Die Here Jesus Christus roep die huisslawe op om gehoorsaam aan hulle here te wees

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-10-05
Teks: 
I Petrus 2
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - 1 Petrus 2:18-20

 

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; Psalm 123; Geloofsbelydenis;Psalm
146:3,5,8;Skriflesing: Genesis 39:7-23 & Efese 6:1-9; SB 14; Kollekte; SB
20:5,6,7,8; Teks: 1 Petrus 2: 18-20; Preek; Psalm 68:3,9; Dankgebed; Psalm 107:
1,20,21; Seën

PREEK

Broers
en susters,  gemeente
van ons Heer Jesus Christus.

Seuns
en dogters, ook julle ken almal die verhaal van Josef. Julle weet hoe die broers
Josef in ‘n put gegooi het en hom na Egipte verkoop het.

Josef 
kom daar en word dan aan Potifar verkoop. 
Hy het ‘n slaaf geword. Potifar se slaaf. Hoe sou julle gereageer het
as dit met julle gebeur het? 
Sou julle baie kwaad gewees het? Sou julle vir Potifar wil werk?

Josef 
doen trou sy werk. Hy weet dat die HERE ook nou vir hom sorg. Josef 
word by Potifar ‘n huisslaaf. Dis ook die soort slawe waarvan Petrus in
ons teks skryf. 
Die woord wat hy in vers 18 gebruik en met diensknegte vertaal is, dui op
‘n sekere soort slawe. Dit gaan hier dus nie om gewone werknemers nie. Hierdie
mense was die besitting van hulle werkgewers. Die besitting van hulle here. Die
woord wat Petrus hier gebruik wys op die slawe wat 
in die huis hulle werk gedoen het. Hierdie werk kon die skoonmaak van die
huis of tuinmaak wees. Dit kon ook wees dat 
hierdie slaaf moes kook of dat hy verantwoordelik was vir die onderwys of
selfs ‘n nog groter deel van die 
opvoeding van die kinders.

As
ons nou na Josef terugkeer sien ons dat hy ‘n al hoe meer ‘n
verantwoordelike plek in Potifar se huis begin inneem. 
Hy word die hoof van die huisslawe. Hy is en bly ‘n slaaf maar neem
‘n baie verantwoordelike posisie in Potifar se huis in. Sy onderdanigheid, sy
gehoorsaamheid, sy verantwoordelikheidsbesef vanuit Sy gehoorsaamheid aan die
HERE maak hom tot ‘n mens wat vertrou kan word. Nogtans moet Josef as slaaf
ook onreg lei, juis omdat hy die HERE in alles wil gehoorsaam. Die ly van onreg
word ook in ons teks genoem.

Ek
verkondig vir julle die evangelie van ons Meester en Verlosser Jesus Christus
onder die tema:

DIE
HERE JESUS CHRISTUS ROEP DIE HUISSLAWE OP OM GEHOORSAAM 
AAN HULLE HERE TE WEES

1.    
Gehoorsaam aan hulle here

2.     
Gehoorsaamheid
vanuit hulle absolute gehoorsaamheid aan hulle Heer Jesus Christus

Gehoorsaam
aan hulle here.

Ons
lees op meerdere plekke in die Nuwe testament van huisslawe. Luk 16:13; Hand
10:7; Rom 14:4. Ons het al gehoor dat hierdie slawe vir allerhande werk in die
huis verantwoordelik was. Petrus kom met ‘n aparte voorskrif vir hulle. Dit
kan daarop wys dat die gemeentes vir wie Petrus skryf 
baie huisslawe as lidmate gehad het. As ons dit wat Petrus hier skryf
vergelyk met dit wat Paulus op ander plekke oor die verhouding tussen here en
slawe skryf  val
een ding op. Dit is dat Petrus hier geen enkele opmerking oor die
verantwoordelikheid van die meesters vir hulle slawe maak nie. Ons het Efese 6
gelees. Paulus sê daar vir die slawe dat hulle vanuit die vyfde 
gebod gehoorsaam moet wees maar  hy
voeg daaraan in vers 9 dan toe: “En here, doen dieselfde teenoor hulle en laat
staan die dreigemente, omdat julle weet dat ook julle eie Here in die hemele is
en by Hom geen aanneming van die persoon is nie.” 

Beteken
dit dat Petrus geen oog vir die verantwoordelikheid van die here het nie? Nee,
dit het niks hiermee te doen nie. Ons moet mooi daarop let in watter kader ons
teks staan. Dit gaan by Petrus nie daarom dat hy vir al die lidmate van
die gemeente aanwysings gee nie. Dit gaan hom daarom om die gemeente daarop te
wys hoe hulle moet lewe terwyl die samelewing met kritiese oë na die gemeente
kyk. Daarom spreek hy juis die dinge aan wat toe makkelik aanleiding kon gee om
Christus se kerk te belaster. Die manier waarop meesters hulle slawe behandel,
het toe nie in die kollig gestaan nie. Baie mense het die oortuiging gehad dat
‘n slaaf as ‘n minderwaardige behandel mag word. Dis natuurlik 
‘n heeltemal verkeerde en ‘n sondige manier van dink en lewe maar dis
nou nie dit wat Petrus wil aanspreek nie. Dit gaan hom daarom dat in die
samelewing nie die gedagte kan ontstaan dat mense vanuit die evangelie van
bevryding in die samelewing onhandelbaar word nie. Die evangelie van Jesus
Christus wys daarop dat elke mens vir God gelykwaardig is en dat by die HERE
geen aansien van die persoon bestaan nie. Nogtans mag nie die indruk ontstaan
dat christen-slawe dus onhandelbaar sal wees en dat hulle tot opstand en
rewolusie teen hulle here sal oproep nie. Dis nie so dat opstandigheid die
gevolg mag wees van wat Paulus in Gal 3:28 skryf: “Daar is nie meer Jood of
Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou
nie; want julle is almal een in Christus.”?

Vanuit
hierdie perspektief skryf 
Petrus, laat die Heilige Gees Petrus hierdie skryf.

Die
huisslawe wat  volgelinge
van die Here Jesus Christus geword het, word juis opgeroep om 
hierdie gedagte dat hulle nou 
onbruikbaar geword het, met hulle lewe, met hulle gedrag te weerlê. ‘n
Ander duidelike voorbeeld dat die bekering tot Christus as jou Here en Redder
nie beteken dat ‘n slaaf 
nou ‘n opstandeling geword het, is Paulus se brief vir Filemon. Sy
slaaf Onesimus het van hom weggevlug. Onesimus was ‘n opstandige, onwillige
slaaf.  Onesimus
leer in Rome, wat die stad is waarheen hy 
gevlug het, die Here Jesus as Sy Heer en Verlosser ken. Dit beteken vir
hom o.a. dat hy bereid is om weer na Filemon terug te keer en weer as sy slaaf
te gaan werk. Daarom kan Paulus vir Filemon skryf: “Ek pleit by jou vir my
kind, Onesimus, wat ek verwek het in my boeie, wat vroeër vir jou nutteloos
was, maar nou baie nuttig vir jou en vir my. Ek stuur hom terug; maar neem jy
hom, dit is my hart, aan.” (10-12)

Juis
die huisslawe se gehoorsaamheid aan hulle here kan ‘n aanbeveling vir Christus
se gemeente wees en sal 
allerhande skinderpraatjies oor die gemeente muilband.

Hierdie
gehoorsaamheid gaan baie ver. Ons het 2 weke gelede al gesien hoe die HERE van
Sy kinders ook gehoorsaamheid vra as dit om ‘n owerheid en om owerheidspersone
gaan  wat
‘n verkeerde beleid voer, wat nie in hulle amp Christus wil dien en Sy kerk en
Koninkryk nie beskerm en bevorder nie. Dis vir ons altyd weer moeilik om dit te
aanvaar. Dieselfde geld vir hierdie huisslawe. Hulle moet 
onderdanig wees, ook aan die here, aan die meesters wat onbillik,
oneerlik is, wat hulle slawe sleg behandel. Hoe moeilik is dit vir mens. Hoe
kook ‘n mens van woede as hy oneerlik, as ‘n minderwaardige behandel word.
Ek dink elkeen van ons voel so. Nogtans sê die Here vir ons: ook dan moet jy
begin by gehoorsaamheid. Hoe moeilik dit ookal is 
om dan nog goed en vriendelik vir daardie heer te wees. Hoe moeilik is
dit dan om  nie
net vriendelikheid te speel nie maar om opreg vriendelik te wees. Dis vir ‘n
mens baie moeilik. Nogtans is dit moontlik. Dis vir ‘n mens moontlik 
om onreg te ly en nogtans vir die ander vriendelik en goed te bly. ‘n
Mens kan dit doen as hy daarvoor 
Sy krag by Christus soek, as hy dit as geskenk 
uit Sy hande wil ontvang. Die Gees wys ons op hierdie geskenk in vers
19,20. Ons sal daarop in die tweede punt let.

Gehoorsaam
vanuit hulle absolute gehoorsaamheid aan hulle Heer Jesus Christus.

Die
huisslawe moes baie keer onreg 
van hulle heer verdra. Onbillike behandeling van slawe was daardie tyd
meer reël as gewoonte. Die onreg wat ‘n mens dan moes ondergaan kon 2 oorsake
hê. Die mees algemene was dat 
‘n slaaf 
onredelike opdragte kry wat hy nie kan volbring nie en dat as hy dit nie
volledig uitvoer nie daarvoor gestraf word. ‘n Slaaf is siek en hy moet tog al
sy werk doen en as hy 
dit nie reg kry, kry hy 
stokslae.

Die
slawe wat die Here Jesus volg is eintlik in ‘n nog moeiliker posisie. Dit kan
gebeur dat hulle meester hulle ‘n opdrag gee wat in stryd met God se wil is.
Wat in stryd  met
die Heer Christus se wil is. Dan moet die huisslaaf, 
dan moet jy as werknemer vir jou baas sê: Ek kan dit nie doen nie. Hier
eindig my gehoorsaamheid want ek moet nou gehoorsaam aan my hoogste Heer Jesus
Christus wees. Hierdie gehoorsaamheid sal ons ook moet wys as hierdie weiering
om daardie opdrag uit te voer vir ons beteken dat ons die trekpas kry. 
Dit is die gehoorsaamheid wat die Here van jou en my vra ook in ‘n tyd
waarin dit moeilik is om weer ‘n nuwe werk te kan kry. ‘n Voorbeeld van
hierdie gehoorsaamheid sien ons in die gedeelte wat ons in Gen 39 gelees het. 
Dis Josef se meesteres wat hom die bevel gee om met 
haar seksuele gemeenskap te hê. Josef is ‘n slaaf, hy is die besitting
van Potifar en sy vrou. Nogtans weier Josef 
dit uit liefde en gehoorsaamheid aan die HERE omdat hy weet dat hy die
HERE se kind en eiendom is. Altyd, in elke gesagsverhouding bly vir ons geld wat
Petrus voor die Joodse Raad sê: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan
die mense.” (Hand 5:29)

Die
eerbied, die eerbiedige vrees en liefde vir Christus bring ‘n mens dan tot
ongehoorsaamheid aan mense. So was dit ook by die huisslawe in Petrus se tyd. As
hulle op hierdie manier vir God se goeie wil gekies het moes hulle onreg ly
omdat hulle Christus se slawe wil wees. Josef moes die onreg van tronkstraf
ondergaan.

As
‘n mens, as ‘n huisslaaf se ongehoorsaamheid uit sy eie korrelkoppigheid, sy
eie dwarsheid, 
sy eie onregverdigheid voortkom is dit ‘n ding wat Christus se gemeente
in ‘n verkeerde daglig stel. Hierdie gedrag lewer geen roem by God en mense op
nie. Dit is waarop Petrus in die eerste deel van vers 20 wys: “Want watter
roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word?”

Nou
gebeur dit dat die huisslawe leed verdra, onreg verduur. Laat ons dit ook verder
deurtrek. Nou gebeur dit dat jy op jou werk op ‘n sekere punt onbillik
behandel word. Dit gebeur dat jy in die kerk 
op ‘n sekere punt 
voel dat jy onregverdig behandel is. Dit gebeur dat 
jy voel dat jy op grond van jou velkleur of jou christen wees in hierdie
land op sekere oomblikke agtergestel word. Hoe moet ons dan reageer? Is
opstandigheid dan die regte reaksie? Is loop dan die regte reaksie terwyl die
HERE jou wys dat 
jy nog ‘n taak en opdrag het?

Ons
sal eerlik vir onsself moet wees dat leed verdra, 
dat onreg verduur nie ons sterkste kant is nie. Ons is geneig om eerder
te loop as om dit “terwille van die gewete voor God” te verdra.

Ons
sal onsself op hierdie punt eerlik moet beproef. Die HERE sê in vers 20b vir
die huisslawe en ook vir ons: “Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en
ly – dit is genade by God”.

As
ons nie bereid is om moeilike tye, 
om onreg te verdra nie. As ons net die uitweg ken om te loop, om
persoonlik  van
moeite en onreg 
verlos te wees, sê ons vir die Here: Hierdie genade van God wil ek nie
ontvang nie. Hoe baiekeer het die HERE juis deur hierdie genade, deur hierdie
geskenk van Hom Sy kerk en Koninkryk wil bou?! Het Hy juis deur hierdie genade
gewys dat Hy en daardeur Sy troue kerk sterker is en ‘n wonderlike boodskap
het in tye van onreg en leed vir die mense waaronder ons woon. Hoe dikwels het
die HERE juis in daardie tye Sy kerk tot groot geestelike bloei gebring.

Hoe
kan tye van gevaar, van geweld, 
van  ekonomiese
teruggang ,  van
agterstelling van mense wat regtig Christus wil volg, ‘n seën vir die kerk en
vir die gelowige persoonlik wees. ‘n Mens leer dan op Christus te vertrou en
om dit te deurstaan op die plek waar die HERE ons ‘n plek gegee het. Dit is
net op een manier ‘n seën, naamlik 
deur te vra om God se geskenk, deur om Sy genade te smeek dat jy leed en
onreg  kan
verdra en nogtans vriendelik en goed vir die ander mense kan wees.  

Dit
kan net deur te doen wat die digter van Psalm 123 gedoen het. Hy was in hierdie
omstandighede dat hy terwille van Sy liefde en gehoorsaamheid van die HERE onreg
en agterstelling moet ervaar. Dan hoor ons hom in diep afhanklikheid van die
HERE sê: “Ek slaan my oë op tot U wat in die hemel troon. Kyk, soos die oë
van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is
op die hand van haar meesteres - so is –ns oë op die HERE onse God, totdat Hy
ons genadig is. Wees ons genadig, o Here, wees ons genadig.”

Ons
het uit onsself nie die krag om so te lewe nie. Dis steeds weer nodig om ons oë
na Jesus Christus 
te rig.

Die
Here Jesus, wat terwille van my en jou sondes baie meer onreg 
en leed verdra het en wat ondanks dit steeds goed en vriendelik was vir
almal,  het
steeds weer Sy krag in die gebed tot Sy Vader gesoek en so het Hy tot die bitter
einde Sy taak volbring. Dit wys God se krag, dit wys Sy liefde wat alles oorwin.

Laat
ons opsien na die HERE om tot in die mees moeilike omstandighede te wys hoe
groot Sy krag en liefde is. Om so mense se praatjies oor Christus se kerk te loënstraf
en ‘n krag van God in ons omgewing te wees en te bly.

Gelukkig
is Jesus Christus ons
Heer. ‘n Beter heer kan ‘n mens nooit kry nie.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)