Die priesterlike voorbede vir die geteisterde tienstammeryk.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-09-12
Teks: 
Psalms 80
Preek Inhoud: 

Psalm 80

Ds C Kleyn - Sondag 12
September 1999

Lees: Psalm 80.
Sing: Ps 123:1; Ps 149:1,2; Ps 80:1,2;
Ps 80:8,10; Ps 67:1-3.

Tema: Die priesterlike
voorbede vir die geteisterde tienstammeryk.

  1. Die getroues doen ’n beroep op God se
    werk uit die verlede;
  2. Die getroues erken God se toorn in die
    hede;
  3. Die getroues bid vir God se verlossing met
    die oog op die toekoms.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons mag in hierdie diens geniet van die
gemeenskap met die Here en met mekaar. Probeer eers om in te dink
wat dit beteken. God wil hier in ons midde wees as ’n God
van naby. Hy het ons alreeds gegroet met sy woorde van genade en
vrede. Wat ’n voorreg!

Om so saam in God se nabyheid te verkeer het
ook ’n keersy. Daar is ook mense wat dit nie geniet nie, vir
wie dit ’n vloek is in plaas van ’n seën. Daar is
mense wat nie saam wil optrek om die Here te dien nie. Mense wat
versuim om te kom omdat dit hulle nie aanspreek nie. Ons dink aan
hulle wat in die verbond en kerk grootgeword het. Miskien het
hulle selfs belydenis van geloof afgelê. Maar hulle het die weg
van die verbond verlaat. ’n Pynlike saak vir ouers, gesinne
en die kerkgesin. Ons kan ook dink aan baie gedooptes in ons land
wat steeds meer van God en sy diens vervreemd raak. Hulle dra wel
die teken van die verbond, maar neem die weg van die verbond nie
ernstig op nie. As ’n mens dit sien, maak dit seer. Geslagte
beweeg so steeds verder van die Here af weg.

Die vraag dring hom aan ons op: wat kan ons vir
die mense doen? Ons kan probeer om hulle aan te spreek. Ja, dis
ook belangrik dat ons na wee soek om ons getuienis te laat hoor.
Maar ons getuienis lyk dikwels so kragteloos. Dit word dikwels
nie begryp nie. Baie mense begryp nie waaroor ons bekommerd is
nie. Hulle is tog christene? Wat moet ons dan nog doen? Moet ons
hulle dan maar aan hul lot oorlaat? Nee, gemeente, dis nie
voldoende wanneer ons ons profetiese getuienis laat hoor het nie.
God wil ook ons priesterlike voorbede hoor.

Ps 80 is ’n voorbeeld van ’n
indringende voorbede. Voorbede word hier gedoen vir die ontroue
tien stamme van Israel. Die digter noem Josef, Efraim, Benjamin
en Manasse. Omdat hulle die Here verlaat het, is die Here toornig
op hulle en verkeer die volk in nood. Vyande het hulle aangeval
en geplunder. Miskien moet ons dink aan die periode kort voor hul
wegvoering in ballingskap. Die opskrif bo die Septuagint, die
Griekse vertaling van die OT, wys moontlik in die rigting.

Ons weet nie waar die oorspronklike digter
presies vandaan kom nie. Sy gebruik van die eerste persoonsvorm
‘ons’ in die voorbede sou kan suggereer dat hy self ook
uit die ryk van die tien stamme afkomstig is. Dit is egter nie
noodwendig so nie. Ook ’n gelowige uit die suidelike ryk
Juda voel hom immers aan die broedervolk in die noorde verbonde.
Die Here het immers een verbond met alle stamme van Jakob opgerig.
Dit bly van krag ook na die splitsing van Israel in twee ryke ten
tye van Jerobeam. Daar bly een godsdienstige sentrum, die tempel
van Jerusalem, by die ark van die verbond, waar die Here op die
gerubs troon. Daar kan die getroues uit die Noorde en uit die
Suide mekaar ontmoet. Of die digter ’n Noorderling of ’n
Suiderling is maak dus nie saak nie. In elk geval behoort hy tot
die getroues onder Israel, die vrome oorblyfsel wat bewoë is oor
die lot van hulle wat ontrou geword het.

Blykens die opskrif ‘vir die musiekleier’
het hierdie psalm ’n plek gekry in die liturgie van
Jerusalem se erediens. Die Psalm is bestem vir opvoering by die
erediens, blykbaar ter geleentheid van ’n nasionale bid en
boete dag. Die vergaderde gemeente in Jerusalem is nie blind vir
die nood van die ontroue volksgenote nie. Juis in Jerusalem, waar
die Here onder sy volk wil woon, juis daar stuur die getroues hul
priesterlike voorbede op vir ’n volk in nood.

Ek verkondig u: die priesterlike voorbede vir
die geteisterde tienstammeryk.

  1. Die getroues doen ’n beroep op God se
    werk uit die verlede;
  2. Die getroues erken God se toorn in die
    hede;
  3. Die getroues bid vir God se verlossing met
    die oog op die toekoms.

In hul voorbede doen die getroues dus in die
eerste plek ’n beroep op God se groot dade uit die verlede.
Daarmee wil hulle God beweeg tot ontferming oor ’n sugtende
volk waaraan hulle hul verbonde voel. Hulle is immers deel van
God se verbondsvolk. Dit is al te sien in die eerste aanspraak: o
Herder van Israel. Die voorbidders wil sê: U is tog Herder van
Israel. U het tog die versorging en die leiding van die hele volk
op U geneem. Dit is u skape. Ja, ook die tien stamme, ook al is
hulle afgedwaalde skape. U het uself aan hulle verbind. Dink aan
die verbond wat U met hulle gesluit het.

In vers 18 word Israel "die man van u
regterhand" genoem, "die menseseun wat U vir Uself
grootgemaak het." Israel het sy posisie nie aan homself te
danke nie. Dit was ’n swak en hulpelose mensekind. Maar die
Here het die nietig mensekind beskerm en grootgemaak. Die Here
het uit soewereine genade met sy beloftes tot hulle gekom, terwyl
hulle niks beter was as die ander volke nie. Die Here het hulle
uit alle volke uitgekies. Hy het hulle opsetlik as volk tot
aansyn geroep. So word hulle die man van God se regterhand genoem.
God sy regterhand is die hand van die Here wat kragtige dade doen.
Die regterhand het Israel geformeer, gered en versorg vanaf die
begin.

Die Psalmis werk dit uit met die beeld van
’n wingerdstok. Die gedagtes gaan terug na die begin by die
uittog uit Egipte. Die Here het Israel as ‘t ware uit Egipte
uitgegrawe en in Kanaän geplant. God self het alle maatreëls
daarvoor getref. Hy het die volke verdrywe om ruimte te maak vir
sy wingerdstok. Hy het die grond toeberei. Dit het wortels
geskiet en geweldig gegroei. Dit het uitgebrei oor die hele land
sodat dit selfs die berge en die hoë seders met sy ranke oordek
het. Sy ranke het van die see tot aan die Rivier gereik dws van
die Middellandse See tot aan die Eufraat Rivier, die grense van
die ryk van Dawid en sy opvolger Salomo. ’n Ongekende
heerlikheid. Die ryk was groot en magtig. Salomo mog die tempel
vir die Here bou. Nooit was daar groter heerlikheid as toe nie.
Alles danksy God se groot dade.

Die voorbidders herinner die Here aan sy werk
uit die verlede. Hulle wil sê: Here, laat nie vaar die werke van
u Handelinge nie. Dink aan wat u self begin het met hierdie volk
en verlos hulle ter wille van u naam.

So kan ons, broeders en susters, ook voorbede
doen vir die ontroue volk van God, vir ontroue kinders van God,
wat wel die teken van die verbond het, maar nie die weg van die
verbond volg nie. Ons kan pleit op wat die Here Self in hul lewe
begin het. Uit soewereine genade het Hy hul lewe binnegekom met
sy evangelie. Hy het die evangelie aan hulle laat verseël in die
doop. Hulle is en bly gedooptes. As ons kyk na bepaalde kerke wat
vroeër ’n bloeityd geken het maar nou deformeer en
uitmekaar val dan mag ons die werk uit die verlede aan die Here
voorhou. Dit was die werk van God se eie hand. Dan kan ons bid:
Here hervat in genade die werk wat U toe verrig het. Herstel die
volk waaraan U U in die verlede verbind het. Dink aan die verbond.

Gemeente, die getroues in Israel doen in hul
voorbede ’n beroep op God se werk in die verlede. In die
hede moet hulle egter konstateer dat die situasie vir die ryk van
die tien stamme nie goed is nie. So erken hulle in die tweede
plek in plaas van God se verkiesende genade, God se toorn in die
hede.

Daar is niks oor van die prag van die
wingerdstok nie. Die beskermende mure daaromheen is verwoes.
Almal wat verbygaan kan die wingerdstok sommer kaalpluk. Die
wingerdstok lê onbeskerm ten prooi vir vyande wat hulle daarin
verlustig. In die beeld word gepraat van die wildevark wat
kaaleet. Dit is ’n treffende beeld vir die verskriklike
verwoestinge en wreedhede wat die vyande in die Noordelike ryk
aanrig. Die wildevark is vinnig en grondig in sy verwoestinge.
Dit woel die grond om, ruk die wingerdstok neer en laat ’n
spoor van verwoestinge agter hom aan. Enkele wildevarke is
voldoende om ’n gehele wingerdstok te verwoes. Die Psalmis
vergelyk die vyande van Israel met die dier. Die buurstate wat
vroeër aan Israel skatting betaal het, kom nou om die weerlose
land te plunder. Hulle vat sy rykdom, sy oes, sy mense en sy vee.
Die bloeiende wingerdstok uit die dae van Dawid en Salomo kan nou
vergelyk word met waardelose afval, wat ’n mens op ’n
hoop gooi en in brand steek. Die wingerdstok, wat met soveel sorg
grootgemaak is, gaan in vlamme op.

Die Israeliete is in groot nood. Trane is as
‘t ware hul daaglikse spys en drank. Trane vanweë gesinne
wat uitmekaar geskeur is, trane vanweë huise wat verniel is,
trane vanweë die oes wat geplunder is. Honger, ellende, rou en
smart. Die buurstate gebruik die geleentheid om Israel te
verneder. Soos honde wat om ’n been veg, so veg hulle om
Israel se besit. Hulle baklei om die buit en dryf die spot met
die volk.

Die digter sien die vyande volop besig om
Israel te verneder. Hy sien egter ook meer en verder. Hy herken
daarin die oordeel van die Here. Bo alles en in alles het Israel
met God te doen. God se toorn het teen sy volk ontbrand. Daarom
bid die digter: hoe lank nog rook u toorn by die gebed van u volk?
U het hulle tranebrood laat eet. U het ons ’n voorwerp van
stryd gemaak vir ons bure. U het sy mure stukkend gebreek. Dit
Here is eiehandig besig om sy volk te straf. Vanweë die dreiging
van sy aangesig kom hulle om (vers 17). Wie kan immers bestaan as
die Here in sy toorn verskyn?

Gemeente, vanweë die ontrou van God se volk
het die profete meermale God se toorn aangekondig. Die
tienstammeryk het die Here baie gekrenk. Dit het reeds begin by
Jerobeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het, met sy
eiewillige godsdienstigheid: die kalwerdiens in Dan en Bethel.
Dit het van kwaad tot erger gegaan, ondanks alle waarskuwinge van
die profete. Die verbondsvolk het die weg van die verbond verlaat.
Hulle het meer vertroue gestel in hul eie bedenksels as in die
lewende God wat hulle uit Egipte verlos het. Die verbondsbreuk
het die toorn van die Here opgeroep. Daaronder gaan hulle nou
gebuk. As dit verdergaan dan kom hulle onherroeplik om.

Daarom word ten slotte intens gebid vir God se
verlossing. Die derde punt. Die enigste moontlikheid van ’n
verandering ten goede is dat God ingryp tot hulle verlossing. Die
volk self is nie daartoe in staat nie en wil dit nie eers nie.
Die volk is slegs ’n mensekind wat volledig van God
afhanklik is. Daarom die indringende bede: "o God van die leërskare,
kom tog terug; aanskou uit die hemel en kyk, en gee ag op hierdie
wingerdstok" (vers 15). "Verskyn in ligglans,"
"laat u aangesig skyn" (verse 2,4,8,20). Die digter
herinner aan die seën wat God elke dag in Jerusalem laat hoor.
Cf. "Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en hou
genadig wees." Dit tienstammeryk het te make met God se
dreigende aangesig. Dit het donker geword, hopeloos, sonder
uitsig. Daar is slegs uitsig as God se aangesig weer vriendelik
word, as Hy die volk weer welwillend aansien. As Hy sy aangesig
weer in goedheid en genade tot sy volk rig, dan is daar weer
’n daeraad. Die lig wat daarvan uitstraal kan die volk weer
verbly. Dan is daar verlossing uit die nood. Dan is die onheil
verby.

Die digter wys voortdurend op God se almag. God
kan die verlossing bewerk. Hy troon bo-oor die gerubs. Hy is die
God van die leërskare. Hy is die Here wat tussen Egipte en Kanaän
voor die leërskare van Israel uitgegaan het. Hy beskik oor
hemelse leërmagte. Ja, Hy het ook alle aardse leërs in sy mag.
Die digter roep die Here op om sy magtige krygsdade weer te toon
tot redding van sy volk. "Wek u mag op voor Efraim en
Benjamin en Manasse, en kom ons te hulp."

Die bede om herstel deurtrek die hele Psalm.
Dit is ’n refrein wat drie maal gehoor word. Maar wat bedoel
die digter met die woord ‘herstel’? Die woord ‘herstel’
omvat meer as wat ons normaalweg dink. In die Hebreeus beteken
die woord ook ‘bekeer’. Ons kan dus vertaal ‘herstel
ons’ maar ook ‘bekeer ons’. Die verlossing van God
se volk is ’n saak van genade en bekering. ‘Herstel ons’
is vir die Psalmis ook ‘bekeer ons’. As U Here dit sou
wil doen! Dan sal dit anders word, dan sal die volk u weer gaan
dien. Daarom die gelofte in vers 19: "dan sal ons nie van U
afwyk nie; hou ons in die lewe, dan sal ons u Naam aanroep."

In solidariteit met hul afvallige volksgenote
gee die getroues uiting aan wat sal gebeur as die Here ingryp met
sy lewendmakende Gees. Dan word die wil wat dood was, lewend; wat
sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam
was, gehoorsaam (DL hfst 3&4, par 11). Ontroue bondelinge
gaan dan weer op die pad van die verbond wandel. Dan word dit
weer soos by die begin van Israel se geskiedenis, toe God die
volk as ‘t ware uit niks geformeer het om Hom te dien. God
het die wingerdstok geplant en dit laat groei. Vir nuwe groei, na
afval en vernietiging, is daar weer ’n genadig ingryping van
God nodig. Daarvoor bid die getroues in Israel.

Gemeente, die voorbede van die getroues kan ons
baie leer. Hulle sluit hul nie in hoogmoed af van die geteisterde
broedervolk nie. Hulle is met hul lot bewoë. Hulle sien die een
verbond waaraan hulle gemeenskaplik deel gekry het. Hulle sien
die genade van die verbondssluiting, maar ook die verskrikking
van die verbondsverlating en verbondswraak. Hulle rig ’n
dringende bede tot God om sy ontroue volk tog opnuut genadig te
wees. Slegs as Hy Hom weer in genade tot hulle wend, sal daar
’n toekoms vir hulle wees.

Laat ons broeders en susters, ons oë nie sluit
vir die nood van ontroue bondelinge of verbondsgemeentes nie.
Laat ons hulle nie in selfgenoegsaamheid negeer nie. Ook nie
hulle wat saam met ons in die verbond grootgeword het nie. Hulle
bly bondelinge. Dat ek die weg van die verbond ken, het ek nie
aan myself te danke nie. Dit is slegs genade. God het die groei
gegee. En vergeet nooit die waarskuwing van die Here uit 1 Kor 10:12:
"Daarom wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie."
As die Here ons nie genadig is nie, dan val ons sommer. Dan pas
dit allermins om met ’n sekere leedvermaak toe te kyk
wanneer dit met ontroues kerklik sleg gaan. Dit moet ons
inteendeel pyn doen.om te sien dat gedooptes en kerkgemeenskappe
steeds verder van die Here vervreemd raak.

Vandag openbaar die Here sy toorn oor
verbondsverlating meestal nie soos Hy dit in die OT gedoen het
deur middel van vyande nie. Tog merk ons ook vandag sy toorn
wanneer God mense of gemeenskappe loslaat en hulle ’n prooi
van sonde en dwaling laat word. Ons sien hoe baie bondelinge
steeds meer dmv lis in die greep van sondige magte kom.
Generasies word die prooi van satan. Hoe intens moet ons dan, ja
juis ons, bid dat God die afsterwende hout weer lewend wil maak.
Slegs God se genadig ingryping kan weer uitsig gee en nuwe bloei.
Laat ons dan naas ons profetiese getuienis volhard in ons
priesterlike voorbede. Sodat baie bondelinge opnuut die lig mag
sien en die weg van die verbond weer blymoedig mag volg.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)