Wees aan die gesagsdraers gehoorsaam

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-10-05
Teks: 
I Petrus 2
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - 1 Petrus 2:13-17

 

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; SB 49: 6,7; Gebed;Skriflesing: Spreuke 24:15-25;
Psalm 2:1,2,3; Skriflesing: Romeine 13:1-7; Psalm 2:4,5,6; Teks: 1 Petrus 2:
13-17; Preek; Geloofsbelydenis (Sing);Dankgebed;Kollekte; Psalm 72: 1,10; Seën

PREEK

Gemeente
van ons Koning Jesus Christus, broers en susters

Dis
nou enkele weke terug dat ons saam na 1 Petrus 2 gekyk het. 
Om die verband weer te kan raaksien ‘n enkele opmerking. Vanaf vers 11
het ‘n nuwe gedeelte van hierdie brief begin. Hierdie gedeelte loop tot 3:12. 
Dit gaan daarom hoe Christus se gemeente moet leef 
in omstandighede waarin jou medeburgers met kritiese oë na jou en die
gemeente kyk.

Hoe
ons in daardie omstandighede moet lewe het 
Petrus vir ons in algemene terme  in
vers 11 en 12 geskryf.  Nou gaan hy
dit meer konkreet vir verskillende verbande maak waarin mense, waarin Christus
se gemeente lewe.

Ons
het die vorige keer ook gehoor hoe die HERE wil dat ons ons nie van die
samelewing isoleer nie. Ons moet ons ver van die sondes hou maar nogtans mense
wees wat by die ander mense in die samelewing betrokke is.

Nou
kan dit wees dat die samelewing  ‘n
verkeerde idee van ons het. Dit kan wees dat hulle dink 
dat die christene, omdat hulle op allerhande punte anders dink en lewe,
‘n gevaar vir die vrede in die samelewing vorm. Dit kan wees dat 
mense begin dink dat die christene die rebelle en opstandelinge van môre
is omdat hulle op verskillende punte kritiek op die owerheid het.

Dis
die manier waarop mense die christene in die eerste eeue gesien het. Dieselfde
het ook weer in die tyd van die Reformasie gebeur. Dis juis om te wys dat mense
op hierdie punt ‘n verkeerde indruk het dat die Nederlandse Geloofsbelydenis
in 1561 geskryf is. Die eerste eksemplaar van hierdie belydenis was vir koning
Filips II bedoel om vir hom te wys dat die Gereformeerdes geen opstandelinge is
nie. Dat hulle juis vanweë Christus in gehoorsaamheid aan die owerheid wil lewe. 

Die
mense wat in Petrus se dae leef is baie bang vir die versteuring van die orde.
Want as in ‘n stad onrus ontstaan, gebeur dit dat die Romeine die hele stad
vanweë daardie onrus straf. Sien Hand 19:40.

Die
Heilige Gees wys in ons teks hoe ons die owerheid moet benader in omstandighede
waarin die owerheid en medeburgers krities na ons kyk.

Ons
wil nou daaroor die evangelie hoor.

Ek
verkondig vir julle Christus se evangelie onder die tema:

 

WEES 
AAN DIE GESAGDRAERS GEHOORSAAM

1.    
Ter wille van die Here

2.    
As uitvoerders van God se wil

3.     
Sonder misbruik van die vryheid in Christus

Ter
wille van die Here

Hoe
moet die houding van christene, hoe moet die houding van Christus se kerk
teenoor die gesagsdraers wees? Ons moet mooi na ons teks kyk om te sien waarvan
Petrus hier praat. Hy vra in Christus se naam van ons onderdanigheid ”aan
elke menslike verordening”. Wat bedoel hy daarmee?

Gaan
dit hier om elke menslike wet wat mense maak, gaan dit hier om elke organisasie
wat mense in die lewe roep? Die Grieks maak duidelik dat dit nie die bedoeling
is nie. Dit gaan nie om dinge wat uit die mense se hart kom nie. Dit gaan hier
wel om elke gesagsinstansie wat uit mense bestaan. Dit gaan nie daarom dat op
‘n menslike oorsprong gewys word nie maar dat dit mense is wat deur bevoegde
instansies aangestel is. Hulle verteenwoordig wettige bevoeghede. Dit is ook wat
Paulus in Romeine 13 skryf: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat
oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar
is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling
van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.” (vers
1,2)

Die
Here het mense in gesagsposisies en as gesagdraers vir ons gegee. Dis ‘n feit
wat ons as christene moet respekteer. Dit sal juis by ons christen-wees behoort
om hierdie gesagsdraers in hulle posisie te respekteer en te eer. Dis daarom ook
dat ons in vers 17 die opdrag lees om die koning te eer.

Christus
leer ons in die woorde ‘n menslike ordening ook om die gesagdraers op
die regte manier te eer. Dit was ook vir die mense in Petrus se dae baie
belangrik.

Hoe
het mense in daardie tyd  dikwels 
‘n owerheid, gesagsdraers gesien? 
As  ‘n goddelike instelling,
hulle het konings en die keiser as gode gesien wat goddelike eer moet kry en mag
verlang. Die woord wat in ons vertaling ordening is, beteken letterlik skepping. 
 Ons moet as christene
aan die gesagsdraers onderdanig wees sonder hulle as gode of 
as goddelike afgesante te vereer. Dit mag ons selfs nie doen nie. Die
eerste christene het in gehoorsaamheid aan hierdie woord dan ook geweier om die
keiser as ‘n god te vereer en te aanbid. Dit het vir baie christene in die
eerste 300 jaar na Christus hulle lewe gekos. Hulle was nie rebelle nie, 
hulle was gehoorsame burgers maar hulle het die owerheid 
geen groter eer gegee as dit wat volgens die HERE se Woord gegee mag word
nie.

Die
gepaste onderdanigheid moet ons vir elke gesagsdraer gee. Dit is nie so dat ons
gehoorsaamheid vir die owerheid van die simpatie vir sekere ampsdraers of 
‘n politieke party of iemand se velkleur mag afhang nie. Die bereidheid
om gehoorsaam te wees mag ook nie daarvan afhang 
watter godsdienstige oortuiging ‘n sekere gesagsdraer uitdra, die mag
selfs nie daarvan afhang watter godsdiens die owerheid as geheel 
propageer nie. Dit klink ons dalk vreemd in ons ore. Natuurlik sal ons as
Christus se kerk die owerheid steeds weer moet oproep en voorhou 
dat hulle vanuit die verbondenheid en gehoorsaamheid aan Christus as die
Koning van die konings moet regeer. Dat hulle juis moet bevorder dat ook die
openbare lewe in die samelewing volgens Christus se Koningswoord ingerig behoort
te word.

Maar
as ‘n owerheid dit nie doen nie mag dit vir ons nie beteken dat ons daardie
owerheid nie meer as owerheid eerbiedig en respekteer nie. Petrus skryf hierdie
woorde op ‘n oomblik dat die owerheid verre van christelik is. Die Romeinse
owerheid bevorder en propageer en verplig mense selfs om ‘n valse godsdiens te
bedryf.  Die Romeinse owerheid erken
Christus nie en vervolg juis die christene. Ondanks dit sê die Heilige Gees dat
gehoorsaamheid aan daardie owerheid deel van die gehoorsaamheid aan Christus en
Sy evangelie vorm. As  ek gehoorsaam
is aan ‘n regering waarvan ek nie hou nie, 
as ek gesagsdraers as sulks respekteer terwyl ek hartgrondig van hulle
beleid verskil, doen ek dit  ter
wille van die Here.  As christen
word ek daartoe gedring omdat my Here en Verlosser Jesus Christus dit van my vra.
Hy het daardie mense en die mense van daardie party as ampsdraers aangestel.

Dan
is dit ook nie so dat ek net na die hoogste ampsdraer wil luister nie. Dan kan
‘n mens nie sê: Ek sal dit net doen as president Mbeki by my in die huis kom
nie.

Die
christene moet in ‘n omgewing waar mense krities na hulle kyk, elke
gesagsdraer in sy amp respekteer . Nie net vir die koning as die hoogste gesag
nie maar ook vir  hulle wat die
koning verteenwoordig in hulle omgewing. Petrus noem hier as voorbeeld die
goewerneurs. Ons kan en moet dalk by die koning as opperheer  aan die keiser in Rome dink. Die keiser word in die Nuwe
Testament  op 2 ander plekke die
koning genoem. Joh 19:15;  Hand
17:7. Die keiser het  orals in sy
ryk mense wat ‘n deel van die Romeinse Ryk in sy naam regeer. Een van die
goewerneurs wat hy daarby gebruik het, was Pilatus. 
Ons respek vir die owerheid moet sover gaan dat ons nie bekend staan as
aanstaande rebelle nie maar as mense wat vir die owerheid en die
owerheidspersone bid. Ons bid dan nie net vir ‘n christelike owerheid en
christelike gesagsdraers nie. Ter wille van Christus wat die Here, die Koning
van die konings is, roep Christus ons op om vir hulle te bid. Hy sê vir ons in
1 Tim 2:1,2: “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede,
voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal
wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug
en waardigheid.”

Die
Heilige Gees wys in ons teks nie net op die verantwoordelikheid 
van Sy volk om die owerheid onderdanig, gehoorsaam te wees nie. Hy wys
ook  op die owerheid, op die
gesagdraers se taak en roeping.

Hulle
taak is om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys.” 
As  die owerheid en die
afsonderlike gesagdraers hulle taak verstaan 
is hulle geen bedreiging vir ‘n christen en vir die christelike kerk
nie. Jy moet bang vir die owerheid wees as jy doen wat nie reg is nie. Dan het
jy geen rede om te kla as jy gestraf word nie. ‘n Kerk wat hom in verkeerde,
sondige dinge laat intrek moet nie kla as die owerheid daarom met 
straf  kom nie. 
Ons wat  onderdane van Koning
Christus is, moet so lewe dat  ‘n
owerheid, wat sy taak verstaan, vir ons nie hoef te straf nie. As dit tog nodig
is,  besoedel ons die naam van
Koning Christus en van Sy kerk. Daarom skryf Petrus later in hierdie brief:
“Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een
wat hom met die sake van ‘n ander bemoei nie.” (4:15)

Ons
mag en moet die owerheid met ‘n goed gewete steeds daaraan herinner dat hulle
vir die mense wat God se wet en daarmee die naaste aantas, moet straf en dat
hulle wat volgens die HERE se goeie wet lewe lof moet ontvang. As ons dit doen
moet dit vir die owerheid en ons medeburgers duidelik wees dat ons uitvoerders
van God se goeie wil is. Ons let daarop in die tweede punt.

As
uitvoerders van God se wil

Wat is nou die
bedoeling daarvan dat ons in ons lewe regtig goed doen? Ook goed doen vir
gesagsdraers met wie se beleid ons glad nie saamstem nie.

Ons
moet bedink dat  dit in die tyd
waarin Petrus dit skryf ‘n groot rol speel. 
Dit was ook al so toe die Here Jesus voor Pilatus gestaan het. 
Pilatus was ‘n goewerneur waarvan toe al bekend was dat hy nie
regverdig en eerlik was nie. Hy was omkoopbaar. 
Die Here Jesus wat die Seun van God is, het Pilatus deursien. Hy wat as
die volkome regverdige mens voor Pilatus staan, respekteer en eer Pilatus
ondanks alles  as gesagdraer.

Ons
moet leer om onsself te verloën, ons moet vanuit Christus se liefde en
voorbeeld  leer om ander mense
steeds weer goed en met liefde en respek te behandel, al handel hulle dit nie
teenoor ons nie. Ons moet deur die Heilige Gees se krag  leer om so te lewe dat ons lewe, ons goed doen nie meer deur
ons medeburgers misgekyk kan word nie. Laat 
ons gebed wees dat die Gees ons so gebruik en dat daardeur die owerheid
amper gedwing word om Christus se kerk te prys. As ons so lewe is ons besig 
om mense se onkunde tot swye te bring. Letterlik lees ons in vers 15 dat
ons dan besig is om hulle onkunde te muilkorf. 
Die dwase mense, dis die mense wat sonder Christus lewe, dis hulle
wat aan allerhande skinderstories geloof heg, 
moet deur die manier waarop ons lewe hulle mond nie meer op hierdie
manier kan oopmaak nie. Die feite wat hulle sien en wat die mense sien met wie
hulle praat, moet so oorweldigend wees dat niemand meer skinderstories oor ons
glo nie.

Hoe
belangrik is dit dat ons ons in liefde vir God en deur intensiewe gebed op die
doen van God se wil in ons lewe toelê. Dit moet ons doen maar dis geen slawerny
nie. Petrus wys ons in vers 16 en 17 hoe ons dit kan en moet doen. Ons
let daarop in die derde plek.

Sonder
om misbruik van ons vryheid in Christus te maak

‘n 
Christen is ‘n vrye mens, hy staan in die vryheid van Christus. Dis nie
so dat  die HERE allerhande wette en reëls op jou afgelaai het en
dat jy die las daarvan nou moet dra en uitvoer nie. Wie by Christus sy lewe soek,
het van die dwangbuis van die sonde vrygeraak. Die sonde, die verbondenheid met
die duiwel jaag hom nie meer nie. Die sonde en die skuld druk nie meer as ‘n
swaar las op hom nie. Wie Christus as sy Redder ken staan in die heerlike
vryheid van die kind van God wees.

Hierdie
heerlike vryheid mag ons nooit so gebruik dat vryheid bo die liefdevolle
verbondenheid aan Christus en Sy wil kom staan. Dit  moet altyd vryheid in Christus wees, altyd die bevryding van
die slawerny aan die sonde waardeur ons vry is om juis God se wil te doen as die
mooiste en heerlikste in ons lewe. Hierdie vryheid is dan die vryheid om nie te
sondig, dis die vryheid wat Paulus in Gal 5:13 so omskryf: “Want julle is tot
vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir
die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde.” Sien ook Joh 8:31-36.

As
‘n mens die vryheid in en deur Christus so gebruik  wil jy nie met daardie vryheid skerm om verkeerde dinge te
kan gaan doen. Die vryheid word so gebruik as mense sê:  Ek mag as christen tog doen wat ek wil, as ek dit maar vir
God kan verantwoord. Baiekeer  gebruik
mense hierdie woorde om ‘n eie eiewillige en sonde lewe te kan handhaaf en
verdedig. As jy en ek uit geloof , in verbondenheid met Christus lewe is jou
hoogste en heerlikste vryhehid dat jy God se kneg wil wees, dat jy in alles aan
Sy wil gebonde wil wees en daarin jou grootste blydskap vind.

Wie
steeds weer in geloof vra: HERE leer my om al hoe meer U kneg te wees. neem ter
harte wat ons in Spreuke 24:20,21 as die HERE se wysheid gelees het: “Want die
kwaaddoener het geen toekoms nie, die lamp van die goddelose gaan dood. My seun,
vrees die HERE en die koning, laat jou nie in met oproerige mense nie.”

Dit 
wat Petrus in vers 17 skryf,  herinner
aan hierdie woorde in Spreuke. Vryheid, verbondenheid met Christus leer ons om
elke mens as God se skepsel  te
respekteer. Om elkeen as mens met liefde en meddedoë te behandel. Dan leer ‘n
mens om in die gemeente liefde te gee. Jy wag dan nie eers op ‘n ander se
liefde nie. Omdat Christus jou eerste liefgehad het, 
wil jy liefde aan broers en susters bewys. Wil jy in liefde jou vir die
gemeente inspan en wil jy geen draadsitter wees nie. Die vryheid in Christus 
bring jou by God  wat jy as
die enigste God vereer en met wie jy in eerbiedige vrees elke oomblik van jou
lewe wil leef. Dis hierdie  eerbiedige
vrees en verbondenheid met God wat jou vryheid so groot maak dat jy selfs ‘n
koning, ‘n regering wat  baie
verkeerde dinge doen eer.  Jy doen
dit vanuit Christus se liefde wat jou lewe begin beheers het.

Hoe
wys Christus se kerk, hoe wys  elke
gelowige  dat christene geen gevaar
vir die samelewing is nie maar dat hulle van onskatbare waarde vir die
samelewing is? Deur vanuit God se liefde die owerheid volgens Sy bevel te
respekteer.

Laat
ons so lewe, Heilige Gees maak ons steeds op hierdie punte tot nuwe mense sodat
ons medeburgers juis tot Christus en Sy diens getrek word en  vir
ons owerheid leer om net dienaar van Christus wil wees. Dit kom Suid-Afrika ten
goede!

AMEN

       
  

        
     

 

Liturgie: 

(kyk in preek)