Die uitstorting van die Heilige Gees is vir Christus se Kerk die waarborg

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-10-05
Teks: 
II Korinthiërs 1
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Pinkster

 

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; Psalm 133; Lesing van die Wet; SB 14; Skriflesing:
Handelinge 2:1-11, 2 Kor 1:15-24, 2 Kor 5: 1-6, Efese 1:7-14; Gebed; Kollekte; Psalm
16:3,4,5; Teks: 2 Kor 1:22b, 5:5b, Efese 1:14; Preek; SB 24:6,7; Dankgebed; Psalm
43: 3,4; Seën

PREEK

Broers
en susters, gemeente wat met die Heilige Gees gesalf is.

Dit
is Pinksterfees. Die heerlike fees van die uitstorting van die Heilige Gees. Dis
juis deur die Gees die fees van geloofsekerheid. Dit is nie die fees van twyfel,
nie die fees wat ons by ons innerlike lewe bepaal en daarom met twyfel te doen
het nie. Die Heilige Gees is uitgestort as God se waarborg wat vir ons altyd
weer heerlike sekerheid gee. Die Gees wil ook ons hart, ook jou gemoed in
heerlike sekerheid laat rus. Hy wil daarvoor sorg dat jou lewe nie deur
onsekerheid verteer word. Hoe erg is dit vir ‘n mens as hy steeds weer heen en
weer gegooi, as twyfel en onsekerheid sy lewe beheers. Nooit van iets seker wees
nie, steeds weer angs vir dinge ken. Die Heilige Gees maak vir God se kinders
seker dat dit wat die Here Jesus verdien het ook regtig sekere waarheid in jou
lewe is. Dat dit sekere waarheid tot in jou binneste is, dat dit sekere waarheid
is tot in die verste toekoms. Christus se werk, dit wat Hy deur Sy lyding
verdien het en in Sy opstanding uit die dood gewys het, word deur die gawe van
die Gees op die Pinksterdag gewaarborg. Ons wil daarop let as ons sien dat die
God vir ons Sy Gees as onderpand gegee het.

Ek
verkondig vir julle die evangelie van die Gees onder die tema:

 

DIE
UITSTORTING VAN DIE HEILIGE GEES IS VIR CHRISTUS SE KERK DIE WAARBORG

1.    
teenoor menslike onbetroubaarheid 
(2 Kor 1:22)

2.    
teenoor
die dood  (2
Kor 5:5)

3.    
teenoor
twyfel   (Ef
1:14)

Teenoor
menslike onbetroubaarheid

Die
Pinksterfees het in Jerusalem begin. Dis die fees waarby Israel die HERE
dank  omdat
die oes binnegehaal is. Mense is bly omdat die HERE weer genoeg gegee het om tot
die begin van die volgende oes te kan lewe. Hoe besonder is hierdie Pinksterfees.
Die hele stad Jerusalem is in beroering. Mense vertel vir mekaar wat in die
oggend gebeur het. Hulle vertel van die geluid soos ‘n geweldige rukwind,
sonder dat ‘n mens ‘n rukwind gevoel het.

Hulle
vertel vir mekaar van die tonge soos van vuur wat hulle op die koppe van
Christus se dissipels gesien het sonder dat dit hulle brand. Hulle sê vir
mekaar hoe dit gebeur het dat die Petrus en die ander apostels gepraat het en
elkeen dit in sy moedertaal verstaan het. Die hele stad is in beroering. Moet jy
maar eers daaraan dink dat op een dag 3000 mense gedoop word. Die apostels het
dit gedoen, sigbaar vir die hele stad. Hoe vol was hierdie Pinksterdag met
besondere dinge wat ‘n mens laat dink. Dit is die Heilige Gees wat op
daardie dag  alles
in beweging bring. Hy is dit wat mense ook daartoe bring om die heerlike
evangelie van die Here Jesus en dat die Gees in hulle woon 
nie vir hulleself hou nie. Hulle praat vryuit oor Christus en roep mense
op om in Jesus as die Verlosser te glo.

Een
van hulle wat niks van hierdie dinge wil weet nie en Christus bly verwerp is
Saulus. Hy meen dat Hy die HERE dien deur die volgelinge van Jesus Christus te
vervolg. Hierdie vervolger van Christus se kerk word deur die Here Jesus tot Sy
volgeling en tot verkondiger van die blye boodskap gemaak. Sien Hand 9. Een van
die plekke waar hy die evangelie mag verkondig en ‘n gemeente ontstaan, is die
stad Korinte.

Na
‘n aantal jare het die vertroue van die gemeente van Korinte in Paulus baie
afgeneem. Daar het selfs ‘n groot wantroue teenoor hierdie apostel ontstaan.
Een van die dinge waarvan hy beskuldig word is dat hy onbetroubaar is. Paulus
sou belowe het om ook Korinte op sy reis te besoek en hy het dit nie gedoen nie.
Is die gemeente van Korinte vir Paulus nie meer belangrik nie? Sonder dat hulle
vir Paulus gevra het hoekom hy nie gekom het, het wantroue en beskuldigings al
‘n plek in die harte van die gemeentelede gekry. Hoe gou gebeur dit in mense
se harte. Dit kan ook so maklik onder ons gebeur. As ‘n ampsdraer ‘n rukkie
nie by iemand gekom het nie en hy hoor dat ander mense wel besoek is, kan dit
ook sommer gebeur dat beskuldigings en verwyte gehoor word, sonder om te vra en
te weet hoekom dit so is. Hoe verdedig Paulus hom nou teenoor hierdie
beskuldigings en verwyte? Een van die dinge waarop hy hom beroep is die gawe van
die Gees vir hom en 
die gemeente van Korinthe. Nadat hy daarop gewys het dat God se beloftes
nie ja en nee is nie, dat hulle in Christus betroubaar is en geblyk het, wys hy
daarop dat God vir hom en die gemeente van Korinte “die Gees as
onderpand in ons harte gegee het.”

Wat
word hier met die woord onderpand bedoel? Die woord wat in die Griekse taal
daarvoor gebruik is, is ‘n woord wat vanuit die hebreeus in die grieks tereg
gekom het. Dis die woord arraboon wat veral in die ekonomie en die reg gebruik
is. Vandag ken die griekse taal nog altyd hierdie woord en beteken dit in die
moderne Grieks: verlowingsring. Die verlowingsring is die waarborg dat dit nie
by ‘n verlowing bly nie maar dat die huwelik met alles wat daarby behoort sal
volg.

Die
woord pand in die handel en in die reg het die betekenis dat 
‘n waarborgsom gegee word en dit waarborg dat alles sal kom. Die
gemeente van Korinte moet besef dat die Heilige Gees vir Paulus en vir hulle as
onderpand, as waarborg gegee is. Die Heilige Gees is deur die HERE vir hulle
gegee om die gelowiges juis hulle menslike onbetroubaarheid af te leer. Die
Heilige Gees het Christus vir Sy kerk gegee om te wys dat in Hom God se belofte
vir 100% betroubaar is. Die Here Jesus se werk op aarde wys dat dit wat die HERE
in die Ou Testament belowe het waar is, dat Hy dit waarmaak. Ons sien in
Christus se werk 
die groot ja en amen op die HERE se belofte van verlossing en vergifnis.
Paulus is dienaar, kneg 
van die HERE wat Hom in alles betroubaar getoon het. Hy het vir die
apostel en die gemeente van Korinte Sy Gees as waarborg gegee. Dis die waarborg
daarvoor dat God se beloftes wat in Christus bevestig is, eendag tot volle
heerlikheid sal kom. Paulus staan in diens van die betroubare God, dis die Gees
wat hom as apostel betroubaar maak. Dis die Heilige Gees wat so in hom werk dat
hy menslike onbetroubaarheid afleer en 
in sy amp betroubaar is. Dis die Gees wat ook vir die gemeente in Korinte
gegee is om vanuit God se betroubaarheid, betroubaar te wees.

Die
Gees van die betroubare God wat oor Christus se gemeente uitgestort is moet ons
leer om nie in wantroue na mekaar te kyk nie. Hierdie Gees wil so in jou woon
dat jy vanuit God se betroubaarheid leer om self betroubaar te wees. Ons mag
mekaar daarop aanspreek, ons is deur die gawe van die Gees ook verplig om mekaar
te vertrou, om nie by wantroue teenoor jou medebroeder of suster te begin nie
maar altyd weer vanuit vertroue omdat die HERE vir ons die Heilige Gees
as onderpand gegee het. Dan begin ons nie met beskuldigings onder mekaar nie
maar vra ons vir mekaar: hoekom. As die Korintiërs dit sou gedoen het, sou geen
wantroue in hulle harte gegroei het nie maar sou hulle gehoor het dat Paulus om
hulle te spaar nie dadelik tot hulle gekom het nie. Dit is juis die Heilige Gees
wat so in die harte van God se kinders werk dat hulle leer om menslike
onbetroubaarheid agter hulle te laat en in die gemeente vanuit onderlinge
vertroue te lewe. Dan het God se gemeente ook vertroue in die toekoms want die
Gees is ook God se onderpand teen die dood. Dit sien ons in die tweede plek.

Teenoor
die dood.

Dit
is die Here Jesus wat die Heilige Gees vir Sy kerk uitgestort het. Hy het vanuit
die hemel die Gees wat mense in die ewige lewe laat deel oor God se volk
uitgegiet. Nou kan ‘n mens groot woorde oor die ewige lewe praat maar as ‘n
mens rondom hom kyk, sien hy dat na Christus se opstanding mense nog altyd
sterwe, dat mense as hulle ouer word swakker word, dat hulle liggame aftakel en
die ouderdom steeds meer moeite en gebreke veroorsaak. Die uiterlik van ‘n
mens verval, daarteen doen Christus se opstanding niks nie. Uiterlik bestaan
geen enkele verandering voor en na Jesus se oorwinning op die dood nie. Dit kan
‘n mens moeilik val, ook ‘n ware christen, as hy die afbraak in sy liggaam
voel werk.

Wat
is dan ons hoop? Wat is dan ons waarborg? Dis nou juis die Heilige Gees! Let
maar op die verband tussen vers 4,5 in 2 Kor 5! “Want ons wat nog in die tent
is, sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil
word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word. Maar Hy wat ons juis
hiervoor toeberei het, is God, wat ons die Gees as onderpand gegee het.”

Dit
is God wat ons, Sy gemeente juis gemaak het om volledig in Christus se
oorwinning op die dood te deel. Daartoe het Hy ons toeberei. Al lyk dit dat met
Christus se opstanding niks verander het, die werklikheid is radikaal anders.
Die Heilige Gees wat in God se kind woon, 
die Gees wat in ‘n mens liefde vir die HERE werk en die werklike
verlange om by Christus te behoort, is die waarborg dat jou sterflike liggaam
heeltemal deur die lewe in beslag geneem word. Die uitstorting van die Gees op
die Pinksterdag is die heerlike waarborg 
dat nie net Jesus die dood oorwin het nie maar dat Sy oorwinning in die
lewens van elkeen wat glo die lewe gee wat die dood nie dood kan maak nie. Hoe
jy in jou liggaam ook die afbraak van die liggaam voel, 
hoe goed jy ook weet dat jou lewe so broos en teer is, hoe jy ook weet
dat ‘n dodelike siekte in jou liggaam is wat jou lewe bedreig. 
As jy naby God wil lewe, as jy niks anders as Christus se volgeling wil
wees nie,  gee
die HERE vir jou goeie moed. Die Heilige Gees is vir jou God se waarborgsom, is
soos die verlowingsring wat 
verseker dat 
groter dinge kom. Dit is die HERE se versekering vir jou: Die dood sal
jou nie ontklee nie, sal jou nie daaronder kry nie, sal jou nie in die ewige
dood bring waar ‘n mens volkome ontluister word nie. Die Gees wat jou teen
alle twyfel in steeds weer by Christus terugbring is die heerlike waarborg van
God dat jy sal lewe, dat die dood vir jou geen straf op die sonde meer is nie,
geen verseëling van die ewige ellende en dood nie maar deurgang na die ewige
lewe. So is die Pinksterfees ook die fees van die lewe, die fees van die
oorwinning op die dood vir Christus se gemeente. Daarom mag ons altyd goeie moed
hê, want die toekoms is lewe vir God se kinders. Dit mag ons ook weet as
twyfel ons lewe bespring. Ons let daarop in die derde plek.

Teenoor
twyfel.

Efesiëers
1 is ‘n heerlike loflied op God se verkiesing. Hoe groot is Sy liefde dat Hy
uit mense wat teen Hom gesondig het, Hom verwerp het, nogtans mense uitkies en
selfs Sy eie Seun gee om hulle van die verdiende straf te red. Hy lei mense se
lewens so dat hulle die evangelie, die goeie boodskap van Jesus Christus hoor.
Die hoor daarvan is al Sy goedheid. Hy lei mense se lewens so dat hulle nie net
hoorders van die evangelie bly nie, maar ook begin om te glo, regtig hulle aan
Christus as hulle Redder toevertrou. Hy lei dit so dat hulle daders van die
Woord word. Dit is dan die Heilige Gees wat mense aan Christus vasmaak, wat
hulle verseël. Die Gees wat mense aan Christus vasmaak, so vasmaak dat hulle
aan Hom vasgeheg word, is vir Christus se kerk die onderpand van ons erfenis. 

Die
duiwel probeer jou en my altyd weer te laat twyfel. Ek kan nou in Jesus glo en
alles lyk so mooi maar sal die toekoms tog nie anders wees nie? Sal ek werklik
meer kry as dit wat ek nou sien en beleef? Is dit werklik so dat 
na my sterwe nog ‘n groot geskenk my wag? Is dit werklik die moeite
werd om tydens hierdie lewe volgens Christus se wil te lewe?

Die
duiwel kan ‘n mens regtig met hierdie en ander vrae aanveg. Hy kan in jou hart
steeds weer twyfel saai. Die HERE sê nou vir jou: Kyk na wat op die pinksterdag
gebeur het. Hoe ek toe met sigbare tekens My Gees uitgestort het. Dit kan
niemand ontken. Die oog en oorgetuies was daar. Die Heilige Gees werk nog steeds
met krag. Let daarop hoe miljarde mense in die geskiedenis vanuit die duisternis
van die ongeloof deur die Heilige Gees tot Christus gebring is. Let op Sy
oorwinningstog deur die wêreld. Hierdie Gees wat ‘n mens kan sien werk, ook
in jou eie lewe, is die waarborgsom dat die HERE nog groter dinge sal gee. Dit
wat nou nog ‘n erfenis is, wat in die toekoms lê, is seker. Die Gees is die
verlowingsring wat verseker dat 
die verlossing deur Christus al God se kinders op die nuwe aarde sal
bring waar die verlossing Sy volle doelwit bereik. Dis die Heilige Gees, dis die
geskenk van hierdie Gees wat elke twyfel in ons lewe hokslaan. Hy werk, Christus
het Hom oor ons uitgestort om ons teen elke twyfel wat die duiwel in ons wil
werk te beskerm en ons steeds weer tot die sekerheid 
van die geloof terug te bring.

Die
Heilige Gees , die Pinksterfees waarborg 
dat die verlossing wat Christus verdien het 
volle werklikheid vir elke gelowige word. As ons so Pinksterfees vier
sien ons hoe groot, hoe heerlik die HERE is. Hoe onpeilbaar groot die verlossing
is wat Christus verdien het. Dis die HERE se heerlikheid. Die Gees wat sekerheid
gee dring ons dan tot die lof op die HERE. Dan roem ‘n mens, dan roem Christus
se kerk vir God se groot dade. Eendag op die nuwe aarde sien ons die volheid
daarvan en dan tril alles in ons van die lof op die Drieëenige God. Dan is ons
lewe lof op Hom alleen. Hoe heerlik om daarvan al iets te ken. Hoe heerlik is
die Pinksterfees. Regtig ‘n fees!

AMEN                

Liturgie: 

(kyk in preek)