Christus leer ons om te bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-05-06
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 50
Preek Inhoud: 

Sondag 50

Ds C Kleyn - Sondag 6 Mei 2001

Lees: Deuternómium 8; Sondag
50.
Sing: Ps 67:1; Ps 67:2,3; Ps 107:1-4;
Ps 145:9-12; Ps 28:6,7,8.

Tema: Christus leer ons om te bid: Gee ons
vandag ons daaglikse brood.

Daarmee wil Hy in ons:

  1. kinderlike ootmoed; en
  2. kinderlike vertroue

jeens ons hemelse Vader wek.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Christus leer ons om te bid: Gee ons vandag ons
daaglikse brood. Daarmee wil Hy in ons kinderlike ootmoed en
vertroue jeens ons hemelse Vader wek. Dis die twee gedagtes van
die preek.

So op die eerste gesig lyk daar ’n groot
verskil te wees tussen die 3e en 4e bede. Van God se wil –
"u wil geskied" – gaan ons oor na ons daaglikse
brood. Van God se wil wat alleen goed is, gaan ons oor na wat
weleens aardse slyk genoem word. Pas dit wel by mekaar? Jaseker.
Die bede vir ons daaglikse brood lê juis in die verlengde van
die vorige bede. As ek die 4e bede van die voorgaande losmaak,
sodat my geld en goed volkome op homself staan as iets waarna ek
moet jaag, dan word die brood inderdaad aardse slyk vir my. Die
Here laat ons egter die pragtige samehang tussen sy saak en ons
daaglikse brood sien.

Waarom is die brood nodig? Is dit slegs om hier
’n gelukkig lewe te kan lei? Baie mense dink so en leef ook
so. Aardse geluk en welvaart, dis al wat tel. So dink baie dat
hul geluk daarin lê dat hulle goed voorsien is van kos, klere en
geld. Die Here wys op die dwaasheid van so ’n gedagte. Die
gelykenis van die ryke dwaas maak dit duidelik. Ek is miskien
’n voortrefflike sakeman, wat baie geld verdien, ek kan dalk
oorsee baie geld verdien. Maar onthou, as ek skatte vir myself
versamel en nie ryk in die Here is nie, dan geld die waarskuwing
van die Here: "Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel
van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit
wees?" (Lk 12:20) So ’n ‘geluk’ tussen
aanhalingstekens, is net so lank of kort as hierdie aardse lewe.
Of: net so lank of kort as die Here God hier op aarde toelaat.

Christus leer ons dat ons brood en geld nie in
die eerste plek vir ons eie gemak en vermaak is nie. Waarvoor is
dit dan wel? Dis vir sy saak hier op aarde. Die 4e bede volg op
die 3 voorgaande bedes: Laat u naam geheilig word, laat u
koninkryk kom, laat u wil geskied. Om Vader se saak hier op aarde,
sy Naam, sy koninkryk, sy wil, te kan bevorder het ons brood
nodig. Sonder brood kan ons hier nie langer leef en werk in diens
van Vader nie. Waarom het ek dan geld en brood nodig? Om God hier
en nou te kan dien. Die verklaring van die 3e bede lei dit in
deur te wys op ons amp en beroep: "sodat elkeen sy amp en
beroep net so gewillig en getrou kan uitvoer soos die engele in
die hemel." Ek het kos nodig om in diens van God te kan werk.

Die bede praat nie slegs van brood nie. U sal
begryp dat daarmee baie meer bedoel word. Brood is hier ’n
samevatting van alles wat ek vir my lewensonderhoud nodig het.
"Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is."
Daarby kan ons ook dink aan behuising, kleding, werk. Verder moet
ons in gedagte hou dat die brood ’n eindproduk is. Aan die
brood wat ek op tafel hê, het ’n hele proses voorafgegaan.
Daarby kan ek dink aan landbou, handel en industrie. Daarvoor is
ook werkkragte nodig, gunstige weersomstandighede sodat die
produkte kan groei. Die hele ekonomiese lewe staan daarmee in
verband. Al hierdie werksaamhede word in die gebed betrek.

Die Here leer ons om te bid: "Gee."
Dis ’n ander gee as waarvan Spreuke 30:15 praat. Daar lees
ons: "Die bloedsuier het twee dogters: Gee, gee! Dis
opvallend dat Spreuke praat van ’n bloedsuier. Wat tipeer
’n bloedsuier? ’n Bloedsuier suig die bloed van mense
en diere. So suig mense die bloed van ander as ‘t ware.
Hulle probeer om uit ander mense voordeel te trek. Wel, die
bloedsuier het twee dogters: gee, gee. Hulle name gee aan hoe
hulle is: gee, gee. Nie ’n gebed nie, maar ’n eis. As
jy nie gee nie, dan neem ek dit met geweld. Hulle is nooit
tevrede nie.

Ons herken hierdie gees ook in ons tyd: gee,
gee, ons eis dit, dis ons reg. Die reklame maak die mense wys dat
hulle sekere dinge nodig het. Sonder die dinge kan jy nie lewe
nie, word gesuggereer. Of ’n mens sien hoe ander mense lewe
en dink dat dit ook vir hom of haar so moet wees. Ons het mos ook
reg daarop. Ons eis, ons het daar reg op, begin steeds meer
’n mentaliteit te word in ’n wêreld waarin alles amper
draai om aardse besit.

Baie anders is die bede: Gee. Daarin spreek
kinderlike ootmoed teenoor die hemelse Vader. Ons weet: ons is
van Vader afhanklik en ons wil uit sy hand leef. Ons smeek om die
genade gawe – ja, dit is ’n genadegawe – van ons
daaglikse brood. Ook as die tafel reeds gedek is en die kos reeds
voor ons staan bid ons: "gee ons vandag ons daaglikse brood."
Lyk dit nie oorbodig as ons reeds die kos het en as daar in die
huis reeds voorrade opgeberge is nie? Die bede is ook dan
allermins oorbodig. Dis ons asseblief en dankie aan die Here. Ons
eer die Vader in ootmoedige onderwerping: Vader, dank u vir wat u
vir my klaargemaak het, ek wil dit uit u hand ontvang. U is die
wettige eienaar van die aarde en alles wat daarin is. U het
seggenskap daaroor. Alles kom van u, die bron van alles wat goed
is.

Die kinderlike ootmoed blyk ook uit die vervolg
van die bede. Ons bid: gee ons. Dit beskerm my teen
selfsug, dat ek slegs aan myself sou dink. So lank as ek maar my
deel kry. Hoeveel mense is nie verstrik in daardie selfsug nie.
Hulle vergader dinge vir hulself. Maar gemeente, let daarop dat
daar staan: gee ons. Die ‘ons’ neem u self op u
lippe. U bedoel dit tog opreg? Kan ek ootmoedig en opreg vir God
bid: gee ons, terwyl ek my nog as ’n selfsugtige en gierige
persoon gedra? Dis onmoontlik. Die woorde staan teenoor alle
egoisme en hebsug. Ek kan dan nie onverskillig teenoor die nood
van ander wees nie. Dan moet ek wel bewoë wees oor die nood van
ander.

Ons bid nie vir weelde vir onsself nie.
Christus wek ootmoed by ons op ook in wat ons vra, naamlik
daaglikse brood. Ons vra daarmee ’n beperkte maat van die
Here. Ons bid slegs vir wat ek vandag nodig het, my dagrantsoen.
Dit gaan nie daaroor dat ek steeds meer en meer wil vergader nie.
Dit gaan oor dit wat ek vir vandag nodig het. Ek leef vandag, met
vandag se node en sorge. Ook in die hede van God se genade. As
God vir my nog ’n more beskik of ’n oormore, dan mag ek
ook dan op sy troue sorg ’n beroep doen. Maar op hierdie
oomblik het ek te make met die nood van vandag. Van dag tot dag
mag ek uit God se hand leef. Die toekoms laat ons in sy hande.
Indien Hy ’n toekoms gee, dan sal Hy ook dan voorsien.

Gemeente, die Ou Testamentiese kerk het in die
woestyn ’n duidelike les ontvang in die ootmoed teenoor ons
hemelse Vader. Ons het daaroor gelees in Deut 8. Die volk staan
op die punt om die land Kanaan binne te trek. Hulle moet egter
eers terugkyk na die pad wat God met hulle deur die woestyn
geloop het. Die Here was met hulle besig as ’n pedagoog. God
wou die 40 jare in die woestyn gebruik as ’n leerskool. Hy
wou daardeur sy volk vorm en opvoed. Die Here het volgens vers 2
die verootmoediging en beproewing van sy volk in die oog "om
te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie."
Die Here wou alle hoogmoed en selfgenoegsaamheid breek. Die mense
moet leer hoe klein hulle is en dat hulle volkome afhanklik van
Hom is.

Op watter manier het God dit gedoen? Vers 3 sê
vir ons dat die Here hulle verootmoedig het enersyds deur hulle
honger te laat lei en andersyds deur hulle die manna te gee. Ons
kan die eerste wel verstaan: teenspoed kan tot verootmoediging
lei. Maar die tweede, verootmoediging deur hulle die manna te gee,
lyk ’n bietjie vreemd. Hoe kan die manna ’n leermiddel
wees om ’n mens tot verootmoediging te bring?

Die manna kan tot ootmoed bring omdat God
daarin sy volk bepaal by sy wonderwerk. Die wonderwerk van God
laat ’n mens sy eie nietigheid verstaan en slaan alle
hoogmoed stukkend. Die honger en die manna wys dat ’n mens
nie kan roem in eie krag en moontlikhede nie. Dmv honger en manna
laat die Here sy kinders sien dat hulle bestaan uiteindelik nie
van natuurlike moontlikhede afhanklik is nie, maar slegs van Hom.
Deur hierdie ervaring wil die Here hulle tot die erkenning bring
dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens
lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.

’n Mens sien dikwels brood, oftewel aardse
geld en goed, as een van die pilare waarop ons bestaan rus. Ook
vandag is daar die gevaar dat ons meen dat die lewe alleen dmv
brood, van rande en sente, in stand gehou kan word. Tydens die
woestynreis het die Here egter negatief deur honger en positief
deur die wonderbrood gewys dat alle lewe van Hom alleen afhanklik
is. Die gewone brood is nog geen waarborg vir die lewe nie, want
God kan dit weerhou. Dollars is geen waarborg vir die lewe nie.
En die gebrek aan geld en brood beteken nie outomaties dat jy sal
doodgaan nie. Want God kan iets anders daarvoor in die plek stel
– dink maar aan die manna.

Beslissend is uiteindelik die kragtige woord
van die Here. As Hy spreek dan gebeur daar dinge. Brood op
sigself kan nooit ons laaste houvas wees nie. Want selfs die
brood is afhanklik van God se woord. God kan natuurlike middels
en bronne afsny. Hy kan ook nuwe ongekende bronne skep. God se
woord kan ’n einde maak aan al ons ekonomiese sekerhede. Sy
woord kan ook ongekende moontlikhede tevoorskyn bring. So leer
ons dat ons hele bestaan afhanklik is van die magtige woord van
die Here.

Waarom moes God se ou testamentiese volk
hierdie les leer? O.a. vanweë die Kanaanietiese kultuur waarmee
hulle te make sou kry. In die heidense kultuur het alles gedraai
om brood, soos vandag alles om die magtige dollar draai. Hulle
het daar selfs ’n kultus van gemaak. Alles draai om die
vrugbaarheids rituele. Hulle moet die guns van hul gode daarmee
wen. Lang die pad sou hulle hulleself dan kan verseker van
vrugbaarheid op die land, onder die diere en in die gesinne. God
se volk moet eens en vir altyd besef dat ons lewe nie van brood
afhanklik is nie, maar van die genadige, skeppende woord van God.
So ervaar Israel in die woestyn selfs die wonder dat die normale
slytage prosesse deur God se Woord stopgeset word. Ons lees in
vers 4: "Jou klere het aan jou nie verslyt en jou voet het
nou veertig jaar lank nie geswel nie." Ons beskou die
slytage proses as ’n natuurwet waaraan die hele lewe
noodwendig onderwerp is. Maar Israel mag sien en hoor: God heers
daaroor met sy woord. As Hy wil, dan sal dit nie gebeur nie.

Gemeente, hierdie les van ons hemelse pedagoog
is ook vandag baie aktueel. Ons samelewing word gekenmerk deur
’n moderne heidendom, ’n humanistiese heidendom. Alles
draai om brood, aardse geld en goed, die magtige dollar, aardse
welvaart. Die hele samelewing word rondom die een tema opgebou.
Kyk maar na die prominente plek van hierdie saak by verkiesings
kampanjes. Etiese sake word amper genoem. Vandaar ook dat hulle
in die veldtog teen vigs nie durf om onthouding voor die huwelik
en huweliks trou voorop te stel nie. Kortsigtige materiele
welvaart en geluk is die tema. Aardse goedere en aardse mag word
gesien as die pilare van die samelewing. Dit sou dan die laaste
sekerheid bied. Alles sou afhanklik wees van die wette van die
natuur en van ons menslike vermoëns. God word buite die natuur
en die kultuur gehou.

En geliefdes, ons is nie immuun vir hierdie
heidense gees nie. Hoe dikwels soek ons nie ons sekerhede in
materiele besit nie? Ons dink dat ons so ons toekoms kan waarborg.
Besef ons nog wel dat alles afhanklik is van die magswoord van
God?

In Openb 12 word ons verblyf hier op aarde
getipeer as ’n verblyf in die woestyn, waar God vir ons
’n plek berei het, sodat ons daar sou onderhou word. Dit
hoef ons daarom ook nie te verbaas as dit gebeur dat die
gelowiges in materiele sin dit moeiliker kry nie. Finansiele
agteruitgang kan ook ons swaar tref. Ook as ons in rekening bring
die koste van kerk en skool. Daar is reeds verskye mense wat
moeite het om met hul klein salaris goed rond te kom. Dit blyk
wel uit die diakonale uitgawes. Finansiele sorge kan ons daagliks
agtervolg en die lewensvreugde temper. In so ’n situasie is
die gevaar aanwesig dat ons allerlei moontlikhede aangryp om ons
uit die moeite te help, goed of kwaad. Daarby word dan
gemakshalwe nie gelet op die suiwerheid van die weë nie, solank
as ons maar die nodige geld kan kry.

Maar, broeders en susters, besef goed wat u
doen. Waarom was daar die woestynreis? Om God se kinders te
verootmoedig en op die proef te stel. Daarvoor is ook ons
woestynreis bestem. God wil u en my verootmoedig en op die proef
stel. Hy wil sien wat in ons hart leef. Hoe hanteer ons
finansiele agteruitgang? Hoe hanteer ons die sorge en moeites wat
op ons pad kom of wat dreig te kom? Verootmoedig ons onsself voor
die Here? Stel ons ons vertroue in God alleen? Laat ons onsself
voorberei op die intog in die hemelse Kanaan? Of stel ons al ons
vertroue op ons eie vermoëns? Op ons verstandelike of
liggaamlike vermoëns? Durf ons nog om volkome afhanklik van die
Here te wees? Om uit sy hand te leef? Of vind ons dit veiliger om
in elk geval gedeeltelik uit satan se hand te lewe dmv onwettige
praktyke?

Gemeente, die bede, gee ons vandag ons daagliks
brood forseer ons om ’n duidelike en radikale keuse te maak.
As ek dit opreg bid, dan kan ek nie onverskillig staan teenoor
die vraag: uit wie se hand ontvang ek dit? of op watter manier
kom ek aan my aardse goed? Ons bid immers: Vader, gee ons. Ek
verlang dit uit Vader se hand. Ek verwag dit uit Vader se hand.

So spreek die bede ook van kinderlike vertroue
in Vader. Vader is die enigste bron van alles wat goed is.
Besorgdheid is nie van pas nie. Ek hoef my nie te kwel oor my kos,
klere en woonruimte nie. Sodat dit my lewe gaan beheer nie. Vader
weet mos dat ek dit nodig het. Ek behoort mos by Vader. Met so
’n Vader, en hoe het Hy homself nie bewys in die Ou en Nuwe
Testament nie, hoef ek nie radeloos of wanhopig te wees nie. Met
so ’n Vader is daar geen rede om onwettig op te tree om in
my daaglikse onderhoud te voorsien nie. Ek ken Hom tog as my
almagtige en getroue Vader? Hy het die sorg van my lewe op Hom
geneem. Reeds by my doop het Hy dit betuig en verseël. Toe ek in
sy naam gedoop is. "Want as ons in die Naam van die Vader
gedoop word, verklaar en verseël die Vader aan ons dat Hy ’n
ewige genadeverbond met ons oprig, ons tot sy kinders en
erfgename aanneem en ons daarom met alle goeie dinge wil versorg
en alle kwaad van ons wil afweer of tot ons beswil beskik."
Beslissend in my lewe is dus wat Vader wil en doen. Alles is
afhanklik van sy kragdadige woord. Dan wil ek tog nie opnuut
dwaas en blind wees deur my oë vir Hom te sluit nie en deur nie
verder te kyk as wat my neus lank is en my hande sterk is nie?

Dis nie verniet dat God sy volk aanspoor om te
dink aan die hele pad waarlangs Hy hulle in die woestyn gelei het
nie. Menslikerwys gesproke was die pad deur die woestyn ’n
onmoontlikheid. Alle sogenaamde aardse sekerhede - wat selfs die
armstes onder ons vandag nog het - het daar ontbreek. Hoe dikwels
was die volk nie raadop nie. Maar die Here het steeds weer met sy
magswoord ingegryp. Hy het hulle bevry uit hul angste. Hy het
water uit die rots laat stroom, brood uit die hemel laat val, die
manna. Selfs dinge wat normaal steeds weer vernuwe moet word
vanweë slytage, het gebly soos dit was. God het die proses van
slytage deur sy magwoord stopgesit.

Gemeente, is dit nie voldoende bewyse van Vader
se troue sorg nie? Wys dat u u voor Vader verootmoedig en dat u u
vertroue op Hom alleen stel. Vader sal sorg vir alles wat jy vir
jou liggaam nodig het, solank as jy dit nodig het. Hy sal ook
sorgdra vir ons kerk en skool solank as dit nodig is. Die toekoms
lyk miskien wat onseker en somber. Ons weet nie hoe dit oor
’n jaar, oor vyf, tien of twintig jaar sal wees nie. Maar
sal ons Vader wat in die woestyn ongelooflike dinge gedoen het,
ons nie kan versorg met alles wat ons tydens ons verblyf in die
woestyn nodig het nie?

Die middele waarmee Hy ons vandag voorsien is
anders. Miskien doen Hy dit deur middel van die diakonie. Miskien
deur hulp vanuit die buitenland. Hy lê die gawes gereed om
gebruik te word. Wanneer ek bid: gee ons vandag ons daaglikse
brood, sou ek dit dan as ’n skande moet sien om op die gawes
’n beroep te doen. Hy versamel tog die gawes vir die doel?
Wat is vir die reisiger op pad na die hemelse Kanaan wel ’n
skande? Dit, dat ek uit sogenaamde nood kompromisse met die sonde
sou sluit, om so op ’n onwettige en oneerlike manier aan my
brood te kom. Dit sou ’n skande wees vir ’n burger van
God se koninkryk. God gee my hier ’n plek. Hy gee my sekere
verantwoordelikhede. Laat finansiele sorge jou nooit wegtrek van
jou goddelike amp en beroep nie. Laat Hom voorsien. U bid mos:
Gee ons vandag ons daaglikse brood.

Gemeente, laat ons die kinderlike ootmoed en
vertroue teenoor ons hemelse Vader wys. Leef van dag tot dag uit
sy hand. Verwag dit van Hom alleen. Dan sal jy gereed wees vir
die diens waartoe Hy roep. Jy leef immers nie om geld te verdien
nie of om hier ryk te word nie. Jy leef om God te loof.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)