Die Here laat Hanna juig oor die voortgang van sy verlossingswerk.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-10-24
Teks: 
I Samuel 2
Preek Inhoud: 

1 Samuel 2:1-11

Ds C Kleyn - Sondag 24
Oktober 1999

Lees: 1 Samuel 1:24-2:11;
Lukas 1:46-55.
Sing: Ps 75:1; Ps 75:3,4; Ps 105:5;
SB 1:1-3; SB 1:4-6; Ps 69:12-14.

Thema: Die Here laat
Hanna juig oor die voortgang van sy verlossingswerk:

  1. Sy jubel in die Here;
  2. Sy jubel oor die styl van God se koninkryk;
  3. Sy jubel oor die teokratiese koningskap.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Netnou het ons gesien hoe Marthen van der Eems
gedoop is. Broeder & suster van der Eems mog hierdie seuntjie
van die Here ontvang. By die doop het hulle as ‘t ware hom
weer aan die Here opgedra. Hulle het erken dat hy nie in die
eerste plek ’n kind van hulle is nie, maar dat hy in die
eerste plek ’n kind van die Here is. Straks mag hulle egter
rustig met die kind huis toe gaan. Om hom te versorg en groot te
maak. In die daaglikse praktyk bly hy dan ook hul kind.

Hoe anders het dit gegaan met die seuntjie van
Hanna. Aanvanklik kon sy geen baba kry nie. Maar toe God haar op
haar gebed ’n seun gegee het, het sy hom aan die Here
afgestaan. Die eerste jare het sy hom nog versorg. Die kindjie
kon immers nog nie sonder die voeding en versorging van sy moeder
nie. Maar wanneer die kind drie of vier jaar oud is, bring sy hom
na die heiligdom van die Here om hom vir goed af te staan.
Probeer om dit u voor te stel: jy laat jou kleuter agter in God
se huis. En dit in ’n omgewing waarin met die diens van die
Here die spot gedrywe word. Dink maar aan die priesters Hofni en
Pinehas wat deugniete genoem word. Sou jy jou seuntjie daar
agterlaat? Hanna het dit gedoen in geloof, in ooreenstemming met
haar gelofte. Haar kinderloosheid het sy immers ervaar as ’n
stuk onmag om die ontstellende deformasie van die volk te kan
bestry. Sy wou diensbaar wees aan die koms van God se koninkryk.

As haar seuntjie dan sover is, bring sy hom na
die heiligdom. Sy staan hom af aan die Here. Sy weet dat God hom
kan en wil gebruik. Hoe die Here hom sal gebruik weet sy op
daardie oomblik nog nie presies nie. Maar wanneer sy haar
seuntjie in die heiligdom agterlaat dan maak die Here haar ryp
vir ’n profetiese lied. ’n Verhewe lied waarin sy sing
van God se magtige ingryping. Daar wil ek dan vanoggend oor preek
as ek u verkondig:

Die Here laat Hanna juig oor die voortgang van
sy verlossingswerk:

  1. Sy jubel in die Here
  2. Sy jubel oor die styl van God se koninkryk
  3. Sy jubel oor die teokratiese koningskap

Wanneer Hanna haar seun aan die Here afstaan
dan sing sy. Waaroor sing sy? Ek noem enkele dinge: "Die
boog van die helde is verbreek; maar die wat gestruikel het, is
met krag omgord. Die Here maak dood en maak lewend. Die Here maak
arm en maak ryk. Hy rig die geringe op uit die stof … om
hulle te laat sit by die vorste. Die wat met die Here twis, word
verpletter; oor hulle donder Hy in die hemel; die Here oordeel
die eindes van die aarde, en Hy gee sterkte aan sy koning en
verhef die horing van sy gesalfde."

Hanna sing van verlossing asof dit reeds
aangebreek het. Sy sing van die oorwinning oor God se vyande. Sy
sing tot slot van die koning asof hy daar reeds is. Pas die lied
wel op haar lippe op daardie oomblik? ’n Mens sien immers
nog niks van die verlossing, van die oorwinning en van die koning
nie. Die goddeloses, die hoogmoediges het nog steeds die mag en
leiding in die land. In God se heiligdom te Silo is nog steeds
die slegte seuns van Eli, Hofni en Pinehas, priesters. Die
enigste wat Hanna op hierdie oomblik kan sien is haar seuntjie
wat sy in God se heiligdom agterlaat. Is hierdie lied dan wel op
die regte tyd en plek?

Tog sê die Bybel nadruklik dat Hanna die lied
geuit het toe sy haar seuntjie Samuel te Silo agtergelaat het:
"Toe het Hanna gebid en gesê…" Eers na die lied
lees ons dat Elkana en sy gesin van Silo na hul woonplek in Rama
terugkeer. Hoe kan Hanna reeds so ’n lied sing? Dit is God
wat in haar werk. Hy laat Hanna sing van sy verlossingswerk.
Reeds by die klein begin. Ja, watter verskil kan so ’n klein
seuntjie in die heiligdom maak? Tog is dit die begin van ’n
nuwe tydperk. Die begin van die tydperk van die konings. Die Gees
van profesie besiel Hanna. Die Gees laat haar haar verhewe lied
sing. Die Gees bring by haar in herinnering die woorde van ’n
ou lied. Hanna gryp naamlik terug na die lied van Moses wat ons
lees in Deut 32. Moses moes die lied opskryf en aan die kinders
van Israel leer. Ons sou die lied van Deut 32 Israel se volkslied
kan noem. Dit is egter wel ’n vreemde volkslied. Die Here
voorsien dat die Israeliete in Kanaän afvallig sal word. Daarom
laat Hy Moses sing van deformasie, maar ook van reformasie, van
verlating deur die Here in toorn, maar ook van terugkeer van die
Here tot verlossing. Die inhoud van die lied moet die Israeliete
tot inkeer bring. Dit moet teen hulle getuig.

Die Here laat Hanna na die lied teruggryp..
Wanneer die eerste periode van Israel se volksbestaan in Kanaän
afgesluit gaan word, gryp sy terug na die lied wat by die begin
daarvan gesing is. Dit blyk uit verskillende uitdrukkings wat sy
in haar lied gebruik. Dink maar aan die aanduiding van die Here
as rots, iets wat in die lied van Moses 5 keer voorkom, en aan
die woorde: die Here maak dood en maak lewend. Tog lê die
verwantskap tussen beide liedere dieper. Dit lê in die sterk
geestelike verwantskap. ’n Lang tyd het verloop sedert die
intog. Die volkslewe is totaal ontwrig. Hanna profeteer van die
vervulling van Moses se lied. Ja, sy gaan nog ’n stap verder.
Sy sing immers ook van die komende koning, wie se horing verhef
sal word.

Hanna gryp ver uit bo haar persoonlike
belewenisse. Tog klink haar persoonlike ervaringe daar deurheen.
"My horing is hoog in die Here … Selfs die onvrugbare
het sewe gebaar, maar sy wat ryk aan kinders was, het verwelk
… Die Here maak dood en maak lewend" sing Hanna. Was sy
nie soos ’n dooie tak nie. Maar die Here het dit lewend
gemaak en tot bloei gebring. In die gawe van ’n seun wat
’n besondere plek gaan inneem in Israel. En Peninna? Sy het
gelyk op ’n trotse ma van seuns en dogters, vol lewe. Maar
die glans het uit haar lewe verdwyn toe Hanna uit haar
vernedering verhoog is. Teenoor die lewensglans van Hanna verwelk
Peninna se lewe.

Hoe ervaar Hanna hierdie groot omwenteling in
haar lewe? Gaan sy haar verhef teenoor Peninna en haar wreek vir
al die smaad wat sy haar aangedoen het? Gaan sy trots roem in
haar seuntjie? Niks daarvan nie. Sy waarsku in haar lied juis
teen hoogmoedige of vermetele taal. "Want die Here is ’n
God van diepe kennis, en deur Hom word die dade beproef….Die
Here maak dood en maak lewend… Die Here verneder, ook
verhoog Hy." Wie wil roem moet dus in die Here roem. So
begin Hanna ook haar lied: My hart jubel in die Here. Sy gaan nie
volkome op in haar moedergeluk nie sodat sy alleen oog het vir
haar spesiale kind nie. Sy plaas haar moedergeluk in die regte
perspektief. Haar kind as sodanig is nie die eintlike bron van
haar vreugde nie, maar haar troue Verbondsgod. Hanna wend haar
blik van die groot geskenk na die Gewer en gee Hom die eer wat
Hom toekom.

Die aanleiding van haar vreugde is dat die Here
haar horing verhoog het. Die horing is die beeld van krag.
Wanneer God iemand se horing verhef dan beteken dit dat God sy
krag vermeerder en hom oor sy vyande laat seëvier. God het Hanna,
die swak en kwetsbare vrou, sterk gemaak. Hy het hierdie vrou wat
haar onvrugbaarheid as ’n stuk onmag ervaar het, bekragtig
en vrugbaar gemaak vir die stryd van die Here.

Hanna se hart is vol daarvan. Daarom loop haar
mond daarvan oor. Ten aanhore van haar vyande juig sy van God se
groot werke. Sodat die vyande beskaamd word en tot swye gebring
teenoor die almagtige Verbondsgod. "Niemand is heilig soos
die Here nie, ja, daar is niemand buiten U, en daar is geen rots
soos onse God nie. Spreek nie voortdurend alte hoog nie, laat
vermetele taal nie uit julle mond uitgaan nie; want die Here is
’n God van diepe kennis – Hy deurgrond selfs die hart,
niks is vir Hom verborge nie – en deur Hom word die dade
beproef – sy oordeel is beslissend, vernietigend of
bevrydend.

In dit alles sing Hanna oor meer as haar eie
lewe. Dit blyk reeds uit die feit dat sy oor vyande spreek. Sy
weet dat sy ingeskakel is in die stryd van die Here, die stryd
van God se volk. So is haar lied volop ’n verbondslied,
’n kerklied. Sy is een met God se volk. Daarom sing sy nie
slegs oor God se werk in haar lewe nie, maar oor God se werk in
die algemeen. Sy herken God se werkwyse, die styl van God se
koninkryk. So kom ons by die tweede punt. Hanna jubel in die Here
(was die 1e punt); Hanna jubel ook oor die styl van God se
koninkryk is die 2e punt.

Die Here keer die orde van die dinge om. Hy
verneder wat hoog is en verhoog wat laag is. Die Here bind Hom
nie aan menslike aansien en mag nie. Dit het Hanna self ervaar.
Die Here het haar teenoor die vernedering van Peninna verhoog.
Soos God met haar gedoen het, so doen Hy in die algemeen. Daar is
’n deurlopende styl in sy werke. En die styl sal volledig
sigbaar word in die eindoordeel, as die Here die aarde gaan rig.

Maar, gemeente, lyk Hanna nie ’n profetes
van die sosiale revolusie wat sing van die groot sosiale
omwenteling nie? Gaan God daadwerklik die sosiale verhoudings
omkeer? En moet ons ons dan ook werp in die stryd teen die rykes
en vir die armes in die samelewing? Dit is wel wat die Wêreldraad
van Kerke gestel het. Sommiges het selfs beweer dat die rykes as
sodanig deur God veroordeel sal word en dat die armes op die
laaste oordeel outomaties aanvaar sal word, ongeag of hulle God
in hul lewe erken het of nie. Beslissend is volgens hulle die
vraag: aan welke kant het jy gestaan: aan die kant van die rykes
of aan die kant van die armes; aan die kant van die uitbuiter of
aan die kant van die uitgebuite?

Is dit wat die lied van Hanna ons leer? Wat
bedoel Hanna as sy sing van rykes en armes? Is dit enkel die
armes en rykes in maatskaplike sin? Wat merk u as u Hanna se lied
lees? Hanna keer haar veral teen hoogmoediges. Dit is die mense
wat hoog van hulself dink. In selfversekerdheid dink hulle dat
hulle kan doen wat hulle wil. Hulle maak asof hulle God nie nodig
het nie. Daarom sing Hanna: Spreek nie voortdurend alte hoog nie,
laat vermetele taal nie uit julle mond uitgaan nie. God sal die
hoogmoediges eenmaal van hul hoogte neerwerp. Die hoogmoediges is
dikwels ook die rykes in die samelewing.

Die armes waaroor Hanna sing is gelyk aan die
ootmoediges, die nederiges. In die Bybel kan jy die armes nouliks
onderskei van die ellendiges, die ootmoediges. Dit is die mense
wat hulle afhanklikheid van God erken. Hulle het nie ’n
groot mond nie. Hulle weet dat hulle uit hulself niks kan doen
nie. Hulle vertrou nie op hul eie moontlikhede nie, maar op die
Here. In die verbond is die houding wat teenoor die Here pas die
houding van die arme en ellendige teenoor hul meester. Hierdie
houding sal makliker wees vir ’n arme of vir iemand uit die
middelklas as vir rykes. Dis nie sonder rede dat Christus gesê
het: "Voorwaar Ek sê vir julle dat ’n ryk man
beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan." (Mt
19:23). Daarom word hulle wat in die oog van die wêreld arm of
onaansienlik is, dikwels deur God verkies.

Broeders en susters, in haar lied roem Hanna
nie in die aksie van mense nie, mense wat dink dat hulle die wêreld
moet en sal bevry van die uitbuiting van rykes nie. Dit sou
neerkom op hoogmoed wat Hanna sterk afwys. Hanna sing inteendeel
van God wat optree, van die Here wat verlossend ingryp en van die
mens wat daarop vertrou. As gelowige gryp jy nie met geweld na
jou reg nie, maar wag jy op die Here. Op sy tyd sal God reg laat
geskied, is dit nie tydens hierdie lewe nie, dan en elk geval by
die laatste oordeel.

"Die Here maak arm en maak ryk." Ja,
die Here maak ook ryk. Rykdom op sigself is nie verkeerd nie. As
ons maar ryk in die Here is, as die rykdom maar as ’n gawe
van God ontvang en gebruik word. Nie die rykdom self roep God se
oordeel oor ’n mens nie, maar die sondige manier waarop met
die rykdom omgegaan word. Hoogmoed, en nie rykdom nie, laat
’n mens val, ook al gaan die twee dikwels saam.

Die lied van Hanna predik geen klassestryd nie.
Wil u weet watter teenstelling daar is, lees maar vers 9 & 10:
"Die voete van sy gunsgenote bewaar Hy, maar die goddelose
mense kom om in duisternis; want ’n mens oorwin nie deur
krag nie. Die wat met die Here twis, word verpletter; oor hulle
donder Hy in die hemel." Die mense word inderdaad in twee
kampe verdeel. Aan die een kant is daar die gunsgenote wat aan
God se kant staan, op Hom vertrou en Hom na sy woord dien. God
bewaar hulle sodat hulle nie val nie. Aan die ander kant is daar
die goddeloses wat hulle nie deur die Here wil laat lei nie, wat
sy woorde negeer. Sulke eiewillige, eiewyse mense kom om in
duisternis.

Maar waarom sing Hanna dan van die hongeres wat
rus vind, van arme wat ryk gemaak word, van die geringe wat God
uit die stof rig en die behoeftige wat God verhef om hulle te
laat sit by die vorste? Hanna ken die Here as die groot Verlosser
wat werklik vir sy kinders omgee. Hy ken ons nood, ons gesug. Hy
sal verlos, Hy gee rus. Hy maak ryk. Hy verhef. Soms of dikwels
reeds tydens hierdie lewe. Maar eenmaal in volle heerlikheid as
Christus terugkom.

Gemeente, wat Hanna in haar lied sing is
tegelykertyd profesie van wat God onder sy volk sal doen. Soos
God Hanna lewend gemaak het, so sal Hy Israel uit die dood laat
herrys. Deur die magtige hand van God is Hanna se diepe smart
verander in groot blydskap. So sal Israel deur die magtige hand
van die Here verhef word oor die vyandelike magte rondom. "Die
boog van die helde is verbreek; maar die wat gestruikel het, is
met krag omgord… Die Here maak dood en maak lewend." (vers
4, 6).

Die Here laat Hanna hiervan sing by die
keerpunt in Israel se geskiedenis. Haar seun sal die weg berei
vir die koningskap. Hy sal die koningskap instel. Die geboorte
van Samuel beteken so vir Israel die morestond van ’n nuwe
dag. Daarom laat die Here Hanna se lied ook uitloop op ’n
jubelsang oor die teokratiese koningskap. Dit is die 3e punt.
"Die Here oordeel die eindes van die aarde, en Hy gee
sterkte aan sy koning en verhef die horing van sy gesalfde."
(vers 10).

Hanna rig haar oog op die Messiaanse koningskap,
wat die Here sal gee. En dit in ’n tyd van ontstellende
deformasie, in die tyd van die rigters waarin die lewe op alle
terreine vasgeloop het. Juis as sy haar afgebede seun in die
heiligdom te Silo agterlaat, laat die Here haar sing van die
beloofde koningskap. Hanna weet: die Bewaarder van Israel slaap
nie. Hy gee sy verbondsvolk nie prys nie. Dit het sy in haar eie
lewe ervaar. Hy sal verlossing gee. Hy sal ’n koning gee om
die volk te verlos van vyande, om die volk na sy goddelike wette
te regeer. Profeties sien Hanna die koning as reeds aanwesig. So
seker is sy daarvan nou sy haar seun in die heiligdom agterlaat.
Die verhoging van haar eie horing verseker Hanna van die
verhoging van die horing van God se gesalfde.

En gemeente, met die laaste woorde van Hanna se
lied is die boek Samuel geopen. Die boek beskryf immers hoe God
sy volk die teokratiese koning gaan gee. Samuel se lewenstaak sal
wees om die volk terug te lei na God en sy woord en om hul koning
te salf, eers Saul, daarna Dawid die man na God se hart, in wie
se huis God ewig sy heerskappy sal vestig.

Maria die moeder van Jesus Christus mag later
teruggryp op Hanna se lied. Sy mag ook sing van ontferming en
oordeel, van vernedering en verhoging. Want die heil waaraan God
so kragtig gewerk het deur Samuel het dan baie naby gekom: In
Maria se seun gee God metterdaad sterkte aan sy koning en verhef
Hy die horing van sy gesalfde.

Moses se lied, Hanna se lied en Maria se lied
het hul aanvanklike vervulling ontvang: Kyk jou Koning kom na jou
toe, sagmoedig en Hy sit op ’n esel. Ja, na sy versoenend
sterwe sit Hy nou aan die regterhand van die Vader en regeer Hy
oor alle dinge. U mag dan weet, nog sekerder as Hanna en Maria
dit kon weet: die volle heil sal kom, dis vas en seker. God kom
in genade en gerig. Hy verneder ook verhoog Hy. Hy maak dood en
maak lewend. Daarom sing ons met Maria ons adventsliedere. Maar
wel met ’n verhoogde toon. Want dit was Pase en Pinkster.
Die Here is besig om terug te kom. Die voltooiing van sy heil is
meer naby as ooit.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)