Deur middel van Hanna se gebedsstryd maak God die onvrugbare Hanna diensbaar aan die koms van sy koninkryk.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-10-17
Teks: 
I Samuel 1
Preek Inhoud: 

1 Samuel 1:11

Ds C Kleyn - Sondag 17
Oktober 1999

Lees: 1 Samuel 1.
Sing: Ps 1:1,2; Ps 1:3,4; Ps 55:1,2
(na kollekte); Ps 80:1,8,10; Ps 55:7,10.

Thema: Deur middel van
Hanna se gebedsstryd maak God die onvrugbare Hanna diensbaar aan
die koms van sy koninkryk.

  1. Hanna se stryd;
  2. Hanna se vertroue;
  3. Hanna se gelofte.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die komende tyd hoop ek enkele preke uit die
eerste boek van Samuel te hou. Daarom eers enkele inleidende
opmerkings oor die boeke van Sam. Die boeke het hul plek tussen
Rigters en Rut en 1 & 2 Konings. Daarmee word die karakter
van die boeke van Samuel al aangedui. Die boeke vorm die oorgang
van die Rigters na die konings. Daarin lees u van die instelling
van die koningskap in Israel.

Hoe het dit gegaan in die tyd van die rigters?
God het sy volk onder leiding van Josua in die land Kanaän
gebring. Die volk moet daar wys dat dit ’n heilige volk is,
’n koninkryk van priesters. Daartoe stel die Here hulle op
die proef. Hy laat die volk as ‘t ware aan hulself oor.
Hulle kry geen opvolger van Josua nie. Nou kan die volk wys dat
hulle sonder ’n sigbare leier en dus ongedwonge hul
onsigbare hemelse Koning wil dien. Al gou blyk dit egter dat
Israel die proef nie deurstaan nie. Na die dood van Josua en sy
tydgenote kom daar ’n ander geslag wat die Here en die werk
wat Hy gedoen het nie ken nie. Hulle doen wat verkeerd is in die
oë van die Here. Hulle dien die Baäls. Daarop gee die Here
hulle oor in die mag van hul vyande.

In die boek Rigters lees ons voortdurend oor
die verval en ontrou van God se volk. Hulle misken hul unieke
posisie en roeping. Hulle sluit verbonde met die heidene. Dit
word herhaaldelik hul valstrik. Die boek Rigters eindig met die
refrein: "In die dae was daar geen koning in Israel nie:
elkeen het gedoen wat reg was in sy oë." Sonder ’n
sigbare leiding bring Israel niks daarvan tereg nie. Sonder die
uitwendige steun van die koningskap is God se volk nie in staat
om hulle as volk van God te handhaaf nie. So kan ons die tyd van
die Rigters tipeer as ’n roep om die koningskap.

In die boek Rut sien ons God besig om iemand
beskikbaar te stel vir die koningskap. Die boek sluit met die
vermelding van Dawid en vind daarin sy hoogtepunt. Die vakature
word vervul.

In die boeke van Samuel sien ons vervolgens hoe
God die koningskap van Dawid se huis tot stand bring. In die tyd
van die rigters het die lewe op allerlei terreine vasgeloop.
’n Mens kan niks van die volk verwag nie. Wil daar weer
’n toekoms vir die volk wees dan sal God moet ingryp. Dit
doen die Here dan ook. Hy gryp in. Hy sorg vir die voortgang van
sy heilswerk. Hy tref voorbereidings vir die koningskap. Hy skenk
’n voorloper. Voordat die koning kom moet daar ’n
profeet wees. Want God wil ’n teokratiese koningskap, ’n
koningskap waarin sy heerskappy vorm kry. Die koning moet deur
God se profeet geroep en gesalf word. Hy moet hom na die
profetiese woord rig. Samuel word die man wat die huis van Dawid
aan God se heerskappy sal verbind. God gaan sy heerskappy op
aarde vestig in die huis van Dawid. Duursaam. Uitlopend op die
ewig koningskap van Dawid se groot Seun en Heer Jesus Christus.
In die boek Samuel neem die Here dus ’n groot stap op die
weg na ons ewige Koning. Hy gryp in tot verlossing van sy volk.

In ons teks lees ons van die begin daarvan. Dit
lyk baie na ’n huislike tafereel. Jaloesie tussen twee vroue
van een man. Twee vroue waarvan die een deur haar man voorgetrek
word, terwyl die ander die kinders het. Dit lyk na ’n
huislike tafereel. Maar dit is baie meer. God is hier besig. Laat
ons dit nader beskou as ek u verkondig:

Deur middel van Hanna se gebedsstryd maak God
die onvrugbare Hanna diensbaar aan die koms van sy koninkryk

Ons kyk na

  1. Hanna se stryd;
  2. Hanna se vertroue;
  3. Hanna se gelofte.

Hanna leef in ’n tyd van ontstellende
deformasie. ’n Mens herken dit duidelik in die heiligdom te
Silo. Daar is die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, priesters
van die Here. Wat hulle daar maak kan u lees in 1 Sam 2. En Eli
hul pa laat hulle begaan. Hy stel die eer van sy seuns hoër as
die eer van God.

Duidelike simptome van die verval is ook
sigbaar in die gesin van Elkana, ook al lyk dit ’n vroom
gesin te wees. Jaarliks trek die gesin immers na Silo om te
aanbid en aan die Here te offer. Na die offers gebruik hulle in
die teenwoordigheid van God ’n gesamentlike offermaaltyd.
Daarin vier hulle die innige band met God en met mekaar. Maar wat
sien ons gebeur? Juis by die heilige en feestelike geleentheid is
daar die spot van Peninna. Elke keer weer vergal sy die
feesvreugde van Hanna. Daar waar ’n mens hom juis sou moet
verneder – naamlik in God se teenwoordigheid – juis
daar kom Peninna goed los teenoor Hanna.

Peninna lyk ’n vrome vrou te wees. Sy
verrig die godsdienstige handelinge wat van haar verwag word.
Maar agter die keurige front woon ’n duiwelse gees. Soos dit
ook vandag kan gebeur. Dan kan ’n mens uiterlik wel
gereformeerd wees. Hy gaan kerk toe, hy lees die Bybel en bid. Hy
betaal sy VVB en hy gee sy gawes in die kollektes. Maar die goeie
Gees van God is nie in hom nie. ’n Wêreldse gees het in sy
hart gekom. ’n Verskriklik iets in die kerk van Christus.
Laat ons gewaarsku wees. So blyk Peninna nie vervul met die Gees
van God te wees nie, maar met die gees van satan. Voor die
aangesig van die Here, op die fees van die gemeenskap, versteur
sy die feesvreugde.

Gestel dat dit sou gebeur hier by die erediens
of by die viering van die nagmaal. Een lidmaat terg dan ’n
ander sodat hy of sy hier voor die Here gaan ween. Dis al erg
genoeg as ons mekaar terg by die huis of by die werk. Dit is
egter ongehoord om mekaar te terg by die erediens of by die
nagmaal. Hier voor die aangesig van die Here word ons juis bepaal
by God se heiligheid en genade. Hier moet ons dus in ootmoed en
met vreugde die gemeenskap met God en met mekaar vier. Daarom is
dit ook so belangrik dat ons as gemeente gasvry en vriendelik is.
Juis hier moet ons toon dat ons werklik vir mekaar omgee en dat
ons iets positiefs vir mekaar het. Blyk dit dan ook uit ons
houding en uit die woorde wat ons vir mekaar spreek? Peninna
verstaan nie wat dit beteken om in die nabyheid van God te
verkeer nie. Sy bespot en terg die vrome Hanna sodanig oor haar
kinderloosheid dat sy in trane uitbars. Ook haar man kan haar nie
regtig troos met sy woorde: Is ek vir jou nie beter as tien seuns
nie?

Broeders en susters, is dit slegs ’n
persoonlike belediging wat Hanna pla? Uit haar lofsang in
hoofstuk 2 blyk dat dit gaan oor meer as slegs haar persoonlike
verdriet. Sy plaas alles in die breë verband van God se
koninkryk. Sy open nie slegs haar mond teen ’n vyand nie,
maar teen vyande. Sy weet dat sy met vyande te doen het. Hanna ly
aan die moeite van haar tyd. Baie vyande vertrap die volk van die
Here en ook onder God se volk self is daar baie vyande van God.

Hanna ervaar haar onvrugbaarheid as ’n
stuk onmag om in die situasie diensbaar te wees. God het Israel
’n pragtige bestemming gegee. Deur die nageslag van Abraham
sou alle geslagte van die aarde geseën word. Die heil van die wêreld
sou uit die Jode wees. En God het die ouers ingeskakel in die
stryd na die groot dag van sy heil. Kinders sou sorg vir die
voortsetting van die uitverkore geslag en die koms van die heil
voorberei. Ps 127 sing daarvan: "Kyk seuns is ’n
erfdeel van die Here; die vrug van die moederskoot is ’n
beloning. Soos pyle in die hand van ’n held, so is die seuns
van die jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul
het! Hulle sal nie beskaamd staan as hulle met die vyande in die
poort spreek nie." Kinderloosheid is dan ook ervaar as
’n groot verdriet. So ’n lewe loop dood en kan nie
blywend ingeskakel wees aan die bou en koms van God se koninkryk
nie.

Dit het Hanna sterk ervaar. Sy sien die
ellendige toestand waarin die kerk verkeer. Sy hoor hoe vyande
van God hoogmoedige taal uitspreek. Hulle kan rustig aangaan met
hul goddelose gedrag. In die situasie wil Hanna ingeskakel word.
Sy stel haar graag beskikbaar. Dis opvallend hoe dikwels sy
haarself "diensmaagd" noem. "As U waarlik die
ellende van u diensmaagd aansien en aan my dink en u diensmaagd
nie vergeet nie, maar u diensmaagd ’n manlike kind skenk…"
Hanna wil graag diensbaar wees aan die koms van God se koninkryk.
Haar kinderloosheid maak haar egter magteloos om die neerwaartse
strekking van haar tyd te deurbreek.

Met haar kinderseën durf Peninna in haarself
te roem en dit selfs voor God se aangesig in die heiligdom te
Silo. Peninna durf om die onvrugbare wie se moederskoot God
toegesluit het te bespot. Daarmee wys sy dat sy haarself nie meer
as dienares van God ken nie. Sy dink alleen aan haarself. Hanna
wil haar egter werp in God se stryd. So bid sy of God haar
ellende wil aansien en of Hy metterdaad aan haar wil dink dws of
Hy kragdadig met haar besig wil raak sodat sy via die kry van
’n seun diensbaar kan wees aan die koms van die heil.

Gemeente, dat Hanna haar in God se stryd wil
werp blyk ook uit die manier waarop sy God aanspreek. Sy noem Hom
die Here van die leërskare. Dis die eerste keer in die Bybel dat
ons lees dat 'n mens God op hierdie wyse aanspreek. Teenoor die
magte van die sonde en van die vyande gee Hanna uiting aan haar
vertroue in haar Verbondsgod. Dis die tweede gedagte: Hanna se
vertroue.

Hanna gaan nie op ’n hopie sit nie,
ondanks die donker wolke in haar lewe en in die lewe van God se
volk. Vanuit die skynbaar uitsiglose situasie doen sy ’n
beroep op die trou van die God van die verbond. Hy is die enigste
wat uitkoms kan gee. Hanna verkeer nou naby die ark van die Here,
die sprekende simbool van God se aanwesigheid onder sy volk. Daar
wil die Here immers woon. Die ark word selfs voorgestel as die
troon van God. In 1 Sam 4:4 is sprake van die verbondsark van die
Here van die leërskare wat op die gerubs troon. Die aardse
afbeelding van God se troon gee sig op God se hemelse koningskap.
God is en bly koning, ’n hemelse Koning wat sy mag op aarde
laat geld ondanks alle teenstand. Hy gaan voort om sy koninkryk
te stig. Hy is immers die Leier van die geskiedenis wat alles in
sy mag het en alles lei na sy plan.

Daarom kan Hanna in die nabyheid van die ark
vol vertroue spreek van die Here van die leërskare. Dit is nogal
wat: die Here van die leërskare. Alle leërmagte in hemel en op
aarde is tot sy beskikking. Hy beskik oor die magte van die bose
om dit te vernietig wanneer Hy dit wil. Hy beskik ook oor die leërskare
van Israel om dit te red wanneer Hy dit wil. Het Hy Homself in
die verlede nie bewys as die God van die leërskare van Israel
nie? Met ’n sterk arm het Hy die volk uit Egipte uitgelei.
In die woestynreis was Hy die Aanvoerder van die leërskare van
Israel. Ook by die verowering van Kanaän. Hy is die almagtige
Verbondsgod wat omring is deur sy ontelbare hemelse leërmagte,
sy heilige engele. Broeders en susters, wat ’n geweldige God
het ons tog! Die God van alle leërskare in hemel en op aarde. So
doen Hanna ’n beroep op die Here God soos Hy Hom bewys het
as die God van alle magte.

Die Here het Homself aan Abraham en aan sy
nageslag verbind. "Ek sal my verbond oprig tussen My en jou
en jou nageslag na jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond,
om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag na jou" (Gen
17:7). Hy het Abraham ’n talryke nageslag belowe. In Hom sou
alle geslagte van die aarde geseën word. God het aan hom die
land Kanaän belowe – ja die land van die rivier van Egipte
tot aan die Eufraat. Maar wat kan ’n mens nou sien van die
vervulling van die heerlike beloftes? Die volk het God verlaat en
word onderdruk deur vyande. En dit terwyl die Here die God van
die leërskare van Israel is, die God wat Hom duidelik bewys het
as die koninklike aanvoerder van die leërs van Israel.

So kry die aanspraak van Hanna hierdie inhoud:
"Here ons Verbondsgod, God van die leërskare van Israel en
van alle magte. U het so geweldig met ons begin. U het ons tot u
eiendom gemaak en ons bevry uit die slawehuis van Egipte. U het
ons die land Kanaän gegee. Gedenk u groot werke van verlossing.
Dink aan u verbond. Skenk redding. Voltooi die werk van u hande
sodat u volk u heil mag sien. U is tog die almagtige Verbondsgod!

In die vertroulike gesprek met God doen Hanna
ten slotte ’n gelofte, die derde gedagte van die preek. Sy sê:
"as U u diensmaagd ’n manlike kind skenk, dan sal ek
hom aan die Here gee al die dae van sy lewe; en geen skeermes sal
op sy hoof kom nie." Hanna verplig haarself by voorbaat tot
dankbaarheid. Die gelofte is ’n hoë, intensiewe vorm van
omgang met die Here. Jy wil iets ontvang om iets aan die Here te
kan afstaan. So wil Hanna nie slegs ’n kind ontvang om
’n kind te hê nie, maar om hom aan die Here te kan afstaan.
Sy wil ’n nakomeling hê wat sy kan inset in die stryd van
die Here, met die oog op die koms van sy koninkryk.

So smeek Hanna vir ’n manlike kind. Waarom
’n seun? Hanna wil hom afstaan vir die besondere diens van
die Here. Hy moet ’n amptelike funksie kan vervul. En slegs
seuns, manne, mag ’n besondere amp beklee. Hanna wil hom
afstaan al die dae van sy lewe om heeltemal aan die Here gewy te
wees. Hier geld geen dienstyd van 25 jaar soos by die leviete nie.
Hy moet ’n nasireër word. Daarom sal geen skeermes op sy
hoof kom nie. Onbelemmerde haargroei was ’n simbool van
ongeskonde lewenskrag, wat aan die Here gewy was. So sal sy
haardrag hom teken in sy volledige, onbeperkte toewyding aan die
Here.

Broeders en susters, tot nou toe het ons
gespreek oor Hanna se gebedsstryd, haar vertroue en haar gelofte.
As ons egter nie verder kyk as dit nie, het ons nog niks begryp
van die geskiedenis nie. Hoe kom Hanna daartoe om so in haar
gebed te worstel vir die voortgang van God se heilswerk? Hoe kom
sy daartoe om op so ’n manier om ’n seun te bid? Is dit
nie ’n wonder dat dit in daardie tyd van verskriklike afval
nog voorkom nie? Dit is daarom God wat hier werk. Dit is God wat
haar laat worstel om die voortgang van sy heil. Ons sien God
besig met die oog op ons heil. Hy wek by Hanna die begeerte op om
haar seun heeltemal aan Hom af te staan. Dit is God wat haar
daartoe bring om haarself in haar moedergeluk uit te skakel. As
sy maar diensbaar kan wees! God rig haar oë op die koms van sy
koninkryk. Daarom wens sy dat Hy die seun in sy spesiale diens
sal neem om verder te gaan met die verlossing van Israel. Die
deformasie van die volk en die disintegrasie van die lewe moet
bestry word. Dit gaan vir haar oor die voortgang van die heil,
die vervulling van al God se beloftes.

Kyk hoe God haar worsteling beloon! Sy ontvang
’n seun en mag hom afstaan vir die diens van die Here in die
heiligdom. Samuel word ’n groot reformator en profeet in
Israel. Hy mag as laaste rigter die volk voorberei op die koms
van die teokratiese koningskap. Hy mag die koning salf. Eers Saul,
daarna Dawid wie se koningskap in die Christus ewig sal voortduur.
God gaan met ’n forse stap verder op die pad van die
heilsgeskiedenis dmv die afgebede seun van Hanna.

En let daarop, gemeente, hierdie geweldige nuwe
begin van die Here het losgekom op die gebed van Hanna. God
gebruik die gebed van die vrome, maar skynbaar onbelangrike vrou
as ’n middel om self in beweging te kom. God gebruik nie
slegs haar gebed nie, maar ook haar persoon. Hy wil hierdie
onvrugbare vrou gebruik, hierdie vrou wat oënskynlik niks kan
beteken vir God se volk nie. So sien ons dat God op verskeie
kritieke oomblikke van die geskiedenis sulke skynbaar onbruikbare
vroue inskakel. Dink maar aan die onvrugbare Sarah en aan
Elisabet die moeder van Joh die doper. God gebruik die
onvrugbares om duidelik te laat uitkom dat die verlossing van Hom
is. Sonder sy ingryping loop alles dood. Die hele geskiedenis van
God se volk is ’n geskiedenis van die onmag van mense. Maar
tegelykertyd ’n geskiedenis van die almag van God. Hy is die
bewaarder van Israel wat nie sluimer of slaap nie. Wanneer alles
vasloop, gryp Hy eiehandig in op die gebed van ’n diep
bedroefde vrou. Via Samuel, die afgebede seun van Hanna, wil God
kom tot die koningshuis van Dawid, ja, wil Hy kom tot Dawid se
groot Seun en Heer, ons ewige redder en Koning Jesus Christus.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)