Die Here skenk sy volk opnuut die woord van profesie

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-11-07
Teks: 
I Samuel 3
Preek Inhoud: 

1 Samuel 3:10

Ds C Kleyn - Sondag 7
November 1999

Lees: 1 Samuel 3:1-5:1A;
Handelinge 2:14-21.
Sing: Ps 92:1,2; Ps 92:6,7; Ps
119:4,39; SB 13:3-9; SB 50:6,7 (na kollekte).

Thema: Die Here skenk
sy volk opnuut die woord van profesie

  1. Die noodsaak daarvan
  2. Die realiteit daarvan
  3. Die gevolg daarvan

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Een van die verrassende dinge in die lewe van
’n Christen is om te besef dat God met jou besig was in die
hele gang van jou lewe. Ja, dit gaan selfs terug tot voor die
geboorte. Soos ons lees in Ef 1: 4 "soos Hy ons in Hom (ons
Here Jesus Christus) uitverkies het voor die grondlegging van die
wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees."
God laat sy ewige liefde val op hulle wat hy voorbestem het om te
red. Selfs wanneer ons onbewus was van sy liefdevolle bedoelings
was Hy besig om sy plan vir ons lewe uit te werk.

Dieselfde hand van God is ook duidelik sigbaar
in die lewe van die jonge Samuel. Dink maar aan sy geboorte en
toewyding. Dink maar aan die ontwikkeling en groei van Samuel in
die heiligdom, sy opkoms en teenstelling tot die verval van Eli
se huis (1 Sam 2). In ons hoofstuk sien ons God besig om Samuel
as sy ware profeet te installeer. Samuel word God se spreekbuis.

Ek vat die boodskap saam:

Die Here skenk sy volk opnuut die woord van
profesie

  1. Die noodsaak daarvan
  2. Die realiteit daarvan
  3. Die gevolg daarvan

Die eerste vers van ons hoofstuk teken
onmiddellik die situasie. "En die seun Samuel het die Here
gedien voor Eli, en die woord van die Here was skaars in die dae:
gesigte was daar nie baie nie." In die dae was die woord van
die Here skaars. God se volk is afhanklik van die woord van die
Here. Hulle kan nie sonder die woord nie. Tenminste as hulle volk
van God wil bly. Die woord van die Here is immers die geheim van
die kerk. Die woord onderskei die kerk van die wêreld. Daarin
gee God homself aan sy volk. Hy is daarin aanwesig. Hy laat Hom
daardeur ken. En Hy wys hulle die weg van verlossing wat hulle
moet volg.

In die dae was die woord van die Here egter
skaars; gesigte was nie baie nie. Die Here hou sy woorde in. Hy
swyg. Is dit vreemd in daardie situasie? Uit die boek Rigters en
uit die eerste twee hoofstukke van 1 Samuel ken u die situasie
van die dae. Elkeen doen wat reg is in sy oë. Die mense steur
hulle nie of steur hulle nouliks aan die woord van die Here.
Daarin gaan die priesters, Hofni en Pinehas, voor, met hul
verskriklike ontheiliging van God se heiligdom. En Eli hul vader,
die hoëpriester, laat hulle begaan. Wel, kan ’n mens in so
’n situasie verwag dat God rustig sou voortgaan met nuwe
openbarings? As jy die woord van God, wat jy reeds het, verag dan
hoef jy nie te verwag dat God sal bly praat nie. As daar geen oor
vir sy woord is nie, dan gaan God swyg. Hy verberg Hom in sy
toorn. Dis ’n ernstige saak. Dit beteken immers dat die
verbondsverkeer verbreek word. En daarmee kom die grondslag van
Israel se lewe in gevaar.

Gemeente, die situasie in ons land is nie beter
as die situasie in die dae van Samuel nie. Ons het vandag almal
ons bybels. Tog waarborg dit nog nie die voortgang van die woord
nie. Daar is nooit ’n tyd gewees waarin soveel bybels in
omloop is as vandag. En tog – hoe teenstrydig dit ook mag
klink – word die woord van die Here steeds meer en meer
skaars in ons land en in die westerse wêreld.. Baie mense lees
skaars hul bybels. En die bybel het in hande gekom van valse
profete, geestelike leiers wat misleiers geword het. Daardeur
hoor baie mense die ware woord van God nie meer nie, ook al
gebruik hulle nog steeds die Bybel.

Die Bybel word nie meer gelees soos God dit
bedoel nie. Die geskiedenis van Genesis 1-3 word bv nie meer
gesien as historiese werklikheid nie. Adam en Eva sou daarvolgens
geen historiese persone wees nie. Terwyl die Bybel self dit
duidelik beskryf as ’n historiese werklikheid en terwyl ons
heil juis rus op die fundamentele werklikheid. So word die hele
boodskap van die Bybel ondergrawe, ons uit hande geruk. Die mens
wil wyser wees as God. Die moderne Skrifkritiek verslind sy
duisende.

En dit het ook gevolge vir die lewe. Dink bv
maar aan die verdediging van homoseksuele dade. Waar ware
profesie ontbreek daar ontaard die lewe, daar neem immoraliteit
en wetteloosheid toe. Luister maar na Spreuke 29:18: "As
daar geen openbaring is nie, dan word die volk bandeloos; maar hy
wat die wet onderhou, gelukkig is hy." As die ware woord van
God nie meer gehoor of geglo word nie, dan word die volk
bandeloos. Is dit nie wat ons sien in ons land nie?

Gemeente, een van die grootste gevare vir die
kerk is die gevaar van wêreldgelykvormigheid, dat jy word soos
die wêreld. .Ons het almal te doen met die omgewing waarin ons
lewe. Die gangbare kultuur van die moderne heidendom het ’n
sterk invloed. Ons adem voortdurend die giftige lug daarvan. So
gebeur dit ook dat kerkmense minder godsdienstig word. Hulle sê
wel dat hulle in God glo maar wat beteken dit in die praktyk van
hul lewe? Is hul godsdiens nog wel allesbeheersend? So kom die wêreld
binne die kerk. Dit bly een van die grootste gevare. Ek kan
maklik sê dat ek glo, maar as die Bybel, as die woord van God,
nie meer sentraal staan in my lewe nie, wat beteken dan die
geloof? Waarop is dit dan gebaseer? As ek die Bybel nie meer
ernstig neem nie, is dit dan vreemd dat ek steeds goddeloser word?
Waar die woord van God toegesluit bly daar kwyn die Christelike
geloof en die Christelike lewe weg. Jy het dan die geheim van jou
lewe as Christen prysgegee. Dan word dit soos in die dae van
Samuel: wel godsdienstigheid maar geen ware godsdiens nie, en die
woord van die Here was skaars. Wil jy hê dat die woord nie onder
ons skaars sal wees nie? Maak dan erns met die woord van God soos
jy dit nou besit in die voltooide openbaring, die Bybel. Alleen
so kan jy die ontheiliging van die lewe bestry.

God verberg Hom vir sy afvallige volk. Dit bly
gelukkig nie so nie. Anders sou daar vir sy volk geen toekoms
wees nie. So kom ons by die tweede punt: die realiteit van die
woord van profesie wat God opnuut aan sy volk gee. In 1 Sam 2
sien ons al ’n ligstraal deurbreek. Die tekening van die
slegtheid van Eli se huis word afgewissel met gunstige opmerkings
oor Samuel. Dit lei tot die klimaks in ver 26: "Maar die
seun Samuel het toegeneem in grootte en in guns by die Here sowel
as by die mense." Die begin van ons hoofstuk gryp daarop
terug. In sy toorn vergeet God sy barmhartigheid nie. Op die plek
waar die afval hom juis sterk maak – in die heiligdom te
Silo – is God besig om ’n groot reformasie voor te
berei. God bewaar Samuel en soek hom persoonlik op.

Terwyl Eli en Samuel lê en slaap gebeur iets
wonderliks. Die skrif sê: "toe die lamp van God nog nie
doodgegaan het nie." Dit sien ongetwyfeld op die goue
kandelaar in die heiligdom. Elke aand is die kandelaar aangesteek
om tot die oggend te brand. Dit mog nie donker word in die
heiligdom nie. Teen die oggend het die lig begin om flou te word.
Die uitdrukking sien dus op die feit dat die nag amper verby was.
Die uitdrukking sinspeel egter ook op die situasie in Israel. Die
brandende lamp was immers ’n simbool van die lewende
gemeenskap met die Here. Daar waar lig is, daar is lewe. Daarom
moet die lamp ook deur die nag bly brand. Die lamp van God het
nog nie doodgegaan nie. Die lamp het wel flou geword. Die woord
van God was immers skaars in die dae. Maar dit het nie heeltemal
verdwyn nie. Dit is nag in Israel, maar die nuwe dag nader. Die
slot van die hoofstuk sal ons meer daarvan vertel.

Wel, teen die oggend roep die Here Samuel.
Samuel dink dat dit Eli is wat hom roep en gaan na hom toe. Maar
Eli weet van niks en stuur hom weer bed toe. Dit gebeur tot drie
maal toe. God moet in sy heiligdom drie maal roep voordat hy
gehoor vind. Dit lê nie aan Samuel nie. Ons lees van hom dat hy
die Here nog nie geken het nie, dws die woord van die Here was
nog nie aan hom geopenbaar nie. Daarom herken Samuel nie die stem
van die Here nie. Dit bevestig hoe ongewoon ’n openbaring
van God was in die dae. Eers na die derde keer begryp Eli dat dit
die Here moet wees. Eli leer Samuel om die luister-houding aan te
neem. As God spreek dan moet jy luister: Spreek, Here, want u
kneg hoor.

"Toe het die Here gekom en gaan staan en
geroep soos die vorige kere: Samuel, Samuel!" Die Here self
gaan na sy jong kneg toe en gaan by hom staan. ’n Wonderlike
gebeure op hierdie keerpunt in die geskiedenis. Die Here is
gereed vir aksie. Hy wil die kontak met sy volk weer opneem en
intensiveer. Daarom soek Hy ’n luisterende oor wat later kan
dien as sy mondstuk. ’n Mond wat sy profetiese woord kan
kommunikeer en so die volk op sy pad kan lei.

Die kontak word weer gelê. In sy ontferming
laat God sy stem weer in Israel hoor. En Samuel wil luister en
dien: Spreek Here, want u kneg hoor. Samuel word in die eerste
plek ’n luisterende kneg van die Here. Ja, om te luister is
die geheim van ’n profeet van God. Dit geld ook vir vandag.
Wil jy ’n Christen wees en dus ook ’n profeet van God
wees dan sal jou lewe gekenmerk moet wees deur ’n
luisterhouding. Wat is die wapen teen eiewillige godsdiens,
waarby jy God wil dien soos dit jou pas? Dit is om te luister na
God.

Teenwoordig word baie nadruk gelê op ons
godsdienstige ervaring. Jy moet jou geloof ervaar. Maar geliefdes,
as jy iets wil ervaar dan is die eerste ding wat jy sal moet doen
om te luister, om te luister na die woord van God. Om te luister
is op sigself al ’n geweldige ervaring. Bedink: God is besig
om met jou te praat. Geweldig tog, of nie soms? Deur te luister
kom die ervaring van die geloof. Deur te luister sien en ervaar
jy hoe groot God is. Dan gaan jy ook praat, jou God van harte
prys. In die verbond met die Here is om te luister die eerste en
mees fundamentele ervaring. Samuel het eers geluister. Dit is die
geheim van die ware profeet. Dit is ook jou geheim as profeet,
priester en koning.

Die Here vertel Samuel oor sy oordeel teen die
huis van Eli. Hulle het geen ontsag vir die Here. Wel, Hy sal
hulle laat weet en voel wie Hy is en dat Hy nie met Homself laat
spot nie. Hy sal die mense skok en hulle ore laat tuit.

God laat Samuel ook spreek. Dit lei tot die
derde punt: die gevolg van die woord van profesie wat God opnuut
aan sy volk gee. Daar waar die goddelose seuns van Eli priesters
is daar is God besig om vir Homself ’n profeet te installeer.
Die Here laat dit nie by die een openbaring nie. Hy gaan deur
daarmee. Dit is duidelik uit die laaste deel van die hoofstuk.
Die verse 19-21 gee ons ’n kort oorsig oor die lewe van
Samuel. "En Samuel het groot geword, en die Here was met hom;
en Hy het nie een van al sy woorde onvervuld laat bly nie."
(vers 19). Samuel se geheim was dat God met Hom was. Daarom het
die Here nie een van sy woorde onvervuld laat bly nie. Die woorde
van Samuel blyk waar en seker te wees. Hulle kom uit. Samuel
vertoon daarin die kenmerk van ’n ware profeet soos Deut 18
daarvan spreek. God se volk kan sien en weet dat Samuel nie eie
woorde spreek nie, maar dat Hy die woorde van God spreek.

Daarom lees ons in vers 20: "En die hele
Israel van Dan tot Berseba het erken dat Samuel betroubaar was as
’n profeet van die Here." "Van Dan tot Berseba"
onderstreep die woorde "die hele Israel". Van Dan in
die verre noorde tot Berseba in die verre suide wys op Israel in
sy totaliteit. ’n Belangrike opmerking! Wat het Israel
immers gekenmerk in die dae van die Rigters? Nie slegs
eiewilligheid nie, maar ook as gevolg daarvan disintegrasie. Die
volk het uitmekaar geval. Elke stam het gedoen wat reg was in sy
oë. In Samuel ontvang die volk weer ’n saambindende krag.
Die profetiese woord gaan die disintegrasie teen. Die hele Israel
van Dan tot Berseba het weer een ding in gemeen: die woord van
die Here, deur Samuel gespreek.

"En die Here het weer verskyn in Silo;
want die Here het Hom geopenbaar aan Samuel in Silo deur die
woord van die Here." (vers 21). Nadruk val op die laaste
woorde: deur die woord van die Here. Wat Samuel sien is nie die
belangrikste nie. Belangriker is wat hy hoor. God praat met hom
in duidelike taal, van mond tot mond. Onvoorstelbaar!
Uitsonderlik dat God op hierdie wyse met ’n mens wil omgaan!
Dit laat sien hoe ver God gaan in sy selfopenbaring aan die mens.
Ons almagtige, hemelse God aarsel nie om so met die mens om te
gaan nie. Hy ag Homself nie te hoog verhewe daarvoor nie. Hy wil
immers ’n Vader vir sy volk wees. Hy wil ’n lewende
relasie met sy kinders onderhou. Wat ’n genadige God het ons,
lankmoedig en groot van goedertierenheid.

Samuel gee die woorde wat hy ontvang deur.
"En die woord van Samuel het tot die hele Israel gekom."
Die verbondsvolk wat vir lange tyd min gemerk het van die
gemeenskap met God mag nou weer ervaar dat God tot hulle spreek.

Gemeente, let op die teenstelling tussen die
begin en die einde van 1 Sam 3. Die begin van die hoofstuk noem
dat God Hom onttrek van sy volk en swyg in sy toorn. Die einde
van die hoofstuk wys dat God tot sy volk terugkeer in genade en
dat hy weer spreek. In die dae van die rigters was die woord van
die Here skaars. Dit het nou anders geword. Die woord word nou reëlmatig
gehoor in Silo en word uitgesaai van Dan tot Berseba. God verberg
hom nie langer nie. Hy bly homself openbaar. Hy gee Israel sy
profetiese woord. Volgens die belofte van Deut 18. God se volk is
afhanklik van die woord van die Here. Sonder die woord loop die
lewe dood, verbrokkel die lewe en samelewing. Kyk maar na die dae
van die Rigters.

God is besig om die kontak te intensiveer. Via
Samuel. Vanaf Samuel sal die profetiese woord ’n vaste plek
in Israel hê. Vanaf daardie oomblik sal die profete ’n
beslissende rol speel in die geskiedenis van God se volk. Hulle
sal die volk voortdurend herinner aan die woord van die Here en
hulle terugroep na die ware diens van die Here.

As Reformator sal Samuel die volk voorberei op
die koms van die teokratiese koning. Israel het eers ’n
profeet nodig wat hulle verenig rondom die woord van die Here.
Slegs daarna kan die koning kom. Die mense moet eers hul hemelse
koning erken voordat die aardse koning sy plek kan inneem as God
se verteenwoordiger.

Die woord wat tot Samuel gekom het, het
geweldige dinge op gang gebring. Dit was uiteindelik die woord
wat Dawid se koninklike troon gevestig het. En gemeente, wat
Israel in Samuel en in die profete ontvang het was ’n
voorproef van wat ons ontvang in Jesus Christus. In Christus wil
God vertroulik met ons praat. Christus is die hoogtepunt en
bekroning van alle selfopenbaring van God. En via sy Gees het ons
hoogste profeet en leraar Jesus Christus daarvoor gesorg dat die
profetiese woord by ons sal bly.

Die profesie van Joel is aan ons vervul: "En
in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op
alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en
julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome
droom." Ons seuns en dogters sal profeteer. En hoe kan hulle
profeteer? Deurdat hulle eers gesigte sien en drome droom. Maar
wat beteken dit vir hulle en vir ons om gesigte te sien en drome
te droom? Dit is ’n Ou Testamentiese manier om te sê dat
God Homself sal openbaar. In die Ou Testament het God homself
geopenbaar deur middel van gesigte en drome. In die laaste dae
het God tot ons gespreek deur sy Seun. Die Gees het die finale,
definitiewe openbaring laat vaslê in die Bybel, die voltooide
woord van God. God maak Hom nou aan ons bekend in die Heilige
Skrif. Ons mag daarin God se groot dade leer ken, ja God self
leer ken. Wanneer sien ek dan gesigte en droom ek drome? Wanneer
ek die Bybel oopslaan en lees en wanneer ek daaruit hoor lees of
verkondig. Dan hoor ek God tot my spreek en Homself aan my
bekendmaak. En wat ek nou hoor is baie ryker en voller as wat die
Ou Testament iese volk gehoor het. Ek mag nou die Christus ken,
die vervulling en bekroning van die Ou Testamentiese profetiese
woorde.

Gemeente, ons het die woord van die Here nou
konstant by ons. God bly met ons praat. So maak Hy ’n
lewende en blywende verbondsverkeer moontlik. Wat is dan my
geheim as Christen? Hoe kan ek ’n ware profeet van God wees
en bly? Wat is my wapen teen eiewillige en wêreldse
godsdienstigheid? Wat is my wapen teen die disintegrasie van die
kerklike gemeenskap? Hoe kan ek die eenheid van die gelowiges
bewaar en bevorder? Die woord van God is ons geheim en ons wapen.
Laat die motto van julle lewe wees: Spreek, Here, want u kneg
hoor. Deur goed te lees en te luister na wat God self sê, bly
julle onderskeie van die wêreld en van ’n Christendom wat
besig is om soos die wêreld te word. Die woord van die God hou
die kerk en hou julle as Christene lewend en kragtig.

Daarom: Wees dankbaar vir God se voltooide
openbaring in Jesus Christus. Lees jou Bybel as die woord van God
met eerbied en geloof. Bestudeer dit. Luister na die prediking
wat die woord in eerbied naspreek. Adem die suiwere lug van die
woord van God teenoor die giftige lug van die wêreld. Laat God
se kragtige woord julle lewe bly vorm en vernuwe. En gaan dan as
profeet God se naam bely. Spreek die woorde van God wat julle
gehoor en geleer het.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)