Jesus Christus die Hoëpriester seën sy kerk terwyl Hy na die Hemel vaar.

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-10-06
Teks: 
Lukas 24
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Lukas 24:50-53

 

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; Psalm 67:1,3; Geloofsbelydenis; Psalm 47:3,4;
Skriflesing: Lukas 1:5-23 & Handelinge 1:1-9; Gebed; Kollekte; Psalm
68:8,15; Teks: Lukas 24:50-53; Preek; Psalm 5:10,11; Dankgebed; Psalm 115: 8,9; Seën

PREEK

Broers
en susters, seuns en dogters, gemeente van Koning Christus.

Wie
was die eerste leser van die Lukasevangelie? 
Dit was nie ‘n Jood nie. Die eerste leser was ‘n Romein. Dit was
Teofilus (1:3). Hy was ‘n man wat ‘n hoë posisie aan die keiser se hof in
Rome gehad het. Hy was nie ‘n man wat niks van die Bybel en die jodendom
geweet het nie. Dit lyk so dat hierdie man een van die Godvresendes was. Dit was
mense wat  reelmatig
die dienste in die sinagoges bygewoon het en ook op ander maniere hulle
belangstelling vir die Bybel en die diens aan die HERE gewys het sonder dat
hulle hul laat besny. Lukas wil hierdie man met sy evangelie oortuig dat hy by
die Here Jesus moet wees en dat hy hom by Christus se volgelinge moet aansluit
om by God se volk behoort.

Hoe
opvallend is dit dat as Lukas vir hierdie nie-Jood begin vertel, die tempel
dadelik ‘n belangrike rol speel. Lukas begin met die verhaal van die priester
Sagarias en dit wat met hom in die tempel gebeur. Die eerste mens wat Lukas in
sy betroubare verhaal  noem
is die priester Sagarias en 
en as Lukas die laaste sinne van sy evangelie skryf 
is dit die Priester Jesus Christus wat na die hemel vaar en is dit
Sy leerlinge wat in die tempel daarvan met groot blydskap getuig. Ons wil
vanaand o.a. sien hoe God met Sy werk verder gekom het. Hoe Hy vanaf die
aankondiging van Johannes se geboorte as Christus se aankondiger Sy werk tot
heerlike ontplooing gebring het.

Ek
verkondig vir julle die blye nuus van Christus se hemelvaart onder die tema:

JESUS
CHRISTUS DIE HOëPRIESTER SEëN 
SY KERK TERWYL HY NA DIE HEMEL VAAR.

1.    
Wanneer hy seën

2.    
Hoe Hy
seën

3.    
Watter
blydskap dit veroorsaak

4.    
Waar
dit verkondig word.

Wanneer
hy seën

Die
eerste aand na Sy opstanding 
het die Here Jesus Sy leerlinge opgesoek. Hy het hulle vanuit die Bybel
onderwys gegee. Hulle moet daartoe toegerus wees om later vir die mense te kan sê
dat die HERE in Sy Woord van Christus se lyding en Sy opstanding 
gepraat het en dat dit deur Jesus vervul is. Daarna wys die Here Jesus
vir hulle dat ‘n groot taak op hulle wag. Hulle moet die wêreld ingaan om die
goeie nuus van Jesus Christus die Verlosser vir die hele wêreld te gaan vertel.
Hierdie goeie nuus moet hulle met krag 
en groot oortuiging vir alle volke verkondig. Om dit te kan doen het
hulle, nadat die Here Jesus na die hemel gegaan het, die Heilige Gees nodig.
Hulle moet in Jerusalem wag op die Gees wat hulle met 
krag vanuit die hemel sterk sal maak. Die uitstorting van die Heilige
Gees is die afskop vir die aanval van Christus op die mag van die duiwel wat
mense tot dan toe by die HERE en Sy diens weggehou het.

Ons
teks wys op ‘n gebeurtenis wat 40 dae na Jesus se opstanding plaasvind. Die
Here Jesus is dit wat saam met Sy leerlinge Jerusalem verlaat. Jesus gaan voorop,
Hy lei Sy volgelinge Jerusalem uit. Dis nodig om sover te kom dat die Heilige
Gees kan kom en die apostels die wêreld sal ingaan, om die wêreld vir Christus
te wen. As die Here Jesus, 
die Verlosser, 
Jerusalem verlaat, as Hy die laaste keer deur die poort van hierdie stad
stap, wys dit daarop dat Jerusalem nie meer die besondere stad van God is nie.
Ook Jerusalem het die Verlosser veroordeel en verwerp. God se oordeel sal
Jerusalem tref (Sien Mat 23;37,38).

Dit
wil nie sê dat die HERE niks meer met Jerusalem te doen wil hê nie. Hierdie
stad word nie so veroordeel as Sodom en Gomorra nie. Jerusalem en sy inwoners
word nie omgekeer nie. Christus sal Sy Gees nog in Jerusalem uitgiet en die
inwoners van Jerusalem sal met krag tot bekering, tot geloof in Hom opgeroep
word. Jerusalem sal moet leer dat dit nie meer God se besondere stad is nie. Dis
nie meer so dat God op ‘n besondere manier in Jerusalem woon nie. Toe Jesus
aan die kruis hang het die gordyn in die tempel van bo tot onder geskeur. Dit
was God se teken dat Hy nie meer in die tempel woon nie. Dat mense nou orals op
die aarde Hom kan aanbid en vir ‘n besondere verering van Hom nie meer na
Jerusalem hoef te kom nie. 

Dit
is juis deel van die evangelie wat Christus se leerlinge in die hele wêreld
moet gaan verkondig. Jesus lei Sy leerlinge buite Jerusalem om van hulle afskeid
te neem. Die tyd van afskeid het nou regtig gekom. Dit kan nie langer wag nie.
Juis dan is dit so belangrik dat hulle wat van Jesus afskeid moet neem vol moed
en krag verder kan gaan. Dis nie ‘n afskeid waarby die een die ander ‘n
handdruk gee en tot siens sê nie. Dis ‘n afskeid wat nie sonder Christus se
seën is nie. Die seën van die Koning van die konings kom oor Jesus se
leerlinge. Hoe belangrik hierdie seën by hierdie afskeid is, sien ons in die
tweede punt.

Hoe
Hy seën.

Jesus 
en Sy leerlinge het op die Olyfberg aangekom. (Hand 1:12) Hulle kan die
dorp Betanië sien waar hulle vriende Lasarus, Maria en Martha woon. Dan kom die
oomblik dat die Here Jesus sy hande ophef en Sy leerlinge, die verteenwoordigers
van Sy kerk, seën. Ons moet hieraan nie te gou verby lees nie. Dis naamlik ‘n
baie opmerklike oomblik in die geskiedenis van God se heil. Dis so dat mense
mekaar in die Bybelse tyd geseën het maar hulle het dit nooit soos die
priesters gedoen nie. Hulle het mekaar God se seën toegewens maar daarby nie
die hande opgehef soos die priesters dit gedoen het nie. Dit was die voorreg van
die priesters wat uit die stam van Levi gekom het. Hulle het op ‘n besondere
manier in God se naam 
Sy seën vir God se volk, vir Sy kerk gegee.

Dit
wat die Here Jesus hier doen is uniek. Hy wat geen priester uit die stam van
Levi is, hef Sy hande op en seën Sy leerlinge. Wat gebeur hier?

Hier
wys die Here Jesus dat die tyd van die priesters in die tempel in Jerusalem
verby is. Hier wys Lukas vir Teofilus dat hy nie meer in die sinogoge moet wees
nie waar ‘n priester die seën uitspreek nie maar as hy regtig God se seën
wil ontvang moet hy by die vergadering wees waar Christus geëer en gedien word.
Toe mog die seën ook in sinogoges deur priesters uitgespreek word omdat die
Jode elke sinogoge as ‘n deel van die tempel, van die heilige grond beskou het.

Jesus
wys nou vir Sy leerlinge: Ek is die Hoëpriester en dit gaan in die lewe
om My seën.  Sonder
My seën ontvang jy nie die egte seën en behoort jy nie aan die ware kerk nie.
Die egte volk van God was toe nie die mense wat hulle rondom die priesters in
die tempel laat vergader nie maar die groepie mense wat op die Olyfberg voor
Jesus staan.

Dis
noodsaaklik dat die mense op die klok van die heilsgeskiedenis let. God het met
Sy werk,  met
die uitvoering van Sy plan verder gekom. Ons sien dit as ons Jesus se seën hier
vergelyk met dit wat Sagaria in Lukas 1 gedoen het. Ons let op enkele elemente:

1.    
Sagaria
het die seën uit kon spreek omdat hy uit die priestergeslag was. Die bloedband
het hom daartoe die reg gegee. Hy het hierdie seën net een keer in sy lewe in
die tempel mog uitspreek, die lot het hom daartoe aangewys. 
Die Here Jesus spreek die seën uit omdat Hy die Verlosser is, omdat
Hyself die inhoud van hierdie seën vir die gelowiges verdien het. Nie
die bloedband maar Sy aanstelling deur God as die Verlosser gee vir Hom die reg
om hierdie seën te gee. 
Hy is die Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek. Hy is die
Priester-Koning.

2.    
Sagarias
spreek die seën in die tempel uit en op sekere ander plekke gebeur dit omdat
die sinagoges as deel van die tempel gereken word. Nie orals kan God se seën
vir Sy volk gegee word nie. Hoe anders is dit na Jesus se opstanding. Hy seën
God se volk buite die stad, buite die tempel. Hy doen dit amptelik, Hy
hef Sy hande op. Die HERE wys dat deur Christus se offer Sy seën nie meer aan
‘n enkele plek gebind is nie. God se volk kan orals saamkom en orals die HERE
se seën ontvang. Elke plek is nou heilig en moet vanuit die seën wat God se
volk ontvang,  geheilig
word. Ons moet leer om elke plek, elke voorwerp in diens van die HERE te gebruik.
Ons sal so moet leer lewe dat vir ons op hierdie aarde al op elke ding staan:
Heilig aan die HERE! Die profeet Sagaria mag van die toekoms sê: “In die dag
sal op die klokke van die perde staan; heilig aan die HERE! En die potte in die
huis van die HERE sal wees soos die komme van die altaar.” (14:20) Ons moet as
burgers van God se Ryk wys hoe hierdie toekoms ons lewe deur God se seën al
stempel. Teofilus wat aan die keiserlike hof 
is moet besef dat hy ook daar van koning Jesus se seën afhanklik is,
alles wat hy daar doen en sê moet heilig wees in Christus se oë, ook daar is
die grond heilig en vra Christus diens aan Hom.

3.    
Die
seën in die tempel moes elke dag weer herhaal word. Elke dag het weer ‘n
priester gekom om te seën. Die Here Jesus is die groot Hoëpriester, terwyl Hy
na die hemel opvaar seën Hy Sy kerk. Hierdie seën is genoeg vir altyd. Die
krag van hierdie seën sal nooit verminder nie. As ons in die kerkdiens God se
seën hoor, is dit geen nuwe seën wat weer oor ons uitgestort word nie maar is
dit die seën wat ons herinner aan Christus wat tydens die hemelvaart Sy kerk in
Sy seën laat deel het. Dit gee vir Sy volk weer moed en krag. Hierop let ons in
die derde plek.

Watter
blydskap dit veroorsaak.

Die
Here Jesus seën Sy leerlinge en terwyl dit gebeur sien 
die dissipels hoe hulle Here en Heiland van die grond loskom en na die
hemel vaar. Hulle sien hoe die Here Jesus van hulle skei. Na ‘n ruk kan hulle
Hom nie meer sien nie. Die mens Jesus Christus is nie meer by hulle nie.

‘n
Menslike reaksie sou wees dat die leerlinge nou hartseer is, dat hulle
gemoedstoestand gedemp sou wees. Die werklikheid is anders want ons lees in vers
52: “En hulle het Hom aanbid en na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap.”

Die
dissipels het terwyl Jesus geseën het hulle knieë gebuig en Hom terwyl hulle
Hom sien wegvaar vereer as hulle God en Koning. Christus se kerk aanbid die
Koning van die kerk wat vanuit die hemel Sy Kerk sal lei en vergader. Christus
se kerk wat toe Hy gevangegeneem is uitmekaar geval het, elkeen het toe sy eie
pad gestap, is deur Christus se werk na Sy opstanding 
weer as ‘n eenheid saam. 
Hulle eenheid, en die eenheid van die kerk in die geskiedenis lê altyd
in die aanbidding van Jesus Christus as die enigste Verlosser en Koning.

Ons
weet uit die boek Handelinge dat Christus dadelik engele na hulle stuur om vir
hulle nog enige toeligting en toekomsperpektief te gee. Die Here Jesus sal
eendag weer in die wolke terugkeer.

Na
die aanbidding van Christus keer die dissipels terug. Hoe vol is hulle van
blydskap. Die Here Jesus het na die hemel gegaan nogtans lê Sy seën vir die
toekoms, tot aan Sy terugkeer oor hulle lewe. Hulle kan bly wees want 
Jesus het nie vir ewig van hulle afskied geneem nie, as hulle sterf
voordat  Hy
in die wolke terugkeer, mag hulle by Hom in die hemel wees en nou mag hulle weet
dat Sy seën en Sy Gees hulle sal omring en lei.

Die
begin van die Lukasevangelie vertel ons van die vreugde wat die boodskappe
vanuit die hemel dat Johannes die Doper en die Here Jesus gebore sal word by
mense bring. Die koms van die Redder en Sy voorloper bring vreugde, die einde
van die Lukasevangelie vertel ons hoe selfs die weggaan van die Verlosser
vreugde bring by meer as enkele mense, dit bring vreugde en vertroue by die
verteenwoordigers van die hele kerk. Dis die vreugde oor die Verlosser se werk
wat die geskiedenis vir altyd beslissend beinvloed het en wie se seën vir die
dissipels beteken dat hulle bly kan wees, dat hulle in vertroue op die koms van
Christus se Gees kan wag en nooit hoef te dink dat die opbou van Christus se
kerk van hulle kragte afhang nie. Christus se seën is die waarborg vir die
opbou, vir die bewaring van Sy kerk. Daarom kan die dissipels met blydskap na
Jerusalem terugkeer en hulle blydskap in die HERE in die tempel gaan wys. Ons
let hierop in die vierde plek.

Waar
dit verkondig word.

Jesus
se volgelinge keer na Jerusalem terug en in die tyd tot die uitstorting van die
Heilige Gees vind ‘n mens hulle steeds in die tempel. Hoekom gaan hulle nou
nog tempel toe? Die tyd van die tempel as God se huis is tog verby? Selfs na die
Pinksterdag vind ons die dissipels nog baie keer op die tempelplein. Wat doen
Christus se gemeente daar?

Hulle
doen waartoe Christus se gemeente, waartoe ons vandag ook in ons land geroep is.
Hulle besef dat juis hulle dit is wat deur Christus se bloed tot 
priesters gekoop is. Hulle besef in die geloof dat hulle almal tot
priester en profetediens geroep is. Daarom is hulle nie bang nie, daarom soek
hulle juis die plek op waar baie mense God soek. Ons kan in sekere sin sê dat
Christus se kerk toe die vyand in die poort opgesoek het. Die doel was om die
vyand met geestelike wapens te verslaan en na Christus te lei. Hoe doen hulle
dit? Doen hulle dit deur in die eerste plek die Jode wat nog nie in Christus te
glo te bestry? Deur hulle skerp verwyte te maak?

Nee,
hulle doen dit deur God op die tempelplein sigbaar en hoorbaar vir al die mense 
te loof en te dank. Hulle loof en dank die HERE vir Christus en Sy werk.
Dis die manier waarop hulle in die tempel, wat sy tyd as God se huis gehad het,
Christus verkondig en aanprys. Dis die manier waarop hulle die evangelie van die
tempelvervulling deur Christus juis daar verkondig. Hulle doen dit sonder angs
want hulle weet dat Christus se seën oor hulle is.

Hoe
baie kan ons hiervan leer. Gaan ons as gemeentes werklik sonder angs 
steeds weer na ons mede-Afrikaners om Christus en die gehoorsaamheid aan
Christus aan te prys? Soek ons daar waar hulle is, waar mense God soek hulle op?
Of staan ons eintlik afsydig en wag ons tot mense by ons kom en sê ons: Hulle
kan dit weet, laat hulle self maar kom? 
Of sê ons selfs dat dit met die meeste van hulle tog niks word want 
daardie mense weet eintlik nie wat werklik gereformeerd wees is nie?

Hoe
anders moet ons wees, sonder angs, vryuit vir elkeen wat dit kan hoor Christus
en Sy kerk positief aanwys en dan alles in diep vertroue op Christus van Sy seën
verwag.

Broers
en susters laat ons dit doen, dis nie nodig om bang of wantrouend te wees want
Christus is die Koning van die Kerk wat gedurig, sonder onderbreking Sy seën
van die hemel vir Sy Kerk laat kom. Dis die heerlike evangelie van hemelvaart.

Hy
seën in 1999 vanuit die hemel ook Sy kerk in Suid-Afrika. Ook as ‘n mens die
toekoms somtyds swaar insien en mense onder ons slapelose nagte het omdat hulle
steeds weer hoor van broers en susters wat na ander oorde op God se wêreld
vertrek. Ek weet dat sommiges onder julle daarvan amper moedeloos word. Weet dat
ook nou en in die toekoms Christus se seën vir Sy kerk in ons land na ons toe
sal stroom. Wat ook gebeur, weet een ding seker, 
Christus verlaat ons, as ons ons aan Hom bly vasklamp, nooit met Sy seën
nie! Kan ‘n mens, kan ‘n kerk ryker as dit wees. Nee! Christus se seën maak
ryk, ons kan nooit ryker wees nie. Laat ons hierdie rykdom in ons land, onder
ons mense en alle volke uitroep. Dit kan want Christus is met ons!!

AMEN
                  

Liturgie: 

(kyk in preek)