Laat die oorwinnende liefde van Christus blyk in jou omgang met ander mense.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-02-27
Teks: 
Romeine 12
Preek Inhoud: 

Romeine 12:21

Ds C Kleyn - Sondag 27 Februarie 2000

Lees: Romeine 12:9-21; 13:8-14.
Sing: Ps 75;1,2; Ps 75;3,4; Ps 105:1,5 (na doop
van Daniëlle Toebes); Ps 37:1,2,5; SB 21:4,5,6; Ps 30:1,2,3 (na
kollekte).

Tema: Laat die oorwinnende liefde van Christus blyk in jou
omgang met ander mense.

  1. Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie;
  2. Oorwin die kwaad deur die goeie.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die teks is die slot van ’n gedeelte wat gaan oor die
liefde. Die kerk moet deur die liefde gekenmerk wees. Die liefde
moet ongeveins wees. Dit moet uit die hart kom en dit moet blyk
uit ons woorde en dade. Sonder dade beteken dit niks nie. Tot wie
moet nou die liefde uitgaan? Die liefde wat ons van Christus
geleer het gaan spesiaal uit na ons brs en srs in die Here.
Daarom skryf Paulus in Rom 12:9-21 eers oor die broederliefde.
Ons het vorige sondag daarby stilgestaan onder die tema: wees
hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde.

Die liefde is egter nie beperk tot kerkmense nie. Ons liefde
moet ook uitgaan na alle mense. Dink maar aan wat daar staan in
Gal 6:10: "Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan
almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die
geloof." Geloofsgenote het inderdaad die voorrang. Maar dit
sluit nie uit die liefde vir ander mense nie. Ons moet aan almal
goed doen, ook aan hulle wat nie by die kerk behoort nie. Dit
gaan veral oor daardie liefde in die gedeelte van ons teks.

Hoe moet dit wanneer ons geen liefde terugkry nie, wanneer dit
so te sê van een kant kom? Wat moet ek maak as die naaste my
kwaad doen, ja, as die naaste my vyandig gesind is of selfs
vervolg? Ons natuurlike hart is met die vraag vinnig klaar. My
hart sê: die liefde kan nie van een kant bly kom nie. As iemand
my kwaad doen, dan is daar van my kant geen ruimte vir liefde
meer nie. Dan betaal ek hom in gelyke munt. As hy my seer maak,
dan verdien hy dit om ook deur my seergemaak te word. Laat hy
maar seerkry! As hy my oor die skouer aankyk, dan kyk ek hom ook
oor die skouer aan. Broeders en susters, seuns en meisies, is dit
nie hoe ons dikwels regeer teenoor ons sogenaamde vyande.

Maar wat sê die Skrif? "Seën die wat julle vervolg, seën
en moenie vervloek nie." "Vergeld niemand kwaad met
kwaad" ens. Die teks vat alles saam met die woorde: "Laat
jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die
goeie."

Ek verkondig aan u die woord van God onder die tema: Laat die
oorwinnende liefde van Christus blyk in jou omgang met ander
mense.

  1. Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie
  2. Oorwin die kwaad deur die goeie

Paulus is baie realisties wanneer hy ons aanspreek oor ons
houding teenoor die naaste wat ons seermaak. Hy ken ons harte.
Ook ons stryd om werklik op ’n christelike manier te reageer.
Daarom sê hy: Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie. Wat is dit
om ons deur die kwaad te laat oorwin? Dit is wat Paulus in die
vorige verse al genoem het: vergeld niemand kwaad vir kwaad nie (vers
17), moenie julle wreek nie (vers 19) en moenie (jul vervolgers)
vervloek nie (vers 14).

Mense kan jou baie seer maak. Mense kan selfs jou lewe byna
onmoontlik maak. Hulle kan jou verskriklik verneder sodat dit lyk
asof jy nie meer goed kan funksioneer nie. Dit kan gebeur in die
samelewing, by die werk, by die skool, ja, selfs in die gemeente.
Baie mense is tans gefrustreer by die werk. Hulle voel dat hulle
verneder word. Of hulle voel hulle verontreg deur werkers wat nie
funksioneer nie vanweë hul gebrek aan motivering en ervaring.
Daarby word hul ervaring en gawes nie meer gewaardeer nie,
moontlik omdat hulle ’n verkeerde velkleur het. Wat moet
hulle met die mense wat dit veroorsaak maak? Watter gevoelens het
ons in so ’n situasie? Is daar soms nie die gevoel van: ek
sou wens dat hulle ook swaarkry of dat hulle verdwyn uit die wêreld
uit?

Vergis u niet, broeders en susters, dit kan ook in die kerk
gebeur. Ons is nie almal so lief vir mekaar nie. Miskien dink
iemand: Paulus kan sê: wees hartlik teenoor mekaar met
broederlike liefde, maar wat sien ek daarvan? Jy moet eers sien
hoe kerkmense my behandel het en nog steeds behandel. Hoe hulle
my verneder het en dit vir my onmoontlik maak om goed te
funksioneer. Ek sou wel wil sien hoe hulle in so ’n situasie
sou reageer. Ek wens dat hulle dit of nog erger sou meemaak. Ons
kan dink aan persoonlike beledigings, dat iemand my voortdurend
benadeel, my of my gesin seermaak in ons gevoelens. Hoe reageer
ons dan? Gaan ons dan kwaad vir kwaad vergeld en die persoon of
persone in gelyke munt betaal? Soms sien ons dit wel gebeur in
gesprekke. Een skerp opmerking word onmiddellik gevolg deur
’n ander skerp opmerking. Mense probeer mekaar in gelyke
munt te betaal. Die veragting van een, word beantwoord met die
veragting van die ander ens. En nou praat ons nie eens van ons
vyande wat ons letterlik vervolg nie.

Oor hulle sê Paulus: seën hulle wat julle vervolg, seën en
moenie vervloek nie. Jy mag hulle nie verwens nie, die kwade
toewens nie. Ons kan ook dink aan die korrupte amptenare, aan die
rowers en aan die geweldenaars wat ons land versiek, waardeur
baie blankes meen dat hulle met hul gesin hier nie meer kan bly
nie. Laat ons eerlik wees, wens ons soms ook nie hulle toe dat
hulle dood sou wees nie?

Geliefdes, besef u wel wat u doen wanneer u uself wreek in u
gedagtes, met u woorde of met die daad? U doen asof u self God is.
U gaan dan op God se regterstoel sit. U sal dit self wel reël. U
laat dit nie aan God oor om die kwaad te vergeld nie. U laat geen
plek vir die toorn, die toorn van die Here. Hy sal die kwaad
straf. In die Skrif sê God immers: Aan My kom die wraak toe, Ek
sal vergeld, spreek die Here. U wil egter self die kwaad wat die
naaste u aangedoen het, straf. Maar dit kom u nie toe nie.
Daarvoor het God die owerheid gegee as sy dienaar om die wat
kwaad doen te straf (sien Rom 13:1-7). Bowendien is u daarmee te
vroeg. Want in die reg van God word die kwaad eers ten volle
gewreek wanneer die maat van die sonde vol is. En voor die tyd is
daar altyd nog ’n pad terug. Die pad van bekering. Die lewe
vanuit Christus se vergewende liefde. Die Here is immers
lankmoedig. Hy stel die volle bestraffing van die sonde uit. Hy
laat ook oor die vyande sy son nog skyn, totdat hulle hul
vyandskap opgee of totdat die maat van hulle vyandskap vol is. So
doen die Here dit.

Gemeente, wanneer u hulle wat u vyandig bejeën in gelyke munt
betaal, dan laat u u oorwin deur die kwaad. Dan is u die groot
verloorder. Dan het u immer soos u vyande geword. U het sy styl
oorgeneem. U het sy party gekies, die party van die kwaad. In
wraakneming sit altyd ’n element van selfhandhawing. Jy kan
die belediging nie verdra nie. Gekrenkte trots soek bevrediging
in wraak. Dis geen teken van krag nie, maar van swakheid. Ja, jy
is dan ’n groot verloorder, iemand wat deur die kwaad oorwin
is.

Maar waarom is dit so ernstig? Wel, as ek dit doen, dan verloën
ek in feite die werk van die Here Jesus Christus. Christus het
immers gekom om die uitsiglose siklus van kwaad wat kwaad baar te
deurbreek. Toe Hy op aarde was het Hy onreg gely, sonder om terug
te skel of terug te slaan. Hy het onreg geaksepteer in die
sekerheid dat God op sy tyd sal vergeld. As dit tenminste nog
nodig sal wees om dit te vergeld, deurdat die persoon wat onreg
gepleeg het hom bekeer het. Die Here Jesus het die uitsiglose
siklus deurbreek. Hoe kan ek, ’n christen, my dan deur die
kwaad laat oorwin? Ek wil tog nie terugval in die uitsiglose
siklus van kwaad wat kwaad baar nie. Dis nie slegs ’n saak
van ’n verhewe moraal wat ek as christen daarop nahou nie.
Dis ’n saak van geloof in die verlossingswerk van die Here
Jesus. Geloof dat dit ook tot ware verlossing lei. Dat dit ook
werklik die verhoudings onder die mense genees en ’n einde
maak aan die eindelose sneeubal effek van haat wat tot nuwe haat
lei..

Kan u dit glo? As u nie wil bly steek in u natuurlike reaksie
wat die ellende slegs vererger, dan moet u die krag van die
liefde glo. Laat u nie oorwin deur die kwaad nie. Op Golgota het
Christus immers oorwin! U hoef nie meer u deur die kwaad te laat
oorwin nie. Christus het oorwin. Daarom mag u deur sy krag die
kwaad oorwin deur die goeie.

Dit bring ons by die tweede gedagte: oorwin die kwaad deur die
goeie.

Dis ’n saak van volharding in die liefde. Ek laat die
kwaad of die vyandskap my nie onder kry nie. Dan sê ek ook nie:
"og, by hom of haar bereik ’n mens tog niks nie, want
die vyandskap is daar so sterk. Dit kan niemand deurbreek nie.
Los dit maar."

Gemeente, gestel dat die Here Jesus ook so daaroor gedink het.
Dat hy Hom ook deur die vyandskap laat intimideer het. Dat Hy sou
gesê het: "og, by hom of by haar is soveel haat teen my en
teen God, ek hoef daar nie te begin nie." Wel, dan was ons
nog onverloste mense. Dan sou ons nog altyd as haters van God en
as haters van mekaar lewe.

Maar die Here Jesus het Hom volkome blootgestel aan die haat
van mense. So het Hy die kwaad oorwin. So het Hy aan die
vyandskap ’n einde gemaak. Nie deur hulle maar te laat
aangaan nie. Maar deur in hul midde te gaan staan. Deur ons haat
op Hom te neem (sien Jes. 53). En nou strek Hy sy genesende hande
uit na ’n wêreld vol haat. Om so genesing te bring.

En broeders en susters, daarin sal ons Hom moet navolg. Die
vrugte van sy werk moet immers sigbaar word in ons lewe. Glo u
dat u afhanklik is van sy werk? Glo u dat Christus die vyandskap
werklik genees? Wys dit dan ook in u lewe. Oorwin die kwaad deur
die goeie. Deurbreek die vyandskap en genees dit. Deur elkeen wat
hom vyandig teenoor jou opstel, met liefde tegemoet te tree. Deur
goed aan hom of haar te doen.

Paulus skryf: "Seën die wat julle vervloek." Ja, ek
slaag miskien wel daarin om nie terug te slaan nie, om hom of
haar nie in gelyke munt te betaal nie. Maar my gedagtes? Dis baie
moeilik om in my binnenste geen gevoel van haat of wrok te hê
nie. Maar nou vra die Here nog meer van my: seën die wat julle
vervloek. Wens die persoon voorspoed en geluk toe. Gaan, bid vir
hom of haar dat hy of sy God se guns mag geniet. Doen u dit? Kan
u dit doen? Bid daarvoor.

Paulus vervolg: Bedink wat goed is voor alle mense. Let daarop
dat hier nie staan: vir alle mense nie, maar voor alle mense, in
hul aanwesigheid. Leef so voor of in die wêreld, selfs teenoor
jou vyande, dat hulle geen regmatige oorsaak hê om jou aan te
kla nie, maar juis beskaamd word. Soos Jesus sê in Mt 5:16:
"Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle
goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is,
verheerlik." Waarom mog ons onsself nie wreek nie en moes
ons dit aan die Here oorlaat? Gedeeltelik omdat die Here
lankmoedig is en nog ’n tyd van genade wil gee. Die doel is
dat ons ander mense, selfs ons vyande, nog deur die koorde van
die liefde kan trek. Sodat ons deur ons godvresende wandel hulle
tot God kan trek. Ja, hulle moet God in ons herken. Dit kan slegs
wanneer ons werklik God se beeld begin vertoon, ook in sy
soekende liefde om hulle te red wat verlore is.

Paulus skryf: As dit moontlik is, sover as dit van julle
afhang, leef in vrede met alle mense. Dit moet duidelik wees dat
ons vredeliewend is. Vrede is immers ’n vrug van die Gees.
Christus het eers gesê: salig is die vredemakers, want hulle sal
kinders van God genoem word. In ’n wêreld vol
vredesteurders moet ons as christene juis vredemakers wees. Geen
twissoekers nie. Nie mense wat voortdurend iets vind om oor te
baklei of voortdurend onenigheid veroorsaak nie, maar vredemakers.
Is u, is jy werklik ’n vredemaker? Sê nie te maklik ja, nie.
Waarom leef sommiges in onmin met bepaalde persone? Is die
werklik slegs die ander persoon se skuld? Laat ons almal onsself
hierin beproef. ’n Ware vredemaker is hy wat hom deur die
God van vrede laat lei. Hy wat sy lewe laat vernuwe na die beeld
van die Vredevors wat gesê het: "Want die seun van die mens
het gekom om te soek en te red wat verlore was." (Lk 19:10).
’n Ware vredemaker is hy wat werklik jaag na vrede met almal,
nie vanuit ’n onbekeerde en dus wêreldse hart nie, maar
vanuit ’n hart wat deur die Gees vernuwe is en dus ook die
vrug van die gees vertoon.

Gemeente, Paulus kwalifiseer die vrede wanneer hy sê: "as
dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met
alle mense." "As dit moontlik is" - die vrede is
nie die allerbelangrikste, wat ten koste van alles gehandhaaf
moet word nie. Ter wille van die vrede mag ons nooit die waarheid
en ons christelike beginsels opoffer nie. In Hebreërs 12:14 lees
ons: "Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking,
waarsonder niemand die Here sal sien nie." Ons word dus nie
slegs tot die vrede opgeroep nie, maar ook tot die heiligmaking.
Vir sover dit binne die grense van God se woord moontlik is moet
ons met alle mense in vrede lewe.

Die tweede kwalifikasie wat Paulus noem is: sover as dit van
julle afhang. Ek moet seker wees dat dit nie my skuld is dat daar
geen vrede is nie. Het ek alles in my vermoë gedoen om vrede te
bereik en te handhaaf? Dis iets wat ons onsself voortdurend moet
afvra wanneer ons met iemand in onvrede lewe. Wat het ek gedoen
om die vrede te herstel? Was daar soms iets by my wat die onvrede
veroorsaak het of daaraan ’n bydrae gelewer het? Miskien my
houding, my manier van optrede, my gebrek aan fyngevoeligheid, my
onwyse woorde, my selfsug, my selfregverdiging, my hoogmoed ens.
Laat ons eerlik wees, en onsself in die spieël van God se Woord
bekyk. Moet ons dan nie erken dat daardie dinge ’n groter
rol speel in sulke situasies as wat ons wil erken nie. Die
enigste uitweg is: bekeer u en toon die beeld van u verlosser
Jesus Christus. Maar gemeente, as die ander die vrede nie wou hê
nie, ondanks al jou werklik christelike pogings, of behalwe op sy
onchristelike voorwaardes, dan hou God jou nie verantwoordelik
vir die gebrek aan vrede nie.

Broeders en susters, om die beeld van God te vertoon beteken
ook: "as jou vyand honger het, gee hom iets om te eet; as hy
dors het gee hom iets om te drink" (vers 20). Dis duidelik
dat dit nie tot sy letterlike betekenis beperk moet word nie. Dit
dui op alle verpligtings tot barmhartigheid. Alleen deur so te
doen vertoon u die beeld van u Vader, want so doen Hy dit ook. Hy
laat sy vyande nie van honger en dors omkom nie, maar Hy laat sy
son op hulle skyn en gee hul reën op sy tyd. Hy gee hulle iets
om te eet en iets om te drink. So hoop Hy vurige kole op hul hoof.
So sal u ook besig moet wees.

Vurige kole op die hoof van u vyande ophoop - wat beteken dit?
Die uitdrukking het oorspronklik ’n negatiewe betekenis. Dit
was ’n sinspeling op vuur en bliksem uit die hemel, wat
’n teken was vir goddelike wraak. In ons teks het die
uitdrukking ’n gunstige betekenis. Hoe kan so ’n
uitdrukking wat oorspronklik ongunstig was, in ’n gunstige
betekenis omgesit word? Dit kan op hierdie manier: wanneer iemand
my kwaad gedoen het, wil ek hom graag terugbetaal. Dus vurige
kole op sy hoof ophoop. Nou sê die apostel: prima, gaan maar aan,
maar dan op ’n manier wat vir die Here aangenaam is. As
christen wreek jy jouself op ’n eie manier. Jy doen jou
vyande goed. Dit is die christelike wraakneming. En die
christelike bejeëning word deur die vyand ook as ’n straf
ervaar: hy word beskaamd, of hy dit wil erken of nie. Hy sien dat
sy kwaad met goed vergeld word. Hy het vyandelikhede beraam,
miskien selfs ook uitgevoer. Maar daar word nie in gelyke munt
terugbetaal nie. Inteendeel; die slagoffer van die vyandelikhede
kom met brood en water aandra om sy honger en dors te stil. En
dan kan twee dinge gebeur: of die vyand skaam hom diep, of sy
verbittering word nog erger omdat hy die liefde onverdraaglik
vind. Daar kom bekering of verharding, een van beide.

Maar, miskien dat iemand sê: Paulus se advies help niks nie
of "Paulus toon dat hy min van die menslike natuur weet."
Paulus sê egter nie dat die metode waartoe hy oproep altyd die
begeerde uitwerking het nie. Dink maar aan wat ek netnou gesê
het: daar kom bekering of verharding. Maar dit bly tog die
christelike metode. Mag ek ’n voorbeeld noem. ’n
Ampsdraer word deur een van die lidmate afgewys. "Ek erken
jou nie as my ampsdraer nie." Die ampsdraer tot wie die
woorde geuit is, ontvang die genade om rustig te bly. Later
gebeur dit dat die gesin van die beswaarde broeder deur siekte
getref word. Die ampsdraer vervul trou sy pastorale roeping in
die gesin. Wat is die gevolg? Op ’n gegewe oomblik sê die
beswaarde broeder tot die ampsdraer: "Ek is bly dat jy my
amptsdraer is." Hierdie voorbeeld wys wat dit is om vurige
kole op die hoof van ’n teenstander op te hoop. Hier word
met die daad die kwaad deur die goeie oorwin. Kan u voorstel wat
sou gebeur het as die ampsdraer die beswaarde br onmiddellik
aangeval het? Nou het hy gewoon trou sy plig gedoen as ampsdraer,
sonder diskriminasie teen diegene wat hom nie goed gesind was nie.
Ja, hier het hy werklik die kwaad deur die goeie oorwin.

Broeders en susters, as ons dit doen, word ons natuurlik as
dwaas beskou. Ons eie hart sê reeds: hoe dwaas! Daarom kan ons
dit van ander mense ook heeltemal verwag. Laat ons egter ons
gewoon bly by die verlossende wysheid van God. In Jesus Christus
het dit openbaar geword en in die oorwinnende krag van sy liefde.
Die verlossende wysheid vra vandag ruimte in u hart en lewe. Dit
alleen kan die siklus van haat deurbreek, die siklus van haat wat
reeds so ontstellend veel ellende gebring het. So kan die liefde
weer werklik funksioneer in die kerk en in die samelewing, deur
die krag van Christus.

Daarom laat die oorwinnende liefde van Christus blyk in jou
omgang met ander mense:

  1. laat jou nie deur die kwaad oorwin nie;
  2. Oorwin die kwaad deur die goeie.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)