Die belydenis van die drie-enige God.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-05-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 8
Preek Inhoud: 

Sondag 8

Ds C Kleyn - Sondag 21 Mei 2000

Lees: Johannes 14:1-20; Sondag 8.
Sing: Ps 96:1,2; Ps 15:1-3; Ps 143:7-9; SB 27:1-5;
Ps 134:4; SB 50:1,7.

Tema: Die belydenis van die drie-enige God.

Die belydenis

  1. is ’n kwessie van eers luister / gee die gerigtheid
    van ons geloof aan
  2. is ’n kwessie van dan ervaar / staan midde in ons
    lewe

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Eers sien en dan glo – gaan dit nie dikwels so in ons
lewe nie? Ek wil eers sien, ek wil eers tasbare bewyse hê,
voordat ek iets aanvaar. Ons is ingestel op ervaring, veral in
hierdie visuele tydperk. Ek wil iets kan sien of voel, ek wil
iets kan gryp of begryp.

Daarom het baie mense moeite met die geloof in die drie-enige
God. Dit lyk almal so vaag, so onbegryplik. Ek kan dit nie sommer
sien of tas nie. Kan ek dit dan wel glo? Gemeente, in die Bybel
is die volgorde nie: eers sien of ervaar en dan eers glo nie. As
ek dit eers wil sien en ervaar, dan sal ek nooit tot geloof kom
nie. Ek moet eers luister, God se woorde hoor. Dan eers kan ek
glo. Om te glo is immers om alles wat God in sy Woord aan ons
geopenbaar het vir waar aanvaar. Om dit te kan doen moet ek eers
weet wat God in sy Woord aan ons bekendgemaak het. Daarom is ons
eerste ervaring in die verbond met die Here die luister ervaring.
Dis reeds ’n groot belewenis. Ek mag sommer luister na die
Here in die hemel. Die hoë God wil sommer met my spreek. Wat
’n ervaring!

Maar gemeente, is daar dan verder niks van God om te belewe
nie? Ja seker. Nadat jy geluister het is daar baie om te belewe.
As jy goed geluister het en dit aangeneem het, dan gaan jy dit
ook sien en tas. Dan gaan jy God ook ervaar in die lewe van elke
dag. Saam met die geloof kom ook die ervaring.

Die God van ons belydenis, die drie-enige God is geen vae God,
wat heeltemal buite ons lewe staan nie. Nee, Hy is die God wat
met ons wil optrek. Wie van u is nie persoonlik betrokke by die
evangelie van die drie-enige God nie? U is tog almal gedoop in
die naam van die drie-enige God? Beskou hierdie belydenis dan ook
nie slegs as ’n teorie nie, maar laat dit volle werklikheid
wees in die daaglikse praktyk van u lewe.

So wil ek aan u die belydenis van die drie-enige God
verkondig. Ons let daarop dat die belydenis ’n kwessie is
van eers luister, dan ervaar.

Oftewel: die belydenis gee die gerigtheid van ons geloof aan
en staan midde in ons lewe.

Wanneer ek luister na God, wat hoor ek dan? Waaroor spreek God?
God spreek oor Homself. God maak Homself bekend. Hy lê sy hart
oop. Ja, God gee Homself. Wat is die eerste woorde wat God tot u
gespreek het? Sy eerste woorde is woorde waarin Hy Homself gee.
Waarin Hy Homself gee as God die Vader, God die Seun en God die
Heilige Gees. Het Hy nie by u doop gesê: Ek doop u in die naam
van die Vader en die Seun en die Heilige Gees nie? Wat bedoel God
met die woorde? In elk geval nie dat u namens die Vader, die Seun
en die Heilige Gees gedoop word nie. Om in die naam van God te
doop wil hier nie sê: om in opdrag van God te doop nie.

Wat sê dit dan wel? Dit beteken: om u te verbind aan God die
Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Letterlik sou ons
kan vertaal: ek doop jou tot die naam van. U word in die
gemeenskap van die drie-enige God gebring. Voortaan behoort u aan
Hom. U kom vir sy rekening. Want God wil Homself gee en Homself
aan ons en ons kinders verbind.

Dit is broeders en susters, kortliks waaroor dit gaan in die
Bybel. Dit hoef u daarom ook nie te verbaas dat die apostoliese
geloofsbelydenis rond die belydenis van die drie-enige God gebou
is nie. Die belydenis is immers ’n uitwerking van die
doopsformule; die doopsformule, wat die kern van die evangelie
weergee. Wat belowe God aan ons? Hy belowe Homself as die drie-enige.
Hy gee Homself as die een God wat in drie Persone onderskei is.
So kom Hy dan in die verbond na u toe, deur die een woord wat
reeds by die doopvont oor u uitgespreek is.

Die leer van die drie-eenheid bly ’n onbegryplike saak.
Hoe moet ek my daarvan ’n voorstelling maak? Een God en tog
drie Persone. Ek kan dit nie vat nie. Kan ek dan nie beter
daaroor swyg nie? Die Kat gee ons ’n raak antwoord: "Terwyl
daar maar tog net een, enige goddelike Wese is, waarom praat jy
van drie, naamlik die Vader, die Seun en die Heilige Gees? Omdat
God Hom so in sy Woord geopenbaar het". Die Kat sê in feite:
ookal is dit moeilik om te verstaan, so het God Homself in sy
woord bekendgemaak. Of ek dit verstaan of nie maak nie saak nie.
Dit verander niks aan die openbaring nie. Dit bly ewe waar. God
het dit self gesê, dus is dit so.

Die Kat gee ’n wys en moedig antwoord. Ons kan in hierdie
tyd nog baie daarvan leer. Durf u nog te sê: ek begryp dit nie
heeltemal nie, maar so staan dit in die Bybel? Daarom is dit ook
so, en daarom bely ek dit so? Met my menslike verstand kan ek nie
alles beredeneer of verklaar nie. God is daarvoor veel te groot
en verhewe. Ek moet leer om te luister en om gewoon te aanvaar
wat God self sê. Dit is wat geloof is. En wat ek van God geleer
het moet ek dan gaan naspreek, bely. Laat ons rustig daarvoor
uitkom. Ek hoef my nie vir die evangelie te skaam nie. God het
dit tog self gesê?

Hier sien u broeders en susters, hoe sterk dit daarop aankom
om eers te luister en dan eers te praat. Gaan nie voor u beurt
praat nie, soos die liberale teoloe. Dit lê in ons aard. Dis vir
ons moeilik om goed te luister. Ons het ons eie gedagtes en wil
dit graag uitspreek so van: ek dink dit of ek voel dit. Dis vir
ons dikwels die belangrikste, beslissend. In die verbond met God
kom ek op hierdie wyse bedroë uit. Wat dink ek wel van myself,
van my gevoel? Dink ek dat ek regtig uit myself tot God kan kom?
Dat ek God kan uitdink? Met my verblinde verstand? Met my
leuenagtige gees? As ek op my gevoel of my verstand afgaan dan
kom ek nooit by God uit soos Hy is nie. Dan kom ek eerder by
’n eiegemaakte god uit. Ek het hom in so ’n geval
immers self bedink? Nee, by die ware godsdiens is dit anders. As
ek daaraan wil deelhê dan sal ek eers goed moet luister, dan sal
ek eers myself gewonne moet gee, eers my eie gedagtes moet laat
korrigeer. Eers daarna mag ek self gaan spreek.

Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart
van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God bekend gemaak.
Ek sou daar nooit opgekom het nie. Maar nou ek dit gehoor het,
nou gaan ek dit ook bely. Hierdie drie onderskeie Persone, die
Vader, die Seun en die Heilige Gees is die enige, ware en ewige
God.

Broeders en susters, die woord waarmee ons die waarheid
probeer weer te gee, die woord drie-eenheid, sal u nêrens in die
Bybel vind nie. Tog loop die leer as ’n goue draad deur die
hele Bybel heen. Niemand wat wil buig voor God se woorde sal
hierdie waarheid kan ontken nie. ’n Mens sou ’n hele
reeks tekste kan opsom. Laat ek volstaan deur U te verwys na art
9 van die NGB. Daar word ’n aantal skrifgedeeltes aangehaal.
Laat ons dit saam lees: art 9, die tweede alinea, bls 492 in my
Psalmboek.

Gemeente, in die skrifgedeelte wat ons uit Joh gelees het,
hoor u ook van die drie persone van die drie-enige God. Die Here
Jesus spreek van sy eenheid met die Vader. "As julle My
geken het, sou julle my Vader ook geken het" en "Hy wat
My gesien het, het die Vader gesien." "Glo jy nie dat
Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot
julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in
My bly, Hy doen die werke. Glo My dat Ek in die Vader is, en die
Vader in My." Elkeen moet leer om in te sien dat die Vader
deur die Seun spreek en werk. Dit is ’n gevolg van die feit
dat die Vader en die Seun een is. As ek dit insien dan sal ek
nooit meer vra: toon my die Vader nie, want in Christus se woord
en werk sien ek die Vader.

Oor die Heilige Gees sê die Here Jesus: "Ek sal die
Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle
te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid. Ek sal julle
nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe."
Christus kom weer tot sy kerk in die Heilige Gees. Die Gees sal
die werk van Christus op aarde voortsit en voltooi. Hierin sien u
die innige band tussen die 3 persone van die een God. Die Skrif
spreek duidelike taal, waaraan ons nie kan ontsnap nie. Die
geloof aanvaar dit ook al kan ek die waarheid nie begryp nie. Dit
vra die Here ook nie van my nie. Dit moet ons daarom ook nie eis
nie.

Laat ons gewoon luister, glo, dan sal ons dit ook belewe. Dit
bring ons by die tweede gedagte. Die eerste gedagte was: eers
luister oftewel: die belydenis van die drie-eenheid gee aan die
gerigtheid van ons geloof, dis naamlik gerig op God se woorde.
Nou wil ons let op die ervaring van die belydenis oftewel die
belydenis staan midde in ons lewe.

Die Kat noem God die Vader en ons skepping, God die Seun en
ons verlossing en God die Heilige Gees en ons heiligmaking. Let
wel: ons skepping, ons verlossing, ons
heiligmaking. Dit is nie vaag, iets wat ver van ons afstaan nie.
Nee, dis baie konkreet en persoonlik. Ons skepping, ons
verlossing en ons heiligmaking. Dis vir ons alles. Wat ’n
rykdom besit ons in die drie-enige God: Vader, Seun en Heilige
Gees.

Ons skepping. Die feit dat ek leef, dat ek kan dink en werk is
veral danksy God die Vader. Hy tree by die skepping op die
voorgrond. Dit wil nie sê dat Hy iets doen buite die ander twee
Persone nie. Ons lees immers in die Skrif dat alle dinge deur die
Woord, dws deur Jesus Christus, ontstaan het en dat sonder Hom
nie een ding ontstaan het nie(Joh 1:3). So is alle drie Persone
betrokke by die werke van skepping en herskepping. So werk alle
drie saam in volmaakte harmonie. Tog sien ons dat die Vader op
die voorgrond tree by die skepping, die Seun by die verlossing en
die Heilige Gees by die heiligmaking.

Ons het gehoor van God die Vader. Die Seun het ons Hom leer
ken. En nou sien ek die Vader ook heel konkreet besig in my lewe.
By my doop het Hy gesê dat Hy my tot sy kind en erfgenaam wou
aanneem. In geloof mag ek Hom steeds weer as Vader ervaar en mag
ek myself steeds weer as kind sien. Nee, nie altyd so ’n
voorbeeldige kind nie, maar tog ’n kind van Hom. Hy het dit
gesê. En Hy het geweet wat Hy toe gesê het. Hy het toe reeds
geweet hoe ek later sou wees. Tog het Hy gesê: Ek wil ’n
ewig verbond met jou sluit en jou tot my kind en erfgenaam
aanneem. Hy het toe geen voorwaardes vooraf gestel nie so van:
dan moet jy wel eers sus of so wees nie. Nee, sy belofte was
onvoorwaardelik. Hy wou my aanneem soos ek was.

Elke keer as ek die evangelie aanneem, ervaar ek ook die
intieme band met Hom. Die feit dat ek weet dat ek as ’n kind
aan Vader se hand deur die lewe mag gaan gee my rus. Nie dat ek
Hom altyd begryp nie. Die moeites kan soms toeneem. Daar kan vrae
en sorge wees. Maar as ek weer luister na Hom, sy woorde aanneem,
dan weet ek weer: Hy is as Vader naby. Daarom kan ek met die
Psalmis sê: "Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee,
ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf
die vertroos my." In geloof sien ek sy troue sorg. Wat gee
Hy nog baie. Wat ’n gawe om nog te lewe en te geniet van
’n betreklike gesondheid. En wat nog meer is: wat ’n
wonder om kind van Hom te mag wees. Dit maak my bly en dankbaar.
Meer as geld en goed. Ook in die nood. Ek sien self miskien geen
uitweg nie. Maar ek weet: Hy sien wel ’n uitweg. Hy vergis
Hom nie. Hy laat alles ten goede meewerk. Hy het dit gesê.
Daarom is dit so. Daarom mag ek dit ook in kinderlike oorgawe so
belewe.

En nou God die Seun en ons verlossing. By die doop het Hy al
gesê dat Hy al my sondes wil vergewe. Dit is nogal wat. Wie kan
hulle tel? In Psalm 19 bid Dawid: "die afdwalinge - wie
bemerk hulle? Spreek my vry van die wat verborge is." En dit
kan. Deur die bloed van Christus, in gemeenskap met die Here
Jesus Christus. Wat van Christus was, word nou aan God se kinders
toegereken. En so mag ons voor God staan, asof ons self geen
sonde geken het nie. God sien ons aan asof ons Christus self is.

Vanweë die sonde voel ons ons dikwels vuil. Ons skaam ons,
veral as ons merk dat ons steeds weer in dieselfde sonde val.
Sondes waar ander miskien niks van merk nie. Ek voel my
ongelukkig. Wat moet ek maak? Moet ek eers myself ’n bietjie
opknap? Eers ’n week of ’n maand lank heilig lewe?
Sodat ek miskien dan weer tot God kan gaan om genade te vind? Nee,
sê die Seun van God. Hou daarmee op. Want dit luk jou nooit nie.
Geen maand, geen week, selfs geen dag of uur nie. Ek het dit vir
jou gedoen. Ek het mens geword. Ek was aan die Vader gehoorsaam
tot die dood, ja, selfs die dood aan die kruis. En dit in jou
plek. Ek wil daarom al jou sondes vergewe.

Gemeente, hoor u dit, neem u dit aan, dan ervaar u dit ook so.
Ek gaan dan nie langer gebuk onder die skuldgevoelens nie. Ek bly
my nie ongelukkig voel nie. Ek voel my opnuut bevry. My sonde is
vergewe. Ek sien die Seun van God heel konkreet voor my, in sy
werk van verlossing, in sy lewe en sterwe en opstanding. My
geloof laat my dinge sien wat ek anders nie sou sien nie. Heel
die werk van Jesus Christus kom midde in die lewe te staan, in my
lewe met sy val en opstaan.

En nou God die Heilige Gees. Hy lyk so vaag. Hy het gesê dat
Hy in my wil woon en my wil toe-eien wat ek in Christus het. Kan
ek dit wel konkreet in my lewe plaas? Wanneer ek na Hom luister,
dan sien ek dit weer: ja, Hy is baie konkreet met my besig. Sou
ek uit myself my voor God verootmoedig? Sou ek uit myself tot
Christus vlug en glo? Dis onmoontlik! Dit is die Gees wat my
steeds weer tot Christus dryf. Dit is die Gees wat my steeds weer
Christus en al sy weldade laat aanneem. Dit is die Gees wat die
begeerte in my wek om vir die Here te lewe. Wat ’n wonder!
Dat Hy wil woon in so ’n mens as ek. Maar dit is waar. Ek
het dit uit sy eie mond gehoor. En nou sien ek dit ook. Hy hou my
steeds weer God se woorde voor. Hy herinner my aan die woorde. Hy
help my deur die krisisse heen. So is Hy besig om rigting aan my
lewe te gee. So is Hy besig om my te vernuwe. Sodat my lewe
steeds meer op God gerig sal wees. Ek mag reeds die begin daarvan
opmerk en ervaar. Wat ’n magtige werk van die Gees, wat
lewend maak.

Gemeente, u wil graag iets van God sein en ervaar? Open dan
eers u ore. Luister na Hom wat tot u spreek, na Hom wat Homself
aan u bekendmaak. Neem dit aan in geloof. Dan sal u Hom sien en
ervaar. Die Vader, die Seun en die Heilige Gees staan midde in u
lewe. Hulle werk daar aan u skepping, verlossing en heiligmaking.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)