Die gebed van Agur

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-09-05
Teks: 
Spreuke 30
Preek Inhoud: 

Spreuke 30:7-9

Ds C Kleyn - Sondag 05
September 1999

Lees: 1 Timótheüs 6:3-21;
Spreuke 30:1-9.
Sing: Ps 113:1,2; Ps 53:1-3; Ps
104:1-5; Ps 104:17-21; Ps 145:9-12 (na kollekte).

Tema: die gebed van
Agur

Hy bid:

  1. Bewaar my vir die leuen
  2. Gee my nie armoede nie
  3. Gee my nie rykdom nie
  4. Gee my my rantsoen

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

’n Mens moet steeds weer leer om te bid
vir gewas en arbeid. Watter houding moet ons aanneem in die gebed?
In watter stemming sal ons bid? En wat moet ons bid?

Die vooruitsigte van ons nasionale ekonomie is
nie baie rooskleurig nie. Ons het te doen met ’n massale
werkloosheid wat voorlopig slegs sal toeneem. Ons het te doen met
breë sosiale onrus, waarvan die massale stakings van amptenare
’n simptoom is. Die inkomste van baie mense het die laaste
jare verminder, terwyl die dinge steeds duurder word. Ook onder
blankes is daar nou baie onsekerheid, ontevredenheid en nood. As
ons kyk na ons eie gemeente dan is dit opvallend hoeveel
hulpverlening die diakonie in die laaste jaar moes gee, naas die
hulp wat brs en srs reeds spontaan aan mekaar gee.

Waarvoor moet ons dan bid? Moet ons dan bid vir
die verbetering van ons nasionale ekonomie? Moet ons bid vir
rojale inkomstes? Moet ons bid vir die handhawing of verbetering
van ons sosiale standaarde?

Laat ons, broeders en susters, luister na die
onderrig van die Skrifte en wel na die onderrig wat God ons gee
via die gebed van Agur. Wie is hierdie Agur? Ons weet nie presies
nie. Sy naam word nie verder in die Bybel genoem nie. Wat ons wel
weet is dat hy ’n wyse en godvresende man was. Agur ken sy
plek in die wêreld, sy beskeie plek. Hy toon die juiste,
nederige houding teenoor onse God. Voordat hy tot God bid bely hy
sy eie kleinheid. Dit lees u in die gedeelte wat aan ons teks
voorafgaan. Agur dink groot van God en klein van homself.

Eers bely hy sy eie onkunde. Die Heilige God
kan nie van onder af, van die mens uit, geken word nie. Menslike
wysheid skiet tekort. "Wie het na die hemel opgeklim en
neergedaal?" Geen mens immers. God kan slegs van bo af geken
word, deurdat Hy Homself in sy woord aan ons mense bekend maak.

Na die belydenis van sy natuurlike onkunde,
bely Agur ook die onmag van die mens. Hy stel die retoriese vraag:
"Wie het die wind in sy vuiste versamel? Wie het die waters
in ’n kleed saamgebind? Wie het al die eindes van die aarde
vasgestel?" Die antwoord is duidelik. Die mens, ook die baie
kundige mens van hierdie eeu, is nie daartoe in staat nie. Wie
hom wil beroem in die amper onbegrensde mag van die moderne mens
word uitgedaag: Kom en noem so iemand as jy hom ken. En vertel
eers meer van hom: Wat is sy Naam? En wat is die naam van sy seun?

Die mens staan met ’n mond vol tande. Hy
het niks om te sê teen God se uitdaging nie. Die mens staan daar
met sy onkunde en onmag. Alleen die Here God gee insig, wysheid
en krag. Daarom kom Agur uit by die lof op die woord van God.
"Elke woord van God is gelouter", Dat wil sê vry van
smet of bybedoelings. God die Spreker van die woord is die
waarheid self. Hy kan nie lieg nie. Daarom is die woord van God
die suiwer waarheid, ja die enigste egte sekerheid op aarde.
Mense is van nature onwetend, leuenagtig. Van nature staan ek in
diens van satan, die vader van alle leuens. Op die woorde van
mense kan jy nie sonder meer bou nie. Maar die woord van God is
volkome betroubaar. Dit is vry van alle smet of bybedoelings.
Daarom ook die oproep: nie uitgaan bo wat geskrywe is nie: "Voeg
by sy woorde niks by nie, sodat Hy van jou geen rekenskap vorder
en jy as ’n leuenaar openbaar word nie."

So kom Agur tot sy indringende bede. Die
suiwere waarheid van God se Woord en die gevaar van die leuen
dring hom daartoe. Die inhoud van sy gebed het betrekking op sy
hele lewe op aarde. Hy het die dinge elke dag nodig: onthou dit
nie aan my voordat ek sterf nie, dws solank as wat ek hier lewe.

Laat ons nou luister na die onderrig van God
via die gebed van Agur. Ek verkondig u: die gebed van Agur

Hy bid:

  1. Bewaar my vir die leuen
  2. Gee my nie armoede nie
  3. Gee my nie rykdom nie
  4. Gee my my rantsoen

Die eerste wat Agur vra is: Hou valsheid en
leuentaal ver van my af. Let daarop: Hy begeer bowenal ’n
geestelike gawe, ’n suiwere lewenshouding. As jy die suiwere
Woord van God ken dan bid jy die leuen van jou weg, dan bid jy
satan van jou af. Die twee woorde: valsheid en leuentaal tipeer
immers die ryk van satan. Hy is die vader van alle leuens.

Die woord valsheid kan ook vertaal word met
ydelheid. Dit sien op alles wat ydel, nietig, leeg is. Dit baat
niks nie. Jy kan nie daarop bou nie. Dis slegs skyn. Hier sien
die woord veral op die innerlike gesteldheid van jou hart, jou
gesindheid. Agur bid dat sy hart en gedagtes nie vol sal wees van
dinge wat geen blywende waarde het nie. Dit gebeur so maklik dat
ek dinge gaan goedpraat wat in feite sleg is. Ek kan so maklik
gedagtes koester wat nie suiwer is nie. Ek sus dan my gewete deur
te suggereer: so sleg is die gedagtes nie. In feite is ek egter
nie eerlik teenoor die Here en my naaste nie, en ek hou myself
vir die gek.

Agur vervolg: "Hou valsheid en leuentaal
ver van my af." Letterlik staan daar: ’n woord van
leuen. ’n Leuenagtige gesindheid kom ook tot uitdrukking in
woorde. So ontstaan daar bv die skynheilig gepraat. Dan bid ek bv
tot God terwyl my hart nie by Hom is nie. Dan bid ek bv vir my
daaglikse brood, terwyl ek my nie werklik afhanklik van God voel
nie, maar my eie potjie wil krap. Dit is leuentaal. So kan dit
ook gebeur dat ek God se naam wel reëlmatig noem: God sê vir my
dat ek dit of dat moet doen. Dit klink vroom en kan inderdaad ook
vroom wees as dit ooreenstem met die geopenbaarde woord van God .
Maar dit kan ook leuentaal wees, ’n misbruik van God se naam,
as dit slegs gebaseer is op my eie gevoelens. Dan gebruik ek in
feite God se naam vir my eie doeleindes, om my eie gang te kan
gaan, wat God in sy geskrewe woord ookal mag sê. Leuentaal kan
sien op allerlei leuenagtige, ongerymde dinge wat ’n mens
oor God sê. Wanneer ’n mens God se woorde verdraai,
verkeerde voorstellings van Hom en sy woord maak, dan is dit niks
anders as leuentaal as gevolg van valsheid nie.

So sou nog tallose voorbeelde van leuentaal
genoem kan word. Waar ’n mens nie opreg teenoor God is nie,
daar kan ’n mens nie anders as leuentaal uitkraam nie. En
dit nie slegs teenoor God nie, maar ook teenoor die naaste. U ken
die oneerlike woordespel van mense. Met ’n skyn van waarheid
word die leuen versprei. Die werklike feite word dikwels verswyg
of verdraai. Die goeie naam van God en die naaste word smaad
aangedoen. En die verhoudings word bedorwe. Wat ’n ellende
ontstaan daar in ons land, maar ook in die kerk, vanweë
leuentaal.

Gemeente, Agur wys dat hy ’n groot
selfkennis het. Hy verhef hom nie bo sy medemense nie. Hy beskou
homself nie as iemand wat immuun is vir die mag van die leuen nie.
Hy weet dat Hy permanent oop staan vir valsheid en leuentaal. Die
versoeking gaan nie aan hom verby nie. Hy weet hoe maklik dit is
om meegesleep te word. Daarom sy indringende bede – alleen
God kan hom daarvoor bewaar – Hou valsheid en leuentaal ver
van my af.

Broeders en susters, hierdie bede is ook vir
ons van lewensbelang, ook wanneer ons praat oor gewas en arbeid,
geld en goed. In hierdie sake het ons voortdurend met die
propaganda van die leuen te doen. Ons loop dit raak in die
gesprekke, in die pers, oor die radio en oor die televisie.
Voortdurend word die regte van die mens benadruk. Die regte van
die Here word egter genegeer en afgewys. Die mens word geteken as
sy eie heer en meester. Die wêreld is van en vir die mens.
Hierdie leuenpropaganda kweek ’n materialistiese instelling
en maak baie mense ondankbaar en ontevrede. Elkeen wil vir
homself gryp wat hy kan voordat die koek op is.

Gaan hierdie leuengees die kerk verby? Was dit
maar so! Oorskat uself nie. En onderskat tog nie die mag van die
leuenpropaganda nie. Wie hom uitlewer aan wat die wêreld aan
nuus en informasie bied, maak homself ’n maklike prooi. Die
stadige druppel hol die steen uit. Ons sal ons teen die leuengees
moet wapen. Daarom is daaglikse skriflesing en gebed en die lees
van goeie lektuur so belangrik. So leer ’n mens om die
geeste te onderskei en te bestry.

Laat ons daarvoor waak dat ons gebed tot die
Here nie haaks staan op die gees waarin ons dink en praat nie. As
ek in my gebed my afhanklikheid van die Here bely, maar in my
gesprekke en dade krampagtig bly vashou aan my besit – asof
alles van my en vir my is - dan het ek blykbaar niks verstaan van
my gebed nie. So ook as ek voortdurend ontevredenheid en
ondankbaarheid uitstraal.

Gemeente, sodra ek my gebed beëindig, moet ek
nie ophou om omhoog te kyk nie. Om omhoog te kyk moet my
lewenshouding wees, selfs as alle mense naas my nie verder kom as
om te kyk na mense en menslike kragte nie. Die eerste bede van
Agur bly vir ons van lewensbelang. Dit is die eerste wat ons
nodig het. Dan eers kan ons God en die naaste, die wêreld en die
aardse goed die juiste plek toeken. "Here bewaar my vir die
leuengees. Laat my gedagtes en my woorde suiwer wees en in diens
van die waarheid staan."

Die eerste bede is, broeders en susters,
bepalend vir die ander bedes van Agur. Daar is nou ’n goeie
fondament. Nou kan die materiële sake en node op die juiste wyse
voor God se troon gebring word. Agur vervolg: Gee my nie armoede
nie. Dit is die tweede punt waarna ons sal kyk.

Armoede, dis die gebrek aan die mees elementêre
lewensbehoeftes. Dan leef ek op of benede die grens van die
bestaans minimum. Voortdurend is daar die spanning waar ek die
kos vandaan moet kry en of daar wel voldoende kos sal wees vir
die gesin. En wat van kleding en behuising? In ons land en
kontinent is armoede een van die groot probleme. Ware armoede sit
op jou hele lewe ’n stempel van grouheid.

Waarom bid Agur die armoede van hom af? Doen hy
dit omdat armoede so ’n droewige en pynlike saak is? Dit is
wel die eerste waaraan ons sou dink. Ek vind dit verskriklik om
gebrek te hê in die elementêre lewensbehoeftes. Ek vind dit al
erg om iets van my weelde prys te moet gee, om in inkomste
agteruit te gaan. Ek wil nie graag daal in my vlak van welvaart
nie. En dit terwyl ek nog nie rêrig op die broodlyn lewe nie.

Agur bid: gee my nie armoede nie. Waarom? Nie
omdat hy krampagtig wil vashou aan wat hy het nie. Ook nie soseer
vanweë die pyn van armoede nie. Agur plaas nie homself in die
middelpunt nie. Dit gaan nie in die eerste plek oor wat Hy tekort
sal kry nie. Nee, sy sorg is dat in so ’n situasie God
tekort gedoen sal word. Hy sou immers uit armoede kan gaan steel
en hom aan die Naam van sy God vergryp. Agur ken sy hart. Hoe
gaan dit as ’n mens finansieel heeltemal vas loop? Dan is
die verleiding groot om te steel. ’n Arme moet tog ook lewe!
Jou finansiële moeilikhede sou jou maklik daartoe kan bring om
oneerlik te handel met as motief: as ek eerlik is, dan kom ek nie
deur nie. So sou jy daartoe kan oorgaan om jou te vergryp aan die
goed van jou naaste. En daarmee vergryp jy jou meteen aan God se
naam. Alles behoort immers aan God en Hy bepaal wat Hy aan wie
gee. Daarom mag jy nie steel nie. Dis in die eerste plek nie
’n vergryp teen mense nie, maar teen God.

Ek sou my ook aan die Naam van God kan vergryp
deur Hom te verwyt vir my armoede. Uiteindelik is dit tog God wat
my lewensweg bepaal. Daarom kan dit gebeur dat ek teen Hom in
opstand kom: Hoe kan Hy dit toelaat dat ek bittere armoede ly
terwyl die rykes swelg in oorvloed? Dan het ek slegs oog vir wat
my ontbreek en sien ek met afguns na die oorvloed van die rykes.

Ons sê weleens: nood leer om te bid. Maar die
omgekeerde kan ook gebeur. Nood bring ook baie mense daartoe om
God te vervloek en teen Hom in opstand te kom. Agur wil daarvoor
bewaar bly. Hy wil die sig op God nie kwytraak nie. Daarom vra hy
die Here om geen armoede op sy pad te bring. Dit gaan vir hom oor
die Here sy God. "Vader bespaar my armoede ter wille van u
naam. Lei my nie in versoeking nie.

So moet ons broeders en susters, nie eie
belange voorop stel nie, ook nie by die bede om ons daaglikse
brood nie. Die noodsaak van versobering en van besnoeiing in ons
begroting mag ons nie egosentries of materialisties maak nie. Ook
by ’n karige bestaan sal ons theosentries moet bly. Ons God
in die middelpunt laat! Dit gaan tog oor sy Naam en eer!

Dit staan by Agur ook voorop as hy bid: gee my
nie rykdom nie. Dit ly ons tot die derde punt. Wie bid nou rykdom
van hom af? Dit is tog aantreklik om ryk te wees. As jy ’n
sekere welvaart gesmaak het dan verlang jy meesal na meer. Tog
bid Agur: gee my nie rykdom nie.

Waarom doen Agur dit? Dit gaan by hom weer om
die Here sy God. Hy is bang vir die gevolge van rykdom tov sy
vertroue op God. Hier is hy weer ’n man vol lewenswysheid,
vol selfkennis. "Dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U
verloën nie, en sê: Wie is die Here?" Rykdom kan gevaarlik
wees. Jy sou daardeur jou afhanklikheid van die Here kan vergeet
en die dankbaarheid kan verleer. Soos ’n bedorwe kind. Dis
amper onmoontlik om so ’n kind nog bly en dankbaar te maak.
Hoe meer ’n mens bederf is, hoe ontevredener hy in die reël
is. God die Eienaar en Gewer van alles word vergeet. Dit blyk
duidelik in die welvarende Weste. Oorversadig geword, het baie
mense God vaarwel gesê.

Daarom mag ons in sekere sin dankbaar wees vir
die beproewinge wat ons in ons land moet deurstaan. Daardeur word
ons steeds weer bepaal by ons volkome afhanklikheid van God.
Rykdom kan ’n mens oormoedig maak: wie is God dat ek Hom nog
nodig het. Ek red myself wel. Dit blyk nie maklik te wees om jou
afhanklik van God te voel nie, terwyl jy amper alles kan aanskaf
wat jou hart begeer. Die apostel Paulus sê: "Die wat ryk
wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike
begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang.
Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en
omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en
hulleself met baie smarte deurboor" (1 Tim 6:9,10).

By rykdom kan die rolle maklik omgekeer word
sodat die besitter self deur sy rykdom besete word. Dan kan jy
nie meer werklik tevrede wees nie. Jy raak verstrik in allerlei
skadelike begeerlikhede. As jy bereik het wat jy verlang, dan kom
daar weer nuwe ideale, wat weer beslis verwerklik moet word.

En gemeente, wie so jaag na meer en meer, sal
die jammer vind om eerlik te wees teenoor die belastingdiens. Hy
sal dit ook moeilik vind om rojale gifte te gee. Jy wil dan
soveel as moontlik aan jouself bestee. Dan is daar wel geld vir
duur stokperdjies maar min geld vir die Here en sy saak in die wêreld,
naamlik die voortgang van sy evangelie.

Die Here Jesus het eers gesê: "waar julle
skat is, daar sal julle hart ook wees" en "Niemand kan
twee here dien nie….Julle kan nie God en Mammon dien nie."
(Mt 6:21,24).

Vanweë daardie reële versoeking bid Agur die
rykdom van hom af. Hy bid vir die goue middelpad: bewaar my vir
die twee uiterstes en laat my geniet die brood wat vir my bestem
is, of soos die NV dit weergee: gee my net die kos wat ek nodig
het. En nou kyk ons na die vierde punt: Gee my my rantsoen.

Dit gaan vir Agur om sy daaglikse rantsoen, dit
wat hy werklik nodig het. Hy wens nie meer en nie minder nie. Die
maat van die rantsoen laat hy aan die Here oor. Die Here deel uit
na sy wysheid. Hy weet wat goed vir hom is om met ‘God en
met eer’ te lewe. God weet ook hoe lank die rantsoen nodig
is. Agur noem as termyn: voordat ek sterf, dws wil solank as ek
hier op aarde lewe, my voed met die kos wat ek nodig het.

Die bede moet ook my houding kenmerk in hierdie
materialistiese tyd en wêreld. Die bede getuig van
afhanklikheidsbesef en tevredenheid. Agur wil bly lewe uit God se
hand en tot God se eer. Terwyl die prakties materialisme die
moderne lewe beheers, moet u en ek toon dat God se eer ons
beheers. Dit laat hom nie beperk tot ’n biduur nie. Dit moet
blyk uit ons gesprekke oor en omgang met geld en goed. Leef ons
nog werklik uit God se hand? Kan God my nog bly maak met elke
sent wat ek ontvang en elke gawe wat Hy my gee? En laat ek ook
blyk dat ek bly en dankbaar is, deur die manier waarop ek daarmee
omgaan. Deur Hom die voorrang te gee in my besteding.

Alles behoort aan die Here. Ek is slegs ’n
rentmeester aan wie God sy goed toevertrou. Laat die leuengees u
nie van hierdie belydenis afbring nie. Dit is die Here wat u
daagliks versorg met u rantsoen, ja dikwels met baie meer as dit.
Bly Hom die eer gee wat Hom toekom, met woord en daad. In julle
gebede en in julle handel en wandel. God wil blye en dankbare
kinders sien.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)