Die sleutelmag van die gemeente van Christus.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-10-17
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 31
Preek Inhoud: 

Sondag 31

Ds C Kleyn - Sondag 17
Oktober 1999

Lees: Mt 18:1-20; Sondag 31.
Sing: Geloofsbelydenis; Ps 19:5;
Ps 19:6,7; Ps 139:1,12 (na kollekte).

Tema: die sleutelmag
van die gemeente van Christus

Ons sien hoe die sleutels van God se koninkryk
bedien word:

  1. in die verkondiging van die evangelie
  2. in die Christelike tug

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dissipline en tug is woorde wat in ons tyd nie
baie populêr is nie. Ons wil liewer vry wees om te doen wat ons
wil. Ons wil liewer self besluit wat ons gaan doen, is dit nie so
nie?. Ons lewe in ’n tyd van vryheid en verdraagsaamheid.
Kan ons dan die sleutelmag van die kerk nog verdedig?

Dis opvallend watter plek die Kategismus aan
die sleutelmag van die kerk toeken. In watter deel van die
Kategismus word die sleutels van die koninkryk van die hemele
genoem? Let wel, in die deel wat gaan oor ons verlossing! Dis
veelseggend. U weet, die Kategismus ken drie dele: ellende,
verlossing en dankbaarheid. Wel, juis in die deel oor ons
verlossing kom die sleutelmag te sprake. Behoort dit daar wel? By
die tug dink ’n mens meestal nie in die eerste plek aan
verlossing nie. Vir ons gevoel is dit eerder hard en afstotend.
Tog gaan dit vanaand oor God se werk aan u verlossing. Die
verlossing is uiteindelik die doelwit van die tug, nie dat die
sondaar verlore gaan nie, maar dat hy gered word. God gaan tot
die uiterste, selfs tot die uitsluiting uit die gemeente, met die
oog op ons verlossing. Hy laat geen middel onbeproef nie. As daar
geen ander moontlikheid oorbly om ons van die sonde af te bring
nie, dan hanteer Hy die uiterste middel. Nie om af te stoot nie,
maar om te trek, om terug te roep tot die lewe.

Laat ons, gemeente, as ons oor die tug praat of
die tug beoefen hierdie perspektief skerp voor oë hou. Die
perspektief wat deur die veelseggende plek van hierdie saak in
die Kategismus onder ons aandag gebring word. Dit is die regte
perspektief vir die tug. Dan is daar geen rede om jou van die tug
af te keer nie, maar dan is daar alle rede om daarvan dankbaar
gebruik te maak. Dankbaar dat God geen middel onbeproef laat om
te red van die verderf nie.

Laat ons dan stilstaan by die sleutelmag van
die gemeente van Christus

Ons sien hoe die sleutels van God se koninkryk
bedien word:

  1. in die verkondiging van die evangelie
  2. in die Christelike tug

Ons is daaraan gewoond dat by die nagmaal die
erns van die viering benadruk word. Met klem word in die
nagmaalsformulier gesê: "Maar die mens moet homself beproef
en so van die brood eet en uit die beker drink. Want wie op
onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ’n oordeel oor
homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie."
Ek kan dus ’n oordeel oor myself eet en drink. Daarom is die
selfbeproewing so belangrik.

Die erns van die deelname aan die tafel van die
Here word dus dikwels benadruk. Maar hoe is dit dan as ek onder
die gehoor van die prediking kom? Baie mense dink: aan die
nagmaalstafel kan ek ’n oordeel oor myself haal, maar in die
kerkbanke onder die gehoor van die evangelie is dit heeltemal
anders. Daar sou ek nie in gevaar wees om ’n oordeel oor
myself te bring nie. Daarom het mense dikwels gedink dat dit die
veiligste was om van die nagmaalstafel weg te bly, terwyl hulle
sonder skroom of vrees onder die gehoor van die evangelie bly sit
het. Om die nagmaal te vier sou jy 100% seker moet wees dat jy
aan die beloofde heil deel het. Onder die prediking sou dit egter
nie die geval wees nie.

Broeders en susters, is so ’n sterk
onderskeiding wel korrek? Hoef jy onder die gehoor van die
evangelie nie die sekerheid van die geloof te besit nie? Is dit
so dat dit nooit ’n ongunstige gevolg kan hê om te luister
na die evangelieprediking nie? Is dit so dat jy hier nooit die
gevaar loop om ’n oordeel oor jouself te bring nie?

Besef u wel, gemeente, wat hom hier onder die
gewone diens van die woord afspeel? Is dit wel so vryblywend as
gedink word? God help ons uit die droom. Die woord van Petrus,
van die apostels en so ook van die kerk is volle erns. Dit bring
skeiding vir tyd en ewigheid.

Die Kategismus noem die verkondiging ’n
sleutel van die koninkryk van die hemele. Hier in die prediking
gebeur iets geweldigs, iets baie ernstig. Die sleutels van die
hemelryk word bedien. Hier word oopgesluit en toegesluit. U
ontvang toegang tot die skatkamers van God se ryk of u word die
toegang ontsê.

In die eerste plek word die deure wyd oopgemaak.
"Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges
… verkondig dat al hulle sondes waarlik deur God ter wille
van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat
hulle die belofte van die evangelie met ’n ware geloof
aanneem." In die naam van Christus word vanaf die preekstoel
vir u wat werklik glo die vryspraak afgekondig. Al u sondes, hoe
groot en talryk hulle ook mag wees, is vergewe. Dis geen vrome
wens nie, maar werklikheid sodra jy glo: jou sondes is vergewe.
Dit is ’n goddelike verklaring. Dit word met klem openlik
betuig. As u die belofte van die evangelie met ’n ware
geloof aanneem dan mag u met volle teue geniet van die weldaad
van God se ryk.

Gemeente, wil ek onder die prediking ’n seën
in plaas van ’n vloek ontvang dan moet ek die evangelie dus
wel in geloof aanneem. Wat geld vir die nagmaal geld ook vir die
prediking: Ek moet God se vaste beloftes deur die geloof my toe-eien.
As ek dit weier, dan bly God se skatkamers vir my toegesluit. Die
koninkryk van die hemele word immers nie slegs deur die
woordbediening oopgesluit nie, maar ook toegesluit. "Daarenteen
word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn
van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hul
nie bekeer nie."

Die hemelryk word dus vir die ongelowiges
toegesluit. Wie is dan die ongelowiges? Nie slegs mense buite die
kerk wat die evangelie negeer of brutaal verwerp nie. Dit kan ook
ek of jy wees wat trou kerk toe gaan. Dit kan keurige,
godsdienstige mense wees wat rustig onder die gehoor van die
prediking verkeer. Ja, vergeet nie dat dit in die Kategismus juis
oor hulle gaan wat onder die gehoor van die prediking sit nie.
Die skeiding word hier onder die prediking, binne die kerk
voltrek. Dit kom daarop aan dat ek my opreg bekeer. As ek my nie
van harte bekeer nie, dan verklaar die prediking vir my dat God
se toorn en die ewige verdoemenis op my rus. Skerp woorde. Baie
ernstige woorde. Woorde wat ons nie graag hoor nie. Maar volle
werklikheid as ons ons nie bekeer nie.

Wie durf dan nog te sê dat ’n mens rustig
onder die gehoor van die evangelie kan sit? Miskien wil ek wel
met rus gelaat word. Ek wil miskien nog geen beslissing neem nie.
Maar Christus laat my nie met rus nie. Vanaf die preekstoel
hanteer Hy sy tweesnydend skerp swaard. Hier kan ek die keuse nie
ontwyk nie. Die woord werk altyd wat uit – tot seën of tot
vloek. Dink maar aan wat Paulus skrywe in 2 Kor 2:14-16. Daar
praat hy oor die reuk van die kennis wat deur ons oral versprei
word. En dan sê hy:

"Want os is ’n aangename geur van
Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die
wat verlore gaan; vir die laaste ’n reuk van die dood tot
die dood, maar vir die eerste ’n reuk van die lewe tot die
lewe."

Onder die prediking is dit dus ’n saak van
lewe of dood. Hier word oopgesluit en toegesluit. Daarom is die
prediking geen vryblywende saak nie. U het hier te doen met
’n amptelike verklaring van vryspraak of van oordeel.

Miskien wil jy alles tot die eindoordeel
uitstel. Maar besef jy wel dat hier en nou die uitspraak alreeds
gedoen word. Hier staan die setels van die reg. As ’n troue
gesant van Christus spreek, dan sit hy as ‘t ware op die
regterstoel. Wat hy hier in opdrag van Christus sê is die vonnis
van vryspraak of ewige oordeel solank die persoon hom nie bekeer
nie. Dit is, gemeente, die ontsaglike erns van die prediking.
Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in
hierdie as in die toekomstige lewe oordeel.

Die Kategismus noem verder as sleutel van die
koninkryk die Christelike tug. Dit is ons tweede gedagte. Wie
moet die Christelike tug uitoefen? Is dit ’n saak van die
kerkraad? So word daar dikwels gedink en so word ook dikwels
gehandel. ’n Mens laat dit maklik oor aan die kerkraad. Laat
hulle dit maar doen.

Tog is die Christelike tug nie slegs ’n
saak van die kerkraad nie. Die tug begin juis by die gemeente.
Ook wanneer die kerkraad op ’n sekere oomblik daarby betrek
word, bly die gemeente ingeskakel. Dink maar aan die verskillende
afkondigings aan die gemeente ivm voortgaande tugoefening. Die
gemeente word daarin met klem opgeroep om vir die sondaar te bid
en hom te vermaan. Tug is ’n saak van die gemeente.

Dit was, broeders en susters, al die geval in
die Ou Testament. Die wet van Moses spreek elke lidmaat
persoonlik aan as dit sê: "Jy mag jou broer in jou hart nie
haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig berispe, sodat jy om sy
ontwil geen sonde op jou laai nie" (Lev 19:17). Die gebod om
nie te haat nie word positief vertaal as "jou naaste
vrymoedig berispe". In die kring van die verbond moet ons
elkeen op mekaar toesien en mekaar teregwys.

Dit geld nie minder vir die nuwe bedeling nie.
Die Here Jesus het daarop gewys in die Skrifgedeelte wat ons
gelees het. Daar word gepraat oor die ontbindende kragte wat die
gemeenskap bedreig. Daar word gewys op die verleidende mag van
die sonde. Binne die gemeente mag dit nie so wees dat jy mekaar
wil verby streef of oortref nie. Nee, jy behoort daar juis langs
mekaar te staan, vir mekaar te sorg, mekaar te bemoedig en
broederlik te bejeën.

Wedywering isoleer ’n mens sodat hy alleen
kom te staan. Wedywer maak my selfsugtig en sorg vir die
ontbinding van die gemeenskap. Liefde daarenteen bind saam en hou
die kwetsbare gemeenskap in stand. Die grootste vyand van die
gemeente van Christus is daarom die sonde wat as ’n
besmetlike siekte ook die ander kan aansteek. Wie so die
samelewing afbreek, die verdien ’n eweredige straf: "Maar
elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat
struikel, dit is vir hom beter dat ’n meulsteen aan sy nek
gehang word en hy wegsink in die diepte van die see." (Mt 18:6)
Wat ’n groot verantwoordelikheid dra ons dan ook as ouers
ten opsigte van ons kinders! As ek een van die kleintjies laat
struikel, van God af wegtrek, dan kan ek beter verdrink.

Broeders en susters, die rigoreuse maatreëls
van vers 8 & 9: "As jou hand of jou voet jou laat
struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af" ens laat
jou die erns van die saak sien. Wat staan hier op die spel? Dis
die ingaan in die lewe. As ek sagsinnig teenoor myself is,
teenoor die sonde in my lewe en as ek nie in eie vlees wil sny
nie, dan word ek ’n slaaf van die sonde en sal dit beëindig
in die teendeel van die lewe met God.

En wanneer ek die sonde in die lewe van ’n
broeder of suster sien binnedring? Dan mag ek dit nie laat gaan
nie. Ek word opgeroep om as ’n soekende herder te wees.
"So is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemele is,
dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie."

Wat doen jy dan wanneer jy iemand in die
gemeente in sonde sien lewe? Dink jy by jouself: dit moet hy maar
self uitsorteer? Gaan jy met ander mense daaroor praat? Sonder
dat jy die persoon self daaroor aanspreek? Ja, dit is die
maklikste pad en kom helaas dikwels voor. Wat doen jy wanneer jy
sien dat iemand hom op ’n onchristelike wyse gedra? Wys jy
die persoon af as ’n tweede rang Christen? Of spreek jy die
persoon op ’n broederlike aan, terwyl jy soek na die motiewe
en wys op die gepaste ootmoed teenoor die Here? Gaan so ’n
lidmaat – een van hierdie kleintjies – jou werklik ter
harte?

Wat doen u as u self deur ’n medelidmaat
gekwets is, as u onreg aangedoen is of seergemaak is? Sê u dan:
die broeder of suster moet dit nou self maar goed maak? Ek steek
geen vinger meer na hom uit nie. Hy moet self maar sien dat dit
in orde kom.

Wat sê Christus hiervan, gemeente? Luister
maar na die bekende reël van Mt 18: "en as jou broeder teen
jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen." In
die verbondsgemeenskap mag ons onsself nie gaan wreek nie en
’n broeder of suster wat sondig nie afstoot of afskryf nie.
Nee, selfs as ek die persoon is wat verontreg is, dan nog moet ek
my hemelse Vader voor oë hou: dit is nie sy wil dat een van
hierdie kleintjies verlore gaan nie. Dan wag ek nie tot die
persoon self terugkom nie, maar dan neem ek self die inisiatief.
Dit persoon is vir my dierbaar. Ek kan dit nie verdra dat die
sonde sy greep op hom kry. Dan kan dit nie anders nie of ek sal
probeer om die sondaar van die sonde af te bring. Die liefde soek
hom wat deur die sonde ingekapsel dreig te word op en probeer hom
te red.

Die liefde is ook barmhartig. Ek maak daar dan
geen groot ophef van nie. Ek praat met hom onder vier oë in
’n gees van sagmoedigheid. In eerste instansie hoef niemand
anders daarvan te weet nie. Dit sou die pad terug alleen maar
moeiliker maak. Gestel dat die sondaar luister, dan bly die sonde
verder verborge. Die br wat in gevaar was om verlore te gaan is
in so ’n geval gered.

As die persoon egter weier om gehoor te gee,
wat moet jy dan maak? Getuies moet daarby geroep word. "Maar
as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat
in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan."
Dit regsgeding gaan met toenemende krag voort. Betroubare getuies
neem die situasie op. Hulle trag die feite op tafel te kry. En
indien nodig versterk hulle die vermaan van die eerste broeder.
So wil die Heilige Gees nog kragtiger op die sondaar, wat dreig
om verlore te gaan, inwerk. Sodat hy gered kan word.

Broeders en susters, om dit aan die gemeente te
sê is die uiterste maatreël wat hier op aarde beskikbaar is.
Alleen op die manier kan die proses van die bewese volharding
teengegaan word. Baat ook die remedie nie, dan het die sonde
kennelik die broeder of suster in sy greep gekry. Hulle het
hulself oorgelewer aan die sonde en kan nie langer verkeer in die
ryk van God nie. Hulle lewe voortaan onder ’n ander
heerskappy, die heerskappy van die duiwel en die dood.

Daarom is daar op die kritieke oomblik slegs
een beslissing moontlik: die afskeid. "Laat hom vir jou wees
soos die heiden en die tollenaar." Die normale omgang word
gestaak. Die middele is uitgeput. Die verlore skaap het homself
nie laat vind nie en daarom moes dit kom tot die afskeid.

Hoe is, broeders en susters, u nalewing van die
reël van Mt 18? Vermaan u mekaar nog wel as brs en srs in die
Here? Let ons nog wel voldoende op mekaar en het ons wel hart vir
mekaar? Ken ons nog wel die liefde van Christus wat ons na mekaar
dryf en mekaar se redding laat soek? Ons is ’n
verbondsgemeenskap. By elke viering van die nagmaal word dit
bevestig. Die gemeenskap skep ook verpligtings. In die
nagmaalsformulier staan die woorde: Omdat Christus, ons geliefde
Saligmaker ons eerste so uitnemend liefgehad het, moet ons ook
aan mekaar liefde bewys en nie alleen met woorde nie, maar ook
met die daad.

U nagmaalsviering verplig u tot onderlinge sorg.
Ek kan dit nie verdra dat die sonde binne die verbondsgemeenskap
hom vestig nie. Soos dit nie die wil van my Vader is dat een van
hierdie kleintjies verlore gaan nie, so is dit ook by my. Hoe
verskriklik sou dit wees as een uit die verbondsgemeenskap
verlore sou gaan.

Aan die ander kant, hoe staan ek daar self
teenoor wanneer iemand my aanspreek oor ’n sekere saak? Is
ek dan liggeraak? Wys ek dit dan af as bemoeisug? So van: waar
bemoei jy jou mee, dit sal ek self uitmaak?

Broeders en susters, seuns en dogters, wees tog
dankbaar dat God wagters om jou heen gestel het. Dit is ’n
sorg van God met die oog op jou redding. Ek mag die sekerheid hê
en die veiligheid: as ek ooit mag dwaal of struikel dan is daar
die gemeenskap van die heiliges om my heen as ’n muur wat my
beskerm.

Wys die goeie sorg van Christus dan ook nie af
nie. Die sleutelmag van die kerk is daar met die oog op jou
behoud. Dit dwing jou om te kies vir God of vir die sonde. Die
sleutels open of sluit. Hulle verleen toegang tot die heil van
God se ryk of hulle ontsê die toegang. Hulle verkondig vryspraak
of oordeel.

Hoe gaan u/jy straks huis toe: vrygespreek, met
die goddelike verklaring: jou sondes is vergewe of met die vonnis:
God se toorn rus op jou omdat jy weier om jou te bekeer? In naam
van Christus verkondig ek julle: Laat julle met God versoen.
Aanvaar sy heil en troosryke woord. Verhard jou nie, maar laat
jou lei.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)