Leef as vreemdelinge en bywoners

Predikant: 
Ds JR Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-10-05
Teks: 
I Petrus 2
Preek Inhoud: 

Preek Ds J R Visser - 1 Petrus 2:11,12

ORDE VAN DIENS

Opening; Vrede/Seëngroet; Psalm 128: 1,4; Geloofsbelydenis; SB 16:
6,7,8,9,10

Skriflesing: Galasiërs 5:16-26; Viering van die Nagmaal; Kollekte; Psalm
39:5,6,7; Teks: 1 Petrus 2: 11,12

Preek; Psalm 119: 7,8; Dankgebed; Psalm 69: 12,14; Seën

PREEK

Broers en susters,
gemeente van die Verlosser Jesus Christus

Ons het die Nagmaal gevier.
Christus se kerk doen dit al 2000 jaar lank. Dit was o.a die Nagmaal wat in die
eerste eeue na Christus se koms op aarde vir skinderstories oor en beskuldigings
teen die Christene gesorg het.

Destyds was Christene in
die oë van baie mense snaakse mense. Die mense wat Christus as hulle redder en
Koning volg,  noem mekaar broers en
susters en kom saam om liefdemaaltye te geniet. Dit het daartoe aanleiding gegee
dat  nie-Christene vir mekaar vertel
dat die Christene by daardie liefdemaaltye seksuele gemeenskap het met wie hulle
maar wil. Dit sou selfs so wees dat bloedskande onder die Christene ‘n
geoorloofde ding was.

By die Nagmaal word die
woorde gebruik dat Christus se vlees en bloed geëet en gedrink word. Hierdie
woorde sorg daarvoor dat vertel word dat die christene mense vermoor om menslike
vlees en bloed te kan eet. Allerhande beskuldingings is die deel van Christus se
kerk in die eerste eeue omdat hulle so anders as die mense rondom hulle lewe.
Hoe belangrik is dit dat God se kinders wys dat hulle lewe goed is. Dis Petrus
wat in sy eerste brief ‘n hele gedeelte daaraan bestee om ons daarop te wys
dat ons lewens ‘n duidelike christelike karakter in allerhande maatskaplike
verbande moet vertoon terwyl ons medeburgers met kritiese oë na ons kyk. Hierop
wys Petrus in 2:11-3:12. Hy begin in ons verse met ‘n algemene opmerking.
Daarna pas hy dit op verskillende situasies toe. Ons wil vanmiddag eers na die
algemene gedeelte kyk. Hoe belangrik is dit dat ons van die HERE self aanwysings
kry hoe ons as Sy volk in die samelewing moet staan. Hoe ons vanuit die
versterking van die geloof, wat ons in die nagmaal gekry het, weer as Christene
en as Christus se gemeente in hierdie samelewing 
kan en moet lewe.

Ek verkondig aan julle
Christus se evangelie onder hierdie tema:

LEEF AS VREEMDELINGE EN BYWONERS

1.      
Dit betekenen selfbeheersing

2.       
Dit beteken
‘n voorbeeld wees in ons omgewing

Dit beteken
selfbeheersing

Petrus wys dat hy met ‘n
nuwe gedeelte van sy brief begin deur die gelowiges aan wie hy skryf opnuut aan
te spreek: Geliefdes. Dit is nie so dat Petrus hier ‘n woord gebruik
wat niks anders as ‘n gewoonte is nie. Hy wys in hierdie woord hoe sy liefde
na hierdie mede-gelowiges uitgaan. Hy wys dit ook deur die woord ek te
gebruik. Hy is persoonlik by hierdie gemeentes en hulle lidmate betrokke. Hy is
regtig lief vir hulle. Die gemeenskaplike band met Christus maak hulle vir hom
tot mense van wie hy hou, waarmee hy in liefde verbonde is. Daarvan was die
Nagmaal wat ons vandag gevier het ook  ‘n
teken. Die gesamentlike band met Jesus die enigste Verlosser maak ons tot mense
wat vir mekaar omgee, wat deur ‘n besondere band van liefde aan mekaar verbind
is.

Is die volgende woord in
ons teks daarmee nie in teenspraak nie? Ons lees daar die woord vermaan. 
As ons hierdie woord in die Nuwe Testament lees, moet ons mooi bedink
dat hierdie woord in die Grieks verseker geen harde en onsimpatieke klank gehad
het nie. Die woord  wat in ons teks
gebruik is, kan ook met troos en bemoedig vertaal word. Hierdie woord
maak duidelik dat iemand vanuit meelewing, 
vanuit liefde  ‘n beroep op
‘n ander doen, die ander daarby wil betrek. Die woord vermaan wil hier sê dat
Petrus ‘n sterk beroep op sy medegelowiges doen. Sy hart gaan na hulle uit en
hy wil hulle bemoedig, die regte pad in die lewe wys.

Hy noem hulle bywoners
en vreemdelinge. Hy noem die gelowiges op aarde bywoners en vreemdelinge. Hy
het dit al eerder in 1:1,17 gedoen. Wat is die betekenis van hierdie woorde? 
Beteken dit dat ons ons op hierdie wêreld heeltemal moet terugtrek en
eintlik uit die samelewing moet  uitbeweeg?
Waaraan moet ons dink as ons van ‘n bywoner praat? 
Hy is ‘n persoon wat uit sy geboorteland geëemigreer het en 
nou  ‘n permanente inwoner
van die land geword het waarheen hy getrek het. 
Die woord wat in ons teks vir vreemdeling gebruik word, dui op ‘n mens
wat  vir ‘n sekere tyd na ‘n
ander land gegaan het.  Altwee
hierdie woorde maak duidelik dat God se kinders 
nie deur hulle verbondenheid  aan
die aarde of  ‘n sekere land
geregeer word nie, maar  deur
Christus wat hulle vanuit die hemel regeer.

Abraham het van Ur na die
land Kanaän getrek. Hy woon daar. As Sara sterf en hy vir sy vrou ‘n graf van
die seuns van Het gekoop het, sê hy: “Ek is ‘n vreemdeling en ‘n bywoner
onder julle” (Gen 23:4).  Later sê
Dawid in baie groot benoudheid: “Hoor, HERE, my gebed, en luister na my
hulpgeroep; swyg nie by my trane nie; want ek is ‘n vreemdeling by U, ‘n
bywoner soos al my vaders” (Psalm 39:13).

Hierdie woorde beteken nie
dat ‘n mens, dat God se kinders die lewe op aarde as minderwaardig moet sien
nie. As  Abraham hom vir die seuns
van Het ‘n bywoner en vreemdeling noem,  doen 
hy daarmee ‘n beroep op hulle. Hy 
erken teenoor hulle dat hulle nie verplig is om 
vir hom ‘n stukkie van die land te verkoop nie. Hy is van hulle
goedheid afhanklik.  Dieselfde sê Dawid in Psalm 39. 
Hy is in groot nood. Hy doen ‘n beroep op die HERE. Hy bely dat 
hy geen reg  op die HERE se
hulp het nie. Hy is niks meer as ‘n vreemdeling en bywoner by die HERE nie. Hy
wil in alles van Sy goedheid, genade en guns afhanklik wees. Die lewe op aarde
is vir Dawid as God se kind nie minderwaardig nie maar Hy soek sy hulp en
leiding daarin by die HERE. “En nou, wat verwag ek, o Here? My hoop is op
U"  (Ps 39:8).

Nou moet ons weer terug na
ons teks. As Petrus  die lidmate van
Christus se kerk  vreemdelinge en
bywoners noem, lê hy daarop klem dat hulle hul oë boontoe, na die HERE moet
rig. Dat hulle vanuit die hemel, as hulle vaderland, hulle hulp en leiding
verwag. Dat hulle hul lewe laat bepaal deur die bevele wat hulle daarvandaan
ontvang. Die gelowiges is burgers van Christus se koninkryk wat met oortuiging
hulle taak op hierdie aarde tot God se eer uitvoer. Hierop wys Paulus as hy in
Fil 3:20 skryf: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as
Verlosser verwag die Here Jesus Christus.”

“Vleeslike begeertes
wat stryd teen die siel voer”  hoort
nie by die lewe van hulle wat hulle burgerskap in die hemel het nie. Daarom roep
Petrus ons op om ons daarvan te onthou.

 ‘n 
Christen  neem vanuit die
lewe met die Here geen afstand van die samelewing nie. Jy en ek het juis ‘n
belangrike taak op hierdie aarde en in die samelewing gekry. Die lewe op hierdie
aarde is verseker nie minderwaardig nie. ‘n Kind van God moet wel afstand van
die sonde neem waarmee hy hier op aarde te doen kry. Hy sal dit wys. Hy doen dit
deur homself te beheers. Hy laat hom nie deur sy sondige hart en die sondige
rigting van hierdie wêreld beheers en regeer nie. Juis God se kind, 
juis hulle wat met ‘n gelowige hart die Nagmaal 
gevier het,  besef dat die
lewe ‘n stryd is. Dat ‘n mens juis as Christen, 
juis as Christus se gemeente sal moet stry. 
Dit is wat ons ook in Galasiërs 5 gelees het. Dit gaan om die stryd
tussen die Gees en die vlees.  Die
vlees en die vleeslike begeertes  is
die lewe volgens die verlangens van ‘n mens se sondige hart. Dit gaan daarom 
dat ons in die wêreld wys dat ons lewens verander het, dat die Gees die
regering van ons lewe oorgeneem het en ons ons nie meer deur ons sondige hart
laat oorheers nie. Hoe groot is die verskil tussen die lewe wat deur die Gees en
die lewe wat deur die vlees bepaal word! Sien Gal 5.

Hoe belangrik is dit vir
jou fiksheid, vir jou kondisie  dat
jy die sondige verlangens van jou hart al hoe meer beheer. Hoe lekker en
aantreklik lyk dit om jou aan jou eie verlangens oor te gee. Hoe trek dit aan  ‘n mens. Hoe dikwels voel ons dit in ons hart as ‘n
beperking dat  die HERE  vir ons reëls stel waardeur ons sekere dinge in ons lewe nie
kan doen nie, dat ons ons daarvan moet onthou. As ons so voel, moet ons baie
mooi bedink dat hierdie vleeslike begeertes “stryd teen die siel voer”.

Dit beteken nie dat jou en
my siel iets in ons is wat nog altyd uit homself goed is, dat ons van onsself
nog iets wat heeltemal goed is in ons oorgehou het nie. Die siel  wys in ons teks op jou hele lewe. As jy aan die
sondige verlangens in jou lewe toegee, is jy besig om jou lewe te vernietig. Dan
is jy besig met selfvernietiging.

Die agtergrond van die
woord siel  is hier Genesis 2 waar
ons van die skepping van die mens lees. As die HERE 
die mens as ‘n kleipop gemaak het, gebeur die volgende: “en die HERE
het in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het 
dan die mens ‘n lewende siel geword” (Gen 2:7).  Die verkeerde verlangens van Adam en Eva het hulle en die
hele mensheid in die ongeluk gestort. Hulle lewe is daardeur verpes. 
As ons vandag nadat Christus  redding 
vir ons verdien het,  wat ons
in die Nagmaal gevier het,  tog weer
ons verkeerde verlangens die vrye teuels gee, is ons besig om ons lewe te
vernietig, om ons lewe in die ewige dood en ellende te bring. Hoe belangrik is
dit om vanuit Christus se verlossing teen die verkeerde verlangens in jou lewe
te stry.  Dan leer ons om ons lewe
regtig skoon te hou sodat ons ‘n aanbeveling vir Christus en Sy gemeente in
ons omgewing is. Hierop let ons in die tweede plek.

Dit beteken ‘n
voorbeeld wees in ons eie omgewing.

‘n
Mens wat  vanuit die verbondenheid
met Christus geleer het om ‘n vreemdeling en bywoner te wees, 
staan sy  plek in die
samelewing vol. Hy onttrek hom nie aan die samelewing nie. Christus se gemeente
mag hom selfs nie aan die samelewing onttrek nie. Ons mag nie ‘n gemeenskap
wees wat onssself iewers aan die rand van die samelewing wegsteek nie. Ons moet
juis bekend wees. Ons moet onsself bekendmaak en wys dat ons juis by alle dinge
betrokke wil wees. As ons so lewe, dan kom mense met kritiek, dan begin mense
oor ons skinder, dan sal ons haat van mense voel.

Petrus
weet dat dit gebeur. As mense buite die gemeente van die lidmate kwaad spreek
asof  hulle mense is wat juis die
verkeerde doen, is woorde van ons kant nie genoeg nie. Dis nie genoeg om te sê
dat ons so nie lewe nie. Dit moet ook regtig so wees dat ons ons lewe skoon hou.
Dat ons in die oë van ons omgewing ‘n lewe lei wat ander mense geen skade
doen nie maar die lewens van ander mense juis ondersteun en help. Daarom skryf
Petrus later in hierdie brief: “Want niemand van julle moet ly as moordenaar
of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van ‘n ander bemoei nie”
(4:15).

Laat
ons vanuit die liefde van Christus,  vanuit
die redding wat ons vandag selfs mog sien en proe, ‘n opvallende skoon lewe
voor die oë van ons medeburgers in hierdie land lei.

‘n
Opvallende lewe, ‘n lewe waarby ons intensief by ander mense, ook buite die
gemeente betrokke is  sodat die
samelewing regtig sien wat die lewe met Christus beteken. Dat hulle sien dat
lewe met Christus beteken dat die gelowiges goeie werke vir almal doen. Dat ons
liefde nie by die gemeente, by die broers en susters eindig nie. Petrus skryf in
sy tweede brief dat ons by die geloof moet voeg “die godsvrug, en by die
godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde” (1:6).

Die
doel van so’n lewe is nie om self op te val nie. Die doel is dit wat ons in
die vorige preek ook as  die doel
 van die bestaan van die kerk en as die doel van ons eie lewe
gesien het: die verheerliking van, die lof op die HERE. Dit moet so wees
dat ons vanuit die viering van die Nagmaal 
weer opvallend begin lewe om  mense
wat eers sleg van Christus se gemeente gepraat het tot die verheerliking van God
te bring. Dat ons lewe hulle so verbaas, so anders is as dit wat hulle gedink
het, dat hulle begin vra: Hoe is dit moontlik dat hierdie mense so lewe, dat
hulle daarvan die geheim leer ken en dan ook self 
in hulle lewe die Here Jesus Christus begin verheerlik.

Petrus
sê hier met ander woorde wat die Here Jesus in die Bergpredikasie al gesê het:
“Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien
en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mat 5:16).

Wat
bedoel Petrus as hy van die dag van die besoeking praat? Ek dink dat die meeste
van ons dadelik aan die laaste oordeelsdag dink. Dag van die besoeking 
klink vir die meeeste van ons dalk dreigend in die ore. Ons moet bedink
dat hier niks anders staan nie as dat dit die dag is waarop die HERE mense
besoek. Die HERE se besoek kan sowel redding as oordeel beteken. Dit hang
daarvan af hoe die mens wat besoek word op daardie oomblik teenoor die HERE
staan. Of hy in liefde met Hom lewe of  nie
met Hom wil lewe nie. Dit gaan in ons teks nie om die veroordeling van die
ongelowiges nie. Dit gaan daarom dat mense wat eers van Christus se kerk
geskinder het, wat eers vyandig was,  die
lewenswandel van die gemeente sien en tot ander insigte kom, tot geloof kom en
op die dag dat Christus terugkom, saam met die mense waarvan hulle eers
geskinder het, die Here se lof met oortuiging uitsing. Dat hulle deur die goeie
werke van Christus se gemeente hulle by die gemeente op aarde gevoeg het en op
die dag van God se besondere besoek God met oortuiging kan verheerlik.

‘n
Werklik Christelike lewenswandel vanuit die viering van die Nagmaal is ons
roeping. Dit sorg vir die egte opbou van die gemeente. Dit bring mense tot die
doelwit van hulle lewe: Die lof op God.

AMEN                    
                

Liturgie: 

(kyk in preek)