Die voorwaardes vir die viering van die Heilige Nagmaal.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-10-10
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 30
Preek Inhoud: 

Sondag 30

Ds C Kleyn - Sondag 10
Oktober 1999

Lees: 1 Kor 11:17-34; Sondag
30.
Sing: Ps 91:1,2; Ps 145:10-12; Ps
63:3,4; Ps 106:1,2,20; Ps 116;7-10 (na kollekte).

Tema: Die voorwaardes
vir die viering van die Heilige Nagmaal.

Die voorwaardes hang saam met

  1. die karakter van die nagmaal; en
  2. die karakter van die kerk.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Binnekort hoop verskillende jong mense
belydenis van hul geloof af te lê. Hulle wil toegang verkry tot
die nagmaal van die Here. Ja, om toegang tot die nagmaal te
verkry moet hulle openlik in die midde van die gemeente hul
geloof bely. Hierdie reël het ons vasgelê in art 60 van die
Kerk Orde. Daar lees ons: "Die kerkraad sal slegs diegene
wat belydenis van hulle geloof volgens die gereformeerde leer
afgelê het en wat godvresend lewe, tot die nagmaal van die Here
toelaat."

Hoe kom die kerk daarby om so ’n reël te
stel? Is dit geen bo-skriftuurlike binding nie? Op hierdie manier
word kinders en ander dooplidmate van die nagmaal weerhou. Is dit
korrek? Mag ons kinders weerhou om die nagmaal te vier? Die
kinders is tog ook deel van die gemeente? Sou dit vir die kinders
nie juis ’n baie waardevolle ervaring kan wees nie? Dit
sluit goed aan by hul belewing. ’n Kind leer immers die
meeste nie deur leerstellige betogings nie, maar deur self iets
te doen, deur selfervaring? Waarom laat ons die dooplidmate dan
nie toe tot die viering van die nagmaal nie? Hulle moet tog ook
ervaar dat hulle deel van die gemeente van Christus is? En hulle
sou tog baie kan leer van die betekenis van die nagmaal deur self
daaraan deel te neem? Waarom dan die reël: eers openbare
belydenis van die geloof, dan eers die viering van die Heilige
Nagmaal?

Vanoggend wil ek dan veral fokus op die reël
as ek u verkondig: die voorwaardes vir die viering van die
Heilige Nagmaal. Die voorwaardes hang saam met

  1. die karakter van die nagmaal; en
  2. die karakter van die kerk.

Eers dan die karakter van die nagmaal. Wat was
die verskil tussen die doop en die nagmaal? Die doop staan aan
die begin van die geskiedenis van God met ons. Die doop wys op
die eensydige begin van die verbond. Die nagmaal behoort
daarenteen by die vervolg van die geskiedenis van God met ons.
Die verbond het eensydig begin maar moet ook werklik tweesydig
word. Die mens moet ook in aksie kom, antwoord gee. Dit is nou
die tiperende kenmerk van die nagmaal. Daar is die twee partye
van die verbond aktief. In die sakrament is dit nie slegs God wat
aktief is nie, maar ook die gelowige mens. God en die mens vier
saam die nagmaal. Dit is tipies ’n sakrament van die
wederkerigheid. As ’n kind word ek na die doopvont gedra, ek
word gedoop, maar ek moet self na die nagmaalstafel toe stap en
ek moet self eet en drink. By die Heilige Nagmaal behoort die
antwoord van die gelowige.

Maar gemeente, dit kan ’n kind tog ook
doen? ’n Kind kan tog ook saam eet en drink? En ’n kind
kan tog ook glo? ’n Mens staan soms verbaas oor hoe ’n
kind van sy geloof getuig. Die Here Jesus het die geloof van
kinders as ’n voorbeeld aan sy dissipels voorgehou. Waarom
kan hulle dan nie aan die nagmaal deelneem nie?

Hier kom by dat die doop om ’n antwoord
roep. God wil so gou as moontlik die antwoord van die bondeling
ontvang. Dit mag ’n mens nie sommer uitstel nie. God se
liefde verplig ons tot wederliefde. Dit geld nie slegs vir
volwassenes nie, maar ook vir kinders. Waarom dan tog geen
toegang tot die Heilige Nagmaal nie?

Gemeente, watter eise stel God aan hulle wat
die nagmaal wil vier? Ons het daarvan gelees in 1 Kor 11. "Maar
die mens moet homself beproef en so van die brood eet en uit die
beker drink." Om die nagmaal te vier moet ek eers myself kan
beproef. In vers 31 praat Paulus oor ’n beoordeling van
onsself. Ek moet in staat wees om myself noukeurig te beoordeel.
Ek moet in staat wees om my lewe te toets aan die evangelie. En
let wel daarop: die evangelie praat van ellende, verlossing en
dankbaarheid. Al drie aspekte moet ek goed vashou. Anders gebeur
daar ongelukke. Anders beland ek by die wanhoop van die
twyfelende siele of by die hoogmoed van die sogenaamde verligte
siele.

Die evangelie praat nie slegs van ellende nie,
anders sou dit geen evangelie, geen blye boodskap wees nie. Die
evangelie praat ook en juis van die verlossing uit die ellende
deur Jesus Christus. En van die dankbaarheid wat van verlostes
gevra word.

Wel, as ek die nagmaal wil vier moet ek in
staat wees om myself te beoordeel in die lig van die evangelie
van Christus. Dan besef ek dat ek alles verbeur het en dat ek nie
sonder Jesus Christus kan nie. So sê die Kat dat hulle na die
nagmaalstafel moet kom wat vanweë hul sondes ’n afkeer van
hulself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil
vergewe is en die wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe
meer te versterk en hul lewe te verbeter. Let op die driedeling:
ellende, verlossing en dankbaarheid. Wie moet dus na die
nagmaalstafel van die Here kom? Hulle wat die volle evangelie ken
en glo, hulle wat hul ellende, verlossing en dankbaarheid ken. Is
jong kinders ryp vir so ’n bewuste geloofsaktiwiteit?

Broeders en susters, as ek die nagmaal wil vier
moet ek nie slegs myself vooraf beproef nie. Ek moet ook goed
weet waaroor dit gaan by die nagmaal. Paulus noem dat ek die
liggaam van die Here moet onderskei (vers 29). Om na die
nagmaalstafel te gaan is iets anders as by ’n vriend te gaan
eet. Ek eet daar nie sommer ’n stukkie brood nie en ek drink
daar nie sommer ’n slukkie wyn nie. Ek het daar te doen met
tekens van Christus se liggaam en bloed. En dan moet ek die
liggaam van Christus – Christus in sy self-offerande –
goed onderskei. Ek moet goed weet wat Christus se liggaam werd is.
Ek moet Christus se self offerande noukeurig na waarde skat.

Dit hang saam met die feit dat die
nagmaalsviering ’n verkondiging is, ’n verkondiging van
die dood van die Here totdat Hy kom (vers 26). As ek nagmaal vier
dan is ek besig om te preek. Daar aan die nagmaalstafel word
gepreek. In plaas van die preek van die dominee is daar die preek
van die vierende gemeente. En wat verkondig ons daar dan? Die
dood van die Here. Aan die tafel boodskap ons die waarde van
Christus se dood. Ek roep daar uit dat Christus se dood alles vir
my is. Sy dood is my lewe. Om dit te kan doen moet ek natuurlik
wel in staat wees om Christus se liggaam te onderskei en na sy
juiste waarde te skat.

Jesus het tot so ’n verkondiging opgeroep
toe hy beveel het om die nagmaal te vier tot sy gedagtenis. Ek
moet aan die tafel Christus gedenk. Wat is dit? Dit is meer as om
alleen aan Christus te dink, soos ek aan verskeie persone of
dinge uit die verlede dink. Ek kan aan verskeie dinge dink sonder
dat dit my vandag raak en sonder dat my lewe daardeur anders word.
Met die bybelse woord gedagtenis is dit anders. In die Bybel is
gedenk ’n woord wat alles te doen het met my lewe, met my
doen en late hier en nou. As ek iets gedenk dan laat ek dit as
’n lewende werklikheid in my lewe funksioneer. Dan laat ek
die dinge uit die verlede my lewe van vandag bestempel en beheers.
Wanneer ek Christus gedenk dan laat ek die offer van Christus my
lewe bepaal. Dan soek ek daadwerklik my redding by Hom in alle
dinge van die lewe.

Broeders en susters, uit hierdie Skrifgegewens
blyk dit dat ek by die nagmaal, in geloof, bewus en aktief besig
moet wees. Dit hang saam met die karakter van die nagmaal. Die
nagmaal is ’n maaltyd van die geloof. Christus se gawe is
onlosmaaklik verbind met ons gelowig besig wees. Ek moet in
geloof die brood eet en uit die beker drink. Ek moet Christus
gedenk, sy offer my lewe laat bepaal. Ek moet die dood van die
Here verkondig. Ek moet die heilsbetekenis van Christus se dood
uitroep. Ek moet die liggaam van Christus onderskei, die liggaam
erken in sy heilige en unieke betekenis.

Dit alles eis ’n sekere kennis en
geestelike onderskeidingsvermoë. Mag ek dit van jong kinders
verwag? Mag ek die geloofsaktiwiteit van jong kinders vra? Sou ek
hulle nie, as ek hulle aan die tafel sou laat gaan, bo hulle
vermoëns belas nie? Hulle moet dan immers dinge doen waarvoor
hulle nog nie ryp is nie. Dinge waarvoor hulle nog nie kan staan
nie. Die verantwoordelikheid is vir hulle te groot. Hulle is nog
nie sover in die geskiedenis van die verbond wat God met hulle
gesluit het nie. Hulle moet nog sover gebring word. Deur
opvoeding en onderrig, deur God se Gees en Woord.

Maar wanneer is ek dan wel sover? As ek
selfstandig die evangelie van Christus aanvaar. As ek vrywillig
en heel bewus instem met die verbond waarin God my opgeneem het.
Wanneer ek Christus se dood na sy juiste waarde kan skat en bely.
Wie die nagmaal vier moet dus in staat wees om belydenis van sy
geloof af te lê. Die nagmaal is self immers ’n belydenis
van die geloof. As ek nagmaal vier terwyl ek die belydenis nie
kan aflê nie dan vier ek die nagmaal op ’n onwaardige wyse.
Dan word die naam van die Here deur my ontheilig.

Maar hoe kan ons, as gemeente, weet of iemand
tot so ’n belydenis van sy geloof in staat is? Deur die
persoon na voorafgaande ondersoek, so ’n belydenis te laat
aflê. So ontvang die kerk, vir sover dit moontlik is, ’n
aanwysing dat die nagmaal waardig gevier kan word.

Daarom is dit glad nie vreemd nie dat die kerke
bepaal het dat iemand eers die openbare geloofsbelydenis moet aflê
voordat toegang verleen word tot die Heilige Nagmaal. Juis aan
die nagmaal het die belydenis van die geloof sy eie plek. Dit is
’n maaltyd van die geloof, verkondiging van die dood van
Christus.

Dit was dan die eerste waarop ons wou let: die
vereistes vir die viering van die nagmaal hang saam met die
karakter van die nagmaal. In die tweede plek wil ons sien dat dit
ook saamhang met die karakter van die kerk.

Die nagmaal is dus ’n maaltyd van die
geloof. Is dit dan geen persoonlike saak tussen God en myself nie?
Waar niemand mag tussen kom nie? Is dit wel reg dat ander mense
besluit oor my nagmaalsviering? Moet ek nie self bepaal of ek
daarvoor gereed is of nie? Waarom kan dit nie oorgelaat word aan
die persoonlike verantwoordelikheid van die deelnemers nie? So
kom ook vrae na vore oor ’n oop nagmaalstafel. Moet ons nie
elkeen wat wil, toelaat, ook gaste uit ander kerke? Moet die
tafel nie vir alle aanwesiges oop wees, sonder onderskeid nie?

Die vrae rondom kinders aan die nagmaal en die
oop nagmaalstafel hang nou saam. Ons moet die vraag beantwoord:
is die viering van die nagmaal slegs ’n persoonlike saak
waar niemand mag inmeng nie? Is dit slegs ’n saak tussen
Christus en my siel? Wat sê die Skrif?

Die N.T. sien die nagmaal duidelik as ’n
maaltyd van die gemeente. Christus het die nagmaal ingestel in
die kring van sy dissipels. Hy het dit ingestel vir die kring van
hulle wat sy naam bely. En Hy het sy dissipels aangespreek, nie
individualisties nie, maar gemeenskaplik.

In 1 Kor 11 spreek Paulus die gemeente aan. In
vers 26 spreek hy hulle bv in die meervoud aan wanneer hy sê:
"want so dikwels as julle hierdie brood eet of die beker van
die Here drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy
kom." Die gemeente is aan die nagmaal besig. Hulle spreek
hul danksegging uit. Hulle verkondig die heilsbetekenis van
Christus se dood. Hulle bely hul geloof. Dit in onvanpas om te
praat van ’n streng persoonlike saak. Om te sê: ’n
kind kan glo, daarom mag die kind ook aan die nagmaal deelneem is
’n individualistiese benadering. As ek stel: ek glo, daarom
moet ek aan die nagmaal toegelaat word, ook al het ek my nog nie
by die kerk gevoeg nie, maak ek my skuldig aan dieselfde kwaal.

Individualisme is ’n kwaad wat om hom heen
gryp. Wat ook steeds weer in die kerk kop uitsteek. Mense wat
hulle verder niks bekommer oor die gemeente nie, kom dan rustig
na die nagmaalstafel. En hoe dink die mense oor die geloof van
die kerk, die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is?
Daar word dan nie na gekyk nie. Kan dit, gemeente? Kan ’n
mens onverskillig staan teenoor die belydenis van die kerk en
tegelykertyd rustig aanskuif aan die maaltyd van die gemeente?
Kan ek anders glo en tog gesamentlik die dood van die Here
verkondig? Dit pas tog nie? Of heers onder ons soms ook die
gedagte: Ek voel dat ek in God glo – al is dit dan op my eie
wyse – daarom moet ek ook aan die nagmaal toegelaat word?
Dis individualisme deur en deur. Asof ek aan die nagmaal slegs
met Christus en myself te doen het.

Nee, broeders en susters, as ek nagmaal vier
dan doen ek dit as deel van die feesvierende gemeente. Dan
verkondig ek die dood van Christus saam met die gemeente. Ek deel
in sy vreugde en in sy verwagting. Ek bely die gemeenskaplike
geloof. En wat die gemeente bely en aan die nagmaal verkondig het
hulle saamgevat in hul belydenis en in hul nagmaalsformulier. As
ek aan die nagmaal wil deelneem dan sal ek dit moet beaam. Dan
sal ek moet weet en erken wat die gemeente oor die dood van
Christus glo en bely.

Daarom is die openbare geloofsbelydenis so mooi
as ’n vereiste vir die toelating tot die nagmaal. Dit kan
ons nie oorlaat aan die wense van kinders of hul ouers nie. Dit
is voluit ’n saak van die gemeente. Want wie tot die tafel
van die Here kom, moet saam met die gemeente bely, dws, moet die
belydenis van die gemeente vir sy rekening neem.

Wanneer ek belydenis van my geloof aflê, gee
ek nie slegs rekenskap van my persoonlike oortuiging nie. Ek bely
die geloof van die gemeente. Iemand het tereg hieroor geskryf:
"’n Mens bely die gemeenskaplike geloof van die kerk.
’n Mens bely dit so ook as sy eie geloof. Die kerk is soos
’n koor wat in die wêreld sing. Wanneer ek belydenis aflê,
gaan ek by die koor staan en dan sing ek saam."

Gemeente, wanneer ons die nagmaal as ’n
maaltyd van die gemeente raaksien, is dit vir ons ook duidelik
waarom ’n oop nagmaalstafel nie korrek is nie. Hoe moet ek
weet dat die getuienis aan die tafel eenstemmig is? Dat dit
’n eenparige verkondiging van die dood van die Here is? En
dit moet dit tog wees?

Hierby kom nog dat die nagmaal ’n heilige
maaltyd is. Dit is geen onverskillige saak hoe ek deelneem aan
die viering van die nagmaal nie. Die apostel Paulus het dit
duidelik beklemtoon in 1 Kor 11. "Wie dan op onwaardige wyse
hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig
wees aan die liggaam en bloed van die Here." (ves 27). Dan
verkondig ek die dood van die Here op onwaardige wyse. Dan sondig
ek teen die derde gebod. Dan gebruik ek die naam van die Here
ydellik. En die Here sal die een wat sy naam ydellik gebruik, nie
ongestraf laat bly nie. Daarom moet ek myself beproef voordat ek
die nagmaal vier. Om Christus se dood te verkondig is geen
kleinigheid nie. "Want wie op onwaardige wyse eet en drink,
eet en drink ’n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam
van die Here nie onderskei nie." (vers 29). Onder die
Korinthiers het dit tot gevolg gehad dat daar baie swakkes en
sieklikes was en dat ’n aantal ontslaap het (vers 30). God
openbaar sy toorn tot loutering van die gemeente.

Broeders en susters, dit is vanweë die
heiligheid van die tafel dat ons die wag by die tafel moet betrek.
Die gemeente moet daarvoor waak dat die nagmaal op waardige wyse
gevier word. Anders sou die toorn van God nie slegs oor die
persoon opgewek word nie, maar ook oor die hele gemeente. Daarmee
sou die verbond van God ontheilig word. Daarom is die openbare
geloofsbelydenis as toelating tot die nagmaal ’n goeie saak.
So word die wag by die verbondsmaaltyd betrek.

Gemeente, sou ons dit loslaat dan sou ons die
karakter van die kerk aantas. Wat is immers die kerk? Dit is
’n "heilige vergadering van almal wat waarlik in
Christus glo, wat almal hul volle saligheid in Jesus Christus
verwag en in sy bloed gewas is" (Nederlandse Geloofs
Belydenis Artiekel 27). Die kerk is ’n vergadering van
gelowiges, dws van hulle wat hul geloof bely en lewe as gelowiges.
Sondag 21 van die Heidelbergse Kategismus praat ook van die
eenheid van die ware geloof.

Wel, as dit êrens blyk, dan is dit wel aan die
nagmaalstafel. Die nagmaal staan in die sentrum van die lewe van
die gemeente. Daar laat hy hom ken as die gemeente van Christus
wat Hom erken en bely as sy enigste Verlosser.

Sou ons kinders toelaat tot die nagmaal dan kry
ons ’n ander tipe kerk. Dit word ’n soort konsumptiewe
kerk. Elkeen sou dan sy konsumpsie kom haal, sonder om enige
verantwoordelikheid op hom te neem. As ek maar brood kan kou en
wyn kan sluk. Maar ’n belydenis van Jesus se naam word nie
meer van my gevra, selfs nie aan die nagmaal, waar die belydenis
die kragtigste sou moet klink. So verloor die kerk sy karakter
van ’n gemeente wat die naam van Christus bely. Die kerk kan
dan nie meer herken word as ’n vergadering van gelowiges nie.
Dit word ’n instituut waar die heil uitgedeel word, sonder
dat die ontvangers self verantwoordelik gestel word. So kry
’n mens ook ’n kerk sonder tug. Wat bly daar dan van
die kerk oor?

Laat ons broeders en susters, dan bly wees met
die reël: eers belydenis aflê, dan toegang tot die nagmaal. So
word gewaak oor die karakter van die nagmaal. Dit is en moet bly
’n verkondiging van die dood van Christus totdat Hy kom. So
word ook gewaak oor die karakter van die kerk. Die kerk is en
moet bly ’n heilige vergadering van almal wat waarlik in
Christus glo.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)