Die Heilige Nagmaal as ’n tweesydige sakrament.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-09-26
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 28
Preek Inhoud: 

Sondag 28

Ds C Kleyn - Sondag 26
September 1999

Lees: Johannes 6:22-59; Sondag
28.
Sing: Ps 34:1,2; Ps 34:6,7; Ps
105:22,23 (na kollekte); Ps 116:1,7,10; Ps 16;4,5.

Tema: Die Heilige
Nagmaal as ’n tweesydige sakrament.

  1. Christus gee homself as die brood en water
    van die lewe
  2. Ons mag eet en drink.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die doop en die nagmaal is beide verbondstekens.
Maar waarin bestaan die verbond? Hierin, dat die Here met ons
’n geskiedenis wil aangaan. Hy wil met ons saamgaan met sy
beloftewoord. Beide sakramente vind hul eenheid in die
beloftewoord van God. Een en dieselfde belofte word op twee
maniere uitgebeeld en verseël.

Wat is dan die verskil tussen die beide
sakramente? Om die verskil raak te sien moet ons let op die
struktuur van die verbond. Die verbond ontstaan tipies van een
kant, van God se kant. Hoe kan dit ook anders?! Ons is immers van
nature vyande van God, geestelik dood. Die lewende God soek
verlore sondaars op. Hy kom jou en my lewe binne met sy woord. Hy
maak dooies lewend. Hierdie eensydige ontstaan van die verbond
word in die doop tot uitdrukking gebring. Ons word gedoop. Die
doop staan tipies aan die begin van die geskiedenis van God met
ons, as teken van inlywing.

Tydens die verloop van die verbondsgeskiedenis
gaan dit egter anders. Ek, as tweede party van die verbond, kom
self ook in beweging. God sluit sy verbond immers nie met stokke
en blokke nie. In die verbond soek die Here die mens op, die
kroon van sy skepping, die mens met sy eie verantwoordelikheid en
mondigheid. Die Here bly ons behandel as mense. Hy wil werklik
met die mens ’n geskiedenis aangaan. En dan kan dit nie so
wees dat die verbond eensydig bly nie. God se lewendmakende woord
wek nuwe lewe in ons en bring ons in aksie, in antwoord op God se
liefdesverklaring. So word dit inderdaad twee aktiewe partye wat
saam ’n geskiedenis deurloop en met mekaar omgaan. Daarin
bereik die verbond sy doel en hoogtepunt. Mense wat van nature
dood was gaan weer met die lewende God saamloop.

Wel, die tweede sakrament, die Heilige Nagmaal
behoort tipies by hierdie wederkerigheid van die verbond. Anders
as by die doop is nou beide partye van die verbond aktief. God
gee sulke tekens dat die tweesydige karakter van die verbond tot
uitdrukking kan kom. Dit is ’n maaltyd. God kom na my toe
met sy belofte, hy beeld dit uit en verseël dit aan my. Van my
kant mag ek eet en drink. As ek eet en drink dan is ek nie
passief nie. Dit behoort by die aard van die tweede sakrament.
Dis ’n saak van woord en antwoord. Aan die tafel van die
Here vier God en mens saam hul liefdesrelasie.

Ek verkondig aan u: Die Heilige Nagmaal as
’n tweesydige sakrament.

  1. Christus gee homself as die brood en water
    van die lewe
  2. Ons mag eet en drink.

Jode wat die vermeerdering van die brode
meegemaak het, volg Jesus na Kapernaüm. Waarom volg hulle Jesus?
Jesus lê hul ware motiewe bloot. "Julle soek my nie omdat
julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet
en versadig geword het." Julle herken die teken nie as
’n teken van die Koninkryk van God nie. Julle herken my nie
as die hemelse koning nie. Nee, julle soek aardse en materieële
welvaart en geluk. Julle soek aardse mag en heerlikheid, ’n
aardse koninkryk, ’n aardse koning wat hier en nou bevryding
en voorspoed kan gee. Is dit nie iets waarna ons almal verlang
nie? Dit is tenminste konkreet, sigbaar en tasbaar.

Maar wat sê Jesus: "Moenie werk om spys
wat vergaan nie, maar om spys wat bly tot in die ewige lewe."
Wat is my diepste nood? Nie die gebrek aan gewone brood nie. Nie
die gebrek aan welvaart, vryheid of tydelike, aardse geluk nie.
Ook al is dit in ons land ’n baie groot nood. As ’n
mens onder die broodlyn lewe, dan is dit tog die skreeuende nood
wat eers beantwoord moet word? Vergeet egter nie: Daar is ’n
diepere nood waarvan die gewone brood geen oplossing gee nie. Die
gewone brood gee slegs ’n tydelike verligting. Dit hef die
ware nood nie op nie. Die brood is verganklik en het slegs ’n
tydelike werking. Daarom: "Moenie werk om spys wat vergaan
nie, maar om spys wat bly tot in die ewige lewe." Die laaste
is baie belangriker. Dis van lewensbelang. Tensy jy dood wil gaan,
ewig dood wil gaan. Daardie spys bly en het ’n blywende
waarde. Dit bevry ’n mens van die ewige dood. Dit neem dus
die eintlike lewensnood weg, naamlik die vervreemding van God.

Maar, waar kan ek dan die brood dan kry?
Christus wys na die Seun van die mens. Vir die versadiging van my
ewig honger en kommer moet ek by die Seun van die mens wees, die
Woord wat vlees geword het. Wie is die Seun van die mens? Daaroor
hoef geen twyfel te wees nie. "Want Hom het God, die Vader,
verseël." Die Vader het Hom publiek aangewys by sy doop in
die Jordaan: dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae
het. En die Gees van God het soos ’n duif op Hom neergedaal.
Hierdie Seun is waarlik diegene wat die spys sal gee wat bly tot
in die ewige lewe.

Maar wat is dan die spys? "Ek is die brood
van die lewe" sê Jesus. Ek is nie slegs diegene wat die
brood gee nie, maar ek is ook self die ware brood uit die hemel.
Die Vader het My aan julle gegee om julle eintlike honger te stil:
"wie na my toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My
glo, sal nooit dors kry nie."(vers 35).

Na die sondeval is die mens van die boom van
die lewe weggedrywe. Ons mense het gekies vir die dood, geskei
van Hom wat die Lewe is. So sit alle mense van nature op die pad
van die dood. Dit is nie slegs ’n pad wat na die dood lei
nie, maar ’n pad wat ook self as die dood getipeer kan word,
’n pad buite die gemeenskap met die lewende God.

Gemeente, wanneer Christus homself voorstel as
die brood van die lewe dan wys Hy op die herstel van die
gemeenskap met die lewende God. Wie Hom as die brood van die lewe
eet, besit die lewe. Wie deur die geloof een met Hom is, het die
ware lewe wat bly in ewigheid. Ek kan dan weer as mens met die
lewende God omgaan.

Christus konkretiseer sy prediking van die
brood van die lewe deur te wys op sy vlees: "Die brood wat
Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal
gee" (vers 51). ’n Wonderlike gedagte. Christus se
vlees is brood. Wat bedoel Christus hiermee? Hy sinspeel op sy
sterwe. ‘Vlees’ is die bestaan van die sterflike mens.
Jesus sal die bestaan prysgee ter wille van die lewe van die wêreld.
Sy sterwe sal ’n offergawe wees.

Daar is ’n duidelike sinspeling op die
Pasga. In vers 4 van Joh 6 lees ons dat die pasga naby was. Die
vermeerdering van die brode en die prediking van die brood van
die lewe staan in verband met die pasga wat naby is. Christus
praat hier tot mense wat binnekort die paaslam sal eet. Christus
sinspeel op die vlees van die paaslam wanneer Hy praat van sy eie
vlees. Hy wys Homself aan as die Paaslam wat die sonde van die wêreld
wegneem. Gewoonlik het mense die paaslam geslag om daarna aan die
paasmaal daarvan te eet. Dit was ’n teken van lewe in die
versoende gemeenskap met God.

Die mense begryp Jesus nie. Hulle vra: Hoe kan
Hy ons sy vlees gee om te eet? Hulle begryp Christus nie omdat
hulle eintlik die pasga nie begryp nie, die pasga wat heenwys na
die Lam van God wat moet kom. In reaksie op hul ongeloof kom
Christus tot die klimaks: "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir
julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy
bloed drink nie, het julle geen lewe in julle self nie. Hy wat my
vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom
opwek in die laaste dag. Want my vlees is waarlik spys, en my
bloed is waarlik drank. Wie my vlees eet en my bloed drink, bly
in My en Ek in hom" (verse 53-56).

Christus se vlees is waarlik spys en sy bloed
is waarlik drank. Hoe moet ek dit verstaan? Spys en drank is
voedingsmiddele. Dit hou die lewe in stand. Christus se vlees en
bloed sien op sy selfofferande aan die kruis. Juis daar is Jesus
my groot lewensmiddel. Sy dood in my brood. Sy dood is my lewe.

Gemeente, in hierdie Skrifgedeelte noem
Christus nie regstreeks die Heilige Nagmaal nie. Tog kan ons die
woorde wel deeglik betrek op die Heilige Nagmaal. Sê Christus
nie by die instelling van die nagmaal nie: dit is my liggaam vir
u en hierdie beker is die nuwe testament in my bloed? Christus
stel ’n maaltyd in om die werklikheid van Joh 6 uit te beeld
en te gedenk. Beelde van Christus se selfofferande aan die kruis
vir ons lewe. In die alledaagse lewensmiddele herken ons sy diepe
dood. Die kruis is ’n paal waaraan ’n mens se lewe
doodbloei. Maar die kruis van Christus is ’n boom van lewe.
Want daar gee Christus homself ter wille van sy volk. "Dit
is my liggaam vir julle."

In die Heilige Nagmaal gee Christus homself dus
as die brood van die lewe. Dit is egter nie die enigste nie. Die
Heilige Nagmaal is immers ’n tweesydige sakrament. Van ons
kant mag en moet ons ook eet en drink. Dit is die tweede gedagte
van die preek.

Hoe moet ek nou die vlees van Christus eet en
sy bloed drink? Ek is tog geen kannibaal nie? Let daarop dat Joh
6 een bewoë oproep is om in Jesus Christus te glo. Dit begin al
in vers 29. Die Jode vra Jesus: Wat moet ons doen om die werke
van God te volbring? Daarop antwoord Jesus: dit is die werk van
God, dit is die een werk wat God van julle vra, dat julle in Hom
glo wat Hy gestuur het. Let ook op vers 35: "wie na my toe
kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors
kry nie." En vers 47: "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir
julle, wie in My glo, het die ewige lewe." Om Christus se
vlees te eet en om sy bloed te drink kom daarop neer dat ek in
Hom glo. Dit sien op die intieme geloofsgemeenskap met Christus.
Ek is dan een met Hom. So sê Christus bv "Wie my vlees eet
en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader
My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet,
ook deur My lewe" (verse 56, 57).

Hierdie onderrig gee ons, broeders en susters,
die vrymoedigheid om die hoë woorde ‘vlees van sy vlees en
been van sy gebeente’ te gebruik. Dit is woorde wat ons in
die Kat oor die Heilige Nagmaal gebruik. Die woorde is nie gebind
aan die elemente van die nagmaal nie. Hulle is nie eers daar en
dan van toepassing nie. Ook voor en na die viering van die
nagmaal is die woorde van krag. As ek glo, dan het ek ’n
lewensgemeenskap met Christus, ek in Christus en Christus in my.

Aan die nagmaal word die gemeenskap met
Christus gevier. Ons gebruik sterk woorde. Ons sê dat ons
Christus se liggaam eet en sy bloed drink. Nie omdat die brood in
die ware liggaam van Christus sou verander nie. Aan die tafel van
die Here gaan dit nie in die eerste plek om konsumpsie met die
mond nie. Dan sou die kinders ook kan aanskuif. Hulle kan immers
ook eet en drink? Dit kom egter aan op geloof, in geloof eet en
drink.

Brood en wyn bly tekene, simbole. Maar wel
tekene wat Christus wil hanteer en waarin Hy wil saamkom. So is
brood en wyn nie slegs ’n teken van iets uit die verlede nie.
Die Here self is in die tekene aanwesig. Hy kom daarin saam.
Daarom is die woord teken nie genoeg nie. Daarom het ons ook die
woorde seël en waarborg nodig. Ons gebruik die woorde omdat ons
glo in die aanwesigheid van Christus. Hy het die teken ingestel
en Hy hanteer dit hier en nou. Elke keer weer sê Hy: dit is my
liggaam vir julle.

So kan u verstaan waarom ons die brood en beker
Christus se liggaam en bloed mag noem. Waarom ons selfs mag praat
van die eet en drink van Christus se liggaam en bloed. Dit is
geen brutaliteit nie. Dit is die vergaande taal van die liefde.
Daarin praat ons oor ’n diepe en tere saak in korte en
kragtige woorde. Wat ek eet, word heeltemal opgeneem in my
liggaam. Dit word heeltemal deel van myself. Ek leef daarmee en
ek leef daarvan. As ek Christus eet dan kan ek my lewe nie meer
indink sonder Hom nie. Om Christus te eet wil immers sê dat ek
Hom toe-eien in geloof en dat ek Hom ontvang deur die Gees.

So kan u verstaan waarom die intieme woorde
‘vlees van sy vlees en been van sy gebeente’ toegepas
word op die gemeenskap tussen Christus en ons aan die nagmaal.
Dit behoort tot die heerlikste geheim van die Christen. Deur
geloof mag ek praat van ’n intieme lewensgemeenskap met
Christus. Daarom mag ek in die woorde van Ef 5, wat praat oor die
huwelik, my verwondering uitspreek oor die diepe gemeenskap met
Christus. "Vlees van sy vlees en been van sy gebeente."
Hierdie werklikheid is nie beperk tot die Heilige Nagmaal nie.
Dit behoort tot die aard en die rykdom van elke Christen.

Aan die tafel van die Here word dit egter
gevier en nadruklik onder die aandag gebring. Christus beeld dit
uit en verseker ons daarvan. Hy wil ons sy woord van heil op die
hart bind: Ek het vir jou my liggaam aan die kruis geoffer en
bloed vir jou vergiet. Die beloftewoord het van jongs af aan tot
jou gekom in die prediking. Dit is in die doop aan jou verseël,
aan die begin van jou lewenspad met die Here. En nou word op die
lewenspad die tafel van die Here aangerig. Die beloftewoord word
onderweg aan jou nogmaals heel nadruklik voorgehou. En wel op so
’n manier dat daar tewens ruimte is vir jou respons, jou
antwoord van geloof.

Ek sien dat die brood gebreek word. Waarom? Om
uitgedeel te word. Dit is bestem vir alle gelowiges. So ook die
beker. Die word gevul om rond te gaan sodat elkeen daaruit kan
drink. Elkeen word aangespoor om te eet en drink. Elkeen word
aangespoor om te glo. "Neem, eet, gedenk en glo." So
kan en mag die fees van die verbond gevier word. Die twee partye
van die verbond, God en die mens, kan hulle in mekaar verheug.

Elke keer as die tafel aangerig is word ek deur
die lewende God van die verbond geroep. Hy het met sy
beloftewoord my lewe binnegekom. Hy wou ’n geskiedenis met
my aangaan. En nou vra Hy van my my antwoord. Dit moet tog blyk
dat dit ’n werklike verbond is met twee partye. Dit is
daarom ook geen vryblywende saak of ek sal aangaan of nie. Ewenas
dit geen vryblywende saak is of ek sal glo of nie. Dit is ’n
ere-plig van die verbond. God se beloftewoord kan nie
onbeantwoord bly nie. As ek Christus se selfopoffering vir my
sien dan begryp ek dat ek slegs op een manier kan reageer,
naamlik in liefde ontvang wat Hy in liefde gegee het.

In verband met die aangaan aan die tafel word
weleens gepraat van vrymoedigheid. Ek sou die vrymoedigheid moet
ontvang om aan te gaan. In Christus se offer is die vrymoedigheid
gegee. Wat weerhou my dan om aan te gaan? Glo ek miskien nie? Of
as ek wel glo durf ek miskien nie om die geloofsantwoord te laat
blyk nie? In die lig van die beloftewoord sou ons die kwessie van
durf ook kan omkeer. Ek hoef geen durf te hê om aan te gaan nie
– dis gewoon ’n kwessie van geloofsgehoorsaamheid. Ek
moet eerder durf hê om nie aan te gaan nie. Wie durf om die
liefde van die verbondsgod onbeantwoord te laat?

Broeders en susters, met die brief aan die
Hebreërs kan ons sê: "Terwyl ons dan vrymoedigheid het om
in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus … laat
ons toetree met ’n waaragtige hart in volle
geloofsversekerdheid." (Hebr 10: 19,22). Om aan te gaan aan
die tafel is geen grieselige saak nie, dit is ’n feestelike
gebeure. Ons geniet van die geloofsgemeenskap met die Here
Christus en in Hom met die lewende God. Ons geniet van die
beloofde heil. Ons geniet van die lewe: Christus is ons en ons in
Christus.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)