God skenk vir Sadrag, Mesag en Abednego die geloofskrag om nie Nebukadnesar se beeld te aanbid nie

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-12-01
Teks: 
Daniël 3
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Daniël 3: 1-10

ORDE VAN DIENS

Opening;
Vrede/Seëngroet;
Psalm 66:1,2; Lesing
van die wet; Psalm 99: 1,3,5; Skriflesing:
1 Johannes 5: 1-12; Aflê van Openbare Geloofsbelydenis 
Gerda de Vries; Psalm 95: 1,4; Gebed;
Kollekte;
Teks:
Daniël 3: 1-19; Preek;
Psalm 150; Dankgebed;
Psalm 95:2,3; Seën 

PREEK

Gemeente
van die enigste God, broers en susters.

Seuns
en dogters die verhaal van Daniël se vriende is ‘n pragtige verhaal nê?
Julle het hierdie verhaal by die huis en in die skool al gehoor. Julle weet ook
hoe hierdie verhaal verder gaan en hoe die HERE die drie vriende uit die
vuuroond red. Hierdie verhaal is vir baie kinders een van die mooistes in die
Bybel. ‘n Mens kan hier sien hoe magtig die HERE is. Die magtige koning
Nebukadnesar  kan
dit nooit van die HERE wen nie. Die HERE is so magtig dat Hy die drie vriende,
wat  nie
vir Nebukadnesar se beeld kniel nie, in die oond so beskerm dat hulle nie
verbrand, nie doodgaan nie.

Die
verhaal is pragtig maar as mense ouer word begin sekeres by die lees van hierdie
verhaal vra: Wat moet ons met hierdie verhaal? Wat beteken dit vir ons vandag?
Want as vandag iemand in die vuur gegooi word, gebeur dit nie meer nie. Dan gaan
God se kind nogtans dood. Ons het in die kerkgeskiedenis so baie voorbeelde van
gelowiges wat juis in vervolginge op brandstapels gesterf het.

Een
van hulle was die ou dominee van Smyrna Polycarpus. Hy word in die tweede eeu na
Christus gevangegeneem. Die Romeine vra van hom om die keiser te aanbid. Hulle
dreig hom met die vuurdood. Polycarpus bly selfs dan Christus as sy God en
Koning bely en niemand anders nie. Hy antwoord op die dreiging met die vuur dat
die vuur wat hom sal verbrand net ‘n rukkie sal brand en dat hy by sy dood
dadelik by Christus sal wees. Hy waarsku sy regter dat vir die ongelowiges die
vuur ewig sal bly brand. Polycarpus sterf die vuurdood. Die HERE red hom nie
daarvan nie. Hoe kan dit? Het die verhaal wat ons vanoggend gelees het vir ons
vandag nog betekenis?

Ons
let o.a. daarop as ek vir julle die evangelie onder die volgende tema verkondig:

GOD SKENK VIR SADRAG,
MESAG EN ABEDNEGO DIE GELOOFSKRAG OM NIE NEBUKADNESAR SE BEELD TE AANBID NIE.

1.    
Die groot verleiding tot ongeloof

2.     
Die
oorwinnende krag van die geloof.

Die
groot verleiding tot ongeloof.

Daniël
2 vertel ons van die groot beeld wat die HERE vir Nebukadnesar in die tweede
jaar van sy regering wys. Nebukadnesar en sy Babiloniese Ryk is die goue kop van
die beeld. Daniël lê die droom vir Nebukadnesar uit en dan verduidelik Daniël
dat geen enkele menslike koninkryk ewig is nie. Al is Nebukadnesar die goue kop
nogtans sal ook sy Ryk eendag vergaan. Dis Christus se Koninkryk wat al die
menslike ryke oorwin en die ewige Koninkryk is.

Toe
Daniël die enigste was wat vir Nebukadnesar sy droom kon vertel en uitlê was
die koning beindruk. Toe het hy die HERE as die God van die hemel geloof. 
Die omstandighede het hom toe beindruk maar soos dit baiekeer in ‘n
mens se lewe gaan, verdwyn na ‘n ruk 
die gevoel van beindruk wees. Dieselfde kan ook in ons lewe gebeur. Ons
lees in die Bybel, ons hoor ‘n preek en daarin word jy baie persoonlik deur
die HERE aangespreek. Die HERE se belofte, die HERE se bestraffing van ‘n
sekere sonde in jou lewe beindruk jou. 
Jy bely jou skuld teenoor die HERE en ook teenoor mense rondom jou maar 
daarna eb die gevoel van skuld, 
die beindrukking deur die heerlike evangelie weg en 
jy begin weer al hoe meer op die ou pad, die pad weg by Christus en die
evangelie te leef. Hoe belangrik is dit om steeds weer die HERE se boodskap tot
jou hart te laat deurdring.

Nebukadnesar
het na ‘n ruk weer heeltemal homself gevind. Dit gaan in sy lewe weer volledig
om homself, om die mag wat hy het en wil hou en uitbou.

Om
sy mag te wys en demonstreer laat Nebukadnesar ‘n baie groot beeld bou.
Hierdie beeld is sestig el hoog. Dis dertig meter. Die breedte was 6 el, dis
drie meter. ‘n Indrukwekkende beeld wat teenoor die beeld staan wat hy dalk
jare gelede in ‘n droom gesien het. Hierdie kolossale beeld is van goud. Dis
‘n korreksie van Nebukadnesar se kant van die die beeld wat 
hy in sy droom gesien het. Die beeld het net ‘n kop van goud gehad. Die
kop het op Nebukadnesar en sy ryk gewys. Die beeld wat Nebukadnesar nou self
gebou het wys ook op homself en is heeltemal van goud.. Dit word in vers 15 baie
duidelik. Nebukadnesar wys daar in sy woorde dat hy hom bo elke god verhewe voel
en dink dat hy die almagtige is. Hy sê dan vir die drie vriende wat nie voor sy
beeld wil kniel nie: “en wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?”

Hierdie
beeld laat die koning in 
die dal van Dura bou. Dis ‘n dal in die nabyheid van die stad Babel. Hy
laat dit in ‘n dal doen om daarvoor te sorg dat genoeg plek is om baie mense
tegelyk die beeld te kan laat aanbid. Dit gebeur juis in die provinsie 
waar  Daniël
as die belangrikste man na die koning aangestel is en waar Daniël se vriende
vooraanstaande posisies in die regering van daardie provinsie inneem. Hierdie
provinsie is die hartland van die babiloniese Ryk.

Juis
hier wil Nebukadnesar verteenwoordigers van alle mense waaroor hy regeer
saambring. Hy laat die belangrikste amptenare uit elke provinsie na die dal van
Dura kom. Dit moet ‘n baie indrukwekkende groep mense gewees het. Die
belangrikste mense van die geweldige Ryk is almal daar versamel. Sekere mense
was vanweë geldige redes nie daar nie. Dit kan byvoorbeeld siekte wees. Ons
lees niks van Daniël nie. Hy was nie daar nie. Ook hy sou verseker nie vir
hierdie beeld gekniel het nie.

Die
volke van die wêreld is in die dal van Dura versamel. Hulle verteenwoordig alle
volke en tale wat binne Nebukadnesar se Ryk aanwesig is. Hulle is hier om by die
inwyding van Nebukadnesar se beeld aanwesig te wees. Al gou word duidelik wat
die bedoeling is.

Die
verteenwoordigers van alle volke, nasies en tale moet as die musiek begin om te
speel vir die beeld kniel. “Volke van die wêreld buig julle neer vir die
koninkryk van die mens. Volke van die wêreld aanbid die magtige staat en sy
heerser, dan sal julle lewe ‘n gelukkige lewe wees. Volke van die wêreld loof
deur die musiek wat speel en deurdat julle buig vir Nebukadnesar as die hoogste
god.” Dit is waarom dit hier gaan. As Jesaja voor die ballingskap in hoofstuk
14 profeties die magtige koning van Babel beskryf lees ons in vers 14 dat
hierdie koning sê: “Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel
met die Allerhoogste.”

Die
musiek wat speel en pragtig klink, staan hier in diens van die aanbidding, die
vergoddelikking van ‘n mens en van die staat. Hoe pragtig hierdie musiek toe
ook geklink het, hoe musikaal volmaak dit dalk in mense se ore 
ook geklink het. Ons moet bedink dat as ons vanuit ons hart tot God se
eer sing al is die orreltjie waarby ons sing vir baie mense eintlik nie van baie
werd nie, al is ons stemme stemme wat kraak en bibber, dit is in die HERE se oë
meer werd as die mooiste instrument en die mooiste stemme wat nie vanuit liefde
tot Hom sing en speel nie.   

Die
musiek begin op Nebukadnesar se teken speel. Nou word van elkeen verwag dat
hulle buig. Elkeen word eintlik gedwing om dit te doen. As iemand nie buig nie
word hy in die vuuroond gegooi. Steeds weer in die geskiedenis sien ons ‘n
verafgoding van die staat en van persone wat regeer. ‘n Verafgoding wat
afgedwing word.

Ons
sien dit hier gebeur, ons sien dit later in die Romeinse Ryk waar die keiser
deur die burgers aanbid moes word en offers vir hom gebring moes word. Net 
een korreltjie wierook vir die keiser en dan het ‘n mens weer vir ‘n
tyd sy verpligting gedoen en is hy weer veilig.

Hoe
is die christene vervolg omdat hulle dit geweier het! Hulle aanbid net een God
en een Verlosser Jesus Christus.

Ons
het dieselfde gesien toe Hitler in Duitsland geregeer het en die Tweede Wêreldoorlog
veroorsaak het. Mense moet die Hitlergroet bring en moet onderteken dat hulle
van die regte, Ariese ras is, dat hulle geen Jode is en dan is hulle weer ‘n
ruk veilig. Steeds weer in die geskiedenis sien ons die verskynsels dat die
staat en regeerders goddelike eer en verering vra. So probeer die duiwel
Christus se eer aan te tas en Sy kerk tot afval te bring.

Wat
gebeur as Nebukadnesar die volke onder dwang tot verering van sy persoon, van sy
staat wil bring? Die musiek begin om te speel en daar gaan die groot massa as
een man deur die knieë. Hoe indrukwekkend is dit om te sien dat al die volke
vir jou en jou beeld buig. Hoe belangrik is jy dan! Hoe groot lyk Nebukadnesar
se oorwinning. Hoe groot lyk die duiwel se oorwinning. Steeds weer in die
geskiedenis van die mensheid lyk dit asof die koninkryk van die Godvyandige mens,
asof die koninkryk van staatsmag wat in diens van God se grote teenstanders die
duiwel staan, oorwin. Dit is in die tyd na Christus se koms en werk nie anders
nie. Ook in die tyd tussen Christus se hemelvaart 
en sy terugkeer sal daar tye wees waarin regeerders en state goddelike
eer vir hulle opeis. Dis dan die dier wat uit die see opkom waarvan ons in
Openbaring 13 lees. Die meeste mense sal onder die dwang en bedreiging beswyk.
Ons lees daarvan in Openb 13 :8: “En al die bewoners van die aarde sal hom
aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die
boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.”

Sonder
Christus, sonder om in God gewortel te wees, sonder Sy krag en beskerming sal
niks en niemand weerstand bied by so’n 
bedreiging nie. Ons sien dit in ons teks want almal buig vir Nebukadnesar
se beeld. Geen nasionalisme van een of ander volk, geen hoogmoed, geen gevoelens
van trots en eie waardigheid kan weerstand bied aan die dreiging met die dood
nie. Almal buig onder dwang vir Nebukadnesar se beeld. Nebukadnesar kan amper al
die volke in sy Ryk vir hom laat kniel. Die Koninkryk van die mens en die duiwel
kan onder dwang ‘n soort eenheidstaat en godsdiens afdwing.

Hoe
indrukwekkend dit ook lyk, ons sien hier dadelik die groot verskil met Christus
se Koninkryk, met die burgers van Sy Koninkryk. Christus se Koninkryk sal uit
burgers bestaan wat uit alle nasies, stamme, volke en tale kom.

Kom
hulle en buig hulle hul voor die HERE neer, 
prys hulle Sy heilige Naam omdat hulle daartoe onder bedreiging gedwing
word? Nee, God se volk, God se kind word nie deur angs gedryf nie. God se volk
jubel en aanbid die HERE vanuit liefde vir Hom. As ek Hom ken, as ek Christus
ken wil en kan ek nie anders as Hom aanbid en prys nie. Dan oorwin die vreugde
om Sy liefde en genade my hart en lewe. Dan oorwin Sy wonderlike liefde en
genade God se volk en is Sy volk vanuit heerlike vreugde Sy volk wat aanbid en
sing. Ons lees daarvan in Openbaring 7: “Na hierdie dinge het ek gesien, en
kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en
stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die lam,
bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met ‘n
groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die
Lam.” (9,10)

Hier
sien ons op ‘n baie mooi manier hoe heerlik dit was dat Gerda vanoggend
belydenis van haar geloof afgelê het. Dit was geen belydenis wat met die
bedreiging van die dood of lyfstrawwe afgedwing is nie. Dis die heerlike werk
van Christus se Gees in ‘n mens. 
Wie so Christus volg sal ook 
op die oomblikke dat die koninkryk van die mens, van die duiwel vir jou
met geweld wil dwing om dit te aanbid krag ontvang om ondanks alles letterlik en
geestelik staande te bly. Ons sien dit in die tweede punt.

Die
oorwinnende krag van die geloof.

Die
hele massa in die dal van Dura het 
gekniel. Nogtans het die mense wat daarop moes let of elkeen gebuig het,
onder die baie mense drie gesien wat bly staan het. Sadrag, Mesag en Abednego
het bly staan, hulle het geweier om iets of iemand te aanbid 
wat nie die HERE self is nie. Die Chaldeeuse manne kom dadelik na hulle
toe. Dis uit die vervolg ook duidelik dat hierdie manne wat 
dalk uit Babel kom die drie Joodse manne goed ken. Hulle weet dat dit
Jode is. Hulle kan ook dadelik vir die koning sê dat hierdie 3 in die gewone
lewe nie die babiloniese gode dien nie. Dis duidelik dat die Jood wees van
hierdie die belangrike manne in die bestuur van die provinsie Babel 
by baie Babiloniërs al ergernis opgeroep het. Hulle is Jode en hulle
dien nie dieselfde gode as die Babiloniërs en nogtans regeer hulle oor die
Babiloniërs. Dit het al baie haat in die harte van die Babiloniërs laat
ontwikkel. Hulle vertel vir die koning hoe die drie hulle gedra. Die koning laat
hulle by hom kom. By die koning bestaan nog ‘n sekere simpatie vir hierdie
drie. Hy ken hulle. Hy weet dat hulle ook by Daniël betrokke was en is. Die
groot probleem vir Nebukadnesar is nie dat hulle ook  die
HERE dien nie. Hy het daarteen geen enkele beswaar nie. Dis in ons tyd nie
anders nie. Mense het geen enkele beswaar as jy kerk toegaan en Christus dien
nie. Maar ook in ons samelewing begin die druk toeneem om by geleentheid met
ander godsdienste saam te doen. Dit word al duidelik as by sekere plegtighede
van die staat verteenwoordigers van verskillende godsdienste aanwesig is en
elkeen daar ‘n sekere godsdienstige handeling 
uitvoer. Wat doen ons as dit sou gebeur dat by so’n plegtigheid ‘n
Islamitiese voorganger ‘n gebed uitspreek en vra of ons almal sal kniel? Hoe
vererg sal mense ook in ons samelewing wees as ons dan vanweë Christus se eer
bly staan en wys dat ons net die HERE aanbid?!

Nebukadnesar
gee vir die drie vriende nog een kans. Hoe groot word juis nou die druk op hulle!
Net een keer kniel vir Nebukadnesar se beeld en hulle red daarmee hulle lewe en
posisie. Die taktiek van die duiwel is baiekeer so dat dit lyk asof jy net ‘n
klein dingetjie moet doen en dan is alles weer reg. Wat tel een buiging vir die
beeld nou teenoor al die kere dat jy vir die HERE jou knieë buig? Ons sien
dieselfde taktiek van die Satan by die Here Jesus. As Jesus openlik Sy werk as
die Verlosser begin het, gaan Hy na die woestyn. Een van die versoekings van die
duiwel wat dan op die Here Jesus afkom is dat die duiwel vir Hom die koninkryke
van die wêreld wys en dan vir Jesus sê dat as Hy net een keer vir hom kniel,
hy die koninkryke van die wêreld vir Hom sal gee. Dan sal Jesus die magtige
heerser word sonder dat dit vir Hom nodig is om diep te ly. Die duiwel doen
altyd asof hierdie dinge klein dinge is. Hy hou daarvan as mense sê: “Ons kan
dit tog maar beter doen want dan behou ons tog ons invloed in die samelewing en
dit is vir die kerk tog meer werd as om so konsekwent te wees en te weier.”
Ons is geneig om so te praat en dit ook nog as wys te sien maar dit is niks
anders as ongeloof en ongehoorsaamheid aan die HERE.

Dis
daarom dat die Here Jesus vir die duiwel sê: “Gaan weg, Satan! Want daar is
geskrywe: Die HERE jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” Dis die Here
Jesus wat dit bly doen het, wat vir die gelowiges se skuld tot in die hel gely
het en so vir God se kinders die krag, die krag van Sy Gees verdien het om in
sulke omstandighede in die geloof standvastig te kan wees.

Die
drie vriende lewe in ons teks al van daardie krag. Die HERE gee hulle die krag
van die geloof wat selfs in hierdie omstandighede hulle trou aan die HERE alleen
maak. Hoe die duiwel ook aanval, hoe Nebukadnesar ook dreig. Hoe hy ook doen
asof hy magtiger as enige god is. Ondanks dat die drie vriende die vuur in die
oond sien brand. Ondanks alles is dit die HERE wat hulle in die geloof sterk
maak en laat oorwin. Ons sien hier wat ons in 1 Joh 5 gelees het: “Want dit is
die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.
Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning
wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.” (3,4)

Die
3 vriende antwoord 
vanuit die geloof, 
vanuit die liefde vir die HERE. Hulle skaam hulle die evangelie nie.
Hulle sê selfs vir die koning dat dit eintlik nie nodig is om hierop antwoord
te gee nie. Die koning weet dat hulle net die HERE, die God van die hemel dien.
Hy kon en kan weet dat hulle nie daaroor dink om vir die staatsmag, vir die
beeld te aanbid nie. Hulle voeg nog wel iets aan hierdie antwoord toe. Dis die
verse 17,18. Ons moet daarna mooi kyk. Ons vertaling is hier ongelukkig want dit
wek die indruk dat hulle sê dat as die HERE hulle nie uit of in die vuuroond
red, die HERE nie bestaan nie. Dis nie wat hier staan nie. Hier het die Nuwe
Vertaling beter vertaal. Hulle twyfel nie daaraan of die HERE in staat is om
hulle te red en te beskerm nie. Hulle bely juis dat die HERE dit kan. 
Hy sal hulle uit Nebukadnesar se hand verlos. As die HERE hulle tog in
die oond sal laat sterwe, 
is hulle nog uit Nebukadnesar se hand gered en veilig in God se hande.
Dan het hulle in trou vir die HERE gelewe, dan het hulle ondanks al Nebukadnesar
se dreigemente Nebukadnesar se god en beeld nie aanbid en mag hulle by die HERE
in die hemel wees en Hom daar juigend elke dag vereer.

Hier
sien ons dat ook die drie vriende weet dat die HERE nie altyd deur wonders Sy
kinders uit die vuur en van die vuurdood red nie. Nogtans lewe hulle in die
vertroue dat die HERE dan red deur die dood heen, dat hulle dan by Vader mag
wees. Daarom verander hulle siening ook nie as Nebukadnesar die vuur nog baie hoër
laat opstook nie. In sy woede laat Nebukadnesar die vuur nog baie, baie warmer
stook.

Ons
mag hier sien wat die geloof in ‘n mens se lewe beteken. Wie in geloof lewe,
wie vanuit sy geloofsbelydenis lewe en in vertroue op die HERE as die enigste
God wil lewe sal van die HERE die krag van die Gees ontvang. 
elke oomblik dat dit nodig is. Wie dink dat hyself genoeg krag het sal
eendag moet erken dat hy nie staande kon bly nie. Wie met vrees en bewe by die
HERE sy krag soek en steeds weer bid: HERE, gee vir my tog U Gees want anders
word ek ontrou aan die Here Christus sal krag ontvang en dinge doen en sê wat
jy nooit van jouself verwag het nie. Dan is dit Christus se Gees wat in jou leef
en jou trou aan die HERE maak. Dan kan selfs die dreiging van die dood jou nie
tot die verloëning van die HERE as die enigste God en Jesus Christus as die
enigste Verlosser bring nie.

Dan
wys Christus dat Hy oorwin. Dat Hy ook elke dwang om om die staat te aanbid
weerstaan deur die krag wat Hy vir die gelowiges gee. Wat Hy vir die burgers van
Sy ewige Koninkryk gee. Hy, Sy ewige Koninkryk oorwin en nie die koninkryk van
die mens nie.

HALLELUJA!

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)