Geloof en werke kan nie sonder mekaar bestaan nie

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-10-11
Teks: 
Jakobus 2
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Jakobus 2:14-26

 

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; Psalm 33:7,8; Lesing van die Wet; Psalm
106:1,3,13; Skriflesing: Gensis 22, Romeine 3:27-4:6; Gebed; Kollekte; SB 38;
Teks: Kakobus 2:14-26; Preek; Psalm 26:5,8; Dankgebed; SB 43: 2,5; Seën

PREEK

Broeders
en susters, geliefdes in die Here Jesus Christus.

Jakobus
skryf opvallende woorde: “Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit
die werke en nie alleen uit die geloof nie?” Dit is woorde wat 
vir baie gereformeerdes nie lekker klink nie. Hoe is dit nou moontlik?
‘n Mens word tog juis nie deur werke nie maar deur geloof alleen gered,
geregverdig?!

Paulus
skryf vir ons: “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof
sonder die werke van die wet. Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns
toegereken nie, maar na verdienste; aan hom egter wat nie werk nie maar glo in
Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof 
tot geregtigheid gereken.” (Rom 3:28, 4:5)

Hoe
kan dit wat Paulus skryf 
en dit wat Jakobus skryf altwee in die Bybel staan en altwee waar wees?
Wie met hierdie vraag worstel is nie die enigste in die geskiedenis nie. Iemand
wat daarmee ook geworstel het is Maarten Luther. Hy het van dit o.a. gesê:
“Wie Paulus en Jakobus met mekaar in ooreenstemming kan bring, kry my doktersgraad
as geskenk.”

Laat
ons eers mooi kyk wat Jakobus in die teks vir ons sê en dan sien ons hoe dit
met Paulus se woorde in verhouding staan.

Ek
verkondig vir julle die evangelie van Jesus Christus die enigste Verlosser onder
die tema:

GELOOF
EN WERKE KAN NIE SONDER MEKAAR BESTAAN NIE

1.      
Geloof
sonder werke kan nie red nie (14-17)

2.      
Geloof
en werke staan nie los van mekaar nie. (18-22)

3.      
Geloof
met werke verbonde red. (23-26)

Geloof
sonder werke kan nie red nie.

Jakobus
het in die verse voor ons teks daarop gewys dat ‘n mens wat net die evangelie
hoor en nie doen wat die HERE sê nie in die oordeel kom. ‘n Mens wat die een
mens anders behandel as die ander vanweë uiterlike dinge sal in God se oordeel
nie barmhartig behandel word nie. God se toorn rus op hom. Jakobus sluit daarby
aan as hy nou oor die verhouding tussen geloof en werke, geloof en dade 
skryf..

Hy
vra nou eers die vraag wat dit ‘n mens help as hy glo maar dit word nie in
werke, en in dade sigbaar nie. Is dit die geloof wat ‘n mens kan red? Is dit
die geloof waardeur ‘n mens regtig voor God regverdig is? ‘n Mens kan 
baie van die leer van die Bybel weet, dit kan wees dat jy die
gereformeerde leer goed ken. Dat uit jou mond goeie gereformeerde taal kom, dat
jy ou gereformeerde stellings maak. Dit kan wees dat ‘n mens op baie punte
gevare sien en steeds weer 
daarvan praat dat ons in die gereformeerde spoor moet bly en verseker op
geen enkele punt 
mag verswak nie. Dit kan wees dat ‘n mens die eie gereformeerde, die
eie vrygemaakte tradisie baie goed ken en wil bewaar. As ‘n mens sterke,
pragtige gereformeerde uitsprake doen maar dit 
gaan nie saam met 
‘n lewe naby die HERE, dit gaan nie saam met ‘n lewe waarin ons elke
dag weer vra hoe lewe ek in die praktyk nou reg voor die HERE. As dit so in jou
lewe is, lewe jy nie in die geloof wat jou deur Christus red nie. Dan verswaar
al jou pragtige gereformeerde uitsprake net jou oordeel.

Die
wete van God se Woord en die gereformeerde leer kan en mag nie sonder die regte
lewe nie. Die egte geloof is ‘n geloof wat deur die liefde werk. Paulus wys
daarop in Gal 5:5,6: “Want ons verwag deur die Gees uit die geloof die
geregtigheid waarop ons hoop. Want in Christus Jesus het nog die besnydenis nog
die onbesnedenheid enige krag, maar die
geloof wat deur die liefde werk.” 
Die
Here Jesus wys ook daarop as Hy in Joh 15:5 sê: “Ek is die wynstok, julle die
lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy
dra veel vrug;
want sonder My kan julle niks doen nie.”

Die
egte geloof is meer as ‘n teoretiese wete, is meer as kopwerk. Die egte geloof
is die geloof wat in jou lewe, wat ‘n mens se lewe beheers, wat ‘n mens se
lewe regtig anders maak. Jakobus wys op hierdie dinge as hy met ‘n voorbeeld
kom. Binne die gemeente is ‘n broer of suster wat baie arm is. Selfs so dat hy
amper geen klere het nie. Hy het nie genoeg klere om die koue van sy liggaam te
weer nie. Hy het ook geen kos nie. Hy het regtig aan die eerste lewensbehoeftes
gebrek. Sy lewe loop daardeur gevaar. Wat is jou reaksie as so’n broer of
suster by jou kom? Is jou reaksie dan net ‘n reaksie van woorde, of werk die
geloof, die liefde van Christus dan so in jou dat jy met dade van liefde en
barmhartigheid reageer? Is jou reaksie dan: 
Hoe ellendig is dit met jou my broer, ek wens jou toe dat jy tog warm sal
kry, dat dit beter met jou sal gaan, dat jy iewers kos mag vind. Suster ek bid
vir jou hoor. Maak jy daarna jou deur toe? ‘n Mens wat so reageer, wat nie in
liefde die ander daadwerklik help nie, lewe nie uit en in die geloof nie.
Hierdie geloof is vir die lewe van elke dag nutteloos. Dit baat die persoon wat
sê dat hy glo niks nie, want God se oordeel bly oor hom lê. Dit baat ook jou
naaste niks nie want Christus se liefde stroom nie na hom toe nie. Hierdie
geloof is net  ‘n
geloof van woorde. Dit is net ‘n geloof wat die leer van die Skrif ken maar
weier om dit in liefde toe te pas.

Die
geloof wat  nie
in dade, in werke sigbaar word is dood! Dit is niks anders as ‘n lyk. Ons kom
daarop nog terug in die derde punt by die laaste vers van ons teks. Met dit gesê,
kan sommer ‘n beswaar ingebring word. Ons let daarop in die tweede plek.

Geloof
en werke staan nie los van mekaar nie

Jakobus
weet dat as hy hierdie dinge sê of skryf, sekere mense dit 
ervaar asof hy te sterk praat. Jakobus nou gaan jy tog ‘n bietjie
oorboord. Nou lê jy die klem tog verseker te sterk op die werke. Dit is tog so,
en dit moet Jakobus, en dit moet die dominee nou tog 
toegee dat by die een die leer nou eenmaal sterker is en by die ander die
werke. Dit is tog so dat altwee God se kinders, christene is. Dis tog moeilik om
altwee te hê. 
Sowel die een wat dogmaties sterker is en die ander wat veral in die
werke sterk is, kan tog 
sy geloof wys?

Die
Heilige  Gees
wys vanaf vers 18 die bedrieglike van hierdie soort gedagtes en redenerings aan.
Hy ontmasker elke redenering wat daarop lyk. Dit is nou regtig duiwels om 
te sê en te dink dat as jy die leer mooi ken maar jou konkrete lewe vir
Christus kom nie van die grond nie dat jy dan kan sê: Ek glo want ek lees baie
en ken daardeur die leer van die Skrif baie goed. ‘n Mens kan die leer van die
Bybel goed ken, hy weet en bely met sy mond dat die HERE die Drieenige God is en
hy kan dit ook op ‘n goeie manier verdedig maar sy lewe vanuit die
verbondenheid met Christus is nie daar nie. Dan is jy en ek eintlik nie anders
as die duiwels nie.

Ook
die duiwels weet baie goed dat die HERE die enigste God is. Hulle ken die Bybel
en hulle weet dit vanuit die praktyk van hulle bestaan. Die groot ellende is dat
dit hulle bestaan nie verander nie. Hulle ken die HERE en die kennis van Hom
laat hulle sidder. Hulle bewe as hulle aan Sy mag en oordeel dink maar nogtans
bly hulle as God se teenstanders lewe. Die belydenis dat die HERE een is lees
ons in Deut 6:4: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige God.” Wie
hierdie teks in sy verband lees, kom dadelik agter dat dit nooit ‘n teoretiese
belydenis mag wees of mag bly nie. Dadelik na hierdie woorde lees ons in Deut 6:
“Daarom
moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met
al jou krag.” (5) Jy en ek weet dat die liefde vir God met jou hele persoon
ook beteken dat jy met jou hele hart jou naaste leer liefhê en in alles wil
help. Wie in die Kategismus die uitleg van die eerste gebod: “Jy mag geen
ander gode voor my aangesig hê nie” lees, kom dadelik agter dat dit nie net
‘n teoretiese erkenning van die HERE as die enigste God kan en mag wees nie.
Ons lees daar o.a: “Ek moet die enige ware God reg leer ken, Hom alleen
vertrou, my slegs aan Hom in alle nederigheid en geduld onderwerp en van Hom
alleen alle goeie dinge verwag.” Dit kan nie sonder werke, sonder dade in jou
lewe nie! ‘n Geloof sonder werke is regtig dood. Dis net ‘n geloof wat werke
voortbring, wat vrug dra wat mense, wat jou en my voor God regverdig. Ons sien
dit in die derde pelk.

Geloof
met werke verbonde red.

Jakobus
gaan dit wat hy nou gesê het vanuit die Ou Testament bewys. Die broers en
susters vir wie hy skryf ken die Ou Testament goed. Hulle is in die algemeen 
Christene uit die Jode. Die meestes van hulle is nakomelinge van vader
Abraham. Let ‘n bietjie op Abraham. Wat het met hom gebeur? Hy is die vader
van alle gelowiges. Ons kan in sy lewe dan ook sien wat ‘n egte geloof is.
Jakobus wys nou op ‘n spesifieke gebeurtenis in Abraham se lewe. Een van die
moeilikste gebeurtenisse in die lewe van hierdie aartsvader.

Die
HERE het vir Abraham, volgens Sy belofte, Isak as die enigste seun van Abraham
en Sara gegee. Die HERE het belowe dat uit Isak ‘n groot volk sal voortkom
waaruit die Verlosser gebore sal word. Dan kom die dag dat die HERE vir Abraham
sê dat hy Isak moet vat en na die berg Moria moet reis en sy seun daar moet
offer. Hoe groot was die skok vir Abraham, 
dit kan tog nie want die HERE het tog belowe dat uit Isak die volk en die
Verlosser sal voortkom? 
Abraham se geloof bly nie teoreties nie. Dan sou hy gesê het dat hy dit
nie doen nie want die HERE het vroër anders vir hom gepraat.

Hoe
aktief is Abraham se geloof! Hoe hy ook nog tydens die reis van 3 dae geworstel
en in sy hart gestry het. Nogtans werk hy deur die geloof, hy doen wat die HERE
vir hom gesê het. Hy lê Isak op die altaar, hy vat sy mes en hef sy hand op om
sy seun te slag. Geloof is vir Abraham om die HERE in alles te vertrou en te
volg. Dit is die manier waarop sy geloof volkome
geword het.
Die geloof word, sê vers 22, volkome 
uit die werke.

Die
geloof  het
die werklike lewe uit die geloof nodig om sterker te word, om nie te sterf nie.
As jy kennis van die Bybel het, as jy weet wie die HERE is maar jy leef dit baie
min in die praktyk van jou lewe uit, boer jy agteruit. Dan word jou geloof
swakker en swakker. Dan voel jy of al hoe minder betrokkenheid by die HERE en Sy
gemeente of  dit
word vir jou al hoe meer net iets van jou verstand, van redeneer. Dan is jy
besig om dood te gaan. ‘n Mens se geloof 
groei juis as jy daaruit leef, as jy in jou lewe regtig as Christen lewe.
Dan sien jy al hoe meer hoe die Here in jou werk. Dan sien jy hoe God se liefde
deur jou vir mense help, hoe dit lewens van mense genees. Hoe minder ons vanuit
die geloof lewe, hoe swakker word ons geloof en hoe meer ons op ‘n lyk begin
lyk.

Abraham
was God se vriend. Die Bybel noem hom so in Jes 41:8: “Maar jy, Israel, my
kneg, Jakob, wat Ek uitverkies het, nageslag van Abraham, my vriend”. Hy is
God se vriend omdat sy geloof 
eg was. Hy het daaruit met alle gebrek 
geleef. Hy het 
vanuit die geloof, geloofswerke gedoen. Hy het as gelowige geleef. Hy het
dit nie gedoen om met werke van die wet sy verlossing, sy saligheid te verdien
nie. Hy het nie gereken nie maar hy het in liefde die HERE as Sy God gevolg. Dit
het die HERE vir hom tot geregtigheid gereken. Dit beteken dat die HERE 
vol goedkeuring en met plesier na Abraham se lewe gekyk het. Abraham wat
ook, toe alles daarop gewys het, dat hy en Sara nie ‘n enkele kind sou kry nie
nogtans op die HERE bly vertrou het. Toe Abraham so op die HERE vertrou, lees
ons in Gen 15: “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot
geregtigheid gereken.” (6)

Die
mens wat regtig vanuit geloof lewe is voor God regverdig. Alles wat hom
onregverdig maak word in Christus se bloed gewas en hy ontvang vergifnis van al
sy sondes. Dieselfde sien ons by Ragab die hoer. Ragab het haar lewe in Jerigo
aan die prostitusie gegee. As sy die verkenners van God se volk ontmoet en haar
bekeer en werklik vir die HERE wil lewe, bly dit nie ‘n teoretiese kennis van
die HERE nie. Nee, sy begin uit die geloof lewe en dit word sigbaar deurdat sy
die verspeiders wegsteek met gevaar vir haar eie lewe. Die geloof begin in Ragab
werk!

Hierdie
twee voorbeelde uit die OuTestament lei tot twee gevolgtrekkings.

Die
eerste is dit wat ons in vers 24 lees: “Sien julle dan nou dat die mens
geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?”

Jakobus
wys hier aan dat ‘n net teoretiese geloof ‘n mens nie voor God regverdig nie.
Hy wys hier aan wat ‘n egte, ware geloof is. Dit is dat ‘n mens weet wie die
HERE is, wie Jesus Christus is en weet wat Sy wil is. Daarby behoort dat daardie
mens dit in alle dinge van sy lewe uitlewe. Geloof sonder werke, sonder vrug is
nie die ware geloof nie. Paulus skryf teen mense wat sê en dink dat hulle deur
hulle werke die saligheid kan verdien. Vir hulle sê die Heilige Gees dat jy met
jou werke niks by God kan verdien nie. Net die geloof in Christus regverdig ‘n
mens vir God. Dit is die geloof 
wat leef, die geloof waarin ‘n mens vanuit blydskap vir God se werk,
vir Christus se werk wil lewe.

Hierby
sluit Jakobus se tweede gevolgtrekking aan wat ons in vers 26 lees: “Want soos
die liggaam sonder gees dood is, so is die geloof sonder die werke dood.”

Geloof
sonder geloofsdade, sonder dade van liefde vir God en jou naaste, kan pragtig en
indrukwekkend klink as jy na iemand luister maar dit is in God se oë niks nie.
Dit is ‘n lyk wat net 
verdien om in die ewige vuur verder te bestaan. Laat ons 
steeds weer die Heilige Gees bid om so in ons te werk dat ons in liefde
vir  God
en ons naaste lewe. Heilige Gees wek steeds weer die lewe van die geloof in ons.
As ons dood is wek ons dan uit hierdie dood op. Laat ons wees lewende lidmate
van Christus se kerk, ‘n lewende gemeente van Hom.

AMEN
        

Liturgie: 

(kyk in preek)