Die ware bekering van die mens.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-10-31
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 33
Preek Inhoud: 

Sondag 33

Ds C Kleyn - Sondag 31
Oktober 1999

Lees: Efésiërs 4:17-32,
Sondag 33.
Sing: Ps 84:1,3; Ps 86:3,6; Ps 25:2,4;
Ps 101: 1-6; SB 14 (na kollekte).

Samevatting:

Thema: Die ware
bekering van die mens.

  1. Dit is om die ou mens af te lê
  2. En met die nuwe mens beklee te word.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons word soms verwyt dat ons te veel aandag sou
gee aan die verstand en te min aandag aan die hart. Word daar by
ons nie baie nadruk gelê op die kennis nie? Ons het ons eie
skool, allerlei Bybel studie verenigings, die katkisasies. Alles
is daarop gerig dat ons goed onderlê word in die leer. Praat
’n mens oor die leer dan het ons in die reël ons oordeel
wel klaar.

Maar nou ons hart en lewe. Hoe is ek in my
daaglikse omgang met mense? In my huwelik, in my gesin, by die
skool, by die werk? Ek kan soms so ongevoelig of liefdeloos lyk.

Nog iets: ons ken gelukkig nog redelike vol
kerke. Jong en oud gaan Sondags kerk toe, as dit kan meestal 2
keer per Sondag. Dis iets waarvoor ons dankbaar mag wees. Maar
nou die vraag: is al die troue besoekers dan ook werklik bekeerd?
Ons hoop so. Maar is dit werklik so? Dit moet u vir uself maar
beantwoord. Alleen, gaan maar nie te gou daarvan uit nie. Ek kan
wel getrou kerk toe gaan. Maar raak dit my ook werklik? Wat dink
u van die uitspraak van ’n jong mens: ek het altyd trou die
dienste besoek maar dit het my nie geraak nie. Hoeveel van ons
sal netnou hierdie diens verlaat soos ons hier gekom het? Sonder
dat dit werklik iets aan ons gedoen het? Terwyl daar geen sprake
is van siekte wat ons moontlik verhinder het nie.

Ek praat hier oor die hele diens, die hele
verbondsgesprek met die Here, nie slegs oor die prediking nie.
Laat ons onsself tog bly beproef. Sonder bekering sal niemand
salig word nie. Dit het Sondag 32 van die Heidelbergse Kategismus
ons duidelik geleer. Daarom is dit so belangrik om ons te besin
oor die ware bekering van die mens. Ons moet almal weet wat die
bekering tot God inhou.

Ek verkondig aan u: die ware bekering van die
mens

  1. Dit is om die ou mens af te lê
  2. En met die nuwe mens beklee te word.

Wat is dan die bekering? Die woord wys daarop:
dit is om jouself om te keer. Jy keer jou lewe om sodat jy die
teenoorgestelde rigting volg. Bekering beteken ’n radikale
verandering van jou lewe. Paulus wys daarop o.a. in die gelese
Skrifgedeelte. Die lewe van ongelowiges in ’n lewe sonder
God. ’n Lewe sonder Christus. En daarom ’n verdwaasde
lewe. Hul verstand is verduister. Hulle is in feite onwetend,
hoeveel menslike kennis hulle ook mag besit. Hulle ken God, wat
alles geskep het en nog steeds onderhou en regeer, nie. Hulle ken
so ook nie werklik die skepping en die skepsels nie. Daarom
misbruik hulle ook God se goeie skepping. Paulus skryf dat hulle
ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die
ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe (vers
19).

Wat is dus die kenmerk van ’n ongelowige,
’n onbekeerde? Dat hy sonder God lewe, met sy rug na God
gekeer,verduisterd in sy verstand. Hy is sy eie god en ’n
wet vir homself. Teenoor die selfsugtige, sondige lewenswandel
van die ongelowiges teken Paulus vervolgens die nuwe lewenswandel
van die gelowiges. Hy begin met ’n opmerking direk tot die
lesers gerig: "Maar julle het Christus nie so leer ken nie".
Ons sou ook kan vertaal: "Maar julle nie so nie, julle het
Christus leer ken." In plaas van om met julle rug na God toe
te leef, moet julle jul juis op God rig. Moet jul lewe omgekeerd
wees. Van rigting dood na rigting lewe.

Paulus vervolg dan: soos die waarheid is in
Jesus: "dat julle wat die vorige lewenswandel betref, die
oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding
ten gronde gaan en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God
geskape is in ware geregtigheid en heiligheid."

Paulus plaas hier teenoor mekaar die ou mens en
die nuwe mens. Die een moet afgelê word en die ander aangetrek
word. Dis as ’n kledingstuk wat uitgetrek of aangetrek moet
word. Waarom hierdie beeld? Die beeld het te doen met die
betekenis van klere mbt iemand se waardigheid. Jou klere gee
dikwels jou posisie of funksie aan, in wie se diens jy staan.
Dink aan die uitdrukking: "Klere maak die man", waarmee
ons wil sê dat ’n persoon se kleredrag sy stand aanwys. Aan
hul uniforms kan ons weet by watter skool ons kinders behoort. So
wys uniforms aan of ons te doen het met ’n polisieman, militêr
of vlieënier. So ken die Bybel ook klere wat pas by die gelowige.
Van Christus se bruid, wat genooi is na die bruilof van die Lam,
lees ons: "En aan haar is gegee om beklee te wees met rein
en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van
die heiliges." (Openb 19:8). ’n Mens kan die bruid van
Christus herken aan haar kleding, aan haar regverdige dade, aan
haar goeie werke.

So word in Ef 4 die beeld van kleding gebruik
om ons posisie aan te dui. My uiterlike presentasie wys aan by
wie ek behoort, in wie se diens ek staan, satan of God.

Eers is daar dan die ou mens wat afgelê moet
word. Maar wat is die ou mens? Is ek self die ou mens? En word ek
as ek die nuwe mens aantrek ’n ander persoon? Nee, dit nie.
Ek bly tydens my bekering dieselfde persoon. My ou en nuwe mens
dui ’n bepaalde staat van lewe aan.

Maar waarom praat Paulus van ’n ou en nuwe
mens? Paulus gebruik hier die woord mens om aan te dui dat heel
my mens wees deur die staat van lewe bestempel en beheers word.
Die ou mens is bv nie maar ’n bestaanswyse wat op ’n
afstand staan, waarmee ek kan doen wat ek wil, waarteenoor ek vry
staan nie Nee, die ou mens deurtrek my hele bestaan. Dit beheers
my gedagtes, woorde en dade. So is ek.

Die ou mens is die verdorwe aard, die sondige
natuur, die skuldige bestaan van die mens. Dit word oud genoem
omdat dit wys op my oorspronklike toestand sedert die sondeval.
So is ek van nature. So was ek voor my bekering. Ek het die ou
mens as ’n kleed gedra. My uniform het my gewys as ’n
dienaar van satan. Sonder God, in diens van die sonde.

Die waarheid van die evangelie leer ons egter
dat die sondige bestaanswyse afgelê moet word. "Soos die
waarheid is in Jesus: dat julle, wat die vorige lewenswandel
betref, die oue mens moet aflê." Gemeente, uit hierdie
woord sou ’n mens die indruk kan kry dat dit almal nog moet
gebeur. Tog gaan Paulus daarvan uit dat die aflegging van die ou
mens reeds begin het. Die ou mens moet afgelê en die nuwe mens
moet aangetrek word. Dit was en is die onderwys van die evangelie.
Dis ’n bevel wat in die verlede en in die hede klink. Dit
het ook metterdaad begin gebeur in die lewe van hulle wat aan die
evangelie gehoor gegee het.

So kan Paulus in ’n parallel gedeelte uit
Kol 3 skryf: "Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue
mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens
beklee het. Paulus sien dit as iets wat reeds gebeur het in die
lewe van die gelowiges. So kan ek ook wys op Rom 6:6 waar Paulus
skryf: "aangesien ons weet dat ons oue mens saam gekruisig
is." Dit het reeds gebeur. Wanneer het dit dan gebeur?
Heilshistories gesien het dit plaasgevind met die kruisiging en
opstanding van Jesus Christus, ongeveer 2000 jaar gelede. Die
praktiese toepassing daarvan in die tyd geskied wanneer die
Heilige Gees ons wedergebore laat word en ons dus metterdaad gaan
glo. Deur geloof kry ek deel aan Christus se dood en opstanding.
Daarmee het ek in prinsipe die ou mens afgelê en die nuwe mens
aangetrek.

Broeders en susters, in Jesus Christus het ek
as gelowige ’n nuwe staat van lewe ontvang. Ek staan nou in
die diens van God. Ek behoort aan Hom. Nie langer in diens van
die sonde nie, maar in diens van die geregtigheid. Vanuit hierdie
ryk posisie roep Paulus ons op om dit te wys in ons lewe. U nuwe
staat moet u stand word. Dit moet in u daaglikse lewe vorm kry.
Daarom die blywende oproep van die evangelie om die ou mens af te
lê en ons met die nuwe mens te beklee. Daarom die oproep: lê
die leuen af ens. U het die ou mens afgelê, u het die uniform
van Christus aangetrek, wys dit dan in u lewe. Lê metterdaad die
sonde af. Laat die een wat steel, nie meer steel nie. Laat daar
geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie. Alle bitterheid en
woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder
word, saam met alle boosheid (verse 28-32). Hier hoor u die
oproep tot daaglikse bekering. Bekering is nie ’n saak van
eenmaal bekeerd, altyd bekeerd nie. Waar bekering begin het daar
moet jy jou voortdurend bekeer. Want die sonde bly jou belaag.
Daarom wys Paulus nie slegs op wat eenmaal in Christus gebeur het
nie, maar gee hy ook ’n lewensprogram. U moet die sonde
steeds weer aflê. Dis ’n lewenslange proses. Die prinsipiële
begin moet voortvloei in jou hele verdere lewe.

En, gemeente, dit is ook nie slegs ’n
kwessie van uiterlike gedrag nie. Die feit dat jou dade uiterlik
ooreenstem met die letter van God se wet is op sigself nog geen
bewys van ware bekering nie. Kyk maar na die humanis met sy soms
voorbeeldige lewensgedrag. Bekering is iets anders as goeie,
beskaafde maniere. Dit is in die eerste plek ’n verandering
van gesindheid. Daar moet ’n innerlike breuk met die verlede
kom. Ek moet anders gaan dink en begeer. Daarom praat Paulus in
vers 23, voordat hy die bekleding met die nuwe mens noem, van
’n vernuwing in die gees van julle gemoed oftewel verstand.
Die vernuwing begin dus in my gees. Ek moet daagliks ’n
verjongingskuur ondergaan. My instelling en gerigtheid moet
steeds vernuwe word.

Van daaruit word my insig en verstand ook
anders. Voor die bekering is daar die verduistering in die
verstand, die vervreemding, die onkunde (vers 18). Ek lewe dan
sonder God, in ’n geslote wêreld, ek leef dan vir myself.
Die verstand moet dus verlig, vernuwe word. As ek Christus ken
dan kyk ek anders na die dinge. My gedagtes kom dan op ’n
ander spoor. Op die spoor van die Skrif. Dit is vir u en my
’n lewenstaak. Nie altyd maklik nie, maar wel onmisbaar. As
gevolg van die feit dat ek Christus ken en in Hom wedergebore is,
of is dit nie so nie?

Dan kan dit nie anders nie of ek sal ’n
hartlike berou daaroor hê dat ek God deur my sondes vertoorn het.
Nee, geen verdriet soos by die ongelowiges nie. Hulle ken immers
ook verdriet en spyt oor verkeerde dinge wat hulle gedoen het.
Hulle kan ongelukkig met hulself wees en skaam. Hierdie verdriet
het dikwels te doen met die gevolge van die misstap. Niemand vind
dit plesierig om die gevolge van verkeerde dade te moet dra nie.
Jy moet dan boet vir jou foute.

Die verdriet van die Christen moet egter anders
wees. Geen verdriet in die eerste plek vanweë die gevolge of
vanweë persoonlike skade nie. Dit moet in die eerste plek wees
’n verdriet vanweë die belediging van God. Deur bekering is
my lewe op God gerig, teosentries, nie egosentries nie. Ek weet
dat my sonde juis God seermaak. Daarom haat ek die sonde en vlug
ek daarvan weg hoe langer hoe meer. Ek walg daarvan.

Ken u dit, broeders en susters? Ken u die
hartlike berou daaroor dat u God deur u sondes vertoorn het? Haat
u werklik die sonde en vlug u daarvan weg? Ook die boesemsondes?
Die selfsug, die eiewilligheid, die skinder, die slapheid, die
gierigheid, die ondankbaarheid ens. Wat doen u daaraan om die
sonde te ontvlug? Om te voorkom dat u opnuut die sonde begaan?
Laat u u teregwys?

Dis waar, in hierdie lewe sal ons die
volmaaktheid nie bereik nie. Dit bly ’n stryd solank as ek
lewe. Daarom moet ek bly kies, haat en ontvlug. Dit is my
lewensprogram. Wat ek in Christus ontvang het moet in my lewe
sigbaar word. Hoe langer hoe meer. Laat u nuwe staat van lewe u
stand word.

Gemeente, by die bekering behoort nie alleen
dat ek die ou mens aflê nie, maar ook dat ek met die nuwe mens
beklee word. Dis die tweede gedagte.

Die nuwe mens is die nuwe staat van lewe, gerig
op Christus. Ek dra sy uniform. Aan my uniform kan ’n mens
my ken as een wat by Christus behoort. Ook al is die uniform nog
deur die sonde besmet. Daarom die daaglikse oproep om die nuwe
mens aan te trek. Om vir God te lewe.

Gemeente, as ons by die bekering die afsterwing
van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens noem, dan
praat ons nie van twee fases of twee trappe in die bekering nie.
Dis werklik nie so dat eers die ou mens heeltemal moet afsterf
sodat daarna die nuwe mens kan opstaan nie. Die bekering ken nie
een fase van hartlike berou vanweë die sondes en daarna eers die
fase van hartlike vreugde in God deur Christus nie. Die twee
elemente van die bekering gaan gelyk op. Hulle vorm die twee
kante van die een lewensvernuwing soos die twee kante van die een
medalje. Terwyl ek die ou mens aflê, trek ek die nuwe mens aan.
Terwyl ek my rug na die sonde keer, keer ek my gesig na God. Die
twee gaan saam op, hulle vind gelyktydig plaas.

Waarom is dit so belangrik om dit te noem?
Omdat waar die twee uit mekaar gehaal word ernstige ongelukke
gebeur. As ek die berou as eerste trap van die bekering sien, dan
loop ek die gevaar dat ek in die berou bly steek. Dan sien ek
niks anders as die sonde, my verdorwenheid en doemwaardigheid nie.
So kry jy die tobber wat sy hele lewe gebuk gaan onder die las
van die sonde. Die tobber wat Christus nie durf toe-eien nie. Die
tobber wat in feite sonder evangelie lewe. Hy sien slegs sy eie
sondes en tekortkomings. Hy weet wel dat die Bybel ook oor die
vergewing praat, maar hy durf dit nie vir homself te aanvaar nie.
Dit sou slegs vir ander mense wees, vergevorderdes, wat bo hul
sondes uitgekom het. Op die eerste gesig lyk so ’n houding
besonder nederig en beskeie te wees. Maar, gemeente, as jy beter
kyk dan sien jy dat dit tog ’n stuk ongeloof en
ongehoorsaamheid is. In plaas van om te vlug na Jesus Christus,
bly die persoon kyk na homself. Asof Christus nie juis gekom het
om sondaars te bevry nie. So word die waarde van Christus se
soenoffer verloën. So ’n lewe bly egosentries in plaas van
teosentries. Sonder God, sonder Christus. Dit het niks te doen
met bekering nie, ook nie met die eerste aspek daarvan nie.

Gemeente, as jy die twee aspekte van die
bekering uit mekaar haal, as twee fases, dan kan jy ook verval in
die ander uiterste. Dan kan jy uitkom by oppervlakkige en blye
gevoelsgodsdiens. Ek kan dan dink: ek het die eerste fase –
die fase van die berou oor die sonde - gepasseer. Ek het die
sonde ontgroei. Ek is mos bekeerd. Nou is daar slegs plek vir
hartlike vreugde vanweë die verlossing. So kom ek uit by die
optimistiese mens wat hom nie meer bekommer oor sy sonde nie. Ek
is tog reeds verlos! Niks, geen satan of sonde kan my iets doen
nie. Selfoorskatting kom egter voor die val.

Nee, beide elemente van die bekering moet
gelyktydig aanwesig wees. Hulle kan nie sonder mekaar nie. Sonder
kennis van Christus, sonder hartlike vreugde in God, kan ek
onmoontlik hartlike berou oor my sondes hê nie. Christus open
immers my oë vir die sonde. Tegelykertyd kan daar geen hartlike
vreugde vanweë die verlossing wees as ek nie eers die sonde ken
nie. Die een kan nie sonder die ander nie.

Waar beide elemente van die bekering aanwesig
is, daar kan die vrugte van die bekering tot volle ontwikkeling
kom en sigbaar word. Dit kan nie anders nie. Die nuwe staat word
hoe langer hoe meer u stand. Jy haat en ontvlug die sonde meer en
meer. Jy trek ook steeds meer Jesus Christus aan. Jy wil steeds
meer vir God lewe, die beeld van God vertoon. Daarom spreek ek
die waarheid in plaas van die leuen. Daarom werk ek liewer met my
hande pleks van om te steel. Daarom laat ek geen vuil woord uit
my mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die
nodige stigting. Daarom word ons vriendelik en vol ontferming
teenoor mekaar, vergeef ons mekaar soos God in Christus ons
vergewe het.

Nou terug na die vraag van die inleiding: is u
bekeerd? Is dit so dat dit by u meer ’n saak van u verstand
is en nie van u hart nie? Is dit so dat dit hier in die kerk kil
en liefdeloos is? Ware bekering kan nie verborge bly nie. Watter
uniform dra u, die van satan of die van Christus? Hartlike
droefheid vanweë die sonde en hartlike vreugde in God deur
Christus moet tog sigbaar wees? Hier, in u gesin, in die
samelewing? U het Christus leer ken, is dit nie so nie? Hy het u
vrygemaak van die diensbaarheid aan die sonde. Leef dan vanuit
die verlossing. In dankbaarheid, tot eer van God. Dan is die
Sondagse kerkdienste geen oorbodige luukse nie. Dan praat ek nie
vernederend oor die bybelstudie verenigings of oor die
Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn nie. Ek wil God steeds
beter leer en laat ken. Om my in die daaglikse lewe steeds beter
te kan rig op God. Dis tog jou lus en liefde om volgens die wil
van God in alle goeie werke te lewe?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)