God se volk is in Gos se lig gestel oim sy groot dade te verkondig

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-12-01
Teks: 
I Petrus 2
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - 1 Petrus 2:9b,10

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; Psalm 104: 1,20,21; Lesing
van die wet; Psalm 79: 5,6,9; Skriflesing:   Jesaja 43: 9-21; Hosea 1; Gebed; Kollekte; Psalm 
66: 7,8,9; Teks: 1 Petrus 2: 9b,10; Preek; Psalm 
36: 2,3; Dankgebed; Psalm 9: 7,10; Seën

PREEK

Broers en susters, heilige volk van God

Die vorige keer het ons gesien hoe die HERE
heerlike erename vir Christus se kerk gee. Hoe groot is die voorreg om by Sy
gemeente te behoort. Dit wat ons in vers 9a gelees het, is regtig wat ons in
psalm 87 kan lees en met hierdie Psalm gesing het: “Heerlike dinge word van u
gesê, o stad van Jakob”  (vers
3).

Die heerlike dinge wat die HERE sê, die
heerlike erename wat die HERE vir ons gegee het, wys op die groot voorreg waarin
ons mag lewe.  Dit mag nie so wees
dat dit in ons lewe as gemeente net pragtige name bly wat ons gebruik nie, maar
wat nie die inhoud van ons lewe stempel nie.

Die groot voorreg, die heerlike name wat die
Here vir Sy kerk gee, roep om gelowige aktiwiteit wat deur groot dankbaarheid en
verwondering gedra word. As ons as Christus se gemeente regtig ons voorreg in
hierdie wêreld raaksien,  gaan ons
ook daaraan werk om die doel van ons lewe, van ons kerkwees uit te lewe. Dis
juis die doelwit en die wonder dat jy en ek, dat ons daardie doelwit mag ken wat
in ons teks aandag kry.

Ek verkondig aan julle Christus se evangelie
onder hierdie tema:

GOD SE VOLK  IS IN  GOD SE 
LIG GESTEL OM SY GROOT DADE TE VERKONDIG

1.   
Die verkondiging van God se groot dade

2.   
Die
wonder waardeur ons God se volk geword het.

Die verkondiging van God se groot dade

Ons mag Christus se gemeente wees. 
Die HERE het met en vir ons allerhande dinge gedoen. Hy het ons tot
priesters en tot ‘n volk gemaak wat deur Sy leiding en genade van die wêreld
afgesonder mag wees. Die HERE doen dit nie sonder ‘n doelwit nie. Hy het
daarmee ‘n bedoeling.

Ons is apart van die wêreld geplaas “om
die deugde te verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy
wonderbare lig.”

Die woord wat Petrus hier vir verkondig
gebruik, is ‘n besondere woord. Dis nie die gewone woord wat daarvoor
gebruik word nie. Dit gaan in hierdie woord om die bekendmaking van God se groot
dade, die HERE se deugde op ‘n bepaalde
manier. Ons is nie Christus se kerk om mense net inligting te gee nie. Dis
nie genoeg om ‘n bord voor die kerkgebou te plaas en daarop bekend te maak wat
die kerktye is nie. Dis regtig nie so dat ons kan sê: Elke Sondag staan die
kerkdeure oop en daarom is evangelisasie nie nodig nie.

Die woord wat Petrus hier vir verkondig
gebruik, wys op ‘n bekendmaking van die HERE se groot werke wat met die
verheerliking van God gepaard gaan. Hierdie woord verkondig wys dan ook nie net
op dit wat ons buite die gemeente moet doen nie. Hierdie woord word in die
Griekse vertaling van die Ou Testament ook gebruik 
vir die lofprysing van God onder God se volk. ‘n Voorbeeld daarvan is
Psalm 9: 14,15: “Wees my genadig, HERE, aanskou my ellende vanweë my haters,
U wat my verhef uit die poorte van die dood; sodat ek al u roemryke dade kan
vertel, in die poorte van die dogter van Sion kan juig oor u heil.” (Sien ook
Ps 73:28; 79:13; 107: 2.)

Wat is nou die groot doelwit 
waarvoor ons as Christus se kerk op aarde bestaan? Die doel wat die HERE
met Christus se kerk het, verskil nie van die doelwit waarmee Hy elke mens
persoonlik gemaak het nie.

Die HERE sorg ook daarvoor dat 
Sy volk, dat elke kind van Hom met oortuiging kan doen wat Hy vir hulle
as taak gegee het. Die opdrag is: Die lof
op Hom, dat ons hele lewe op Sy lof gerig is. 
Daarop
wys die HERE ook in Jesaja 43. Ons het daarvan ‘n gedeelte gelees. Die woorde
van ons teks herinner ook duidelik aan Jes 43: 21 waar ons lees: “Die volk wat
Ek vir My geformeer het, hulle sal My lof verkondig.”

Die HERE sê dit in sekere omstandighede.
Jesaja profeteer hier van God se volk wat in ballingskap gaan. Hulle sondes was
so groot dat Jesaja vir hulle moes sê dat 
hulle nie in hulle eie land kan bly nie, maar dat 
Babel hulle sal oorwin en weglei. Jesaja lewe nog in die tyd voor die
ballingskap. Nogtans laat die HERE hom ook profeteer wat in die balllingskap sal
gebeur,  dis net asof Jesaja saam
met die volk in Babel is. As die volk na Babel gaan, kan hulle die boek Jesaja
saam neem. Dan lees hulle dat die HERE hulle in die ballingskap bemoedig en
ondanks hulle sondes vir hulle ‘n toekoms wys. Dat die HERE vir die volk dan
al wys dat Hy sal bewys dat Hy magtiger as die koning van Babel is.

Eers wys Hy op dit wat Hy vroeër gedoen het.
Kyk maar in vers 16,17: “So sê die HERE wat in die see ‘n weg en in die
sterk waters ‘n pad gemaak het, wat waens en perde, leërmag en held laat
uittrek het; tesame lê hulle, hulle sal nie opstaan nie; hulle is uitgeblus,
soos ‘n lamppit uitgedoof.” Die HERE herinner die volk wat in ballingskap
sal gaan,  wat daarheen op pad is,
wat in die ballingskap sug, aan dit wat Hy gedoen het toe Israel in Egipte as
slawevolk verdruk was. Die HERE het hulle uitgelei, Hy het die magtige leër van
die Farao vir altyd die dood in die Skelfsee laat vind. Nie die wêreldmagte
regeer die wêreld nie maar die HERE. Hoe magtig is Sy dade. God se dade in die
uittog uit Egipte was groot, maar die HERE sal die ballinge nog groter dade wys.
Hy sal vir hulle ‘n pad deur die wildernis baan, terug na die beloofde land.
Selfs die wilde diere sal dan God eer. Dit beteken dat die volk wat dan
terugkeer nie deur hulle aangeval sal word nie. Die HERE sal hulle ook as hulle
deur woestyne trek, alles gee wat vir hulle nodig is. Die HERE laat dan die hele
skepping op die verlossing van Sy volk gerig wees. “Ek gee waters in die
woestyn, riviere in die wildernis om my
volk, my uitverkorene te laat drink” (vers 20).

Die  HERE
sorg daarvoor dat Sy volk alle rede het om in groot dankbaarheid en oortuiging
Hom te loof. Hy sorg daarvoor dat dit sal gebeur wat ons in vers 21 gelees het:
“Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal My lof verkondig.”

Dis die groot doel waartoe Hy Sy volk
geformeer het, die groot doel waartoe Christus Sy kerk vergader. Dis die groot
doel van jou en my menswees en die groot doel van ons kerkwees. Dis die doel
waarvoor die HERE ons tot Sy eiendom gemaak het.

Die HERE roep ons tot die verkondiging van Sy
groot dade. Hoe en wanneer doen ons dit?  Ons
het al gesien dat Petrus hier ‘n besondere woord vir verkondig gebruik.
Hierdie woord beklemtoon dat verkondiging ook verheerliking van God is. Die lof
op die HERE moet in hierdie verkondiging gehoor en gevoel kan word. Dit gaan nie
daarom dat ons vir mekaar en vir ander mense net feite vertel nie. Die feite is
belangrik maar moet in die kader van diepe dankbaarheid teenoor God en 
die lof op Hom staan. Dis ‘n element, broers en susters, wat vir ons
baie belangrik is. Dis ‘n ding waarin ons regtig 
opbou van die gemeente nodig het. Dis ‘n swak punt in ons gemeente-wees.
Baie van ons is geneig om die HERE  in
ons gewone gesprekke nie te noem nie. Ons kan gemaklik oor die HERE, oor wat in
die Bybel staan in die algemeen te praat; maar om so te praat dat ons daarin
laat hoor dat ons die HERE dankbaar is, dat ons op die HERE vertrou, is nie ons
sterkste kant nie.

Ek weet dat sekere mense dit op ‘n ongesonde
manier doen, ek weet dat sekere mense dit doen om self as vroom mense op te val.
Nogtans is dit vir ons nie ‘n verskoning nie. Dis nie ‘n verskoning om te sê
ons is dit nie gewoond om so te praat nie, ons weet van mekaar dat dit so in ons
harte lewe. Die Heilige Gees wys in ons teks aan wat die doel van ons kerkwees
is. Dit is ook die doel waarmee jy en ek as mense deur die HERE geskep is. Ons
bely dit ook in vraag en antwoord 6 van die Heidelbergse Kategismus dat die HERE
die mens goed en na sy ewebeeld geskep het "om  Hom te loof en te prys.”

Ons gesprekke moet vol van die HERE en die lof
op Sy naam wees. Dit sou vir ons die gewoonste ding ter wêreld moet wees om vir
mekaar en ander mense te sê: Dis die HERE wat in hierdie moeilike situasie vir
my sorg,  ek sal vir jou tot die
HERE bid dat Hy jou help, ek sien in my lewe hoe die HERE my lewe lei, ek is nie
regtig bang nie omdat ek weet dat Christus my beskerm. Die doel van ons lewe is
om God se lof te verkondig, om Hom teenoor die mense rondom ons aan te prys. Dan
moet in ons woorde ook duidelik wees dat  Hy ons lewe beheers. Dan is dit nie snaaks as ons ook by die
gewone dinge van die lewe Christus se naam met oortuiging en dankbaarheid noem
nie.

Die verkondiging van God se groot dade, van Sy
deugde moet in ons lewens gestalte kry teenoor mekaar en teenoor die mense met
wie ons te doen kry.  So moet ons
mekaar as gemeenskap van die heiliges bemoedig en opbou, 
so moet ons ook  van die HERE en Sy werk na buite toe getuig. Dis die doel van
ons lewe, dis die doel van ons kerkwees. Ons kan en sal dit met oortuiging doen
as ons regtig die wonder raaksien waardeur ons God se volk geword het. Ons let
daarop in die tweede plek.

Die wonder
waardeur ons God se volk geword het.

Ons lees in ons teks van God se deugde.
Hierdie woord het betrekking op die dade waarin ons Sy grootheid, Sy
Goddelikheid so duidelik kan sien. Dis die groot dade wat die apostels op die
Pinksterdag aan die mense in Jerusalem verkondig het (Hand 2:11).               
       

Die deugde van die HERE sien ‘n mens op ‘n
heerlike manier as ons daarop let wat Hy met mense doen. Wat Hy doen met mense
wat Christus as die Lig van die wêreld leer ken en volg het.

Wat Hy doen met hierdie mense as Hy hulle saam
in Sy kerk bring, as hulle as Sy volk begin funksioneer. Wat het die HERE met
ons gedoen? Wat het Hy met jou gedoen?

Hy het ons uit die duisternis geroep tot sy wonderbare lig! Ons moet bedink dat
elkeen van ons die lig nie vanuit homself ken nie. Jou en my hart is van nature
duister. Dis donker in jou lewe as jy gebore word. Dit geld ook vir ons en ons
kinders, broers en susters. Gelowiges ontvang by die geboorte van hulle kinders
nie gelowige kinders nie. Jy en ek ontvang kinders wat 
midde in die dood lê en ‘n ander mens moet word. Wat is nou die
wonderlike genade in jou lewe en ook in die lewe van ons kinders? Seuns en
dogters, wat is God se  groot liefde 
in julle lewe? Dat Hy ons uit die duisternis roep. Dat Hy steeds weer
vanuit die Bybel vir ons wys wat duisternis, sondes, verslawing aan die sonde en
wat lig, die egte goeie lewe volgens Sy wil is. Mense, dis genade dat julle dit
steeds weer mag hoor. Dat julle daarin God se stem van liefde wat op die deur
van julle lewe klop, mag hoor. Want  jy
en ek, niemand van ons sou selfs maar een oomblik kan weet wat die lig, wat die
goeie lewe is as die HERE dit nie vir ons wys nie.

Na die sondeval is elke mens deur sy eie skuld
in die duisternis ondergedompel en dink hy dat dit die goeie is. Daar is net een
manier waardeur ons daaruit bevry kan word, waardeur jy die lig en die pad na
Christus as die Lig van die wêreld sien en kan bewandel. Hierdie pad wys die
HERE ons in Psalm 36:10: “Want by U is die fontein van die lewe; in U Lig sien
ons die lig.”

Dit is ‘n onverdiende genade as die HERE vir
jou die lig wys. Hierdie lig is wonderbaar. Hierdie lig wys vir jou die wonder
dat die HERE jou tot die Lig roep. Dat Hy jou in liefde opsoek en roep en jou
uit die ewige ellende en duisternis wil red. Dis God se liefde dat jy nou die
Woord mag hoor wat vir jou die lig, die redding, die ewige lewe wys! Die
verkondiging van God se groot dade laat die lig in ‘n duistere wêreld skyn.
Dis die heerlike doel van die verkondiging van die evangelie. As Paulus deur
Christus uit die duisternis van die haat teen Christus, in die lig van Christus
gesit is, gee die Here Jesus vanuit die hemel vir hom die opdrag om die
evangelie aan die heidene te verkondig met die volgende doel: “om
hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer
en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My
vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang” (Hand
26:18).

Hoe bevoorreg is ons dat die heerlike lig
waardeur ons ons duisternis sien en daardeur ons kan en mag bekeer, elke keer
weer mag hoor. Wie Christus as die Lig van die wêreld leer ken het, kan nie van
Hom swyg nie. Kan die lig in die wêreld nie meer wegsteek nie maar straal dit
uit. Die HERE roep ons nie net persoonlik nie. Hy het die evangelie na alle
volke laat uitgaan om Sy volk ook buite Israel te vergader. Ons lees dit
duidelik in vers 10.

Dit wat Petrus daar skryf, laat ons terugdink
aan dit wat die HERE in Hosea 1 en 2 vir Sy volk gesê het. Hosea profeteer in
die tyd dat sowel Israel en Juda al hoe meer van die HERE afval. God se volk wat
erename ontvang het, lewe nie volgens hierdie voorreg nie. Die lewe van Israel
en Juda is nie ‘n lewe wat die HERE se lof verkondig nie. Dit word so erg dat
die HERE Sy volk verstoot, dat Hy hulle al hulle erename ontneem. Hosea moet 
met ‘n hoer trou. Dat sy vrou ‘n hoer is, wys op die hoerery van God
se volk, op hulle geestelike hoerery.  

Hosea verwek by haar kinders en hierdie
kinders ontvang simboliese name. Die HERE gee vir Hosea die opdrag om sy tweede
kind Lo-Rugama te noem. Die rede daarvoor lees ons in vers 6: “Noem haar Lo-Rugama,
want Ek sal my verder nie meer oor die huis van Israel ontferm deur hulle
vergifnis te skenk nie.”  By die
volgende kind wat gebore word sê die HERE: “Noem  hom Lo-Ammi, want julle is nie my volk nie, en Ek sal nie
julle s’n wees nie” (vers 10).

As ‘n mens na Israel en Juda kyk, bestaan
geen enkele hoop nie. Hulle is alles kwyt. Hulle is die HERE as hulle God kwyt.
Hulle sal uit hulleself ook nie na die HERE kan terugkeer nie. Hulle is niks
beter as die volke wat sonder God lewe nie. Dan skielik gebeur die wonder. Die
wonder van die HERE se liefde, genade en ontferming. Israel en Juda is nie meer
God se volk nie. Dan kom die HERE met Sy onverklaarbare liefde tog weer na hulle
toe. Dan lees ons dat deur die wonder van Sy liefde die tyd weer kom dat gesê
kan word: “Sê aan julle broers: Ammi, en aan julle susters: Rugama.” (vers
12) en in die laaste vers van Hosea 2: “En Ek sal haar vir My saai in die land
en My oor Lo-Rugama ontferm, en aan Lo-Ammi sê: Jy is my volk; en hy sal sê:
My God.”

Die HERE se ontferming is die enige grond
waardeur Israel God se volk mag en kan wees. Paulus betrek dit later op ons wat
uit die heidene kom. Ons was nie God se volk nie, maar deur die HERE se liefde
roep Hy vandag ook ons (Rom 9:24-26).

Dieselfde doen Petrus in ons teks. Ons mag God
se volk wees,  die HERE sit ons in
Sy lig alleen deur Sy liefde. Dis niks anders as God se liefde dat jy die
evangelie mag hoor, dat jy lidmaat van Christus se kerk mag wees nie.

Dis Gods ontferming. Hoe groot is die HERE!
Ons kan net roem in Sy onverdiende, heerlike liefde.  Volk van God, lofsing tog Sy groot naam in woorde en dade,
sonder enige skaamte!

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)