Die evangelie van die wet.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-11-14
Teks: 
Romeine 10
Preek Inhoud: 

Exodus 20:1,2 & Romeine 10:4

Ds C Kleyn - Sondag 14
November 1999

Lees: Rom 9:30-10:13, Ex 20:1,2; by nagmaals tafels: Gal 3: 8-14; Gal 3:15-20;
Gal 3: 21-29; Gal 4:1-7.
Sing: Ps 81:1,2; Ps 112:1,2,6,7;
Ps 81:9-12; Ps 19:4,5; Ps 103:1 (voor Heilige Nagmaal); Ps 103:2
(1e tafel); Ps 105:4 (2e tafel); Ps 105:5 (3e tafel); Ps 105:1 (4e
tafel); Ps 105:23,24 (na kollekte).

Thema: Die evangelie
van die wet.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die tien gebooie. Elke Sondag oggend word dit
aan u voorgehou. Dit is ’n vas onderdeel van ons liturgie.
Ook vanoggend het u dit weer gehoor: Ek is die Here, jou God wat
jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen
ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede
beeld maak nie. … Jy mag die Naam van die Here jou God nie
ydellik gebruik nie ens. Tien gebooie. Pas dit wel in die
erediens? Is dit nie ’n ondraaglike las wat ons so op die
mense lê nie? Pas dit wel by die evangelie van verlossing in
Jesus Christus? Word die wet en die evangelie nie dikwels ervaar
as teenstellings nie, sodat dit word: wet of evangelie, wet of
genade? Dink maar aan die nagmaal wat ons hoop te vier. Is die
boodskap daarvan nie juis dat ons deur Christus alleen gered word
uit genade, sonder die werke nie? Waarom dan die wet van die Here?
Pas dit wel by die boodskap?

Gemeente, vanoggend verkondig ek u die
evangelie van die wet. Ja, u het dit goed gehoor: die evangelie,
die blye boodskap van die wet. Is dit hoe u die wet elke sondag
oggend hoor? So nie, dan word dit tyd dat u dit wel so hoor. Want
die evangelie is in die tien gebooie die eerste. Die evangelie
beheers en deurtrek die hele wet. Let maar op die inleidende
woorde: Ek is die Here, jou God. Met die belofte het God sy
verbond met Abraham gesluit. "Ek sal my verbond oprig tussen
My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte as ’n
ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag
na jou." (Gen 17:7). Hierdie belofte word vervul op die nuwe
hemel en aarde. "En ek het ’n groot stem uit die hemel
hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal
by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by
hulle wees as hulle God." (Openb 21:3). Die belofte beheers
die hele Bybel. In die belofte sien u die verkiesende liefde van
God. Ek is die Here, jou God.

Wie is dus diegene wat sy wet afkondig? Nie
’n diktator wat sy volk via wette bedwing en verdruk nie.
Nie ’n selfsugtige heerser wat sy eie belange soek ten koste
van sy onderdane nie. Nie ’n kortsigtig regeerder wat die
belange van sy onderdane nie rêrig ken nie. Nee, jou wetgewer is
die Here, jou God. Jou Skepper en Verlosser. Hy ken jou soos geen
mens jou ken nie. Hy het jou mos geskape! Hy weet presies wat
goed vir jou is, wat jou ware ontplooiing dien en wat nie. As Hy
met gedragsreëls kom dan weet ek seker dat dit heilsaam vir my
is. "Dank U God dat u so baie vir my omgee dat U aan my u
heilsame wet gegee het."

Ek is die Here, jou God. HERE met hoofletters,
Jahwe in Hebreeus. Ek is wat Ek is. Die getroue verbondsgod.
Diegene wat altyd aktief aanwesig is tot redding van my volk.
Dink maar aan die bevryding uit Egipte. Ek is die Here, jou God
wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Ja, dit
was wat in Egipte. Sweet, bloed en trane. Slawerny. Gedwonge
afgodediens. Duisternis. Geen uitsig op bevryding nie. Ek, die
Here, het toe ingegryp. Egipte se krag gebreek. Egipte se afgode
as nulliteite ten toon gestel. Deur middel van die tien plae. En
die bevryding van my volk uit die slawehuis. Durf jy nog te
twyfel aan my mag en trou? Ek is wat Ek is. Ek is wat Ek belowe
het te sal wees. Die Here, jou God. Die Verlosser van my volk.

Ek is die Here jou God. Ja, jou verbondsgod. Ek
het my aan jou verbind. Waarom? Omdat julle jul so goed gedra het?
Vanweë jul gehoorsaamheid aan die wet? Omdat julle as nasie so
voorbeeldig was? Volstrek nie. Julle was niks beter as ander
volke nie. Julle het ook in Egipte die afgode gedien. Ek het
julle gekies uit vrye welbehae, toe julle nog sondaars was. Ek
het julle gered omdat ek julle wou red, uit liefde vir julle.

Sou die wet van hierdie God dan ’n las
wees? ’n Ware Verlosser wil tog nie sy verlostes pla nie?
Jou Verlosser soek juis jou verlossing, jou redding, jou ware
welsyn.

En, gemeente, wanneer het die Here jou God sy
wet gegee? Voor die uittog? As ’n voorwaarde vir die
verlossing? Nee, eers na die uittog gee Hy sy wet. Op die basis
van die verlossing wat daar al is. Op die basis van die
verbondsbeloftes. Dis belangrik om dit te bly sien anders gebeur
daar ongelukke. Eers kom daar die verlossing, daarna die
gehoorsaamheid aan die wet. Dink nooit dat jy die verlossing moet
wen deur jou gehoorsaamheid nie. Nee, dis eers vanuit die
verlossing dat jy kan begin om gehoorsaam te wees. Om dit te doen
uit dankbaarheid.

Waarom het ons Verlosser die wet dan gegee?
Sodat die bevryde volk ook vry sal bly. Ons Bevryder laat ons nie
aan ons lot oor nie. Gelukkig nie. Want dan sou ons die vryheid
weer sommer inruil vir ’n nuwe slawerny. Anders sou ons weer
agter die nulliteite aangaan en slawe van die sonde word.. As
’n liefdevolle en sorgsame Vader gee die Here ons aanwysings
om op die pad van die verlossing te bly. Gestel dat ons ons
kinders nooit sekere gedragsreëls sou aanleer nie. Dit sou vir
hulle verskriklik wees, rampsalig. So mag ons dan God loof vir sy
goeie wet. Vir sy liefde en sorg wat daarin sigbaar is. Die wet
is werklik goeie nuus, evangelie. Daar is rêrig geen
teenstelling tussen wet en evangelie nie. Ook nie in die N.T. nie.

In Rom 10: 4 word Christus die einde van die
wet genoem. Wil jy die betekenis van die wet reg ken dan moet
Christus ken. Jesus Christus en die wet het alles met mekaar te
doen. Wat was die doel van die wet? Om ons as ‘t ware aan
die hand na Jesus Christus te lei. So lees ons in Gal 3:24:
"Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons
geregverdig kan word uit die geloof." Alles wat die wet leer,
alles wat dit beveel, alles wat dit belowe het Christus tot doel.
In al sy dele sien die wet op Christus. Niemand kan dus die wet
verstaan buiten Christus nie. Wie dit doen die doen tekort aan
die waarheid van die wet. In Joh 5:46 sê Jesus Christus tot die
Jode: "Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want
hy het van My geskrywe." Dit is telkens die twispunt met die
Jode. Hulle hanteer die wet as ’n selfstandig geheel, los
van die Wetgewer, wat die Verlosser van sy volk is. Hulle misken
God se bedoeling met die wet. Hulle wil nie weet van Jesus
Christus nie. Daarom oorskat hulle hulself en soek hulle ’n
eie geregtigheid. Hulle dink dat hulle hul geregtigheid moet
verdien deur hul gehoorsaamheid aan die wet. So word die wet
oorskat en gesien as die pad van selfverlossing. So word die wet
’n harde, ondraaglike juk. Daarom se Paulus van die Jode dat
hulle die wet van geregtigheid nie bereik het nie ook al het
hulle dit nagejaag (Rom 9:31).

Ons moet die wet na Christus toe uitlê. Anders
kry jy dat die OT gesien word as wet en die N.T. as evangelie.
Asof hulle in die O.T. deur die wet gered kon word en in die N.T.
deur genade gered word. Dit is in stryd met die Skrif. Wat was
mos die uitgangspunt van die wet? Dit was tog die verlossing uit
die slawehuis van Egipte? Die verlossing deur middel van die
bloed van die lam wat op die deurposte gestryk was. Dit was
’n afbeelding van die verlossing van die sondes deur Jesus
Christus, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.
En wat was die doel van die wet? Dat God weer mense voor sy
aangesig sou hê wat in volmaakte liefde en toewyding Hom en die
naaste sou dien. Dit is iets wat die mens nie kon bereik nie.
Daarom beteken die wet op homself die doodsvonnis vir die mens.
Die wet roep om iemand anders wat wel die wet kan volbring, die
mens Jesus Christus. So is Christus die einde of doel van die wet.
Die plek waarop die tafels van die wet bewaar is, het reeds
daarop gewys. Waar was hulle bewaar? In die ark van die verbond
onder die versoendeksel: die bloed van die soenoffer moes die
aanklaende stem van die wet oorstem. Alles roep om die Christus
en vind in Hom sy vervulling.

Christus het die wet in sy diepe en volle
betekenis verklaar. Hy het aan die eise van die wet voldaan. Dit
was sy lus en sy lewe om die wil van die Vader te doen. Hy het
die vloek van die wet ondergaan. Juis by die kruis ontdek ons die
diepte van die vloek en oordeel van God se verbroke wet. Christus
roep uit: My God, my God, waarom het U my verlaat? Dit is die
straf vir ons oortreding van die verbondswet. Verskriklik! Maar
dit is nie die einde nie. Waarom het Christus dit uitgeroep?
"Sodat ons deur God aangeneem en nooit meer deur Hom verlaat
sou word nie."

Christus het daarna ook uitgeroep: Dit is
volbring. Daarmee het Hy die verbond van genade en versoening vir
ewig bekragtig. Christus het vir ons aan die eise van God se wet
voldaan. Daarmee het Hy ons verlos van die oordeel en vloek van
die wet. Daarna het Hy opgestaan, opgevaar na die hemel en sy
Gees uitgestort. Wat beteken dit nou vir u en my? Die wet word
daardeur so anders. Dit bereik nou in beginsel ook in my lewe sy
doel. Dit word ook uitgebeeld aan die Heilige Nagmaal. Christus
kom na ons toe met die tekens van sy liggaam en bloed om ons te
voed en te verkwik tot die ewige lewe. Deur sy bloed is ek bevry
van die vloek van die wet. Deur sy Gees maak Hy my van harte
bereid om voortaan vir Hom te lewe. Hy skryf die wet in my hart.
Die wet van die Here is nie langer ’n uiterlike en
ondraaglike las, wat my veroordeel nie. Wanneer ek glo dan is die
wet my lus en my lewe. ’n Gawe van God. Bevrydend. Heilsaam.
Voluit evangelie!

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)