Die Here gaan die priesterdiens in Israel suiwer.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-10-31
Teks: 
I Samuel 2
Preek Inhoud: 

1 Samuel 2:12, 18, 26, 29, 35

Ds C Kleyn - Sondag 31
Oktober 1999

Lees: 1 Samuel 2:12-36.
Sing: Ps 62:1,5; Ps 76:1,4,6; Ps
62:7,8; Ps 50:8-11; SB 29:8,9 (na kollekte).

Thema: Die Here gaan
die priesterdiens in Israel suiwer.

Die suiwering is nodig:

  1. vanweë die slegtheid van Eli se seuns;
  2. vanweë die ongehoorsaamheid van Eli self;
  3. met die oog op die gesalfde koning.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Waarom is ons vanoggend hier by mekaar? Wat is
die belangrikste van ons saamwees? Dit is om die Here te dien.
Ons praat immers van ’n erediens. Dit gaan in die eerste
plek om die verheerliking van die Here ons God. Bowendien gaan
dit om die opbou van ons, sy kinders. ’n Pragtige saak!
’n Heilige fees! Maar, gemeente, hoe maklik kan hierdie mooi
ontaard. Dit kan gebeur dat ek soms nouliks besef waarmee ek
besig is. Dit kan so gewoon word. Vanselfsprekend. En dan kyk ek
in die verkeerde rigting. Die sig op my Here God vervaag. Ek
besef nouliks dat ek met Hom te doen het. In plaas daarvan om na
bo te kyk, kyk ek slegs na wat hier benede gebeur. Ek sien slegs
mense, en nie te vergete myself nie. Die kerkdiens word ’n
pure menslike aangeleentheid. Dit gaan hier dan veral om myself
en my belewing. Nie die Here is dan nommer een nie, maar dit gaan
in die eerste plek om my. As ek self maar my deel kry. En, as ek
nie kry wat ek wens nie, dan los ek dit maar.

Gemeente, die Here bepaal ons voortdurend by
die heiligheid van sy diens. Dis nie so dat ek die diens uitmaak
nie. Die Here maak die diens uit. Hy bepaal hoe Hy gedien wil
word. En Hy laat nie toe dat mense Hom daarin verag of bespot nie.
As ek Hom daarin nie wil volg nie, dan kan ek hier voor sy
aangesig nie verkeer nie.

Dit blyk duidelik uit die geskiedenis van die
teks. God toon sy heiligheid. Hy wys tewens die rigting aan
waarin ons moet kyk: die priester-koning Jesus Christus.

Ek verkondig u: Die Here gaan die priesterdiens
in Israel suiwer

Die suiwering is nodig

  1. vanweë die slegtheid van Eli se seuns
  2. vanweë die ongehoorsaamheid van Eli self
  3. met die oog op die gesalfde koning

Ons let dus eers op die seuns van Eli, die
priesters van die Here. Hoe was hulle? Die Here verberg niks nie.
Hy is reguit: Hulle is deugniete. Hulle word letterlik seuns van
Belial genoem. Belial beteken soveel as: nikswerd, slegtheid,
verderf. Die duiwel is een stuk slegtheid, verdorwenheid –
hy is immers die bose. Daarom word die woord Belial later in die
N.T. gebruik om die groot teenstander van die Here aan te dui.
Dink maar aan wat ons in 2 Kor 6: 15 lees: "Watter
ooreenstemming het Christus met Belial, of watter aandeel het die
gelowige met die ongelowige?"

Die priesters is dus seuns van Belial. Wat
’n teenstelling tussen hul heilige amp en hul onheilige
gedrag. Hulle is juis aangestel om die heiligheid van die Here te
bewaak en die heil van die volk te bevorder. Hulle loop egter
voorop in die ontheiliging van die Here sy naam en hulle
verhinder die voortgang van die heil. Die naam deugniete, seuns
van Belial, word aangevul met die woorde: "hulle het die
Here nie erken nie." Hulle het geen lewende omgang met die
Here nie. Hulle hou geen rekening met die Here nie. Hulle maak
asof Hy nie bestaan nie.

Dit blyk ook daaruit dat hulle hul nie steur
aan die offerwette nie. God het die reg van die priesters tov die
offers vasgelê in die boeke van Moses. Daardeur kon hulle weet
watter deel van die offervleis vir hulle was. Eli se seuns steur
hulle nie aan daardie bepalings van die Here nie. Hulle bepaal
self wat hul wil hê. Kyk hoe hulle handel mbt die vleis wat die
mense na die heiligdom bring. Dit lyk niks op heilige offerandes
nie. Dis meer die werk van selfsugtige braaiers. Sodra die
offervleis kook kom die kneg van die priester met sy vleisvurk.
Hy steek dit in die pot of pan en alles wat die vurk na bo haal
neem die priester vir homself. Die seuns van Eli is blykbaar nie
tevrede met wat die Here vir hulle bestem het nie. Die Here het
naamlik die bors en die regterbout van die dankoffer vir die
priesters bestem ( Lev 7: 31-35).

Die bors moes as beweegoffer voor die aangesig
van die Here beweeg word. Die priester lê dan die beweegoffer op
die hande van die offeraar en bring sy hande onder die van die
offeraar. Vervolgens beweeg hy sy hande na vore en na agter toe.
Waarom? Om te wys dat die beweegoffer aan die Here aangebied word
en dat die Here dit weer aan die priester teruggee. So ontvang
die priester sy lewensonderhoud uit die hand van die Here. Die
seuns van Eli weier egter om uit die hand van die Here te lewe.
Hulle laat hulle nie deur God versorg nie. Hulle sorg vir hulself.
Hulle neem wat hulle met hul vurk kan gryp, sonder om ag te gee
op die deel wat God vir hulle bestem het en sonder om die deel
voor die Here te beweeg as teken dat hulle dit uit die hand van
die Here ontvang. Daarmee beroof hulle nie slegs die Here nie,
maar ook die offeraar en hulle wat vir die offermaaltyd genooi is.

Uit die slot van vers 14 blyk dat dit geen
uitsondering is nie. Ons lees immers: "So het hulle met al
die Israeliete gedoen wat daar, in Silo, gekom het." Dit was
blykbaar hul gewoonte.

Broeders en susters, nog ernstiger is die
volgende misdryf. Volgens die wet moet die vet altyd eers op die
altaar verbrand word. As ’n vuuroffer tot ’n lieflike
geur vir die Here. Voor die plegtige handeling eis die priesters
egter ’n deel van die vleis vir hulself op. Hulle wil die
vleis braai. Hulle hou nie van gekookte vleis nie. Daarom eis
hulle die vleis voordat dit in die kookpot beland.

Hierdie handelswyse bly nie sonder protes nie.
Die protesterende offeraar kom vir die voorgeskrewe regte van die
Here op. "Laat hulle net eers die vet aan die brand steek."
Dit gaan daaroor dat die Here eers sy deel ontvang en dat die
priester daarna aan die beurt kom. Die protesterende offeraar
betwis dus nie die reg van die priester nie. Inteendeel, baie
rojaal sê hy: "neem dan vir jou soos jou siel begeer."
Hierdie skriftuurlike protes word egter nie geduld nie. Die
versoek van sopas word ’n bevel: jy moet dit nou gee; en so
nie, dan neem ek dit met geweld. Die offeraar word gedwing om dit
te gee. So word die hele offerdiens in die tabernakel ontheilig.
En dit juis deur mense wat aangestel is om die regte van die
heilige God te bewaak.

Die kerkleiers wat beter moet weet en wat
’n voorbeeld moet gee, moet tereggewys word deur eenvoudige
lidmate. Maar hulle duld geen teenspraak nie, ook al kom mense
met die woorde van God self. Hul amptelike ontrou teenoor die
Here bereik sy hoogtepunt in ’n onbeperkte, normlose hiërargie.
Wie vir hulle nie wil buig nie, moet dit maar voel. Dan is hulle
bereid om magsmiddels te gebruik. Die gevolg van die normlose hiërargie
is dat die offerdiens steeds meer verag word. Wanneer die
ampsdraers die norme van die Here negeer dan kan ’n mens
verwag dat die normbesef van die kerkvolk ook minder sal word. As
ampsdraers nie meer waak oor die heiligheid van die diens van die
Here maar voorgaan in die ontheiliging daarvan, wat kan ’n
mens verwag. Die veragting van God en sy woord neem hand oor hand
toe. Is dit nie iets wat ons sien in die kerklike ontwikkelinge
in ons eie land nie? Dit was ook die oorsaak van die groot
Hervorming van die 16e eeuw.

Hoe is dit in ons eie kerkgemeenskap? Neem ons
die norme van die Here ernstig op? Dien ons Hom werklik soos Hy
gedien wil word? So nie, dan sal dit van kwaad tot erger gaan.
Waar die tug nie meer funksioneer nie daar neem die normverlating
en eiewilligheid steeds meer toe. Elkeen doen wat reg is in sy
eie oë. Dit maak nie saak wat in die Bybel staan nie.

Gemeente, die seuns van Eli maak dit nog erger
deur gemeenskap te hê met die vroue wat dien by die ingang van
die tent van samekoms. Die heiligdom van die Here lyk soos ’n
Kanaänitiese afgodstempels met sy tempelprostitusie. Alles moet
wys na die offer van die komende Christus. Maar die priesters
verhinder die sig op die komende Christus. Hulle is slegs geïnteresseerd
in vleis vir eie gebruik en in vroue. Hulle is slegs
geinteresseerd in hulself. Die erediens het verval in ’n
goddelose mense-diens.

Maar hoe is dit dan met hul vader, Eli die hoëpriester?
Dit wil ons sien in die tweede punt.

Eli sien dat dit verkeerd gaan. Hy keur die
handelswyse van sy seuns af. Luister maar na die verse 23 &
24: "Waarom doen julle sulke dinge, dat ek van hierdie hele
volk julle slegte dinge moet hoor? Dit moenie wees nie, my seuns,
want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie; julle maak dat die
volk van die Here oortree." Eli is bewus van die gevaar van
besmetting. Die kwaad werk deur na die volk toe. Daarom verwyt hy
sy seuns dat hulle deur hul slegte voorbeeld ander tot sonde
verlei. Uitstekende woorde van Eli.

Dis ook goed wat hy sê oor die regspraak van
God in vers 25: "As mens teen mens sondig, dan beslis die
owerheid oor hom, maar as ’n mens teen die Here sondig, wie
sal dan vir hom as skeidsregter optree?" As jy teen God
sondig dan het jy met God self te doen, met sy oordeel. Dan is
daar niemand wat tussenin kan tree nie. Sonder berou en bekering
wag slegs die oordeel van die Here. Die vraag van Eli is dus
dreigend van aard en kom hierop neer: deur die wet van God te
verag kom julle onder die oordeel van God. Ernstige woorde van
Eli. Wie durf in ons geëmansipeerde tyd nog so iets te sê teen
mense wat God se wette oortree? Baie mense, ook baie ampsdraers,
vind sulke taal te skerp. Tog durf Eli sulke woorde te uit
teenoor sy seuns.

Maar, broeders en susters, hoekom beskuldig die
Here Eli dan daarvan dat hy sy seuns eer bo Hom? Eli het
inderdaad goeie woorde tot sy seuns gespreek. Sy fout was egter
dat hy dit by woorde gelaat het. Hy het wel met sy woorde
afgekeur, maar daarna het hy oorgegaan na die orde van die dag.
Miskien moet ons selfs uit vers 29 konkludeer dat hy ook geëet
het van die gesteelde offervleis. By Eli ontdek ’n mens nie
’n heilige toorn teen die ontheiliging van die diens van die
Here nie. In feite laat hy sy seuns maar aangaan met hul
goddelose handel. Dit beteken: hoe vroom sy woorde ook mag klink,
Eli handhaaf self nie die woord van die Here nie. Hy weier die
bediening van die tug. Volgens die wet sou sy seuns gedood moet
word. Hulle moes uit hul volksgenote uitgeroei word.

Deut 13, onder andere, leer ons dat jy in die
beoefening van die tug niemand mag ontsien nie, selfs nie jou eie
kind, vrou of vriend nie. Eli moes selfs bereid wees om die
eerste steen te werp teen sy goddelose seuns. Dis natuurlik
’n baie moeilike saak maar die heiligheid van die Here het
dit geëis. Die kwaad mag nie getolereer word nie, maar moet uit
die midde van God se volk uitgeroei word. Sodat die volk dit sal
hoor en die Here sal vrees en nie meer so ’n verkeerde ding
sal doen nie.

Eli is bewus van die gevaar van besmetting.
Sonde wat getolereer word, werk deur sodat die volk tot sonde
verlei word. Daarom het hy sy seuns daaroor aangespreek. Die
enigste middel om die voortwoekering van die sonde te keer wou
Eli egter nie hanteer nie. Hy het geweier om die kwaad uit die
gemeente uit te ban. Geen tug in die kerk is die ondergang van
die kerk. Die kwaad kan dan immers voortwoeker met verwoestende
krag. God spreek duidelike taal. Die kwaad mag nie getolereer
word nie. Vandag hoef ons in die kerk nie die doodstraf toe te
pas, soos in die Ou Testament nie. Maar die reël bly geld:
"Verwyder tog die slegte mens onder julle uit." (1 Kor
5:13).

Eli sit sy woorde nie om in dade nie. Hy ontsê
sy seuns nie die toegang tot die heiligdom nie. Hy dryf hulle nie
uit nie. Hy roei hulle nie uit die midde van sy volksgenote nie.
Terwyl hy juis die aangewese persoon daarvoor is. Hy is immers
rigter en hoëpriester! As rigter moet hy die reg van die Here
verdedig en handhaaf. As hoëpriester moet hy die heiligheid van
die diens van die Here bewaak. Hy laat egter sy seuns aangaan. Hy
wys homself as ’n onregverdige rigter en ’n onwaardige
hoëpriester. Hy eer sy seuns bo die Here.

Gemeente, deur sy ongehoorsaamheid is Eli self
skuldig aan die ontheiliging van God se naam en heiligdom. Daarom
sê die Here vir hom: "Waarom verag julle my slagoffer en my
spysoffer wat Ek in my woning beveel het, en eer jy jou seuns
meer as vir My deur julle vet te voer met die beste van elke
offergawe van my volk Israel?" (1 Sam 2: 29). Wie nie die
nodig maatreëls tref om die sonde teen te gaan nie, word self
verantwoordelik gestel. As ek ’n broeder of suster in die
gemeente sien volhard in sonde en ek laat hom of haar gaan, dan
dra ek ook skuld vir die sonde. Iemand wat vermaan moet wel weet
wat hy doen. Hy mag nie terugskrik vir die konsekwensies vir die
vermaan nie. Jy kan nie eindeloos deurgaan met die vermaan sonder
verdere maatreëls nie. Doen jy dit wel dan word jyself ook
skuldig aan die ontheiliging van God se naam ondanks al jou mooi
woorde.

Die sonde word aan Eli en sy huis toegereken.
Die huis van Eli sal in die toekoms uitgesluit word uit die
priesterdiens. "Want die wat My eer, sal Ek eer; maar die
wat My verag, sal veragtelik wees." (vers 30). Die seuns van
Eli sal in die bloei van hul lewe sterwe. Niemand sal ’n hoë
leeftyd bereik nie, behalwe Abjatar. Eli self sal die begin van
die oordeel belewe naamlik die dood van sy seuns en die
wegvoering van die ark deur die Filistyne.

Maar gemeente, die Here laat sy heilswerk nie
stukkend maak nie. In sy oordeel oor die ontaarde priesterdiens
klink tog weer die evangelie deur. "Ek sal vir My ’n
getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en in
my siel is, en Ek sal vir hom ’n bestendige huis bou, sodat
hy al die dae voor die aangesig van my gesalfde kan wandel."
(vers 35). Die toekoms van God se volk het op die spel gestaan.
Die diens van die versoening kon geen goeie voortgang vind nie.
Die goddeloosheid van Eli se seuns was ’n belemmering. En
vanweë Eli se ongehoorsaamheid het daarin geen verandering gekom
nie. God gaan egter self ingryp. Hy sal die belemmerings verwyder.
Hy sorg vir die voortgang van sy heil. God self sal sorg vir
’n priester op wie Hy kan staatmaak. ’n Priester wat
nie sal doen wat reg is in sy eie oë nie, maar wat sal doen wat
God hom gee om te doen. Daarom sal die Here vir hom ’n
bestendige huis bou.

Waarom is die vernuwing van die priesterdiens
so belangrik? Die Here wil na sy gesalfde koning toe. Die
moederbelofte van Gen 3:15 moet uitgewerk word. Langs die
gesalfde koning moet daar ’n troue priester wees. Alleen
’n troue priesterdiens met sy offers, gebede en seën kan
’n vaste grondslag aan die koningskap gee. Alleen troue
priesterdiens maak die koningskap effektief. So word die koning
gesterk en toegerus tot sy hoë roeping. So word hy voortdurend
bepaal by die opdragte van sy hemelse Opdraggewer. Die gesalfde
koning moet immers in die naam van die Here die volk regeer.
Alleen so kan daar die beloofde koninkryk van geregtigheid en
vrede kom.

Gemeente, die Here is daarmee al besig op die
oomblik waarop Hy die oordeel oor Eli se huis aankondig. Let maar
op die verskillende berigte oor die jonge Samuel. Berigte wat
duidelik wys dat God se werk voort gaan. Daar in die ontaarde
heiligdom te Silo stap ’n jong seuntjie rond, omgord met
’n linne-skouerkleed. Daar verrig hy sy daaglikse take,
onder toesig van Eli. Van weinig betekenis? God sal van die klein
begin iets groots maak. So gaan God werk aan die reformasie van
die kerk en die koms van sy gesalfde. Teenoor die afdraande lyn
van Eli se huis lees ons van die opkoms van Samuel. "Maar
die seun Samuel het toegeneem in grootte en in guns by die Here
sowel as by die mense." (vers 26).

God se werk gaan voort. Eers deur middel van
Samuel ’n profeet-priester na God se hart. Daarna deur
middel van Sadok, die profeet wat in sy geslag tot aan die grens
van die nuwe testament toe die priesterdiens mag vervul. Daar kom
’n permanente priesterskap wat die koningskap mag begelei.
Die volmaakte is daarmee egter nog nie bereik nie. Beide geslagte,
die priesterlike en die koninklike geslag kom tot verval. God se
volk moet bly uitsien na die volkome verlosser Jesus Christus,
die groot hoëpriester oor die huis van God. Hy het gekom heilig,
onskuldig, onbesmet en afgeskei van sondaars. Ons Priester-Koning
wat, alles volbring het, en nou as Priester sit op sy troon. Op
Hom mag u sien. In Hom ontvang u alles wat tot u heil nodig is.
Bly u op Hom rig ook hier in die erediens.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)