Sagaria profeteer oor die besoek van die Here aan sy volk.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-11-28
Teks: 
Lukas 1
Preek Inhoud: 

Lukas 1:67-75

Ds C Kleyn - Sondag 28
November 1999

Lees: Lukas 1:57-80.
Sing: Ps 42;1,5; Ps 25;1,2; Ps
132:7,11; SB 2;1-3; Ps 72;10; 11 (na kollekte).

Thema: Sagaria
profeteer oor die besoek van die Here aan sy volk.

  1. op watter manier die Here sy volk besoek;
  2. om watter rede;
  3. met watter doel.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Nege maande se swye word skielik vir Sagaria
verbreek. Skaars het hy die naam van sy seun Johannes op ’n
skryfbordjie opgeskryf of hy begin weer te praat. Die swygende
priester word opeens ’n digter en profeet. Die Heilige Gees
gryp hom aan en laat hom profeteer van die verlossing wat God vir
sy volk teweeggebring het.

Sagaria se lofsang is pragtig gekomponeer.
Allerlei tekste uit die Ou Testament is daarin verwerk, van Moses
tot en met die profete. Sagaria is duidelik deurdrenk van die
woorde van God. Hy pas die woorde toe op die konkrete situasie.
So sing hy van God se verlossingsdade volgens die Skrifte.

Dit is opvallend dat Sagaria sing van die
verlossing in die verlede tyd: "Geloofd sy die Here, die God
van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing
teweeggebring het, en ’n horing van heil vir ons opgerig het
in die huis van Dawid, sy kneg." Staande by die wieg van sy
seuntjie Joh sien Sagaria die messiaanse heil reeds as volle
werklikheid. Die klein begin, die geboorte van Joh die heraut, is
vir hom ’n waarborg van die voltooiing van God se werk.
Daarom kan hy van die toekomstige heil sing asof dit reeds
aanwesig is. So seker mag die gelowige wees van God se heilswerk.

Ek verkondig u: Sagaria profeteer oor die
besoek van die Here aan sy volk

  1. op watter manier die Here sy volk besoek
  2. om watter rede
  3. met watter doel

Ons hoor onmiddelik in watter hoedanigheid God
geloof moet word. "Geloofd sy die Here, die God van Israel."
God se verbondsnaam word genoem. God moet as die Verbondsgod
geloof word. Juis in die verbondsverhouding skitter God se
heerlikheid en trou. God is nie slegs ’n Skepper wat ver van
die mense af staan nie. Nee, God die Skepper is ons Verbondsgod
wat Hom aan ons verbind het. Indien ek Hom nie as Verbondsgod ken
nie, sal ek ook nie sy heerlikheid in die skepping en
onderhouding van alle dinge raaksien nie. So is daar baie mense
wat die skepping wel as iets groots sien, maar daarin nie die eer
aan God gee nie. Hulle ken die Skepper nie as die Verbondsgod nie.
Prysenswaardig is die Here, die God wat Hom aan ons, sy volk,
verbind het.

Die Here het sy volk besoek. Wanneer die Here
ons besoek is dit geen kille en afstandelike inspeksie besoek nie.
Dit is ’n omsien na ons in ontferming. Petrus gebruik ook
presies dieselfde woord wanneer hy skryf: "Reine en
onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dit: om wese en
weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te
bewaar van die wêreld." (Jak 1:27). Ware godsdiens blyk uit
die besoek aan wese en weduwees. Dis ’n liefdevol omsien na
hulle om hul te help. God sien na ons om in liefde.

Op watter manier besoek God dan sy volk? Dit
word verklaar deur die woorde wat volg: "omdat Hy sy volk
besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het, en ’n
horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy
kneg." In sy ouergeluk begin Sagaria se lofsang nie met dit
wat in sy eie huis gebeur het nie. Sy persoonlike geluk word
oortref deur ’n baie groter geluk, naamlik, dit wat in die
huis van Dawid besig is om te gebeur. Die toekoms van Israel en
so ook ons toekoms is verbonde aan die huis van Dawid. Deur die
huis moes ons, volgens die belofte, die verlossing verwag.

Maar wat het oorgebly van Dawid se koningshuis
in Sagaria se tyd? Met die ballingskap het die luister van Dawid
se huis verdwyn. Nie een van sy seuns het na die ballingskap op
die troon gesit nie. Dawid se huis het verval tot sy onbeduidende
begin, toe Dawid as seun van Isai agter die skape weggeroep is.
Terwyl Sagaria sy lied sing heers die Edomiet Herodes in
Jerusalem. Josef die troonopvolger van Dawid, moet hom onderwerp
aan die Romeinse keiser. Hy woon in ’n afgeleë stadjie en
moet as timmerman sy kos verdien. Dawid se huis het as ‘t
ware tot niet gegaan. Al wat oor is is die stomp van Isai.

Verlig deur die Gees sing Sagaria van ’n
horing van heil wat God nou opgerig het in die magtelose huis van
Dawid. Die horing van ’n dier is ’n simbool van krag.
Die huis van Dawid, en so ook God se koninkryk, kry ’n
ongekende stootkrag. ’n Kragtige held gaan gebore word. Hy
sal die heil aanbring. Hy word immers ’n horing van heil
genoem. Die huis van Dawid het op 'n einde gekom, niemand kon
daar nog iets van verwag nie. Maar nou gryp God in tot ons
redding. Hy rig vir ons ’n horing van heil op in die huis
van Dawid.

Aan die einde van sy lied sing Sagaria opnuut
van die seun uit die huis van Dawid. Hy weet dat die seun oor
enkele maande gebore sal word. Maria die moeder van Jesus het hom
immers besoek en ingelig. Sagaria sing oor hom in vers 78 wanneer
hy praat oor die opgaande lig wat uit die hoogte ons besoek. Let
daarop dat hier opnuut sprake is van ’n besoek. In vers 68
lees ons dat die Here sy volk besoek het.. In vers 78 lees ons
dat die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het. Die Here
besoek ons in Jesus Christus, die opgaande Lig uit die hoogte.
Daarom is sy naam Immanuel, God met ons. Die Seun van God het in
die vlees verskyn. Hy het onder ons gewoon en ons het sy
heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die
Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en
waarheid (Joh 1:14).

Gemeente, die vraag kan gestel word: wat het
God beweeg om ons in sy Seun te besoek? Wat motiveer Hom om tot
ons redding in te gryp? Dit wil ons sien in die tweede punt: om
watter rede die Here sy volk besoek.

Het die Here sy volk besoek omdat hulle Hom so
trou gesoek het? Of omdat hulle so gehoorsaam aan die Here was?
Of omdat hulle met vurige verlange na Hom uitgesien het? Hoeveel
mense het gereed gestaan om Hom te begroet by sy koms? Hoeveel
mense het in al die gebooie van God onberispelik gewandel? Nie
baie nie. Hoe dikwels het die Here nie sy teleurstelling oor sy
volk uitgespreek nie. Ons het voortdurend die verbond oortree.
Ons was vinnig om te doen wat verkeerd was in die oë van die
Here. Trou aan ons kant, vergeet maar daarvan. Vanweë hulle
ontrou moes God ons kerklike voorgeslag in ballingskap wegstuur.
En wanneer God sy beloftes gaan waarmaak, deur ons te besoek in
Jesus Chritus, hoeveel kerklede staan gereed om hom te begroet?
Indien God sou handel volgens ons trou was daar vir ons geen
toekoms nie.

Wat het God dan wel gemotiveer om tot ons
redding in te gryp? Sy verkiesende liefde. Sagaria sing van God
se innige barmhartigheid (vers 78). God se hart gaan oop vir
’n volk verlore in skuld. Hy is met ons lot begaan, ook al
is dit deur ons eie toedoen. God kan dit nie duld dat ons in
duisternis en in ’n dal van doodskaduwee verkeer nie. Ons
mense verloor gou ons simpatie vir hulle wat geen wederliefde
bewys nie. Ons het meestal geen simpatie vir hulle wat hul teen
ons keer nie. So is God egter nie. Hy het sy liefde vir ons
daarin bewys dat Chritus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars
was. Let daarop, dit is wat God gedoen het toe ons nog sy vyande
was – teen Hom gekeer. Ons het Hom nie gesoek of begeer nie.
Hy het ons besoek. Uit genade. So is God!

Die motief van God se ingryping lê dus nie in
ons nie, maar in God self, in sy trou aan Homself. Van ouds af
het Hy Hom daartoe verplig. Reeds in die paradys het Hy sy
reddingsaksie aangekondig. Daarna het Hy dit deur die aardsvaders
en profete laat verkondig. Die profete het gespreek van redding
wat Hy vir sy volk sou berei. Wanneer Sagaria let op sy gebore
seun en op die nog ongebore seun van Maria sing hy van die
vervulling van die heilsbeloftes. Die Here het ’n horing van
heil vir ons opgerig in die huis van Dawid "soos Hy gespreek
het deur die mond van sy heilige profete van ouds af."

"Om barmhartigheid te bewys aan ons vaders
en aan sy heilige verbond te dink, aan die eed wat Hy gesweer het
aan Abraham, ons vader." Sagaria bemerk dat sy eie naam en
dié van sy vrou in vervulling gaan. Sagaria beteken immers: die
Here gedenk. En Elisabet beteken: my God is die God van die eed.
Die kombinasie van die twee name weerspieël die boodskap: die
Here dink aan sy verbond wat Hy met ’n eed bekragtig het.

Gemeente, Gen 22 vertel ons van die eed van die
Here. Nadat Abraham getoon het dat hy bereid was om sy seun Isak
op te offer sê die Here aan hom: "Ek sweer by Myself,
spreek die Here, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste,
nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou
nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel
en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal
die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al
die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem
geluister het." (Gen 22:16-18).

Waarom hierdie eed van God? Dit was nie nodig
vir God nie. God kan immers nie lieg nie. Sy beloftes is seker.
Ook die beloftes wat Hy aan jou en my gegee het. Jy kan daarop
staat maak. God is God, die waarheid in eie Persoon. Tog sweer
God by Homself. Tog bevestig en verseël Hy sy beloftes. Waarom?
Vanweë ons onverstand en ons swakheid. Nou staan dit
onomstootlik vas. Sekerder kan dit nie wees nie. Die eed is die
einde van alle teenspraak. Hier is geen plek vir twyfel of
ongeloof nie. Dit is waar en seker. Geheel vrywillig bind God
Homself om die beloftes te vervul.

Sedert Gen 22 wag alles daarop. En God hou sy
woord. Hoe kan dit ook anders. Indien Hy die belofte aan Abraham
nie sou vervul nie, sou Hy nie meer God wees nie. Dit het Hy
immers gesê toe Hy by Homself gesweer het. God is en bly God,
die HERE met hoofletters, Jahwe, Ek is wat Ek is, Ek sal wys dat
Ek is wat Ek is. Sagaria sien dit en sing daarvan. Die Here het
woord gehou. Trou vervul Hy die belofte wat Hy met die eed
bekragtig het, ondanks die ontrou van sy volk. Ja, so is onse God,
geliefdes. Hy hou altyd woord. Vertrou op sy beloftes, ook al het
jy miskien ’n gemors van jou lewe gemaak. Gaan terug na Hom
toe en na sy beloftes. Pleit op die beloftes in geloof en
bekering. Wat Hy gesê het, sal Hy doen, ook vir jou.

Sagaria laat vervolgens sien met watter doel
God sy volk besoek het. Die derde punt. Op die eerste gesig lyk
dit asof God kom om te verlos van aardse en politieke vyande.
Sagaria sing oor die horing van heil wat God opgerig het in die
huis van Dawid. Die horing simboliseer stootkrag. In vers 71
vervolg Sagaria: "redding van ons vyande en uit die hand van
almal wat vir ons haat." In vers 74 word die gedagte herhaal:
dat ons verlos uit die hand van ons vyande…"

Wat is God se doel met sy reddingswerk in
Christus? Is dit die bevryding van aardse vyande? Nie enkel dit
nie, ook nie dit as eerste nie. Mbt God se heil ken die Skrif
geen teenstrydigheid tusse aardse en hemelse heil nie, tussen
politieke en geestelike verlossing, tussen bevryding en vergewing
nie. Let maar op die woord "verlossing" in vers 68. Die
woord beteken letterlik loskoping, verlossing waarvoor ’n
losprys betaal moet word, soos dit gebeur het met slawe of
gevangenes wat vir ’n bedrag soms losgekoop kon word. Wel,
van nature is ons almal as ‘t ware gevangenes, mense
opgesluit in ’n donkere sel. Ook al lyk dit miskien anders,
alle mense is van nature gevangenes wat wag op die ewige
doodstraf.

Wat is dus die belangrikste onderdeel van ons
verlossing? Dat ons bevry word van die doodstraf. Die eerste taak
van die horing van heil is nie om alle vyande te vernietig nie.
Christus het in die eerste plek gekom om die oorsaak van alle
donkerheid en dood, naamlik die sonde weg te neem. Hy het dit
gedoen deur die losprys vir die sonde te betaal. Daarom sing
Sagaria in vers 77 van die saligheid wat bestaan in die vergifnis
van ons sondes.

Die horing van heil moes hom eers gee as ’n
losprys om ons te bevry van die slawerny van die dood. En wat is
die doel van die vrylating uit die gevangenis? "Om ons voete
na die pad van vrede te rig" lees ons in vers 79. God bevry
ons sodat ons Hom in heiligheid en geregtigheid kan dien al die
dae van ons lewe (vers 75). Die uiteindelike doel is om God te
dien. Ondergeskik aan dit is die verlossing uit die hand van ons
vyande. In vers 74 word dit dan ook in ’n ondergeskikte sin
genoem. Die verlossing van vyande is geen doel op homself nie.
Dit staan in diens van die groot doel wat God voor oë het,
naamlik dat ons Hom sal dien in heiligheid en geregtigheid..

Dit was duidelik by die bevryding uit Egipte.
Farao moes die volk laat gaan. Waarom? Sodat hulle die Here sou
dien. God het die volke en stede van Kanaan in Israel se hande
gegee. Waarom? Sodat die nageslag van Abraham Hom sou kon dien
sonder vrees in die beloofde land.

Tog sien ons dat die belofte nie volkome vervul
is in die beloofde land nie. Hoe dikwels is God se volk nie gepla
en verdruk deur vyande nie. In sy toorn het God die vyande laat
kom. Wanneer Sagaria sy lied sing is die beloofde land weereens
beset deur die vyand. Hoe kan hy dan sing: "dat ons, verlos
uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien"? Die
vyande triomfeer. Verlos uit die hand van ons vyande? Sonder
vrees God dien? Die feite weerspreek dit tog? Is dit so? Sommige
feite. Daar is egter ’n feit, ’n werklikheid, wat al
die ander feite oortref. Daar lê ’n seuntjie in die wieg.
Johannes is sy naam, die Here is genadig. Hy sal die weg van die
Verlosser berei. En die verlosser sal werklik alle vyande
vernietig. Hy sal die kop van die slang vermorsel.

By die begin sien Sagaria reeds die voltooiing
daarvan. Kersfees, Pinksterfees en die wederkoms van Christus
word as een geheel gesien. Daar kom ’n verloste volk, en
koninklike priesterdom. Hulle sal die Here sonder vrees dien. God
hou die vyand in bedwang. Dit bly moontlik om die Here te dien al
die dae van ons lewe.

Dit beteken wel dat ons Hom, voor sy aangesig,
moet dien. Ja, ons staan almal voor Hom. Waar ons ook is. Of ek
nou in die gesin is, by die skool, by die werk of op vakansie.
Oral staan ek voor Hom. In sy diens. Dit is tog die doel van my
skepping en my verlossing. Ek is gered om te dien. So skryf
Paulus in Rom 12:1 "Ek vermaan julle dan, broeders, by die
ontferming van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende,
heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle
redelike godsdiens." God vra nie slegs ’n deel van jou
besit of tyd nie. Nee, gee jouself aan die Here, met al jou
moontlikhede. Besef dat jy orals in diens van die Here is. Lewe
en werk vir die Here. Hy het u gered sodat u Hom sou dien in
heiligheid en geregtigheid, met hart en hande, al die dae van u
lewe.

Dis geen eenvoudige saak nie. Vrylating uit die
gevangenis beteken dat die uniforms aangetrek moet word. Die lewe
bly ’n slagveld. Sonder vrees die Here dien, wat sien ek
daarvan in hierdie lewe? Satan gaan nog steeds rond soos ’n
brullende leeu op soek na prooi. En hy weet dat sy tyd kort is.
In beginsel is hy reeds ’n verloorder. Tog kan vrees my
maklik beet kry. Ek raak maklik onder die indruk van die krag en
invloed van die vyande. Daarom durf ek nie om radikaal nee teen
die sonde te sê nie. Ek is bang vir spot en vyandskap. Die vyand
vind in my hart nog te dikwels ’n bondgenoot. Die styd gaan
dus voort. Die uniforms moet aangetrek word. "Trek die volle
wapenrusting van God aan" (Ef 6:11).

Onthou egter by dit alles dat Christus julle op
die pad van vrede geplaas het. Op die pad wat na die volmaakte
vrede lei. Daarop word die vrede gestig en verkry. Die groot
oorwinning is aanstaande. Die nuwe Jerusalem daal uit die hemel
neer. Daarin sal geen tempel wees nie, want alles het tempel
geword. En die groot menigte uit alle volke en tale neem hulle
erfenis in besit. Hulle neem die poorte van hul vyande in besit,
vir altyd. Die menigte staan voor die troon en voor die Lam.
Hulle het gekom uit die groot verdrukking. Hul vyande het dit vir
hulle moeilik gemaak. Maar hulle het volhard in hul liefde vir en
in hul diens aan die Here. Voor die troon van God sal hulle Hom
dien dag en nag in volkome heiligheid en geregtigheid. God het sy
volk verlos. Volkome en vir ewig.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)