Die Here wys vir Nebukadnesar in 'n droom dat hy nie die lewensboom is nie

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-10-05
Teks: 
Daniël 4
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - Daniël 4:4-27

 

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; Psalm 2:4,5; Lesing van die Wet; Psalm 72:5,6,11;
Skriflesing: Daniël 4:1-27; Gebed; Kollekte; Psalm 46:1-4; Teks: Daniël
4:4-27; Preek; SB 23:2,3; Dankgebed; SB 30: 1,2,3,4; Seën

PREEK

Broers
en susters, burgers van God se Koninkryk

Die
stemdag is verby. Elkeen wat sy kruisie wou trek het dit Woensdag kon doen. Die
uitslag was duidelik. Die ANC het die meerderheid behaal. ‘n Meerderheid wat
selfs nog groter is as in 1994. Die ANC het selfs amper die tweederde meerheid
behaal.

Het
hierdie uitslag ons bang en onseker gemaak? Begin nou nog meer mense daaraan
dink om ons land te verlaat? Die groot vraag by al hierdie dinge is: wat is ons
roeping en op wie vertrou ons eintlik. Wie sien ons as die groot Koning en die
beskermer van die kerk raak? Word ons bang en onseker as menslike sekerhede
wegval en ons getalle minder word? Word ons bang en onseker as mag 
tussen ons vingers wegglip en ons nie meer deur menslike mag
omstandighede kan beheer nie?

Dit
is ‘n gewone menslike reaksie. Hierdie reaksie is by hulle wat die HERE nie
ken nie ‘n normale reaksie. ‘n Mens kan dan nie verder as menslike mag kyk
nie.

So’n
reaksie is by hulle wat die HERE ken nie nodig nie. Menslike mag kan niemand die
egte lewe gee nie en kan die egte lewe ook nie aantas nie. Ons sien dit as ons
let op ons teks, as ons sien wat die droom beteken wat die HERE vir Nebukadnesar
laat droom het.

Ek
verkondig vir julle wat ‘n volk vol vertroue mag wees, Christus se evangelie
onder die tema:

 

DIE
HERE WYS VIR NEBUKADNESAR IN ‘N DROOM DAT HY NIE DIE LEWENSBOOM IS NIE

1.    
Al is Nebukadnesar se mag baie groot

2.    
Nogtans
is hy nie Goddelik nie

3.    
Hy
word selfs soos ‘n dier.

Al is
Nebukadnesar se mag baie groot.

Nebukadnesar
word in ons hoofstuk een van die Bybelskrywers. Die Heilige Gees neem in ons
hoofstuk ‘n bevel en verhaal op wat Nebukadnesar self laat geskryf het. Let
maar op vers 1,4: “Koning Nebukadnesar aan al die volke, nasies en tale wat op
die hele aarde woon: mag julle vrede groot wees! ….. Ek, Nebukadnesar, het
rustig in my huis gelewe en was voorspoedig in my paleis.” En dan gaan die
verhaal verder wat Nebukadnesar vertel.

Die
eerste drie verse van hoofstuk 4 vorm ‘n loflied op die HERE en Sy Koninkryk.
Ons sal vandag nie op hierdie verse let nie. Ons kyk vanmôre na die droom en sy
uitlegging. Ons sien in die volgende preek 
hoe die droom in Nebukadnesar se lewe werklikheid word en hoe hy dan tot
die lof op die HERE kom. Dan vorm vers 1-3 en 28-37 die teks vir die preek.

Die
oomblik dat ons teks begin, gaan alles baie goed met koning Nebukadnesar. Die
lewe van hierdie koning is ‘n lewe waarin hy hom nie bedreig voel nie. Sy 
mag het tot ‘n geweldige hoogtepunt gestyg. Die vorige keer dat die
HERE Nebukadnesar ‘n droom laat droom het, dit was in hoofstuk 2, was die
situasie heeltemal anderste. 
Die eerste droom was in die tweede jaar van sy regering en toe het hy op
sy bed daaraan gedink hoe die toekoms sal verloop. Toe was hy nie so seker van
sy mag nie. (2:29). Die tyd waarin die tweede droom deur Nebukadnesar gedroom
word, is waarskynlik omtrent die 37e jaar van sy regering. Hy het 44 jaar oor
Babel geregeer. Hoekom omtrent hierdie tyd? Omdat Daniël by die uitlegging van
die droom in vers 22 sê: “dit is u, o koning, wat groot en sterk geword het,
wie se grootheid toegeneem het en reik tot aan die hemel en u heerskappy tot aan
die einde van die aarde.” Dit is duidelik dat Nebukadnesar op die toppunt van
sy mag staan. Die hele gebied wat toe as die beskaafde wêreld gereken is, is
onder Nebukadnesar se beheer. Die toppunt van sy mag het Nebukadnesar in 568 v
Christus behaal toe hy farao Amasis van Egipte verslaan het en tot diep in
Egipte deurgedring het. Selfs van sy aartsvyand, 
die farao van Egipte het Nebukadnesar niks te vrees nie. Hoe gerus kan
Nebukadnesar in sy paleis lewe. Hierdie gerustheid wys daarop dat Nebukadnesar
homself weer as die groot koning sien. Hy is weer besig om homself te verhef.
Hierop wys ook wat Daniël in vers 25 by die uitlegging van die droom sê: “en
sewe tydperke sal oor u heengaan totdat u erken dat die Allerhoogste mag het oor
die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.”

Die
vorige kere dat die HERE vir Nebukadnesar gewys het dat die koninkryk van die
mens, ook die koninkryk van Nebukadnesar, nie aan Hom gelykstaan of 
Hom oortref nie is al lank terug. Die eerste droom is omtrent 35 jaar
gelede en die gebeurtenis met die beeld in die dal van Dura is dalk omtrent 19
jaar terug.  Hoe
duidelik het die HERE vir Nebukadnesar al twee keer op sy plek gesit. Hoe
duidelik dit ook gebeur, ‘n mens het altyd weer die neiging om dit te vergeet
as dit goed met hom gaan. Dit is by ons nie anders nie. As dit goed met ons gaan,
gebeur dit so gou dat ons ons nie meer so afhanklik van die HERE voel. Welvaart,
rus en ‘n goeie versorging, ‘n omgewing waarin dit lyk asof ons as mense
‘n goeie en rustige toekoms kan waarborg is ook gevaarlik vir ‘n mens. Dan
is die groot gevaar dat ons nie meer in diepe afhanklikheid van die HERE lewe.
Ons moet steeds weer by die afhanklikheid van die HERE bepaal word en mekaar
daarop wys.

Die
HERE laat Nebukadnesar weer ‘n droom droom. Die geruste Nebukadnesar, wat weer
besig is om hom te verhef, begin nou onrustig word. Hy wil die betekenis van
hierdie droom ken. Hy roep sy topteoloë en topgeleerdes weer saam. Ons het in
‘n eerdere preek al gesien wat die spesifieke van elke groep was wat in vers 7
genoem word. Hierdie keer vertel Nebukadnesar sy droom wel vir hulle. Ons sien
hier hoe heidens hierdie magtige koning nog altyd dink. Weer verwag 
hy die uitlegging van mense wat sê dat hulle in kontak met die gode
staan terwyl hulle meer as 30 jaar gelede al moes toegee dat die gode geen
openbaring gee nie en dat die gode hulle selfs nie met die mense bemoei nie.
Hulle moes toe toegee dat dit wat hulle sê net een of ander menslike tegniek
is. Ook die manier waarop hy van Daniël praat wys hoe Nebukadnesar deur die
heidense, duiwelse gedagtegang gevangegeneem is. As Daniël 
binnekom, noem Nebukadnesar dadelik die ander naam: Beltsasar. Hy sê dan:
“na die naam van my god”. 
Nebukadnesar ken die HERE nie as sy God nie maar die afgod Bel. Hy
aanvaar nie dat dit net die HERE is wat in Daniël werk nie want hy praat van
Daniël as die mens “van wie hy weet dat die gees die heilige gode in
hom is.”

Weer
kan die ander geleerdes nie Nebukadnesar se droom uitlê nie. Selfs nou nie
terwyl hy vir hulle die droom vertel het nie. Ons lees vanaf vers 10 wat Babel
se koning gedroom het. Hierdie droom wys op Nebukadnesar se geweldige aardse mag
op daardie oomblik. Hierdie mag is sowel in politieke, militêre as kulturele
opsig geweldig groot. Selfs so groot dat mense Nebukadnesar as die persoon gaan
beskou wat vir hulle die heil, die ewige lewe kan gee.

Dit
is naamlik opvallend dat die HERE in hierdie omstandighede die beeld van ‘n
boom vir Nebukadnesar gebruik. Selfs van ‘n boom wat in die middel van die
aarde staan. Die HERE sluit hier by die voorstelling aan wat by al die volke
rondom Israel in die tyd van die Ou Testament bestaan het. Dit is die
voorstelling van die lewensboom wat iewers op aarde die middelpunt 
van die hele aarde vorm. Hierdie lewensboom moet vir die ewige lewe sorg.
Mense moet sorg dat hulle hierdie lewensboom vind.

Dit
lyk asof  Nebukadnesar
in eie persoon die lewensboom is. Want hy is dit wat vanuit sy geweldige
magposisie die kultuur tot groot hoogtes bring. Sy mag is so groot dat dit amper
lyk asof hy God is. Hy is die boom wat tot aan die hemel reik. Dit het al eerder
juis in Babel gebeur dat mense probeer het om so ‘n mag en ‘n kultuurwerk op
te rig wat sou bewys dat die mense nie minder as God is nie. Hulle wou ‘n
toring bou wat tot in die hemel sou reik. Ons lees dit in Gen 11. Nebukadnesar
lyk die geniale koning wat die wêreld deur sy kultuurbou tot ongekende hoogtes
bring. As ‘n mens toe Babel besoek het, het die stad van kultuurbou geskitter.
Nebukadnesar het in die stad 53 pragtige grrot tempels laat bou, 955 kleiner
heiligdomme en 384 altare. Hy het groot en pragtige paleise laat bou met o.a.
biblioteke daarin. Hy het ‘n tagtig meter breë grag om Babel laat maak. Hy
het ‘n dubbele muur rondom die hele stad laat bou. Die muur was so breed dat
daaroor strydwaens 
kon ry. Hy het hangende tuine laat aanlê wat as een van die wêreldwonders
van die oudheid beskou word. Hoe indrukwekkend het hierdie stad gelyk. Die
bouwerke wat Nebukadnesar laat bou het, het hy veral met pragtige diermotiewe
laat versier. Orals in die stad sien ‘n mens diere op mure, sowel in die
geboue as buitekant. As ‘n mens dit weet verstaan hy hoekom ons lees dat in
die boom en onder die boom diere gevind word. Die kultuur styg in die
Babiloniese Ryk tot groot hoogtes. Baie mense vind in Nebukadnesar se kultuurbou
die sin van hulle lewe.

Dit
lyk asof deur Nebukadnesar die mens tot sy doel kom. Want dit is so dat die
roeping van die mens is om die aarde te bou en te bewaar, om die aarde in
kultuur te bring. Dit is die opdrag wat die HERE 
vir die mens by die skepping gee. Gen 1:26-28

Dit
lyk asof  Nebukadnesar
die mens na sy doel lei, asof 
hy die lewensboom is. Hier sien ons hoe die duiwel 
altyd  weer
probeer om God se aap te wees. Hy wil dinge so lei dat dit vir die mens lyk asof 
hy nou sy doel bereik terwyl dit bedrog is. Wat is die groot 
fout, die groot sonde van Nebukadnesar se kultuurbou? Sy groot sonde en
fout is dat dit nie uit liefde en gehoorsaamheid vir die HERE voortkom nie. Dit
is geen kultuurbou volgens God se norme en daarmee ‘n kultuurbou waarby die
eer van God in die middelpunt staan en die groot doelwit is nie. Dit is die
kultuurbou van die groot Babilon, die kultuur van die wêreld wat vir ‘n vol
saal sorg, wat mensgerig is. Dit is die kultuur wat so weelderig, so pragtig lyk
dat dit mense se harte aantrek en hulle oë verblind. Nebukadnesar se kultuurbou
wys op die kultuur wat in Openbaring 17,18 as die kultuur van die groot Babilon,
die wêreld geteken word. Dit wat die wêreld doen lyk baie keer so mooi en
indrukwekkend. 
Pragtige gebou, boeke wat literêr aangeprys word, 
konserte wat groot indruk op mense maak. Is dit die egte kultuur? As dit
‘n kultuur is waarin die HERE nie gesoek en geeer word nie, is dit geen
kultuur nie, is dit skynkultuur, is dit werke wat in diens staan van die mens se
koninkryk, van die mens wat hom bo God wil verhef. Hierdie kultuur lyk pragtig
maar sal eendag vir altyd verdwyn, deur God se oordeel getref word. Laat ons ons
taak op hierdie aarde verstaan, broers en susters. Laat ons kragte nie gebruik
word om in diens van ‘n skynkultuur gebruik te word, maar laat ons ons talente
in die diens van Christus en Sy Koninkryk gebruik, hoe vreemd dit ook in die oë
van die wêreld ook lyk. Al sê nog so biae mense rondom jou: Ontplooi jou
talente tot iewers anders want dan sal jy baie geld kan verdien, dan sal jy baie
eer ontvang. Laat God se eer vir ons elke dag en by alles wat ons doen in die
middelpunt van ons lewe staan. Dan werk ons aan die egte kultuur wat deur
Christus se offer geheilig word.

Nebukadnesar
verhef homself. Die HERE wys in die droom dat hy in werklikheid nooit 
tot God se hoogte kan kom nie. Ons let daarop in die tweede plek.

Nogtans
is hy nie Goddelik nie

Die
boom wat Nebukadnesar in sy droom sien, is hyself. Daniël maak dit vir die
koning in die verse 20-22 duidelik. Nog voordat Daniël dit sê besef hy dat hy
nou vir Nebukadnesar ‘n negatiewe boodskap moet bring. Daarom hoor ons hom,
voordat hy met die uitlegging van die droom begin, sê: “My heer, mag die
droom u haters en sy uitlegging u teënstanders oorkom.” (19)

Want
wat gebeur met die boom wat tot aan die hemel reik, wat vir baie mense ‘n
pragtige lewe belowe? Wat gebeur met die boom wat so sterk en groot lyk, dat hy
die ewige koninkryk van die mens lyk om te waarborg? Hierdie boom word volledig
afgetakel.

Nebukadnesar
sien in sy droom ‘n heilige van die hemel kom wat roep dat die boom omgekap
moet word. Hierdie heilige word ook ‘n bode genoem. Die woord wat hier in ons
vertaling met bode vertaal is beteken eintlik wagter, bewaker. Ons lees
in vers 20 dat die besluit van die wagters is om die boom, Nebukadnesar amper
volledig  af
te breek.

Ons
moet by hierdie heiliges, by hierdie wagters aan engele dink, wat die HERE van
die hemel stuur. Hoekom word hier van wagter, bewaker gepraat? Dit het verseker
twee redes:

a.     
Nebukadnesar
wil homself bo God verhef. Die engele is die bewakers van die HERE se troon.
Hulle moet in God se diens daarvoor sorg dat die grens tussen God en mens nie
oorskry word nie. Die gordyn wat tussen die Heilige en die Allerheiligste gehang
het, daarop was ‘n engel afgebeeld wat moes wys dat ‘n mens die
Allerheiligste nie mog binnegaan nie. Die ark wat God se troon op aarde was,
daarop was afbeeldings van engele wat gewys het op die engele as bewakers van
God se troon. Sien ook Jes 6 en Openb 4:6-11. Die HERE wys vir Nebukadnesar in
sy droom dat ook hy die grens tussen mens en God nie kan oorskry nie en dat sy
engele dit in Sy opdrag vir hom sal wys. Ons lees in Genesis 3 hoe engele die
toegang tot die lewensboom bewaak omdat daardie boom vir die mens wat in sonde
geval het lewensgevaarlik geword het.

b.     
Nebukadnesar
het die woord wagter baie goed geken. By die poorte van Nebukandnesar se paleis
was orals persone afgebeeld wat wagters moes voorstel. Hulle moes die demone
buite die stad en buite sy paleise hou. Die demone sou Nebukadnesar se mag en
grootheid kon bedreig. 
Die HERE wys hier dat Nebukadnesar vanuit sy godsdiens kan probeer om
demone buite die stad te hou maar 
hy kan die enigste God en die Koning van die koning en Sy helpers nie van
hom weghou nie. Hy en sy gode is onmagtig teen die HERE en Sy helpers. 
Nebukadnesar kan die HERE se wagters, nie buite sy lewe hou nie. God
regeer en niemand anders nie!

As
God se wagters in God se opdrag uitroep dat die boom wat so sterk lyk dat hy
nooit sal val nie, omgekap moet word, gebeur dit. Die boom word heeltemal
ontluister. Sy blare word afgetrek. Die diere wat onder die boom se beskerming
gestaan het verdwyn en die vrugte van die boom is ook nie meer daar nie. Die
sterk boom wat vir groot ontwikkelings gesorg het word selfs omgekap. As mense
vra waar die boom vol van lewe gebly het, moet gesê word dat hy weg is, omgekap.
So sal koning Nebukadnesar al sy heerlikheid verloor, hierdie geniale gees,
hierdie koning van die konings is nie meer sigbaar nie. Die koninkryk van die
mens hoe magtig ookal, hoe ookal vol van groot ontwikkelings en ryk aan menslike
kultuur kan nie homself in stand hou nie. Elke menslike mag wat in eie krag mag
en ontwikkeling soek sal vergaan en kan die egte heilstaat nie bring nie. Dit
kon die kommunisme nie, dit kan die kapitalisme nie, dit kan nasionalisme nie,
dit kan geen enkele politieke party in hierdie land nie, dit kan geen menslike
heerser op hierdie aarde nie, hoe baie mag en hoe geniaal hy ookal is.

Egte
uitsig op die ewige heil, egte kultuurwerk wat opbou en van blywende waarde is
kan alleen gedoen word vanuit liefde en gehoorsaamheid aan Koning Jesus. Jesus
Christus is die ewige Koning, wat koning is van die ewige koninkryk en die norme
vir die lewe wat Hy gee wys wat die egte lewe en die egte kultuur is. Daarom
gaan dit in die politiek nie net om aborsie en genadedood as ons van christelike
politiek praat nie. Dit gaan daarby om die hele lewe! Politieke partye en leiers
wat nie vanuit Christus en Sy Woord 
werk nie kan dan ook nooit ‘n goeie politiek voer 
wat blywende waarde het 
en wat egte kultuurbou bevorder nie.

Egte
kultuur en egte politiek volgens Christus se bevel word 
ook gekenmerk deur aandag en sorg vir die swakkes in die samelewing.
Nebukadnesar se selfverheffing, sy soek na ewige mag en roem gaan juis daarmee
gepaard dat hy geen aandag vir die armes en swakkes in sy Ryk het nie. Sy sug na
roem en eer gaan ten koste van hulle. Al die geld wat hy vir sy groot werke
bestee, beteken dat die armes, die weduwees en wese net swaarder kry. Dit is
Daniël wat die koning juis op hierdie punt tot bekering roep: “breek met u
ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellendiges as daar verlenging van u
rus moet wees." (27)

Ook
vandag geld dat ‘n politiek en ‘n regering wat geen aandag gee aan die
opheffing van die swakkes in die samelewing en die wet van die reg van sterkstes
sy gang laat gaan ‘n onregverdige, onchristelike regering is wat 
om God se oordeel roep. Aandag en beskerming van die swakkes in die
samelewing om reg te laat geskied is ‘n belangrike taak van die owerheid. Ook
die owerheid moet as God se dienskneg regverdigheid en barmhartigheid vir al die
inwoners uitstraal.

Dit
is Christus se ewige Koninkryk waar eendag 
volkome reg en liefde gesien word. Dit is Christus se Koninkryk waarvan
o.a. Psalm 72 sing. Sy Koninkryk staan teenoor die Koninkryk van die dier. Ons
sien dit in die derde punt.

Hy
word selfs soos ‘n dier

Die
boom word omgekap. Die boom wat gelyk het asof dit die lewensboom was, het
verdwyn. Nogtans het nog iets oorgebly. Die penwortel is nog daar en word deur
God se werk selfs deur ‘n band van yster en koper beskerm. Ons moet daarop let
dat dit God se werk is en dat dit nie so is dat die penwortel te sterk is om uit
te haal nie. Nebukadnesar is nie meer as ‘n mens nie. Die HERE wil hom nog nie
volledig vernietig nie. Hy wil hierdie magtige koning juis tot die erkenning
bring dat die HERE Koning is, dat die HERE God is en dat die magtigste mens op
aarde verseker nie God is nie. Daarom bly die penwortel in die grond, daarom bly
Nebukadnesar lewe maar totaal ontluister. Hy gaan deur kranksinnigheid wat oor
hom kom meer op ‘n dier lyk as op ‘n mens. Hy begin lyk soos ‘n dier en
gaan vreet soos ‘n dier. Sy mensehart sal deur die hart van ‘n dier vervang
word. Sewe periodes, ons weet nie hoelank die periodes was, moet 
Nebukadnesar so lewe.

Die
HERE wys hier waarmee Nebukadnesar besig was. Hy was besig om in diens van die
duiwel, die koninkryk van die dier, waarvan ons in Openbaring 13 lees, te bou.
Die Koninkryk wat teenoor Christus se Koninkryk staan. Wat teenoor die Koning
staan wat gely het en jou en my oproep om as mense wat vermoei en belas is by
Hom te kom en in Sy Koninkryk rus te vind. Om deur Sy Gees nuwe krag te ontvang,
om met vreugde in diens van Sy Koninkryk te werk.  
Om so met krag teen die Koninkryk van die sonde, van die duiwel te stry.
Om dit te doen vanuit die gebed dat die HERE ons hart, ons lewe vernuwe.Dat ons
‘n nuwe hart ontvang, nie van klip nie maar van vlees, nie met liefde vir die
sonde, maar met liefde vir die HERE en Sy wil.

Die
volg van jou eie hart sorg daarvoor dat ‘n mens slaaf van die dier word, van
die Koninkryk van die mens wat in diens van die duiwel staan. Hierdie Koninkryk
is dierlik en ken geen werklike liefde en barmhartigheid en bring by alle prag
en praal, by alles wat blink ‘n dierlike kultuur voort. ‘n Kultuur wat ‘n
mens ontmenslik en meer op ‘n dier laat lyk. Dit wat met Nebukadnesar gaan
gebeur is daarvan die voorbeeld.

Ons
roeping is om dit vanuit die kennis van die HERE se Woord 
in ons lewe te doen waartoe die HERE Sy volk in Openbaring 18:4 oproep as
dit om die stad van die mens die groot Babilon gaan: “Gaan uit haar uit, my
volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae
ontvang nie.”

Laat
ons nie dierlik word nie maar lewe as egte mens volgens God se bedoeling. Dan
staan ons in Christus se Koninkryk, dan ken ons Christus as die koning en
verdwyn angs uit ons lewe, dan bly ons dapper soldate van Hom in Suid-Afrika,
wie hier ookal die magtigste mens is.

AMEN                       
 

 

  

Liturgie: 

(kyk in preek)