.   
Want die arme moet roem in sy hoogheid

2.   
Want die ryke moet roem in sy geringheid

Want die arme moet
roem in sy hoogheid

Dit
is dus nie so dat die woorde van ons teks ‘n los opmerking is wat nie in
hierdie verband pas nie. ‘n Mens kan daarmee worstel dat hy min verdien en dat
hy steeds iewers onder aan die maatskaplike leer bly. Dit kan ‘n mens die
gevoel gee dat hy eintlik in die samelewing nie werklik tel nie. Hy is en bly
maar ‘n gewone man wat allerhande dinge nie kan doen nie en wat nie ‘n
status in die samelewing het nie. Dit kan selfs so wees dat mense die gevoel in
die kerk het dat hulle vanweë hulle gewone posisie in die samelewing nie na
waarde geskat word nie. Dat hulle in die gemeente ‘n ander posisie sou hê as
hulle dieselfde mense was maar ryker was en meer aansien vanweë hulle beroep of
geld sou hê. Sosiale omstandighede sorg baie keer vir hierdie gedagtes en
gevoelens en dan praat ek nou nie daaroor of 
dit  reg is dat so gevoel of
gedink word nie. Ek kom daarop later nog terug.

Hoe
moet ‘n broer of ‘n suster wysheid kry om met hierdie gedagtes en gevoelens
om te gaan? Hoe moet jy dit hanteer as jou geringheid vir jou ‘n versoeking
geword het? Hoe moet jy in Christus se gemeente lewe om nie in hierdie
versoeking te val en daardeur gekwel te word nie?

Die
Heilige Gees sê vir wie in die gemeente so voel: “Maar laat die broeder wat
gering is,  roem in sy hoogheid.”

Wat
is nou die hoogheid waarin jy wat nie ryk en aansienlik in die samelewing is nie,
kan en moet roem?

Die
hoogheid is dat God se kind wat in daardie omstandighede is, in die HERE se
besondere sorg en ontferming deel. Jy het  in
God se hart ‘n besondere plekkie. Ek noem enkele gedeeltes in die HERE se eie
Woord  waar ons dit kan lees.

“’n
Vader van die wese en ‘n regter van die weduwees is God in sy heilige woning.
God laat die eensames woon in ‘n huisgesin, Hy lei die gevangenes uit in
voorspoed; maar die wederstrewiges woon in ‘n dor land” 
(Ps 68:6,7).

Die
HERE  skryf Sy volk Israel voor om
besondere sorg en liefde vir die geringes onder hulle te gee. Hy reël dat
sekere voorsienings gemaak moet word wat ook die armes uitsig gee en wat
daarvoor sorg dat families nie vir altyd arm hoef te wees nie. Ek dink hier o.a.
aan die sabbatjaar en die jubeljaar. Sien Levitikus 25. Die HERE noem Homself
juis as Hy vir Sy volk sy wette gee: “die grote, magtige en gedugte God wat
die persoon nie aansien en geen geskenk aanneem nie; wat reg verskaf aan die
wees en die weduwee, en die vreemdeling liefhet, sodat Hy hom brood en klere
gee. Daarom moet julle die vreemdeling liefhê, want julle was vreemdelinge in
Egipteland” (Deut 10:17-19).

Ek
noem nog een voorbeeld waar die HERE se besondere sorg vir die geringes en die
gebrokenes bely word: “U het dit gesien; want U aanskou die moeite en verdriet,
sodat ‘n mens dit in U hand sal gee. U gee die ongelukkige dit oor; U was ‘n
helper van die wees” (Psalm 10:14). Sien ook 37:16-19; 72:2-4; Jes 29:19.

Hulle
wat swak en behoeftig in die samelewing is, mag in God se besondere ontferming
deel. As ek dit nou sê, mag nie die misvatting ontstaan dat ‘n mens omdat hy
arm en swak is God se liefde ontvang nie. Die HERE is nie op ‘n sosialistiese
of kommunistiese manier die God van die armes nie, Christus is nie op hierdie
manier die partyganger van die swakkes in die samelewing nie.

Dit
gaan hier om mense wat binne God se verbond lewe, mense wat 
met die Here as hulle God verbonde wil wees. Dit gaan hier om gelowiges.
Die gelowiges wat gering in mense se oë is, mag weet dat hulle van God die hoë
posisie van God se kind ontvang het. Die HERE het hulle daartoe verhef. Jakobus
sê dit in hoofstuk 2:5 so: “Luister, my geliefde broeders – het God nie die
armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die
koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?”

Wie
gering is, mag weet dat die HERE jou met besondere sorg en liefde wil omring.
Ons moet daarby sê dat dit hier gaan om hulle wat die HERE liefhet.

Jy
wat in die samelewing nie uitstaan nie. Jy wat met die salaris wat jy elke maand
kry, sukkel om jou paaiement te kan betaal en kos te koop, word deur die HERE
opgeroep om in jou hoogheid te roem. Die woord roem
wys op dit wat ‘n mens bly maak, die betekenis daarvan kom naby die louter vreugde van vers 2. Dit kan wees dat ‘n mens se
geringheid hom pla. Hoe belangrik is dit dan om verder te kyk, om nie in jou
aardse geringheid vas te kyk nie! Ons kan so maklik die neiging hê om in
moeites, probleme, onreg rondom ons vas te kyk. ‘n Mens word dan so gou
depressief, die vreugde van die geloof,  die
lewensblyheid verdwyn dan uit ‘n mens se lewe. As die ander vir jou op die
vreugde van die lewe met Christus wys, sê jy so gou: 
Ja, dit is so, maar moet jy nou eers daarop let, kyk hoe erg, hoe
onregverdig! Dan kyk ons vas in die dinge wat nou juis nie blywend en ewig is
nie. Die HERE sê vir ons: Vergeet as mens wat by Christus sy verloste lewe
gevind het, nooit  jou hoogheid nie,
laat dit jou altyd weer bly maak. Laat dit vir jou bo alles gaan, dan verloor
‘n mens nooit die egte moed en blydskap nie.

Jy
sien hoe belangrik dit is dat jy glo. Hoe belangrik dit is dat jy wat in God se
verbond Sy belofte gekry het die belofte aanneem. Hierdie belofte dat Hy jou
Vader in alles wil wees. Wie sy eie pad gaan, het sy hoogheid verloor en moet in
sy geringheid vaskyk. Wie in liefde God se belofte vir hom eie maak, word deur
die HERE hoog opgehef en dit is soveel meer as ‘n mens se grootste geringheid.
Die geringe in die gemeente is niks minder as die rykes in Christus se kerk nie.
Ons let nou in die tweede plek op die posisie van die rykes.

Die ryke moet roem in sy geringheid

Twee
woorde in vers 9 klink in vers 10 saam. Dit is die woorde broeder
 en roem.
Sommige uitleggers van vers 10 sê dat dit hier om rykes buite die gemeente gaan
en dat dit rykes is wat die arm gemeente van Christus verdruk. As jy mooi na die
teks kyk, wys niks in die verband hierop nie. Jakobus is besig om die gemeente
wat in moeilike omstandighede is aan te spreek en rig hom nou tot die ryk
broeders in Christus se gemeentes.

Jakobus
besef dat in die gemeente wat veral uit mense bestaan wat dit nie breed het nie,
die teenstelling tussen ryk en arm spanninge kan veroorsaak. Dit gebeur veral 
as die rykes en aansienlikes vir hulle ‘n  belangrike posisie in die kerk opeis omdat hulle ryk en
aansienlik is. Hoe ongeestelik het rykes en aansienlikes hulle dikwels in die
kerkgeskiedenis gedra. Dit het gebeur dat  die
kerkraad volledig of vir die grootste deel uit rykes en aansienlikes bestaan het
sonder dat hulle die mense was wat die meeste daarvoor in aanmerking gekom het
volgens dit wat die HERE in 1 Tim 3 voorskryf. Hulle posisie in die samelewing
was die belangrikste en die geringe broeder wat naby die HERE lewe, is glad nie
oorweeg nie. Die ryk en aansienlike broeder mag hom nooit op sy rykdom en
posisie beroem nie. Dit mag in Christus se kerk nie ‘n rol speel as ampsdraers
voorgestel of gekies word nie. Dit mag nie so wees dat 
iemand in die gemeente hoër en meer geag word omdat hy ryk is of baie
aansien in die samelewing vanweë sy posisie 
geniet nie.

Dit
moet die ryke en aansienlike steeds weer besef. Sy roem mag nie in sy besittings
en posisie lê nie. Dit is vir hom ‘n versoeking om daarin die vastigheid van
die lewe te vind en daardeur sy posisie in die kerk te laat bepaal. As ons van
rykes praat, moet ons bedink dat in die HERE se oë baie van ons regtig ryk is.
‘n Mens kan dit ook sien as ons onsself  met  ander bevolkingsgroepe in ons land vergelyk. As ons onsself
vergelyk met die lidmate van die gemeentes in Mamelodi, Soshanguve en Belhar.
Dit maak vir ons duidelik dat as ons ons met daardie broeders en susters
vergelyk ons as gemeente geroep word om in ons geringheid te roem en in die
omgang met daardie broers en susters geen hoër posisie te wil hê omdat ons
ryker en aansienliker is nie.

Wat
beteken dit om in jou geringheid te roem? Dit beteken dat ‘n mens leer om
verby sy besittings en posisie in die samelewing 
te kyk. Om nie daarin vas te kyk nie. Die geringe kan maklik in sy
geringheid vaskyk, die ryke maklik in sy rykdom. Die gevolg is dan sommer dat hy
hom nie meer werklik afhanklik van Christus voel nie. Die ryke moet leer hoe
gering hy as ryke vir God is. Hy het werklik niks wat hom in die HERE se oë
belangriker as die arme maak nie. Die duisende rande op sy spaarrekening, die
groot huis en die motors maak jou werklik niks belangriker in die HERE se oë
nie. Jou posisie in die samelewing maak jou vir die HERE nie meer as jou
bediende nie.

Dit
is alles dinge wat eendag verdwyn, dit is alles verganklik! Die Gees wys dit vir
ons in vers 10. Hy herinner hier aan verskillende gedeeltes in die Ou Testament 
waar vir die mens en vir God se volk gesê word dat die lewe op aarde
soos ‘n blom is wat sommer op een dag doodgaan. Die lewe is so kwesbaar. Die
aardse lewe is verseker nie ewig nie. Dit geld ook vir hulle wat by God se volk
behoort, wat in Sy verbond opgeneem is. Die HERE laat Jesaja o.a. sê: “Alle
vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld. Die gras
verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die
volk is gras! Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou
stand in ewigheid” (40:6-8; sien ook 1 Petr 1:24,25; Ps 37:2; 103:15).

Somtyds
kan dit lyk asof  die lewe te lekker
is om dood te gaan. ‘n Mens het alles en die dood lyk so onwerklik. Die
grootste rykdom kan die dood nie afweer nie. ‘n Mens kan met al sy besittings
die ewige lewe nie by die HERE koop nie. Ons lees daarvan in Psalm 49:
“Niemand kan ooit ‘n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee
nie  …. Dat hy vir ewig sou
voortlewe, die vernietiging nie sou sien nie” (8,10).

As
‘n mens sterwe, kan hy niks in die ewigheid saamneem nie. Hy verloor al sy
aansien en besittings. Die ryke wat voor God verskyn op die dag van sy dood,
verskyn daar nes die armste man wat op aarde geleef het. Die aansien en
versiering van die ryke het verdwyn. Hy verskil dan niks van die arm man nie.
Die verskil tussen ‘n Rolls Royce, ‘n Mercedes en die man wat net kaalvoet
kan loop om êrens te kom, bestaan dan nie meer nie.

Dit
moet elkeen wat ryk is tot die diepe besef bring 
dat sy rykdom hom nie teen God se oordeel kan beskerm nie en dat sy
rykdom vir hom voor God geen belangriker status in Christus se kerk gee nie.

Die
ryke se geringheid is dat hy nes die arm mense ‘n skepsel van God is, dat hy
nes die arm mense ‘n sondige mens is wat die HERE se ewige oordeel en straf
verdien het. Laat dit tot jou hart deurdring sodat jy jou nie verhef 
en eintlik op jouself vertrou nie.  Die
gevaar is groot vir elkeen wat ryk is. Daarom wys die Here Jesus ook meerdere
kere op die gevaar van die rykdom. Hy sê in Matt 19: “Voorwaar, Ek sê vir
julle dat ‘n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele kan ingaan”
(23). Sien ook vs 24-26; 1 Tim 6:17.

Hoe
baie gebed het die ryke vir homself nodig om op die HERE alleen te bly vertrou.
Hoe baie gebed het hy nodig om God se seën in sy rykdom te bly eerbiedig en
daarvolgens te bly lewe. Die mens wat regtig vir sy rykdom lewe, sal eendag deur
God se ewige oordeel neergeslaan word en ewig neergeslaan word in die hel. Sy weë
het dan vir ewig verwelk.

Die
arme en die ryke moet leer om saam die rykdom en hoogheid van hulle lewe by
Christus alleen te vind. Om saam gemeente van die Heiland te wees. Hulle moet
leer om nie hulle posisie in die gemeente van Christus volgens rykdom of armoede
te bepaal en te laat bepaal nie. Laat ons saam met vreugde die HERE dien. Laat
ons almal ons rykdom soek in Christus, wat vir ons arm geword het. Laat ons
grootste rykdom en vreugde wees dat ons God se kind is. Wie homself verhef,
verloor God as sy Vader; wie opstandig teenoor die HERE word omdat hy arm is en
bly, verloor die rykdom om in Christus die redding en die ewige ryke lewe te
ontvang.

Laat
ons saam na Christus gaan en die vrede van Hom ontvang, dan ontvang die arme en
die ryke die wysheid van die Heilige Gees om saam Christus se gemeente te wees
en saam ons gawes in Sy diens te bestee. Dan leer die Gees ons dat armoede of
rykdom, dat maatskaplike posisie geen rol in die kerk mag speel nie. Wee die
kerk waar dit ‘n belangrike rol speel, daardie gemeenskap is nie Christus se
kerk nie.

Hoe heerlik is
dit dat elkeen, wat sy ekonomiese of sosiale posisie ook al is, voor God gelyk
is en dat die Gees ons wil leer om die wêreld te wys dat die liefde van God
hierdie verskille laat wegval. HERE, leer ons so U gemeente wees en leer ons
persoonlik so te wil lewe en dink!

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)