Die lewe van christene word gekenmerk deur diensbetoon.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-11-21
Teks: 
I Petrus 4
Preek Inhoud: 

1 Petrus 4:10,11

Ds C Kleyn - Sondag 21
November 1999

Lees: Markus 10:35-45; 1
Petrus 4:7-11.
Sing: Ps 106:1,2; Ps 76:4,6; Ps
100:2,4 (na doop van Cathalina Christina Agema & Carisse
Luijk); Ps 36:2; SB 28:1,2; Ps 134:4 (na bevestiging van broeders
Kamphuis, Roose en Van den Berg); Ps 135:1,2 (na kollekte).

Thema: Die lewe van
christene word gekenmerk deur diensbetoon.

  1. Die omvang van die diensbetoon.
  2. Die manier van die diensbetoon.
  3. Die doel van die diensbetoon.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Netnou het ons twee babas gedoop. Die Here het
die ouers waardig gekeur om Hom te dien in hul gesin. Hulle mag
hierdie kinders namens Hom versorg en opvoed. Met hul jawoord het
die ouers hulself ook daartoe verplig. Netnou hoop ons drie
ampsdraers te bevestig. Die broeders word geroep om te dien in
Christus se kerk.

Dis opvallend dat ons teks die diens in die
gemeente in die lig van Christus se koms plaas. Ons lewe in die
laaste dae, in die lewendige verwagting van Christus se wederkoms.
Net voor die teks skryf Petrus: "Die einde van alle dinge is
naby." Christus kom gou. Vergeet nooit dat jy op pad is na
die groot dag, die voltooiing van God se koninkryk nie. Dit moet
jou daaglikse lewe stempel Christus is komende. Die groot
offensief van die evangelie moet voltooi word sodat alles vir die
fees klaar is.

Daarom: "wees ingetoë en nugter, om te
kan bid." Laat jou nie verwar of ontstel deur wat jy sien en
belewe nie. Ken jou tyd. Besef dat Satan nog rond loop op soek na
prooi. Hy weet dat sy tyd kort is. Gee die moed en die stryd nie
op nie. Laat jou gebede nie verhinder word deur gebrek aan geloof
of deur wêreldsgesindheid. Sonder gebed sal jy nooit die doel
bereik nie. Deur gebed ontvang jy immers die genade en krag om te
kan volhard.

"Maar bo alles moet julle mekaar vurig
liefhê, want die liefde sal ’n menigte sondes bedek."
(vers 8). Julle het mekaar baie nodig op pad na die dag.
Ondersteun mekaar in die stryd teen die sonde. Vergewe mekaar.
Die besef van Christus se naderende koms plaas druk op ons om die
evangelie uit te lewe en om mekaar vas te hou. Dit kom ook uit in
ons teks. As jy weet dat jy op pad is na die groot dag van
Christus se wederkoms dan gaan jy nie agteroor sit met
verwaarlosing van jou gawes en geleenthede nie. Christus het haas
en sit ook jou aan die werk. Daarom het Hy sy gawes gegee. Daarom
het Hy ook ouers en ampte gegee. Alles moet daartoe dien dat God
se kinders God kan verheerlik.

Ek verkondig aan u: Die lewe van christene word
gekenmerk deur diensbetoon.

  1. Die omvang van die diensbetoon.
  2. Die manier van die diensbetoon.
  3. Die doel van die diensbetoon.

"Namate elkeen ’n genadegawe ontvang
het, moet julle mekaar daarmee dien." ’n Christelik
lewe is ’n lewe van diens. Om te dien wil sê: ek is
beskikbaar vir die ander, ek is bereid om af te sien van eie
belange ter wille van die welsyn van die ander. Die Here Jesus
het gekom om te dien. Wil ek dien dan moet ek op Hom let. In Mk
10:45 omskryf Christus sy lewe en dood as "diens".
"Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te
word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys
vir baie." Jesus Christus het Hom nie geskaam om die mees
vernederende pad te volg wat lei na die bittere dood aan die
kruis nie. Hy het Hom nie afsydig van die mense gehou nie. Hy het
onder die mense gewoon en gewerk. Hy het hulle moeites en sorge
gesien en dit op Homself geneem.

Op hierdie wyse het Hy die waarde stelsel van
die wêreld omgekeer. In die wêreld gebruik mense hul eie mag en
posisie om oor ander te heers. Maar Christus toon die styl van
God se koninkryk. Meer as enige ander mens kon Hy aanspraak maak
op gesag oor ander. Tog het Hy die werk van ’n slaaf gedoen.
Hy het Homself opgeoffer vir ander. Hy het slegs belang gestel in
die saligheid van ander.

Hierdie diens van Christus is die oorsprong en
basis vir alle Christelike diens. Christus se diens op aarde gaan
na sy hemelvaart voort. Hy oefen dit egter uit dmv sy volgelinge.
Deur te dien moet ons ons Here navolg en verteenwoordig. Ons
diens aan ander wys of ons inderdaad in die lig van Christus se
wederkoms lewe of nie.

In die kerk staan niemand op homself nie. As
iemand daarvolgens lewe, dan begryp hy nie die grondbeginsels van
die kerk nie. Met wat julle is en het, is julle aan mekaar
verbind. Julle dien tog dieselfde Here Jesus of nie? Julle lewe
tog almal uit genade? Daarom is julle aan Jesus Christus verbonde
en in Hom ook aan mekaar as liggaam van Christus. Wanneer ’n
mens dit verstaan dan sal Hy dit wel nalaat om slegs aan homself
te dink.

Om mekaar te dien beteken om vir ander
beskikbaar te wees, om bereid te wees om ander te help en te
ondersteun, om myself in te span vir die welsyn van ander.
Wanneer ek die lewende verwagting van Christus ken dan sal ek die
nuwe manier van lewe wil toon. Dis hoe Christus geleef het. Dis
hoe Hy wil hê dat ek lewe. Daarvoor het Hy my verlos. Slegs deur
Hom kan ek so lewe. Deur God se genade moet diensbetoon die plek
inneem van ’n wêreldse lewenstyl waarby ekself die
belangrikste is, my vrye tyd, my plesier, my wense en gevoelens.
Dien mekaar. Wag nie totdat ander eers in aksie kom nie. Begin
self deur ander te dien.

Gemeente, hierdie roeping geld vir elkeen van u:
Namate elkeen ’n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar
daarmee dien. Dit word gesê tot mense wat van nature selfsugtig
is en liefs domineer en gedien wil word. Dien mekaar. Hierdie
bevel maak des te meer sin omdat ons mekaar nodig het. Mense het
verskillende gawes ontvang. Daar is ’n groot diversiteit.
Die kerk is ’n veelkleurige gemeenskap. As elkeen presies
dieselfde was, dan was dit maar ’n armsalige vertoning. Maar
by God is daar veelvuldige genade. Daarom is daar allerlei soorte
gawes. Hy gee elkeen die gawe wat by die persoon pas. Juis in die
diversiteit word die eenheid sigbaar.

Die verskeidenheid van gawes maak die diens
moontlik en is daarom ook nodig. Laat elkeen dan sy plek inneem
en sy taak vervul. Dan kan die liggaam van Christus reg
funksioneer en opgebou word. Sonder die gemeenskaplike diens val
die liggaam uit mekaar en faal dit as liggaam. Daarom: laat dit
nie oor aan die ampsdraers nie. Laat die geestelike opvoeding van
jul kinders nie oor aan die skool of die kerk nie. Elkeen is
geroep om met sy gawes te dien. Slegs op daardie wyse sal die
gemeente ontwikkel soos dit behoort.

Die take binne die gemeente is verskillend. God
se gawe bepaal immers wat iemand konkreet moet doen. Nie elkeen
het bv die gawe van ouerskap nie. Nie elkeen het die gawe van
ouderlingskap of diakenskap nie. Ja, om pa of ma te wees is
’n genadegawe van God. So ook om ouderling of diaken te wees.
God het julle geroep tot die take. Hy het julle die gawe gegee.
Dis belangrik om voortdurend bewus te wees van die Goddelike
roeping. Dit maak my sterk selfs wanneer ek moeilike situasies
moet hanteer. Ek staan nie onder my eie gesag nie. Ek is gestuur.
God wil my gebruik vir die opbou van sy kerk.

Die Goddelike roeping sal ook die manier waarop
ek dien bepaal. Dit bring ons by die tweede gedagte van die preek:
die manier van die diensbetoon.

Petrus gebruik die beeld van ’n
rentmeester wanneer hy skryf: "dien soos goeie bedienaars
van die veelvuldige genade van God." Julle is bedienaars,
rentmeesters in God se wêreld, in God se huis. Wat tipeer my as
rentmeester? Eers dat ek nie self die eienaar, die heer of koning
is nie. As rentmeester is ek verantwoording verskuldig aan my
Heer Jesus Christus. Hy het bepaalde dinge of persone aan my sorg
toevertrou. Ek moet my teenoor Hom verantwoord.

Om rentmeester te wees beteken ook dat ek dit
wat my Meester aan my toevertrou het so goed as moontlik moet
beheer. Daarin het ek ’n mate van selfstandigheid en eie
verantwoordelikheid. As Christene is ons slegs rentmeesters. Van
onsself het ons geen genadegawes nie. God het ons bepaalde gawes
toevertrou sodat ons dit sou gebruik, beheer tot Sy voordeel.

Broeders en susters, wat is dit ’n voorreg
om die gawes te hê. Maar ook: wat ’n verantwoordelikheid!
Die vraag is nou: Hoe beheer ek die gawes? In die sake wêreld
probeer ’n mens die beste opbrengs te kry. Dit geld tog
seker ook vir God se gawes? Wanneer kry hulle die grootste
opbrengs? Wanneer ek so goed as moontlik die ander daarmee dien.
Wanneer ek besef dat ek rentmeester is, in diens van my Meester
Jesus Christus. En wanneer ek gewillig en met vreugde die posisie
inneem. Sou dit geen positiewe uitwerking hê in die gesinne en
in die gemeente nie? Ootmoedige diens werk wonders!

Petrus onderskei tussen twee geestelike gawes:
die gawe van die woord en die gawe van diensbetoon. Dis moontlik
dat hierin indirek verwys word na die twee ampte in die kerk:
hulle wat die woord van God moet spreek en hulle wat die tafels
moet bedien, dws hulle wat aangestel is vir die diens van
barmhartigheid. Dis egter nie nodig om die woorde van die teks
tot die besondere ampsdraers te beperk nie. Petrus se woorde geld
vir alle lidmate, ook al geld dit op ’n spesiale wyse vir
die ampsdraers.

Eers word genoem die gawe van die woord. "As
iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God." Ons staan
almal in diens van God. Namens Hom moet ons ons kinders opvoed.
Namens Hom moet ons die gemeente aanspreek. Namens Hom moet ons
mekaar aanspreek. Wel, as ons namens Hom spreek, dan moet Sy
woorde wel duidelik deurklink. God wil met my kinders praat dmv
my as ouer. God wil met die gemeente spreek ook dmv my as
ampsdraer. "As iemand spreek, laat dit dan wees soos woorde
van God." Hulle wat ons hoor moet God se stem daarin herken.

Dit beteken nie dan ons dan altyd letterlik die
woord van God moet spreek nie. Die woorde wat ons spreek moet
altyd afgestem wees op die betrokke situasie. Die woorde moet
egter wel ’n praktiese toepassing van God se eie woorde wees
en so in diens van die woord staan. God se woord sal ons woorde
moet stempel en deurstraal. So voed ek my kind op as Christen
ouer, as ’n ouer in wie die woord van Christus ryklik woon.
So doen ek my werk in die gemeente as Christen in wie die woord
van Christus ryklik woon. Sodat Christus self in my optrede
herken kan word.

Wat ’n verantwoordelike taak vir ons as
ouers wanneer ons in die gesin met ons kinders praat. Wat ’n
verantwoordelike taak vir ons as ampsdraers wanneer ons
huisbesoek bring en met die mense uit ons wyk praat. Wat ’n
verantwoordelikheid vir ons as gemeentelede wanneer ons mekaar
aanspreek. "Laat dit wees soos woorde van God". Hoe
dikwels kom ons hierin nie tekort nie? Ek moet my daagliks bekeer.
Hoe dikwels sê ek nie dinge waaroor ek later spyt het nie, dinge
wat ek nie moes sê nie, dinge wat juis die woord van God
ondermyn en daarvan aftrek.

Broeders en susters, laat ons bewus wees van
ons sondes op hierdie gebied en bid vir vergewing, ook bid
voordat ons praat. "Here vul ons met u woord en Gees sodat
die woorde wat ons spreek U woord weerkaats en weerspieël."
As ampsdraer en ouer is ek nie afhanklik van eie krag en wysheid
nie. My Opdraggewer het my ’n pragtige riglyn saamgegee,
’n Woord wat lewend en kragtig is. Ek het vaste grond onder
my voete: die onfeilbare woord van God. Wat ’n voorreg om op
grond daarvan besig te wees in my gesin, in die gemeente om te
onderrig, te bemoedig, te vermaan en te vertroos.

Gemeente, naas die gawe van die woord noem
Petrus ook die gawe van diensbetoon. "As iemand dien, laat
dit wees soos uit die krag wat God verleen." Diensbetoon is
ook ’n gawe van God. Dit is ook onmisbaar in die gemeente en
in die gesinne. Bowendien, om goed te dien, op ’n
onselfsugtige wyse, is ’n kuns. Ons kan dit nie uit onsself
nie. Daarvoor het ons God se genade en krag nodig. Daarom: as
iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen.
Laat God se liefde en krag daarvan uitstraal. God self het die
pad gewys. Sy Seun het gedien. Ek kan slegs goed dien wanneer ek
met Hom gaan en uit sy liefde en krag put. Diensbetoon is nie
’n prestasie wat ek kan verrig nie. Diensbetoon is ’n
gawe wat ek ontvang. In antwoord op gebed. Slegs dan sal die
gemeente werklik gedien wees. Hulle herken dan God in my
diensbetoon. Dit gaan immers om God en nie om myself nie.

Broeders en susters, is dit hoe u dien as
Christene? Kom God se woord en krag tot uiting in u woorde en
diensbetoon? Weerspieël u daarin u God? U is tog sy rentmeesters,
sy verteenwoordigers? Deur u diens wil God sy kinders, sy
gemeente lei en versorg. Soek daagliks Sy wysheid en krag. Uit
onsself kan ons nie spreek en dien soos dit behoort nie. Ons faal
dikwels en verloor maklik moed. Maar God is diegene wat dit wil
doen. Sy woord stel ons in staat om te spreek en sy krag maak ons
bekwaam om te dien.

Op hierdie wyse word die doel van alle diens
bereik, naamlik die eer van God. Die derde punt: die doel van die
diensbetoon. "Sodat God in alles verheerlik kan word deur
Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in
alle ewigheid."

Wat is die groot doel van my lewe en werk? Die
eer van God. Dis iets wat ons almal wel weet. Maar hoe maklik
verruil ons God se glorie nie vir ons glorie nie? Ons kan almal
bely: Soli Deo gloria – aan God alleen die eer – maar
ervaar ons dit ook so? Hoe lief het ons nie dikwels ons eie eer
nie? Maar ek is dienaar van God. Daarom moet in al my woorde en
dade God verheerlik word.

Dit gaan nie daaroor dat ek my sin kry, dat ek
geëer word, dat my belange veilig gestel word nie. Wat die
belangrikste is, is God se heerlikheid. Ek lewe nie vir myself
nie, maar vir God. Daarom het God my geskape en daarom roep Hy my.
Daarom gee Hy my genadegawes. Soli Deo gloria – aan God
alleen die eer.

Let op gemeente, die verheerliking van God is
nie ons eie prestasie is nie. Dit word tot stand gebring deur
Jesus Christus. Om God te verheerlik kan ek nie uit myself doen
nie, en wanneer ek dit doen dan doen ek dit op ’n onvolkome
en sondige manier. Ek het Jesus Christus nodig. Hy moet my
stukwerk reinig en dit waardevol maak. Sonder Hom kan ek nie lewe
en dien tot eer van God nie. Deur Christus word ek weer op die
juiste spoor geplaas: die eer van God.

Die teks eindig met ’n lofprysing: "aan
wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid. Amen."
Hy besit alle heerlikheid en krag. Nou en vir ewig. Daarom skryf
ek alle eer en krag aan Hom toe. Daar is baie kragte wat aktief
in die wêreld is, in die gesinne, in die kerk. Ons weet nie
waarop dit alles sal uitloop nie. Maar dit weet ons wel: God
besit alle heerlikheid en krag. Dit hef ons uit bo die verwarring
en stryd hier benede. Sy krag, ja sy almag is altyd daar. Sy
koninkryk sal kom. Amen, dit is waar en seker. God is soewerein
en oorwinnend. Sy heerlikheid sal seëvier. Sonde en satan sal
dit nie kan stop nie. Hy sal sy ontelbare kinders rondom Hom
vergader, die kerk van alle tye, die bruid van Christus. Daaraan
mag ons almal werk as sy rentmeesters.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)