Die 1e gebod.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-11-14
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 34
Preek Inhoud: 

Sondag 34b

Ds C Kleyn - Sondag 14
November 1999

Lees: Josua 24:1-28, Sondag 34b.
Sing: Apostoliese
Geloofsbelydenis; Ps 34:1,2; SB 33:1; SB 26:1,2; Ps 115:3,6,7; Ps
115:8,9 (na kollekte).

Thema: Die 1e gebod.

  1. Outydse afgodediens.
  2. Moderne afgodediens.
  3. Die Here vra ’n radikale keuse.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanaand wil ek die 1e gebod aan u verkondig.
Ons let op drie dinge:

  1. Outydse afgodediens.
  2. Moderne afgodediens.
  3. Die Here vra ’n radikale keuse.

Netnou het ons voor die aangesig van die Here
die Heilige Nagmaal gevier. Hoe het ons daar na toegegaan? Met
’n onverdeelde hart? Met ’n hart heeltemal op God gerig?
"Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie" se
die Here in die 1e gebod. As jy onder my oë kom dan wil ek geen
afgode sien nie. Hulle hoort nie daar nie. Ek eis jou op vir My
alleen. Ek is die Here jou God en Verlosser. U behoort aan My.
Daar mag geen gode tussen kom nie.

Die vraag kan gestel word: gaan die Here dan
daarvan uit dat die gode werklik bestaan? Moet ons konkludeer dat
daar in die wêreld allerlei gode bestaan, maar dat ons geen
daarvan mag dien naas die Here nie? Wil die Here sê: soos ander
volke hul gode dien, so moet jy My dien? Is die Here soos ’n
nasionale God wat alle verering van sy eie volk opeis?

Die Bybel is duidelik: die Here is geen
nasionale god nie. Die Here is die God van die hele wêreld. In
Ps 24: 1 sing ons: "die ganse aarde, land en meer, met al
wat leef, is uwe, Heer!" En in Ps 97 lees ons: "Want U,
Here, is die Allerhoogste oor die hele aarde; U is hoog verhewe
bo al die gode."

Die heidenvolke het hul nasionale gode. Hulle
sien die gode van ander volke as konkurrente of as swak kollegas.
Die Skrif praat heeltemal anders oor die Here. Die verering van
die Here is nie ’n nasionale saak nie. Die aarde is vir
Israel nie verdeel in gebiede met elk ’n eie godheid,
waartussen die Here dan ook ’n plek inneem nie. Nee, die
Here is uniek, onvergelykbaar. Lees by voorbeeld maar die profete.
Die Here is onvergelykbaar groot. Wanneer Israel in ballingskap
sit, tussen die volke met hul gode dan laat die Here sê: "By
wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die
Heilige. Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie
dinge geskape?" (Jes 40:25,26) Die son volg altyd maar weer
sy baan. Daar staan die maan in rustige prag. Daar is die
duisende of miljoene sterre, wat flonker in wolklose nagte. Al is
daar nog soveel, die Here ken hulle elkeen by die naam. Hulle kom
altyd weer terug. Nie een word gemis nie. Daarvoor sorg die Here.
Die Heilige, die verhewene, Koning van die hele aarde, die enige
ware God.

Gemeente, in vergelyking met die Here is die
ander gode niks. Hulle is nulliteite. Paulus sê later: ’n
afgod is niks. Hulle is geen gode nie, slegs sogenaamde gode.
Maar waarom waarsku die Here so ernstig teen die gode as hulle
nie eens bestaan nie? ’n Mens hoef tog nie op sy hoede te
wees vir gode wat nie bestaan nie? Die moeite is dat ons dikwels
wel iets sien in die nulliteite. Ons vergooi ons dan aan die
nulliteite. Dit word magte in ons lewe. Reële magte wat die mens
totaal in beslag kan neem.

Bepaalde kragte in die natuur waarvan ’n
mens hom afhanklik voel, word verhewe tot ’n god. So het
Egipte haar songod geken en haar nylgod. En in Kanaän was daar
’n soortgelyke natuurvergoding. Die Baal was die god van die
weer. Baal bestaan nie werklik nie, hy is slegs ’n versinsel
van mense. Die mag van die weer bestaan egter wel. En in die
voorstelling van die mens is dit ’n god. Die hele
afgodediens is in feite ’n verering van skepsele. Die mense
is vervreemd van die Skepper en Beskikker van reën, donder en
vrugbaarheid. Daarom gaan hulle die skepsel pleks die Skepper
dien. Skepsels word tot gode verhef. Die mense dink dat hulle die
skepsels as gode moet dien om hul bestaan veilig te stel.

Daarom: geen ander gode voor my aangesig nie.
Ek is God, daar is geen ander nie. Wees nie so dwaas om skepsels
op een lyn te plaas met die Skepper nie. Of om die skepsel te
dien bo die Skepper nie. Die son, maan en sterre, die reën en
wind, water en vrugbaarheid, wat is hulle? Hulle is slegs
skepsels van My. Ek, die Here jou God, is geen son, maan of enige
indrukwekkende verskynsel nie. Ek staan daarbo. Ek het alles
geskape. En Ek hou alles in stand. Vertrou dan op My alleen. U is
afhanklik van My. Die skepsels beteken niks sonder My nie. Hulle
kan slegs doen wat Ek gebied.

Gemeente, as u sien dat afgodery neerkom op die
dien van skepsels, dan besef u hoe aktueel die 1e gebod is. Dit
bring ons by die tweede punt: Die moderne afgodediens Die afgode
van outyds het verdwyn. Baal het vir goed ontslaap. Milkom die
god van die Ammoniete en Kamos van die Moabiete het bv geen
aanbidders meer nie. Tog is daar vandag nog legio afgode.
Afgodery is nie afhanklik van name nie. Die name verdwyn, maar
die magte bly. Die Bybel self wys dat afgodery moontlik is sonder
godename. Ons lees bv dat die krag van ’n mens sy god kan
wees of dat gierigheid afgodediens is (Kol 3:5). So kan ’n
mens van sy buik ’n afgod maak (Fil 3:19).

Hoeveel skeppingsgawes het die mens vandag nie
in hul mag nie, gawes waardeur die mense besete raak. Hoewel dit
andersom moet wees. God het sy skeppingsgawes gegee om die mens
te dien. Die mens moet daaroor heers. Maar nou sien ons dat die
gawes oor die mens heers. Dink aan die mag van die dollar, die
rand. ’n gawe van God om daarmee goed te doen. Maar hoeveel
mense is nie in die mag van geld nie. Ek kan so verslaaf daaraan
raak dat dit amper alles vir my word. Ek is dan bereid om dag en
nag daarvoor te werk. My huwelik, my gesin, die kerk, ja God self
word dan op die altaar van die heilige Mammon opgeoffer. En as ek
nie kan verdien wat ek wil verdien nie of as ek minder bevoorreg
is as ander dan raak ek ontevrede en jaloers. Onthou, die mense
wat minder het kan soms die grootste materialiste in die
maatskappy wees. Hulle praat voortdurend oor geld en goed. Dit
het ’n god vir hulle geword. Laat ons tog oppas dat ons nie
in die slaggat val nie.

Dink ook aan die gawe van wetenskap. God het in
die laaste eeu geweldige vorderings in die wetenskap en tegniek
gegee. Ongekende moontlikhede het in ons bereik gekom. Pragtige
uitvindings. Maar is die wetenskap in ons maatskappy nie baie
kere ’n afgod nie. Die mens sweer by die wetenskap. Terwyl
die Skepper nie meer die eer ontvang wat Hom toekom nie. Die
skepsel word gedien bo die Skepper. Die wetenskap beheers die
lewe van baie in plaas van God.

Ek kan hier wys op die waarde van goeie
kwalifikasies en ’n goeie betrekking. Dis gawes waarvoor ons
dankbaar mag wees. Maar as my studie en my promosie alles word in
my lewe, het dit dan nie ’n god geword nie. As die dinge los
van God staan dan is ek in die greep van ’n afgod, of nie?
Gawes van God gaan dan oor my heers pleks dat ek self daaroor
heers.

So is daar ook die rekenaar. ’n Pragtige
uitvinding. Maar dit kan ook gevaarlik wees. Dit kan mense ook
jong mense totaal in die verslawing bring. Daarom, laat alles
staan op die plek wat God aan die dinge gegee het. Bly hulle sien
as slegs skeppingsgawes – in diens van God en mense. Laat
jouself geen slaaf daarvan word nie, sodat dit jou hele lewe
gevange neem, sodat jy voor nêrens anders tyd en aandag het nie.
Pas tog op dat jy die skepsel nie bo die Skepper gaan verhef nie.

Dit geld ook vir die gawe van seksualiteit. Op
sy eie plek ’n pragtige gawe van God. Maak ek die gawe egter
los van die Skepper en sy norme dan word dit ’n verskriklike
mag. Dit kom eers tot sy reg as ek dit op sy bestemde plek laat,
soos die Skepper dit bedoel het en wil.

Tot slot wil ek noem die ek-kultuur wat vandag
so sterk toeneem. Ons is geskape as kroon van die skepping, as
beeld van God. Hierdie oorsprong wys op die blywende waarde van
die mens. Daarom mag ek nie na eie wense die menselewe beëindig
nie. Elke mens het sy eie waarde, het sy moontlikhede. Laat
niemand homself weggooi nie. Dit sou ondankbaar wees teenoor die
Skepper. Ek is geskape met ’n verstand, met ’n wil en
met emosies. Pragtige gawes van God waarin ek te onderskei is van
die diere. Maar nou die vraag: watter plek gee ek aan die wil en
aan die emosies?

Dit is vandag in om jou te laat lei deur jou
eie wil of deur jou eie gevoel. ’n Mens moet tog self
uitmaak wat hy gaan doen? Maar word die wil en word die gevoel
dan nie in jou lewe tot gode verhewe nie, afgode wat die diens
uitmaak? Teenoor die eiesinnige koning Saul sê Samuel: "Want
wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery, en
eiesinnigheid is afgodery en beeldediens." (1 Sam 15:23).
Pragtige gawes en skeppings van God – my wil en my gevoel
– word van die Here losgemaak en verhef bo die Here. Die 1e
gebod leer ons om die gawes op hul regte plek te laat,
ondergeskik aan die Skepper. Dit is slegs skepsels, en na die
sondeval geskonde skepsels, skepsels wat vernuwe, gekorrigeer
moet word. Die Skepper staan bo alles. Hy het reg op alle eer en
aanbidding. Wees dan nie so dwaas om die skepsel bo of naas die
Skepper te plaas nie.

Die Here duld geen afgod naas Hom nie. Alles
moet onderwerp word. Alles moet gesit word op die een kaart: die
Here ons God en Hy alleen. As ek tog naas die Here my vertroue op
bv my eie insig of vermoë stel dan lyk ek baie op die heidene
van vroeër met hul veelgodedom. Hulle beskou dit as die
veiligste om nie alles op een kaart te sit nie, maar om die kanse
te verdeel. So kan die mens homself handhaaf deur hom nooit aan
iets of iemand geheel te gee nie, maar sy liefde te verdeel oor
verskillende moontlikhede.

Broeders en susters, om te glo, in die sin van
"met hart en siel op God te vertrou" soek ’n mens
tevergeefs in die veelgodedom. Die heidendom waag hom nie om so
ver en so diep te gaan nie. Hy is versigtig. Hy het ten minste
twee ysters in die vuur. Hierdie lewenshouding loop ’n mens
in alle tye raak. Ons het steeds te doen met die mens wat homself
nooit uit die oog wil verloor nie, oral dekking soek om daar
lewend uit te kom. Hy gaan nie deur die vuur vir God nie en hy
vind die woord van Jesus dwaas: "As iemand agter My aan wil
kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg."
(Mt 16:24). Sulke risiko's neem ’n mens nie. Daarom val ook
die ander woorde van Jesus op dowe ore: "elkeen wat sy lewe
wil red, sal die verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil
verloor, sal dit vind."

Gemeente, om vir die Here te kies beteken altyd
’n keuse wat alle ander moontlikhede uitsluit. Dit bring ons
by die derde punt: Die Here vra ’n radikale keuse. Kort voor
sy sterwe roep Josua verteenwoordigers uit alle stamme na Sigem
toe. Hy herinner hulle aan hoe die Here hulle uit Egipte gelei
het en die land Kanaän geskenk het. Daarna kom Hy met die oproep:
"Vrees dan nou die Here en dien Hom in opregtheid en
waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het
oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die Here. Maar as dit
verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle
vandag wie julle wil dien: of die gode wat julle vaders daar
oorkant die Eufraat gedien het, of die gode van die Amoriete in
wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die Here dien."
(Josua 24:14,15).

Die hele volk doen vervolgens dieselfde keuse
as Josua. Op ’n plegtige wyse word die verbond tussen Israel
en die Here vernuwe. Die geskiedenis maak duidelik dat die keuse
vir die Here radikaal moet wees, eksklusief. Dit is geen "en
– en", maar "of – of". Ek kan nie vir
die Here kies en dan ook nog afgode daarop nahou nie. Wie vir die
Here kies, moet alle vreemde gode wegdoen. Dit is soos met God en
die Mammon: "Niemand kan twee here dien nie; want of hy sal
die een haat en die ander liefhê, of hy sal die een aanhang en
die ander verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie!" (Mt
6: 24). God vra ’n onverdeelde hart. ’n Hart wat
heeltemal op Hom gerig is.

Die Kategismus formuleer dit so: "Ek moet
die enige ware God reg leer ken, Hom alleen vertrou, my slegs aan
Hom met alle nederigheid en geduld onderwerp en van Hom alleen
alle goeie dinge verwag. Ek moet Hom met my hele hart liefhê,
vrees en eer. Sodoende sien ek eerder van alle skepsels af as om
in die minste teen sy wil te handel.

Dit nie altyd maklik nie. My gevoel kan in
opstand kom. Ek moet daarvoor baie prysgee. Ek moet daar alles
voor oor hê. Maar ware liefde gaan nie op in die gevoel nie.
Ware liefde is beproefde liefde. Ek bly by my keuse vir die Here
wat alleen God is. Om dit te kan doen moet ek wel die Here reg
leer ken. As ek die Here nie reg ken nie, kan ek sommer verval in
die dien van ’n afgod terwyl ek dink dat ek die Here dien.
Dis ’n reële gevaar in ons tyd waarin so baie met die Bybel
geknoei word. Vrysinnige teoloë, en in hul gevolg baie kerklede,
maak ’n voorstelling van God wat pas binne hul eie denkwêreld.
Hulle maak God na hul beeld, so te sê. Hulle bly hulself
Christene noem maar hulle het in feite verval tot die dien van
’n eie-gemaakte afgod, ook al het hulle die Bybel in hul
hand. In hierdie verband kan die slot van Joh se 1e brief ons
iets leer.

Wat is naamlik die geval? Joh moet in sy brief
stry teen kerkmense wat die skerp kantjies van die geloof wil
afslyp. Mense wat moeg is met die antitese, die teenstelling
tussen kerk en wêreld en wat ’n kompromis met die lewenstyl
van die wêreld begeer. Om dit te bereik het hulle al baie water
by die wyn van God se Woord gevoeg. Hulle het die getuienis van
die apostels aangepas aan eietydse opvattings. So verloën hulle
bv die goddelike natuur van ons Here Jesus Christus. Hulle tas so
die liefde van God aan. Van God wat ons immers sy eie Seun as
Verlosser gegee het. En dit het gevolge vir die lewenstyl.

Ondertussen het hierdie mense die kerk reeds
verlaat. Waarskynlik het hulle ’n soort teenkerk gestig,
waar dit vryer is en mens nie so streng gebind is aan die
apostoliese leer nie. Dit is uiteraard ’n bedreiging vir die
wettige kerk. Want die lidmate het van nature ook die neiging om
die dinge nie so skerp te wil neem nie. Dit lyk asof jy tog
Christen kan wees op ’n ander manier, op ’n manier
waarop jy minder gebind is. Dit lyk asof jy ook wel in die hemel
kan kom wanneer jy jou nie so streng van die wêreld afsonder nie,
en wanneer jy minder erns neem met jou prinsipes en jou belydenis.
Dit is die rede waarom Joh die brief skryf. En waarom hy skryf
soos hy skryf. Let maar op die laaste 4 verse van sy eerste brief.
Drie keer staan daar na mekaar: "Ons weet". Dit staan
vir ons vas. Op grond van die getuienis van die apostels, op
grond van die goddelike getuienis het ons geloofs-sekerheid.
"En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand
gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige,
in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige
lewe." Daarna volg die woorde: My kinders, bewaar julleself
van die afgode.

Dis nie sonder rede dat Joh steeds spreek oor
die Waaragtige of die waaragtige God nie. Wat is naamlik die
gevaar van die dwaling? Dit, dat jy daardeur die ware God
kwytraak en ’n afgod oorhou. ’n God dus wat heeltemal
geen god is nie. As ek nie die lewensgemeenskap met die ware God
in sy Seun Jesus Christus ken nie, dan kan ek wel sê dat ek glo,
dan kan ek wel sê dat ek Jesus Christus hooghou, maar dan glo ek
in feite in ’n afgod. ’n Afgod waaroor ek wellig ’n
klomp skriftuurlike dinge sê, maar dit is en bly ’n afgod.

Daarom die bewoë woorde: My kinders, bewaar
julleself van die afgode. Mense, let tog op. Laat julle nie
verlei nie. Pas julle nie aan by die wêreld met sy valse
godsdiens nie. Hou vas wat julle het. Julle het die enige ware
God leer ken en dien in sy Seun Jesus Christus. As jy die Seun
verloor, dan verloor jy God self. Dan hou jy ’n afgod oor,
’n nulliteit.

Daarom die 1e gebod: jy mag geen ander gode
voor my aangesig hê nie. Vergooi jou nie aan die nulliteite,
ydelhede nie . Dit sou vir jou ’n ewige ramp wees. Dien My
alleen, die enige ware God. Vertrou op My alleen. Ek is die
Skepper van hemel en aarde. Alle dinge en skepsels is van my
afhanklik. Laat jou nie onder die mag bring van die moontlikhede
en kragte wat Ek geskape het. Verafgod hulle nie. Hulle bly slegs
skepsels. Ek is jou Skepper en Verlosser. Dien my alleen.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)