Ook die kinders van die gelowiges behoort die teken van die verbond te ontvang.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-09-19
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 27
Preek Inhoud: 

Sondag 27

Ds C Kleyn - Sondag 19
September 1999

Lees: Genesis 17; Sondag 27.
Sing: Ps 105:1,2; Ps 105:3,4,5;
Ps 111:4,5; Ps 71:4,9,10; Ps 106:1,2 (na kollekte).

Tema: Ook die kinders
van die gelowiges behoort die teken van die verbond te ontvang.

  1. God ontvang hulle – saam met hul
    ouers – in die genadeverbond
  2. God skenk hulle – saam met hul ouers
    – die verbondsbelofte

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Rondom die kinderdoop kom daar reëlmatig vrae
na vore. Moet die klein kinders werklik volgens die Skrif gedoop
word? Moet nie daarmee gewag word totdat hulle self tot geloof
kom nie? Lees ons nie in Mk 16: 16: Hy wat glo en hom laat doop,
sal gered word nie? ’n Babatjie kan tog nie glo nie? Wat gee
ons dan die reg om die babatjies te doop?

Gemeente, niemand sal ontken dat ons in die N.T.
te doen het met ’n sendingssituasie. Daarom kom die doop
voortdurend te sprake in verband met volwassenes wat tot geloof
kom. Daarom word ook eers gepraat van die geloof en daarna van
die doop. Dit sê egter nog niks oor die kinderdoop nie.

Wil u ’n antwoord hê op die vraag of die
jong kinders gedoop moet word? Dan moet u goed let op die
karakter van die doop. Die doop word juis gekenmerk deur die
eensydige aksie van die God van die verbond. God is by die doop
altyd die aktiewe persoon – ook by die grootdoop is dit so.
Hy kom die lewe van sondaars binne en beseël aan hulle sy
evangelie. By die doop gaan dit juis nie oor die aksie van die
mens nie. Die doop beseël nie my geloof nie, maar beseël God se
beloftewoord. Dit moet ons goed onthou. By die doop moet die
fokus op God gerig wees, op God se soewereine aksie. God kom die
lewe van ons sondaars binne en beseël aan ons sy belofte.

Wel, hoe handel God in die verbond? Watter
lewens kom Hy binne met sy belofte? Ons sien dat God ook die
kinders van die gelowiges as bondelinge behandel. Daarom
verkondig ek u:

Ook die kinders van die gelowiges behoort die
teken van die verbond te ontvang.

  1. God ontvang hulle – saam met hul
    ouers – in die genadeverbond
  2. God skenk hulle – saam met hul ouers
    – die verbondsbelofte

Gemeente, as u die werkwyse van die Verbondsgod
wil sien, dan moet u terug na die tente van Abraham. Daar sien u
hoe God die grense van die kring van die verbond trek. Maar geld
wat daar staan nog wel vir vandag? Dit is tog O. Testamenties?
Handel God in die N.T. nie anders nie? Die ou verbond is tog
opgehewe om plaas te maak vir die nuwe? Met sulke argumente word
die verbondsstatuut van Gen 17 dikwels ontkrag. Ons moet egter
goed onderskei as ons praat oor die ou en die nuwe verbond. Wat
is afgeskaf in die N.T.? Die verbond met Abraham of die Sinai
verbond met sy tydelike bepalings? Ons bely met art 25 van die
NGB. "Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die Wet
met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing
tot ’n einde gekom het". Die brief aan die Hebreërs
maak dit baie duidelik.

Die verbond met Abraham het egter nie opgehou
nie. Die verbondsbelofte, na sy geestelike aspek, bly van krag.
Paulus noem die gelowiges meermale kinders van Abraham. As ek
vandag Christus in geloof aanneem, dan ontvang ek die seën van
Abraham. Ons lees in Gal 3:14: "sodat die seën van Abraham
na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte
van die Gees deur die geloof kan ontvang." En in Gal 3:29
staan daar: "En as julle aan Christus behoort, dan is julle
die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename."
Die verbond met Abraham is dus allermins opgehef. Die belofte:
"Ek sal vir jou ’n God wees", bly van krag. Laat
niemand die verbondsstatuut van Gen 17 aan die kant skuif nie.
Elkeen van u wat glo is betrokke by die verbond met Abraham.

Hoe sien u ons Verbondsgod dan optree in die
tente van Abraham? Wie ontvang Hy in sy verbond? Uit Gen 17 blyk
dat God Abraham nie as ’n losse individu behandel nie. In sy
verbondsluiting behandel God Abraham as deel van ’n
gesinssamelewing. God rig sy verbond op met Abraham en almal wat
by hom behoort. Hy neem die hele huis van Abraham saam op die pad
van die heil. Wie moet immers die teken van die verbond ontvang?
Ons lees in vers 12 en 13: "’n Seuntjie van agt dae dan
moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte.
Die wat in jou huis gebore is, en die wat van enige vreemdeling
met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie – die wat
in jou huis gebore en wat met geld gekoop is, moet sekerlik besny
word." Die teken van die verbond is dus vir Abraham en vir
alle manlike lidmate van sy huis, sowel sy seuns as sy slawe. God
lê beslag op Abraham se hele huis. God ruk Abraham nie weg uit
sy lewensverband nie. Hy wil via Abraham heel die lewensverband
heilig.

Hier sien u, broeders en susters, hoe God
handel as Hy met sy genadeverbond ons menselewe binnekom. God se
genade staan nie haaks op die natuur nie, en soek ook nie die
verbreking van sy skeppingsordeninge nie. Met sy genade soek God
juis die herstel van sy skepping. So soek Hy in sy genadeverbond
die natuurlike lewensverbande op. God sien gesinne voor Hom, nie
slegs losse individue nie. En God lê beslag op die
gesinssamelewing om dit te heilig.

So word die hele huis van Abraham heilig
verklaar, dws afgesonder vir die Here. Die woord heilig sien op
goddelike verkiesing. Uit die verlore mensheid kies God gesinne
uit waarmee Hy wil omgaan. God trek hulle uit die duisternis tot
sy wonderbare lig. God neem hulle saam op die pad van die verbond.

Gemeente, teen die agtergrond kan u die
sogenaamde huistekste van die N.T. begryp, die tekste wat praat
oor die doop van ’n gelowige met sy hele huis. Daar word nie
eksplisiet gepraat van jong kinders nie. Maar is so ’n
eksplisiete melding nog nodig na die O.T.? Is die noem van "die
huis" nie voldoende om ons te herinner aan God se werkwyse
in die verbond nie, naamlik dat God die gelowige met alles wat
aan hom behoort in die verbond opgeneem het? Die reël van Gen 17
blyk in die N.T. nie afgeskaf te wees nie, maar word daar juis
bevestig.

So lees ons in Hand 11:14 dat Cornelius Petrus
moet gaan roep want "hy sal woorde tot jou spreek waardeur
jy en jou hele huis gered sal word." Lidia die
purperverkoopster is saam met haar huisgesin gedoop (Hand 16:15).
Dieselfde lees ons van die tronkbewaarder van Filippi. Paulus en
Silas sê vir hom: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered
word, jy en jou huisgesin.

So geld vandag nog steeds die geweldige
werklikheid dat God kinders saam met hul ouers opneem in die
genadeverbond. Terwyl God ander seuns en dogters verbygaan in hul
verlorenheid, kom Hy na die kinders van gelowiges toe met sy
genade. Hy sonder hulle af. Hy onderskei hulle van die kinders
van die ongelowiges deur die teken van die verbond. Hulle is in
Christus geheilig. Uit genade afgesonder om vir Hom te wees.
Daaroor gaan dit as ons Kat sê dat die jong kinders net soos die
volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is.
Daarom moet hulle ook deur die doop as teken van die verbond in
die Christelike kerk ingelyf en van die kinders van die
ongelowiges onderskei word.

Gemeente, ons kinders moet die teken van die
verbond ontvang. Hulle behoort gedoop te wees. Nie omdat hulle
uit hulself heilig is nie. Nie vanweë hul innerlike vroomheid
nie. Hoe het dit gegaan in die tente van Abraham? Het God daar
eers gelet op die innerlike vroomheid van alle huisgenote? Moes
hulle eers almal hul geloof bely voordat hulle in die verbond
opgeneem kon word en voordat hulle die teken van die verbond mog
ontvang? Nee, selfs die seuntjie van agt dae moes die teken van
die verbond ontvang. Hulle het reeds tot die verbond behoort,
voordat hulle die teken ontvang het. Hoekom was hulle in die
verbond ingesluit? Omdat hulle deel van Abraham se huis was.
Daarom het hulle die reg en plig van die besnydenis ontvang. As
iemand, bv ’n ouere slaaf, die teken sou weier dan moes hy
gedood word, nie as ’n vreemdeling of buitestaander nie,
maar as ’n bondeling, ’n verbondsbreker (Gen 17:14).

So wil die Here vandag via gelowige ouers die
kinders ’n plek in sy verbond en die doop gee. Ons kinders
ontvang nie die doop om daardeur in die verbond opgeneem te word
nie. Vanaf hul geboorte het die Here hulle reeds in die verbond
opgeneem. Juis omdat hulle reeds verbondskinders is, behoort
hulle ook gedoop te wees. Daarom laat ons ons kinders so spoedig
moontlik doop. Hulle is tog skatryk as verbondskinders! Dan wil
jy dit tog so spoedig moontlik laat bevestig in die doop? So
’n ryke saak gaan ’n mens tog nie onnodig uitstel nie?

In die verbondsstatuut van Gen 17: 13,14 word
die erns van die verbondsteken so geformuleer: "die wat in
jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik
besny word… Wat manlik is … wat nie aan die vlees van
sy voorhuid besny is nie – die siel moet uit sy volksgenote
uitgeroei word: hy het my verbond verbreek."

God lê beslag op die hele huis, daarom mag
daar niemand by wees wat die teken weier of aan wie die teken nie
bedien word nie. God verklaar die hele huis as heilig. Almal is
afgesonder om vir die Here te wees.

Die onderskeid het ons nie self gemaak nie. Dit
is vanweë die verkiesende liefde van God. Hy sit verlore
sondaars op die pad van die heil. Hy roep uit die duisternis tot
sy wonderbare lig.

Dit is, seuns en dogters, jul rykdom, jul
voorreg. God het julle saam met jul ouers in sy genadeverbond
ontvang. Hy het julle tot sy kinders aangeneem. Dit beteken dat
julle skatryk is. God skenk julle saam met jul ouers die ryke
verbondsbeloftes. Dis die tweede gedagte van die preek.

Op die pinksterdag sê Petrus: "want die
belofte kom julle toe en julle kinders" (Hand 2:39). Petrus
dink hier veral aan die belofte van die Heilige Gees – die
geskenk van die nuwe verbond.

In die O.T. het die hele volk die
verbondsbelofte ontvang. Paulus sê van die Jode, sy stamgenote
na die vlees: "Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot
kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die
wetgewing en die erediens en die beloftes" (Rom 9:4). Die
kinders het ook tot die volk behoort. Hulle het ook die beloftes
ontvang. God het tot Abraham gesê: Ek sal my verbond oprig
tussen My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte as
’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou
nageslag na jou (Gen 17:7). Die groot heilsbelofte: "Ek sal
vir jou ’n God wees", geld dus ook vir die kinders.

Gemeente, die groot belofte is in feite
allesomvattend. Dit omvat die belofte van die vergewing van
sondes deur die bloed van Christus en die vernuwing van lewe deur
die Gees van Christus. Hoe kan dit ook anders! As God verlore
sondaars tot sy eiendom wil maak, dan moet daar wel vergewing van
sondes wees. As ek met die heilige God omgang wil hê dan moet ek
wel vryspraak hê op grond van die bloed van Christus. Uit myself
is ek immers allermins heilig. Inteendeel, van nature is ek aan
die ewige oordeel onderworpe. Ek kan slegs by die heilige God
woon omdat ek in Christus geheilig is. Dws God kyk na my in
Christus en in sy offer. Die reinigende krag van Christus se
bloed word aan my toegereken. Daardeur kan ek by die Here woon
sonder om deur die vuur van sy heerlikheid verteer te word. Dit
is die belofte wat God aan alle bondelinge gee. God belowe aan
hulle, wat Hy uit die verlore mensheid kies, die saligheid in die
vergifnis van hul sondes.

Broeders en susters, as God u kinders saam met
u afsonder tot sy diens, dan belowe Hy tewens die vernuwing deur
sy Gees. Die Here laat die geheiligde volk immers nie aan hul lot
oor nie. Anders sou dit sinloos wees om die volk af te sonder.
Hulle sou dan ewe sondig en ellendig bly as voorheen. Nee, God
skenk aan sy volk die Gees van vernuwing, die Gees wat die geloof
werk en die lewe verander.

Hoe kom die Gees na u toe om u geloof te bewerk?
Daarvoor gee God sy Woord en sakramente. So is die kerk met sy
woord en sakramente die uitstralingsveld van die kragte van die
Gees. As jy hier verkeer dan verkeer jy onder die sfeer van
invloed van die Heilige Gees. Dit geld vir alle huisgenote van
God, ook vir ons kinders. Hulle het deel aan die gawe van die
Gees soos dit aan die kerk belowe is. Ook ons jong kinders staan
dus in die uitstralingsveld , die invloedsfeer van sy lewe
wekkende en vernuwende kragte. Dit is die voorreg van die kinders
van gelowiges, wat in die verbond groot word. Aan hulle is die
woorde van God toevertrou. Aan hulle word die vergewing en die
vernuwing belowe. Vergewing deur die bloed van Christus en
vernuwing deur die Gees van Christus.

Gemeente, dat die belofte ook in die N.T. vir
die jong kinders geld, word bevestig deur Jesus se seëning van
die kinders. Op ’n sekere oomblik het ouers hul kinders tot
Jesus gebring. Hulle het dit gedoen sodat Jesus aan hulle die
hande sou oplê en vir hulle sou bid. Die dissipels probeer om
dit te verhinder. Maar wat doen die Here Jesus? Wys Hy die
kinders af? Sê Hy: hulle kan tog nie glo, daarom het ek niks vir
hulle nie? Nee, Jesus sê: Laat die kindertjies tot my kom.
Verhinder hulle nie. Want aan sulkes behoort die koninkryk van
die hemele. En Hy het hulle die hande opgelê (Mt 19:13-15).

Hierdie geskiedenis staan waarskynlik teen die
agtergrond van die Joodse gewoonte om op die groot versoendag ook
die kinders te laat deel in die seremonies. In die aand het hulle
toe die kinders na die skrifgeleerdes gebring om hulle te vermaan
en vir hulle te bid. Soos die ouers hul kinders na die
skrifgeleerdes gebring het, so bring hulle die kinders nou ook
tot Jesus. En Jesus lê die hande op hulle. Dit diens van
versoening is ook vir die kinders bestem. Die seën van die
verbond mag hulle nie onthou word nie.

So is dit vandag nog. Die kinders hoef nie
buite gehou word nie. Wanneer die woord van die versoening gehoor
word dan hoef hulle nie te loop nie, ook nie as die seën –
die bediening van die versoening in uiterste konsentrasie –
opgelê word nie. Die kinders behoort daarby. Aan sulkes behoort
die koninkryk van die hemele. Die evangelie met sy beloftes is
ook vir hulle. Hul lewe juis onder die beslag van God se
beloftewoord. Die woord staan aan die begin van hul lewe. Die
woord stempel hul lewe en gaan met hulle saam. Hulle groei op en
lewe in die werkplek van die Gees.

Seuns en dogters, so het julle aanwesigheid
hier in die kerk – onder die verkondiging van die evangelie
– alles te doen met julle doop. Wat is julle doop anders as
’n verseëling van God se evangeliewoord wat julle lewe
ingekom het? En wat is die verbond anders as dat God met sy
evangelie woord met julle saam gaan deur die lewe? Die woord van
God sonder julle af van die kinders van die ongelowiges. Die
woord van God bewerk en skenk nuwe lewe.

Daarom word daar ook op so ’n nadruklike
manier gepraat by die verbondsteken. Die doop word die bad van
die wedergeboorte en die afwassing van die sondes genoem. Nie dat
dit self outomaties die vergewing van die sondes en die vernuwing
bewerk nie. Maar God wil ons aan die hart bind dat Hy doen wat Hy
sê. Wanneer Hy met die teken kom, kom Hy ook met dit wat
uitgebeeld word. Niemand hoef aan die belofte te twyfel nie.
Elkeen kan en moet in geloof aanvaar wat God belowe het. Dit doop
is daarvan ’n goddelike waarborg. God het dit met die krag
van ’n goddelike eed ons laat sien en hoor: Ek was jou met
die bloed en Gees van Christus. So dring die Heilige Gees deur
tot in my hart. So dring Hy my tot geloof.

Seuns en dogters, broeders en susters, gryp dan
die sekere beloftes aan in geloof. Aanvaar die vergewing van jul
sondes en die vernuwing van jul lewe, soos God dit aan julle
belowe en verseker het deur die doop. Wees dankbaar vir die
verbond waarin God julle ’n plek gegee het. Ook aan julle is
die woorde van God toevertrou, die woorde van lewe. Julle groei
op in die invloedsfeer en in die uitstralingsveld van die Heilige
Gees. Wees dankbaar vir sy lewendmakende en geloofwekkende kragte
wat julle lewe begelei en bestempel.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)