Geen aansien van die persoon in Christus se gemeente nie

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-10-11
Teks: 
Jakobus 2
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Jakobus 2:1-13

 

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; SB 49:1,6,7; Lesing van die Wet; Psalm 41:1,2;
Skriflesing: Levitikus 19:13-18; Gebed; Kollekte; Psalm 82; Teks: Kakobus
2:1-13; Preek; Psalm 112:5,6,9,10; Dankgebed; SB 1: 3,4,5,6; Seën

PREEK

Broers
en susters, gemeente van die lewende God

Jakobus
is die man wat steeds weer vir die gemeentes wys wat die geloof in die Here
Jesus prakties beteken. Hy ken sy tyd, hy ken sy mense, hy weet wat die swak
plekke is en wys dit baie duidelik aan.

Hy
het aan die einde van hoofstuk een daarop gewys, dat egte diens aan God beteken,
dat jy jou oor die swakkes in die samelewing ontferm. Dat die gemeente omsien na
die weduwees en wese in hulle midde.

Juis
as dit om die armes en onaansienlikes gaan, dreig ook in die kerk ‘n gevaar.
Die gevaar van die aansien van die persoon. Jy beoordeel die ander op sy
uiterlike, op sy rykdom, op sy aansien, op sy verlede, op sy kerklike afkoms, op
sy skerp verstand, op sy velkleur. As dit, of ook nog ander uiterlike sake, die
manier is waarvolgens ons mense beoordeel en hulle plek in die kerk bepaal dan
het die aansien van die persoon in Christus se gemeente gewen.

Die
Heilige Gees sê nou dadelik in vers 1, dat in die kerk geen aanneming van die
persoon mag bestaan nie. ‘n Mens mag nie op Sy uiterlike heerlikheid beoordeel
word nie. Om dit met krag te wys skryf Jakobus in vers 1 van : die geloof in
onse Here Jesus Christus die Here van die heerlikheid.  As
‘n mens na die werklikheid kyk is die Here Jesus die heerlike. Hy het alle mag,
alles staan onder Sy gesag, alle eer en rykdom behoort aan Hom. Elke mens se eer,
rykdom en heerlikheid is vir Hom so klein. Niemand kan hom daarop teenoor Hom
beroep nie. Daarom mag die aansien van ‘n persoon verseker nie in Sy gemeente
bestaan nie. Wat dit beteken sien ons nou in die vervolg van die preek

Ek
verkondig vir julle die Here se Woord onder die tema:

GEEN
AANSIEN VAN DIE PERSOON IN CHRISTUS SE GEMEENTE NIE  

Dit
mag nie bestaan nie

1.      
vanweë God se voorbeeld

2.      
volgens God se wet

3.      
want dit bring in God se oordeel

Vanweë
God se voorbeeld

Hoe
beoordeel jy mense, hoe beoordeel jy jou broers en susters? Wat is die motiewe
daarvoor in jou hart? Jakobus gebruik ‘n voorbeeld om duidelik te maak wat hy
met die aanneming van ‘n persoon bedoel.

Dit
is Sondag en ons kom as gemeente saam om die HERE te loof en na Sy Woord te
luister. Die koster en die poortwagters doen hulle werk. Voordat die kerkdiens
begin kom twee mense wat geen lidmate van die gemeente is die kerk binne. Die
een is ‘n ryk man. ‘n Mens kan dit dadelik sien. Sy uiterlike voorkoms en sy
klere wys dit. Dalk ken verskillende mense in die gemeente hom as ‘n
belangrike man in die samelewing.

Die
ander wat binnekom is ‘n baie arm man. Jy kan dit ook dadelik aan sy uiterlike
voorkoms sien. Hy het selfs nou dat hy kerk toekom geen mooi klere aan nie. Hy
is ‘n boemelaar. ‘n Mens sien dit en dalk ruik ‘n mens dit selfs.

Wat
maak ons met hierdie 2 mense? Hoe beoordeel ons hulle? Is die kans nie groot dat
ons amper dieselfde sou doen as dit wat Jakobus in sy voorbeeld sê?

Die
ryke word hartlik verwelkom. Die lidmate van die gemeente is bly dat hierdie man
die kerkdiens kom besoek, hoe mooi sou dit wees as hy ‘n lidmaat word. Hy word
na ‘n goeie plek in die kerk gebring en hy kan hom regtig tuis voel. Wat
gebeur met die arme, met die boemelaar? Kry hy dieselfde liefdevolle behandeling?
Nee,  mense in die kerk kyk hom
skeef aan. Dit voel amper so asof die mense dink: wat moet hierdie man in die
kerk. Elkeen besef dat hierdie man nie geweier kan word nie. Mense dink nie
daaroor om hom een van die beste plekke in die kerk aan te bied nie. Dis vir hom
goed genoeg om te staan of iewers by ‘n ander se voete op die grond te gaan
sit.

Die
vraag is hoe ons in so’n situasie sou reageer. Hoe maak ons as ‘n
aansienlike persoon vir die eerste keer hierdie kerk binne kom en op dieselfde
oomblik  kom ‘n arm swarte die
kerk binne? Behandel ons hulle op dieselfde manier? Verlang jy dan in jou hart
met net soveel  krag en liefde dat
die arm swarte eendag lidmaat van ons gemeente word as die aansienlike wat gekom
het?

As
ons onderskeid tussen hierdie twee mense maak op grond van aansien, rykdom of
velkleur is ons in ons hart regters wat met verkeerde motiewe, verkeerde
oorleggings werk. Dan het ons op ‘n verkeerde manier onderskeid gemaak sê die
Heilige Gees in vers 4. Dan volg ons in ons manier van beoordeling, van
onderskeid nie die HERE nie!

Die
Here beoordeel mense nie aan hulle uiterlike nie. By Hom is verseker geen
aanneming van die persoon nie. ‘n Mens sien dit baie duidelik as dit om die
armes, die swakkes in die wêreld gaan. Jakobus roep die lesers van sy brief in
vers 5 met klem op om nou mooi te luister. As die broers en susters aan wie hy
hierdie brief geskryf het, rondom hulle kyk, sien hulle nie baie rykes en
aansienlikes nie. Ons het dit al in eerdere preke oor hierdie brief gesien.
Hulle omstandighede verskil nie baie van dit wat Paulus vir die gemeente van
Korinte skryf: “Want let op julle roeping, broeders; julle is nie baie wyse na
die vlees nie, nie baie magtiges, nie biae edeles nie; maar wat dwaas is by die
wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld,
het God uitverkies om wat sterk is te beskaam” (1 Kor 1:26,27)

Die
HERE beoordeel mense nie aan dit wat hulle in die oë van mense, van die wêreld
is nie. Hoe opvallend is dit dat Christus se gemeente toe veral  
uit mense bestaan wat uit  die
sosiale en ekonomiese   onderste
laag van die samelewing kom. Die HERE het juis baie van hulle uitgekies om
ondanks hulle armoede en gebrek aan status baie ryk te wees. Ryk in God, ryk in
Christus, ryk in die vergifnis van die sondes. Ryk in die geloof wat die Here
vir hulle geskenk het. Die armes wat hulle hulp van Christus verwag, wat vir die
HERE liefhet en met hulle skuld en sonde tot Hom vlug, is in die HERE se oë
niks minder as die magtigste, rykste en aansienlikste man op hierdie wêreld nie.
Die manier waarop die Here beoordeel en behandel moet die voorbeeld wees
waarvolgens in Christus se kerk geleef word. Sy voorbeeld is vir ons die norm.

God
se kinders besef dat hulle almal arm is vanweë hulle sondes en skuld en dat
hulle net werklik ryk kan wees deur God se genade. As ‘n mens dit tot in die
diepste van sy hart besef, leer hy om aan die uiterlike van mense verby te sien
en elkeen met dieselfde liefde en respek te behandel en van elkeen te hoop dat
hy eendag ‘n lewende lidmaat van Christus se gemeente sal word en jou einste
broer of suster word.

Jakobus
wys in vers 6,7 dat die omstandighede wys dat die rykes nie vanweë hulle rykdom
‘n ereposisie in die kerk verdien nie. Dit is juis die rykes wat 
toe baie aktief was om dit vir Christus se kerk moeilik te maak. Hulle is
juis die persone wat God se kinders verdruk en selfs aanklagte teen hulle by die
regbanke ingedien het. Hulle gebruik hulle geld juis om Christus se kerk te wil
vernietig. Hulle is dit ook wat in die openbaar die Naam van Christus wat by die
doop oor God se kinders uitgeroep is, wat die Naam van die Drieënige wat by die
seën oor Sy gemeente uitgeroep word, laster. Die omstandighede van daardie tyd
regverdig op geen enkele manier ‘n besondere plek vir die rykes in die kerk
nie.

Die
gevaar van aanneming van die persoon, van partydigheid bedreig deur al die eeue
die lewe van Christus se gemeente. Dit bedreig die gemeente as dit om ons
missionêre, ons evangeliserende taak gaan. Dit kan gou gebeur dat ons nie die
armstes opsoek met die evangelie nie maar mense wat by ons plek in die
samelewing pas omdat ons eintlik die armstes nie in ons gemeente soek nie. Kerke
wat so werk dat hulle net mense van dieselfde sosiale klasse soek, leef in sonde.
Kerke wat die evangelie net vir mense van een kleur of nasie wil verkondig leef
in sonde want by hulle het die aanneming van die persoon ‘n vaste plek in
hulle lewe gekry.

Ook
as dit om die beoordeling van mekaar in die gemeente gaan is die aansien van die
persoon ‘n groot gevaar. Iemand  mag
nie meer aansien in die gemeente geniet  omdat
hy ryk of aansienlik is nie. Jy mag ‘n ander nie met ‘n sekere wantroue
benader omdat hy ‘n ander kerklike verlede het as wat die meestes in die
gemeente het nie, jy mag iemand nie met ‘n sekere afstand en wantroue benader
omdat sy vroeëre lewe vol van sondes was nie. Dit gaan daarom dat ons vandag
almal in liefde en diepe gehoorsaamheid vir Christus wil lewe. Dan ontvang ons
elkeen in die gemeente met dieselfde liefde, dan behandel ons elke broer en
suster met dieselfde hartlikheid. Wie dit nie doen leef vanuit die aansien van
die persoon en daarom in sonde. Jakobus wys ons daarop baie duidelik in vers
8-10. Ons let daarop in die tweede plek.

Volgens
God se wet

Jakobus
het met die voorbeeld wat hy gegee het elke aansien van die persoon in Christus
se kerk veroordeel. Hy wys nou daarop dat hierdie veroordeling nie net van hom
kom nie. Dit is nie een of ander stokpertjie van hom nie.

Aansien
van die persoon is regtig ‘n ernsige sonde want dit raak die hart van die
evangelie en daarmee raak dit die HERE baie diep. Die HERE se wet ken twee
pylers: Die liefde tot God en die liefde tot die naaste. Hieraan hang 
die HERE se hele wet en ook die profete. Die wet van die HERE is die wet
van die Koning. Dit
is die wet van die Koning wat volkome gehoorsaamheid vra. Die lidmate van
Christus se kerk bely dat hulle die burgers van die Koninkryk is. Wie burger van
die Koninkryk wil wees, moet ook bereid wees om volgens die wil van die Koning
te lewe. Wie volgens Sy wil lewe sal ontdek dat die lewe volgens God se wet ‘n
mens nie angstig hoef te maak nie. Die lewe volgens die wet van die Koning van
die konings stel ‘n mens juis in die egte vryheid, in die egte lewe. Jakobus
het in 1:25 die koninklike wet die wet van die volkome vryheid genoem.

As
dit om die behandeling van ander mense gaan is die groot gebod van God, ons
Koning: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself dan doen jy goed.” Hierdie
gebod het altyd al gegeld. Ook in die Ou Testament. Sien o.a. Lev 19:15-18. Die
HERE vra daarin nie net liefde vir sekere naastes nie maar vir elke mens wat
hier op aarde lewe. Die Jode in Jesus se tyd was geneig om hierdie gebod tot of
volksgenote of selfs tot ‘n deel van die volk te beperk. Dis die Here Jesus
wat in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Luk 10) duidelik maak dat
hierdie gebod elke mens as jou naaste aanwys.

Die
liefde vir elke naaste vra van ons kant om ‘n gelyke behandeling van elke
naaste. In jou en my lewe mag geen enkele partydigheid wees wat daartoe lei dat
ek die een anders behandel as die ander nie. Dit is opvallend in watter kader
Lev 19:18 staan. Ons lees daar: “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor
die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Ek is die HERE.” 

Dit
staan daar juis in die kader dat jy nie partydig mag wees nie maar jou naaste
onpartydig en gelyk as ander moet beoordeel en behandel. Sien vers 13-17.

Dit
raak die HERE diep as jy ‘n mens partydig behandel. Hy is die HERE wat dit nie
doen en nie wil nie. Sy kinders moet ook daarin Sy beeld toon. Wie nogtans
partydig en ongelyk behandel doen sonde en is in God se oë regtig ‘n
oortreder van Sy goeie wet. Is ‘n mens wat Sy liefde en wil in die wind slaan.

Ons
wat Christus se gemeente is, moet  juis
in die manier waarop ons met mekaar omgaan wys dat Christus se liefde ons
beheers.  Jesus Christus het in Sy
lewe gewys dat Hy nie volgens die uiterlik mense beoordeel het nie maar 
elkeen wat in liefde tot Hom kom Sy liefde en vergifnis geskenk. Hoe
belangrik is dit dat dit van ons wat Christus se gemeente is, afstraal wat die
Here Jesus vir ons in Joh 13;34,35 gebied: “’n Nuwe gebod gee Ek Julle, dat
julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar
liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder
mekaar het.”

Dan
leer ‘n mens in Christus se gemeente dat dit nooit om my voorkeur en om my
gevoelens gaan nie. Dan leer ek om elkeen wat die HERE vir my as broer en suster
in die kerk gee in liefde te aksepteer en te behandel. Dan kan ek nie 
meer skinder nie, dan kan ek die negatiewe van die ander nie meer in die
gemeente rondstrooi nie. Dan kan ek nie meer mense teen sekere gemeentelede
ophits nie. Dan oorwin Christus se liefde my en wil ek elke gemeentelid vanuit
Christus se liefde benader en so word die gemeente ‘n lig op ‘n berg en ‘n
heerlike voorbeeld van liefde en gelyke behandeling vir ons naaste.

Dit
is nie een of ander klein dingetjie as ons dit nie doen nie. As ons dit nie wil
doen nie is dit ‘n ernstige sonde wat om God se oordeel roep. Ons sien dit in
die derde plek.

Want
dit bring in God se oordeel

Wie
partydig is, wie ander mense vanuit vooroordele beoordeel, sondig. Die HERE ken
ons en weet hoe ons dikwels daarop reageer as vir ons aangewys word dat ‘n
sekere ding in ons lewe nie reg is nie. Ons het dan die neiging om te sê dat
dit nie so erg is nie want  die res
van ons lewe is ‘n lewe volgens God se gebod. Die Gees wys hier die
bedrieglike van so’n redenering aan. Wie partydig is, sondig en het geen
enkele verskoning nie. Wie teen sy naaste sondig, sondig ook teen die HERE. Die
HERE se wet is ‘n eenheid, dit is die een wet van die Koning. Wie teen 'n deel
van God se wet sondig, staan daarmee skuldig teenoor die hele wet. Staan
daardeur dus skuldig teenoor God en verdien Sy oordeel. Nie ‘n enkele gebod
staan los van die ander nie. Jakobus wys daarop deur 2 gebooie te noem: Jy mag
nie egbreek nie en jy mag nie doodslaan nie. Hoekom is hierdie gebooie ‘n
eenheid? Omdat die HERE wat die Koning is hierdie gebooie afgekondig het. Hulle
is ‘n deel van Sy een heilige wil.

Dit
wys ons dat aanneming van ‘n persoon, dat partydigheid nie een of ander
onskuldige oortreding van God se wil is nie. Laat die erns van hierdie
oortreding tot ons deurdring as ons lees wat Jakobus in vers 12 sê: 
“Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van
vryheid geoordeel sal word.”

Jy
en ek staan voor God as ons Regter. Sy goeie wet wys ons dat liefde vir elke
naaste Sy wil is. Dit gee  die ruimte waarin egte vryheid beleef mag en kan word. Dit
wys ons wat ‘n egte goeie lewe is. Laat dit so wees dat jy nie in die
onvryheid, in die tronk wat die hel is, kom nie omdat jy geweier het om jou
naaste lief te hê, geweier het om jou vooroordele weg te doen, omdat jy geweier
het om jou partydigheid vanweë uiterlike ding uit die pad te ruim. ‘n Mens
wat dit weier moet mooi weet dat jou onbarmhartigheid, jou gebrek aan liefde vir
die ander vir jou nie vergewe word as jy nie verander nie.

As
jy of ek in ons lewe onbarmhartig teenoor ‘n ander is, sal God se oordeel ons
in volle krag tref. Dan sal Hy Hom nie oor jou of my ontferm nie. Wie geen
liefde en barmhartigheid aan sy naaste bewys, vind geen barmhartigheid in God se
oë nie. Dan sal Christus vir jou in die laaste oordeel sê: “Voorwaar Ek sê
vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie,
het julle dit aan My ook nie gedoen nie. En hulle sal weggaan in die ewige straf,
maar die regverdiges in die ewige lewe.” (Mat 25:45,46)

Die
regverdiges is hulle wat vanuit Christus se lewe hulleself verloën het en by
Christus die liefde gevra het vir elke mens, wat gebid het om elke mens nie op
sy uiterlik te beoordeel nie maar elke naaste vanuit Christus se liefde te
benader en te behandel. Wie so wil lewe en steeds weer opnuut sy lewe wil
verander ontvang vergifnis vir die kere dat hy kort geskied het. Dan bewys die
HERE vir jou barmhartigheid vanweë Sy liefde in Christus vir jou. Wie deur God
se liefde in Christus hom oor ander ontferm het, mag weet dat die barmhartigheid
teen die oordeel roem. Die HERE verleen aan die barmhartigheid wat jy vanuit
Christus se liefde bewys het die krag om die oordeel af te wend. Wie vanuit
Christus se liefde in liefde vir sy naaste lewe spring vir ewig die oordeel vry
en deel ewig in God se onpeilbare liefde.

Laat
elke aansien van die persoon uit ons lewe geban word en laat ons as gemeente
‘n voorbeeld van egte, onbaatsugtuige en onpartydige liefde wees. Heilige Gees
heilig hiertoe die lewens van elkeen van ons persoonlik en van ons as gemeente.

AMEN         

Liturgie: 

(kyk in preek)